About the Author(s)


Leonie Meyfarth symbol
Unit for Reformational Theology and the Development of the South African Society, Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom, South Africa

Marius Nel Email symbol
Unit for Reformational Theology and the Development of the South African Society, Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom, South Africa

Citation


Meyfarth, L. & Nel, M., 2024, ‘Christene wat Joodse gebruike opneem: Die Hebrew Roots-leerstellings, beoordeel vanuit Handelinge 10:9-29, Handelinge 15:1-35 en Galasiërs 2 en pentekostalistiese hermeneutiek’, Verbum et Ecclesia 45(1), a2976. https://doi.org/10.4102/ve.v45i1.2976

Original Research

Christene wat Joodse gebruike opneem: Die Hebrew Roots-leerstellings, beoordeel vanuit Handelinge 10:9-29, Handelinge 15:1-35 en Galasiërs 2 en pentekostalistiese hermeneutiek

Leonie Meyfarth, Marius Nel

Received: 25 Aug. 2023; Accepted: 14 Nov. 2023; Published: 15 Feb. 2024

Copyright: © 2024. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstrak

Christians taking up Jewish Customs: The Hebrew Roots doctrines evaluated from Acts 10:9–29, Acts 15:1-35, Galatians 2, and Pentecostalist hermeneutics. Numerous Pentecostal and Christian adherents are encountering Hebrew Roots teachings, with a significant global presence, notably in the USA, Israel, Europe, South America, and South Africa. In 2012, the South had a substantial number of adherents. A prominent ministry, 119 ministries, offers an interactive map listing Hebrew Roots ministries worldwide. In South Africa, over 120 such ministries are listed, primarily in Gauteng and the Western Cape. Hebrew Roots proponents claim authenticity by reverting to Jewish and Mosaic roots, advocating adherence to Old Testament precepts, including rituals and customs. This article critically assesses these claims, focusing on key texts such as Acts 10:9-29, Acts 15:1-35, and Galatians 2, in the context of the Mosaic-Hebrew roots movement. This movement argues that non-Jewish Christians should observe the Mosaic laws integral to God’s covenant with Israel. Employing a comparative literature analysis and grammatical-historical exegesis, the study contrasts Pentecostal beliefs with those of the Hebrew Roots movement concerning non-Jewish Christians’ ethical responsibilities regarding the Mosaic laws. The article first outlines the historical evolution of the Hebrew Roots movement, emphasizing its theological foundations. Subsequent sections systematically analyse the scriptural passages, examining their influence on these movements’ doctrines through a Pentecostal hermeneutical lens. One central concern highlighted is the potential for Hebrew Roots teachings to challenge the exclusive role of Christ in salvation by emphasizing adherence to the Old Testament’s legal framework, raising questions about Christ’s divinity.

Intradisciplinary/intradisciplinary implications: This research seeks to prompt a critical examination within the field of Dogmatics, specifically with regard to the precise delineation of a Christian’s obligations concerning the Mosaic Law, particularly in the context of the Decalogue.

Keywords: Hebrew Roots Movement; Torah observant Christians; Messianic Christians; Jewish roots; Hellenistic influences; Mosaic law.

Ontstaan en verspreiding van Hebrew Roots-beweging

Dit is moeilik om die geskiedenis en oorsprong van die Hebrew Roots-beweging te beskryf, omdat dit nie sentraal georganiseerd is of selfs sentraal ontstaan het nie. Eers teen die middel van die 1980’s ontwikkel die Hebrew Roots Movement (nie-Joodse Christene wat Joodse godsdienstige gebruike aanneem) tot ’n duidelik onderskeie eiesoortige beweging met ’n eie identiteit, wat afsonderlik bestaan van Messiaanse Judaïsme (’n beweging wat bestaan uit Jode wat Jesus as Messias aanneem) (Dunning, 2014).

Die Messiaanse Joodse beweging het in die 1960’s groei begin toon. Die Joodse jeug was deel van die beweging wat Jesus as held aangeneem en die Israeli-Arabiese Sesdaagse oorlog as geleentheid aangegryp het om die kenmerke van die Messiaanse Joodse beweging te verander. Die jong beweging het probeer om ’n opwindende vorm van Christenskap te skep wat tradisies wat vreemd was vir Jode uit die weg te ruim.

Evangeliese Christene se houding het ook in die tyd verander om meer verdraagsaam met gebruike en tradisies van nie-Westerse Christene te word. Na die Sesdaagse oorlog het Evangeliese Christene die Jode en hulle rol in die geskiedenis en eskatologie ook in ’n ander lig begin beskou en nie Jode wat Jesus as Messias aangeneem het verder onder druk geplaas het om die nalatenskap van hul Joodse godsdiens af te skaf of daarvan af te sien nie.

Messiaanse Joodse beweging het ook Joodse identiteit, kulturele gebruike en simbole bevorder wat by baie nie-Joodse Christene aanklank gevind het. Navorsing toon dat nie-Joodse Christene ’n baie groot persentasie van die lidmaatskap uit maak; in sommige gevalle is hulle ook die meerderheid (Ariel, 2012:323). Die meerderheid wat gemeentes in dié groepering besoek is nie-Jode op soek na ’n “egte” geloofservaring waarin Joodse godsdienstige gebruike ’n prominente rol speel (Kaell, 2015:43).

Die Hebrew Roots-begewing het geen oorkoepelende geloofsleer of leerstellinge nie en bestaan die beweging uit verskillende benaminge en definisies van wat die beweging behels en watter gebruike aangehang moet word.

Die naam Hebrew Roots is in 1994 deur Dean en Susan Wheelock as ’n handelsmerk geregistreer. Hulle het ook ’n tydskrif getiteld Hebrew Roots Magazine geloods en beskikbaar gemaak waardeur inligting aangaande die beweging versprei is. Simpatieke leraars kon programme op kanale soos God’s Learning Channel aanbied naas verskeie radioprogramme. Die internet is sonder twyfel die medium wat in die laaste twee dekades die meeste benut is om inligting en materiaal te versprei (Dunning, 2014:1). Menachem Kaiser noem in Tabletmag (2014) dat daar na raming tussen 200 000 en 300 000 Hebrew Roots-volgelinge wêreldwyd was, waarvan die meerderheid tussen die jaar 2000 en 2014 aangesluit het.

Die Hebrew Roots-beweging bestaan uit nie-Joodse Christene wat na die historiese, sosiale en kulturele konteks waarin die Bybel geskryf was, vra. Hulle ontwikkel ’n alternatiewe vorm van Christenskap gebaseer op hul vermeende “beter insig” in die Joodse gebruike waaruit Christenskap sou ontwikkel het en wat die essensie van die Christelike geloof sou verteenwoordig, met die doel om daarna terug te keer (Hauer, 2011).

Wet van Moses: vroeë Christenbeweging standpunt

Die vroeë Christen kerk was divers met faksies rakende die vraag of Ou-Testamentiese wetgewing steeds r vir Christene relevant is. Die konflik was gesetel in die vraag of gelowiges die Wet van Moses moes onderhou (Horrel, 2000:4).

Die teologiese konflik was in die etniese identiteit van twee breë groepering, wetsonderhoudende Joodse en nie-wetsonderhoudende (meestal) nie-Joodse Christengelowiges gewortel.

Die woord heiden (goy[im]) kom gereeld in die Ou Testament voor en word gewoonlik as heiden of nasie vertaal (Timberlake, 2016:16). Die eerste gebruik kom in Genesis 10:5 voor wat na die nageslag van Noag se seuns verwys (‘Uit hulle het die mense [goyim] wat nou die kusstreke bewoon, daarnatoe versprei, volgens hulle stamme en nasies [goyim], elkeen met sy eie taal’). In Genesis 12:2 belowe die Here aan Abraham dat sy nageslag ’n groot nasie sal word en in Genesis 17:4 word die woord, wat gebruik word om die omvang van Abraham se nageslag te beskryf, ook hieruit afgelei. Al was Abraham ’n heiden [goy], is dit sy geloof wat die basis van geregtigheid vir die Joodse godsdiens vorm (Timberlake, 2016:16). Die woord “heiden” word dus gebruik om na nasies buite die volk van Israel te verwys.

Die Christelike kerk het etniese lyne oorskry sodat dit nie met ’n bepaalde etniese identiteit ooreenstem (soos in Judaïsme) om die geloof te kan uitleef of bely nie (Bennema, 2013:755). Filippus se evangelieverkondiging aan die Samaritane en die ontmande Ethiopiër (Hand. 8) het die eerste sade van die inklusiwiteit in die ontluikende karakter van die kerk gesaai. Volgende was Petrus se ervaring met die nie-Joodse godvresende Cornelius (Hand. 10). Met verloop van tyd het die kerk van Antiochië ’n groot aantal nie-Joodse gelowiges gehad wat daar aanbid het, hoofsaaklik as gevolg van die Grieks-magtige Jode se evangelisasie werk (Hand. 8:1; 4; 11:19-26). Paulus se werk onder die nie-Joodse gemeenskappe in die Romeinse Ryk het die etniese grense van die ontluikende Christenskap heeltemal verplaas (Bennema, 2013:755).

In sy briewe aan die Nuwe Testamentiese kerke het Paulus die toestand van diegene wat nie in Christus glo en derhalwe nie deel aan Christus het nie dikwels bespreek. Volgens Romeine 3:9-20 is daar vir sodaniges geen geregtigheid, genade en verlossing nie. Al hoe enigiemand gered kan word, is deur Jesus as Saligmaker en Redder aan te neem (Rom. 10:13). Alvorens iemand tot bekering kan kom, moet hulle glo en iemand kan net glo as hulle die verlossingsboodskap gehoor en aanvaar het (Rom. 10:14-15). Dit is die boodskap oor Jesus se verlossingsdood wat verlossing openbaar, en geloof in die boodskap lei tot verlossing – aan die Jood eerste maar aan nie-Jode of heidene ook (Rom. 1:16-17). In Romeine 3:25 maak Paulus dit duidelik dat verlossing slegs deur geloof in Jesus se verlossingswerk bestaan. In vers 28-30 redeneer hy dat vir beide vroeë gelowige Jode en nie-Jode slegs een manier is om verlossing te ontvang: deur geloof (Erickson, 2013:938).

Tradisioneel het die Jode slegs nie-Jode aanvaar wanneer hulle die Joodse etniese identiteit aanneem (deur besny te word en die wet te onderhou). Paulus het aangevoer dat Jesus se verlossingswerk hierdie voorwaarde afskaf (1 Kor 7:20) en dat ’n nie-Jood juis hul nie-Joodse identiteit moet behou eerder as om ’n Joodse proseliet te word. Dit het aanleiding tot verskeie teologiese vrae in die kerk rakende die etniese identiteit van Joodse en nie-Joodse Christengelowiges gegee.

Die vraag wat beantwoord moes word, is hoe die verhouding en gedragsbepalings van die groep wat uit beide Joodse en nie-Joodse gelowiges bestaan, behoort te lyk? Behoort daar enigsins ’n onderskeid te wees? Volgens die Hebrew Roots- beweging het alle gelowiges (beide Jode en nie-Jode) ’n verpligting om die wet van Moses in volle omvang te onderhou (Hauer, 2011; Liebenberg, 2007a:7). Verskeie Nuwe Testamentiese teksgedeeltes, onder andere Handelinge 10 en 15 en Galasiërs 2, weerspieël die konflik.

Kaell (2015:43) beweer meer as sewentig persent van mense wat Messiaanse Joodse dienste in die VSA bywoon uit die geledere van weergebore Christene is. Die meerderheid van die besoekers kom oorspronklik uit pentekostalistiese of evangeliese kerke wat glo dat verlossing slegs deur geloof in Christus moontlik is, dat die Bybel die hoogste gesag dra en die noodsaaklikheid van wedergeboorte voorhou. In die lig van die groot getal pentekostalistiese gelowiges wat aanklank by Hebrew Roots-lerings vind, is dit belangrik om die bediening se lering rakende sekere primêre leerstellings aan die hand van sleuteltekste te ontleed.

Wet van Moses: die Hebrew Roots-beweging se gebruik

Die Bybelse term “wet” hou ’n wye reeks van betekenisse in. Alhoewel Hebrew Roots-bewegings se lerings aangaande verskeie aspekte van wetsonderhouding divers is, kan ’n bespreking en definiëring van die term ’n bondige oorsig daaroor bied.

Oorsig van Hebrew Roots-lering aangaande die ‘wet’

Die oorsig aan die hand van die Hebraic Roots Teaching Institute (HRTI) se dokument Daar is net “Een” verbond, en Christene het dit grootliks gemis (Liebenberg, 2007a) toon dat die term ‘wet’ drievoudig gedefinieer kan word as die:

  • Torah wat uit die eerste vyf boeke van die Bybel bestaan en 613 instruksies vir die korrigering, beskerming en leiding van die gelowige bevat. Die werke van die wet kan niemand se saligheid bewerkstellig nie maar word vrywillig gedoen omdat die gelowige vir YHWH (God die Vader) en Y’shua (Jesus) lief is (Liebenberg, 2007a:7).
  • Tien Gebooie wat in die Hebreeuse Bybel twee maal herhaal word en as Asereth ha-D’bharim of Asereth ha-Dibroth (“tien woorde”) bekend is. Dit dat daar nooit daar na die tien gebooie as Torah verwys word nie. Die Tien Gebooie dien slegs as ‘n deel en opsomming van die Torah (Liebenberg, 2007a:7)
  • Twee gebooie, soos weergegee in Lukas 10:27, ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself’ nie die 613 gebooie van die Torah vervang nie. Die twee gebooie is wel die pilare van die Torah; sou iemand die twee pilare onderhou, moet so iemand ook die ‘Noagiede’ wette onderhou. Die ‘Noagiede’ wette word as die manier hoe nie-Jode kan voldoen aan die minimale vereistes van ‘beskawing’ en die Goddelike wet (Torah) beskou. Die Tien Gebooie (volgens Liebenberg, die opsomming van die 613 opdragte) geld vir almal wat ‘aan die burgerskap van Israel’ wil deelneem (Liebenberg, 2007a:9) terwyl die 613 opdragte aan die verbond en deelname daaraan verbind word. Gehoorsaamheid aan die Torah lei tot gesondheid en volkomenheid in die verbondsgemeenskap met God (Liebenberg 2007a):

    Om die instruksies van die Torah te volg, is die resultaat van verlossing en lei tot oorvloedige seëninge seëninge. (p. 10)

Volgens HRTI-materiaal mag niemand die inhoud van die Torah se 613 wette verander nie. Sou iemand daaraan verander, moet daardie persoon volgens Deuteronomium 13:1-5 gestenig word. Verder is daar volgens Liebenberg (2007a:17) geen aanduiding dat die nuwe verbond (soos in Jer 31:33: “Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees”) ’n einde aan die Torah sou bring nie. Volgens die bediening, impliseer die interpretasie van Jeremia 31:33 dat die Nuwe Verbond die wet insluit.

Vanuit die HRTI-materiaal kan daar geïllustreer word dat die Hebrew Roots-bediening geen onderskeid tussen seremoniële, rituele en morele wette tref nie maar dat dat alle gelowiges verplig is om die volledige wet te onderhou. Liebenbeg (2007a:21) meen leiers en leraars mislei gelowiges as hulle leer dat die 613 opdragte van die Mosaïese wet (Torah) nie op dissipels van Christus van toepassing is nie. Hulle is deur Satan mislei om oorgeërfde leuens en menslike tradisies, eerder as God se geopenbaarde Torah, te volg.

Die Hebrew Roots-beweging het nie ’n gestandaardiseerde belydenis van geloof nie, maar stem saam dat ‘Wet’ na die Pentateug se 613 voorskrifte verwys. Terselfdertyd kom in Hebrew Roots-literatuur verskeie variante van die wetsonderhoudinglering voor wat dit moeilik maak om die ideologiese en teologiese raamwerk vir die breë Hebrew Roots-beweging te peil.

Daar is ’n spektrum van wat verwag word van nie-Joodse gelowiges in terme van wetsonderhouding, en ’n paar voorbeelde daarvan is:

  • Die Torah handel oor Jesus. As daar dus geloof in Moses se woorde is, sal daar geloof in Jesus se woord ook wees. Sou die woorde van Moses verwerp word, word Jesus se woorde in ’n sin ook verwerp (Wilber, s.a.).
  • Die webblad van Jews for Jesus (Hamman, 2020) maak die stelling dat nie-Joodse gelowiges nie die Joodse godsdienstige wette hoef te onderhou nie, maar dat dit vir Christene voordelig is om meer te leer van en ruimte te maak in hul lewens vir die Joodse Sabbat en feeste. Om dit nie te doen nie word vergelyk met iemand wat na ’n vreemde land immigreer en nooit die tyd neem om die taal te leer en die kultuur te verstaan nie.
  • HRTI se standpunt is dat daar slegs een “Wet” is, en dit is die Torah. As iemand ’n deelnemer van die Nuwe Verbond wil wees, moet die Torah op so iemand se hart geskryf staan en die Gees van God sal hulle leer hoe om dit te onderhou (Liebenberg, 2007a:31).

Dit wil voorkom asof die ideologies-teologiese perspektiewe van meeste van die Hebrew Roots-beweging die voorskrifte en opdragte van die Torah letterlik en bindend op alle gelowiges beskou. Hul hermeneutiese proses benader relevante teksgedeeltes vanuit die vooraf-ingenome standpunt dat dit letterlik vir alle mense van alle tye geld en dat die letterlike betekenis op die lewens van hedendaagse gelowiges toegepas moet word. Voorbeelde van stellings waarvan die ideologiese perspektief van die beweging afgelei kan word, is:

  • Die letterlike betekenis van Yahweh se Woord moet onderskei word, en moenie vergeestelik word nie (Prock, 2020:69).
  • Om regtig die ware betekenis van die Torah te verstaan, moet die inhoud daarvan letterlik toegepas en uitgeleef word (Ratzlaff, 2023).
  • Die poging om terug te keer na die Joodse oorsprong van die Christelike geloof is ’n poging om te onderskei tussen die Skriftuurlike waarheid soos in die Torah vervat, en die menslike tradisies en interpretasies daarvan (Garr, 2006:10).

Daar bestaan ook nie wye konsensus by die verskeie Hebrew Roots-bedieninge te wees nie maar eerder ’n wye spektrum van wat die letterlike betekenis van God se woord is en hoe dit toegepas behoort te word in die lewens van gelowiges. Vervolgens word na die gebruik van etlike tekste in die Hebrew Roots-beweging gekyk met die doel om dit Pentekostalisties-hermeneuties te evalueer.

Petrus se visioen: Handelinge 10:13–16

Die Hebrew Roots-bedieninge leer dat nie-Jode die wet moet onderhou. Die stelling word begrond op die feit dat wanneer heidene by die geledere van Israel wou aansluit, moes sulkes ook die wette onderhou. Die bedieninge gebruik onder andere Petrus se visioen in Handelinge 10:13-16 om die lering te staaf.

Volgens sommige van die Hebrew Roots-bedieninge toon Petrus se visioen in Handelinge 10 nie aan dat die voedselwette afgeskaf is nie omdat dit nie alle kossoorte rein verklaar nie (119ministries, 2014). Die lering stel dat die visioen aantoon dat nie-Joodse Christene nie langer as “heidense” Christene geklassifiseer moet word nie maar as gelykstaande aan Israel beskou word. Dit impliseer dat dieselfde verpligting om die voedselwette te onderhou vir beide Joodse en nie-Joodse gelowiges, geld (Wahl, 2003a:2; Liebenberg, 2007b:28; Woods, 2012:172, Coetzee, s.a.:116).

Lukas verwys na die uitdaging van die integrasie van nie-Joodse en Joodse dissipels van Jesus in Handelinge. Hierdie saak, sowel as die wyse waarop die konflik hanteer is, is temas wat deurlopend in Handelinge na vore tree (Hand. 10; 15; 16:3; 18:18; 21:17-26; Keener, 2012:437-438).

Handelinge 10 is belangrik omdat dit na die verlossingsgeskiedenis van nie-Jode verwys. Aangesien Koning Agrippa 1 reeds sy troepe in 41-44 n.C. in Palestina gehad het, moes Cornelius voor 41 n.C. deel van sy regiment in die area uitgemaak het. Hieruit kan afgelei word dat die gebeure omtrent tien jaar na die uitstorting van die Heilige Gees (Hand. 2) afspeel (Keener, 1993). Die Goeie Nuus is eers aan Jode, daarna aan Samaritane en uiteindelik aan ander nie-Jode verkondig (Wiersbe, 1989:444). Schnabel (2012) verwys na Handelinge 10 as die spesifieke deel wat ter sprake is, i.e. Petrus se visioen van die onrein en rein kosse en die stem wat vir hom sê dat wat God rein verklaar, hy nie as onrein mag ag nie (vv 9-16). Die apostel sien ’n visioen van ’n doek met onrein diere wat neerdaal (vv 11-12). ’n Stem beveel hom om die diere te slag en te eet (v 13), maar hy weier omdat hy nog nooit voorheen onrein kos geëet het nie (v 14). Die opdrag word herhaal (v 15) en wéér weier hy. Die opdrag word ’n derde keer herhaal voor die visioen eindig (v 16). (Schnabel, 2012).

Petrus se visioen in Handelinge 10:9-16 is een van die sentrale gebeurtenisse wat die vroeë kerk gehelp het om die nuwe bedeling te verstaan. Dit behels dat God hom beveel om kos wat onder die wet van Moses as onrein beskou word, te eet. Hy weier aanvanklik maar die stem verduidelik dat wat God as rein verklaar het, geen mens onrein mag noem nie. Die tekstuele konteks is die versoek van die Romeinse amptenaar dat Petrus hom besoek nadat ‘n engel van God kom die opdrag gee om Petrus te laat haal en na sy boodskap te luister.

Volgens Du Toit (2016a:89) het die visioen betrekking op die Joodse voedselwette wat vir Christene afgeskaf word. Dit impliseer dat as alle diere rein en alle mense heilig en rein verklaar word, gelowiges nie meer die voedselwette of enige ander godsdienstige reinigings- en heiligingsprosedures hoef te gehoorsaam nie omdat iemand se verhouding met God nie meer op wette, voorskrifte en prosedures gegrond is nie.

Die voedselwette waaraan Jode onderwerp was, kan slegs verstaan word vanuit die Ou-Testamentiese konsep van heiligheid, ’n essensiële faset van God se aard. Mense en objekte bestaan in een van vier moontlike toestande: heilig of onheilig, en rein of onrein (Schnabel, 2012). Mense is in drie afdelings ingedeel: heilig (priesters), rein (Israel) en heidens (die res van die mensdom). Diere is ook in dieselfde drie afdelings ingedeel: offerandediere (slegs rein diere kon aan God geoffer word), rein diere (Israel mag slegs rein diere slag en eet) en onrein diere (nie-Jode het geen onderskeid getref tussen watter diere heilig of onheilig in die Joodse sin is nie). Diere is as rein of onrein geklassifiseer terwyl nie-Jode as goddeloos of heidens, en nie as rein of onrein beskou is nie.

Op grond van die bogenoemde kwalifisering word nie-Jode word as moreel afvallig (goddeloos) eerder as “ritueel onrein”, beskou. Die rede daarvoor was dat die reinheidswette slegs op Jode van toepassing was en nie op nie-Jode nie (Klawans, 2000:44). Nie-Jode was heidene (as die antitese van heilig) maar nie onrein nie omdat daar nie van hulle verwag was om die rituele of morele reinheidswette te onderhou nie. Rituele onreinheid verwys na Levitiese voorskrifte met betrekking tot reinheid (Lev. 11-15 en 19), en die tipe onreinheid is meestal onvermydelik. Morele onreinheid verwys na gedrag (seksueel en kulties) wat lei tot ontreiniging (Harrington, 2006:682). Die wet het duidelik uitgestippel watter diere as rein beskou word en deur Jode geëet kon word. Telkens wanneer Jode kos gekoop of voorberei het, is hulle hierdeur herinner dat hulle hulself van heidennasies moet afsonder (Schnabel, 2012). Rein en onrein dien in Levitikus 11 en Deuteronomium 14 om aan te dui wat die volk van God mag en nie mag eet nie (Larkin, 2006:471).

Teen dié agtergrond weier Petrus om die diere te slag en te eet. Die engel vermaan hom om nie dit wat God rein verklaar, onrein te noem nie. Die implikasie hiervan is dat die visioen wat oor die onderskeid tussen rein en onrein handel toon dat voedsel nie meer as rein en onrein beskou word omdat dit onreinheid kan veroorsaak nie. Die visioen het te make het met die toestand van voedsel en gelowiges (Hand. 10:28 “…geen mens mag as onheilig of onrein beskou word nie”).

Normaalweg sou “rein diere” onrein word indien hulle kontak met onrein diere het wat impliseer dat rein Jode se kontak met heidense of “onheilige” nie-Jode hulle ook onrein sou maak (Keener, 2012:1772). Petrus hoor dat God heidene ook deur Christus rein en heilig maak. Die werkwoord wat as ‘gereinig’ [ekatharisen] vertaal word, word in die LXX (Septuagint, Latynse vertaling van die Bybel) gebruik om na priesters te verwys wat mense wat onrein was en die nodige reiniging ondergaan het, rein te verklaar (Lev. 13:6). Volgens Handelinge 10 verklaar God dus mense wat onrein was, as gereinig. By Hom is geen onderskeid meer tussen rein en onrein, heilig en onheilig nie; die voedselwette wat die skeiding tussen rein en onrein gemaak het, is nou in Christus vervul in Hom is daar nie meer onderskeid nie (Schnabel, 2012).

As alle mense wat in Christus glo nou rein verklaar word, mag Joodse Christengelowiges nie weier om wat voorheen onrein kosse was, te eet nie. Wat Joodse gelowiges verhinder het om met nie-Joodse gelowiges genootskap te hê of te eet (Keener, 2012:1769), verval dus nou ook. Petrus se verklaring van die visioen se betekenis, is dat alle kosse (Hand. 10:15) en alle mense (Hand 10:28) rein verklaar is. Op grond van daarvan is dit moontlik vir Jode en nie-Jode om interaksie te kan hê.

Paulus maak die stelling in Romeine 14:14 dat hy oortuig is dat niks opsigself onrein is nie. Dit lei tot die vraag: as beide Jood en nie-Jood rein verklaar word deur die soenoffer van Christus, hoe is dit moontlik dat rein of onrein kosse so iemand onrein kan maak? Romeine 14:3 (‘Die een wat alles eet, moet die ander wat net groente eet, nie verag nie; en die een wat net groente eet, moet die ander wat alles eet, nie veroordeel nie, want God het hom aangeneem’) argumenteer dat liefde en eenheid in die gemeenskap van gelowiges tussen Joodse en nie-Joodse bekeerlinge nou krities nodig is (Osborne, 2004:355). Paulus berispe die gemeente omdat daar konflik tussen faksies is oor watter kosse vir gelowiges aanvaarbaar is om te eet (14:1-9).

Die gevolgtrekking is dat gelowiges nie mekaar op grond van die gebruik van kos nie, beoordeel nie. Elkeen sal oor homself rekenskap gee (14:10-12) (Osborne, 2004:356). Enigeen wat rein verklaar is deur geloof in Christus, kan nie meer deur kossoorte weer onrein gemaak word nie. Dit is eerder iets wat iemand nie uit ’n volle geloofsoortuiging leef nie wat sondig is (Rom. 14:23).

Jode het van nie-Jode wat die Joodse geloof aangeneem het, verwag om hulle voedselwette en feesdae streng te onderhou. Dit blyk dat sommige vroeë Joodse gelowiges dieselfde van vroeë nie-Joodse gelowiges verwag het. Een van die funksies van die Joodse voedselwette was om verwydering tussen Jood en nie-Jood te bewerkstellig. Vir Christene was dit nie toelaatbaar nie omdat dit juis kameraadskap tussen Joodse en nie-Joodse gelowiges aanmoedig (Keener, 2009).

Reeds in Romeine 13 maak Paulus die verklaring dat wanneer iemand in liefde met hul naaste lewe hulle die hele wet gehoorsaam word. Gebruike en voorkeure mag nie gelowiges onderlinge verhoudinge belemmer nie. In Christus het die Levitiese wette wat onderskeid gemaak het tussen rein en onrein, heilig en onheilig, verval (Bruce, 1988:206).

Die verwysing na mense wat swak in die geloof is, verwys na diegene wat die wet streng probeer onderhou het. Hulle verstaan nog nie dat geloof in Christus vryheid van die wettiese verpligtinge bewerkstellig het nie (Osborne, 2004:357).

Wanneer Petrus dan hoor van die visioen wat Cornelius gesien het (Hand. 10:3-6), besef hy dat die Here van Jode verwag om anders teenoor nie-Joodse nasies op te tree. Nie-Jode het nie die wet gehad om te gehoorsaam nie, en dit is die rede waarom hulle nie rein en aanvaarbaar voor die heilige God kon wees nie. Wanneer Joodse feeste, onderhoud van die Sabbat, die besnydenis en rituele reinheidswette die eenheid van die geloofsgemeenskap bedreig (Harrington, 2006:688), moet Petrus leer dat diere, kos en mense rein is (Keener, 2012:1773).

Die Hebrew Roots-argument is dat die visioen nie die voedselwette afgeskaf het nie, en daarom is gelowiges steeds verplig om die wet van Moses te onderhou. Ook die apostoliese beraad in Handelinge 15 stel die leser in staat om die vroeë kerk se standpunt ten opsigte van gelowiges se verpligting teenoor die wet te bepaal.

Apostoliese beraad: Handelinge 15:1-35

Die Hebrew Roots-beweging leer dat die apostoliese beraad in Handelinge 15 tot die slotsom gekom het dat nuwe bekeerlinge aanvanklik net geleer moet word om vier sake wat in Handelinge 15:18-20 genoem word, te onderhou, maar dat Handelinge 15:21 verder gaan. Alhoewel nuwe bekeerlinge op die vier voorskrifte moet fokus, sou hulle weeklikse blootstelling aan die wet van Moses tydens hulle besoeke aan die sinagoges hulle leer om die volle wet te onderhou 119 ministries, 2017:7-8; Liebenberg, 2007a:30; Bugg, 2014).

Die konteks van die apostoliese beraad is Lukas se siening dat die werk wat deur Jesus Christus begin is deur die Apostels voortgesit is (Gervais, 2017:8). Lukas poog so om die teologiese perspektiewe van Paulus te regverdig. Handelinge 15 vervul ’n sentrale rol hierin. Joodse teenstand teen die apostels se werk is die primêre bedreiging vir die suksesvolle verkondiging van die Goeie Nuus, waarop Paulus se suksesvolle sendingwerk onder nie-Jode beklemtoon word (Gervais, 2017:9).

Christene uit Judea wat leer dat nie-Jode alle Joodse gebruike en voorskrifte moet nakom en ook dat hulle moet ook besny word voor hulle gered kan word, het tot die Apostoliese beraad aanleiding gegee. Paulus en Barnabas verskil met die lering, wat tot ’n heftige meningsverskil lei. Die gevolg is dat Paulus en Barnabas saam met nog verteenwoordigers deur die kerk in Antiochië afgevaardig word om by die ouderlinge en apostels in Jerusalem uitsluitsel hieroor te kry.

Die beraad in Jerusalem poog om die konflik en onmin wat uit die meningsverskil gespruit het, op te los. Paulus en Barnabas stel die saak van nie-Joodse bekeerlinge en argumenteer dat die waarheid van die evangelie niemand verplig om te leef asof hulle ’n Jood is nie. Christus verwag nie van mense wat nooit Jode was nie om nou te lewe asof hulle Jode is nie.

Petrus en Jakobus (wat as pilare van die kerk beskou was [Gal. 2:9]) lewer insette en Petrus stel voor dat geloof die enigste vereiste tot redding is. Volgens hom kon nog hulle nog hulle voorvaders die juk van die wet suksesvol dra; waarom dit nou op die nek van die gelowige nie-Jode plaas (Hand. 15:9-10)? Twee aspekte is belangrik, dat daar geen verskil is in die manier hoe Jode of nie-Jode die Heilige Gees ontvang en hulle harte deur geloof gereinig word nie en dat die wet nie verlossing kan bring nie, maar dat dit net genade is wat beide Jood en nie-Jood red. Die twee stellings kom ooreen met Petrus se woorde aan Kornelius dat God almal wat Jesus as saligmaker aanbid, aanvaar (Hand. 10:34-35).

Jakobus, leier van die vroeë kerk in Jerusalem, stem saam met Petrus dat nie-Jode nie Joodse gebruike hoef aan te neem om gered te word nie. Alhoewel hulle kwytgeskeld is van die onderhouding van die besnydenisritueel, die onderhouding van die Torah en veral die voedselwette (Walton, 2006:259), is dit wel volgens hom noodsaaklik dat hulle die volgende onderhou:

  • Om nie vlees te eet wat aan ’n afgod geoffer was nie.
  • Om onsedelikheid te vermy.
  • Om nie ’n dier wat verwurg is, te eet nie.
  • Om nie die bloed van ’n dier te eet of drink nie (Hand. 15:18-21).

Jakobus kwalifiseer die uitspraak deur te sê dat die voorskrifte van Moses immers van ouds af in elke stad aan die mense voorgehou word en aan almal welbekend is (Toussaint, 1983:354), insluitend nie-Jode. Met die uitspraak het die Jode ingestem dat nie-Jode nie verplig is om besny te word nie, en die nie-Jode het ingestem om hulle dieet dienooreenkomstig aan te pas (Wiersbe, 1989:464).

Die apostoliese beraad besluit om nie ’n las, behalwe die vier sake, op nie-Joodse gelowige te plaas nie. Die verwysing na die wet van Moses wat in die sinagoges gelees is, impliseer nie dat hulle verwag het dat die nie-Jode later die volle las van die wet sou aanvaar en op hulself sou neem nie. Die wet van Moses wat vir baie jare elke Sabbatdag voorgelees word, beteken dat Jode ten diepste geaffronteerd sou wees as nie-Joodse bekeerlinge nie die beperkings daarvan gehoorsaam nie (Newman & Nida, 1972:298, Keener, 2014:2279). Nou besluit die apostoliese beraad om dit moontlik te maak vir Joodse en nie-Joodse gelowiges om in gemeenskap met mekaar verkeer sonder dat heidense Christene die besonderhede van die wet moet onderhou (Keener, 2015:2287-2289).

Lukas se verslag oor die beraad verduidelik nie hoe Paulus hierop gereageer het nie maar daar is geen rede om te vermoed dat hy nie saamgestem het nie. Vanuit die uitspraak is dit duidelik wat van nie-Jode verwag word. Wat egter nie so duidelik is nie, is wat van die Jode wat tot geloof in Christus kom, verwag word. Moet hulle steeds die wet onderhou? Volgens Bock (2007:493) bied Paulus se voorbeeld twee maniere om die saak te benader. Eerstens kan die wet deur ’n Joodse wetsgehoorsame tot die letter gevolg word met die doel om Jode wat Jesus as Messias verwerp effektief met die evangelie te bereik. Tweedens kan ’n Jood tot geloof in Christus kom nie die wet streng onderhou nie met doel om nie-Jode effektief met die evangelie te bereik (1 Kor. 9:19-22; Rom. 14-15). Paulus sou dus die uitspraak kon aanvaar om sodoende diegene met ’n “swak gewete” (1 Kor. 8:10 – wie se gewete hulle aankla omdat daar kos geëet word wat aan ’n afgod geoffer was) tegemoet te kom (Du Toit, 2016b:4).

Die vraag kan gevra word of dit eerder ’n geval was dat die Jode tegemoet gekom is omdat hulle geloof nie sterk genoeg was nie en hulle nie die wettiese gebruike kon aflê nie? Dit blyk dat vroeë gelowige Jode se onvermoeë om te berus in die feit dat hulle alleen deur geloof geregtigheid kon beërwe, die knelpunt te was (Du Toit, 2016a:90).

Galasiërs 2

Daar bestaan verdeeldheid in verband met die datering van Galasiërs 2. Sommige meen die gebeure in Galasiërs 2 gaan die apostoliese beraad vooraf omdat Paulus nie na die besluite van die beraad verwys nie, terwyl ander meen dat daar ’n sterk argument is om Galasiërs ná die gebeure in Handelinge 15 te plaas op grond daarvan dat die probleme wat die beraad aangespreek het, nog nie die Galasiërs bereik het nie (Keener & Walton, 2016:2042).

Handelinge noem dat Paulus Jerusalem vyf maal na sy bekering besoek het. Hy besoek Jerusalem die eerste keer nadat hy Damaskus verlaat het (Hand. 9:26-30; Gal. 1:18-20), tweedens tydens ’n hongersnood (Hand. 11:27-30), derdens om die apostoliese beraad by te woon (Hand. 15:1-30), vierdens tydens sy tweede sendingsreis (Hand. 18:22) en sy laaste besoek ten tye van sy inhegtenisname (Hand. 21:15-23:35).

Dit is moontlik dat Galasiërs na die besoek ten tye van die hongersnood verwys. Paulus noem in Galasiërs 2:2 dat die besoek waarna hy verwys ’n geslote vergadering was, en het uit Paulus, Barnabas, Titus, Jakobus, Johannes en Petrus bestaan. Daarenteen was die apostoliese beraad in Handelinge 15 ’n openbare vergadering waar die apostels en ouderlinge vergader het.

Alhoewel die tydsberekening van Galasiërs 2 in die lig van Handelinge 15 nie met sekerheid vasgestel kan word nie, is daar wel twee ander sake wat met die saak van die ontwikkeling van wetsonderhouding van die vroeë kerk verband hou. Wetsonderhouding as knelpunt in die vroeë kerk word in die brief bespreek as dit vra of nie-Jode besny moes word en die Joodse wette moes onderhou om ook as Christene beskou te word.

Volgens Galasiërs 2 was daar nie van Titus (’n Griek) verwag om besny te word nie, en net so was daar van geen nie-Jode verwag om die besnydenis te ondergaan om sodoende hulself as Christene te beskou nie.

In Galasiërs 2 het Petrus aanvanklik by ’n tafel waar beide Joodse en nie-Joodse vroeë Christene saam geëet het, aangesit. Petrus se gedrag in Galasiërs 2:11-14 ná die visioen van Handelinge 10:13-16 veroorsaak dat hy saam met nie-Jode eet (Gal. 2:12) maar nadat daar vroeë Joodse Christene (voorstanders daarvan dat nie-Jode ook besnydenis moet ondergaan om ware Christene te wees) van Jerusalem in Antiochië aankom, die nie-Joodse Christene vermy. Ander volg ook sy voorbeeld en twee groepe ontstaan. Die Joodse Christene ervaar dat hulle onder verpligting teenoor die Torah staan en daarom nie-Joodse Christene vermy (Campbell, 1983:595).

Paulus reageer hewig hierop. Volgens Galasiërs 2:14 het Paulus gesien dat hulle gedrag nie strook met die waarheid van die Goeie Nuus nie, en hy spreek Petrus voor almal aan. Hy argumenteer dat Petrus en die ander vroeë Joodse Christene deur hulle gedrag ontken het dat alle mense (Jood en nie-Jood) eenvormig, slegs op grond van Jesus Christus se dood en opstanding, aanvaarbaar en regverdig voor God verklaar kan word (Faussett, 1997:327). Paulus konfronteer Petrus met die volgende woorde: “Ons wat van geboorte Jode is en nie sondaars uit die nie-Joodse nasies nie, weet dat niemand deur die wet te onderhou deur God vrygespreek word nie. Net deur die geloof in Jesus Christus kan dit gebeur! Selfs ons het tot geloof in Christus Jesus gekom sodat ons deur geloof, en nie omdat ons die wet onderhou nie, deur God vrygespreek kan word. Niemand sal mos deur die wet te onderhou deur God vrygespreek word nie!” (Gal. 2:15-16).

Paulus groepeer homself en alle Joodse gelowiges (of hulle vanaf Jerusalem, Antiogië of Galasië kom) op grond van ras en godsdiens, saam. Hy verklaar dat hierdie groep se siening rakende die wet ooreenstem. Vers 16 kan op twee maniere geïnterpreteer word. Ten eerste kan daar met die gebruik van die voegwoord ἐὰν µή verstaan word dat iemand geregtigheid kan bekom deur sekere aspekte van die wet (soos besnydenis en dieetwette) te onderhou in samewerking met geloof in Christus. Alhoewel dit ’n moontlike vertaling is, staan dit in konflik met die res van die vers. Die tweede moontlikheid is dat die voorafgaande gedeelte (‘niemand kan geregtigheid bekom behalwe”) gekwalifiseer word deur ἐὰν µή’: dit impliseer dan dat geregtigheid slegs bekom word deur geloof in Christus (Longenecker, 1990:83).

In Handelinge 15:22-35 het die apostoliese beraad tot dieselfde slotsom gekom. Die bepalings wat in Handelinge 15:21-22 gemaak word, is nie ’n verpligting van enigeen om die wet van Moses te onderhou en so geregtigheid met God te bewerkstellig nie. Wat dit wel vereis, is dat nie-Joodse Christene Joodse bekeerlinge se sensitiwiteit aangaande sekere gebruike in liefde in ag moet neem en gedrag vermy wat Joodse Christene sou skok en vervreem ten spyte daarvan dat niemand verplig is om die wet van Moses te onderhou nie (Brown, 1997:195).

Gevolgtrekking

Die ontwikkeling van die vroeë kerk as ’n groep onafhanklik van die Joodse geloof was kompleks. Vir twee diverse groepe, Joodse en nie-Joodse gelowiges, om in verhouding met mekaar te staan op grond van hulle onderskeidelike geloof in Jesus Christus die Messias het opofferings van beide kante geverg. Soms het hulle oor die noodsaak van wetsonderhouding verskil en dit het tot konflik gelei.

Die term “wet” in die Hebrew Roots-beweging word nie gestandaardiseerd gebruik nie. Vir sommige verwys dit na die 613 wette van Moses terwyl ’n kleiner groep die Mosaïese wet en geloof in Christus naas mekaar stel. Gelowiges is egter steeds verplig om die volle Torah te onderhou in sy letterlike betekenis. Dit maak nie onderskeid tussen morele, seremoniële en siviele wette nie wat impliseer dat Christene dit volledig moet onderhou.

Die eksegese van drie relevante tekste het getoon dat die vroeë kerk konsensus bereik het dat nie-Joodse gelowiges nie onder ’n verpligting is om die wet van Moses te onderhou nie. Handelinge 10:13-16 (Petrus se visioen) was die eerste teks wat ondersoek was. Sommige Hebrew Roots-bewegings gebruik die teksgedeelte om ’n lering dat die voedselwette nooit afgeskaf was nie maar dat nie-Joodse gelowiges nou as gelykstaande aan Israel beskou word, te ondersteun. Die implikasie daarvan is Joodse voedselwette deur Christene onderhou moet word. Vanuit die eksegese wat gedoen was, blyk dit dat ’n meer korrekte interpretasie van Handelinge 10:13-16 sou wees dat alle kosse en alle mense nie meer deur die wet as rein of onrein verklaar kan word nie (Hand. 10:15; Hand. 10:28), op grond daarvan dat Christus as soenoffer aan die vereistes van die wet voldoen het.

Rein en onrein kosse, besnydenis, feeste en Sabbatsdae het die onderlinge samesyn van gelowiges bedreig en die vroeë kerk het hul standpunt met betrekking tot die ernstige saak met die formele uitspraak in Handelinge 15 uitgestippel. Sommige Hebrew Roots-bedieninge leer dat die Apostoliese beraad dit as selfsprekend beskou het dat nuwe bekeerlinge elke Sabbat die Wette van Moses sou aanhoor en dat dit die nie-Joodse bekeerlinge sou aanspoor om die volle wet van Moses te onderhou. In gevolge die eksegese wat op Handelinge 15:1-35 gedoen was, blyk dit dat die vier vereistes waaraan nie-Joodse bekeerlinge moes voldoen, eerder veronderstel was om Joodse sensitiwiteite met betrekking tot Joodse en nie-Joodse interaksie te mitigeer. Die motivering daarvoor was om onderlinge samesyn tussen nie-Joodse en Joodse bekeerlinge aan te moedig en moontlik te maak.

Galasiërs 2 beaam die gevolgtrekkings wat vanuit die eksegese van Handelinge 10 en 15 gemaak was. Petrus het reeds in omstreeks 40 n.C. die visioen van Handelinge 10 ontvang, en het aanvanklik saam met nie-Joodse gelowiges aan tafel gesit. Met die aankoms van sekere Joodse bekeerlinge in Galasië (omstreeks 48 n.C.; Keener & Walton, 2016:1894-1894, 2042), het Petrus hom van die samesyn met nie-Joodse Christene onttrek. Die volg daarvan was dat Paulus Petrus streng aanspreek om konsekwent te wees oor sy posisie met betrekking tot die rol van wetsonderhouding van vroeë Christene te wees.

Die gevaar van die lering dat gelowiges steeds ’n verpligting het om die wet van Moses te onderhou, is dat mense dan hul eie geregtigheid deur wetsonderhouding bewerkstellig. Op die wyse word die soenoffer van Christus as enigste weg tot verlossing verwerp en die kern van die Christelike geloof bedreig.

Die groeiende behoefte onder lidmate na gesprekke rakende die relevansie van die Wet van Moses vir moderne Christene, spesifiek rakende die onderhouding van die Sabbat op die sewende dag, die Joodse godsdienstige feeste, vereis dat leraars en leiers hulself met kennis rakende die saak, moet toerus. Die relevante skrifte behoort goed bestudeer te word om te bepaal of die Hebrew Roots-beweging verantwoordelik met die Bybel omgaan wanneer hulle lering aanbied. Hierdie artikel het gepoog om ten minste vanuit drie relevante teksgedeeltes te bewys dat die vroeë kerk die wet as vervul beskou het, eerder as om nuwe bekeerlinge te motiveer om die Joodse godsdienstige praktyke aan te neem.

Erkennings

Hierdie artikel is gedeeltelik gebaseer op die proefskrif getiteld ‘Beoordeling van Messiaanse Christene as wetsonderdouding vanuit ‘n pentekostalistiese perspektief’ vir die graad Doctor Philosophiae in Teologie, Noordwes-Universiteit Potchefstroom, 23 Oktober 2023, met promotor Prof Marius Nel.

Mededingende belange

Die outeurs verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenisse is wat die skryf van hierdie artikel negatief kon beïvloed nie.

Outeurs se bydrae

L.M. is verantwoordelike vir die navorsing en ontleding van materiaal, en skryf van artikel met ondersteuning en oorsig deur M.N.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel het alle etiese standaarde gevolg vir navorsing sonder direkte kontak met, en deelname deur mense. Bronne is met integriteit benut en noukeurige dokumentering van inligting daaruit verwerf, is omsigtig gedoen. Die betrokke beweging is regverdig beskryf vanuit gegewe literatuur.

Befondsingsinligting

Die outeurs het geen finansiële ondersteuning vir die navorsing, outeurskap en/of publikasie van hierdie artikel ontvang nie.

Databeskikbaarheidsverklaring

Datadeling is nie van toepassing op hierdie artikel nie omrede geen nuwe data geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die menings en sienings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeurs en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde instelling, befondser, agentskap of dié van die uitgewer nie. Die outeurs is verantwoordelik vir die inhoud van hierdie artikel.

Bronnelys

119 ministries s.a., Fellowshipfinder, viewed 22 June 2023, from https://www.ministries.com/resources/fellowship-finder/.

119 ministries 2014, Misunderstood verses of the New Testament – week 5’, viewed 21 August 2023, from https://www.ministries.com/119-blog/misunderstood-verses-of-the-new-testament-week-5/.

119 minsitries 2017, Acts 15: obedience or legalism, viewed 21 August 2023, from https://3182d453b68388416980-71bc4c8fd3e50b4ee0e248e517d3026f.ssl.cf2.rackcdn.com/uploaded/a/0e4616698_1538496075_acts-15--obedience-or-legalism-transcript.pdf.

Ariel, Y., 2012, ‘A different kind of dialogue? Messianic Judaism and Jewish-Christian relations’, CrossCurrents, 62(3), 318–328.

Bennema, C., 2013, ‘The ethnic conflict in early Christianity: an appraisal of Bauckham’s proposal on the Antioch crisis and the Jerusalem council’, Journal of the Evangelical Theological Society, 56(4), 753–763.

Bock, D.L., 2007, ‘Acts’, in R. Yarbrough & R.H. Stein (eds.), Baker Exegetical Commentary on the New Testament, Baker Academic, Grand Rapids, MI.

Brown, D., 1997, ‘The acts of the Apostels’, in R. Jamieson, A.R. Faussett & D. Brown (eds.), Commentary Critical and Explanatory on the whole Bible, vol. 2, pp. 173–226, Logos Research Systems, Oak Harbor.

Bruce, F.F., 1988, The book of Acts, Wm. B. Eerdmans Publishing Co, Grand Rapids.

Bugg, M., 2014, From HebrewRoot: Acts 15, viewed 21 August 2023, from https://returnofbenjamin.wordpress.com/2014/12/14/from-hebrewroot-acts-15/

Coetzee, G.R., s.a, God van die verbond, Ultra Litho (Edms) beperk, Johannesburg.

Dunning, C., 2014, Hebrew Roots Movement, Watchman Fellowship, viewed 7 April 2019, from https://www.watchman.org/hr.pdf.

Du Toit, P.L.G., 2016a, ‘Does the New Testament support Messianic Judaism?’, Conspectus, 22, 80–123.

Du Toit, P.L.G., 2016b, ‘Was Paul fully Torah observant according to Acts?’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies, 72(3), 1–9. https://doi.org/10.4102/hts.v72i3.3396

Erickson, M.J., 2013, Christian theology, 3rd edn., Baker Academic, Grand Rapids.

Fairbanks, E., 2012, ‘The Rise of the Afrikaner Christian Jew’. Mail & Guardian, viewed 17 February 2020, from https://mg.co.za/article/2012-04-05-the-rise-of-afrikaner-christian-jew/.

Faussett, A.R., 1997, ‘The epistle of Paul the apostel to the Galatians’ in R. Jamieson, A.R. Faussett, & D. Brown (eds.), Commentary Critical and Explanatory on the whole Bible vol. 2, pp. 321–349, Logos Research Systems, Oak Harbor.

Garr, J.D., 2006, Our lost legacy: Christianity’s Hebrew heritage, Golden key press, Atlanta.

Gervais, T., 2017, ‘Acts 15 as legitimizing narrative: Luke’s rejection of pro-circumcision Christianity’, Journal of Theta Alpha Kappa, 41(2), 7–20.

Harrington, H.K., 2006, ‘Clean and unclean’, in K.D. Sakenfield (ed.), The New Interpreter’s dictionary of the Bible, vol. 1, pp. 681–688, Abingdon Press, Nashvill.

Hauer, C., 2011, Bridges for Peace Israel teaching letter. Hebraic roots: Heritage or heresy?, viewed 6 April 2019, From https://www.bridgesforpeace.com/wp-content/uploads/2016/01/TLWEB0211.pdf.

Horrel, D.G., 2000, Early Jewish Christianity viewed 14 August 2019, from https://ore.exeter.ac.uk/repository/bitstream/handle/10036/38042/jewishxn.pdf?sequence=1.

Kaell, H., 2015, ‘Born-again seeking: explaining the gentile majority in messianic Judaism’, Religion, 45(1), 42–65. https://doi.org/10.1080/0048721X.2014.949899

Keener, C.S., 1993, ‘Matthew’ in G.R. Osborne (ed.), The IVP Bible background commentary: New Testament, InterVarsity Press, Downers Grove.

Keener, C.S., 2009, ‘Romans’, in New Covenant Commentary Series, Cascade Books, Eugene.

Keener, C.S., 2012, Acts: an exegetical commentary, vol. 1 & 2, Baker Academic, Grand Rapids.

Keener, C.S., 2014, Acts: an exegetical commentary, vol. 3, Baker Academic, Grand Rapids.

Keener, C.S., 2015, Acts: an exegetical commentary, vol. 4, Baker Academic, Grand Rapids.

Keener, C.S. & Walton, J.H. (eds.), 2016, Cultural backgrounds study Bible, Zondervan, Grand.

Klawans, J., 2000, Impurity and sin in ancient Judaism, Oxford University Press, New York.

Larkin, W.J., 2006, ‘Acts’, in G.R. Osborne (ed.), The IVP New Testament commentary series, InterVarsity Press, Downers Grove.

Liebenberg, W.A., 2007a, Daar is net “Een” verbond en Christene het dit grootliks gemis. viewed 20 Oktober 2021, from www.hrti.co.za/shop/.

Liebenberg, W.A., 2007b, Fundamentele Christelike leringe. No. 3: U verbond, viewed 20 October 2021, from www.hrti.co.za/shop/.

Longenecker, R.N., 1990, ‘Galatians’ in B.M. Metzger, D.A. Hubbard & G.W. Barker, (eds.), Word Biblical commentary, vol. 41, Word Books, Dallas.

Newman, B.M. & Nida, E.A., 1972, A Translators handbook on the acts of Apostels, United Bible Societies, New York.

Osborne, G.R., 2004, ‘Romans’, in G.R. Osborne (ed.), The IVP New Testament Commentry Series, Intervarsity Press, Downers Grove.

Prock, J.G., 2020, Why did Yahweh and his son Yahshuah say what they said? And who’s who that may change the way we think about eschalotogy, viewed 9 March 2023, from https://www.academia.edu/41970421/WHY_DID_YAHWEH_AND_HIS_SON_YAHSHUAH_SAY_WHAT_THEY_SAID_A_WHOS_WHO_THAT_MAY_CHANGE_THE_WAY_WE_THINK_ABOUT_ESCHATOLOGY.

Ratzlaff, D., 2023, Digging up the truth about the Hebrew Roots movement, viewed 9 March 2023, from https://blog.lifeassuranceministries.org/2023/01/26/digging-up-the-truth-about-the-hebrew-roots-movement/.

Schnabel, E.J., 2012, ‘Acts’ in C.E. Arnold (ed.), Zondervan Exegetical commentary on the New Testament, Zondervan, Grand Rapids.

Timberlake, G.A., 2016, ‘Repentance unto life: acceptance and behavioural expectations of Gentiles in the Jerusalem church in light of the experience of Peter and Cornelius (Acts 11:18)’, PhD thesis, Dept. Of Theology, North-West University.

Wahl, J., 2003a, ‘Rein en onrein kossoorte’ in Teaching, viewed 20 October 2021, from https://elim.co.za/wp/wp-content/uploads/2017/11/REIN-EN-ONREIN-KOSSOORTE.pdf.

Walton, S., 2006, ‘Jerusalem, council of’ in K.D. Sakenfield (ed.), The New Interpreter’s dictionary of the Bible, vol. 3, pp. 259–259, Nashvill, Abingdon Press.

Wiersbe, W.W., 1989, The Bible exposition commentary, Moody Books, Chicago.

Woods, D.B., 2012, ‘Interpreting Peter’s vision in Acts 10:9-16’, Conspectus, 13, 171–214.



Crossref Citations

No related citations found.