About the Author(s)


Rudolph B. van Aarde Email symbol
Council for Church Social Services, Pretoria, South Africa

Citation


van Aarde, R.B., 2023, ‘Die verhouding tussen gemeentelike en institusionele diakonaat – ’n Geïntegreerde model’, Verbum et Ecclesia 44(1), a2817. https://doi.org/10.4102/ve.v44i1.2817

Original Research

Die verhouding tussen gemeentelike en institusionele diakonaat – ’n Geïntegreerde model

Rudolph B. van Aarde

Received: 06 Feb. 2023; Accepted: 15 May 2023; Published: 30 June 2023

Copyright: © 2023. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstrak

The relationship between congregational and institutional diaconate – an integrated model. In this study the relationship between the congregational diaconate or ministry of compassion and the professional institutionalised social services of church-based welfare organisations is researched. Although the study focusses on the developments within the Dutch Reformed Church, the distance or separation between these services seems to be a general tendency also in other church denominations in the South African and global context. After the promulgation of the Act on Non-Profit Organisations (Act 71 of 1997), the ministry of compassion in congregations and the professional social services of the church’s welfare organisations drifted apart to such an extent that the two ministries developed each in its own silo. This silo-development resulted in separate languages for service delivery with a great deal of terminology confusion. – an integrated model

Intradisciplinary and/or interdisciplinary implications: After the introduction and remarks about the calling of the Church, it is attempted to clarify terminology in order to develop a common language. Currently this is a great need in the diaconal theology and ministry within the Afrikaans churches. In the last section a (new) integrated ministerial model is proposed to bridge the separation between the congregational and institutional diaconate. This integrated service model may serve as a guideline for the diaconate in congregations, as well as the broader church structures of presbyteries and synods. It is attempted in this study to bridge the gap between practical theology and social sciences.

Keywords: congregational; diaconate; integrated; model, South African context.

Inleiding

Sedert die aanvaarding van die Nasionale Welsynswet (Wet 100 van 1978) en die daaropvolgende Wet op Fondsinsameling (Wet 107 van 1978), het die NG Kerk se kommissies vir diens van barmhartigheid as welsynsorganisasies geregistreer. Met die registrasie is verseker dat die maatskaplike dienste van die Kerk binne die raamwerk van die Wet kon opereer, statutêre dienste lewer, staatsubsidies ontvang en in terme van die Wet op Fondsinsameling (Wet 107 van 1978) ook fondse van die publiek kon insamel. Dit was egter nie nodig om as afsonderlike regsentiteite te registreer nie en die geregistreerde welsynsorganisasies kon as kommissies van die Kerk voortgaan. Hierdie kommissies vir Diens van Barmhartigheid het dus volledig onder opdrag en toesig van die Kerk gefunksioneer.

In 1997 het die situasie egter radikaal verander toe die nuwe Wet op Organisasies sonder Winsoogmerk (Wet 71 van 1997) gepromulgeer is. In terme van hierdie wet moes die kommissies van die Kerk as onafhanklike niewinsgewende regsentiteite (NPOs – Non-Profit Organisations) registreer om dieselfde voorregte in terme van dienslewering, staatsubsidies en fondsinsameling as voorheen te kon behou. Dit het ongelukkig ook tot gevolg gehad dat die professioneel geïnstitusionaliseerde maatskaplike dienste van kerklike welsynsorganisasies toenemend onafhanklik, onder toesig van ’n eie beheerraad, en los van die Kerk begin funksioneer het. Stelselmatig het ’n kloof tussen die diakonale bediening van diakens in die gemeente en die bediening van professionele personeel in die NPO ontstaan en het die bedieninge in afsonderlike silo’s ontwikkel. In Eurich se verwysing na die situasie in Europa wys hy daarop dat hierdie parallelle strukture langs die struktuur van die geïnstitusionaliseerde kerk, in baie lande ook so ontwikkel het (Eurich 2020:1).

Probleemstelling

Die gevolg van die bogenoemde ontwikkeling was dat die diakonale bediening van gemeentes en die professioneel vakkundige dienste van kerklike welsynsorganisasies in afsonderlike bedienings elk met ’n eie bedieningstaal ontwikkel het. In die teologie het ’n eie bedieningstaal ontwikkel, wat verskil van die vakkundige taal wat professsionele personeel in kerklike diensorganisasies gebruik. ‘n ‘Gelowige’ of ‘lidmaat’ het in terme van die teologiese verstaan van die diakonaat, byvoorbeeld, ’n ‘roeping’ om mense in nood te ‘bedien’ (Nieuwoudt 1986:2), terwyl ’n ‘vrywilliger’ in professionele maatskaplike dienste ’n ‘humanistiese verpligting’ het om mense in nood te ‘help’ (ISDM 2004:34).

In die afgelope dekade, met toenemende armoede en ’n werkloosheidskoers van bykans 34% in Junie 2022 (Stats in Brief 2022:44), en veral met die bedieningbehoeftes wat die Covid -19-pandemie gebring het, is daar ’n groeiende besef dat die gemeente se diakonaat en die professionele dienste van maatskaplike diensorganisasies in der waarheid net verskillende vorme van dieselfde bediening is. (Kerklike Maatskaplike Diensteraad Jaarverslag 2020/21:1)

Vraagstelling

Die vraag wat hierdie studie poog om te beantwoord, is hoe die verskillende bedieningsvorme van die diakonaat, binne gemeenteverband, en die kerklik maatskaplike diensorganisasies as ’n eenheid geïntegreer en verstaan kan word. Om die gemeentelike diakonaat en die diakonaat van die professioneel maatskaplike dienste as ’n eenheid te integreer, is dit nodig om, aan die een kant, die gemeenskaplike vertrekpunt van die Kerk se roeping tot diens te verstaan en, aan die ander kant, begrips- en taalverwarring te voorkom. Vanuit ’n gemeenskaplike vertolking van die Kerk se roeping en ’n gemeenskaplike taal, kan ’n voorstel vir ’n geïntegreerde bediening gemaak word.

Geroep tot diens!

Die kerk van Christus word geroep om deel te neem aan die koms van die Drie-enige God na die wêreld. Die Kerk kan gesien word as ’n venster waardeur die wêreld die koms van God se koninkryk op aarde beskou (red. Knoetze 2022:299). Die kerk se dienswerk word verstaan as deelname aan die missio Trinitatis Dei. Wanneer Knoetze die begrip ‘mission’ (voorheen in Afrikaans vertaal as ‘sending’) verbreed en verdiep, word dit hier ter wille van meer duidelikheid met ‘missie’ of ‘dienswerk’ vertaal. So verstaan, is die omvattende bediening of missie van die Kerk inderdaad ‘to proclaim the whole gospel, in service to the whole person and the whole world’ (red. Knoetze 2022:292). Alhoewel die dienswerk van die kerk op verskillende maniere vertolk en verduidelik kan word, is die onderstaande skets (sien Figuur 1) ’n poging om die holistiese bediening van ’n missionale gemeente te belig. (Hoëveld Sinode – Tutela Verslag 2018:1)

FIGUUR 1: Verhouding met Kerk.

Gelowiges word geroep, gevorm en gestuur om ’n verskil in die wêreld te maak (Algemene Sinode Agenda 2015:126). Leitourgia, die aanbidding en feesviering van die geloofsgemeenskap, is as’t ware die geestelike ‘asemhaling’ van die gelowige. Hierdie bedieningspraktyk sluit die nagmaal in wanneer die genadige verlossing en heling van die gelowige met die simbole van brood en wyn gevier word. Wanneer gelowiges deur die genade en barmhartigheid van God by die nagmaalstafel aangegryp is, word die bediening van versoening, genade en barmhartigheid verder gedra na alle mense in nood. Tydens die Woordbediening (didache/kerugma), word die gelowige geroep om deel te neem aan die missio Trinitatis Dei. Net so het Jesus mense geroep om sy werk op aarde voort te sit. In die formatio waar gelowiges hul innerlike hartklop voel en hoor, sowel as die bediening van koinonia, wanneer gelowiges saam met mekaar leef, word hulle gevorm vir diens aan mekaar en aan die wêreld. ’n Missionale gemeente word gestuur om met haar bediening van die missionale diakonaat ’n impak en verskil in die wêreld te maak. So laat die kerk as’t ware ’n vingerafdruk van liefde en hoop op ’n wêreld in nood (sien Figuur 1).

Hierdie verstaan van die kerk se roeping en dienswerk, dien as vertrekpunt vir ’n nuwe begrip van die missionale diakonaat. Daarom beklemtoon Knoetze dat die hoofdoel van missie/dienswerk en van die diakonaat die doksologie is om God se teenwoordigheid in die wêreld te eer en Hom te dien (red. Knoetze 2022:292).

Teen die agtergrond van die bogenoemde breë begip van roeping in die missionale kerk, kan die volgende Skrifbeginsels vanuit die gereformeerde tradisie vir die missionale diakonaat gestel word.

  • Die oproep tot diakonaat, is gegrond op die Drie-enige God se barmhartigheid aan ons. (Luk. 6:36) (De Klerk 1976:6) Hy het sy barmhartigheid by uitnemendheid aan ons bewys aan die kruis op Golgota toe ons uit genade gered is. Teenoor De Klerk se siening van barmhartigheid vanuit ’n ‘Christosentriese’ vertrekpunt, beklemtoon Knoetze eerder ’n ‘Teosentriese’ en meer omvattende vertolking daarvan, vanuit die Drie-enige God: Vader as Skepper en Onderhouer, Jesus Christus as Verlosser en Bevryder, en die Heilige Gees as Gewer van die lewe (red. Knoetze 2022:296).
  • Om vir mense in nood om te gee is ’n opdrag en roeping vir alle gelowiges. ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself’ (Matt. 22:39). Die diakonaat is dus die onvervreembare roeping van die Kerk van Christus. ‘Barmhartige betrokkenheid van die kerk by die mens-in-nood is die onvervreembare roeping en taak van die kerk’ (Nieuwoudt 1986:2). Alhoewel die opdrag en roeping vir individuele gelowiges geld, is die diakonaat aan die Kerk verantwoordbaar. ‘This implies that the church is the agent’ (red. Knoetze 2022:295).
  • Daarom is die subjek van diakonaat alle gelowiges, met die kulminasiepunt in die amp van die diaken. ’n Diakonale gemeente is dus ’n gemeente waar die besondere amp van diaken en die amp van die gelowige saam diens lewer. Tog noodsaak dit die diakenamp as orgaan vir die reëling, stimulering en organisasie daarvan. (De Klerk 1976:19)
  • Die objek van die diakonaat is alle mense in nood. Veral in die OT word dikwels verwys na die weduwees, wese en vreemdelinge, binne en buite die gemeenskap van gelowiges. (Sag. 7:9–10) Diakonaat moet uitkring na ander kerke (1 Kor.16) en tot alle mense – afgesien van ras, kleur, geloof, taal of welke grense ook al.
  • Met die uitstuur van die 72 sê Jesus vir hulle in Luk.10:9: ‘Maak die siekes daar gesond en sê vir die mense, “Vir julle is die koninkryk van God baie naby”.’ Ten diepste gaan dit dus oor die demonstrasie en proklamering van die koninkryk van God (Knoetze 2022:294).
  • Omdat die diakonaat die koms van God se koninkryk proklameer en demonstreer, neem dit deel aan God se versorgende en bevrydende handelinge met alle mense, veral ook die gemarginaliseerdes. Daarom soek die diakonaat deurgaans na die opheffing van ongeregtigheid en die bevordering van geregtigheid (Knoetze 2022:293). Die diakonaat impliseer dus ook ’n geregtigheidsdiakonaat. In sy verwysing na die tema van geregtigheid in die boek Amos, sê Herman van Well dat die eer van God onlosmaaklik verbind is aan ‘het rechtop lopen van bevrijde mensen in een vrij land’ (red. Crijns 2004:120).
  • Die nood sluit alle psigiese, fisieke en geestelike nood in met besondere verwysing na hulle wat na die rand van die samelewing uitgeskuif word. Dit gaan dus in die diakonaat om ’n holistiese benadering tot die noodlydende in sy nood. Dit sluit die mens se maatskaplike, ekonomiese, psigosomatiese en geestelike nood in en het ten diepste met die mens se eksistensiële behoeftes te maak. (De Klerk 1976:2) Die diakonaat is inderdaad ‘… service to the whole person and the whole world’ (Knoetze 2022:292).
  • Die diakonaat kom voort uit die hart van die gelowige, opgewek deur ’n emosie van innige jammerte oor die persoon in nood. (Matt. 14:14 & 15:32) Wanneer Botha na die mense in nood verwys, sê hy:‘… vir hulle het God in besonder ’n sagte hart’ (Botha & Naudé 1998:53).
  • Die diakonaat het in beginsel te doen met ‘gee binne ’n verhouding’. Dit gaan natuurlik oor meer as finansiële en materiële bydraes., maar . ook oor die gee van tyd en talente en krag. Jesus se voorbeeld is om saam met die sondaars en tollenaars te eet, en om ’n hand van genesing uit te strek na melaatses en ander siekes. Onder die opskrif ‘Delen en helen’ skryf Noordegraaf: ‘Een diaconale gemeente is een delende gemeente’ (reds. Den Hertog & Noordegraaf 2009:48). Die gelowige dink hom nie net in die ander se situasie in nie, maar gaan staan langs die ander een in sy moeilike omstandighede. Soos daar koinonia binne die Drie-eenheid van God, Vader, Seun en Gees is, so kan die diakonaat ook nie sonder koinonia, of buite ’n verhouding van liefde bedien word nie (Knoetze 2022:296). Karres beskryf die diakonaat as ‘… een eenvoudige dienst, die betrekking heeft op het eerstnoodzakelijke voor het gewone, aardse leven en in een zeer persoonlijke verhouding tot de ander wordt gegeven’ (Karres 1969:13).
  • Die diakonaat is godsdiensbeoefening in die praktyk. Hier gaan Woordverkondiging oor in daadverkondiging, wat natuurlik weer Woordverkondiging insluit (Jak. 1:27).

As daadverkondiging het dit ten doel om saam met en deur die Woordverkondiging tot eer van God te lei, tot die ewige verlossing in Jesus Christus en die betere belewing van die gemeenskap van die heiliges.. (Nieuwoudt 1986:3).

Daarom is die missionale diakonaat ten diepste doksologie (Knoetze 2022:292).

Begripverheldering

Die diakonaat word in die ekumeniese wêreld as die omvattende term vir die bediening van barmhartigheid, genesing en maatskaplike geregtigheid gebruik. Die Griekse woord diakonos word gewoonlik vertaal met dienskneg en verwys na daardie dienskneg wat gaste aan die etenstafel bedien (red. Brown 1980:vol. 3, 546). In die moderne tafeldiens is dit die beeld van die kelner as ’n persoon met ’n servet oor die arm wat na die behoeftes van die gaste omsien. Hierdie beeld vertolk iets van die gesindheid waarmee ’n diakonos diens aan mense in nood lewer. Diakonos dra ook die semantiek van ’n ambassadeur of verteenwoordiger van die eienaar (red. Brown 1980:vol. 3, 547). Die diakonos tree dus namens die eienaar of gasheer op, wat ’n bepaalde verantwoordelikheid op hom/haar plaas. Vir ons beteken dit dus die verantwoordelikheid om die Drie-enige God by mense in nood te verteenwoordig. Voorts roep die woord diakonaat ook die amp van diaken op, wat nie elke gelowige se roeping tot die bediening van barmhartigheid, genesing en geregtigheid mag verdof nie (red. Brown 1980:vol. 3, 548). Dalk beskryf Johannes Eurich diakonaat in sy eenvoudigste die beste as ‘… a service of God’s people to the world’ (Eurich 2020:1).

Diens van barmhartigheid is in die verlede as ’n alternatiewe begrip vir die diakonaat in die NG Kerk, en sommige ander kerke, gebruik. Barmhartigheid staan egter nie teenoor diakonaat nie, maar beskryf eerder die emosie en gesindheid waarmee die diakonaat beoefen moet word. Die woord barmhartigheid is afgelei van die Hebreeuse woord chesed wat dikwels in verband met die verbond (berith) gebruik word en wil beklemtoon dat God uit vrye genade ’n verbond met sy volk sluit. Dit gaan dus oor die besondere goedgesindheid of, letterlik, saghartigheid (sagmoedigheid) wat die Here teenoor sy volk bewys (De Klerk 1976:2). Die Griekse woorde wat met barmhartigheid vertaal word, is eleos (‘the feeling of pity’), oiktirmos (‘the exclamation of pity at the sight of another’s ill-fortune’), en splanchna (‘the seat of the emotions, the inward parts or what today would be called the heart’) (red. Brown1980:vol. 2, 593). Hierdie woorde verwys almal na jammerte of hartseer oor die leed of nood van ’n ander. Dit verwys dus na die emosie, maar ook na die aksies wat ontstaan vanuit ’n sagte, barmhartige hart. Dit gaan oor ’n gevoel van jammerte oor die nood van iemand anders, wat dit nie verdien nie. Daar is selfs die element van vrees dat dieselfde lot jou ook kan tref. Splanchna word beskryf as ’n gevoel van ’n maag wat in simpatie en empatie draai of ’n hart wat omkeer (red. Brown 1980:vol. 2, 599). Jesus se houding en gevoel oor mense in nood word gewoonlik so beskryf en in die nuwe Afrikaanse vertaling vertaal as ‘innig jammer gekry’.

Kerklike maatskaplike dienste is die professionele maatskaplike diensarm van die kerk se diakonaat of barmhartigheidsdiens. Anders gestel, word kerklike maatskaplike dienste vertolk as die vakkundige maatskaplike ontwikkelingsdiens vanuit ’n bepaalde kerklike tradisie. In terme van die bostaande skets van ’n missionale kerk se dienswerk of missie, vorm dit ’n integrale deel van die missionale diakonaat of impakbediening van die gemeente. (KMDR Jaarvergadering Notule 2022:4)

In die vakgebied van maatskaplike werk, word verskillende maatskaplike werkmetodes gebruik in dienslewering aan die kliënt. Die metode wat in ’n behandelingsprogram of diens aan ’n kliënt gebruik word, sal afhang van die omstandighede en tipe nood van die kliënt. In sy proefskrif betoog Van der Merwe ‘dat ’n mens verskillende modi van diakonaat kan onderskei’ (Van der Merwe 2014:184). Hiermee word na my mening ’n brug gebou tussen die ‘metodes’ van die maatskaplike diensberoep en die gestaltes of ‘modi’ van die diakonaat. Dié konsep word hieronder verder uitgewerk sonder om dit as ’n finale en volledige lys aan te bied. Ter wille van begripsverheldering word in die onderstaande skets gepoog om die verskillende gestaltes of modi van diakonaat te verwoord, (sien Figuur 2). Die aard van die nood en omstandighede waarin dit aangepak moet word, bepaal watter gestalte/modi van diakonaat ter sprake kom en uit watter hoek die nood verlig word.

FIGUUR 2: Modi/dimensies van diakonaat.

Vriendskapdiakonaat verwys na die behoefte van mense om in verhoudings te funksioneer. Dikwels is die grootste nood van iemand wat tot op die rand van die samelewing uitgestoot is, net die wete dat daar ’n vriend is wat kan ondersteun en sal verstaan. Die evangelie van Jesus Christus word ook hoofsaaklik binne vriendskapverhoudings oorgedra.

Geregtigheidsdiakonaat is die soeke na geregtigheid vir alle mense, veral diegene wat nie ’n stem in die samelewing het nie. In ’n land waar onreg in die verlede, op groot skaal gepleeg en in die hede steeds is, is dit dikwels net die diakonos wat ’n stem van geregtigheid en billikheid laat hoor.

Profetiese diakonaat is bogenoemde stem wat teen onreg protesteer en profeteer. Hierdie profetiese stem dra natuurlik ook die evangelie na die helper en hulle wat gehelp word. Profetiese diakonaat kan beskryf word as die ‘stem van geregtigheid op die markplein’.

Omgewingdiakonaat wat fokus op die heelword van die aarde, fokus op die bewaring van die natuur, in gehoorsaamheid aan die opdrag van Gen.1:28. In ons tyd van aardverwarming behoort die kerk ’n duidelike boodskap in haar omgewingsdiakonaat uit te dra.

Hierdie gestaltes van die diakonaat lê in der waarheid in die DNS van elke gelowige en raak die normale leefstyl van gelowiges, gemeentes en kerke.

Die volgende drie gestaltes of modi vra gewoonlik meer vakkundige insette en dit is veral hier waar die kerklike maatskaplike dienste ’n bydrae kan maak.

Maatskaplike diakonaat wat met gesinsorg, kindersorg, bejaardesorg en dergelike programme die maatskaplike gesondheid van individue en gemeenskappe bevorder, kan in Suid Afrika slegs by wyse van geregistreerde entiteite (Niewinsgewende Organisasies – NPOs) gedoen word. Daarom is die kerklike maatskaplike dienste van die NG Kerk in verskillende geregistreerde diensorganisasies geposisioneer.

Ontwikkelingdiakonaat fokus op die fisieke, emosionele, geestelike en maatskaplike ontwikkeling van individue en gemeenskappe. In dié verband is een van die grootste uitdagings in ’n arm en onderontwikkelde gemeenskap die vraag na ontwikkeling met daardie hulpbronne wat reeds in die gemeenskap teenwoordig is. Daarom word verwys na ‘asset based community development (ABCD)’. Ons doen wat ons kan met wat ons het!

Aanhou- of uithou-diakonaat steun ook swaar op die bogenoemde beginsel van ‘doen wat ons kan met wat ons het’, maar verstaan dat daar soms niks meer gedoen kan word as om die hand van iemand in nood vas te hou nie. Waar ’n positiewe uitkoms nie meer moontlik is nie, soos byvoorbeeld in die geval van ’n bejaarde met gevorderde demensie wat aan sy bed gekluister is, is dit dikwels net die kerklike diakonaat en die kerklike maatskaplike dienste wat intree met ’n diakonaat van hand vashou of help uithou.

’N geïntegreerde bediening

Alhoewel tot hiertoe gepoog is om nie onderskeid te tref of skeiding te maak tussen die deurlopende diakonale bediening van gelowiges en gemeentes aan die een kant, en die meer formele kerklik maatskaplike dienste aan die ander kant nie, bestaan daar wel ’n mate van skeiding binne die diakonaat van die kerk, soos in die probleemstelling hierbo verduidelik.

Dit is nie die doel om in hierdie artikel die redes vir die skeiding volledig te bespreek nie. In die soeke na integrasie is dit tog wel nodig om slegs enkele van die ooglopende redes te vermeld.

  • Die Wet op Niewinsgewende Organisasies (Wet 71 van 1997) het die kerk gedwing om sy maatskaplike dienste in onafhanklike NPOs (Non-Profit Organisations) te vestig.
  • Die groeiende finansiële behoeftes aan maatskaplike diensorganisasies en die kwynende finansiële vermoë van die Kerk het die skeiding vergroot.
  • ’n Oordrewe vertroulikheidsbewussyn by maatskaplike werkers, wat weining of geen terugvoering aan predikante gee nie, het die aanmelding van maatskaplike probleme deur kerkleiers laat kwyn.
  • ’n Mate van professionele jaloesie tussen maatskaplike werkers met hul terapeutiese dienste en predikante met hul pastorale bediening kan ook nie uitgesluit word nie.

Teen die agtergrond van die bogenoemde is die vraag in hierdie artikel hoe die missionale diakonaat van die kerk weer in ’n eenheidsbediening gestruktureer kan word. In sy proefskrif argumenteer Van der Merwe dat ’n nuwe praxis vir die missionale diakonaat in die Ned Geref Kerk nodig is. ‘So ʼn eiesoortige diakonale praxis kan egter slegs ontwikkel wanneer dit gerig word deur ’n spiritualiteit wat lei tot ’n diakonale gesindheid en houding teenoor die armes en noodlydendes’ (Van der Merwe 2014:i). Die model hieronder word nie aangebied as die enigste, of selfs die beste geïntegreerde model nie, maar kan wel as ’n riglyn dien vir die oorbrugging van die kloof tussen die gemeentelike diakonaat en kerklike maatskaplike dienste op grondvlak. Dit kan ook as ’n eerste poging in ’n nuwe praxis dien.

Die vertrekpunt van hierdie geïntegreerde benadering is dat die verskillende vlakke van professionele intervensie (Dept van Maatskaplike Ontwikkeling – ISDM 2004:20) en gemeentelike diakonaat hand aan hand loop. Die verwarring en kloof word hoofsaaklik veroorsaak deur verskil in taalgebruik binne die Kerk en die maatskaplike dienste.

Die vertrekpunt van die skets (sien Figuur 3), is dat mense in ‘normale’ omstandighede en in ’n ‘normale’ samelewing ’n aanvaarbare vlak van maatskaplike funksionering handhaaf. Vir gelowiges beteken dit ook ’n deurlopende soeke na geloofsonderskeiding. Hierdie styl van lewe geld vir individue, families, gemeentes en gemeenskappe.

FIGUUR 3: Die diakonaat: ‘n Komplekse bediening op baie vlakke.

Vanweë die sondige aard van die mens en die gebrokenheid van die wêreld neig ons egter almal om uit hierdie ideale samelewingsfunksionering uit te val. Daarom bly gelowiges in gemeenteverband op weg met geloofsvorming deur die bediening van leitourgia en didache. In die kerklike maatskaplike dienste word ander begrippe vir dieselfde bediening gebruik, nl bewusmaking en voorkoming. In die gemeenteverband word Bybelstudie, kategese, jeugwerk, prediking en die dergelike gedoen, terwyl bewusmaking en voorkomingsprogramme in die gemeenskap aangebied word. Die diakonaat is dus die uitvloeisel van die liturgie, of soos wat die Vancouver-dokument van die Wêreldraad van Kerke dit verwoord: ‘The liturgy after the liturgy is diaconia’ (Nordstokke 2013:294). Meestal help hierdie bedienings om individue, families en gemeenskappe terug te dra na die aanvaarbare lewensstyl.

Ongelukkig gebeur dit soms dat individue, families en gemeenskappe verder weg val van die aanvaarbare vlak van funksionering. Dan kom pastorale versorging van die pastor en vroeë ingryping van die maatskaplike werker op die spel. Die gemeente doen toerustingsprogramme en die kerklike maatskaplike dienste doen ‘groepwerk’ met ouerleiding, hulp met materiële behoeftes en ander dergelike vroeë ingrypingsaksies.

Die volgende vlak in die skets is waar persone en gemeenskappe verder van die aanvaarbare vlak van funksionering val. Dan word dieper pastorale terapie, dikwels deur ’n spesialis, en selfs wetlike beskerming en versorging van mense in nood gedoen. Gewoonlik is daar op hierdie vlak ’n residensiële nood waaraan die kerklike maatskaplike dienste voorsien.

Die belangrike is natuurlik dat die gemeenskap van gelowiges in terme van koinonia ’n vangnet onder al die vlakke van uitval vorm. In die kerklik maatskaplike dienste word hierdie bediening as ’n kontinuum van omgee beskryf.

Die bediening van die diakonaat en kerklik maatskaplike dienste is gerig op die herintegrasie van mense in die ‘normale’ samelewing. Die ideaal is natuurlik dat hierdie herintegrasie die individu, familie of gemeenskap op ’n hoër vlak van maatskaplike funksionering sal bring. In ‘kerktaal’ noem ons dit ’n lewe van geloofsonderskeiding. Herintegrasie in ’n beter samelewing hou ook die moontlikheid in van vredevolle saamleef binne ’n gelukkige gemeenskap.

Conviviality word beskryf as die kuns om so in vrede en gemeensaamheid saam te leef binne ’n diverse en multikulturele gemeenskap. Johannes Eurich wys daarop dat hierdie samewerking en integrasie van diakonaat en kerklik maatskaplike dienste slegs suksesvol kan wees as beide bedieninge die maatskaplike ruimte waarbinne hulle in so ’n gemeenskap moet funksioneer, verstaan. Dit impliseer ook samewerking met ander diensleweringsentiteite in dieselfde ruimte. ‘Collaborating in networks’ is van absolute belang (Eurich 2020:3). In die Suid-Afrikaanse samelewing is een sodanige rolspeler natuurlik die staat, wat ook die bou van ‘cohesive communities’ najaag. (Rabe 2017:1192) Hierin wil die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling ’n rol speel wat deur die ander diensleweringsentiteite erken moet word. Daarom is dit belangrik vir ’n geïntegreerde diakonaat om deurgaans samewerking met die staat te soek.

Slotopmerking

Die oortuiging bestaan dat waar die gemeente se diakonaat en professionele kerklik maatskaplike dienste geïntegreerd in dieselfde bediening saamwerk, daar inderdaad ’n vingerafdruk van God in die gemeenskap sal bly en gemeeskappe in harmonie sal saamwoon. Die sentrale doel is die eer van die Trinitatis Dei, en om ‘deel te wees van God se transformasie van die wêreld’ (Raamwerkdokument Alg Sinode 2013:10).

In hierdie voorstel as vertrekpunt tot ’n nuwe praxis, is ’n laaste trooswoord, vir die verskillende gestaltes van ’n geïntegreerde diakonaat dalk gepas:

[… W]ant selfs waar sulke pogings skynbaar misluk en na ’n druppel in die emmer lyk, bly dit ’n viering, beliggaming en getuienis van die hoop wat in die kerk leef. (Raamwerkdokument Alg Sinode 2013:10)

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Outersbydrae

R.B.v.-A., was die enigeste outeur betrokke by die skryf van die artikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel voldoen aan alle etiese standaarde vir navorsing sonder direkte kontak met mens of dier.

Befondsing

Hierdie navorsing het geen spesifieke toekenning ontvang van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of nie-winsgewende sektore.

Data beskikbaarheidsverklaring

Data-deling is nie van toepassing op hierdie artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur (s) en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeurs nie.

Literatuurverwysings

Algemene Sinode van die NG Kerk, 2013, ‘Raamwerkdokument oor die missionale aard en roeping van die NG Kerk, Verslag aan die Alg Sinode 2013’, ongepubliseer.

Algemene Sinode van die NG Kerk, 2015, ‘Agenda’, ongepubliseer.

Algemene Sinode van die NG Kerk, 2019, ‘Verslag’: Missionale transformasie, Verslag aan die Alg Sinode 2019, ongepubliseer.

Botha, J. & Naudé, P., 1998, Op pad met Belhar, JL van Schaik-Uitgewers, Pretoria.

Brown, C. (ed.), 1980, The new international dictionary of New Testament theology, Oxford University Press, Cape Town.

Cordier, G. (red.), 2020, In pas met die lewende God, Werkboek van die NG Kerk, NG Kerk-Uitgewers.

Crijns, H. (red.), 2004, Barmhartigheid en gerechtigheid – Handboek diaconiewetenschap, Uitgewerij Kok, Kampen.

De Klerk, J.J., 1976, Weldadigheid en mededeelsaamheid, NG Kerkboekhandel, Pretoria.

Den Hertog, G.C. & Noordegraaf, A. (reds.), 2009, Dienen en delen – Basisboek diaconaat, Uitgeverij Boekencentrum, Zoetemeer.

Departement van Maatskaplike Ontwikkeling (DSD), 2004, ‘Integrated service delivery model for Developmental Social Services (ISDM)’, Beleidsdokument van DSD.

Eurich, J., 2020, ‘The church and diaconia as local partners in the social space: Challenges and opportunities’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 76(2), a6085. https://doi.org/10.4102/hts.v76i2.6085

Hoëveld Sinode – Tutela 2012 – 2018, ‘Agendas, notules en verslae’, ongepubliseer.

Karres, D.J., 1969, De Gemeente en haar diakonaat, Boekencentrum, ’s-Gravenhage.

Kerklike Maatskaplike Diensteraad (KMDR), 2020/21, ‘Jaarverslag’, ongepubliseer.

Kerklike Maatskaplike Diensteraad (KMDR), 2022, ‘Jaarvergadering, notule’, ongepubliseer.

Knoetze, J. (ed.), 2022, Mission, the “labour room” of theology, CLF Uitgewers, Wellington.

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 2010, Handleiding vir die erediens, Bybel-Media, Wellington.

Nieuwoudt, M.M., 1986, ‘Maatskaplike betrokkenheid van die Kerk in Suid-Afrika: Prinsipiële riglyne’, Studia Historiae Ecclesiasticae, 1–15.

Noordelike Sinode – SKDBM, 2019 – 2022, ‘Notules en verslae’, ongepubliseer.

Nordstokke, K., 2013, ‘Diaconia and diaconate in the World Council of Churches’, International Journal for the study of the Christian Church 13(4), 286–299, https://doi.org/10.1080/1474225X.2013.867653

Rabe, M., 2017, ‘Family policy for all South African families’, International Social Work 60(5).

Staatskoerant van die Republiek van Suid-Afrika No 6094, 1978, Nasionale Welsynswet (Wet 100 van 1978), Staatsdrukker, Pretoria.

Staatskoerant van die Republiek van Suid-Afrika No 6099, 1978, Wet op Fondsinsameling (Wet 107 van 1978), Staatsdrukker, Pretoria.

Staatskoerant van die Republiek van Suid-Afrika No 18487, 1997, Wet op Organisasies sonder Winsoogmerk (Wet 71 van 1997), Staatsdrukkery, Pretoria.

Statistics South Africa, 2022, Stats in brief, Pretoria.

Van der Merwe, W.C., 2014, ‘Met woord én daad in diens van God – Diakonaat in die NG Kerk in postapartheid Suid-Afrika’, doktorale proefskrif in Praktiese Teologie, Universiteit van Stellenbosch.



Crossref Citations

No related citations found.