About the Author(s)


Janneke A. Marais Email symbol
Department of Social Work and Youth Ministry, Toringkerk, Paarl, South Africa

Department of Theology, University of Pretoria, Pretoria, South Africa

Citation


Marais, J.A., 2023, ‘Beweeg van diakonaat van welsyn na herstellende geregtigheid: ’n Gevallestudie – COVID-19’, Verbum et Ecclesia 44(1), a2788. https://doi.org/10.4102/ve.v44i1.2788

Note: Special Collection: Diakonia.

Original Research

Beweeg van diakonaat van welsyn na herstellende geregtigheid: ’n Gevallestudie – COVID-19

Janneke A. Marais

Received: 20 Dec. 2022; Accepted: 07 May 2023; Published: 10 July 2023

Copyright: © 2023. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstrak

Moving from diaconate of well-being to restorative justice: A case study – COVID-19. During the COVID-19 pandemic in 2019, the Dutch Reformed congregation Toringkerk in Paarl longed to reach out to people within the local community who were in extreme need. The congregation felt powerless because of the containment and the extent of the need in poorer communities in Paarl. The general feeling was that networks should be set up in the local community, but no one knew how to start this. An innovative process of Diaconia (Service Group of the Western Cape Synod) and the Research Office (Western Cape Synod), called ‘Hidden Treasures’, was implemented to help the congregation with this. The result exceeded the congregation’s expectations. In this article, the methodology of the Hidden Treasures process is evaluated based on the Dutch Reformed Church’s intention to move from welfare to restorative justice. Suggestions are also made about how the methodology can be improved.

Intradisciplinary and/or interdisciplinary implications: This study, born out of the 2020 pandemic, has the potential to fundamentally influence the missionary diaconate of congregations. The challenge that arose for the church regarding the missional question during the pandemic period about the need among individuals and families in local communities, drew some particularly important fields of study closer together, i.e. practical theology, diaconal studies, as well as social work, development studies and sociology.

Keywords: networks; communities; missional; restorative justice; missio Dei.

Opsomming

Tydens die COVID-19 pandemie het Toringkerk, ’n Nederduits Gereformeerde Kerkgemeente (NGK) in die Paarl, die behoefte gehad om uit te reik na mense in die plaaslike gemeenskap wat in uiterste nood verkeer het. Die gemeente het egter magteloos gevoel vanweë die inperking en die omvang van die nood ‘aan die ander kant’. Die uitleg van die Paarl is beduidend omdat gemeenskappe letterlik deur die Bergrivier van mekaar geskei word. Die meerderheid NG kerke is geleë aan die westekant van die rivier, waar hoofsaaklik wit gemeenskappe woon. ‘Die ander kant van die rivier’ is aan die oostekant en huisves hoofsaaklik bruin en swart gemeenskappe.

Die algemene aanvoeling was dat daar netwerke opgestel moet word binne die plaaslike gemeenskap, maar niemand het geweet hoe om te begin nie. ’n Innoverende proses van Diaconia (Diensgroep van die Wes-Kaapse Sinode) en die Navorsingkantoor (Wes-Kaapse Sinode), genaamd ‘Hidden Treasures’ is geïmplementeer om gemeentes te help. Die resultaat het die gemeente se verwagtinge oortref. In hierdie artikel word die metodiek van die Hidden Treasures-proses geëvalueer aan die hand van die NGK se intensie om sy aksies van welsyn na herstellende geregtigheid te beweeg. Thumbadoo se vyf uitkomste (Thesnaar, 2010) en David Korten se vierdegenerasie-teorie (Swart, 2010a) word gebruik om die waarde van die metodiek te bepaal. Voorstelle word ook gemaak oor hoe die metodiek verbeter kan word.

Intradissiplinêre en/of interdissiplinêre implikasies

Hierdie werk, gebore uit die nood van die 2020 pandemie, het die potensiaal om die missionale diakonaat van gemeentes fundamenteel te beïnvloed. Die uitdaging wat gedurende die pandemietydperk vir die Kerk ontstaan het, rakende die missionale vraagstuk ten opsigte van die nood onder individue en families in plaaslike gemeenskappe, bring ’n paar baie belangrike studievelde nader aan mekaar, naamlik, praktiese teologie, diakonale studie, asook maatskaplike werk, ontwikkelingstudie en sosiologie.

Inleiding

Die NGK het ten doel om die kerk se diakonale bediening te transformeer van ’n welsynsbenadering tot een van herstellende geregtigheid. Dié benadering word gemotiveer vanuit die Kerk se ontworsteling van die ondersteuning van apartheid sedert die middel 1980’s. Teologies gesproke, is dit die missionale teologie en ekklesiologie soos verwoord in die NGK se beleidsraamwerk vir Missionale Ekklesiologie wat hierdie verskuiwing in denke motiveer (Niemandt, 2013). Hannes Knoetze (2002) en Willie van der Merwe het baanbrekernavorsing vir die NG Kerk gedoen om die diakonaat in terme van missionaliteit te herbedink.

Verdere gesprekke rondom ongelykhede binne plaaslike gemeenskappe vind nie net in die Paarl of in Suid-Afrika plaas nie, maar ook in Afrika, waar daar baie soortgelyke kwessies en uitdagings bestaan. Hierdie gesprek kry ook globale erkenning, aangesien dit ’n belangrike tema was by die Sendingkonferensie in Edinburgh (2010) en die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGGK), asook die Lausanne-byeenkoms (2010) in Kaapstad.

Die plaaslike en internasionale gesprekke is gefokus op die onderskeidingproses waarin gelowiges op soek is na die wyse waarop God sy kinders roep om deel te neem aan sy sending en hoe dit prakties sou uitspeel in plaaslike kerke en gemeenskappe (Niemandt, 2013, p. 130).

In die NGK word daar sedert 2007 oor die missio Dei (die sturende God) en die kerk se rol in sending nagedink (Niemandt, 2013, pp. 130–132). Soos wat die gesprekke voortduur, is daar al meer ooreenstemming oor die aard van die kerk – die missionale roeping van die kerk (Niemandt, 2013, pp. 131–132). Volgens Niemandt (2013:130) is dit die skuif van ’n kerkgesentreerde sending na ’n sendinggefokusde kerk.

Die missionale verstaan van die kerk sluit beide ’n missionêre en ’n diakonale praxis in. Die kerk se missionale uitreik na die wêreld begin by wie God is: hoe ons God se intensie met die wêreld verstaan. Niemandt (2013:131) verwys na God as vertrekpunt en spesifiek die missio Dei – God se sending na die wêreld. Dit beteken dat die Kerk se sending na die wêreld begin by God se sending – dit begin by God en wie God is (Niemandt, 2013, p. 131).

Die missio Dei verwys na die feit dat God in wese ’n gemeenskapskeppende en sturende God is. Missionale Teologie neem as vertrekpunt die Trinitariese God – die Vader wat sy Seun gee om die wêreld te red; die Seun wat sy lewe gee vir die redding van die wêreld; die Vader en die Seun wat die Gees gee om die uitverkorenes van God kinders van God te maak en hulle saam te voeg in die kerk sodat hulle kan deelneem aan God se sending in die wêreld waar die mensdom toegerus is met gawes om sodoende God se koninkryk sigbaar te maak.

Wanneer daar vanuit ’n sendinggesentreerde kerkbenadering gefunksioneer word, dan kan dit nie anders as om die skuif van ’n welsynbenadering na ’n diakonale benadering van herstellende geregtigheid ook in te sien nie (Niemandt, 2013).

Diakonaat as herstellende geregtigheid

Wat is herstellende geregtigheid en hoe korrigeer dit die welsynbenadering?

Thumbadoo, soos aangehaal deur Thesnaar (2010:97), bied nuttige uitkomste uit die definisie van herstellende geregtigheid. Dit word gebruik as struktuur, aangevul deur insigte uit Bowers du Toit en Nkomo se studie (2014):

  • Herstellende en genesende werk moet strewe om te alle tye op ’n deelnemende wyse te werk sodat konsensus ontwikkel kan word (Thesnaar, 2010, p. 97).
  • Herstellende en genesende werk moet poog om te genees en heel te maak (Thesnaar, 2010, p. 97).
  • Herstellende en genesende werk moet probeer om volle en direkte verantwoordbaarheid te bevorder (Thesnaar, 2010, p. 97).
  • Herstellende en genesende werk moet probeer om dit te herenig wat verdeling bring (Thesnaar, 2010, p. 97).
  • Herstellende en genesende werk moet strewe om gemeenskappe te versterk om voortgaande onreg te voorkom (Thesnaar, 2010, p. 97).

Thesnaar (2010) word aangevul deur ’n sesde uitkoms:

  • Herstellende en genesende geregtigheid poog om bronne in die gemeenskap te herverdeel om die gaping tussen ryk en arm te verklein en groter gelykheid te bevorder (Bowers du Toit en Nkomo 2014:7).

Thesnaar gaan verder om die uitkomste teologies te verduidelik en wys daarop dat alle pogings van die Kerk om herstel te bring, gegrond is op die betroubaarheid van die verbondsverbintenis van God aan God se skepping en skepsels (Thesnaar 2010):

Christians believe that this is possible because of the grace of God. Reconciliation, healing, wholeness and true restorative justice are possible when it grows from its theological roots in God’s inexplicable mercy. (p. 99)

Die bou van netwerke binne plaaslike gemeentes

In 2020 het die pandemie van COVID-19 gesprekke in Toringkerk-gemeente laat ontstaan rondom hoe die gemeente binne hul eie konteks kan reageer op die nood en behoeftes van mense in die Paarlse gemeenskap. Hierdie gesprekke sluit aan by die groter gesprek wat tans in die NGK plaasvind oor groter gemeenskapbetrokkenheid. Dié kerngesprek word al vir byna ’n dekade in die NGK gevoer met die aanvaarding van die Missionale Ekklesiologie by die Algemene Sinode in 2013 (Niemandt, 2013, p. 130).

Die South African Council of Churhes (SACC) het ’n netwerk saamgestel as deel van die pastorale en diakonale plan ten opsigte van die gevolge van COVID-19 (SACC, 2021). Die Local Ecumenical Action Network (LEAN) is ontwerp as ’n plan vir noodverligting (SACC, 2021). Die doel van die LEAN-inisiatief is om die sterk punte wat reeds bestaan en funksioneer in gemeenskappe bymekaar te trek om sodoende in ’n gesamentlike poging die nood van die gemeenskap te identifiseer en die kwessie in reaksie aan te pak (SACC, 2021). (Venter, 2021, p. 3).

Coronavirus 2019 en die streng inperking in Maart 2020 (Vlak 5 en 4) het die Toringkerk se gemeente nog meer bewus gemaak van die nood wat in die plaaslike gemeenskap gegroei het. Vir hierdie gemeente was dit ’n frustrerende ervaring omdat lidmate nie geweet het hoe en waar om die nood te verlig nie en die leierspan van die gemeente nie voldoende leiding aan die gemeentelede kon bied nie (Van der Walt, et al., 2021).

Parallel met SACC se ontwerp van die LEAN-proses en die uitbreek van COVID-19 wat die nood in gemeenskappe laat toeneem en die streng inperking wat gemeentes gefrustreer en verlam het, het Diaconia (Diensgroep van Barmhartigheid van die Wes-Kaapse Sinode van die Verenigende Gereformeerde en NGK), in samewerking met die Navorsingkantoor (Wes-Kaapse Sinode van die NGK) ’n nuwe proses genaamd ‘Unlocking Hidden Treasures’ ontwerp. Later sou hierdie benaming verkort word tot slegs ‘Hidden Treasures’ (Du Plooy et al. 2020a,b:1–2) (Venter, 2021, pp. 3–9).

Hidden Treasures-proses

Die Hidden Treasures-proses was ’n poging om gemeentes te begelei in die skep van netwerke en sodoende mense van die gemeenskap te betrek in die groter proses van herstel, genesing en versoening – ’n proses van herstellende geregtigheid.

Die Hidden Treasures-proses bestaan uit vier uiteengesette gespreksessies wat aanlyn of in persoon sou kon geskied. Die sessies word soos volg ingedeel:

Sessie 1 – Ontdek die skatte in julle midde

Sessie 2 – Laat die inligting vloei

Sessie 3 – Karteer die hulpbronne

Sessie 4 – Delf dieper

Die aanvanklike doelwitte met die ontwerp van dié proses was om gemeentes te help om ’n kapasiteitoudit te doen waarin hulle die gemeente se bronne kan ontdek of herontdek; om ’n plaaslike netwerk te ontgin en om te kan praat met die gemeenskap binne hul spesifieke konteks (Du Plooy et al. 2020a,b:1) (Van der Walt et al. 2021).

Die Toringkerk in die Paarl is as ’n eksperimentele gemeente genader deur Diaconia en die Navorsingkantoor om die nuwe proses uit te toets. Gedurende dié tydperk was daar ’n groot behoefte in die gemeente om meer betrokke te raak by die groter gemeenskap van die Paarl ten opsigte van ontwikkeling en bemagtiging. Tog was dit vir die gemeente ’n uitdaging om te onderskei waar om betrokke te raak, vanweë die feit dat die gemeente nie noodwendig verbind was aan ’n netwerk, waardeur daar in vennootskappe en geloofonderskeidende prosesse gewerk kon word nie. Die gemeente sou enkele verhoudinge met spesifieke individue of organisasies handhaaf, maar hulle was ook nie in ’n meer omvattende netwerk met mekaar verbind nie.

Die gemeente het die aanbod dus aanvaar en haarself verbind om die Hidden Treasures-proses mee te maak.

Die navorsingsvraag waaraan die artikel aandag gee, is:

Hoe kan die Hidden Treasures-proses gemeentes help om hulle benadering tot diakonaat te verander van ’n welsynbenadering na herstellende geregtigheid deur die vorming van netwerke?

Navorsingmetodes en -ontwerp

Om die bogenoemde evaluasie te kan doen is ’n navorsingmetodiek gekies. Hierdie metodiek word beskryf as die sistematiese gebruik van navorsing, waarvolgens die effektiwiteit en waarde van ’n spesifieke praktyk geëvalueer of bepaal word aan die hand van ʼn teoretiese raamwerk (De Vos et al. 2011:97–98).

Die navorsing maak ook gebruik van ’n gevallestudie-metodiek (De Vos et al. 2011:109). Die gevallestudie is juis die Hidden Treasures-proses wat in Julie 2020 uitgerol is. Die proses het vier aanlynsessies behels en word in hierdie studie geëvalueer ten opsigte van raamwerk en literatuur met betrekking tot herstellende geregtigheid binne die kerklike konteks.

Vir die evaluasie word in die studie ’n normatiewe én pragmatiese aanslag gebruik (Osmer, 2008, p. 4). Die normatiewe navorsingvraag behels geloofonderskeiding: ‘Wat is veronderstel om te gebeur ten opsigte van die gemeente se diakonaat?’ Die pragmatiese navorsingvraag is veronderstel om gemeentes te begelei deur prosesse van verandering met die vraag: ‘Hoe kan die gemeente reageer ten opsigte van die plaaslike konteks se diakonale uitdagings?’(Osmer, 2008, p. 4).

Die navorsing is beperk deurdat die navorser self ’n deelnemer aan die intervensie was wat die objektiwiteit van die beoordeling van die proses kon beïnvloed het. Daar is ook geen empiriese werk gedoen nie en slegs een gevallestudie is bestudeer. In die geval van meer gevallestudies sou ’n vergelyking tussen die studies getref kon word.

Die Hidden Treasures-proses

Die Hidden Treasures-proses het bestaan uit vier aanlyn ontmoetings of sessies met ’n verskeidenheid gespreksgenote (Du Plooy et al. 2020a,b:1–50). Die sessies het soos volg verloop:1

Sessie 1 – Ontdek die skatte in julle midde

Aanvanklik is ’n gemeente versoek om enige rolspelers in die gemeenskap na ’n eerste gesprek te nooi. Die doel van die eerste sessie is dat die verskillende rolspelers mekaar ontmoet en hulle ten opsigte van elkeen se onderskeie betrokkenheid in die gemeenskap kan oriënteer (Du Plooy et al. 2020a,b:8–20).

Die uitkoms van die eerste sessie behoort ideaal reeds ’n versameling of lys van verborge skatte op te lewer. Deur die ontmoeting van die verskillende rolspelers en die ontdekking van die verborge skatte, word daar ’n netwerk gevorm (Du Plooy et al. 2020a,b:17).

Daar word dan van elke betrokke persoon verwag om ten minste drie ander mense te kontak wat reeds met noodverligting in die gemeenskap besig is. By die volgende sessie sou hierdie inligting dan met die groter netwerk gedeel word (Du Plooy et al. 2020a,b:18–19).

Gevallestudie

Onder leiding van die Toringkerk se leierspan, het elf rolspelers deel gevorm van die eerste ontmoetingsessie. Hulle het bestaan uit NGK predikante, onderwysers, gemeentelede en verteenwoordigers van niewinsgewende organisasies, onder meer die gemeenskapsradio van die Paarl. Tydens hierdie eerste sessie het rolspelers die kans gekry om hulleself voor te stel en te verduidelik waar in die gemeenskap hulle betrokke is en watter bydrae tot noodverligting in Drakenstein gemaak kan word. Die gesprekvrae uit die Hidden Treasures-proses is gebruik as riglyn om die gesprek te lei (Du Plooy et al. 2020:8–20) (Els & Marais 28 Julie 2020c:1–4).

Tydens die gesprek is verskeie organisasies en persone aangewys wat reeds in die Paarl besig was en is met die verligting van nood. Hierdie noodverligtingaksies het kwessies aangeraak soos vaderloosheid, ouerbegeleiding, jeugbemagtiging, dienste aan die haweloses, vroeë kinderontwikkeling, voedselvoorsiening en die verspreiding van stories van hoop deur middel van die gemeenskapradio. Die gesprek het gehelp om ander kwessies na vore te bring, soos byvoorbeeld die geestesgesondheid van skoolkinders weens die effekte van COVID-19, asook die behoefte onder gemeenskapslede ten opsigte van goedkoop beradingsessies en toegang tot die jeug in die gemeenskap. Daar is genoem dat die radio ’n baie goeie platform is om die jeug spesifiek te bereik (Els & Marais 28 Julie 2020c:1–4).

Die gemeentes wat deel gevorm het van die gesprek, het genoem dat daar geboue en fasiliteite tot hul beskikking is wat nie effektief gebruik word nie. Die samewerking en gesprekke is ook in ’n positiewe lig gesien en daar is versoek dat dit voortgesit moet word (Els & Marais 28 Julie 2020c:1–4).

Sessie 2 – Laat die inligting vloei

In die tweede sessie is gepoog om die netwerk te help wat in die eerste sessie gevorm is om die ‘verborge skatte’ effektief te gebruik tot verligting van die nood wat geïdentifiseer is (Du Plooy et al. 2020a,b:21–32).

Tydens hierdie sessie is die rolspelers gevra om terugvoering te gee ten opsigte van die kontakte wat ná die vorige sessie gemaak is. Terugvoer is gegee van die persone of organisasies met wie gesels is ten opsigte van die spesifieke dienste wat tans gelewer word, asook watter behoeftes reeds aandag benodig en wat met die netwerk gedeel kan word. Die verskillende behoeftes is gelys en verder gekategoriseer ten opsigte van die logistieke, finansiële en emosionele aard daarvan. Daar is genoeg tyd gegee vir die bespreking van die behoeftes en die netwerk se reaksie daarop (Du Plooy et al. 2020a,b:21–32).

Die tweede fokus van hierdie sessie was kommunikasie wat ’n uiters belangrike rol speel ten opsigte van die volhoubare en effektiewe betrokkenheid by die verskillende reaksies op nood in die spesifieke gemeenskap. Tydens die sessie het die rolspelers besluit hoe behoeftes na buite gekommunikeer kan word. Watter platforms gebruik sal word om die regte gehoor te bereik? (Du Plooy et al. 2020:28–29).

Hierna het die deelnemers ’n register opgestel van hul eie span, asook ander persone met wie hulle in kontak was sodat die saamgestelde register uiteindelik deur die hele netwerk versprei word (Du Plooy et al. 2020a,b:31).

Gevallestudie

Tydens die tweede sessie was daar tien rolspelers wat aan die gesprek deelgeneem het, terwyl drie persone verskoning gemaak het. Daar was egter twee nuwe rolspelers wat die gesprek op uitnodiging van deelnemers bygewoon het (Els & Marais 05 Augustus 2020d:1).

Deur middel van die terugvoering van die rolspelers, is daar verskeie behoeftes gelys wat deel gevorm het van die moontlike deelname of reaksie op die nood in die gemeenskap. Volgens die Hidden Treasures-proses moes dit ingedeel word volgense logistieke, finansiële en emosionele behoeftes. Daar het egter nog ’n groepering van behoeftes gedurende hierdie gesprekke opgeduik, naamlik die behoefte aan opleidingsprogramme (Els & Marais 05 Augustus 2020d:1–7).

Sessie 3 – Karteer die hulpbronne

In die derde sessie is die rolspelers begelei om die hulpbronne in die gemeenskap te karteer. Een persoon binne die netwerk is aangewys om op Google Maps al die afsetpunte op die kaart aan te dui. Die doel was om ’n register saam te stel met inligting van alle afsetpunte sodat dit maklik en eenvoudig sou wees om met hierdie persone in kontak te kom (Du Plooy et al. 2020a,b:33–43). Die doel is dan ook dat daar ’n lys van leemtes in die gemeenskap opgestel word. By die volgende sessie sou bespreek word hoe hierdie leemtes aangevul kan word (Du Plooy et al 2020:40).

Gevallestudie

As voorbereiding is elke rolspeler gevra om ’n vooraf opgestelde vorm van Google Forms in te vul ten opsigte van die inligting wat by sessie twee ingesamel is aangaande rolspelers in die gemeenskap. Hierdie Google Forms was ’n inisiatief van die Toringkerk se gemeente en nie deel van die Hidden Treasures-proses nie. Die vorms is gebruik as ’n eenvoudige en toeganklike platform om die nodige inligting in te samel. Die veronderstelling was dat die inligting gebruik sou word om die hulpbronne op Google Maps te karteer. Hierdie stap is egter nooit uitgevoer nie (Els 2020) (Els & Marais 19 Augustus 2020a:1–5).

In dié sessie is daar wel gesels oor die leemtes wat tans in Drakenstein se gemeenskap (Paarl en Wellington) bestaan ten opsigte van opvallende nood en gapings. Die leemtes wat uitgelig is, behels die behoefte aan ondersteuning vir die Graad 7– 9’s, aangesien hulle op ’n baie kritieke ouderdom van hul lewe is wanneer hul identiteit veronderstel is om vasgelê te word. ’n Gebrek aan samewerking tussen verskillende rolspelers in die Paarl, asook die gebrek aan ’n gesamentlike of eenvormige visie, is ook aangeraak. Vroeë kinderontwikkeling, ’n tekort aan pleegouers en veiligheidsouers, asook ondersteuning vir ouers is beklemtoon (Els & Marais 19 Augustus 2020a:1–5).

Sessie 4 – Delf dieper

Die doel van die vierde en laaste sessie van die Hidden Treasures-proses is om die behoeftes te ontdek wat nog nie aandag gekry het nie, asook om te kyk watter verbindinge daar nog gemaak moet word. Die gespreksvrae in die sessie lei die rolspelers om te gesels oor hoe die ander rolspelers se leemtes aangevul kan word. Die doel is om na die lys van leemtes te kyk en dan die ooreenstemmende rolspelers binne die netwerk te plaas by die spesifieke leemte wat gevul moet word (Du Plooy et al. 2020a,b:44–50).

Die rolspelers is gevra om die gemeentes en rolspelers te identifiseer wat nog by hierdie netwerk bygevoeg kan word. Ook hoe hierdie persone genooi gaan word. Laastens is die pad vorentoe vir die netwerk van die Hidden Treasures-proses bespreek (Du Plooy et al. 2020a,b:48–49).

Gevallestudie

As voorbereiding vir sessie vier moes die rolspelers gaan bid en dink oor waar God betrokke is in die proses en samelewing. Een spesifieke fokusarea is gekies: wát innerlike transformasie sou bied? Daar is genoem dat gedrag eers verander kan word wanneer die hart en houding van iemand verander (Els & Marais 2020a,b,c,d:1–5).

Die behoefte van die Graad 8- en 9- koshuiskinders is uitgelig as ’n hooffokuspunt, naamlik aan ’n waardegedrewe program wat aan die kinders mentorskap sou bied. Al die rolspelers was eensgesind oor hierdie kwessie as ’n leemte waarop die netwerk moet reageer (Els & Marais 2020a,b,c,d:1–5).

Daar is ondervind dat die deelnemers ’n behoefte het aan ’n persoonlike ontmoeting. Hierdie ontmoeting sou dan meer gefokus wees op ’n strategie vir die pad vorentoe as ’n netwerk, spesifiek ten opsigte van die reaksie op die behoefte aan ’n mentorskapprogram vir die Graad 8- en 9-koshuiskinders. ’n Persoonlike ontmoeting is gereël vir die volgende week wanneer hierdie prosesse vir die pad vorentoe verder bespreek sou word (Els & Marais 26 Augustus 2020b:5).

Sessie 5 – Persoonlike ontmoeting van die Hidden Treasures-netwerk

Alhoewel in die Hidden Treasures-proses vier sessies aanlyn voltooi is, was daar ’n behoefte by die deelnemers om in persoon bymekaar te kom. Hierdie sessie het plaasgevind by ’n onafhanklike gemeente in New Orleans wat ’n hoofsaaklik bruin gemeenskap in die Paarl is.

Tydens die sessie is die verskillende behoeftes wat geïdentifiseer is, bespreek. Daar was eenstemmigheid dat die jeug in die Drakenstein-area ’n groot prioriteit is – spesifiek die Graad 8’s en 9’s (Petersen, 2021, p. 1). Vier woorde het pertinent na vore gekom, naamlik, potensiaal, hoopvol, toekoms en verbeelding. Vanuit hierdie woorde is die volgende visie geskep: ‘Unlocking the potential of our youth for a hopeful future’ (Petersen, 2021, p. 1). Dié visie het dan ook die verdere gesprekke van die dag gestruktureer.

Verskeie rolspelers in die Drakenstein-area het reeds op verskillende vlakke goeie werk gedoen. Die reaksie op nood gebeur egter in isolasie en nie in verhouding met ander rolspelers binne netwerke nie. Die Hidden Treasures-netwerk fokus op interafhanklike verhoudinge en die gesamentlike reaksie op behoeftes en nood in die gemeenskap van Drakenstein (Petersen, 2021, p. 1).

In die nuwe netwerk het die rolspelers die behoefte, uitdaging en tekort aan mentorskap vir die jeug in die Paarl bespreek. Daar is besluit om as die Hidden Treasures-netwerk ’n mentorskapprogram te begin vir Graad 8-leerders by Hoërskool Labori in die Paarl (Petersen, 2021, p. 1).

Verdere ontwikkeling van die Hidden Treasures-netwerk in die Drakensteinse gemeenskap

Sedert die mentorskapprogram begin is, is deur die nuwe netwerk in die Paarl ook ander behoeftes geïdentifiseer en daarop gereageer deur middel van verskeie inisiatiewe. Deur die netwerk het daar ook organiese verhoudings ontstaan. Daar is, onder meer, uitbreidings rondom mentorskapprogramme in die plaaslike skool gedoen. Die netwerk het ’n gesamentlike plaaslike #Imagine Jeugdag in die gebied gereël. Deur hierdie netwerk is daar ook ’n ECHO Huis in die Paarl begin in een van die plaaslike gemeentes se pastorie. Deur middel van die voedselvoorsieninginisiatiewe is ekumeniese vriendskappe en vennootskappe gebou en word daar ook gereelde gemeenskapetes gehou wat die vriendskappe verder laat floreer.

Normatiewe evaluasie

Voordat daar gekyk word na ’n strategiese evaluasie, gaan ’n normatiewe raamwerk en evaluasie gedoen word. In hierdie afdeling word daar dus gefokus op die ‘wát?’ van herstellende geregtigheid. Wat word daarmee bedoel wanneer daar vanuit ’n teologiese perspektief na herstellende geregtigheid verwys word? Wat is die uitkomste wat deur prosesse van herstellende geregtigheid bereik moet word?

Herstellende en genesende werk moet strewe om ten alle tye op ’n deelnemende wyse te werk waar konsensus ontwikkel kan word (Thesnaar, 2010, p. 97). Herstellende en genesende werk moet genees en heelmaak; volle en direkte verantwoordbaarheid bevorder; dit wat verdeling bring, herenig; gemeenskappe versterk om voortgaande onreg te oorkom en te voorkom (Thesnaar, 2010, p. 97). Hiervoor moet bronne in die gemeenskap herverdeel word om die gaping tussen ryk en arm te verklein en groter gelykheid te bevorder (Bowers du Toit & Nkomo 2014:7).2

Gevolgtrekking 1 (Sessie 1)

Die eerste gevolgtrekking uit die doelstellings van sessie een van die Hidden Treasures-proses, is dat dit ruimte bied vir Uitkoms 1, Uitkoms 2, Uitkoms 5, Uitkoms 6 en selfs ook Uitkoms 4. Uitkoms 3, wat die verantwoordbaarheid ten opsigte van onreg van die verlede behels, is egter in hierdie sessie afwesig. Dit is bemoedigend om te sien dat die ander vyf uitkomste teenwoordig is al is dit in dié stadium in ’n beginfase. Dit is ook opmerklik dat verhoudings organies vloei wat mense aanmoedig om met mekaar kontak te maak en te gesels. Die tipiese welsynstaktiek van projekte deur die bevoorregte deel van die gemeenskap sonder om in gesprek te tree met diegene in nood, is duidelik afwesig hier (Liebenberg, 2019, p. 14).

Gevolgtrekking 2 (Sessie 2)

Sessie twee het ook ten doel om ’n kommunikasiestrategie te ontwikkel. Tydens hierdie sessie het die rolspelers besluit hoe geïdentifiseerde behoeftes na buite gekommunikeer word. Asook watter platforms gebruik kan word om die regte gehoor te bereik (Du Plooy et al. 2020a,b:28–29). Die terugvoer van die gevallestudie bied as oplossing die toenemende gebruik van die gemeenskapsradio (Els & Marais 05 Augustus 2020d:7). Uitkoms 5 sou ook hierdeur bereik kon word, deur gemeenskapslede te bemagtig met kennis oor die uitdagings in die gemeenskap, sowel as inligting ten opsigte van voorkomende dienste wat reeds beskikbaar is. Hierdeur word gemeenskapslede bemagtig om moontlik voortgesette onreg te verhoed of om self onreg uit te ken en daarop te reageer.

Gevolgtrekking 3 (Sessie 3)

Hierdie fokus sluit weer aan by Uitkomste 4 en 5 en toon aan dat die gesprek reeds gereed is vir die volgende fase: ‘Delf dieper’.

Gevolgtrekking 4 (Sessie 4)

Hoewel die woord vertroue nie pertinent gebruik word in die terugvoering nie, word daar gereeld verwys na die ontwikkeling van verhoudings. Daar kan aanvaar word dat vertroue hierby ingesluit word. Die voortgaande ontwikkeling van inisiatiewe soos deelname aan #Imagine-geleenthede, dui daarop dat ’n groep mense mekaar ontmoet het wat oor ’n nuwe toekoms vir hulle gemeenskap droom (Du Plooy et al. 2020a,b:1–3). Hier word Uitkoms 5 herken, wanneer bemagtiging van die gemeenskap plaasvind, om sodoende voortgesette onreg te verhoed. In die voortgaande dinamika van die netwerk is dit duidelik dat die herstel van vertroue tot ’n groot mate die inherente krag is van waaruit die netwerk funksioneer.

Gevolgtrekking 5 (Sessie 5)

Dit is insiggewend dat die visie van die mentorprogram toekomsgerig is: ‘Unlocking the potential of our youth for a hopeful future’. Dit sal interessant wees om in die verdere verloop van die proses te bepaal of hierdie ‘gebrek’ aan sensitiwiteit vir die onreg van die verlede nadelig gaan inwerk op die uitloop die uitloop van die proses. Gaan daar genoeg ‘heling’ plaasvind ten opsigte van die onreg van die verlede of is dit eintlik ’n ontkenning van die onreg van die verlede? (Uitkoms 3).

Gevolgtrekking 6 (Voortgaande prosesse van die netwerk)

Dit wil voorkom asof die spontaan voortgaande organiese prosesse ook die herverdeling van bronne insluit (Uitkoms 6). In terme van die normatiewe uitkomste is dit egter duidelik dat ons vir die eerste keer hier ’n duideliker prentjie begin sien van die netwerk se vermoë ten opsigte van die verdeling van bronne (Uitkomste 4 & 6). ’n Voorbeeld is dat kinders wat nie toegang tot ’n voertuig het nie, gehelp word om rybewyse te bekom. ’n Nederduitse Geref Gemeente in Drakenstein stel ’n pastorie beskikbaar waar ’n inklusiewe groep jong mense kan woon om, onder andere, gemarginaliseerde jong mense te bemagtig deur inskakeling in die gemeenskap. ’n Poging om verhoudings te bou met persone wat haweloos is en reeds rondom die grense van die Toringkerk op straat woonagtig is, word deur middel van tydelike skuiling in erge storm weer ondersoek.

Dit wil voorkom asof die skerp verdelingslyne van die verlede wat met ’n welsynparadigma van die diakonie nie meer so sterk funksioneer nie. Gemarginaliseerde mense word nou nie meer op ’n afstand gehou deur finansiële ondersteuning nie, maar ingenooi in die pastorie of kerksaal van die gemeentes.

Strategiese evaluasie

In ’n strategiese evaluasie word daar gekyk na die ‘hoe’. Die navorsingvraag is: Hóé kan die Hidden Treasures-proses gemeentes help om hulle benadering tot diakonaat te verander van welsyngerig na dié van herstellende geregtigheid deur die vorming van netwerke?

Om die evaluasie te doen word daar gebruik gemaak van David Korten se vierdegenerasie-teorie, soos verder ontwikkel en toegepas deur Swart vir die ontwikkeling van maatskaplike geregtigheid in die Suid-Afrikaanse konteks (Swart, 2010a).

Korten verwys na vier verskillende generasies wat niewinsgewende organisasies deur strategiese intervensies tot ontwikkeling kan neem. Die raamwerk van vier generasies kan ’n hulpmiddel word ook om kerke se strategieë tot hulpverlening of die reaksie op nood te evalueer (Swart, 2008, pp. 122–128). Swart is van oordeel dat Korten se raamwerk kerke kan help wanneer hulle intensioneel vanaf welsyngerigtheid na ’n ontwikkelingintervensie wil beweeg. Korten se raamwerk is daarom ʼn ideale raamwerk vir die evaluasie van die Hidden Treasures-proses as ʼn hulpmiddel om kerke van welsyn na geregtigheid te oorreed (Swart, 2008, pp. 122–128).

Eerste generasie – Noodverligting (G1)

Die eerste generasie verteenwoordig ’n noodverligting- en welsynbenadering en is gewoonlik ’n onmiddellike reaksie op ’n behoefte wat geïdentifiseer word (Swart, 2008, pp. 122–128) (Ferreira & Groenewald 2010:183). Individue of families word gewoonlik in hierdie generasie betrek. Dit vra gewoonlik slegs van die niewinsgewende organisasie of kerk om op te tree en te reageer op die spesifieke behoefte (Swart 2008:122–128). Die voorsiening van voedsel en skuiling sou as voorbeelde van dié generasie gesien kon word (Ferreira & Groenewald 2010:183).

Tweede generasie – Gemeenskapsontwikkeling (G2)

Die tweede generasie verteenwoordig gemeenskapontwikkeling wat grotendeels na projekte of spesifieke inisiatiewe verwys (Swart 2008) (Ferreira & Groenewald 2010:183) Die lewensduur van hierdie generasie is afhangend van dié van die lewensduur van die projek wat geloods word (Swart 2008:122–128). Anders as die eerste generasie, word woonbuurtes of gemeenskappe in hierdie perspektief betrek (Swart 2008). Hier sou niewinsgewende organisasies en/of kerke, sowel as die gemeenskap, betrek word by die beoogde inisiatief (Swart, 2008, pp. 122–128). Die rol van die niewinsgewende organisasies en/of kerke word gesien as die mobiliseerder van gemeenskappe om hulself te kan help (Swart 2008). Opleidingsprogramme by kerke en kleiner gemeenskappe sou as voorbeeld hiervan kon dien (Ferreira & Groenewald 2010:183).

Derde generasie – Bou van volhoubare sisteme (G3)

Die derde generasie verteenwoordig volhoubare sisteemontwikkeling en betrek gewoonlik ’n streek of nasie (Swart, 2008, pp. 122–128). Dié generasie kyk na die wortels waaruit sekere behoeftes of probleme ontstaan en fokus dus baie meer op die invloed van wetgewing op plaaslike, nasionale en internasionale vlakke (Ferreira & Groenewald, 2010, p. 184) Hier hoef dit nie net niewinsgewende organisasies of kerke te betrek nie, maar ʼn netwerk van relevante openbare of private rolspelers of instellings. Dit is eie aan die derde generasie dat rolspelers die werk nie op hulle eie kan doen nie, maar dat hulle in netwerke met mekaar moet saamwerk. Die hoofdoel is om as netwerk ’n katalisator te wees wat probleme aanpak op so ʼn wyse dat dit institusionele en beleidsbeperkinge transformeer (Swart, 2008, pp. 122–128).

Vierde generasie – Mobilisasie en ontwikkeling van ʼn beweging (G4)

Die vierde generasie verteenwoordig die beweging of die mobilisasie van mense (Swart, 2008, pp. 122–128). Hier is dit weereens nie slegs die niewinsgewende organisasies en/of kerke wat as rolspelers optree nie, maar netwerke van mense en organisasies (Swart 2008:122–128). Hierdie generasie maak gebruik van netwerke en vennootskappe om, onder meer, geregtigheid en volhoubaarheid teweeg te bring (Ferreira & Groenewald, 2010, pp. 184–185). Die hoofdoel van die rolspelers is om op te tree as aktiviste of opvoeders en om betrokke te wees by selfonderhoudende netwerke (Swart, 2008, pp. 122–128).

Die vierde en laaste generasie verwys na mobilisasie deur middel van netwerke van mense en ander organisasies, sakeondernemings, kerke, niewinsgewende organisasies en skole. Netwerke en vennootskappe is die hooffokus van dié generasie, aangesien daar gestrewe word om geregtigheid en volhoubaarheid teweeg te bring (Ferreira & Groenewald, 2010, pp. 184–185).

Die vier generasies toegepas op die kerk en die Hidden Treasures-proses

Soos reeds genoem, is Swart (2008:122–128) van oordeel dat hierdie raamwerk van vier generasies die kerk se huidige teologiese refleksies en praktyke evalueer. Die eerste twee generasies geld kerke vasgevang in ’n eendimensionele werkwyse wat grotendeels op welsyn en ontwikkelingprojekte fokus. Hiermee word daar geensins bedoel dat die eerste groepering van die generasies nié nodig was in reaksie op noodverlening en menslike behoeftes nie, maar wel dat dit ’n voorstelling is van ’n eenrigtingverhouding wat tipies is aan die welsynbenadering (Swart, 2008, pp. 122–128) (Liebenberg, 2019).

Gevolgtrekking 7 (Sessie 1)

Aan die hand van die gevallestudie word daar nie bevind dat daar op enige behoefte of nood wat geïdentifiseer is, op ’n onmiddellike wyse gereageer is nie (sien Tabel 1). Die gevallestudie toon, inteendeel, dat daar eerstens ’n groep rolspelers vanuit die gemeenskap saamgenooi is in ’n proses van onderskeiding om te bepaal wat die bepaalde behoefte is, asook hoe om daarop te reageer sodat dit volhoubaar en effektief benader kan word. Dit wil dus voorkom of die Hidden Treasures-proses nie binne hierdie G1 funksioneer nie (Swart, 2008, p. 24) (Swart, 2010b, pp. 213–215).

TABEL 1: Grafiese evaluasie.
Gevolgtrekking 8 (Sessie 2)

Dit is opvallend dat die fokus ’n konsensus is wat deur die rolspelers self ontwikkel word en nie vanuit ’n hiërargie aangekondig word nie. In hierdie geval toon die strategie kenmerke van G2- gemeenskapsontwikkeling.

Gevolgtrekking 9 (Sessie 3)

Dit wil blyk dat die waarderende benadering van die proses, met die fokus op bronne, die gevolg het dat daar op bemagtende manier in diepte oor die leemtes van die gemeenskap gesels is. Wat opvallend is, is dat die fokus op leemtes nie verlammend vir die groep deelnemers was nie, maar motiverend deurdat hulle op eie inisiatief fokus ontwikkel het vanuit die bronne waarvan daar by sessie een kennis geneem is (G4).

Teoreties is hier ’n spontane vermenging van benaderings. Formeel is die Hidden Treasures-proses ’n waarderende proses wat fokus op die ontdekking van bronne, maar in die proses is in hierdie gevallestudie spontaan op leemtes begin fokus.

Gevolgtrekking 10 (Sessie 4)

Dit is weer duidelik dat die ontwikkeling van ’n netwerk (G3) in die gevallestudie goed gevestig is en dat dit die mobilisering en bemagtiging van mense (G4) tot gevolg het.

Samevattende evaluasie

Ten opsigte van die strategiese raamwerk van Korten se vier generasies het die evaluasie die volgende bevind: Die Hidden Treasures-proses en die verloop daarvan in die gevallestudie toon duidelike ooreenkomste met Korten se generasie 3 (opstel van netwerke) en generasie 4 (mobilisasie en ontwikkeling van ʼn beweging). Daar is reeds verwys na Swart se opmerking dat herstellende geregtigheid deur G3 en G4 bevorder word. Die eerste twee generasies verteenwoordig egter ’n welsynstrategie.

Die normatiewe evaluasie van die proses het interessante resultate getoon in die strewe om herstellende en regstellende geregtigheid te bevorder. Die netwerk kon daarin slaag om deur die verdelingslyne van die verlede te breek in die samestelling van die lede van die netwerk, die innooi van mekaar in plekke en gemeenskappe wat voorheen uitsluitend was en ook in die wyse waarop bronne gevloei het.

In die latere fases en veral na die afloop van die eerste vier sessies van die Hidden Treasures-proses het daar ook eerste deurbrake gekom wat betref die herverdeling van bronne. Dit was veral sigbaar in die deel van fasiliteite vir die aanbied van verskeie geleenthede wat deur die Hidden Treasures-netwerk geïnisieer is. Dit was ook sigbaar by die deel van kennis. Die werklike evaluasie hiervan sal egter eers later gemaak kan word om die medium- en langtermyneffek in die gemeenskap te bepaal.

Die aspek van herstellende geregtigheid wat die duidelikste ontbreek het in die proses, was om die onreg van die verlede intensioneel in die proses in te nooi. Die ontwerp en die verloop daarvan in die gevallestudie maak nie ruimte hiervoor nie. Dit sal beslis in die toekomstige herontwerp aangeraak moet word. Die gevaar is dat die verhoudings wat net die hede en die toekoms in ag neem, nie genoegsaam begrip en empatie ontwikkel vir die pyn van die verlede nie. Geregtigheid sonder genesing sal nie volhoubaar wees nie.

Konklusie

Die Hidden Treasures-proses het die potensiaal om gemeentes te help om hulle betrokkenheid in die gemeenskap te skuif van ’n welsynbenadering na ’n skerper fokus op herstellende geregtigheid.3 Aan die ander kant, kan die proses nog verbeter word.

Die strategie is een van organiese netwerkvorming wat fokus op die ‘verskuilde bronne’ in die gemeenskap. In die gevallestudie het hierdie strategie suksesvol gebeur in Drakenstein se gemeenskap en bo verwagte resultate getoon. Hierdie proses kon die netwerk help om verborge skatte in die gemeenskap te ontdek en het ook mededeelsaamheid onder mekaar uitgelok.

Die Hidden Treasures-proses in die gevallestudie kon dit regkry om ’n eerste tree in herstellende en genesende werk aan te moedig tussen lede van die gemeenskap. Die navorsing het leemtes in die proses uitgewys en kon aanbevelings in dié verband moontlik maak. Van die belangrikste leemtes in die proses is die gebrek aan aandag aan die pyn van die verlede. Hoewel dit ’n eerste toepassing is, toon die resultate van die gevallestudie genoeg belofte sodat die Hidden Treasures-proses verder verfyn kan word en meer gemeentes begelei om ook netwerke en venootskappe binne plaaslike gemeenskappe te vorm. Sodoende kan ’n moontlik onbewustelike welsyns-benadering ingeruil word vir die praktyk van herstellende geregtigheid.

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Outersbydrae

J.A.M., was die enigste outeur betrokke by die skryf van die artikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel voldoen aan alle etiese standaarde vir navorsing sonder direkte kontak met mens of dier.

Befondsing

Hierdie navorsing het geen spesifieke toekenning ontvang van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of niewinsgewende sektore.

Databeskikbaarheidsverklaring

Datadeling is nie van toepassing op hierdie artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur (s) en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeur(s) nie.

Verwysings

Bowers du Toit, N.F. & Nkomo, G., 2014, ‘The ongoing challenge of restorative justice in South Africa: How and why wealthy suburban congregations are responding to poverty and inequality’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 70(2), 1–8. https://doi.org/10.4102/hts.v70i2.2022

De Vos, A.S., Strydom, H., Fouché, C.B. & Delport, C.S., 2011, Research at grassroots: For the social sciences and human service professions, 4th edn., Van Schaik Publishers, Pretoria.

Du Plooy, A., Van der Walt, P. & Venter, N., 2021, Hidden treasures-gesprek met Paarl, s.n., Stellenbosch.

Du Plooy, A. et al., 2020a, Gemeentes en nood in die gemeenskap: Ontwerp-opdrag, NG Kerk, Stellenbosch.

Du Plooy, A. et al., 2020b, Unlocking hidden treasures: Effectiveness and sustainability vs volunteer fatigue (Powerpoint Presentation), s.n., Stellenbosch.

Els, R.J., 2020, Hidden treasures register (Excel), s.n., s.l.

Els, R.J. & Marais, J.A., 2020a, Hidden treasures notule 3, s.n., Paarl.

Els, R.J. & Marais, J.A., 2020b, Hidden treasures notule 4, s.n., Paarl.

Els, R.J. & Marais, J.A., 2020c, Hidden treasures notule 1, s.n., Paarl.

Els, R.J. & Marais, J.A., 2020d, Hidden treasures notule 2, s.n., Paarl.

Ferreira, C. & Groenewald, C., 2010, ‘Churches as providers of HIV and AIDS care (Chapter 11)’, in religion and social development in post-apartheid South Africa: Perspectives for critical engagement, pp. 174–201, SUN PReSS, Stellenbosch University, Stellenbosch.

Knoetzen, H., 2002. Teologiese motiewe vir ʼn missionêr diakonale bediening van die kerk. Op weg na ʼn begronding van die missionêr diakonale ekklesiologie, Universiteit van Pretoria, Pretoria.

Liebenberg, K., 2019, Van barmhartigheid na ontwikkeling: Vaardigheidintervensie van gemeenteleiers in die konteks van die NG Kerk, Magister Divinitatis, Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch.

Marais, J.A., 2022, ‘Van welsyn na herstellende geregtigheid: ’n Praktykgerigte evaluering van die “Hidden Treasures”-proses’, Stellenbosch Universiteit, Stellenbosch.

Niemandt, N., 2013, Raamwerkdokument oor die missionale aard en roeping van NG Kerk, NG Kerk Algemene Sinode, Port Elizabeth.

Osmer, R.R., 2008, Practical theology: An introduction, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids, MI.

Petersen, W., 2021, Hidden treasures – Mei 2021 Verslag, s.n., s.l.

SACC, 2021, South African Council of Churches, viewed n.d., from https://sacc.org.za/programmes/.

Swart, I., 2008, ‘Meeting the challenge of poverty and exclusion: The emerging field of development research in South African practical theology’, International Journal of Practical Theology 12(1), 104–149. https://doi.org/10.1515/IJPT.2008.6

Swart, I., 2010a, ‘Networks and partnerships for social justice? The pragmatic turn in the religious social development debate in South Africa (Chapter 1)’, in Religion and social development in post-apartheid South Africa: Perspectives for critical engagement’, pp. 15–36, SUN PReSS, Stellenbosch University, Stellenbosch.

Swart, I., 2010b, ‘The third public: Hermeneutical key to the theological debate on church and development?’, in Religion and social development in post-apartheid South Africa: Perspectives for critical engagement, pp. 205–224, SUN PReSS, Stellenbosch University, Stellenbosch.

Thesnaar, C., 2010, ‘Restorative justice as a key for healing communities in post-apartheid South Africa (Chapter 6)’, in Religion and social development in post-apartheid South Africa: Perspectives for critical engagement, pp. 93–106, SUN PreSS, Stellenbosch University, Stellenbosch.

Van der Merwe, W.C., 2014. Met woord én daad in diens van God: Die diakonaat van die NG Kerk in postapartheid Suid-Afrika, doktorale proefskrif in Praktiese Teologie – Universiteit van Stellenbosch, Stellenbosch.

Van der Walt, P., et al. 2021, Hidden treasures-terugvoeringsgesprek (Zoom) [onderhoud] (2 September 2021).

Venter, N., 2021, Local ecumenical collaboration – Beacons of hope, s.n., Wellington.

Voetnotas

1. Elke sessie word eers beskryf soos wat dit ontwikkel is deur Diaconia en die Navorsingkantoor en dan volg daar ’n beskrywing van hoe dit in die gevallestudie verloop het.

2. Vir die volledige beskrywing van die evaluasie en uitkomste, sien die volledige dokument: ‘Van welsyn na herstellende geregtigheid – ’n Praktykgerigte evaluering van die “Hidden Treasures”-proses’ (Marais 2022:41).

3. Vir die volledige aanbevelings ten opsigte van die Hidden Treasures-proses sien die volledige dokument: ‘Van welsyn na herstellende geregtigheid – ’n Praktykgerigte evaluering van die “Hidden Treasures”-proses (Marais 2022:57–59).



Crossref Citations

No related citations found.