About the Author(s)


Martin J. van Rensburg Email symbol
Department of Practical Theology, Faculty of Mission Studies, University of Pretoria, Pretoria, South Africa

Citation


Van Rensburg, M.J., 2023, ‘Die diakonale reis van die Nederduitsch Hervormde Kerk’, Verbum et Ecclesia 44(1), a2814. https://doi.org/10.4102/ve.v44i1.2814

Note: Special Collection: Diakonia. This article was republished with an updated abstract to include the omitted English title. The publisher apologises for any inconvenience caused.

Original Research

Die diakonale reis van die Nederduitsch Hervormde Kerk

Martin J. van Rensburg

Received: 23 Jan. 2023; Accepted: 26 Apr. 2023; Published: 15 June 2023; Republished: 30 June 2023

Copyright: © 2023. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstrak

Diaconal journey of the Dutch Reformed Church. The aim of this article is to look at the development of the deacon’s position in the Dutch Reformed Church of Africa by investigating the founding, development, and management of the deacon’s position in the church. It is not the purpose to investigate the deacon’s position from a Biblical exegetical point of view but rather to look at the historical development of structures such as the Algemene Diakensvergadering, Ondersteuningsraad whose name was later changed to RATA, the children’s homes which were later converted into the DPS homes and the old age homes which were restructured in the Ons Tuis Monument-tehuise. We shall attempt to look at the development of the deacon’s position, and also consider the developments that lead to the founding and phasing out of the deacons’ meetings, and Circuit deacons’ meeting, as well as the effect that had on the service delivery of deacons. A journey, therefore, examining the past along with the future. We shall take the lessons we have learned in the past and apply them to improve our endeavours in the future which have already commenced.

Intradisciplinary and/or interdisciplinary implications: The article is intradisciplinary, since it combines different fields within Practical Theology, like, diaconate, ecclesiological studies, and family and youth ministry. It also attends to church history. It is intradisciplinary in its attention to social sciences, more specifically social work.

Keywords: service; deacon; General Deacon Assembly; Rata; Circuit Deacons Assembly; childrens home.

Agtergrond

Dié unieke diakonale reis van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA), is ’n reis wat so oud soos die NHKA is, tog het dit ’n nuwe en veranderende wending geneem tydens die eerste Algemene Diakensvergadering (ADV) wat van 28 tot 29 Mei 1998 (Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika 1998) in Pretoria plaasgevind het. Met die totstandkoming van die ADV word daar op ’n nuwe en besondere wyse, nie slegs erkenning gegee aan die amp van die diaken nie, maar het daar ’n totaal nuwe diakonale werkswyse in die NHKA tot stand gekom wat groter erkenning en selfstandigheid aan die amp en roeping van die diaken verleen het. Hierdie verandering het egter ’n lang aanloop wat reeds jare tevore begin het.

Pont en Van Staden (1998:23) wys daarop dat daar reeds in 1970 besluit is om ’n studie en ondersoek te doen na die diakonale werksaamhede, aangesien die barmhartigheidswerk in die NHKA in daardie stadium nie na wense geskied het nie. In 1986 is daar besluit dat diakens nie meer vir wyke gekies behoort te word nie, maar in die besonder betrokke moet raak by die diens van barmhartigheid (Pont & Van Staden 1998:25). Hierdie besluit sou die diakonaat in die NHKA op ’n nuwe reis plaas, en:

… daarom is daar reeds vanaf die tagtigerjare gewerk aan die oprigting van diakonale dienskomitees waarby gelowiges uit die gemeente betrek is sodat onder die leiding en toesig van die diakonie die hele wye veld van barmhartigheidsdiens in die gemeente tot sy reg sal kom. (Pont & Van Staden 1998:27)

In die 1997 Kerkorde (ordinansie 3.6.2) van die NHKA lees ons van die Ringsdiakenvergadering as ’n hulp-vergadering wat ondersteunende dienste en leiding aan die diakens moet verleen. So word die weg voorberei vir groter selfstandigheid in die diakonale werksaamhede van die NHKA wat sou lei tot die vorming van diakonale strukture op sinodale vlak.

Die Kerkorde van 1997 verwys na die ADV en Ringsdiakenvergadering en ander diakonale strukture, terwyl die Kerkwet van die NHKA van 1989, Bepaling 175.2, nog verwys na die Ringsdiakonale Raad (Kerkwet 1989:81). Met die oorgang van ’n Kerkwet na ’n Kerkorde in 1997, het daar dus ’n verandering in die diakonale reis gekom wat sigbaar word in diakonale strukture. Stoltz (2016) maak die volgende opmerking wat in dié verband belangrik is:

Die afgelope 20 jaar het die NHKA die ontstaan en groei van selfstandige diakonale strukture gesien. Die goedkeuring van die Kerkorde in 1997 het ’n onomkeerbare verandering in die werking van die diakonaat van die NHKA ingelui. (p. 36)

Hierdie verandering kry gestalte met die totstandkoming van die ADV in 1997 wat die amp van die diaken op gelyke voet met dié van die ander ampte in die NHKA gebring het, wat weer gelei het tot ’n nuwe dinamika in die diakonale werk. Die diakens het nou vir die eerste keer in die NHKA se geskiedenis sinodaal selfstandig gefunksioneer. Aanvanklik is ’n predikant, ds. Johan Smit (Stoltz 2016:36), gekies as voorsitter van die ADV, maar sedert 2004 is daar telkens ’n diaken as voorsitter verkies, nl. diaken Johan van Loggerenberg (2004 en 2007), diaken Andries Pretorius (2010, 2013), diaken Mac van Zyl (2016 en 2019) en diaken Wilna Gates (2022). Die rede hiervoor word deur Stoltz (2016) soos volg aangedui:

Sedert die derde ADV in 2004 was predikante nie meer verkiesbaar op die Kommissie van die ADV nie en het predikante ook nie stemreg gehad by die ADV of die RDV’s nie. (p. 37)

Stoltz (2016:37) vermeld dat dit daartoe bygedra het dat die diakens meer selfstandig begin funksioneer het, maar aan die ander kant het dit daartoe gelei dat predikante in baie gevalle nie meer betrokke was by die diakonale werksaamhede van die NHKA nie. Hierdie saak het egter na die sesde ADV verander (Stoltz 2016:37), toe besluit is dat predikante voorsitters van die ADV se werkgroepe kan word en sitting kon neem in die vergaderings van die Kommissie van die ADV. Tydens die 72ste Algemene Kerkvergadering is die Kerkorde van die NHKA gewysig en kon predikante verkies word op die Kommissie van die ADV, maar nie tot die Dagbestuur van die Kommissie van ADV nie, wat beteken dat ’n predikant nie voorsitter van die ADV kon word nie.

Die Kerkwet (1989:79) wat na die 62ste Algemene Kerkvergadering (AKV) van die NHKA verskyn het verwys in Bepaling 172.3 soos volg na die diakonaat:

Die diakens

  • Die diakens het die opdrag om hulle te beywer vir die bevordering en uitbreiding van die diens van barmhartigheid in die gemeente.
  • Die diakens versorg verder diegene wat in nood verkeer en vertroos en bemoedig hulle uit die Woord van God.
  • Die diakens doen hulle werk onder die opsig en toesig van die kerkraad.

Alhoewel daar alreeds in 1986 (Pont & Van Staden 1998:25) besluit is om diakens nie te verkies om in wyke te werk nie, maak die Kerkwet (1989:80) steeds melding daarvan dat diakens offergawes moet insamel en dat die diakensvergadering die wyksverslae van diakens moet behandel. Hieruit kan ons dus aflei dat diakens steeds in wyke gewerk het wat in baie gevalle daartoe gelei het dat die diens van barmhartigheid nie tot sy reg gekom het nie, aangesien baie diakens slegs as kollektante gefunksioneer het. Met die verloop het die gebruik om diakens as kollektante te gebruik, ’n groot stremming op diakonale werksaamhede geplaas.

Die besluitebundel van die 63ste Algemene Kerkvergadering (Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika 1992) in 1992 van die NHKA verwys in:

  • Punt 3.2.3 na die Algemene Diakonale Raad
  • Punt 3.3 na die Ringsdiakonale Raad

In die Kerkorde (1997:56), ná die 64ste Algemene Kerkvergadering van die NHKA, word daar soos volg verwys na die diakonaat:

  • Ordinasie 3.10.2 Werkopdrag

Die Algemene Diakensvergadering

  • Onderneem studiewerk en besin oor barmhartigheidsdiens.
  • Beplan, bevorder en koördineer die barmhartigheid van die kerk.
  • Gee riglyne vir die uitvoering daarvan.
  • Skakel, waar nodig, met owerheidsliggame oor barmhartigheidswerk.
  • Adviseer die Algemene Kerkvergadering, Ringsdiakenvergaderings en enige ander vergadering van die ampte, of liggame, oor barmhartigheidswerk.
  • Bepaal die behoeftes van die diakonale diensorgane en maak voorstelle oor heffings of ander maniere van bystand aan die Ringsdiakenvergaderings.
  • Stel sy notule aan die Ringsdiakenvergaderings beskikbaar en gee verslag oor sy werksaamhede aan die Algemene Kerkvergadering.

Daar het dus ’n verskuiwing gekom in die diakonale reis van die NHKA. Waar die diakenswerk volgens die 1992 Kerkwet nog onder die toesig van die plaaslik kerkraad (Bepalig 174) gestaan het, doen die diakensvergadering, volgens die 1994 Kerkorde, nou aanbevelings aan die kerkraad

(Ordinansie 3.2.2 9 [vii]) wat dui op groter verantwoordelikheid gegee aan die amp van die diaken en op dié wyse kom die selfstandigheid van die amp van die diaken meer na vore. Waar die diakonale werk onder die toesig van die Algemene Diakonale Raad was, weer onder die toesig van die Algemene Kerkvergadering, is die ADV nou die opsighouer oor die diakonale werksaamhede en bedien dit die Algemene Kerkvergadering met advies oor die diakonale werksaamhede. Daar het dus ’n nuwe diakonale reis in die NHKA begin.

Die aanloop tot die 1ste Algemene Diakensvergadering

Waar het hierdie diakonale reis in die NHKA begin wat in 1998 uitgeloop het op die 1ste Algemene Diakensvergadering?

Die NHKA se diakonale reis begin soos alle kerke by die opdrag van Jesus Christus om diensbaar in die wêreld te wees. Nel (1994) wys daarop:

Dat Jesus Christus deur sy lewe en bediening die barmhartigheid van die Vader

omgesit het in brood, genesing, fisiese redding uit gevaar, vergifnis en nog meer, is tog vir elke gelowige bekend en kosbaar. Hy konkretiseer in Persoon en werk die hart van die Vader – dieselfde God wat dwarsdeur die Ou Testament konkreet barmhartig was. (p. 232)

Nel (1994) verwys verder daarna dat die plaaslike gemeente missionêr by die gemeenskap betrokke moet wees en:

… hierdie vereiste vir strukturering beteken natuurlik nie dat die gemeente opgaan in ’n hulpverleningsorganisasie nie. Dit beteken wel dat die gemeente wat leef vanuit sy identiteit as gemeente van Christus, nie anders kan as om as organisme ook hulp en hoop te verleen nie. (p. 232)

Die diakonaat in die NHKA het deur die jare ten doel gehad om juis die liefde van die Here in mense se lewens sigbaar te maak. Die diakens se roeping was nie om as kollektante offergawes in te samel nie, maar om die offergawes wat gegee is, te gebruik om die liefde van Christus sigbaar te maak.

Die opdrag tot diensbaarheid vind ons op verskeie plekke in die Bybel. Soos onder meer in:

  • Matteus 22:13: ‘Toe sê die koning vir sy dienaars’. Die Griekse ‘diakonois’ is hier vertaal as ‘dienaars’;
  • Johannes 2:5: ‘Sy moeder sê toe vir die kelners’. Die Griekse ‘diakonois’ is hier vertaal as ‘kelners’;
  • Ons lees egter in Markus 10:45: ‘Dat die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy Lewe te gee as losprys vir baie mense’.

Hiervolgens was Jesus Christus dus die Groot Diaken wat tydens sy aardse lewe die nood van mense hanteer het deur by geleentheid letterlik brood vir hongeriges te gee (Engelbrecht 1973:37). Christus het nie slegs die opdrag gegee om te dien nie, maar Hy het self gedien en dan nie net deur brood uit te deel nie, maar Hy was die Brood wat lewe gee (Joh 6:35). Vanuit Christus se omgee en hulp aan diegene in nood, vloei die versorging van diegene in nood. Aanvanklik is die versorging deur al die gelowiges gedoen soos wat ons in Handelinge 4:32 tot 37 lees. Die gelowiges het hulle middele met mekaar gedeel. Dit gee aanleiding tot die meer formele amp van die diaken.

Die oorsprong van die diakenamp word soos volg verwoord in die bevestigingsformulier van diakens in die Diensboek van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (2007):

Van die oorsprong en instelling van die diakensamp lees ons in die Handelinge van die Apostels. Daar sien ons dat in die vroeë kerk die apostels self die versorging van die armes behartig het. Die opbrengs van wat verkoop is, is aan hulle gegee en aan elke arme is daarvan gegee volgens sy behoefte. Maar toe daar ontevredenheid ontstaan het omdat die weduwees van die Griekssprekendes in die daaglikse versorging afgeskeep is, is op aandrang van die apostels persone gekies wat spesifiek die armes moes versorg. (p. 101)

Die ampswerk word soos volg saamgevat:

Ten eerste moet hulle getrou en ywerig die offergawes wat vir die hulpbehoewendes gegee word, insamel en bewaar. Hulle moet hulle ook daarvoor beywer om voldoende middele te vind om die hulpbehoewendes by te staan; ten tweede behels hulle amp dié van hulpverlening. Hiervoor word nie alleen vereis die gawe van onderskeiding en oordeelkundigheid om slegs hulp te verleen waar dit nodig is nie, maar ook die gawe van welwillendheid en opregtheid om die hulp met meegevoel en toegeneentheid te kan verleen Hulle moet daarom nie alleen met uiterlike middele die armes en hulpbehoewendes bystaan nie, maar hulle ook met die Woord van God bemoedig.

Ondanks die feit dat die diakens se roeping die versorging van diegene in nood is, wys Stoltz (2016:40) daarop: ‘Die gebruik wat oor baie jare gekom het om diakens te gebruik hoofsaaklik as kollektante, het selfs in ’n bevestigingsformulier vir diakens gestalte gekry as ’n Skriftuurlike opdrag’. Dít terwyl dit nie die taak en opdrag van die diakens is nie. Engelbrecht (1957:15) maak die volgende belangrike opmerking: ‘Die Griekse woord waarvan ons woord “diaken” afkomstig is, beteken “om te dien.” Vir die Grieke was diens gewoonlik iets minderwaardigs. Hulle noem bv. ’n kelner ’n tafelbediende, ’n diaken. Dit is met ander woorde ’n minderwaardige taak en nieteenstaande die sosiale neersien daarop, was Jesus bereid om te dien. In Johannes 13 kry die dissipels, en dus ook ons, die opdrag om dieselfde te doen as Jesus soos ’n slaaf of dienskneg die voete van die dissipels was.

Wat die diakonaat in die vroeë kerk betref, wys Engelbrecht (1957:28) daarop dat Calvyn van twee soorte diakens praat:

  • Die eerste soort diakens het aalmoese ingesamel en verdeel onder die armes en siekes
  • Die tweede soort is húlle wat die armes versorg en verpleeg.

Aan die een kant het die diakens, volgens Calvyn, dus die taak om middele te vind sodat die versorging van diegene in nood kan plaasvind, en aan die ander kant het die diakens die verantwoordelikheid om diegene in nood te versorg. Wat die insameling van aalmoese betref, kan dit beskou word as die voorloper van die gewoonte om diakens as kollektante gebruik, wat daartoe gelei het dat diakens in baie gevalle slegs kollektante geword het en dat die versorging van diegene in nood dikwels afgeskeep en verwaarloos is.

Kuiper (2005) maak die volgende belangrike opmerking:

In 1541, by virtue of the adoption of the Ecclesiastical Ordinances, the oversight and administration of the hospital was designated to be the work of the deacons, and the positions of procureur and hospitaller were filled with new men who were supporters of Calvin. (p. 3)

Ons sien dus dat Calvyn die opdrag van die diakens ook buite die plaaslike gemeente beskou het as versorgers van diegene in nood. Ons vind hier vroeë spore van die missionale diakonaat waarmee die kerk die Lig van Christus in die wêreld moet laat skyn.

Engelbrecht (1957:28) wys voorts daarop dat Calvyn in sy Institusie, Boek 4, hoofstuk 3, par 9 sê dat ‘die diakenamp die enigste amp is wat deur vroue vervul mag word. Veral vir die versorging en verpleging is hulle baie bruikbaar’. Ons sien dat die diakenamp ook vroue kan insluit en dat dienswerk verder strek as net die verskaffing van voedsel en klere. Die opdrag om te versorg en die liefde van Christus sigbaar te maak, is ’n belangrike deel van die diaken se opdrag.

Met die verskuiwing van ons diakonale reis na Suid Afrika, sien ons die eerste diaken in Kaap was Jan Reineirz (Visser 1983:25).

Toe ds J van Arckel in 1665 in die Kaap aangeland het, het hy die kerkraad van die gemeente formeel saamgestel. Die eerste kerkraad het net uit een diaken bestaan, laasgenoemde was Jan Reynierz, en hulle getalle is eers geleidelik aangevul. Sedert 1719 het die kerkraad bestaan uit twee ouderlinge en vier diakens en so sou dit gedurende die res van die Kompanjiestyd bly – dit wil sê tot 1795. (p. 25)

In die Kaap was die ouderlinge aanvanklik baie min en is die diakens toegelaat om deel van die kerkraad te wees en op dié wyse het die diakens deel geword van die regering van die kerk (Visser 1983:26). Die owerheid in die Kaap het egter nie voorsiening gemaak vir armsorg nie met die gevolg dat die diakens hierdie noodsaaklike hulp moes verleen (Visser 1983:26). Dit is egter belangrik om daarop te let dat die diakens in die gemeente Kaapstad reeds vanaf 1709 as ’n selfstandige vergadering byeengekom het om die diens van barmhartigheid te beplan en te bestuur (Visser 1983:26). Die diakens se teenwoordigheid op die kerkraad was aanvanklik net ’n noodmaatreël sodat die kerkraad kon funksioneer. Visser (1983) maak die volgende opmerking:

Kommisaris-Generaal J A de Mist het op 21 Augustus 1804 ’n owerheidsordinansie gepubliseer waardeur kerkordelike sake gereël moes word. Dit is gepubliseer onder die titel ‘Provinsionele Kerken-Orde’. Hier vind ons dat die diaken nou as ’n volwaardige lid van die kerkraad optree. (p. 26)

Met die Groot Trek, het Voortrekkers die Algemene Reglement van 1824 met hulle saamgeneem en het daar geen verandering gekom ten opsigte van die diaken se opdrag en posisie in die Kerkaad nie (Visser 1983:27). Visser (1983:28) wys daarop dat daar eers in 1862 ’n eie kerkwet opgestel is en hier het die diakens sittingsreg geniet op die Algemene Kerkvergadering.

Hier word, wat die ampsopdrag betref, steeds op die Calvinistiese voetspoor geloop. Dat daar egter ’n skerp onderskeiding tussen die diaken en ouderling se amp plaagevind het, is waar. Visser (1983) maak die volgende belangrike opmerking ten opsigte van die amp van diaken:

Die kerkraad het geleidelik die funksie van die diakensvergadering begin oorneem. Die diaken moes hier altyd in alles in oorleg met die kerkraadsvergadering doen en sodoende het daar ’n verskraling van die ampsopdrag ingetree. Ook is daar meerendeels jongmanne gekies. Die diakensamp het al hoe meer slegs ’n voorbereidingskool geword waarin ‘voornemende’ ouderlinge opgelei is. Hierin lê die wortels vir ’n praktyk wat vandag nog toegepas word. Die amp het van hieraf stadig maar seker begin verskraal. Dit het al meer en meer net begin gaan om die insameling van fondse. Die barmhartigheidsdiens is nie meer in die ware sin deur diakens onderhou nie, maar het die werk en die taak van die kerkraad begin word. (p. 29)

’n Verder belangrike verwikkeling op die diakonale reis van die NHKA, is die verkiesing van die vrou tot die amp van diaken. Die Algemene Kerkvergadering het in 1961 opdrag gegee dat ’n memorandum opgestel moet word oor die vrou in die amp van die diaken, maar daar is eers in 1970 besluit om vroue tot die amp toe te laat (Barbard-Weiss 1999:180). Met die toelating van die vrou tot die amp van diaken, wys Barbard-Weiss (1999:182) daarop: ‘Daarom moes manlike diakens op die versorging van die armes, en vrouediakens op siekeversorging konsentreer’. Daar was dus aanvanklik ’n duidelike onderskeid in die ampswerk van manlike en vroulike diakens.

Wie reis saam op die diakonale reis?

Die kinderhuise word diakonale pleegsorghuise

Die diakonale reis in die NHKA het sedert die Suid-Afrikaanse Oorlog 1899 – 1902 ’n nuwe wending geneem. Pont en Van Staden (1998:19) wys daarop: ‘Toe die nood nie meer bestaan het nie, het dit gebeur dat ander liggame inbeweeg het op die terrein van die barmhartigheidsdiens’. Alhoewel die bedoeling baie edel was, het dit daartoe gelei dat die diakonale werksaamhede van die NHKA baie verskraal is.

So is die eerste weeshuis in 1924 in Krugersdorp opgerig (Pont & Van Staden 1998:19). In Augustus 1923 is die eerste kinders in die eerste weeshuis van die Hervormde Kerk opgeneem. Dit is egter as ’n maatskappy deur ’n aantal predikante opgerig en daarna deur die diakonieë dwarsdeur die Kerk onderhou. Daar het egter in 1997 ’n nuwe wending gekom toe die Direksie van die Kinderhuise besluit het om die onderskeie kinderhuise te sluit en te verander na 11 pleeghuise op verskillende dorpe en stede (Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika 1998). Die pleeghuise sou bekend staan as die Diakonale Pleegsorgmodel (DPS) en die gedagte was dat die pleegsorghuise in ringverband gevestig word en dat die geloofsgemeenskap die huise in hulle geledere moet bestuur (Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika 1998). Binne die raamwerk van die wet word daar hoogstens ses kinders in ’n pleegsorghuis geplaas. So is die Albert Herbst Kinderhuis op 31 Desember 1996 gesluit en van die 120 kinders is 48 in ses DPS-huise opgeneem en op 31 Desember 1997 is die Jac van Belkum Kinderhuis gesluit en van die 141 kinders is 74 na 12 DPS-huise oorgeplaas. Aan die begin van 1998 het die NHKA oor 20 DPS-huise beskik wat gesetel was op Middelburg (2 huise), Witbank (2 huise), Bronkhorstspruit (2 huise), Elsburg, Alberton, Rietondale, Roodepoort, Randt en Dal, Potchefstroom, Worcester, Ninapark, Randfontein, Primrose-Oos, Springs, Lydenburg, Nigel en Sinoville (Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika 1998). Van die 20 DPS-huise met 122 kinders in 1998 was daar in 2022 slegs ses DPS-huise oor met 31 kinders, wel die volgende:

  • Montana met ses kinders
  • Ninapark met ses kinders
  • Potchefstroom met vyf kinders
  • Elsburg met drie kinders
  • Krugersdorp met ses kinders
  • Rustenburg met vyf kinders

Die verskillende ringe van die NHKA is by die onderskeie huise ingedeel en is verantwoordelik om hulp en bystand te verleen wat betref die daaglikse instandhouding van die huise. Op dié wyse word die diakens en gemeentelede verantwoordelik gemaak om betrokke te raak by die nood van kinders. Dit is egter belangrik dat die kerk nie sy diakonale verantwoordelikhede uitkontrakteur aan liggame of maatskappye nie. Die diakens van elke gemeente is geroepe en verantwoordelik om diegene in nood by te staan.

Die Ondersteuningsraad word RATA

Die Ondersteuningsraad is in 1948 gestig om hulp aan diakonieë te verleen in die hantering van maatskaplike probleme wat naas armoede op die pad van die diakens gekom het (Pont & Van Staden 1998:19). Delport (1976:14) wys egter daarop dat die Ondersteuningsraad eintlik reeds vroeër sy ontstaan gehad het en wel as die Armsorgkommissie (1940), Welsynsraad (1941) en die Diakonale Raad (1942). Tydens die Diakonale Raad se vergadering op 20 April 1944, is besluit om by die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering aansoek te doen om die naam te verander na die Ondersteuningsraad van die Nederduitsch Hervormde Kerk (Delport 1976:14). Die eerste maatskaplike werker van die Ondersteuningsraad het in 1948 in diens getree (Delport 1976:14).

Alhoewel die Ondersteuningsraad waardevolle en noodsaaklike hulp aan die diakens verleen het, maak Pont en Van Staden (1998:19) die volgende baie belangrike opmerking: ‘So het dit gebeur dat ’n beduidende deel van die diakonale dienswerk uit die hande van die diaken geneem is en toevertrou is aan sentraliserende organisasies’. Die gevolg hiervan is:

[I]n die proses het een van die kernmomente van die barmhartigheidsdiens op die agtergrond geraak, die intens-persoonlike barmhartigheid wat met die vertroosting uit die Woord gebied word, aan diegene wat in nood is.

Dit het daartoe gelei dat diakonale werk dikwels beperk is tot ’n finansiële bydrae en het die persoonlike betrokkenheid by diegene in nood verlore en agterweë gebly.

Op 22 Augustus 2015 is die Ondersteuningsraad se naam tydens ’n Algemene Jaarvergadering verander na Rata Maatskaplike Dienste en is die naam Rata Maatskaplike Dienste amptelik in gebruik geneem op 7 November 2015 (Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika 2015). Rata is die Tswanawoord vir liefde. Weens die veranderende omgewing waarin die Ondersteuningsraad maatskaplike dienste gelewer het, was die oorweging om ’n meer inklusiewe naam te kry.

In 2022 beskik Rata Maatskaplike Dienste oor 13 kantore en word die meeste dienste vir die staat gelewer en nie meer vir die NHKA nie. Staatsubsidies het ook die grootste bron van inkomste vir Rata geword. Alhoewel Rata se historiese wortels in die NHKA lê, het daar die afgelope aantal jare ’n mate van afstand tussen die NHKA en Rata gekom. Reeds tydens die 3de ADV (Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika 2004) word die volgende opmerking gemaak:

Groter betrokkenheid van gemeentes by lidmate asook die breë gemeenskap word aanbeveel ten einde bewustheid te skep van maatskaplike probleme en groter betrokkenheid by barmhartigheidsdienste te bewerkstellig.

Hierdie opmerking in die verslag van die Ondersteuningsraad is ’n aanduiding dat die NHKA en dus die diakens, reeds in 2004, nie meer intens betrokke was by dié belangrike deel van barmhartigheid nie. Die uitkontraktering van die diakonale opdrag het daartoe gelei dat die baie belangrike opdrag en verantwoordelikheid van diakens oor baie jare versaak is, wat daartoe aanleiding gee dat maatskaplike dienste in 2022 onder finansiële druk is en in baie gevalle nie meer gelewer word nie. Alhoewel diakens nie statutêre dienste kan lewer nie, kan baie van die werk wat deur maatskaplike werkers gedoen word, ook deur diakens gedoen word. Die afwesigheid en onbetrokkenheid van plaaslike diakensvergadering by Rata se kantore is ’n algemene tendens in die gemeentes van die NHKA. Dit is baie jammerlik en ’n aanklag teen die diakens van die NHKA. Aan die ander kant lê hierin ook ’n uitdaging vir die diakens om opnuut weer te antwoord op die opdrag van Christus om diensbaar te raak in die wêreld.

Die Nederduitsch Hervormde Sustersvereniging

Alhoewel die Nederduitsch Hervormde Sustersvereniging (NHSV) amptelik op 22 en 23 Mei 1940 in Pretoria gestig word, kan die begin van die NHSV vroeër gedateer word: ‘Reeds in 1926 sien ds. AA Smit die potensiaal van vrouelidmate se arbeidkrag vir die kerk as geheel raak en roep predikantsvroue op om die saak te ondersoek’ (Gedenkalbum 2014:12). Selfs nog vroeër as 1926 lees ons: ‘Reeds van 1910 was daar georganiseerde groepe binne enkele gemeentes werksaam. So is die eerste vrouevereniging in die Hervormde Kerk in daardie jaar deur Ida Ruysch van Dugteren (die latere eggenote van prof. JH Greyvenstein) gestig. (Gedenkalbum 2014:12).

Pont en Van Staden (1998:19) wys daarop dat alhoewel die NHSV nie ’n diakonale liggaam was nie, het die NHSV ’n groot bydrae gelewer tot die diakonale diens. Volgens die Kerkwet en bepalings van 1951, bepaling 181:

  • Die Vereniging as diakonale diensorgaan van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, werk vir enige saak met die goedkeuring van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering.
  • Die Vereniging verrig die diens van barmhartigheid deur hulp te verleen aan almal wat in nood verkeer, in die besonder aan lidmate van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika.

In die Kerkwet van 1989 (art vii Bepaling 179/181) word die NHSV as diakonale diensorgaan opgeneem, maar in die 1989 Kerkorde word die NHSV slegs by implikasie genoem wat tot gevolg het dat ’n hele aantal takke van die NHSV ontbind (Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika 2013 asook Gedenkalbum 2014:18).

Die bydrae wat die NHSV oor die jare gelewer het, word veral sigbaar in die bejaardesorg wat gestalte vind in die verskeie outehuise wat deur die NHSV bestuur word, by name:

  • Emily Hobhouse
  • Louis Trichardt
  • Van Rensburg
  • Monument Dienssentrum
  • Piet Potgieter
  • Andries-Marie Oosthuizen
  • Tafelberger Ontwikkeling

Die NHSV en die diakens van die NHKA het deur die jare ’n noue band en goeie verhouding gehandhaaf, aangesien die opdrag van die NHSV en die diakens aanvullend tot mekaar en belangrik vir die NHKA se diakonale opdrag is, soos blyk uit die volgende opmerking: ‘Die NHSV takke en die Diakensvergaderings van die plaaslike gemeentes is die kerk se eerste linie van dienslewering aan mense in nood. Daarom is dit baie belangrik dat die onderlinge verhoudinge tussen hierdie twee vergaderings op ’n gesonde grondslag gebou sal wees (Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika 2007).

Die diakonale reis word moeiliker

Die diakonale reis in die NHKA het sedert 1994 baie verander. Wat bygedra het tot hierdie verandering, is sake soos:

Rampe: Die afgelope aantal jare was daar verskeie natuurrampe en politieke onrus en in die meeste van die gevalle, was die ADV betrokke by hulpverleningsprojekte. Die rol wat deur die ADV in dié verband gespeel is om hulpverlening te koördineer en te bestuur (Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika 2019). Van die hulpverlening was onder meer tydens:

  • Die Platinumkrisis in Rustenburg in 2016
  • Die Knysna-brande in 2017
  • Die droogte in die Noord-Kaap in 2018
  • Die brande in die Oos-Vrystaat in 2019
  • Die vloede in KwaZulu-Natal in 2022
  • Die politieke opstande en plundering in KwaZulu-Natal in 2022
  • Die droogte in die Oos-Kaap in 2022.
  • Die vloedramp by Jagersfontein in 2022.

Die ADV beskik oor ’n Rampfonds wat reeds in 1976 tot stand gekom het tydens die aardbewing by Welkom in die Vrystaat. Hierdie Rampfonds word gebruik om hulp te verleen wanneer nodig. Gemeentes van die NHKA word gereeld gevra om by te dra tot die fonds sodat die nodige ondersteuning gegee kan word wat wissel van finansiële ondersteuning aan gemeentes in rampgebiede tot die aankoop en vervoer van voer vir diere in die droogtegeteisterde Noord-Kaap.

Die ADV se werkgroep Armoede is ten nouste betrokke by die hulpverlening, aangesien die gevolge van rampe daartoe lei tot ’n gebrek by mens en dier, en dit is juis die doel van die Werkgroep Armoede om die fisieke, maar ook geestelike nood te verlig. Tydens die Knysna-brande van 2017 het die Werkgroep Armoede ’n berader Knysna toe gestuur om die predikante en gemeenskap te gaan ondersteun.

Naas politieke en natuurrampe, is een van die grootste uitdaging waarmee die NHKA worstel, die voortdurende daling in lidmaatgetalle. In 1993 het die NHKA, 131697 belydende lidmate gehad en in 2022, het die belydende lidmaatgetalle op 57411 gestaan (NHKA 2023:210). Hierteenoor is daar ’n groeiende nood in die gemeenskap. Hierdie negatiewe tendens plaas ’n geweldige stremming op gemeentelike diakonieë. Dit raak al hoe moeiliker om in die nood van die gemeenskap te voorsien.

Toerusting van diakens

Reeds met 1ste ADV in 1998 (Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika 1998) word die behoefte aan ’n toerustingkursus geopper. Die volgende opmerking ten opsigte van so ’n kursus is tydens die 4de ADV (Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika 2007) gemaak:

Dit gebeur in die laaste tyd al meer dat tyd ’n groot faktor raak in die lewe van die diakens. Daar is nie altyd tyd en geleentheid om ’n naweek af te staan vir ’n toerustingskursus in die tradisionele sin van die woord nie. ’n DVD wat die diakens op hulle eie tyd by die huis kan kyk of ’n CD wat hulle kan luister terwyl hulle tyd in die motor deurbring, sal ’n groter impak hê op die toerusting van die diakens en die dienswerkers. Dit word ongelukkig ook allerweë al meer ervaar dat ons lidmate nie meer oor ’n leeskultuur beskik nie. ’n Oudiovisuele aanbieding het in die moderne era ’n groter impak as ’n gedrukte dokument.

Dit het daartoe gelei dat tydens die 4de ADV (Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika 2007) in 2007 die toerustingkursus ‘Die reistas’ aan die vergadering bekend gestel is, as ’n reis waarin die diaken en dienswerker ontdek wat dit beteken om die diaken of dienswerker te wees. Met die metafoor van ’n reistas, neem die kursus die diaken of dienswerk op ’n ontdekkingsreis deur die Bybel en die Vroeë Kerk tot vandag. Dit is ’n ontdekkingsreis wat nie net handel oor die hóé en wát van dienswerk nie – dit is ook ’n selfontdekkingsreis waartydens die kursusganger ’n ontdekking maak ten opsigte van sy geloof en dienswerk vir die Here.

Naas ‘Die reistas’ bied die kommissie van die ADV, sedert COVID-19 (coronavirus 2019) en die ingebruikneming van Zoom, gereeld webinare oor ’n verskeidenheid van onderwerpe aan as toerustinggeleenthede. Tydens die 9de ADV (Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika 2022) in 2022 is daar weer opnuut besluit om die toerusting van diakens en dienswerkers ’n fokuspunt te maak. Die waarde en noodsaaklikheid van voortdurende toerusting kan nooit onderskat word nie.

Die reisplanne van die diakonale reis verander

Alhoewel diakonale werkgroepe reeds bestaan het, word met die 6de ADV (Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika 2013) gerapporteer dat die volgende werkgroepe bestaan: Armoede, Bejaardesorg, Kindersorg, Mense met gestremdhede, Trauma, Lewensveranderende siektes, Gevreesde siektes en MIV/Vigs, Verslawing en Verhoudingsgeweld. Van die agt werkgroepe wat met die sesde ADV werksaam was, was slegs die Werkgroepe Armoede en Bejaardesorg nog aktief met die negende ADV in 2022. Die rede is dat die meeste van die werkgroepe nie meer betrokke lede gehad het nie. Wat ’n verdere aanduiding is van die onbetrokkenheid van diakens en lidmate by die diakonale werk van die NHKA.

Die diakonale reis van die NHKA het met die 71ste Algemene Kerkvergadering in 2016 ’n nuwe wending geneem met die wysiging van Kerkorde wat die diakensvergadering by die kerkraadsvergadering geïnkorporeer het en die Ringsdiakenvergadering by die Ringsvergadering. Alhoewel die bedoeling was dat daar groter eenheid en samewerking tussen die verskillende ampte moet kom, het dit in sommige gemeentes en ringe daartoe gelei dat diakens maar net weer kollektante geword het. Nog ’n verdere aanduiding dat die diakonale werksaamhede van die NHKA in baie gevalle verwaarloos word.

Met die uitbreek van COVID-19 in 2020, het die diakonale uitdagings geweldig toegeneem. Weens die inperkings kon baie mense nie gaan werk nie en het baie ook hulle werk of ’n gedeelte van hulle inkomste verloor. Dit het tot gevolg gehad dat diakonale hulpverlening in baie gemeentes geweldig toegeneem het terwyl die gemeentes se offergawes en ander inkomste afgeneem het. Dit het druk op diakonieë geplaas om hulp te verleen. Die uitdaging om met minder diakens en middele meer mense in nood te versorg, plaas ongekende druk op gemeentes. In ’n sekere sin betaal die Kerk die prys vir ’n afgeskraalde diakonaat. In ’n steeds veranderende wêreld sukkel baie gemeentes om hulle diakonale verantwoordelikheid na te kom. Die nood is groot en die arbeiders is min.

Die diakonale reis van die NHKA word sedert 2020 met nuwe uitdagings gekonfronteer:

  • Zoom- en Teamsvergaderings: Weens die COVID-19 inperkingsmaatreëls wat vir bykans 2 jaar gegeld het, was die Kerk en ook die wêreld genoodsaak om te soek na ander wyse om te funksioneer. Zoom- en Teamsvergaderings was die antwoord. Alhoewel dit vir die kerk geleentheid gebied het om aan te hou werk, kan Zoom- en Teamsvergaderings nie ’n fisieke vergadering vervang nie. Die voordeel was dat die kommissie van die ADV by verskeie geleenthede met die onderskeie gemeentes en ringskommissies in gesprek kon tree om deur middel van Zoom hulp te verleen of om raad en bystand te verleen.
  • Webinare: Saam met Zoom het die geleentheid ook gekom om webinare aan te bied en vanuit die gemak en veiligheid van jou eie huis by te woon. Die voordeel is dat meer mense deel kan wees van ’n toerustinggeleentheid sonder dat tyd opgeoffer en koste aangegaan word.
  • Die negende ADV via Zoom: Die negende ADV van 2022 is grotendeels deur middel van Zoom aangebied wat gelei het tot kostebesparing vir afgevaardigdes.

Die digitale reis van die diakonaat het ons in sommige gevalle nader aan mekaar gebring, maar in ander gevalle weer van mekaar vervreem. Die waarheid is dat ons in ’n virtuele omgewing leef met digitale moontlikhede wat die Kerk en die diakonaat moet benut.

Die diakonale reis van 2022 tot 2030

In die 8-sekondewêreld is die vraag:

[H]oe spreek diakens die nood van mense aan wat ’n keuse moet maak tussen tot soveel as tien duisend advertensies per dag? Hoe hou die kerk die mense se aandag vir 8 sekondes tussen die magdom inligting?

Getrou aan die mens se geaardheid is die versoeking net te groot vir wêreldse magte.

Eers wanneer die wêreld die mens in sy ellende uitspoeg, is daar ’n geleentheid van 8 sekondes om die mens te bereik. Altesaam 8 sekondes om ’n hand uit te steek en op te help, te versorg, te bemoedig en deel te maak van die verlossingsboodskap. Die kerk vra een uur per week, die mens het net 8 sekondes per dag.

Wat is die antwoord? Wat moet gebeur?

Groter selfstandigheid: Diakens sal op vrats en innoverend moet dink, onafhanklik funksioneer buite die Kerk sonder om kerklos of wêrelds te word. Missionale diakonaat is die noodsaaklik vir die Kerk om gehoorsaam te wees aan die diakonale opdrag.

Geestelike begeleiding: Die kerk sal baie meer tyd aan diakens se geestelike toerusting moet spandeer. Geestelike sterk diakens kan ander in nood geestelik en fisiek versorg. Die groeiende nood kan daartoe lei dat diakens geestelik uitsak en moedeloos word.

Geleenthede: Diakens sal tred moet hou met die verandering in die wêreld, en veral met digitalisering, sonder om die persoonlike verhouding met die mens in nood te verloor. Die perfekte storm is aan die woed. ’n Storm wat die wêreld verander, maar ons weet dat die genade van die Here nie verander nie. Soos wat die storm verander, sal diakens veerkragtig moet wees om nie slegs aan te pas nie, maar ook om leiding te gee. Diakonale leierskap is belangrik in ’n omgewing wat meer en meer sekulêr raak. Die diakens as gestuurdes van die Here moet leiding gee in die oplossing van die nood.

Getuienis: Die diakens moet die liefde van Christus sigbaar maak. Die liefde van Christus mag nie uitgekontrakteer word soos in die verlede nie. Die diakens moet die geleenthede gebruik om ’n verskil te maak in die lewe van mense met nood. Die diakens van die NHKA moet ’n 2030-antwoord op die nood van mense reeds in 2023 gee, maar hulle moet ook die antwoord wees.

Gemeentes as plekke van hoop: Die eise van omstandighede vra van elke gemeente se diakensvergadering om ’n verskil te maak in die omgewing waar hulle is. Die uitdagings, maar ook die geleenthede, is baie. Soos wat Christus gekom het om te dien, so is ons elkeen geroepe om diensbaar te wees, en so kan en moet elke gemeente ’n plek van hoop word. Gemeentes moet die plek wees waar mense aanklop om hulp. Dit beteken dat die hekke en deure van gemeentes oopgemaak moet word. Mense vanuit die omgewing moet weet dat hulle by die kerk hulp kan kry. Bewusmaking en sigbaarmaking van diakonale hulp is belangrik.

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Outersbydrae

M.J.V-R., was die enigeste outeur betrokke by die skryf van die artikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel voldoen aan alle etiese standaarde vir navorsing sonder direkte kontak met mens of dier.

Befondsing

Hierdie navorsing het geen spesifieke toekenning ontvang van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of nie-winsgewende sektore.

Data beskikbaarheidsverklaring

Data-deling is nie van toepassing op hierdie artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur (s) en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeurs nie.

Literatuurverwysings

Barbard-Weiss, M., 1999, ‘Die vrou in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika: Haar beeld en kerklike rol, 1940–1983’, PhD-proefskrif, Fakulteit Lettere en Wysbegeerte, Universiteit van Pretoria.

Delport, J.M., 1976, ‘Aanbevelings vir ’n doeltreffender funksionering van die kerklike barmhartigheidsdiens’, ’n Onafhanklike studie, voorgelê ter aanvulling van ’n deel van die vereistes vir die verkryging van die graag Baccalaureus Divinitatis in die Fakulteit Teologie (Afdeling A) aan die Universiteit van Pretoria.

Diensboek, Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, 2007, Sentik, Pretoria.

Engelbrecht, B.J., 1973, Woord en diens, HAUM, Pretoria.

Gedenkalbum, NHSV, 2014, 75 jaar 1940–2015, Chrysallis, Waverley, Pretoria.

Kerkwet, 1989, Wet en Bepalings van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, Gutenberg Boekdrukkers, Pretoria-Wes.

Kuiper, D.J., 2005, In ministering to the saints, ‘The diaconal care of non-poor Christians (2): The Example of Calvin’s Geneva: The Hospital’, Vol. 82/2006, Issue 13.4/1/2006.

Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, 1992, Besluitebundel van Algemene Kerkvergadering, Argief van die Nederduitsch Hervormde Kerk, Pretoria.

Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, 1998, Notule van Algemene Diakensvergadering, Argief van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, Pretoria.

Nederduitsch Hervormde Kerk van Afirka, 2004, Notule van Algemene Diakensvergadering, Argief van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, Pretoria.

Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, 2007, Notule van Algemene Diakensvergadering, Argief van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, Pretoria.

Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, 2013, Agenda van die Algemene Kerkvergadering, Argief van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, Pretoria.

Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, 2015, Notulekommissie van die Algemene Diakensvergadering, Argief van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, Pretoria.

Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, 2019, Notule van die Algemene Diakensvergadering, Argief van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, Pretoria.

Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, 2022, Notule van Algemene Diakensvergadering, Argief van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, Pretoria.

Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, 2023, Almanak en Bybelse dagboek 2023, Sentik, Pretoria.

Nel, M., 1994, Gemeentebou, Orion Uitgewers, Halfway House.

Pont, A.J. & Van Staden, G.C., 1998, ‘Die Diakonaat in die nuwe struktuur van die kerklike lewensorde’, in Die notule van Algemene Diakensvergadering, pp. 14–30, Argief van die Nederduitsch Hervormde Kerk, Pretoria.

Stoltz, G.P., 2016, Gedenkalbum van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, 500 Kerkhervorming 1517 tot 2017, Sentik, Pretoria.

Visser, P.J., 1983, ‘Die amp van die diaken’, ’n Onafhanklike studie, voorgelê ter aanvulling van ’n deel van die vereistes vir die verkryging van die graag Baccalaureus Divinitatis in die Fakulteit Teologie (Afdeling A) aan die Universiteit van Pretoria.



Crossref Citations

No related citations found.