About the Author(s)


Marius Nel Email symbol
Unit for Reformational Theology, Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom, South Africa

Citation


Nel, M., 2023, ‘Diakonaat en die Afrikaanssprekende AGS van SA’, Verbum et Ecclesia 44(1), a2786. https://doi.org/10.4102/ve.v44i1.2786

Original Research

Diakonaat en die Afrikaanssprekende AGS van SA

Marius Nel

Received: 06 Dec. 2022; Accepted: 10 Mar. 2023; Published: 26 May 2023

Copyright: © 2023. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstrak

The diaconate and the Afrikaans-speaking Apostolic Faith Mission of South Africa. The aim is to discuss the development of the diaconate in the Afrikaans-speaking white Apostolic Faith Mission of South Africa (AFM) in order to examine its effectiveness. This is done on the basis of a comparative literature analysis. To understand this development, the church’s early antipathy towards established mainline churches must be understood, born out of the pentecostal movement’s self-definition and experience of rejection and discrimination. One consequence was that all traditional offices were denied, including the office of minister, elder and deacon. Early members were generally poor, like most other Afrikaners. Yet they supported each other and helped where possible. Their assistance excluded people of colour. There was no organised diaconate until the AFM was eventually forced by reality to institutionalise. From this a Welfare Department was born in time which also organised welfare work through Dorcas councils at regional and parish levels. The Welfare Department also established and administered old age and children’s homes. In general, only women served on Dorcas councils while the congregational council (church council) consisted only of men. Still, welfare work was mainly limited to the ‘own people’. In the run-up to unification, the ‘white’ AFM relegated all power to the local level as much as possible to protect their own identity. After unification in 1996, as a result of this process, local congregations were again left on their own to do welfare work. At the same time, many Afrikaans-speaking congregations exclusively use Afrikaans in their worship services, excluding non-Afrikaans speaking people of colour. As a result, their welfare work is mainly limited to white people. The importance of the conclusion is that the church needs to address deficiencies in the diaconate task, which is essential to the church’s mission.

Intradisciplinary and/or interdisciplinary implications: The evaluation of the diaconate in the AFM implies a new welfare strategy and redesign of the diaconate based on the church-historical description, exegesis of relevant Scripture passages and description of the current South African scene marred by social inequality and the occurrence of widespread poverty to relate to the church’s task.

Keywords: diaconate; white AFM; welfare work; unification process; Welfare Department.

Inleiding

Die Afrikaanssprekende blanke (of wit)1 Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika (AGS van SA) is ’n denominasie in die Pentekostalistiese tradisie wat in 1908 uit die werk van die Amerikaanse sendelinge John G. Lake en Thomas Hezmalhalch ontstaan het. Aanvanklik was dit ’n kerk wat uit mense van alle rasse bestaan het, maar heel gou is die rasse-onderskeid wat Suid-Afrika gekenmerk het ook, in die nuwe kerk gereflekteer. Op paternalistiese wyse het die blanke AGS verantwoordelikheid vir die ander afdelings aanvaar en hulle bestuur.2

Sleutelfokus

Die doel van die artikel is om oor die beoefening van die diakonaat in die AGS in die lig van miljoene Suid-Afrikaners se sosiale en materiële nood te besin.

Agtergrond

Aanvanklik was byna alle lidmate arm; vroeë lidmate het uit dié geledere by die AGS aangesluit.3 Lidmate het betrokke by mekaar se lewens en nood geraak en mekaar ondersteun sonder dat enige georganiseerde strukture hieroor toesig gehou het. Mettertyd het die kerk geïnstitusionaliseer en hieruit is strukture gebore om elke gemeente se betrokkenheid by sending-, kinder- en jeugwerk, asook barmhartigheid te verseker (Burger & Nel 2008:473). Mettertyd het die wit AGS egter mag en eiendomsreg na gemeentes afgewentel en het sulke gemeentes ook die reg verkry om sigself na eie wense en behoeftes te organiseer. Die gevolg is dat die diakonaat die algemeen nou hoofsaaklik weer tot die eie groep beperk is.

Doelstellings

Die doelstelling is om die ontwikkeling van die diakonaat te belig sodat die gapings en tekortkominge in die huidige situasie uitgelig kan word met die doel om die diakonaat opnuut te definieer in terme van die kerk se barmhartigheidstaak.

Bydrae tot die veld

Die geskiedenis van die AGS van SA is redelik goed beskryf (Burger 1988; Burger & Nel 2008; Chandomba 2007; Erasmus 1996; Lapoorta 1996). Die historiese ontwikkeling van die diakonaat in terme van Afrikaanssprekende wit lidmate van die AGS het egter nog geen aandag ontvang nie (dieselfde is waar van ander gemeentes in die kerk, steeds hoofsaaklik beperk tot rassegroepe omdat woonbuurte tot ’n belangrike mate gesegregeerd gebly het).

Navorsingsmetodologie

Die navorsing gebruik ’n vergelykende literatuuranalise om die ontwikkeling van die diakonaat te ondersoek, asook ’n kort eksegetiese studie voordat sekere gevolgtrekkings hieruit gemaak word. Geraadpleegde literatuur sluit publikasies oor die geskiedenis van die AGS en die diakonaatstaak in. ‘Diakonaat’ verwys na die georganiseerde betrokkenheid van die plaaslike en nasionale kerk by die onmiddelike materiële en geestelike nood en behoefte van lidmate en nie-lidmate.

Antipatie teenoor kerke en teologie

Die AGS het eers vyf en ’n half jaar na haar ontstaan as ’n instelling geregistreer omdat vroeë Pentekostaliste geensins belang gestel het om ’n kerk te stig of ’n organisasie te registreer nie (Burger 1988:208). Lidmate van die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika het hulself as ’n voortsetting van die Vroeë Kerk beskou vanuit hul geskiedenisbeeld dat die Vroegste Kerk binne die eerste drie eeue stadigaan gedegenereer het vanaf Geesvervulde gelowiges wat hul lewe aan die evangelieverkondiging gewy het tot ’n ‘kerk’ met min of geen lewe. Hulle het geredeneer dat die tweede- en derdegeslag-gelowiges hul vuur en entoesiasme verloor het omdat die beklemtoning van die noodsaak van die Geestesdoop en beoefening van die charismata verlore geraak het (Nel 2018b:8; White 2002).

Die twintigste eeu is deur ‘n nuwe beweging van die Gees ingelui (Kendrick 1961:50–51), gebore uit die begeerte om ’n voortsetting van die vroeë apostoliese kerk te wees. Die verwagting was dat die suksesvolle bereiking van dié missie die wederkoms sal verhaas sodat die koninkryk van God inderdaad sou aanbreek (Downey 1914:2).

Die beweging wou sigself nie met ’n organisatoriese stelsel opsaal nie omdat lede gemeen het dat dit juis institutionalisering was wat die vroegste gelowiges se doodsteek was en wat die establishment of hoofstroomkerke se ondergang beteken het. Daarom wou die beweging aanvanklik niks van ‘kerk’ weet nie. Afrikaanse gemeentes het van ‘gemeenteraad’ eerder as ‘kerkraad’ gepraat en Engelse Pentekostaliste het ‘assemblies’ bo ‘congregation’ verkies om enige assosiasie met die ‘kerk’ te vermy.

Om daardie rede het die vroegste AGS verkies om as ’n maatskappy te registreer, ’n stap genoodsaak deur vereistes soos die vestiging van ’n bankrekening, saketransaksies en die verkryging van eiendom. Reeds in Junie 1909 besin die Uitvoerende Raad, die verteenwoordigers deur die vroeë groep verkies, oor konsepregulasies wat die vinnig groeiende werk se reëling moes dien (Uitvoerende Raad 04 Junie 1909). En teen 1911 het die kerk ’n konstitusie aanvaar wat die leer tug, asook die bestuur en regsverteenwoordiging van die jong beweging reël. Die konstitusie maak voorsiening vir vier trustees wat namens die kerk sake bedryf. Die 1912-Werkersraad keur die konstitusie goed (Conference Business Meeting 04 Oktober 1912:11). Die voorkoms van kollegialistiese terme, ook in die konstitusie, is opvallend (Burger 1988:209).

Dit was vir gelowiges egter belangrik om nie by ‘besigheid’ betrokke te raak nie; hulle aandag moes deur evangelieverkondiging, bediening van siekes met goddelike genesing en die Geestedoop opgeneem word. Terselfdertyd het dit egter ook belangrik geraak om as regspersoonlikheid te registreer en van regeringskant erkenning te kry. Dit het die kerk genoodsaak om registrasie te oorweeg, veral ook om as party by regsake betrokke te raak.

Die beweging se eerste kennismaking hiermee hou verband met die dispuut rondom die Vredezaal, in Junie 1910 deur die Uitvoerende Raad aangekoop as tuiste vir die gemeente (Conference Business Meeting 02 Junie 1910:3). Die Raad het vyftig pond van die koopprys betaal en die balans van 150 pond by E.E. Brink, ’n lidmaat, geleen. Die eiendom is in die naam van Thomas Hezmalhalch, J.H. Greeff, gemeenteleier, en E.E. Brink geregistreer. Na ’n kort rukkie kry Brink die geld nodig; die Uitvoerende Raad het dit nie beskikbaar nie en Brink en die Raad kom ooreen om die eiendom op Brink se naam te herregistreer. Die AGS huur dan die gebou by hom teen vier pond per maand totdat die kerk die koopsom kan bekostig, wanneer die grond herregistreer sou word (Conference Business Meeting 14 Oktober 1912:5).

Weldra ontstaan konflik tussen Brink en Greeff. Teen Maart 1911 bedank Brink, saam met sommige lidmate uit die gemeente, en hul groep steek Greeff in die pad. Hulle verbied hom toegang tot hul eiendom. Toe Greef vir die gereelde jeugdiens die Vrydagaand opdaag, is die saal gesluit. Tydens die Sondagoggenddiens daag Greeff saam met vier lede van die Uitvoerende Raad op, sonder enige vrug.

Nou eis die Uitvoerende Raad die gebousleutel by Brink, maar maar hy weier volstrek. Die Raad besef dat dit nie tugstappe teen Brink kan instel nie omdat hy as lidmaat bedank het. Dat die saal in Brink se naam geregistreer was, alhoewel die gemeente ’n kwart van die prys vereffen het, vergeet die Uitvoerende Raad blykbaar aanvanklik en hulle gaan tot geregtelike stappe oor. Die saak word vir Desember 1913 op die hofrol geplaas, iets wat nou moontlik geword het nadat die beweging in November 1913 as regspersoon geregistreer is. Die Raad se regsadvies dui egter aan dat die Raad nie ’n saak het nie omdat dit nie as regspersoon die aanvanklike ooreenkoms met Brink aangegaan het nie. In hierdie stadium is Hezmalhalch wat die transaksie aangevoor het, nie eens meer in Suid-Afrika nie (Burger 1988:158). Die Uitvoerende Raad skik dan buite die hof en moet beide partye se regskoste uit eie sak betaal.

Soos genoem, registreer die kerk as onbeperkte maatskappy. Die rede hiervoor word in die Private Wet van 1961, wat die AGS as kerk later herregistreer, verduidelik: die beweging se ledetal was so beperk dat dit nie in die aansoek as kerk sou slaag nie.4 Om die sake van die groep te behartig, het ’n maatskappy as alternatief vereis. Die registrasie as ’n onbeperkte maatskappy is egter ook gedra deur ’n antipatie teen bestaande kerke. Om daardie rede noem dit beweging sigself eksplisiet ’n ‘Sending’; dit wil nie as statiese kerk bestaan nie, maar as dinamiese sendingbeweging.

Weldra sou die bestaan as onbeperkte maatskappy vir die Sending problematies word. Elke lidmaat is ’n aandeelhouer in die maatskappy en die depressiejare van die dertigerjare hou finansiële uitdagings vir die kerk in. As die AGS insolvent verklaar sou word, sou alle lidmate se bates in gedrang kom.

Die vormvastheid en formaliteit wat historiese kerke se eredienste kenmerk en hul vervolging en diskriminasie lei tot die antikerk-emosie sodat die AGS niks van formele ampte en professionele kerkleiers wou weet nie.5 Hulle het geglo dat die Gees ’n individu, hetsy vroulik of manlik, salf om spesifieke take te verrig as enigste vereiste om by dienswerk betrokke te raak. Die plaaslike gemeente moet dié persone identifiseer en aanstel om die Gees se werk te verrig. Hulle het gepoog om gemeenteleierskap op die Nuwe-Testamentiese konsep van vrywillige dienslewering aan en deur die liggaam van Christus te vestig (Langerman 1983:83). Bedienaars is ‘werkers’ genoem en almal is as ‘broer’ en ‘suster’ aangespreek, sonder gebruik van enige titels. Hoofkantoor het erkenning aan werkers op aanbeveling van die plaaslike gemeenteraad gegee in die vorm van ’n sertifikaat (Burger & Nel 2008:192). Suksesvolle werkers kon kwalifiseer vir die sertifikaat as evangelis, wat die bediening van die nagmaal, asook begrafnisse ingesluit het.6 Werkers sluit gemeenteleiers in. Teen Februarie 1911 was daar 150–175 wit en 250–350 swart gesertifiseerde ‘werkers’.7 Geen werker het enige vorm van vergoeding ontvang nie, maar moes die Here vertrou om in lewensbehoeftes te voorsien, ook in gevalle waar werkers heeltyds in gemeentes diens gedoen het.

Tydens die Algemene Werkersraadsvergaderings van 1931, 1932 en 1934 is die aanstelling van ouderlinge en diakens bespreek. Teen 1946 spesifiseer ’n gewysigde konstitusie dat ‘werkers’ en ‘evangeliste’ nie verder erken word nie. In die plek daarvan verwys die dokument na ouderlinge (redakteur November 1910:1).

Aanvanklik is vrouens oor dieselfde kam as mans geskeer. Almal wat bewys van die salwing van die Gees op hul bediening toon, is eenders behandel. Heelwat van die werkers en gemeenteleiers was vroue. Die notule van die Werkersraad van 1937 toon reeds teenstand hierteen: ‘… whilst we discourage the practice of sisters being elected on local committees yet in exceptional circumstances where local conditions demand it, it shall be permissible to elect good sisters who have the full confidence of the assembly’ (Algemene Jaarlikse Konferensie 1937:1877–1878). Dit lei uiteindelik daartoe dat geen vrou as gemeenteraadslid of -leier mag dien nie.

Kort eksegetiese oorsig

Om oor die diakonaat te besin, vereis ’n kort bespreking van die rol wat diakens in Nuwe-Testamentiese tye gespeel het. Hulle word saam met ouderlinge genoem (Fil 1:1) terwyl Paulus ook vereistes wat hy aan diakens stel in 1 Timoteus 3:8–13 belig.

Dat diakens ’n belangrike rol in die kerk vervul het, is duidelik wanneer hul werk in verband met die versorging van armes, weeskinders en weduwees gebring word. In die vroeë gemeente in Jerusalem het ’n redelike aantal arm mense voorgekom wat verskeie noodmaatreëls vereis het. Gemotiveer deur Jesus se ingesteldheid van diensbare opoffering, skuif gelowiges hul reg op hul eie besittings opsy om vir armes voorsiening te maak. Handelinge 2:44 vertel dat hulle niks vir hulself gehou het nie, maar alles as gemeenskaplike eiendom beskou het. Waar nodig, het hulle van hulle besittings verkoop om aan mense wat behoefte gehad het, uit te deel (v. 45). Soos die lede van die Esseense gemeenskap by Qumran het vroeë Christene armes, behoeftiges en vreemdelinge ondersteun met wat hulle besit het en van geïnisieerdes is verwag dat hulle alles verkoop en tot beskikking van die gemeente stel (Stott 1994:83). Hieroor sê Geza Vermes (1973:30) dat dit ’n noue ooreenkoms vertoon met optrede in die vroegste gemeente in Jerusalem.

Hulle het ook elke dag ‘met uitbundige vreugde’ (v. 46) saamgeëet, waarskynlik om te sorg dat niemand honger gaan slaap nie. Almal het die kos wat hulle beskikbaar gehad het met mekaar gedeel.8 Handelinge 4:34 getuig dat geen van die gelowiges dus gebrek gely het nie. In die Grieks-Romeinse kultuurwêreld het vriendskap vereis dat mense wederkerig vir mekaar sorg, maar dan was dit altyd mense wat sosiale gelykheid deel. Wat uniek by Christene is, is dat hulle die sorg na mense van alle sosiale lae uitbrei en goed doen sonder om iets terug te verwag, iets wat Grieke slegs van familielede verwag het (Witherington 1998:205). Die apostels het gesorg dat verdeling regverdig plaasvind (v. 35). Dit is ook die agtergrond van die vertelling oor Ananias en Saffira wat hul eiendom verkoop en voorgee dat hulle die volle verkoopprys vir die gemeente skenk terwyl hulle ’n deel daarvan vir hulself hou (Hand 5:1–11). Hul leuen lei tot hulle albei se dood.

Christendiakens is waarskynlik die parallel van die assistente (חַזָּן, chazzan) wat die hand van rabbi’s versterk het (Burtchaell 2004:317–21). Die Griekse term (διάκονος) verwys na dienaar, iemand wat deur die kerk aangestel word vir ’n spesifieke taak. Romeine 16:1 verwys na ‘ons suster Febe’ as ’n dienaar (διάκονος) waarvan ‘diaken’ afgelei is en die korrekte vertaling is ‘dienaar’ omdat dit op ’n dienswerk dui (Sproul 1994:249–250). Die opsiener of ouderling en diaken bestuur en versorg die gemeente terwyl diakens nie lering gee of gesag in die kerk uitoefen nie. Hulle versorg die fisieke nood van mense, gebaseer op die komplementêre dienswerk van ouderlinge en diakens in Handelinge 6.

Handelinge 6 beskryf ’n klag in die Jerusalemgemeente wat onder die aandag van die apostels gebring word. Die Griekssprekende gelowiges (Helleniste) het beweer dat die Hebreeussprekendes bevoordeel word terwyl hul eie weduwees in die daaglikse versorging oor die hoof gesien word.9 Die apostels neem die klagte ernstig op, roep al die gelowiges bymekaar en bied die gemeente die geleentheid om sewe diakens (waarskynlik Helleniste) aan te wys ‘van goeie getuienis en vol van die Gees en wysheid’ wat die versorging van behoeftiges behartig en die verspreiding van kos uitvoer (v. 3). Die apostels beskryf hul eie taak dan as ‘gebed en die bediening van die woord’ (v. 4).

Barmhartigheidswerk in die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika

Vroegste jare

In die vroegste AGS was die meeste lidmate waarskynlik arm; Pentekostaliste het selde vooraanstaande lidmate van hoofstroomkerke getrek en was aangewese op gemarginaliseerdes, soos alkoholiste, straatbewoners en prostitute. Dié mense se finansiële nood was in baie gevalle kritiek en medegelowiges het hul karige inkomste met diesulkes gedeel. Plaaslike gemeentes het geen strukture gehad wat materiële nood effektief kon aanspreek nie.10

In die depressiejare vererger armoede en finansiële swaarkry en dit tref die jong kerk hard wat kerkgeboue se verbande afbetaal. Die grootste finansiële verknorsing het egter die hoofkantoor (en Uitvoerende Raad) van die kerk getref wat ’n nuwe kantoorkompeks en konferensiesentrum Residency in 1929 in Johannesburg gebou het. Wanneer gemeentes se inkomste daal, reflekteer dit in hul bydraes aan die hoofkantoor en weldra het die skuldlas so groot geword dat die kerk reeds teen 1932 nie meer sy salarisrekening vir hoofkantoorwerknemers kan betaal nie. Die Uitvoerende Raad verleen nou ook geen toestemming meer aan gemeentes om verbande aan te gaan nie. Hulle neem self verbande op bestaande gemeente-eiendomme uit om hul eie skuldlas te help delg. Pogings om die nuwe gebou te verkoop, is ook onsuksesvol.

Vroeër het die kerk lidmate aangemoedig om hul geld by hoofkantoor te belê. Die depressie laat talle hulle beleggings opvra en toe die gerug die rondte doen dat die AGS op die rand van sekwestrasie staan, eis nog meer lidmate hul geld. Dit bring die kerk nader aan insolvensie (Uitvoerende Raad 08 September 1932:1340; 04 Oktober 1932:1349). Lidmate besef ook dat as lede van die onbeperkte maatskappy hulle vir die kerk se skuldlas verantwoordelik gehou kon word. Dit lei in 1932 en 1933 tot talle bedankings van lidmate wat ontevrede oor die bestuur van die kerk geword het.

In dié krisistyd wat tot grootskaalse materiële nood onder alle Suid-Afrikaners gelei het, kan die AGS geen finansiële hulp uit sy fonds vir welsynsprojekte bied nie. Inteendeel, die kerk leun juis op lidmate vir finansiële steun om van insolvensie gered te word. Die fonds moes ook ’n kinderhuis en versorgingsoord vir afgetrede werkers en hul weduwees vestig, maar niks kom daarvan nie (Algemene Jaarlikse Konferensie 14–22 April 1933:1419). Die Residency sluk alle geld in. ’n Verdere dekade sou verloop voor die kerk weer aandag aan dié belangrike saak sou gee.

Eers teen Maart 1934 kom daar verligting wanneer die Residency verkoop word en die Algemene Werkerskonferensie ‘n beginselbesluit neem dat dat die kerk nie by enige kommersiële proposisies betrokke mag raak nie (Algemene Jaarlikse Konferensie 26–30 Maart 1934:1494).

’n Nuwe era

Dawid du Plessis lewer vanaf 1936–1947 as hoofsekretaris van die AGS ’n belangrike bydrae, onder meer om ’n nuwe visie vir barmhartigheidswerk te vestig totdat hy as sekretaris van die Wêreldkonferensie van Pinksterkerke na Europa verhuis. Nog ’n leidende figuur in barmhartigheidswerk is Gerrie Wessels, reeds as 24-jarige in Maart 1937 tot die Uitvoerende Raad verkies (Burger & Nel 2008:130) waarvan hy 33 jaar ’n lid bly.11 As pastoor van Pinksteroordgemeente in Johannesburg koop hy in 1938 ’n huis en omskep dit in ’n kinderhuis vir 14 kinders wat nie slegs tot AGS-kinders beperk is nie. Toe meer as vyftig name op die waglys beland, vra Wessels die Uitvoerende Raad om daarvoor verantwoordelikheid te neem. Hy word in 1940 as direkteur van die huis aangestel (Uitvoerende Raad 29 Augustus 1940:2228) wat in 1941 na die kerk se konferensiegrond by Maranathapark in Lyndhurst verskuif. Oor die jare is die huis vergroot sodat dit teen 1949 reeds 200 kinders huisves (Burger 1988:290).

In 1944 vestig hy die georganiseerde diakonaat deur die kerk se vrouens op te roep om by die materiële nood in hul gemeentes en gemeenskappe betrokke te raak. Dit het die AGS dus 35 jaar geneem om barmhartigheidswerk formeel in gemeentes te organiseer. Wessels sien die potensiaal by vroue raak, gemotiveer deur die uitmuntende werk wat mev. H.P. Bantjies sedert 1927 saam met ander vroue gelewer het (Burger & Nel 2008:213). Die Uitvoerende Raad magtig die organisasie van Dorkasrade12, asook die weeshuiskomitee (Uitvoerende Raad 14 Augustus 1944:2618). Hiervolgens moet elke gemeente ’n Dorkasraad skep onder toesig van ’n nasionale welsynsraad wat fondse tot voordeel van hul gemeenskap insamel en administreer (Uitvoerende Raad 14 Augustus 1944:2618). Die Welsynsraad word in Maart 1951 by die Departement van Volkswelsyn geregistreer. As direkteur vir barmhartigheidswerk vestig Wessels ook in 1950 die eerste ouetehuis (redakteur, Junie 1950:10).

As 30-jarige word Wessels in 1943 tot visepresident verkies, ’n pos wat hy beklee tot 1970. Toe hy in 1955 ’n Nasionale Partysenator word, steek dit talle lidmate dwars in die krop en die kerk se barmhartigheidswerk ly skade, aangesien talle hul bydraes terughou. As senator het hy egter talle deure vir die kerk kon oopsluit, ook in regeringskringe waar steeds ’n mate van antipatie teenoor die AGS as ‘sekte’ bestaan het.

Die tweede- en derdegeslag-lidmate in die vestiging van enige herlewingsbeweging sien dikwels sekere veranderinge wat verband hou met die noodwendige institusionalisering van organisasies om dit standhoudend te maak. In die wit AGS het dit tot verskeie veranderinge gelei in hoe die kerk haarself en haar funksie in die samelewing gesien het, Dit sluit in dat die AGS aansoek doen om as kerk geregistreer te word, iets wat Wessels aanvoor en tot die aanvaarding van Privaatwet No. 24 van 1961 gelei het. Vanaf 23 Februarie 1962, met die publikasie van die proklamasie in die Staatskoerant, funksioneer die AGS nie maar onder die maatskappyewet nie, maar as kerk (redakteur, Maart 1962:9) ? Maart 1962:9). Om ‘kerk’ te wees, lei egter ook tot verdere veranderinge. Die wit gemeentes bou nou nie, meer sale nie maar kerkgeboue in dieselfde vorm as hoofstroomkerke, met preekstoele, orrels en ouderlingbanke. Die liturgie word ook baie stiller en meer geformaliseerd; die orkes word vir ’n orrel verruil. Vir die eerste keer praat die kerk van ampte in dieselfde sin as ander tradisies. Die gemeenteleier word ‘pastoor’ genoem en die gemeenteraad bestaan uit ouderlinge en diakens (Uitvoerende Raad 13 November 1956:4777). Die funksie van die ouderlinge is om, saam met die pastoor, die gemeente te bestuur terwyl die diakens se taak beperk word tot kollekte opneem, nagmaal bedien en ander dienswerk. Dit sluit enige barmhartigheidswerk uit wat in die (bekwame) hande van die Dorkasraad was, terwyl die kerk ook aktief na samewerking met ander kerke streef (Nel 2018a:2–8).

Die AGS het in haar beginjare nie aktief by die samelewing betrokke geraak nie omdat dit op evangelisasie gekonsentreer het en (veral) nie in die breër ‘Afrikaner’-gemeenskap veel aanvaarding geniet het nie.13 Lidmate is aangemoedig om nie by kultuuraangeleenthede, partypolitiek of enige ‘wêreldse’ aktiwiteite betrokke te raak wat hul aandag van hul verhouding met die Here en betrokkenheid by kerk mag aftrek nie (Nel 2016:143–151). Lidmate is selfs ontmoedig om by militêre diens of naskoolse studie betrokke te raak. Die ná-depressiejare sien egter dat talle lidmate se sosio-ekonomiese omstandighede verbeter wat hul lewensuitkyk, waardestelsel en sosiale gerigtheid en betrokkenheid beïnvloed. Die AGS wil nou doelbewus nie meer as arm, eenvoudige mense getipeer word nie. Die kerk stig selfs ’n studiefonds wat wat jongmense vanaf 1955 in staat stel om hulself verder te bekwaam (Algemene Jaarlikse Konferensie 04–07 April 1955:4512).

Die nuwe era lei egter ook tot ’n geestelike afplatting, soos gesien kan word in ’n daling in lidmaatgetalle, asook doopkandidate en mense wat getuig dat hulle die Geestesdoop deelagtig geword het (Algemene Sekretaris Junie 1954:4–5). Die veranderinge pas nie almal nie en ’n groep mense wat ontevrede met die status quo is, stig uiteindelik in 1958 die Pinkster Protestantse Kerk (PPK), wat teruggryp na die liturgie van die vroeë AGS (Burger 1988; Du Plessis 1984; Uitvoerende Raad 13 November 1958:5165 vertel die twee kerke se verhaal hiervan).

Die wese van barmhartigheidswerk gedurende dié jare verander ook, wat verband hou met die verbetering van lidmate se finansiële situasie. Baie meer geld is beskikbaar en gemeentes raak ambisieus by barmhartigheidsprojekte betrokke.14

Finansiële uitdagings van die tagtigerjare

Eenwording tussen die vier afdelings van die AGS, wat lank in die vooruitsig gestel is, maar telkemale gestrand het, sit wantroue van die kant van die voormalige blanke AGS in die bestuurstrukture van die kerk voort. Die kerk het tot in daardie stadium op gesentraliseerde wyse die die sake en projekte van die wit (en swart) kerk behartig en met mag mag en gesag in die Uitvoerende Raad en ampsdraers gevestig. Dit lei in die tagtiger- en negentigerjare van die vorige eeu tot ’n finansiële krisis wat talle in die wit kerk oortuig van die noodsaak dat die kerk moet desentraliseer en mag na plaaslike gemeentevlak afgewentel moet word.

Die wit Uitvoerende Raad besluit in November 1983, op aandrang van die destydse Trust Bank, om ’n oorsese verband van tien miljoen rand teen ’n lae rentekoers aan te gaan. Hulle belê sewe miljoen rand daarvan by Legal General Volkskas en benut drie miljoen rand vir projekte in die AGS. Die hooftesourier identifiseer eiendomme in die kerk wat as sekuriteit dien (Uitvoerende Raad 21 November 1983:158 – Resolusie 664). Vroeg in 1984 stel die Uitvoerende Raad ’n komitee aan om die buitelandse lening te bestuur en enige uitdagings vroegtydig te identifiseer. Die Uitvoerende Raad besluit ook om versekering teen fluktuasie van die rentekoers uit te neem. Die komitee verskaf in 1984 een miljoen rand aan die AGS Corpus Christi-gemeente in Pretoria teen tien persent rente per jaar. Teen die middel van 1985 besef die Uitvoerende Raad dit kan geen gemeentes verder met die leninggeld help nie (Uitvoerende Raad 19 Maart 1984:226, Resolusie 102). Regerings wêreldwyd stel ekonomiese sanksies teen die apartheidsregering in oor hul apartheidsbeleid met gedwonge rassesegregasie en onderdrukking van swart mense (Mathole 2006:252). Die noodtoestand wat die regering op 20 Julie 1985 instel, dra verder tot sosiale onrus in talle woonbuurte by en talle internasionale banke roep hul lenings in Suid-Afrika op. Vir vier maande staak die regering die betaling van alle buitelandse lenings wat die ekonomie verder verswak en bydra tot ’n reeds hoë werkloosheidskoers, gevolglike armoede en ’n inflasiekoers wat by 30 persent draai. Die olieprys verhoog in die lig van ’n wêreldwye energiekrisis. Teen die einde van 1985 is die Suid-Afrikaanse geldeenheid min werd.

Die Uitvoerende Raad sny sy uitgawes tot op die been toe die kerk se verpligtinge dramaties toeneem en ampsdraers verplig is om ekstra (duur) versekering op ’n verdere verswakking van die wisselkoers uit te neem. Dit is wel waar dat die kerk bates van R39 miljoen rand besit waarvan slegs R16 miljoen deur verbande beswaar is, maar oorgrote meerderheid hiervan behoort aan gemeentes wat self die verbande diens.

In die 1970’s koop die kerk ’n plaas by Knoppieslaagte (wes van Wierdapark, Pretoria) met die doel om nuwe konferensie- en hoofkantoorfasiliteite daar te vestig. Die AGS kry die helfte van dié eiendom verkoop.

Die Uitvoerende Raad stel voor dat die AGS ’n eiendomsontwikkelingsmaatskappy stig wat eiendom in ’n wye spektrum koop en 30 000 aandele aan lidmate verkoop teen R350 elk om R10.5 miljoen te realiseer. Die Werkersraad stem egter die voorstel ut nadat die kerk reeds R1.5 miljoen in ’n soortgelyke skema wat deur Philip Gerber gevestig is, verloor het (Uitvoerende Raad 05 Maart 1986:484, Resolusie 874). Die Werkersraad besluit verder in Oktober 1985 dat alle gemeentes een persent van hul inkomste van die voige jaar vir die delging van die lening skenk.

In 1986 versoek die AGS Trust Bank om die buitelandse lening binnelands te skuif; die kerk leen terselfdertyd R35 miljoen teen ’n vasgestelde rentekoers van sewe persent. Distrikrade word ook verantwoordelik gemaak vir die maandelikse rente van die verband.

Teen 1990 besluit die Werkersraad om die buitelandse lening na distrikrade af te wentel en alle hoofkantooreiendom te verkwansel. Dit volg nadat die AGS se bankrekening in ’n stadium bevries is vanweë slegte skuld. ’n Gevolg hiervan is dat die voorneme om mag te desentraliseer al meer by die wit AGS inslag gevind het.

Wantroue in die verenigingsproses

Soos genoem, het die AGS as een liggaam ontstaan, maar weldra by bestaande samelewingstrukture van die land ingeval om vier afdelings te vorm. Die wit seksie het die ander afdelings as hul sendingveld beskou en geld daaraan spandeer om sendelinge te besoldig om swart mense met die evangelie te bereik. Die AGS het die ander afdelings beheer omdat hulle die rekeninge betaal het. Die wit kerk het ook op versoek, sover dit in haar vermoë was, geld aan sendelinge beskikbaar gestel om arm gelowiges te help.

Mettertyd het leiers in die ander afdelings, veral ‘Kleurling’- leiers, ontevrede met die voogdyskap geraak wat leierskap tot wit mense beperk en gemeentes enige seggenskap ontsê het. Die wit kerk het egter eers teen die tagtigerjare van die vorige eeu besef dat politieke veranderinge besig is om hulle in te haal en hulle het tot die eenwordingsproses ingestem. Van die kant van sommige wit mense was daar egter ’n diepgaande suspisie dat eenwording wit gemeentes se eiendomme sou bedreig, gegewe die ongelykhede wat ten opsigte hiervan tussen wit en swart gemeentes bestaan het (en steeds bestaan).

Die ander drie afdelings het mettertyd ongeduldig met die wit afdeling geword wat traag was betreffende eenwording het en in September 1990 verenig as die saamgestelde afdeling (Kgatle 2017:7, 2021:3; Nel 2012:121–139).

Die volgende stap was dat die twee afdelings verenig. ’n Nuwe konstitusie wat op 03 April 1996 aanvaar is, maak daarvoor voorsiening (Nel 2014:123). Op 05 April 1996, ná 88 jaar, verenig die kerk as ’n ‘nie-rassige’ kerk.15 Die volledige proses van eenwording tussen streek- en nasionale rade, department en teologiese kolleges duur twee jaar.

Hierna vind die AGS dit nodig om gereeld die stand van vereniging binne die kerk te besoek.16 Kan daar eenheid wees indien die kerk dit op grondvlak ne reflekteer nie, gegewe dat die Suid-Afrikaanse samelewing na byna dertig jaar van demokrasie steeds grootliks gesegregeerd is, wat in die samestelling van gemeentes reflekteer? ’n Verdere faktor is taal, aangesien Afrikaans talle swart mense weghou van plaaslike gemeentes wat eksklusief in Afrikaans bedien (soos bespreek in Chandomba 2007:41 en Nel 2019). Sommige mense meen dat taal en kultuur definiërend vir die plaaslike gemeente behoort te wees en dat voorsiening vir mense van ander tale en kulture noodwendig tot die verlies aan ’n eie identiteit lei. Die gesprek het ook ’n politieke kleur omdat sommige wit Afrikaanssprekende mense nie bereid is om ruimte vir mense van ander kulture in hul gemeentes te maak nie.

Dit is duidelik dat die AGS ’n belangrike taak het om haar lidmate in die doelbewuste van vooroordele en die noodsaak van kulturele interaksie op te lei. Andrew (2005:135) is korrek in sy waarneming: ‘The unity of the believers exists in the fact that those who are part of Christ are united in His body’ (sien ook Köstenberger 2017:445).

Intussen is die werklikheid dat miljoene Suid-Afrikaners onder die broodlyn verkeer. Die Wêreldbank skat in April 2020 dat ongeveer 55.5 persent of 30.3 miljoen mense in armoede leef, soos gemeet aan die nasionale boonste armoedelyn (wat R992 is). ’n Totaal van 13.8 miljoen mense of 25 persent beleef daagliks akute voedselgebrek.17 Dit is die werklikheid wat die AGS moet konfronteer.

Nasionale welsynsprojekte

Die integrasie van die afdelings het finansiële herstrukturering genoodsaak nadat staatsubsidies terselfdertyd dramaties besnoei is, wat die oorlewing van die ses ouetehuise in Lyndhurst, Villieria, Bloemfontein, Kuilsrivier, Touwsriver en Port Elizabeth beïnvloed het. Intussen ontwikkel die kerk ook aftree-oorde in Centurion, Table View en Klerksdorp. Die AGS Welsynsdepartement sorg in totaal vir 800 mense in ouetehuise (Nasionale Leierskapsforum 30 Julie–02 Augustus 2019:224–228).

Die Welsynsraad het in 1996 ’n ABBA-aannemingsprogram aanvaar wat kinderhuise desentraliseer en terugneem na gemeenskappe. Daarom het die kerk die twintig Villa Lubet-kinderhuise wat in Lyndhurst ontwikkel is vir R12 miljoen verkoop en die geld aangewend vir kinderhuise in behoeftige gemeenskappe. Een en twintig satelliethuise is met die hulp van negentien gemeentes gevestig (Nasionale Leierskapsforum 14–17 November 2005:Annual Welfare Report).

Die Welsynsraad onder die naam Ndiswe (Xhosa: ‘ek is geneem’) stel ’n kapasiteitsontwikkelingsprogram aan plaaslike gemeentes beskikbaar wat hulle aanmoedig, motiveer en bemagtig om ’n verskil in hulle eie gemeenskappe te maak, onder meer om materiële en geestelike verantwoordelikheid vir kinders in satelliethuise te aanvaar.

Die Welsynsraad het ook halfweghuise vir verlate babas, weesbabas en babas met spesiale behoeftes gevestig, sover moontlik aan plaaslike gemeentes verbind en in die plaaslike gemeenskap geïntegreer. Tot op datum bestaan negentien sulke huise wat tot talle suksesvolle aannemings gelei het. Die kerk het ook vier huise vir babas met gestremdhede en terminale siek babas en sewe huise vir MIV-positiewe babas. Tot op hede is meer as 2500 babas in dié huise toegelaat; dit versorg ’n gemiddelde van 22 babas en 255 erg mishandelde en seksueel mishandelde babas elke nag (AGS Uitvoerende Welsynsraad 2021).

Op nasionale vlak is Ndiswe ook by gemeenskapswerk betrokke deur verskeie maatskaplike werkers te vergoed wat in die onderskeie gemeenskappe op plaaslike vlak belangrike dienste verskaf.18

Dit is egter alles nasionale inisiatiewe. Plaaslike gemeentes is nou, met die afwenteling van mag, aan hulleself oorgelaat om barmhartigheidswerk te doen. In baie gevalle het wit gemeentes hul Dorkasrade in welsynsrade omskep, maar dit funksioneer nie ewe goed in alle gemeentes nie. En hulp is steeds meestal tot die ‘volkseie’ beperk, terwyl vroue se bydrae in baie gevalle steeds slegs tot die diakonaat beperk is.

Sintese en gevolgtrekking

Die AGS het haar geskiedenis herhaal wat begin het met gemeentes wat eie inisiatief moes neem om in mense se materiële nood te voorsien. Hulp is meestal tot eie mense beperk. Vandag heers naastenby dieselfde situasie. Wat vra dit van die kerk?

In die lig hiervan is die voorstel dat die AGS opnuut en dringend oor barmhartigheidswerk in die plaaslike gemeente besin deur ’n struktuur te skep wat by dié van die Vroegste Kerk aansluit. Tereg skryf Lapoorta (1996:253) dat ware eenheid eers sal realiseer wanneer kerkstrukture aangepas en kerkorde geformuleer word wat die vroegste kerke se voorbeeld volg. Suid-Afrika benodig (onder meer) kerke wat die sosio-ekonomiese uitdagings van ongelykheid wat op die apartheidsverlede gebou is, sinvol en kragtig aanspreek. Die eenheid van die kerk sal eers gebeur wanneer alle weergeborenes sonder enige verhindering met mekaar gemeenskap kan hou (Ntlha 2007:43).

Die voorstel behels dat die diakonaat vir barmhartigheidswerk heraangewend en verantwoordelik gemaak word; hul taakomskrywing sluit in dat hulle die groter gemeenskap en sy nood raaksien en die gemeente konstruktief daarby betrokke maak. Dit is noodsaaklik dat hul verpligtinge oor alle woonbuurtgrense strek, gegewe die situasie van sosio-maatskaplike ongelykheid. In die gemeenskap van gelowiges bestaan die behoefte aan sosiale kohesie wat die vooruitsig op ware eenheid direk beïnvloed (Molobi 2014:3) wat dan deur gemeentes se barmhartigheidstaak kan realiseer. Sosiale kohesie tussen gelowiges realiseer wanneer die Nuwe-Testamentiese ideaal bereik word waarvolgens niemand gebrek ly nie, veral voedselgebrek. Wit AGS-gemeentes benodig ’n struktuur wat gelowiges in staat stel om in die nood van arm en behoeftige mense te voorsien deur hande met gemeentes in arm gemeenskappe te vat en by noodverligting betrokke te raak. Op dié manier sal die diakensamp opnuut en sinvol binne die AGS gekwalifiseer en herdefinieer word.

Die AGS het deur haar geskiedenis sendingwerk sterk beklemtoon en ernstig opgeneem. Wat nou nodig blyk, is dat hulle hul sendingtaak herdefinieer om barmhartigheidswerk in te sluit. In die sosiale ongelykheid wat die Suid-Afrikaanse samelewing bepaal, kan arm mense – werkloses, wat van ontoereikende staatstoelaes leef of min vergoedng ontvang – effektief met die evangelie bereik word deur in hul grootste materiële nood te voorsien. Sommige gemeentes bedryf reeds sopkombuise (wat ook meer substansiële etes verskaf) wat daartoe bydra dat niemand, ook geen kind, honger gaan slaap nie.

Wat dit vir die nasionale kerk prakties beteken, is dat dit gemeentes doelgerig moet bemagtig en motiveer om gestruktureerd hul hulpbronne oor rassegrense (wat ongelukkig steeds die meeste gemeentes kenmerk) met mekaar te deel. Plaaslike gemeentes kan ook finansiële ondersteuning aan gemeentes bied wat nie die mas opkom nie, veral in post-COVID-19 tye wat die armoede-uitdaging in Suid-Afrika vererger het. Oorwegend wit gemeentes, veral in stedelike gebiede, kan dit ook oorweeg om gemeentes in armer gebiede aan te neem sodat die kerk betrokke kan raak by gemeenskapsontwikkelingsprojekte, of so iets inisieer inisieer. Die Nasionale Leierskapsforum se Strategie vir ’n Meesterplan van 2002 het reeds hierna verwys.19

Verdere navorsing hieroor is nodig om die AGS te motiveer en toe te rus om die diakonaat te herontwerp en strategies te ontplooi om die kerk se missie te verwesenlik. Dat dit in die Suid-Afrikaanse sosio-maatskaplike en ekonomiese krisissituasie krities nodig geword het, sal niemand kan ontken nie. In die artikel word breë riglyne gebied hoe die kerk sy strategie kan beplan.

Erkenning

Die outeur bedank die Nasionale Navorsingsfonds van Suid-Afrika vir fondse om die studie te voltooi. Standpunte in die artikel reflekteer nie noodwendig die siening van die NNS nie.

Mededingende belange

Die skrywer verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Outeursbydrae

Die artikel is die bydrae van slegs een skrywer.

Etiese oorweging

Die artikel voldoen aan alle etiese standaarde vir navorsing sonder direkte kontak met mens of dier.

Befondsingn

Die skrywer verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verhouding(s) het wat hom onvanpas beïnvloed het met die skryf van hierdie artikel nie.

Databeskikbaarheidsverklaring

Data-deling is nie van toepassing op die artikel nie, aangesien geen nuwe data in die studie geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die skrywer en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die skrywer nie.

Aangehaalde werke

AGS Uitvoerende Welsynsraad, 2021, Jaarlikse verslag, AGS Hoofkantoor, Centurion.

Algemene Jaarlikse Konferensie, Notule, 14–22 April 1933, Boek 5, AGS Argief, Johannesburg.

Algemene Jaarlikse Konferensie, Notule, 26–30 Maart 1934, Boek 5, AGS Argief, Johannesburg.

Algemene Jaarlikse Konferensie, Notule, 22–27 Maart 1937, Boek 7, AGS Argief, Johannesburg.

Algemene Jaarlikse Konferensie, Notule, 04–07 April 1955, Boek 18, AGS Argief, Johannesburg.

Algemene Sekretaris, Junie 1954, ‘Verslag’, Trooster, 4–5.

Anderson, A.H., 2005, ‘The dubious legacy of Charles Parham: Racism and cultural insensitivities among Pentecostals’, Pneuma 27(1), 51–64. https://doi.org/10.1163/157007405774270392

Andrew, D.N., 2005, ‘From vision to structure: Assessing the Apostolic Faith Mission of South Africa in the light of the one, holy, catholic and apostolic church’, PhD thesis, University of the Western Cape.

Burger, I. & Nel, M., 2008, The fire falls in Africa: A history of the Apostolic Faith Mission of South Africa, Christian Art, Vereeniging.

Burger, I.S.v.d.M., 1988, Geloofsgeskiedenis van die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika 1908–1958, Evangelie Uitgewers, Johannesburg.

Burtchaell, J.T., 2004, From synagogue to church: Public services and offices in the earliest Christian communities, Cambridge University Press, Cambridge.

Chandomba, L., 2007, The history of the Apostolic Faith Mission and other Pentecostal missions in South Africa, Authorhouse, Milton Keynes.

Conference Business Meeting, Minutes, 02 Junie 1910, Voorlopige notuleboek van die Uitvoerende Raad, AGS Argief, Johannesburg.

Conference Business Meeting, Minutes, 04 Oktober 1912, Voorlopige notuleboek van die Uitvoerende Raad, AGS Argief, Johannesburg.

Conference Business Meeting, Minutes, 14 Oktober 1912, Voorlopige notuleboek van die Uitvoerende Raad, AGS Argief, Johannesburg.

Downey, C.W., Maart 1914, ‘The gospel of the kingdom’, The Word and Witness 20, 1.

Du Plessis, L., 1984, ’n Geskiedenis van die Volle Evangelie-Kerk van God in suidelike Afrika, Volle Evangelie Kerk van God, Irene.

Editor, November 1910, ‘Editorial’, Comforter 11:1.

Editor, Junie 1950, ‘Editorial’, Comforter p. 10.

Editor, Maart 1962, ‘Editorial’, Trooster p. 9.

Erasmus, L.J., 1996, ‘Theological education in the Apostolic Faith Mission of South Africa’, PhD thesis, University of South Africa.

Kendrick, K., 1961, The promise fulfilled: A history of the modern Pentecostal movement, Gospel Publishers, Springfield, MI.

Kgatle, M.S., 2017, ‘A socio-historical analysis of the sections in the Apostolic Faith Mission of South Africa from 1908 to the present’, Verbum et Ecclesia 38(1), 1–10. https://doi.org/10.4102/ve.v38i1.1668

Kgatle, M.S., 2021, ‘A quarter century of structural unity in the Apostolic Faith Mission of South Africa: A socio historical analysis’, Studia Historiae Ecclesiasticae 47(1), 13 pages. https://doi.org/10.25159/2412-4265/8088

Köstenberger, A.J., 2017, Commentary on 1–2 Timothy and Titus, B & H, Nashville, TN.

Langerman, J.L., 1983, ‘Apostolic Faith Mission of South Africa: A revitalization of the theological concepts of church ministry’, DMin dissertation, Fuller Theological Seminary, Pasadena, CA.

Lapoorta, J.J., 1996, Unity or division? The unity struggles of the black churches within the Apostolic Faith Mission of South Africa, Author, Kuils River.

Mathole, E.M.K., 2006, ‘The Christian witness in the context of poverty with special reference to the South African charismatic Evangelicals’, PhD thesis, University of Pretoria.

Melton, J.G. & Baumann, M. (eds.), 2010, Religions of the world: A comprehensive encyclopedia of beliefs and practices, Abc-Clio, Santa Barbara, CA.

Molobi, V., 2014, ‘Living in the townships: An appraisal of Pentecostal social ministry in Tshwane’, HTS Theological Studies 70(3), 1–9. https://doi.org/10.4102/hts.v70i3.2791

Nasionale Leierskapsforum, Notule, 14–17 November 2005, AGS Argief, Johannesburg.

Nasionale Leierskapsforum, Notule, 30 Julie–02 Augustus 2019, AGS Argief, Johannesburg.

Nel, M., 1993, ’n Man deur God in ’n hoek gedryf, John G Lake Stigting, Johannesburg.

Nel, M., 2012, ‘The process of unification of the AFM of SA’, Studia Historiae Ecclesiasticae 32(2), 121–141.

Nel, M., 2014, ‘A hundred years of theological training in the Apostolic Faith Mission of South Africa’, Acta Theologica 34(1), 108–126. https://doi.org/10.4314/actat.v34i1.7

Nel, M., 2016, ‘Pentecostalism and the early church: On living distinctively from the world’, Journal of Theology for Southern Africa 153, 141–159.

Nel, M., 2018a, ‘Pentecostal ecumenical impulses: Past and present challenges’, In die Skriflig 52(1), a2330. https://doi.org/10.4102/ids.v52i1.2330

Nel, M., 2018b, ‘Pentecostals and the pulpit: A case study of the Apostolic Faith Mission of South Africa’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 74(2), 4664. https://doi.org/10.4102/hts.v74i2.4664

Nel, M., 2019, ‘Moedertaal in die kerk: Die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika (AGS van SA) en Afrikaans as ’n illustrasie van die rol van moedertaal in die kerk’, Tydskrif vir Geesteswetenskappe 59(2), 177–191. doi.10.17159/2224-7912/2019/v59n2a1

Newman, B.M. & Nida, E.A., 1972, A handbook on the Acts of the Apostles, UBS Handbook Series, United Bible Societies, New York, NY.

Ntlha, M.K.S., 2007, ‘Evangelicals and ecumenism in South Africa 1960–1990: Opportunities and pitfalls’, PhD thesis, University of KwaZulu-Natal.

Paul, S.A., 2009, The ubuntu God: Deconstructing a South African narrative of oppression, vol. 101. Wipf & Stock, Eugene, OR.

Polhill, J.B., 1992, Acts: An exegetical and homiletical exposition of Holy Scripture, New American Commentary 26, Holman Reference, Nashville, TN.

Sproul, R.C., 1994, The gospel of God: An exposition of Romans, Christian Focus, Fearn, Scotland.

Stott, J.R.W., 1994, The message of Acts: The Spirit, the church & the world, The Bible Speaks Today, InterVarsity, Leicester.

Uitvoerende Raad, Notule, 04 Junie 1909, Voorlopige notuleboek van die Uitvoerende Raad, AGS Argief, Johannesburg.

Uitvoerende Raad, Notule, 08 September 1932, Boek 5, AGS Argief, Johannesburg.

Uitvoerende Raad, Notule, 04 Oktober 1932, Boek 5, AGS Argief, Johannesburg.

Uitvoerende Raad, Notule, 29 Augustus 1940, Boek 8, AGS Argief, Johannesburg.

Uitvoerende Raad, Notule, 14 Augustus 1944, Boek 9, AGS Argief, Johannesburg.

Uitvoerende Raad, Notule, 13 November 1956, Boek 19, AGS Argief, Johannesburg.

Uitvoerende Raad, Notule, 13 November 1958, Boek 20, AGS Argief, Johannesburg.

Uitvoerende Raad, Notule, 21 November 1983, AGS Argief, Johannesburg.

Uitvoerende Raad, Notule, 19 Maart 1984, AGS Argief, Johannesburg.

Uitvoerende Raad, Notule, 05 Maart 1986, AGS Argief, Johannesburg.

Vermes, G., 1973, Jesus the Jew: A historian’s reading of the Gospels, Collins, Glasgow.

White, J.F., 2002, ‘Rearranging the furniture: The changing face of worship space’, Reformed Worship 64, viewed 03 March 2023, from http://www.reformedworship.org/article/june-2002/rearranging-furniture-changing-face-worship-space.

Witherington, B., 1998, The Acts of the Apostles: A socio-rhetorical commentary, Wm. B. Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Voetnotas

1. Die term ‘blanke’ of wit word om historiese redes gebruik, in terme van Suid-Afrika se reg wat voor 1994 onderskeid tussen rasse getref het.

2. Die afdelings is volgens rasse-onderskeid gemaak sodat daar ’n swart, Indiër-, Kleurling- en wit afdeling was. Wit gemeentes het nie ruimte vir lidmate van ander rasse gehad nie alhoewel dieselfde verbod nie in die ander afdelings gegeld het nie. Taal was ’n onderskeidende faktor wat binne die afdelings dikwels verdere grense getrek het. Teen 1911 het die kerk reeds ’n afsonderlike gebou vir swart mense gehuur, in Beitstraat 45, Doornfontein alhoewel laasgenoemde steeds in die wit gemeente gedoop is (Burger & Nel 2008:199). Teen 1917 het die moedergemeente by die Juliekonferensie dit duidelik gestel dat swart mense hul eie dienste moet ondersteun en nie by die wit eredienste welkom is nie: ‘That we do not teach or encourage social equality between Whites and Natives. We recognise that God is no respecter of persons, but in every nation he that feareth him and worketh righteousness is acceptable to Him’ (Burger & Nel 2008:199).

3. Die twintigste eeu breek in Suid-Afrika met die verwoesting van die tweede Anglo-Boereoorlog aan. Terselfdertyd stroom baie mense na die Witwatersrand na die ontdekking van goud aldaar in 1884, en verstedeliking lei tot verdere armoede. Talle van die vroeë lidmate het uit die geledere van arm en gemarginaliseerde mense gekom (Burger & Nel 2008:336).

4. Inleiding tot die Private Wet op die Apostoliese Geloof Sending van Suid–Afrika No. 24 van 1961, Staatskoerant (30 November 2022 geraadpleeg, van https://gazettes.africa/archive/za/1961/za–government–gazette–dated–1961–04–21–no–6670.pdf).

5. Die ampte van ouderlinge en diakens het die kerk herinner aan die Calvinistiese agtergrond waarteen Afrikaanssprekende kerke in daardie stadium gefunksioneer het. ‘… [T]he first members of the Apostolic Faith Mission held a dim view of all professional church leaders’ (Langerman 1983: 83–114).

6. Eers by die Werkersraadsvergaderings van 1931, 1934 en 1942 het die AGS die amp van ouderling formeel bevestig.

7. Soos berig in die kerk se amptelike maandblad Comforter van November 1910 en Desember–Februarie 1911.

8. Letterlik: ‘alles was in gemeen met hulle’ wat na gedeelde eienaarskap sou kon dui behalwe dat volgens die eerste uitdrukking dit verwys na die praktyk om alles wat ’n mens besit vrylik met ander te deel (Polhill 1992:151).

9. Die letterlike vertaling is: ‘om die tafels te bedien’. Philips vertaal dit as ‘to look after the accounts’, Goodspeed as ‘to keep accounts’. Die wyer betekenis van ‘om die tafels te bedien’ is volgens Newman en Nida (1972:135) om te sorg dat in die weduwees se behoeftes voldoen word. Dit sluit dan by 6:1 aan wat na die versorging van die weduwees verwys.

10. Die AGS het tydens die eerste 35 jaar selde die terme ouderling en diaken gebruik alhoewel Lake die amp van die ouderling hoog geag het soos ’n besluit van die Uitvoerende Raad (02 Maart 1909) wys: ‘(1) That Brothers. T. Hezmalhalch, John G. Lake, J.O. Lehman, Van de Wall and Elliot are the five recognized Elders of the Apostolic Faith Mission. (2) That all other workers be recognized in two classes, viz. Deacons and Missionaries’.

11. Nel (1993) beskryf die verhaal van Gerrie Wessels se betrokkenheid by welsyn.

12. Handelinge 9:36 verwys na ’n vrou wat oorvloedig in aalmoese en goeie werke was; die AGS het haar as model vir diakonaat gebruik.

13. ‘Afrikaner’ word in historiese sin gebruik as die wyse waarop wit Afrikaanssprekendes hulself geïdentifiseer het.

14. Mettertyd geniet barmhartigheidswerk in die ander afdelings van die AGS (swart, gemengde-ras-en Indiërmense) ook aandag. Die ‘Kleurling’-afdeling (die term word in historiese sin gebruik) wy die Sarepta-ouetehuis in 1968 in en stel in 1969 Dorkasrade op plaaslike vlak plaaslike vlak aan. Dieselfde gebeur nie in die ander twee afdelings nie (Burger & Nel 2008:284).

15. Die eenheidsproses word volledig in Burger (1988); Erasmus (1996); Lapoorta (1996); Anderson (2005); Burger en Nel (2008); Paul (2009); Melton en Baumann (reds. 2010) bespreek.

16. Soos byvoorbeeld in besprekings gereflekteer in notule van die Nasionale Leierskapsforum, 15 Maart 2006.

17. 02 Desember 2022 geraadpleeg, van https://databankfiles.worldbank.org/data/download/poverty/33EF03BB–9722–4AE2–ABC7–AA2972D68AFE/Global_POVEQ_ZAF.pdf.

18. Vir die nuutste volledige verslag oor die Nasionale Welsynsraad se aktiwiteit, sien agenda en verslae by Algemene besigheidsvergadering, 18–21 September 2022, pp. 131–154.

19. Verdere voorstelle kom voor in Strategy for Master Plan as proposed by the Seventh NLF Workshop Groups (Nasionale Leierskapsforum 26–29 Augustus 2002: Appendix 5.2.3).



Crossref Citations

No related citations found.