Article Information

Author:
H.J.M. (Hans) van Deventer1

Affiliation:
1Skool vir Basiese Wetenskappe, Fakulteit Geesteswetenskappe, Noordwes-Universiteit, Vaaldriehoekkampus, Suid-Afrika

Correspondence to:
Hans van Deventer

email:
hans.vandeventer@nwu.ac.za

Postal address:
Vakgroep Teologie, Fakulteit Geesteswetenskappe, Noordwes-Universiteit, Vaaldriehoekkampus, Posbus 1174, Vanderbijlpark 1900, Suid-Afrika

Keywords
gesag van die teks; Bybelinterpretasie; etiek van lees; resepsiekritiek; Gereformeerde teologie

Dates:
Received: 14 Oct. 2009
Accepted: 20 Feb. 2010
Published: 02 June 2010

How to cite this article:
van Deventer, H.J.M., 2010, ‘Eerder anders as elders: Gerrie Snyman se bydrae in die konteks van die Gereformeerde teologie’, Verbum et Ecclesia 31(1), Art. #306, 7 pages. DOI: 10.4102/ve.v31i1.306

Copyright Notice:
© 2010. The Authors. Licensee: OpenJournals Publishing. This work is licensed under the Creative Commons Attribution License.

ISSN: 1609-9982 (print)
ISSN: 2074-7705 (online)

Eerder anders as elders: Gerrie Snyman se bydrae in die konteks van die Gereformeerde teologie
In This Original Research...
Abstract
‘n Outobiografiese inleiding
Die ontvangs van Gerrie Snyman se andersheid in die GKSA
‘n Bydrae in ‘n wêreld waar ‘andersheid’ elders hoort
   • Hoe dra Snyman se boek tot die bevrugting van die GKSA-tradisie by?
   • Kan Snyman se benadering as ‘gereformeerd’ beskou word?
   • Is die grammaties-historiese benadering lewensvatbaar, en kan dit met resepsiekritiek verenig word?
Slot
Bronnelys
Footnotes
Abstract

Rather different than elsewhere: Gerrie Snyman’s contribution in the context of Reformed theology

Prof Gerrie Snyman’s book Om die Bybel anders te lees: ‘n etiek van Bybellees (2007) attracted considerable attention in Afrikaans-speaking reformed circles in South Africa. In this article, some of the responses to and reviews of the book are studied in order to assess the publication’s impact. Moreover, the article aims to determine whether the book will contribute to future reflections and discussions on the use of the Bible in this context. It is concluded that the preferred method of interpretation in the Reformed Church in South Africa calls for a thorough revision. The so-called ‘grammatical-historical method’ of interpretation can no longer be regarded as the most appropriate and sole ‘Reformed method’ of interpretation.

‘n Outobiografiese inleiding

Enige leser is noodwendig betrokke by die lees van ‘n teks. Hierdie truïsme het egter eers in die tweede helfte van die 20ste eeu die onderwerp van intense ondersoek geword, veral op die gebied van die literatuurwetenskap en meer bepaald literêre kritiek. Dít het die klem op die subjektiewe aard van die leesproses laat val. Een van die eerste en mees opspraakwekkende besprekings uit die Engelstalige wêreld van die leser se aandeel aan die leesproses is seker Stanley Fish se Is there a text in this class (1980). Dié werk volg op die Duitser Wolfgang Iser se bydrae met die titel The act of reading: a theory of aesthetic response (1978), waarna Iser se kollega by die Universiteit van Konstanz in Duitsland, Hans-Robert Jauss (1982), ‘n soortgelyke rigting ingeslaan, maar meer op die historiese aspek van die leser se betrokkenheid by die teks gekonsentreer het. Fish huldig egter ‘n radikaler standpunt as voormelde kollegas, en verwerp die idee dat betekenis inherent in die teks aanwesig is – gereed vir die leser om dit te ontsluit (Eagleton 1983:86). Volgens Fish het die leser ‘n veel groter aandeel aan juis die skep van betekenis.

Een van die jongste akademiese uitvloeisels oor die rol van die leser staan as ‘outobiografiese kritiek’ bekend. Dit is egter nog ’n baie nuwe studierigting – die eerste werk oor die onderwerp het maar eers in die 1990s begin verskyn (Freedman, Frey & Zauhar 1993; Veeser 1996). Selfs die tweede uitgawe van Hawthorn (1994) se A Glossary of contemporary literary theory bevat nog nie ‘n inskrywing oor outobiografiese kritiek nie, terwyl Rabinowitz (1995) se bespreking van lesergerigte teorieë in The Cambridge History of Literary Criticism eweneens nie daarna verwys nie. Freedman (1996:7) som die strekking van hierdie studierigting op wanneer sy sê dat:

autobiographical criticism...is personal in tone (though it needn’t be), self-disclosing (though it needn’t be), emotional, full of concrete particulars, but also theoretically and historically engaged, confronting many of the reigning academic and social debates and problems today. (Freedman 1996:7)

Hierdie vorm van diskoers is ontdaan van die bewuste strewe na akademiese objektiwiteit, en vermy ook nie ‘ek’-taal nie. Trouens, in sy kritiese oorsig van hierdie ontwikkeling noem Altieri (1996:57), as ‘n positiewe eienskap van outobiografiese kritiek, dat ‘autobiography paradoxically provides a counter to fantasies of powerful, autonomous selves, because it forces us to confront how determined we are by contingent forces that we cannot control’. In outobiografiese kritiek lei die navorser lesers op die pad van sy/haar eie soeke na, en blootlegging van juis hierdie ‘onvoorsiene kragte’, wat die navorser en sy/haar resultate rig.

Hierdie vorm van akademiese diskoers wat in die literatuurwetenskap geanker is, het soos ander ontwikkelings op daardie gebied ook na die Bybelwetenskappe oorgespoel, soos blyk uit die versameling bydraes in Semeia onder redaksie van Anderson en Stanley (1995) en, op Suid-Afrikaanse bodem, uit bydraes deur die Bybelwetenskaplikes Lategan (1999), Van der Watt (1999) en West (2006).

Ek begin hierdie weergawe van my leeservaring van Snyman se boek eweneens in ‘n outobiografiese trant, en voer drie redes daarvoor aan: eerstens meen ek die leser behoort met die lees hiervan ook agtergrond te hê oor die invloed wat Snyman se vroeëre werk in die konteks van die Gereformeerde Kerk-tradisie op my gehad het. Tweedens bied Snyman (2007a:1–8, 19, 69, 160–162) die leser op soortgelyke outobiografiese wyse ‘n kykie in sy lewe en die invloede wat tot die totstandkoming van die boek onder bespreking bygedra het. Laastens kry die subtitel van Snyman se werk in hierdie opsig ook groter reliëf wanneer ons die verhouding tussen outobiografiese kritiek en etiek in gedagte hou wat Kitzberger (1999:6) uitwys (sien ook Altieri 1996:57). Kitzberger skryf: ‘personal [lees: ‘autobiographical’] criticism, by its very nature, intensifies the ethical dimension of all interpretations, our responsibility for our interpretations and their effect on others’ (Kitzberger 1999). Snyman se lesers sal dadelik die tersaaklikheid van hierdie stelling waardeer.

Ek het Gerrie Snyman die eerste keer op papier ontmoet. In 1992, toe ek ‘n Teologie-student in my finale jaar aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) was, verskyn ‘n opspraakwekkende uitgawe van die tydskrif In die Skriflig. Snyman se artikel ‘Kenteoretiese besinning oor teologiebeoefening aan die TSP die afgelope 20 jaar’ doen iets wat tot in daardie stadium ondenkbaar was, naamlik om teologiebeoefening aan die Teologiese Skool uit ‘n filosofiese hoek te ‘karteer’. Hy wys moontlike Platoniese en positivistiese invloede uit, en bepaal naïewe realisme as epistemologiese denkraamwerk vir die destydse teologiebeoefening in die Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika (GKSA) (Snyman 1992a:252–263). Later sou ek ontdek dat soortgelyke studies ook met betrekking tot die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) en die Nederduitsch Hervormde Kerk (NHK) se tradisies onderneem is wat, veral wat die diagnose van naïewe realisme betref, tot soortgelyke gevolgtrekkings gekom het (Deist 1994:i). Snyman se artikel het my opgewonde gemaak, bepaald oor die moontlikhede vir akademiese gesprek wat dit ontsluit het. Nie almal het egter hierdie opwinding gedeel nie, en toe een van die professore die dag nadat die betrokke uitgawe van In die Skriflig verskyn het, in die klas opmerk dat Snyman by sy kerkraad van dwaalleer aangekla sou kon word, het ek maar oor my opwinding geswyg.

Tog het iets my bygebly: hier was ’n rasegte Dopper wat anders gedink het. Later in 1992 het Snyman ‘n volgende artikel in dieselfde tydskrif gepubliseer – dié keer een wat redes soek vir die ‘binnegevegte’ wat in daardie tyd in die GKSA aan die gang was (Snyman 1992b:352–353). Die artikel wys op die gevolge van naïewe realisme, en die eng lewensvisie wat daardeur tot stand kom, en bespreek die gevaar van die ontwikkeling van ‘n ‘ghettoteologie’ (Snyman 1992b:359–364). Weereens het Snyman se koersvaste redevoering uit ‘n akademies-wetenskaplike raamwerk my beïndruk.

Nadat ek die akademie in 1995 betree het deur ‘n pos aan die PU vir CHO te aanvaar het ek en Snyman mekaar gereeld by vakkongresse raakgeloop. Alhoewel hy my (en moontlik ander) in die GKSA ver vooruit was wat teologiese nadenke en die konkretisering daarvan in sy wetenskaplike bydraes betref, het hy deurgaans ‘n gesprek aan die gang probeer hou. Juis omdat Snyman van ‘n ruimer omskrywing van teologie uitgaan, waarin daar sonder twyfel ruimte bestaan vir bydraes uit filosofiese, sosiologiese en literatuurwetenskaplike kontekste, het hierdie gesprek nie altyd gevlot nie (bv. Vergeer 1993). Uit die werk van diegene wat met Snyman verskil, wou dit voorkom of die epistemologiese grondslag van die Gereformeerde teologie telkens deur ‘n bepaalde vertolking van die belydenisraamwerk verskans word, terwyl dit enige moontlike gebreke ignoreer. In hierdie verband is Van der Walt (2008b:635–663) se bydrae uit ‘n filosofiese hoek baie waardevol, en moet dit in verdere nadenke verreken word. Snyman het hom desondanks in dié kring as ‘n gespreksgenoot gevestig, wie se bydraes in ag geneem moet word.

Die vraag na hóé die GKSA van hierdie bydraes kennis geneem het, kry vervolgens aandag. In hierdie opsig verwys ek bepaald na hoe hierdie Kerk die boek onder bespreking ontvang het, en hoop ek om só die volgende vrae te kan beantwoord:1

1. Hoe dra Snyman se boek tot die bevrugting van die GKSA-tradisie by?
2. Kan Snyman se benadering as ‘gereformeerd’ beskou word?
3. Is die grammaties-historiese benadering lewensvatbaar, en kan dit met resepsiekritiek verenig word?

Die ontvangs van Gerrie Snyman se andersheid in die GKSA

In die GKSA, soos ook in haar twee susterskerke, die NGK en NHK,2 is daar die afgelope dekade of langer twee duidelike ‘strominge’ te onderskei. Dit sou ‘n oorvereenvoudiging wees om hierdie strominge met etikette van binêre opposisie (soos ‘verkramp’ teenoor ‘liberaal’), wat soms te maklik in kerklike kontekste gebruik word, te probeer tipeer. In die algemeen beskou, sou ons kon sê dat die een groep groter klem op die verband tussen die hede en die verlede (waaruit die tradisie gebore is) plaas, terwyl die ander groep weer die aansluiting tussen die hede en die toekoms (waarheen die tradisie op pad is) beklemtoon.3 Tamney (2002:9–10) se onderskeid tussen tradisionalisme en modernisasie, met groepsbelang die kern van eersgenoemde, terwyl die individu by laasgenoemde weer sterker na vore kom, verskaf myns insiens algemener en toepasliker verklaringsraamwerke. Volgens hom is dit juis die suksesvolle integrasie van moderniteit by die bestaande tradisie wat, uit ‘n sosiologiese hoek, die Protestantse Kerk se krag en sukses waarborg. Die godsdiensfilosoof Lieven Boeve (1996) het vroeër in ‘n soortgelyke trant opgemerk dat ‘n tradisie nie as bron van absolute waarheid beskou kan word nie, maar dat dit in veranderende tydgleuwe ‘n grondslag vir gesprek voorsien (Boeve 1996:70). In hierdie wisselwerking tussen die tradisie en die huidige tydgleuf kom ‘n aangepaste tradisie tot stand wat met die realiteite van die huidige tydgleuf erns maak. In die GKSA het hierdie dinamiese proses hom de facto op grondvlak voltrek, waar sommige kerke tradisionele liturgiese tradisies (soms radikaal) by die huidige konteks aangepas het. Die reaksie op Snyman se boek dui aan dat hierdie proses in die teologiese wetenskap nog nie so ver gevorder het nie. Hierdie artikel stel verskillende stemme uit Gereformeerde kringe aan die woord wat op Snyman se boek kommentaar gelewer het, en behoort duidelik te toon in watter mate tradisionalisme nog ‘n groter invloed op teologiese nadenke uitoefen as modernisasie.

Die eerste stem verteenwoordig ‘n ‘radikaal-tradisionalistiese’ beskouing, en voel tuis in die beskrywing ‘n ‘gemiddelde gereformeerde dominee’. Op grond van ‘n 37 bladsye lange uittreksel van die boek op www.griffel.co.za, publiseer dié stem ‘n tien bladsye lange betoog op ‘n webforum waarin hy teen die boek (in sy geheel) te velde trek. Die gesprek het so heftig geraak dat die webforum, waaraan veral Gereformeerde lidmate en predikante deelgeneem het, intussen gesluit is nadat die webmeester gemeen het dit ‘het ontaard in ‘n persoonlike geveg en swartsmeerdery’ waarin die liefdesgebod, maar bepaald die negende gebod, oortree word (Jackson 2008).

Hierdie tipe reaksie illustreer duidelik die rede vir Snyman se kritiek op ‘n modernistiese beskouing. In sy kritiek op die bestaande toedrag van sake in die GKSA, gaan dit vir hom veral oor ‘n bepaalde waarheidsbeskouing (Snyman 2007a:88–89) en, in aansluiting daarby, oor kritiek uit daardie oord op enige vorm van subjektiwiteit (Snyman 2007a:31–35). Volgens hierdie denkwyse, is die waarheid soos dit in die gereformeerde tradisie oorgelewer is, die enigste waarheid. Die idee dat hierdie waarheidsmodel bepaalde filosofiese wortels het (Snyman 2007a:88), word glad nie in ag geneem nie. Die skrywer van hierdie ‘radikaal-tradisionalistiese’ reaksie gaan selektief met die idee van subjektiwiteit om: hy hou hom óf blind vir sy eie subjektiewe uitgangspunt óf aanvaar, op grond van sy waarheidsbeskouing, daardie uitgangspunt as die enigste moontlikheid. Dít doen hy deur bloot te beweer dat hierdie uitgangspunt (onbemiddeld) die Bybel as bron het. Hierdie stem getuig voorts van ‘n vorm van Westerse arrogansie (en hopelik nie naïewe onkunde nie), waardeur alle historiese hindernisse tussen ons en die Bybelteks bloot platgevee word om aan te voer dat ons die teksinhoud vandag verstaan soos dit nog altyd verstaan is.

‘n Meer gematigde reaksie, waarin modernisasie ‘n plek langs tradisionalisme gegun word, het onlangs verskyn, en blyk ‘n poging te wees om die gesprek aan die gang te hou (Van Wyk 2008). Van Wyk begin sy reaksie, wat aan ‘n gesprek herinner wat hy en Snyman vroeër in die pers gevoer het (Snyman 2007b), met ‘n aantal waarderende opmerkings oor die boek, soos oor Snyman se verset teen ‘n slordige en simplistiese Skrifgebruik, waar byvoorbeeld ‘n standpunt apriories vir of teen ‘n saak ingeneem word en dan na ‘n aantal Bybeltekste gesoek word om daardie standpunt te onderlê’ (Van Wyk 2008:688); die erkenning van die belang van kontekste (sowel antiek as huidig) vir die lees van tekste, en die erkenning dat ‘hierdie beginsel dikwels nie behoorlik in die gereformeerde tradisie gefunksioneer het nie’ (Van Wyk 2008:689); die besef dat ‘geen Bybelleser die Bybel onbevooroordeeld lees nie maar altyd vanuit bepaalde voorveronderstellings’ (Van Wyk 2008:689), en laastens, ‘n verwysing na die ‘tragiese en onmenslike gevolge’ wat die teologiese regverdiging van apartheid in die Suid-Afrikaanse samelewing gehad het (Van Wyk 2008:689).

Enige Bybelwetenskaplike wat op hoogte is van teorieë op die gebied van die hermeneutiek en literatuurwetenskap sal in die lig van hierdie positiewe opmerkings wonder hoe so iemand dan met Snyman kan verskil. Die antwoord blyk eers duidelik wanneer die gevolge van hierdie stellings vanuit die outeur se dogmatiese raamwerk onder die loep geneem word. Van Wyk (2008:690–696) se eerste vier punte van kritiek hou verband met loci uit die dogmatiek, naamlik Skrifbeskouing, Godsleer, Christologie en pneumatologie. Hieruit lyk dit of die dogmatiek aan die Bybelwetenskap resultate kan (en moet) voorskryf. Indien dít nie die geval is nie, lyk dit ten minste of die dogmatiek die verstaansmodel vir die interpretasie van die Bybel wil verskaf – sonder inagneming van ontwikkelings in die Bybelwetenskap, literatuurwetenskap en hermeneutiek. Hier lê myns insiens een van die vernaamste knelpunte met betrekking tot teologiebeoefening in Gereformeerde konteks in Suid-Afrika.

Die groot ontwikkelings in die wetenskap, en die konstante vermeerdering van kennis, veral in die afgelope halfeeu, kon nie anders as om die teologie in akademies-wetenskaplike konteks4 te raak nie. Indien erns gemaak word met nuwe insigte uit die literatuurwetenskap, hermeneutiek en Bybelwetenskappe in die algemeen, impliseer dit ook ‘n nuwe manier van lees. Hierdie nuwe lees is nog nie in die GKSA op die gebied van die dogmatiek verreken nie. Trouens, uit Van Wyk se bydrae lyk dit of dogmatici eerder krities staan teenoor die volle gevolge van hierdie nuwe insigte. Die gesprek wat in die GKSA moet plaasvind, en waarvoor Snyman se boek genoegsame stukrag bied, moet handel oor hoe hierdie moderne insigte in ons tradisie verreken kan word. ‘n Eerste reaksie is gewoonlik om bloot apologeties daarteenoor te staan, en sodoende die tradisie teen nuwe ontwikkelinge te verskans. Só word die dogmatiek die grondslag van die Bybelwetenskappe, eerder as andersom.

Hierdie werkswyse druis in teen die reformatoriese beginsel van Sola Scriptura (‘alleen die Skrif’). Die populêre opvatting is dat die Reformatore juis deur die vraag ‘Wat sê die Bybel?’ aangespoor is. Hierdie vraag sou egter lynreg staan teenoor die vraag na wat die kerklike tradisie sê. In die strewe na ‘n antwoord op die vraag na wat die Bybel sê, is van beskikbare metodes in die destydse konteks gebruik gemaak. In die reformatoriese tradisie sou nuwer metodes en insigte telkens die antwoorde op die vraag na wat die Bybel sê, heromskryf. Weens die snelle en groot ontwikkelings op alle kennisgebiede sedert die tweede helfte van die 18de eeu was hierdie hersienings of heromskrywing vir sommige eenvoudig te vinnig. Derhalwe vind ons selfs by Bybelwetenskaplikes in die GKSA wat oor aspekte van Bybelverstaan (hermeneutiek) skryf, verwysings na dogmatiekbronne uit die eerste helfte van die 20ste eeu (Janse van Rensburg 2006). Moderne ontwikkelings met betrekking tot ‘verstaan’ as verskynsel word glad nie verreken (of genoem) nie. Alleen die dogmatiese voorskrifte word getrou nagevolg, omdat geen krakie tussen die Bybelwetenskappe en die dogmatiek mag wys nie. In ander gereformeerde tradisies wat met moderne hermeneutiese ontwikkelings erns maak, het daar inderdaad verwydering gekom tussen die Bybelwetenskappe en die dogmatiek (Spangenberg 1994). Dit is ook net in daardie tradisies dat dogmatici al begin het om in die lig van hierdie ontwikkelings nuwe formuleringe van die geloofstradisie voor te stel – selfs in populêre vorm (Du Toit 2000; Durand 2005). In die GKSA het hierdie ontwikkelings nog nie plaasgevind nie.5

Om dus tot Van Wyk se bespreking terug te keer: benewens sy kritiek uit ‘n dogmatiese hoek op Snyman se werk, stel Van Wyk drie verdere sake aan die orde wat aandag verg. Eerstens word Snyman gekritiseer vir wat as sy keuse ten gunste van ‘n relasionele waarheidsbegrip vertolk word (Van Wyk 2008:696). Ek lees egter Snyman se insigte in hierdie verband beskrywend (deskriptief) eerder as voorskrywend (preskriptief). Vroeër in sy argument meld Van Wyk (2008:689) juis uit waardering vir Snyman se werk dat laasgenoemde aandui dat ‘geen Bybelleser die Bybel onbevooroordeeld lees nie maar altyd vanuit bepaalde vooronderstellings’. Voorts erken Van Wyk ‘[i]deologiese vooronderstellings by die leser kan inderdaad ‘n deurslaggewende rol speel by die verstaan van ‘n bepaalde teks in die besonder en die Bybel in die algemeen’. Juis uit hierdie subjektiewe element spruit die relasionele aard van betekenis (en ‘waarheid’). Snyman (2007a:62) verwoord dit egter meer omsigtig: ‘Waarheid is relasioneel. Dit beteken nie dat geen waarheid moontlik is nie, maar eerder dat wanneer waarheid wel bepaal word, dit tydens die moment van bepaling in ‘n bepaalde verhouding staan tot die mense wat die waarheid probeer peil’ (eie kursivering). Persone wat met hierdie epistemologiese gegewe wil verskil, kan bloot enige twee onlangse Bybelkommentare met mekaar vergelyk!

Die ander twee belangrike sake wat Van Wyk in sy reaksie uitlig, hou verband met (1) die hermeneutiese raamwerk wat Snyman (2007a:2, 10) vir Bybelvertolking voorstel (naamlik die Suid-Afrikaanse Grondwet); en (2) die idee dat ‘n fundamentalistiese in plaas van ‘n historiese lees van die Bybel medeverantwoordelik was vir apartheid (Snyman 2007a:60–62, 67, 74–75). My kritiek op Snyman se werk sluit hierby aan, en daarom kom hierdie twee punte weer hier onder aan die orde. Eers word ‘n derde Dopper-stem aan die woord gestel.

In sy bondige resensie van Snyman se boek, gaan Van der Walt (2008a) verder as Van Wyk in ‘n poging om die tradisionele in die lig van die moderne te vertolk. Hy is dit eens met Snyman dat interpretasieteorieë nie ‘n oplossing bied vir die probleem van begrip nie, maar sluit terselfdertyd by Van Wyk (2008:691) aan wanneer hy noem dat dít nie die goddelike aard van die Bybel as sodanig kan laat wegval nie (Van der Walt 2008a:34). As filosoof is Van der Walt (2008a) op hoogte van onlangse ontwikkelings in die hermeneutiek, en stem hy saam met Snyman se klem op die rol wat die leser in die verstaan van ‘n teks speel. Hy gaan ook akkoord dat die grammaties-historiese metode nie die mas opkom wanneer eie lewensbeskouings in die verstaanproses verreken moet word nie, alhoewel hy meen dat Snyman te veel klem op die leser plaas: ‘die eie konteks oorweldig die teks’ (Van der Walt 2008a:35). Snyman se voorbeelde (apartheid, die rol van vroue in die kerk, en homoseksualiteit) illustreer egter juis (deskriptief) hoe dit (dikwels onwetend) in die praktyk gebeur – vandaar sy voorstel van ‘n ‘etiek van lees’. Met hierdie antwoord van Snyman op die probleem van subjektiewe vertolking vind Van der Walt (2008a:35) geen fout nie.

In ‘n eie bydrae met betrekking tot ‘probleme rondom die Bybel’, sit Van der Walt (2008b) sy siening in meer besonderhede uiteen. Hy herhaal die kritiek met betrekking tot die grammaties-historiese metode waarin die ‘lewensbeskoulike element van die huidige leser [nie] verreken [word] nie’ (Van der Walt 2008b:640). Hy wys daarop dat Grosheide en Greidanus, bronne uit die eerste helfte van die 20ste eeu wat huidige Bybelwetenskaplikes in die GKSA-tradisie steeds gebruik, nie hiermee rekening hou nie. Deur uitsluitlik die outeur en die teks te beklemtoon poog hierdie standaardwerke in die GKSA-tradisie om ‘n objektiewe verklaring van die teks te bied (Van der Walt 2008b:641). Van der Walt sluit dus in hierdie opsig direk by Snyman se kritiek aan (2007a:31–33;58–59).

‘n Verdere nuttige wegwyser wat Van der Walt (2008b:650–652) uit sy filosofiese tradisie bied, hou met die skeppingsopenbaring verband. Hy wys daarop dat die Gereformeerde teologie die skepping as openbaringsmiddel afskeep (2008b:647), maar erken in navolging van Seerveld (2000) dat dit nie altyd maklik is om hierdie openbaring te ‘lees’ nie. Dit is veral moeilik in die geval van menslike produkte teenoor byvoorbeeld niemenslike dinge, soos plante en diere. Ek wil egter aanvoer dat die ‘wetmatighede’ wat in die ontwikkeling van die wetenskap ontdek is, byvoorbeeld op die gebied van die literatuurwetenskap, moet deel uitmaak van die instrumente uit die skeppingsopenbaring wat God gee om sy Woord mee te ontsluit. Agter die menslike antwoord (in gehoorsaamheid óf ongehoorsaamheid) het die geesteswetenskappe myns insiens ook ‘n stel reëls ontdek (in die vorm van teorieë) en dit steeds verder verfyn, wat ons insig in die menslike antwoord verbreed en verdiep het. Die skeppingsopenbaring omsluit op hierdie wyse die skepping in sy volheid, en bly nie beperk tot wat in die natuurwetenskappe ontdek word nie. Sodoende word die insluiting van onlangse teorieë uit onder andere die literatuurwetenskap by ons verstaan van die Bybel nie maar ‘n vrywillige keuse nie, maar ‘n vereiste indien ons werklik met die volle reikwydte van God se skeppingsopenbaring, en sy heerskappy daaroor, wil rekening hou.

Uit my argument behoort dit duidelik te wees dat ek selfs meer as Van der Walt wil aandring op die plek wat modernisasie in die verdere ontplooiing van die gereformeerde tradisie (met verwysing na Tamney [2002] se kategorieë) behoort te hê. Daarom gee ek laastens my persoonlike indrukke van Snyman se boek weer, soos dit ook elders gepubliseer is (Van Deventer 2008a:155–159).

Een van die kernargumente wat my opval, is die kwessie van verantwoordelikheid teenoor ander wanneer ons die Bybel lees. Dit is juis hierdie gebrek aan verantwoordelike lees wat Snyman as rede aanvoer waarom die Bybel ‘anders’ gelees behoort te word. Die positivistiese grondslag van die leesmodel in die GKSA is as problematies uitgewys – in hierdie opsig stem sowel Van Wyk as Van der Walt met Snyman saam. Die vastigheid wat hierdie model bied, word verder versterk deur die werk van die Heilige Gees daaraan te koppel (Snyman 2007a:30, 32). Juis hierdie koppeling neem die voorlopige aard van Bybelinterpretasie weg, en veroorsaak grootskaalse onsekerheid (iets wat hierdie model juis wil voorkom) wanneer al hoe meer getuienis tot die teendeel van ‘n bepaalde vertolking (byvoorbeeld oor apartheid of die skeppingsverhale) ter sprake kom. Daarom blyk dit vir my beter te wees om uit die staanspoor die voorlopigheid en konteksgebondenheid van enige navorsing te erken.

In aansluiting hierby opper Snyman ook die probleem van ‘n letterlike teksbegrip, en toon aan dat ‘[l]etterlike betekenis...nie die sosiale inbedding van taal [kan] ontkom nie’ (2007a:93). Een van die redes wat hy aanvoer waarom die Gereformeerde hermeneutiek nie hierdie aspek van betekenis onder die loep wil neem nie, is vanweë ‘n bepaalde siening van inspirasie. Volgens Snyman spruit die idee van organiese inspirasie uit die wortels van meganiese inspirasie, wat op sy beurt in die erfenis veranker is wat die Westerse beskawing aan niemand minder as Plato te danke het nie (2007a:107). Soos reeds genoem is, gaan Van der Walt hiermee akkoord. Snyman (2007a:109) herhaal die oproep wat nog altyd in Gereformeerde kringe afgewys is, naamlik om te onderskei tussen inspirasie wat te make het met die ‘godsdienstige gesag van die teks [Skrifbeskouing], en nie met die manier hoe dit fisies tot stand gekom het nie [teksbeskouing]’. Die feit dat Van der Walt (2008a:35) dit nie as verhelderend sien nie, beteken dalk dat nie-Bybelwetenskaplikes moontlik nie op hoogte is van onlangse navorsing oor kanonvorming nie. Die ontdekking van die Dooie See-geskrifte in die middel van die 20ste eeu, en die uiteindelike publikasie daarvan in die laaste twee dekades van daardie eeu, het in hierdie verband groot stukrag verleen.

Soos ek hier bo uitwys, deel ek Van Wyk se twyfel of Snyman (2007a:108) se groter klem op ’n ‘historiese bewussyn’, wat soos ‘n refrein deur die boek opklink, noodwendig ‘n meer verantwoorde lees van die teks tot gevolg gaan hê. In die Afrikaanse kerklike konteks is daar voorbeelde van waar ‘n konsekwente historiese verstaan van die teks steeds nie tot die ontmaskering van ‘n sosiopolitieke ideologie meewerk nie. Ek stem saam met Van Wyk (2008:699) se verwysing na die NHK in hierdie verband, alhoewel hy ook aandui dat daar in die jongste tyd ‘n duidelike verskuiwing waar te neem is (Jackson 2009).

verander, in plaas daarvan om ander te probeer verander en in die proses die Bybel as wapen te gebruik. Snyman wil nie die tradisie ignoreer nie (2007a:144), maar dit ondergeskik aan die Bybelteks maak. Die teks moet die grense van interpretasie bepaal: ‘ Maar wat belangrik is, en wat ek wil behou, is die fokus op die teks self...Lesers ken weliswaar betekenis aan die teks toe, maar dit geskied nie sonder die teks nie. Betekenis word toegeken in interaksie met die teks’ (Snyman 2007a:146 – eie kursivering).

Om terug te keer tot wat vir my ‘n hooftema in die boek is, word ‘n gedeelte aan die onderwerp ‘lees met ’n ander in gedagte’ gewy (Snyman 2007a:127–138). Dit wys op die belang van ‘n balans tussen ‘die teks, die lesers en diegene wat deur die lees beïnvloed gaan word’ (2007a:127). Die leser se verantwoordelikheid kom, op die voetspoor van die filosoof Levinas se werk, tot uiting in die ‘etiese moment’ (2007a:132) waarin hy/sy die ‘ander’ (toehoorder) in sy/haar kwesbaarheid ontmoet, en gedurig daarteen moet waak om ‘totaliserend’ die ‘ander’ te omvorm tot die eie norm en standaard (Snyman 2007a:137). Hierdie gedagte open die deur vir die idee van die ‘Bybelteks as ander’, wat die andersheid van die Bybel erken (Snyman 2007a:139). Slegs deur die Bybel ‘anders’ te lees kan ons onsself eerstens Hieruit blyk Snyman se aansluiting by Iser (1978) se werk baie duidelik. Wat verder duidelik word, is dat Van Wyk en Van der Walt se kritiek op die klem wat Snyman op die subjektiewe aard van interpretasie plaas, nie in hierdie opsig heeltemal billik is nie. Die teks medebepaal steeds die agenda. Lesers sou hulle dus nie op hul reg tot postmoderne subjektiwiteit kon beroep deur die letters ‘k’, ‘a’ en ‘t’ te vertolk asof dit na ‘n hond verwys nie. So ‘n interpretasie van ‘kat’, selfs in ‘n postmoderne konteks, is verkeerd.

‘n Verdere punt van kritiek waaroor ek dit grootliks met Van Wyk eens is, het te make met die waardestelsel wat aan die ‘etiese moment’ (Snyman 2007a:132–134) ten grondslag lê, en die mate waarin hierdie waardestelsel kultureel bepaald is. Snyman verwys in hierdie verband na die (Suid-Afrikaanse) Grondwet, waarin gelykberegtiging ‘n kerneis is (2007a:51–52). Hierdie gelykberegtiging het egter ‘n bepaalde politieke agtergrond, naamlik een van onderdrukking. In sodanige sosiopolitieke konteks, waar ongelykhede van ‘n sosiopolitieke aard steeds aanwesig is, is dit bruikbaar as hermeneutiese raamwerk. Snyman se voorbeelde met betrekking tot vroue se rol in die kerk, en die kwessie van homoseksuele persone, ondersteun die saak goed. Wanneer sosiopolitieke gelykberegtiging egter voorkeur kry bo ekonomiese gelykberegtiging in ‘n staat waar kapitalisme as ekonomiese model onderskryf word, raak die paadjie myns insiens ongelyk. Kapitalisme veronderstel immers ekonomiese ongelykhede.

Wat ekonomiese gelykberegtiging betref, bevat die Grondwet nie uitdruklike bepalings nie. Gelyke geleenthede in ‘n kapitalistiese opset waarborg nie gelykberegtiging nie. Hoe dus gemaak met armoede? Sal die Grondwet as hermeneutiese raamwerk met armoedeverligting kan help? Kan die klem op die Grondwet in hierdie verband nie juis ons visie verdof vir die sosio-ekonomiese kritiek van die agste-eeuse profete in Israel en Juda nie?

In hierdie afdeling is enkele uiteenlopende GKSA-reaksies op Snyman se boek bespreek. Vervolgens word kortliks stilgestaan by die moontlike bydrae wat die boek tot die uitbou van hierdie tradisie in die huidige tydsgewrig kan lewer, en wel met verwysing na die drie vrae wat in die inleiding weergegee is.

‘n Bydrae in ‘n wêreld waar ‘andersheid’ elders hoort

Hoe dra Snyman se boek tot die bevrugting van die GKSA-tradisie by?

Een van die vereistes vir die bevrugting van ‘n tradisie uit ‘n nuwe tydsgewrig is dat daardie tradisie nie teen verandering sal vasskop nie. Die erkenning van bepaalde tekortkominge in die bestaande verklaringstradisie deur GKSA-resensente van Snyman se boek, dui daarop dat die boek reeds bepaalde probleme aan die lig bring. Indien Kuhn (1970) se model van wetenskapsontwikkeling die regte koers aandui, kan verwag word dat daar in die eerste fase van verandering uit die bestaande paradigma gepoog sal word om die status quo te handhaaf (Jordaan 2008; Krüger 2009). Daarteenoor is dit opvallend dat kritiek op hierdie model, soos Kuhn ook opmerk, van buite die bestaande paradigma kom. Snyman is byvoorbeeld verbonde aan ‘n ander universiteit, terwyl Van der Walt sy kritiek uit ‘n ander dissipline (filosofie) lewer. Dit sal egter ‘n ruk duur voordat hierdie gesprek tot diegene buite die akademie deurdring. Die feit dat die redakteur van die kerklike tydskrif Die Kerkblad heelwat ruimte aan ‘n gesprek oor Bybelvertolking afgestaan het, is in hierdie opsig verblydend (Van Deventer 2008b; Jordaan, Janse van Rensburg & Breed 2008; Van Deventer 2008c; Snyman 2008; Krüger 2009). Die reaksie van ‘n briefskrywer (Prinsloo 2008) dui egter daarop dat mense op grondvlak onbewus is van die kernprobleem met betrekking tot die lees van ‘n teks wat Snyman se boek opper. Indien die bestaande tradisie as enigste moontlikheid aanvaar word, beteken dit dat daar bloot apologeties met nuwe ontwikkelings in die wetenskap omgegaan kan word. Sodoende verstar die tradisie. In die opleiding van teoloë sal daar dus ook teties-beskrywend met onlangse ontwikkelings omgegaan moet word, sodat die volgende geslag teoloë kreatief antwoorde kan soek op die vraag na die integrasie van die tradisie by die huidige tydsgewrig.

In hierdie opsig dink ek Snyman het ‘n deur oopgemaak wat vroeër toe was. In aansluiting by die erkenning van hierdie gebreke, sal indringend kennis geneem moet word van die huidige stand van navorsing wat historiese, literêre en lesergerigte benaderings betref. Polemiese reaksies wat soms op onvoldoende studie berus, moet uit die GKSA-tradisie self uitgewys en gekritiseer word. In hierdie opsig lewer Snyman se boek ’n besliste bydrae.

Kan Snyman se benadering as ‘gereformeerd’ beskou word?

Hierdie vraag kan alleen beantwoord word nadat die term ‘gereformeerd’ behoorlik omskryf is. In die Dopper-kring het ons ‘n onderskeid bedink waarmee ons na onsself verwys in ‘n konteks waarin meer as een denominasie op reformatoriese wortels kan aanspraak maak. Ons praat van ‘Gereformeerd’ (met ‘n hoofletter ‘G’) wanneer in enger sin na bepaald die GKSA verwys word. Die organiseerder van die simposium het in die bewoording van hierdie vraag egter ‘n kleinletter ‘g’ gebruik. Uit ‘n Gereformeerde hoek verwys dit dus na gereformeerd-wees in die ruimer sin van die woord, wat getuig van die historiese wortels wat ons in die reformatoriese tradisie deel (kyk voetnoot 2).

In hierdie ruimer sin van die woord is Snyman se bydrae myns insiens beslis gereformeerd. Hier bo is reeds genoem dat die gereformeerde tradisie klem plaas op die Sola Scriptura-beginsel, wat direk verband hou met die vraag na wat die Bybel sê. In hierdie tradisie moet dit die gebruik wees om telkens in die lig van nuwe verstaansmodelle te vra na wat die Bybel sê. Sodoende bly die slagspreuk semper reformanda ter sake – reformeer telkens terug na die Woord. Nuwe insigte verg telkens ‘n nuwe (voortgesette) hervorming.

Weens die geweldige kennisontploffing van veral die afgelope ses dekades (sedert die Tweede Wêreldoorlog) het die gereformeerde tradisie teen daardie pas moeilik aan die beginsel van semper reformanda getrou gebly. Juis omdat Snyman se benadering hierdie nuwe verstaanshorisonne ontgin, meen ek dit hoort tuis onder die gereformeerde vaandel.

Indien ons egter in enger verband na ‘Gereformeerd’ (met ‘n hoofletter) verwys, is Snyman in daardie konteks verder van die kerndenke verwyder. Die reaksie op sy boek, soos dit hier bo uiteengesit is, dui daarop dat die tradisionele nog merendeels swaarder weeg as die moderne. Hierdie boek verskaf egter genoegsame stimulus aan Gereformeerdes om nader aan hulle gereformeerde-tradisiegenote te beweeg.

Is die grammaties-historiese benadering lewensvatbaar, en kan dit met resepsiekritiek verenig word?

In sy boek staan Snyman (2007a:83–95) krities teenoor die grammaties-historiese verklaringsmetode, en die epistemologiese veronderstellings wat ten grondslag daaraan lê. Die grammaties-historiese metode is tradisioneel die gangbare verklaringsmetode wat in die GKSA geleer en gebruik word. Uit bostaande blyk dat bepaald Van der Walt, en in ‘n mindere mate ook Van Wyk, erken dat hierdie verklaringsmetode nie meer aan die eise voldoen wat nuwer insigte oor teksbegrip aan die verklaarder stel nie. Saam met Van der Walt meen ek dat hierdie metode nie meer lewensvatbaar is nie, bloot omdat dit nie genoeg ruimte laat vir ontwikkelings op die gebied van Bybelverklaring wat met veral lesergerigte aspekte verband hou nie. Uit vrees vir enige ander vorm van subjektivisme as die eie (dogmaties bepaalde) subjektivisme, laat die metode geen ruimte vir die rol van die leser (lees: ‘n ander leser’) in die verstaansproses nie. Vir ‘n metode wat in die 21ste eeu (inter)nasionaal erkende akademiese resultate wil lewer, is dit nie goed genoeg nie.

As sodanig is hierdie metode in sy huidige epistemologiese raamwerk nie met resepsiekritiek versoenbaar nie. Daar sal erns gemaak moet word met die erkende resultate van teorieë wat die rol van die leser in die leesproses duidelik uitwys. Dit is nie meer akademies verantwoordbaar om sodanige benadering bloot op grond van ‘n eie positivistiese omgang met die werklikheid te ignoreer nie. Natuurlik veronderstel dit nie ‘n onomwonde aanvaarding van elke moderne teorie nie, maar ten minste die krities-kreatiewe ontdekking van die waarde daarvan vir verstaan. Op hierdie wyse word die bestaande tradisie telkens reformerend aangepas om in pas te bly met die konteks waarin dit moet funksioneer.

‘n Verdere uitdaging in hierdie verband is om ruimte te skep vir navorsers wat wél hierdie nuwe gebiede ontgin, om dit sonder bedreiging deur kerklike strukture te kan doen. Ek stem saam met Snyman dat die tyd aangebreek het om van die grammaties-historiese eksegese, soos dit tans omskryf en beoefen word, afskeid te neem. In behoudende kringe is daar alternatiewe beskikbaar wat ons in die Gereformeerde konteks sinvol kan gebruik om voortdurend die vraag na wat die Bybel sê, te bly beantwoord (Enns 2005).

Slot

Die titel van hierdie artikel probeer iets weergee van die moeilike keuse om hetsy die etiket van ‘andersheid’ in ‘n bestaande tradisie te dra, of eerder elders ‘n tuiste te soek. Snyman slaan met hierdie publikasie eersgenoemde rigting in, en lewer in die proses grondige kritiek op sommige kernaspekte van Bybelverstaan in die Gereformeerde teologiese tradisie. Die feit dat resensente uit hierdie tradisie ten minste van hierdie kritiekpunte toegee, verteenwoordig ‘n stap in die rigting van dialoog en dinamiese debatvoering. In hierdie proses sal die bestaande tradisie by moderne ontwikkelings kan aanpas, sonder om sy reformatoriese wortels prys te gee.

Bronnelys

Altieri, C., 1996, ‘What is at stake in confessional criticism?’, in H.A. Veeser (red), Confessions of the critics, pp. 55–67, Routledge, Londen.

Anderson, J.C. & Stanley, J.L. (reds), 1995, Taking it personally: autobiographical biblical criticism, Scholars, Atlanta.

Boeve, L., 1996, ‘Erfgenaam en erflater: kerkelijke tradities binnen de traditie [Heir and deceased: religious traditions within the tradition]’, in H. Lombaerts & L. Boeve (reds), Traditie en initiatie: perpectieven voor de toekomst, pp. 43–77, Acer, Leuven.

Deist, F.E., 1994, Ervaring, Rede en Metode in Skrifuitleg. Wetenskapshistoriese ondersoek na Skrifuitleg in die Ned. Geref. Kerk 1840–1990 [Experience, reason and method in Scriptural interpretation. Historical investigation of Scriptural interpretation in the Dutch Reformed Church 1840−1990], RGN, Pretoria.

Durand, J., 2005, Doodloopstrate van die geloof: ‘n Perspektief op die Nuwe Hervorming [Dead-end religion: A perspective on the New Reform], Rapid Access Publishers, Stellenbosch.

Du Toit, B., 2000, God? Geloof in ‘n post-moderne tyd [God? Faith in the post-modern time], CLF, Bloemfontein.

Eagleton, T., 1983, Literary theory. An introduction, Blackwell, Oxford.

Enns, P., 2005, Inspiration and incarnation. Evangelicals and the problem of the Old Testament, Baker, Grand Rapids.

Freedman, D.P., 1996, ‘Autobiographical literary criticism as the new belletrism’, in H.A. Veeser (red), Confessions of the critics, pp. 3–16, Routledge, Londen.

Freedman, D.P., Frey, O. & Zauhar, F.M. (reds), 1993, The Intimate Critique. Autobiographical Literary Criticism, Duke University Press, Durham.

Fish, S., 1980, Is there a text in this class? The authority of interpretive communities, Harvard University Press, Cambridge.

Hawthorn, J., 1994, A Glossary of contemporary literary theory, 2de uitgawe, Arnold, Londen.

Iser, W., 1978, The act of reading: a theory of aesthetic response, Routledge, Londen.

Jackson, N., 2008, ‘GKSA-forum sluit [GKSA-forum closes]’, besigtig 30 Maart 2009, van http://152.111.1.88/argief/berigte/volksblad/2008/08/01/VB/13/tnjtwis_1439.html.

Jackson, N., 2009, ‘Voorste teoloë verwerp apartheid [Leading theologians reject apartheid]’, bestig 30 Maart 2009, van http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/2009/03/13/B1/3/tnjhervorm1.html.

Janse van Rensburg, F., 2006, ‘Die tydgerigtheid van die Bybel en die etiek van Bybellees: Respons op die artikel van Gerrie Snyman [The meaning of the Bible and the ethics of Bible reading: Response to the article of Gerrie Snyman]’, In die Skriflig 40(4),745–769.

Jauss, H.-J., 1982, Ästhetische Erfahrung und literarische Hermeneutik [Aesthetic experience and literary hermeneutics], Suhrkamp, Frankfurt am Main.

Jordaan, G.J.C., 2008, ‘Hoe lees ‘n mens die Bybel? Hermeneutiek in die gereformeerde krisis [How to read the Bible? Hermeneutics in the reformed crisis]’, Woord & Daad 48(405), 7–11.

Jordaan, G.J.C., Janse van Rensburg, F. & Breed, D.G., 2008, ‘Hoe verstaan en interpreteer ons die Bybel? Antwoord op diskussie-artikel van Hans van Deventer [How do we understand and interperet the Bible? Reply to the discussion article by Hand van Deventer]’, Die Kerkblad 110(3217), 29–30.

Kitzberger, I.R., 1999, ‘Introduction’, in I.R. Kitzberger (red), The personal voice in biblical interpretation, pp. 1–11, Routledge, Londen.

Krüger, P.P., 2009, ‘Weereens: Grammaties-historiese benadering [Again: Grammatical-historical approach]’, Die Kerkblad 111(3221), 34.

Kuhn, T.S., 1970, The structure of scientific revolutions, 2de uitgawe, University of Chicago Press, Chicago.

Lategan, B.C., 1999, ‘Reading the letter to the Galatians from an apartheid and a post-apartheid perspective’, in I.R. Kitzberger (red), The personal voice in biblical interpretation, pp. 128–141, Routledge, Londen.

Prinsloo, H., 2008, ‘Waarom moet ons dit lees? [Why do we have to read it]’, Die Kerkblad, 111(3221), 46.

Rabinowitz, P.J., 1995, ‘Other Reader-oriented Theories’, in R. Selden (red), The Cambridge History of Literary Criticism. Volume 8: From formalism to poststructuralism, pp. 375–403, Cambridge University Press, Cambridge.

Seerveld, C.G., 2000, ‘Creational revelation: Gods glossolalia’, in C. Seerveld (red), Bearing fresh olive leaves: alternative steps in understanding art, pp. 159–163, Tuppence, Toronto.

Snyman, G.F., 1991, ‘Biblical hermeneutics and reception theory. The authority of Scriptures and the Chronicler’s interpretation of the sacred story of the ark’, DTh proefskrif, Unisa.

Snyman, G., 1992a, ‘Kenteoretiese besinning oor teologiebeoefening aan die Teologiese Skool van Potchefstroom die afgelope twintig jaar [Theoretical reflection of theology at the Theological School of Potchefstroom the past twenty years]’, In die Skriflig 26(2), 247–266.

Snyman, G., 1992b, ‘Binnegevegte in die GKSA: Verskuiwing van ‘plausibility structures’? [Infighting in the GKSA: Shift of plausibility structures?’, In die Skriflig 26(3), 351–367.

Snyman, G., 2007a, Om die Bybel anders te lees. ‘n Etiek van Bybellees [To read the Bibly differently. Ethics of Bible reading], Griffel, Pretoria.

Snyman, G., 2007b, ‘Dit is tyd dat GKSA besef kritiese teologie het ’n rol [It is time for the GKSA to realise that theology has a critical role]’, besigtig 30 Maart 2009, van http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/1997/10/10/8/39.html.

Snyman, G., 2008, ‘Grammaties-historiese benadering is nie omvattend nie [Grammatical-historical approach is not comprehensive]’, Die Kerkblad 110(3218), 31.

Spangenberg, I.J.J., 1994, ‘Paradigmaveranderinge in die Bybelwetenskappe. ‘n Bydrae tot die gesprek tussen die Bybelwetenskappe en die Sistematiese Teologie [Paradigmatical changes in Biblical studies. A contribution to the debate between Biblical Studies and Systematic Theology]’, Religie & Teologie 1(2), 144–184.

Tamney, J.B., 2002, The Resilience of Conservative Religion. The Case of Popular, Conservative Protestant Congregations, Cambridge University Press, Cambridge.

Van der Walt, B.J., 2008a, ‘Om die Bybel anders te lees: ‘n Etiek van Bybellees, Gerrie Snyman: Boekresensie [To read the Bible differently: Ethics of Bible reading, Gerry Snyman: Book review]’, Woord & Daad 48(403),34–35.

Van der Walt, B.J., 2008b, ‘Probleme rondom die Bybel in die gereformeerde teologie: besinning vanuit ‘n Christelike filosofie [Issues surrounding the Bible in Reformed theology: Reflection from a Christian philosophy]’, In die Skriflig 42(4), 635–663.

Van der Watt, J.G., 1999, ‘My reading of 1 John in Africa’, in I.R. Kitzberger (red), The personal voice in biblical interpretation, pp. 142–155, Routledge, Londen.

Van Deventer, H.J.M., 2008a, ‘Hoe lees jy die Bybel? Om die Bybel anders te lees: ‘n etiek van Bybellees, Gerrie Snyman: Boekresensie [How to read the Bible: Ethics of Bible reading, Gerry Snyman: Book review]’, Koers 73(1), 155–159.

Van Deventer, H.J.M., 2008b, ‘Diskussie [Discussion]’, Die Kerkblad 110(3215), 33.

Van Deventer, H.J.M., 2008c, ‘n Wonderende weerwoord. In gesprek met proff. Jordaan, Janse van Rensburg en dr Breed [A wondering reply. In dicussion with Profs. Jordaan, Janse van Rensburg and Dr Breed]’, Die Kerkblad 110(3218), 30, 40.

Van Wyk, J.H., 1989, Die Woord is waardevol. ‘n Dogmatiese besinning oor die reformatoriese Skrifbeskouing [The Word is valuable. A dogmatic reflection on the reformed view of Scripture], DSP, Potchefstroom.

Van Wyk, J.H., 2008, ‘Oor die Bybel, Bybellees en etiek: In gesprek met Gerrie Snyman [About the Bible, reading the Bible and ethics: In conversation with Gerrie Snyman]’, In die Skriflig 42(4), 685–707.

Vergeer, W., 1993, ‘Teologie en kenteorie. ‘n Reaksie op die artikels van Gerrie Snyman [Theology and theory. A response to the article of Gerrie Snyman’, In die Skriflig 27(4), 563–582.

Veeser, H.A. (red.), 1996, Confessions of the critics, Routledge, Londen.

West, G., 2006, ‘The vocation of an African biblical scholar on the margins of biblical scholarship’, Old Testament Essays 19(1), 307–336.

Footnotes

1.Sakkie Spangenberg, die organiseerder van ʼn simposium by UNISA in 2009 waartydens Snyman se boek bespreek is, het hierdie vrae voorgestel, en derhalwe word dit onveranderd in hierdie artikel behou.

2.Hierdie kerke deel dieselfde 16de-eeuse belydenisgrondslag, soos uit die onderskrywing van die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB), die Heidelbergse Kategismus (HK) en die Dordtse Leerreëls (DL) blyk.

3.Die sosiologiese en sielkundige raamwerke wat hierdie stand van sake kan verklaar, word nie in hierdie artikel ontgin nie. Sien in hierdie verband Snyman (1992b) se eie voorstel, sowel as Tamney (2002) se werk.

4.Dít is die konteks waarin teologie in Suid-Afrika aan universiteite beoefen (moet) word. Hieroor sê Van Wyk (1989:37): ‘Teologie moet oor intellektuele integriteit beskik...[dit] is ʼn deur en deur rasionele wetenskap.’ Rasionele teologie staan wel teenoor rasionalistiese teologie (en sy wortels in die Verligting), maar myns insiens is die idee van ‘intellektuele integriteit’ (op sigself ʼn veranderende konstruk) ʼn nuttige meetsnoer, veral omdat dit iets is waaroor ekstern geoordeel word.

5.In hierdie opsig verdien Van Wyk (1989) wel melding. Die bestek daarvan is egter beperk, en ontwikkelinge in die literatuurwetenskap en filosofiese hermeneutiek, en die invloed daarvan op die Bybelwetenskappe, ontbreek. ʼn Verdere uitbouing van hierdie werk sou inderdaad waardevol wees.verander, in plaas daarvan om ander te probeer verander en in die proses die Bybel as wapen te gebruik. Snyman wil nie die tradisie ignoreer nie (2007a:144), maar dit ondergeskik aan die Bybelteks maak. Die teks moet die grense van interpretasie bepaal: ‘Maar wat belangrik is, en wat ek wil behou, is die fokus op die teks self...Lesers ken weliswaar betekenis aan die teks toe, maar dit geskied nie sonder die teks nie. Betekenis word toegeken in interaksie met die teks’ (Snyman 2007a:146 – eie kursivering).


 

Crossref Citations

1. Skrifberoep in die vorming van etiese uitsprake, Deel 1: ’n Etiese verstaan van die vrou in die Bybel
Adriaan L. Rheeder
In die Skriflig/In Luce Verbi  vol: 46  issue: 2  year: 2012  
doi: 10.4102/ids.v46i2.58