About the Author(s)


Johan M. van der Merwe Email symbol
Department of Systematic and Historical Theology, Faculty of Theology and Religion, University of Pretoria, Pretoria, South Africa

Bianca R. Van Graan

Citation


Van der Merwe, J.M. & Van Graan, B.R., 2023, ‘Kerklike tug: Verleentheid of nuwe geleentheid?’, Verbum et Ecclesia 45(1), a3036. https://doi.org/10.4102/ve.v45i1.3036

, 1988-2021.

Original Research

Kerklike tug: Verleentheid of nuwe geleentheid?

Johan M. van der Merwe, Bianca R. Van Graan

Received: 25 Oct. 2023; Accepted: 09 Dec. 2023; Published: 10 May 2024

Copyright: © 2024. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstract

Church discipline: embarrassment or a new opportunity? In 2004, 2007 and 2011 the General Synod of the Dutch Reformed Church decided that the way in which church discipline functions in the church, should be researched and investigated. This article is based on the doctoral study of the co-author, who tragically died of COVID-19 during the pandemic of 2020-2021. She investigated the development of church discipline in the Dutch Reformed Church from 1652 to the present day, to determine why church discipline has become an embarrassment to the church. This article is based on a part of the outcome of her research. The article discusses the purpose, nature of and need for church discipline, and states that the way in which members of the church understand discipline in the church, should change. The authors emphasise that church discipline must be built on the foundation of brotherly love within the framework of tolerant care. This will not only help to change the understanding of informal and formal church discipline but will also challenge the church to create a safe space for confession, forgiveness, and reconciliation. By doing so, church discipline as tolerant care will become part of the spiritual journey of members of the church. As such, it will change from being an embarrassment to becoming a huge opportunity for spiritual growth.

Intradisciplinary and/or interdisciplinary implications: The article focuses on church discipline as tolerant care. In doing so, church discipline does not only function as part of the study field of Church Polity, but it also incorporates Practical Theology. The most important implication is that discipline is understood as care.

Keywords: Ecclesiastical discipline; Dutch Reformed Church; tolerant care; informal discipline; formal discipline, reconciliation.

Inleiding

Die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) het in 2004 besluit dat daar opnuut nagedink moet word oor ’n meer relevante toepassing en verstaan van kerklike tug. Hierdie opdrag is in 2007 en in 2011 herhaal. Dit het soos volg gelui: ‘Die Sinode gee opdrag aan die ATK en ATR om ondersoek te doen na die toepassing van die amptelike tug in die kerk op ’n eietydse wyse’ (NGK Handelinge 2007:203). Een van die hoofredes waarom hierdie saak op die agenda van die kerk bly, is die feit dat dit deur die Nederlandse Geloofsbelydenis verduidelik word as een van die kenmerke van die ware kerk.1 Die uitdaging is dus om voortdurend nuut oor die kerklike tug te dink. Uit empiriese navorsing van BR van Graan,2 blyk dit dat lidmate kerklike tug negatief beleef en dan verkeerd verstaan. Lidmate beleef kerklike tug as ’n straf en veroordeling wat nie inpas by die liefde wat gelowiges teenoor mekaar moet uitleef nie. Dit het daarom inderdaad ’n verleentheid vir die kerk geword. Om hierdie verleentheid in ’n geleentheid te omskep, moet nuut oor kerklike tug gedink word.

Die regte verstaan van kerklike tug

Kerklike tug moet altyd verstaan word binne die raamwerk van wat ons van die kerk verstaan. Dit word deur Koffeman (2009:17) beklemtoon wanneer hy skryf: ‘Kerkrecht is verankerd in ecclesiologie’. Dit beteken dat kerklike tug wat ’n belangrike deel uitmaak van kerkreg, ook net so veranker is in die ekklesiologie. In die Gereformeerde tradisie word dit nader omskryf deur die sogenaamde notae ecclesia, naamlik eenheid, heiligheid, algemeenheid en apostolisiteit.3 Wanneer oor enige aspek van kerkreg nagedink word, moet deeglik met hierdie viertal rekening gehou word.

Met bogenoemde in gedagte, is dit belangrik om die doel van kerklike tug te verstaan wanneer daar nuut oor kerklike tug nagedink word. Dit word in die Kerkorde van die NGK (2019), Artikel 59 soos volg uiteengesit, ‘Kerklike tug en dissipline word uitgeoefen tot eer van God, tot heil van die kerk, tot behoud van die sondaar, volgens voorskrifte uit die Woord van God, die Belydenisskrifte, die Kerkorde en ander bepalings van die Kerk en die diensooreenkoms’ (NGK Kerkorde 2019:80). Dit beteken dat kerklike tug eerstens, ten diepste nie net die eer van God moet beskerm nie, maar ook moet weerspieël. Die kerklike tug is daarom nie soos burgerlike straf, ’n straf nie, maar eerder ’n betoning van respek in antwoord op God se liefde vir die sondaar, om hom of haar weer binne God se wil te bring (Kleynhans 1988:147; Visser 1980:50, 51; Kleynhans 1965:8; Smuts 1962:23–24). Tweedens moet kerklike tug ook die heiligheid van die gemeente beskerm. Dit beteken dat die gemeente soos God aan wie sy behoort, in die wêreld, maar anders as die res van die wêreld moet wees (Kleynhans 1988:147; Kamphuis 1982:32, 33; Jonker 1965:58, 66–67). ‘Die kerk moet voortdurend stry om te word wat sy in Christus alreeds is’ (Jonker 1965:55, 68). Christus is die Hoof van die kerk, wat beteken dat ‘dieselfde lewe wat in die Hoof is ook in die liggaam moet wees’ (Jonker 1965:24). Derdens het gelowiges die verantwoordelikheid om vir mekaar te sorg. Die belangrikheid van hierdie opdrag word beklemtoon deur die feit dat dit een van die vrae is waarop lidmate tydens openbare belydenis van geloof moet antwoord.4 Jonker sluit hierby aan en beklemtoon die feit dat alle gelowiges deel is van die liggaam, ’n verantwoordelikheid het om vir mekaar te sorg, mekaar se laste te dra en om die heiligheid van die gemeente te beskerm (Jonker 1965:24, 58, 60, 61, 116–117). Omdat gelowiges deel is van een liggaam, kan elkeen se dade nooit los gesien word van die gemeente en die kerk waaraan hy of sy behoort nie (Kleynhans 1988:147–148; Visser 1980:52; Jonker 1965:7; Smuts 1962:24). Kerklike tug is daarom wesenlik deel van die liggaam-wees en fokus as sodanig op die versorging van gelowiges. De Bruyn (1997:218) sluit hierby aan wanneer hy skryf dat God deur Jesus Christus aan mense onbeskryflike liefde bewys het. God het ’n aanbod aan die mens gemaak waarin Hy ewige redding en verlossing skenk. In reaksie op God se liefdesaanbod kan die mens nie anders nie as om verantwoordelikheid vir mekaar te neem. Dit beteken dat gelowiges mekaar moet versorg en reghelp, en dat die kerklike tug toegepas sal word.

Om nuut oor kerklike tug te dink, vra nie net dat daar opnuut na die doel van kerklike tug gevra moet word nie. Om kerklike tug reg te verstaan, is dit nodig en belangrik om die aard van kerklike tug te verreken. Kerklike tug is nie straf nie, dit wil lidmate nie verneder of seermaak nie. Kerklike tug wil gelowiges se harte nie verhard en hulle onwelkom laat voel nie. Dit wil ook nie die indruk skep dat sekere lidmate beter as ander en sonder sonde is nie. Kerklike tug wil die verhouding tussen God en die een wat afgedwaal het, herstel (Visser 1986:165; 1980:57; Nauta 1971:352; Smuts 1962:27, 29). Bogenoemde word duidelik wanneer die aard of karaktereienskappe van kerklike tug onder oë geneem word.

Kerklike tug het eerstens ’n regterlike aard. Dit beteken nie dat mense daardeur onder dwang geplaas kan word nie, maar wel dat daar reëls is wat onderhou en nagekom moet word (Kleynhans 1988:142; Jonker 1965:102). Dit beteken egter nie dat kerklike tug as straf verstaan moet word nie. Straf wil deur dwang en fisiese leed wette en reëls handhaaf; kerklike tug of dissipline wil nooit ’n persoon dwing of leed aandoen nie, maar wil deur oorreding, vermaning en waarskuwing die sondige persoon tot bekering en boetvaardigheid beweeg (Kleynhans 1988:143; Visser 1986:166; Jonker 1965:102, 103; Smuts 1962:18-9).

Tweedens het kerklike tug ook ’n geestelike aard. Dit beteken dat kerklike tug anders is as die straf van die owerheid en nooit mag lei tot geldboetes, tronkstraf of lyfstraf nie. Mense wat tug uitoefen, mag hulself ook nie handhaaf soos burgerlike regters nie (Kleynhans 1988:142, 143; Visser 1986:157; 1980:63-4; Nauta 1971:350, 358; Smuts 1962:19). Die geestelike aard daarvan vra dat kerklike tug saam met evangelieprediking geskied (Visser 1980:64-65).

Kerklike tug het derdens ook ’n pedagogiese aard. Dit beteken dat kerklike tug deur die Woord sal onderrig en toerus. Deur die tug probeer die kerk om die skape na die kudde terug te lei. Die kerklike tug voed dus op, en begelei die sondaar (Jonker 1965:105; Smuts 1962:20). Met liefde en deernis moet die sondaar gelei word om te besef wat hy of sy in Christus is. Om dit te kan doen, moet die kerklike tug ’n opvoedende aard hê soos die dissipline wat ’n vader in die huishouding toepas, om sy kinders op te voed, en te leer wat reg en wat verkeerd is (Jonker 1965:105; Smuts 1962:20).

Kerklike tug het vierdens ook ’n genesende aard. Dit beteken dat die kerklike tug die sondaar van die sonde wil red. Om hierdie rede is kerklike tug nooit die eerste stap nie, maar die laaste, wanneer mense gered en van hulle sonde oortuig moet word. Smuts (1962:20) beklemtoon dat daar daarom altyd plek vir belydenis, berou en versoening in die tugproses moet wees.

So vertaan, is dit duidelik dat kerklike tug noodsaaklik is. Die kerklike tug moet die heiligheid van die vergadering van gelowiges beskerm en dit moet die identiteit van die kerk as liggaam van Christus beskerm (Visser 1988:146; 1980:3–4). Wray (1978:332–333) beklemtoon dit dat ‘’n kerk wat nie dissipline (oftewel kerklike tug) uitoefen nie, nie die respek van die wêreld of die vertroue van sy eie lede kan verwag nie’. Die kerk is ’n heilige vergadering van gelowiges en om hierdie heiligheid te beskerm, is kerklike tug nodig. As kerklike tug agterweë gelaat word, of afgeskeep word, lei dit tot die verval van die kerk en die ontheiliging van die vergadering. Daarom het Christus sy dissipels beveel om mekaar en medegelowiges te vermaan (Visser 1986:161; 1980:4; Vorster 1985:18–19; Van’t Spijker 1970:173, 235; Jonker 1959:35; Vorster 1950:2).

Jonker (1965:2–3) en Smuts (1962:45) sluit hierby aan deur te beklemtoon dat Jesus besef het dat die mens se sondige natuur hom steeds gaan bybly en daarom het Hy bepaalde voorskrifte aan die kerk gegee oor hoe daar ‘in volle verantwoordelikheid in die kerk deur medebroeders en-susters gehandel moet word, as daar gesondig word’.

Hieruit word dit duidelik dat kerklike tug ’n spesifieke liefdesopdrag is. Die kerk moet die liefde wat God aan hulle betoon het, ook aan ander betoon. Die kerk moet ook uit liefde vir die mense, hulle deur die kerklike tug lei en hulle heil beskerm. Hierdie liefde gaan soms gepaard met ’n verlies van lidmate en populariteit, asook onaangenaamheid, maar die kerk moet hierdie dinge verdra, indien dit sou beteken dat iemand gered kan word van die verderf en dat hy of sy gered sal word (Jonker 1965:97–98). Indien kerklike tug sodanig verstaan word, help dit nie slegs die individuele gelowiges op wie dit toegepas word nie, maar ook hele gemeenskappe. Dit help ook ander om te besef en te verstaan dat hulle verkeerd is en om nie in hulle verkeerde optrede te volhard nie (Wray 1978:333). Dit is daarom nie sonder rede dat Calvyn van mening was dat kerklike tug noodsaaklik is, omdat die kerk nie staande kan bly sonder die uitoefening daarvan nie (Kleynhans 1988:146; Visser 1980:4; vgl. ook Polman s.a. III:331).

Jonker beklemtoon egter dat bogenoemde altyd binne die raamwerk van die liefde moet plaasvind, omdat tug ten diepste ’n liefdeshandeling is. Hy verduidelik dit soos volg, ‘’n Kerk wat die liefde van God misverstaan, verstaan nie meer die noodsaaklikheid van die tug nie, en ’n kerk wat nie meer die noodsaaklikheid van die tug kan sien nie, begryp nie meer die liefde van God nie. ’n Kerk wat die liefde van God en die tug nie meer met mekaar kan rym nie, verstaan nie meer die evangelie nie. As die kerk egter verstaan dat Gods liefde ’n heilige liefde is, sal hy die tug beoefen’ (Jonker 1959:133). Die verstaan van kerklike tug soos wat Jonker dit verduidelik, staan in sterk kontras met die wanopvatting wat in die kerk onder gemeentelede en ampsdraers bestaan, naamlik dat die kerklike tug ten doel het om mense te veroordeel en uit die gemeente of kerk weg te jaag.5

Die kerklike tug moet ’n uitdrukking van God se liefde vir die mensdom wees. In plaas daarvan dat die tug gebruik word om sonde te ontbloot en openbaar te maak, moet dit eerder op ’n subtiele en liefdevolle manier poog om van die sonde, nie die mens nie, ontslae te raak. Wanneer die tug as liefdevol en simpatiek ervaar word, sal dit help dat die persoon tot berou en bekering gebring word. So verstaan, kan kerklike tug as versorging van mekaar beskryf word (Kleynhans 1988:148-8; Smuts 1962:29). Van Rooyen (1970:14, 15) bevestig die uitkoms van hierdie verstaan van kerklike tug verder, deur te beklemtoon dat dit altyd gepaard moet gaan met verdraagsaamheid. Deur verdraagsaam te wees met mense, is nie swakheid of beginselloosheid aan die kant van die kerk nie, maar eerder ’n aanduiding van die feit dat daar rekening gehou word met mense se swakheid, en dat dit persoonlike vryheid respekteer. Kamphuis (1982:120–121, 122) maak dit egter duidelik dat daar ’n voorwaarde vir verdraagsaamheid is, naamlik dat die persoon die wil moet hê om hom- of haarself te laat onderrig. Hy beklemtoon verder dat liefde verseker altyd ’n rol in die kerklike tughandeling moet speel en dat daar geen aansien van ’n persoon behoort te wees nie, en dat onpartydigheid deurentyd gehandhaaf moet word. Hierdie onpartydigheid is nodig, sodat reg en geregtigheid sal geskied, en dat regverdig oor die betrokke persoon geoordeel sal word (Kamphuis 1982:83–85). Dit beteken dat daar geen magsmisbruik mag wees nie. Die vermaning gebeur nie uit die hoogte nie, maar moet altyd van gelykheid en liefde spreek. Die persoon wat vermaan, moet dit in ’n gees van nederigheid doen, omdat hy of sy van hulle eie sonde en onvolmaaktheid bewus is. Hierdie kenmerk mag nooit by die tughandeling ontbreek nie (Visser 1980:62; cf. Grosheide 1952:13). Die vermaning moet nie hard en afstootlik wees nie, maar altyd sorgsaam soos wat lede van ’n huisgesin mekaar versorg (Visser 1980:66; cf. Bouma 1942:169, 170). Jonker (1965) vat dit korrek soos volg saam:

Ons spreek oor die juiste geestelike klimaat vir die uitoefening van die tug in die kerk. Waarin bestaan hierdie klimaat? Ons kan dit met een woord aangee: gemeenskap. Waar die ware, bloed-warme gemeenskap in die kerk ontbreek, is alle tugoefening feitlik gedoem tot mislukking; waar dit wel bestaan, is tugoefening spontaan en doeltreffend. (p. 159)

So verstaan, is kerklike tug nooit ’n handeling van bo na onder nie. Dit is ook nie straf nie. Dit is ’n gebeure wat voortvloei uit die opdrag van Jesus Christus aan gelowiges, om mekaar in liefde met groot verdraagsaamheid te versorg. Die vraag is, op watter wyse hierdie verstaan van kerklike tug op ’n nuwe manier in die NGK neerslag kan vind.

Kerklike tug in die NGK

Bogenoemde verstaan van die tug, is nie nuut aan die NGK nie. Dit word deur die Kerkorde van die NGK bevestig. Artikel 60 van die NGK Kerkorde (2019) bepaal:

Die kerklike opsig en tug dra ’n geestelike karakter en pas by die kerk as ’n geloofs- en ’n liefdesgemeenskap. Opsig en tug word dus op ’n kerklike wyse en met geestelike middele uitgeoefen. Amptelike kerklike opsig en tug is pastoraal-kerkregtelik van aard en moet uit ’n Bybelse en geestelike oogpunt billik en regverdig toegepas word. (p. 193)

Reglement 22 van die NGK Kerkorde (2019) beklemtoon verder:

Reglement 22 mag nooit so vertolk word of gebruik word dat dit die aard van die kerklike opsig en tug misken nie. Verder geskied die toepassing van Reglement 22 teen die agtergrond dat lidmate by die aflegging van belydenis van geloof en ampsdraers by legitimasie, ordening en bevestiging hulle onderwerp aan die kerklike opsig en tug. Daarmee lê hulle saam met ander lidmate en ander ampsdraers ’n eed af om hulle verantwoordbaar te hou aan die Woord, die belydenisskrifte en Bybelse waardes wat gepas is vir lidmate en ampsdraers, en versoek hulle die geloofsgemeenskap om hulle daaraan te hou en te vermaan en te tug wanneer hulle leer en lewe in stryd is daarmee, in so ’n mate dat dit hulle getuienis, geloofwaardigheid en die heil van die liggaam van Christus tot nadeel strek. (p. 110)

Bogenoemde maak dit belangrik om te verstaan dat kerklike tug op twee maniere in die praktyk moet uitspeel. Eerstens behoort tug op ’n informele wyse ’n rol in gemeentes te speel, terwyl dit tweedens ook formeel volgens die Kerkorde toegepas kan word. Beide behoort egter binne die raamwerk van verdraagsame versorging plaas te vind.

Informele tug

Om van kerklike tug ’n geleentheid te maak, beteken dat die standpunt van lidmate oor kerklike tug moet verander, en dat ’n nuwe verstaan in die kerk gevestig moet word. Dit beteken verder dat lidmate kerklike tug en hulle eie verantwoordelikheid ten opsigte van kerklike tug opnuut moet verstaan. ’n Nuwe verstaan van kerklike tug begin by lidmate wat eerstens verantwoordelikheid vir verdraagsame versorging van mekaar aanvaar. Die algemene beskouing dat ‘tug’ net ’n formele handeling is wat deur kerkvergaderings uitgeoefen word, moet verander word. Wanneer kerklike opsig en tug ’n geestelike karakter dra wat by die kerk as geloofs- en liefdesgemeenskap pas, word dit verhoudingsgedrewe, wat van onder na bo funksioneer. Prof. Christina Landman (27 September 2023, Netwerk 29)6 verwoord die wyse waarop verdraagsame versoging in die praktyk uitspeel, soos volg:

Verby is die kerk se harde mag. Maar daar is nog ‘sagte mag’ vir die kerk. Om die waarheid te sê, dis nou tyd vir daardie sagte mag. Sagte mag is om … te oortuig en uit te nooi, eerder as om … te dwing.

Daar bestaan reeds in baie gemeentes strukture wat verhoudingsgedrewe funksioneer. Voorbeelde hiervan is kleingroepe, bedieningsgroepe, selgroepe en wyksgroepe. Hierdie geleenthede kan sinvol benut word in terme van ’n nuwe verstaan van kerklike tug. Om hierdie groepe as ruimtes te omvorm waar verdraagsame versorging van mekaar kan plaasvind, is ’n aantal belangrike aanpassings nodig.

Dit moet by die toerusting van gemeentelede begin, deur geestelike onderrig. Geestelike onderwysing gebeur op twee maniere, naamlik deur prediking en deur kategese. Prediking speel ’n belangrike rol in die geestelike opvoeding van lidmate. Daarom kan lidmate help deur te verstaan dat hulle omgee vir mekaar, verdraagsame versorging moet insluit. Dit beteken dat kerklike tug op grondvlak reg sal funksioneer. Prediking word so ’n volgende belangrike wyse waardeur die lidmate kollektief as ’n geloofsfamilie vermaan kan word sodat belydenis en versoening kan plaasvind. Alhoewel dit lank deel van die gereformeerde erediens was, het dit op die een of ander wyse verlore geraak. Barnard (1981) skryf soos volg daaroor:

Prediking is ook ’n goeie manier om die gemeente toe te rus, om hulle bewus te maak van hulle verantwoordelikheid en roeping om mekaar te vermaan en vir mekaar se geestelike welstand om te sien. Vir predikante is dit dalk nie altyd maklik om oor sonde te preek nie, want hulle wil nie die boodskap van vergifnis deur Christus se liefdesoffer tot niet maak nie. Dit moet ook vermy word dat daar teruggeval word in ’n geloof van goeie werke om so God se genade te verdien. Daar moet egter daarop gelet word dat daar ook nie soveel gelet word op die verlossing dat lidmate ’n boodskap kry wat sê dat hulle kan sondig soos wat hulle wil sonder om ook hulle skuld te bely nie. Prediking moet dus gebruik word om mense te help om hulle eie sondes te bely, maar ook om mense aan te moedig om mekaar te vermaan. Prediking val natuurlik binne die breër konteks van die erediens. Die gereformeerde erediens skep ruimte vir die openbare skuldbelydenis vir die gemeente as geheel. Hierdie gesamentlike skuldbelydenis van die hele gemeente bring lidmate tot die besef dat alle mense sondig is, dat almal hulle skuld moet bely en dat niemand net in sonde mag volhard sonder vermaning en skuldbelydenis nie.

’n Tweede belangrike gebeure in geestelike onderrig, is kategese. Deur middel van kategese moet die verstaan en aanvaarding van kerklike tug opnuut onderrig word. Die doel van kategese is om dooplidmate te leer van die Christendom, wat dit beteken om ’n Christen te wees, hoe dit ’n impak het en verskil maak in hulle lewe as Christene, en hoe hulle in die wêreld moet leef. Kategese speel ’n belangrike rol in lidmate se houding teenoor kerklike tug. Wat kinders geleer word in die jare waarin hulle kategetiese opleiding kry, bepaal hoe hulle later, as belydende lidmate, hulle sondigheid en die verlossing van Christus verstaan en hoe hulle hul verantwoordelikheid teenoor ander gelowiges verstaan. Kategese moet dooplidmate dus toerus om hul verantwoordelikhede as belydende lidmate te verstaan. Kinders moet ook toegerus word om hulle sondigheid te verstaan en hulle moet aangemoedig word om hulle skuld te bely, met die wete dat hulle nie veroordeel sal word nie. Wanneer katkisante dus by die openbare belydenis van geloof gevra word of hulle aanvaar dat hulle medegelowiges die verantwoordelikheid het om hulle te help om op die regte pad te bly, sal hulle opreg ‘ja’ kan antwoord, want hulle besef hulle eie en hulle medegelowiges se verantwoordelikheid.

Die plek waar hierdie versorging verder tot sy reg kan kom, is in selgroepe en huisbyeenkomste. Bybelstudie en wyksbyeenkomste kan verder sinvol benut word vir die suksesvolle hantering van kerklike tug. In hierdie kleiner groeperings wat binne gemeentes vorm, word hegte verhoudings gevorm omdat almal in die groep soortgelyke uitdagings ervaar, byvoorbeeld jonggetroudes, enkelouers, ensovoorts. Hierdie verhoudings skep die basis vir ’n baie goeie ondersteuningsnetwerk. Daarom, wanneer ons nuut wil dink oor die kerklike tug, moet hierdie groeperings ook in ag geneem word. Die verhoudings wat nodig is vir die suksesvolle uitvoering van kerklike tug, bestaan alreeds in hierdie kleiner groepe. Daarom moet die leiers toegerus word, sodat daar ook binne hierdie byeenkomste geleentheid geskep word om belydenis te doen sonder veroordeling, en om ook vermaning aan te moedig. Wanneer dit gebeur, word verdraagsame versorging van mekaar, as nie-amptelike tug, die raamwerk waarbinne formele tug plaasvind.

Formele tug

Bogenoemde sluit egter nie die formele tughandelinge uit nie. Artikel van die Kerkorde van die NGK verwys spesifiek hierna: ‘60.2 Die amptelike uitoefening van die tug deur kerkvergaderinge of hulle gevolmagtigdes vervang nie die roeping van die gelowiges tot onderlinge vermaning nie, maar vul dit aan’ (NGK Kerkorde 2019:18). Artikel 60.3 lui soos volg: ‘Amptelike kerklike opsig en tug is pastoraal-kerkregtelik van aard en moet uit ’n bybelse en geestelike oogpunt billik en regverdig toegepas word’; terwyl Art 60.4. uitspel dat die hele lewenswandel (leer en lewe) van al die lidmate (doop en belydend) van die gemeente, asook ampsdraers, by kerklike tug ingesluit word.

Dit beteken dat waar kerklike tug formeel op lidmate en ampsdraers uitgeoefen word, dit ook binne die raamwerk van verdraagsame versorging moet plaasvind. Hierdie verstaan van kerklike tug is ’n uitdaging aan die verskillende vergaderings van die kerk, wat vir die formele hantering en die toepassing van kerklike tug verantwoordelik is.7 Dit beteken dat selfs wanneer daar van ’n amptelike tugproses sprake is, dit verhoudingsgedrewe sal wees. Dit is ’n vertrekpunt wat reeds in die Kerkorde van die NGK (2019) neerslag gevind het en wat soos volg lui:

Die tugliggaam tree nie op as regter nie, maar as besorgde lid van die liggaam van Christus wat soek na weë en middele vir hoe daar gehandel kan word om die eer van God, die welwese van die liggaam van Christus, asook die behoud van die sondaar ten beste te dien. (p. 110)

Dit beteken dat daar op die onderlinge verhoudings tussen predikante, ouderlinge en diakens in die Ringsgebied waarbinne hulle val, gelet moet word, omdat die Ring verantwoordelik is vir die toepassing van tug. Ook wanneer tug oor predikante uitgeoefen word, moet dit ’n liefdeshandeling wees, en dieselfde geld hier as by die tug oor gewone lidmate. Indien daar nie onderlinge verhoudings in die Ring bestaan nie, of as die verhoudings sleg is, gaan die predikant oor wie die kerklike tug toegepas word, dit as negatief ervaar, as liefdeloos en hardvogtig. Daar moet dus in die Ring daarop gelet word dat daar nie onderlinge struwelinge en klieks bestaan wat veroorsaak dat die tughandeling onenigheid teweeg sal bring nie. Die tug oor predikante moet ook soos met lidmate, by die broederlike en susterlike verantwoordelikheid teenoor mekaar begin.

Alhoewel die Ring primêr verantwoordelik bly vir die tug oor predikante en ampsdraers, bly broederlike vermaning die mees basiese vertrekpunt. Hierdie broederlike vermaning kan plaasvind deur ’n lidmaat, ’n kerkraadslid of ’n predikant buite die Ring. Binne ringsverband is verhoudings net so belangrik, om te sorg dat tug as verdraagsame versorging van mekaar, verstaan word. Dit moet egter in gedagte gehou word, dat die ring ’n verantwoordelikheid teenoor predikante en gemeentes het. Die ring is nie net verantwoordelik vir die welstand van die ringspredikante nie, maar ook van die gemeentes binne die ringsgrense. Tug oor predikante is ’n baie sensitiewe saak, omdat dit die predikant se lewensonderhoud kan beïnvloed en selfs sy of haar status as predikant. Aan die gemeente se kant, bestaan daar die moontlikheid dat hulle ’n geliefde predikant kan verloor, of dat hulle ’n ongewensde predikant moet behou. Daarom moet die Ring aan predikante sowel as aan gemeentes ondersteuning gee en sover moontlik die trauma aan beide kante verminder en bestuur. Om hierdie rede moet die konsulent nie by die tugproses betrokke wees nie, sodat hy of sy onpartydige ondersteuning kan bied. Die verhouding van Ringspredikante met mekaar moet op so ’n vlak wees dat hulle mekaar kan vertrou, en dat hulle kan weet dat die een nie met kwade gevoelens teenoor die ander gaan optree nie.

Ringe moet aangemoedig word om ’n naburige Ring te nader indien hulle voel dat hulle nie onpartydig teenoor die predikant of gemeente kan optree nie.

Daar moet te alle tye genoegsame ondersteuning gebied word vir sowel die ampsdraers as die gemeentes. Ringe moet hulp aanbied of inwin waar dit nodig is, nadat die tugprosedure afgehandel is.

Een van die belangrikste wyses waarop verhoudings in ringsverband versterk kan word, is die kerklike visitasie. Koffeman (2014:227) sê in hierdie verband: visitasie is: ‘an expression of the common responsibility of a denomination and the local congregation’. Wanneer dit ernstig opgeneem word, word dit ’n belangrike kerkordelike instrument vir die bevordering van die integriteit van die kerk. Vereistes vir die aanstelling van besoekers, sowel as voorskrifte rakende die frekwensie, die inhoud en die prosedures van visitasie, is bepalend en moet die nodige aandag geniet. In die NGK is kerkvisitasie een van die belangrike verantwoordelikhede van die Ring (NG Kerk Kerkorde Art. 31). Met kerkvisitasie word ondersoek gedoen na die welstand van die gemeentes in die Ring. ’n Deel van die ondersoek na die welstand, is om te bepaal of daar tevredenheid is met die predikant en die kerkraad, sodat probleme en bekommernisse vroegtydig hanteer en opgelos kan word. Dit is ook ’n geleentheid vir die kerkraad om in vertroue met ’n ander predikant as die gemeente se leraar, oor bediening in die gemeente te praat. Daar moet meer aandag gegee word aan kerkvisitasie. Deur visitasie leer ken die gemeente en veral die kerkraad die konsulent en ontstaan daar ’n verhouding wat dit makliker maak om die konsulent vir advies, hulp en leiding te nader. As ’n gemeente nooit hulle konsulent sien of ontmoet nie, sal hulle ook nie die vrymoedigheid hê om hom of haar vir hulp of raad te kontak nie. Visitasie help om vroegtydige probleme in die welstand van die gemeente te identifiseer: nie net op dissiplinêre vlak nie, maar op alle terreine van gemeentewees, veral op die geestelike vlak. Visitasie is nie ’n middel van tugtoepassing nie, maar dit het wel ’n invloed op die vroeë bewuswording van probleme, ook dié wat moontlik kan lei tot tug. Kerkvisitasie kan ook help om verhoudings te bou, wat die fondament is van ’n suksesvolle tugoefening. Dit kan ook help dat die konsulent die leraar kan nader as hy of sy bewus word dat daar probleme is, sodat die probleem opgelos kan word. Dit kan ook help dat die konsulent die leraar broederlik kan vermaan voordat dit nodig word dat ’n klag by die Ring gelê word, soos vervat in die Kerkorde, Artikel 2, 3, 4 en 5 van die Protestantse Kerk in Nederland (2018).

’n Nuwe ruimte waar informeel en formeel ontmoet word

Wanneer nie-amptelike en amptelike kerklike tug binne die raamwerk van verdraagsame sorg funksioneer, skep dit die moontlikheid van ’n nuwe ruimte waar nie-amptelike en amptelike kerklike tug mekaar ontmoet. Dit is ’n ruimte vir belydenis, vergifnis en versoening. Dit beteken dat daar in die kerk in gemeentes en in die breër kerklike verband, veilige ruimtes geskep moet word waar beide lidmate en ampsdraers hulle verhale kan vertel, en kan hoor en ervaar dat hulle vergifnis ontvang, en versoening tussen partye kan plaasvind, sonder dat formele tug toegepas word – waar die Bybelse eis van tug op die regte manier as sorgsame verdraagsaamheid op grondvlak uitspeel. Hierdie gebeure beteken nie dat formele tug nie kan of sal volg nie. Dit skep egter die regte teologiese raamwerk waarbinne formele tug, indien nodig, toegepas kan word.

Samevatting

Jonker (1959) maak die vogende belangrike opmerking oor die funksionering van tug in die kerk:

Ons staan hier voor ’n verootmoedigende waarheid wat ons laat besef dat daar probleme aan ’n geslaagde en doeltreffende beoefening van die tug verbonde is, wat nie met ’n handomdraai verwyder sal kan word nie. (p. 157)

Jonker (1959) gaan dan voort:

Sonder tug sou die kerk wees soos ’n ongeskoffelde tuin waar alles deurmekaar groei, onkruid en blomme, sodat die eintlike karakter van die tuin daardeur op so ’n wyse bedek word dat dit nie meer as tuin herken kan word nie. As die kerk sonder tug sou wees, sonder die onderlinge sorg van die lede vir mekaar, sonder die voortdurende vermaning aan diegene wat sondig, dan sou die heilige karakter van die kerk daarmee heen wees. (p. 9)

Bogenoemde beklemtoon die belangrikheid van kerklike tug. Om dit in die kerk te laat realiseer, sal ’n nuwe verstaan van tug onder lidmate gekweek moet word, en sal informele en formele kerklike tug binne die raamwerk van verdraagsame versorging moet plaasvind. Van Graan het hierdie belangrike waarheid deur haar hele studie uitgewys en beklemtoon.

Erkennings

Hierdie artikel is gedeeltelik gebaseer op die mede outeur se navorsing vir haar PhD in Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria, Suid Afrika, met studieleier prof. JM van der Merwe.

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenisse is wat die skryf van hierdie artikel negatief kon beïvloed nie.

Outeurs bydrae

Ds. B.R. van Graan het haar PhD-verhandeling geskryf oor ’n nuwe model vir kerklike tug in die NGK. Sy is egter tragies aan COVID-19 oorlede voordat sy dit finaal kon afhandel. Hierdie artikel is gebaseer op sommige van haar navorsing en lewer ‘n interdisiplinêre bydrae in die studievelde van Kerkreg en Praktiese Teologie. J.M.v.d.M is die enigste outeur van hierdie navorsingsartikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel het alle etiese standaarde gevolg vir navorsing sonder direkte kontak met, en deelname van mense.

Befondsingsinligting

Die outeur het geen finansiële ondersteuning vir die navorsing, outeurskap en/of publikasie van hierdie artikel ontvang nie ontvang nie

Databeskikbaarheidsverklaring

Datadeling is nie van toepassing op hierdie artikel nie omrede geen nuwe data geskep of ontleed is nie.

Vrywaringsverklaring

Die menings en sienings wat in hierdie artikel uitgespreek word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde instelling, befondser, agentskap of dié van die uitgewer nie. Die outeur is alleen verantwoordelik vir hierdie artikel se en inhoud.

Bronnelys

Barnard, A.C., 1981, Die erediens, N.G.Kerkboekhandel, Pretoria.

Bouwma, C., 1942, De Brieven van den apostel Paulus aan Timotheus en Titus, in Kommentaar op het Nieuwe Testament, Van Bottenburg, Amsterdam.

De Bres, G., 1561, Nederlandse Geloofsblydenis, besigtig 10 Oktober 2023, vanaf https://kerkargief.co.za/doks/bely/GB_NGB.pdf

De Bruyn, P.J., 1997, Jou enigste troos: Die Heidelbergse Kategismus vir die hedendaagse mens, Departement Sentrale Publikasies, Universiteit vir CHO, Potchefstroom.

Grosheide, F.W., 1952 Wat leert het Nieuwe Testament inzake de tucht? In Exegetica I: Derde deel, Delft, Keulen.

Jonker, W.D., 1959, “En as jou broeder sondig …”, N.G. Kerk-Uitgewers, Kaapstad.

Jonker, W.D., 1965, Om die regering van Christus in sy kerk, N.G. Kerk-Uitgewers, Pretoria.

Kamphuis, J., 1982, Om de heiligheid van de gemeente: De kerkelijke tucht, Copieërinrichting Van den Berg, Kampen.

Kamphuis, J., 1986, De tucht over ‘doopleden’ en de structuur van het genadeverbond, in Smit, C.J. (samest.), In gehoorsaamheid: Opstelbundel aangebied aan Prof. G.P.L van der Linde by sy emeritering as hoogleraar, pp. 50–61, Potchefstroomse Teologiese Publikasies, Potchefstroom.

Kleynhans, E.P.J., 1965, Christendom en sy kerke ontmasker, Roodepoort.

Kleynhans, E.P.J., 1988, Gereformeerde Kerkreg: Deel IV (Die arbeid en betrekkinge van die kerk), Kerkboekhandel Transvaal, Pretoria.

Koffeman, L.C., 2009, Het goed recht van de kerk: een theologische inleiding op het kerkrecht, Kok, Kampen.

Koffeman, L.C., 2014, In order to serve: an ecumenical introduction to church polity, Lit Verlag.

Landman, C., 2023, Die tyd is verby vir die kerk se ‘harde mag’, besigtig 27 September, vanaf https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/christina-landman-die-tyd-is-verby-vir-die-kerk-se-harde-mag-20230923

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 2007, Handelinge van die Algemene Sinode, Bybel Media, Wellington.

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 2010, Handleiding vir die Erediens, Bybel Media, Wellington.

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 2019, Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk met Reglemente, Kerkordelike riglyne en funksionele besluite soos vasgestel deur die Algemene Sinode, Bybel Media, Wellington.

Nauta, D., 1971, Verklaring van de Kerkorde van de Gereformeerde Kerken in Nederland, Kok, Kampen.

Polman, A.D.R., s.a., Onze Nederlandsche Geloofsbelijdenis, derde en vierde dele, Wever, Franeker.

Protestantse Kerk in Nederland, 2018, Kerkorde en ordinanties van de Protestantse Kerk in Nederland.

Smuts, A.J., 1962 Die kerklike tug in wese en praktyk, Randfontein.

Smuts, A.J., 1968, Die tweede sleutel: riglyne vir kerklike tug, N.G. Kerkboekhandel, Pretoria.

Van Rooyen, J.H.P., 1970, Kerklike tug – ’n heilige saak, Prompt Drukpers, Johannesburg.

Van’t Spijker, W., 1970, De Ambten bij Martin Bucer, Kok, Kampen.

Visser, J., 1980, Kerklike tug: wat sê die Nuwe Testament? Van Wyk drukkers, Pretoria.

Visser, J., 1986, Kerklike tugoefening: geen afbraak, maar opbou, In C.J. Smit (samest.), In gehoorsaamheid: opstelbundel aangebied aan Prof. Dr. G.P.L. van der Linde by sy emeritering as hoogleraar, pp. 155–168, Potchefstroomse Teologiese Publikasies, Potchefstroom.

Vorster, J.D., 1956, Die kerkregtelike ontwikkeling van die Kaapse kerk onder die Kompanjie 1652-1792, Pro Rege-Pers, Potchefstroom.

Wray, D.E., 1978, Biblical church discipline, Banner of Truth, Pennsylvania, PA. http://churchsociety.org/docs/churchman/110/Cman_110_4_Wray.pdf

Voetnotas

1. ‘Die kenmerke waaraan ons die ware kerk kan uitken, is die volgende: Wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het, en die kerklike tug gebruik om die sondes te straf; kortom, wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken’ (Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 29).

2. Die uitkoms van Van Graan se navorsing is in besit van die outeur. Sy kon weens haar ontydige afsterwe tydens die COVID-19 pandemie nie haar PhD voltooi nie.

3. Die outeurs erken die belangrikheid van die notae ekklesiae vir die beofening van kerkreg, maar ’n volledige bespreking daarvan val buite die fokus van hierdie artikel. Vir ’n volledige bespreking daarvan, sien Koffeman (2009:183–289).

4. Die vraag lui soos volg, ‘aanvaarjy dat jou medegelowges die verantwoordelikheid het om jou te help om op die regte pad te bly?’ (Handleiding vir die Erediens 2010:122)

5. Hierdie is een van die belangrike uitkomste van Van Graan se navorsing.

6. Source available online at https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/christina-landman-die-tyd-is-verby-vir-die-kerk-se-harde-mag-20230923.

7. 62.1 Alle doop- en belydende lidmate van die gemeente val onder die opsig en tug van die kerkraad.



Crossref Citations

No related citations found.