About the Author(s)


Willie van der Merwe Email symbol
Department of Practical Theology and Missional Studies, Faculty of Theology and Religion, University of Pretoria, Pretoria, South Africa

Citation


Van der Merwe, W., 2023, ‘Diens van barmhartigheid of diakonaat – hoe belangrik is ’n naam?’, Verbum et Ecclesia 44(1), a2783. https://doi.org/10.4102/ve.v44i1.2783

Note: Special Collection: Diakonia. This article was republished with an updated abstract to include the omitted English title. The publisher apologises for any inconvenience caused.

Original Research

Diens van barmhartigheid of diakonaat – hoe belangrik is ’n naam?

Willie van der Merwe

Received: 02 Dec. 2022; Accepted: 29 Mar. 2023; Published: 29 May 2023; Republished: 30 June 2023

Copyright: © 2023. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstrak

Service of Mercy or Diaconate - how important is a name? Churches hold different views regarding the office of deacon and role of deacons in the church. Churches also use different terms for their social ministries. This lack of a common language regarding the church’s diaconal ministry often creates confusion in the ecumenical discourse on the diaconate of the church. This article explores the hypothesis that the conceptualisation of a church’s diaconal ministry is influenced by a specific frame of reference, be it a historical perspective, a specific theology or tradition. In this case study of the Dutch Reformed Church (DRC) it is shown how a specific historical and theological understanding of diaconal ministry determines not only this church’s preference for the term ‘service of compassion’ but also its diaconal praxis. The article concludes with a suggestion to the DRC to consider the use of the concept diakonia in contemplation of more active participation in ecumenical disourses regarding the diaconate of the church.

Intradisciplinary and/or interdisciplinary implications: The article describes how a specific historical and theological understanding of diaconal ministry determines not only the DRC’s preference for the term ‘service of compassion’ but also its diaconal praxis. The suggestion to more actively participate in developing a common understanding of diakonia ecumenically has implications for the DRC’s ecclesiology, as well as its missional and social ministries.

Keywords: diaconia; diaconate; diaconal ministry; sevice of compassion; service and witness; church social services; church social work; community development; missio Dei; missional diaconate.

Inleiding

Kerke gebruik verskillende terme om hulle betrokkenheid by die maatskaplike nood van individue, groepe en gemeenskappe te beskryf. Die Rooms-Katolieke Kerk verkies die woord caritas, terwyl die benaming diakonia algemeen in Protestantse kerke gehoor word. Verskillende kerke huldig ook verskillende sienings oor die diakenamp en die diakonale bediening. Hierdie ‘spraakverwarring’ (Stoppels 2005:12) kan veroorsaak dat kerke in die ekumeniese diskoers oor die kerk se roeping aangaande die maatskaplike nood1 van die wêreld by mekaar verby praat of van mekaar verskil, alhoewel hulle dikwels dieselfde intensies het. Aan die einde van die vorige eeu het ’n groep Anglikaanse en Lutherse Kerke in die Nordiese en Baltiese lande ’n proses gevolg om groter samewerking tussen hierdie kerke te bewerkstellig. Die finale teks van die ooreenkoms is in 1996 in die katedraal van die Evangeliese Lutherse Kerk in Porvoo, Finland, onderteken. In ’n inleidingsartikel in die International Journal for the Study of the Christian Church merk Hall (2014:259) op dat hoewel beide die Wêreldraad van Kerke se dokument Baptism, eucharist and ministry (1982) en die Porvoo Verklaring (1996) baie belofte inhou vir die ontwikkeling van die bediening van die diaken in ’n ekumeniese konteks en gevolglik, in ‘a common understanding of diaconal ministry’, die term ‘diaconal ministry’ inderdaad baie probleme veroorsaak.

Dieselfde problematiek is ook in die Suid-Afrikaanse kerklike konteks aanwesig. In die familie van NG Kerke2 verkies die NG Kerk3 die oorkoepelende term diens van barmhartigheid terwyl die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika die terme diakonaat en diakonale dienste verkies. Die NGKA verwys doodeenvoudig na kerklike werk. Hierdie studie fokus op die NG Kerkfamilie, meer spesifiek die NG Kerk. Die doel is om die problematiek aangaande die ontwikkeling van ’n gemeenskaplik diakonale terminologie in die konteks van die NG Kerk te ondersoek ten einde ’n bydrae te maak wat verdere gesprek oor die konseptualisering van hierdie kerk se betrokkenheid in die maatskaplike nood van gemeenskappe kan stimuleer. Die hipotese is dat die konseptualisering van die bediening en gevolglik ook die oorkoepelende term waarmee die bediening beskryf word, beïnvloed word deur ’n spesifieke verwysingsraamwerk. Sodanige verwysingsraamwerk kan rus op ’n geskiedenis, ’n kerktradisie, ’n spesifieke teologie, ’n spesifieke konteks of invloede van ander vakdissiplines. Ter illustrasie: ’n groep verteenwoordigers van verskillende strukture in die NG Kerk is onlangs gevra watter terme mense gebruik wanneer hulle na dié kerk se maatskaplike bediening verwys.4 Die volgende lys is in ’n ommesientjie saamgestel: diens van barmhartigheid, diakonaat, diakonia, missionale diakonaat, sending, diensgetuienis, profetiese diakonaat, publieke teologie, gemeenskapsontwikkeling, gemeenskapsbetrokkenheid, bemagtiging, geregtigheid, armoedeverligting, armoede-opheffing, en kerklike maatskaplike dienswerk. Hierdie oefening bevestig die behoefte aan ’n gemeenskaplike taal of terminologie vir die gesprek oor die NG Kerk se maatskaplike betrokkenheid.

Die artikel word in vier afdelings of bewegings aangebied. Aanvanklik word die vestiging van die term ‘diens van barmhartigheid’ in die NG Kerk in ’n kort historiese oorsig verduidelik. In die tweede afdeling word die soeke na ’n gedeelde benaming vir die maatskaplike bediening van die kerke in die NG Kerkfamilie vlugtig beskryf. Die ekumeniese gesprek aangaande die konsep diakonia kry in die derde afdeling aandag, terwyl die konseptualisering van kernbegrippe wat veral in interdissiplinêre gesprekke tussen die maatskaplike bediening van die kerk en ander vakdissiplines relevant is, in die vierde deel kortliks bespreek word. Die artikel word afgesluit met ’n aantal gevolgtrekkings wat ten doel het om verdere gesprekke te stimuleer.

Die vestiging van die term ‘diens van barmhartigheid’ in die NG Kerk

Hoewel talle Protestantse kerke en ekumeniese liggame die term diakonia gebruik, verkies die NG Kerk ‘diens van barmhartigheid’. Om hierdie voorkeur te verstaan, is dit nodig om die historiese ontwikkeling van die NG Kerk se barmhartigheidsbediening te ondersoek.

Sedert haar ontstaan in die 17de eeu was die NG Kerk betrokke by die maatskaplike nood van haar lidmate, maar ook die nood in die gemeenskap. Hierdie betrokkenheid het meestal gefokus op versorging, maar in die literatuur is daar ook tekens van ontwikkelingsgerigte projekte soos vaardigheidsopleiding. Hierdie bediening is grootliks deur die diakonie behartig (Nieuwoudt 1990:75).

Die grootskaalse ongeletterdheid en lae opvoedingspeil van die blanke Afrikaner teen die einde van die 19de eeu, bedreigende politieke omstandighede as gevolg van toenemende Britse imperialisme, die ekonomiese agteruitgang van lidmate as gevolg van die eerste Suid-Afrikaanse Oorlog (1880–1881), asook die tweede Suid-Afrikaanse Oorlog (1899–1902) en swak landboutoestande het daartoe gelei dat die nood van ‘onze verarmde en verachterde landgenoten’5 ’n kernaspek van die NG Kerk se bediening geword het (Van Der Merwe 2021:191). Beskrywingspunte uit verskeie gemeentes het die 1915-sinode van die NG Kerk in SA (NG kerk Wes-Kaapland) gevra vir sterk optrede ten opsigte van die ‘opvoeding onder verachterde geloofsgenote’. In antwoord op hierdie beskrywingspunte het die Commissie over de Opvoedkundige en Godsdienstige Verzorging van die Minderbevoorrechte Lede onzer Kerk die Sinode gevra of ‘de tijd niet gekomen is om een reglement op te trekken voor sodanige arbeid’ (NGKSA 1915). Na aanleiding van ’n voorstel van hierdie kommissie dat ‘eene algemeene Commissie voor de Inwendige Zending’6 tot stand moet kom, besluit die Kaapse Sinode om sodanige kommissie in die lewe te roep met die volgende opdrag:

… de betere behartiging van de belangen van onze verachterde geloofsgenoten, volwassenen zoowel als kinderen, buiten zoowel as binnen het gebied van gevestigde gemeenten, met het recht om alle maatregelen te nemen tot de behoorlijke organisatie, uitbreiding en uitvoering van hare werkzaamheden, zooals door haar van tijd tot tijd nodig geoordeeld mocht worden. (p. 78)

By die volgende sitting van die Kaapse Sinode in 1919 is voorgestel dat die naam van hierdie kommissie verander word na Commissie vir Algemene Armesorg. Die ander sinodes van die NG Kerk7 het weldra die voorbeeld van die Kaapse Sinode gevolg deur ook Algemene Armesorgkommissies aan te wys.

In 1947 het die Algemene Armesorgkommissie van die Transvaalse Kerk daardie Sinode versoek om die naam van die kommissie te verander na die Kommissie vir Maatskaplike Sorg. Die Federale Armesorgraad het egter die behoud van die konsep ‘armesorg’ verkies. Die volgende jaar het die Transvaalse Kommissie vir Armesorg weer probeer om die Federale Armesorgraad te oorreed om die term ‘maatskaplike sorg’ te oorweeg–weer sonder sukses. ’n Dekade later was die Federale Armesorgraad egter gereed om die konsep ‘armesorg’ te laat vaar ten gunste van ‘diens van barmhartigheid’. In die verslag van die Kaapse Algemene Armesorgkommissie aan die sinode van die NG Kerk in Suid-Afrika wat in 1957 vergader het, word die volgende redes vir ’n naamsverandering aangevoer:

  • veranderinge ten opsigte van die ontstaan, aard, benadering en behandeling van maatskaplike vraagstukke;
  • die toetrede van die staat en talle welsynsorganisasies op die gebied van maatskaplike dienslewering;
  • nuwe eise wat gestel word en meer wetenskaplike besinning verg;
  • die werk is nie meer beperk tot versorging of noodleniging ten opsigte van materiële nood nie;
  • die besef dat Christus se barmhartigheid in die eerste plek gewy is aan die maatskaplike en geestesnood van die hulpbehoewende mensdom (NGKSA 1957a:410).

Hoewel hierdie kommissie ten gunste van ’n naamsverandering was, is die vereiste gestel dat ’n nuwe benaming:

… kensketsend sal wees van ’n diens wat die vrug is van die Christelike liefde en geloof, en dat dit as kerklike diens langs die gewone staatsorg en die hedendaagse humanistiese welsynswerk uitgeken kan word. (NGKSA 1957a:410)

Dit is verder opvallend dat alhoewel die 1957-uitgawe van die Bepalinge en Reglemente van die NG Kerk in SA die kommissie se naam – die Algemene Armesorgkommissie – behou, die konsep ‘diens van barmhartigheid’ in die opdrag van hierdie kommissie gebruik word. In genoemde dokument beskryf die Kaapse Sinode die opdrag van die Algemene Armesorgkommissie soos volg:

  • die vestiging en uitbreiding van die Koninkryk van God deur die diens van barmhartigheid; en
  • die geestelike, maatskaplike en ekonomiese versorging en opheffing van minderbevoorregte en behoeftige geloofs- en volksgenote,8 daartoe gedring deur die liefde van Christus en in gehoorsaamheid aan die voorskrifte van Gods Woord (NGKSA 1957b:79).

Die Kerkorde wat in 1962 deur die eerste Algemene Sinode van die NG Kerk aanvaar is, gebruik deurgaans die term ‘diens van barmhartigheid’. Artikel 54 van hierdie Kerkorde omskryf diens van barmhartigheid so (AS 1962):

  • Die kerke moet met priesterlike bewoënheid omsien na die armes en ander sorgbehoewendes om hulle te help, te troos en geestelik op te hef.
  • Waar die omvang en omstandighede dit eis, moet die diakonieë in die kerkverband van Ring en Sinode inrigtinge vir hierdie sorgbehoewendes in die lewe roep. (p. 11)

In die jongste Kerkorde lees artikel 54 steeds (AS 2019):

Die kerk moet met priesterlike bewoëndheid omsien na die armes en ander sorgbehoewendes deur hulle te help, te troos en geestelik op te hef. Waar die omvang en ander omstandighede van die werk dit vereis, onderneem die gemeentes in kerkverband barmhartigheidsbediening. (p. 17)

Sedert 1962 het die Algemene Sinodes van die NG Kerk twee wesenlike veranderings tot die formulering van Kerkorde Artikel 54 aangebring. Die eerste verandering het betrekking op die rol van die diaken in die kerk se barmhartigheidsbediening. In die 1962-formulering word spesifiek verwys na die diakonieë wat in die kerkverbande van Ringe en Sinodes inrigtings vir sorgbehoewendes moet begin terwyl die 2019-formulering aandui dat gemeentes verantwoordelik is vir die barmhartigheidsbediening. Die tweede verandering dui op die aard van dienste wat in kerkverband onderneem behoort te word. Die 1962-formulering spesifiseer inrigtingsorg terwyl die 2019-formulering generies na barmhartigheidsbediening verwys.

Om hierdie bespreking af te sluit is dit nodig om kortliks te verwys na die grondliggende teologie vir die keuse van die term ‘diens van barmhartigheid’. De Klerk (1976:1vv) verduidelik dat die naam saamgestel is uit twee woorde naamlik ‘diens’ (Grieks: diakonia) en ‘barmhartigheid’ wat ’n vertaling van die Hebreeuse woord (chéséd) is. In die Ou Testament word laasgenoemde konsep dikwels in die konteks van die verbond wat God met Israel gesluit het, aangetref (bv. Deut 7:9, 12). In ’n publikasie van die Algemene Kommissie vir die Diens van Barmhartigheid (AKDB) van die NG kerk motiveer De Klerk (1990:9) hierdie kerk se voorkeur vir die term ‘barmhartigheid’ teenoor die meer ekumeniese gebruik van die term diakonia. Volgens hom is barmhartigheid spesifiek omdat:

  • die Bybelse begrip barmhartigheid ’n visie bied op God se genadige en ontfermende verbondstrou wat in weldadige goedgunstigheid … daadwerklik bystand aan die sorgbehoewende verleen;
  • ons in die koms van Christus na die aarde en in sy verkondiging en verheerliking deur die Heilige Gees, die duidelikste uitdrukking en samevatting van God se barmhartigheid vind;
  • ons in die barmhartigheid van God die gronde vind waarop die bondeling in nood aanspraak kan maak op die hulp en bystand van die almagtige Vader (vgl. Ps 146);
  • dit die motivering en rede bied vir die bondeling se plig om barmhartigheid teenoor mekaar en teenoor ander te bewys; en
  • die begrip ’n religieuse en Bybelse term is wat ’n teosentriese fundering bied vir die kerk se opdrag tot weldadigheid en mededeelsaamheid.9

Die soeke na nuwe terme

Aan die einde van die vorige eeu was daar verskeie gesprekke en prosesse in die NG Kerk, asook die familie van NG Kerke, om nuwe konsepte ten opsigte van hierdie kerke se barmhartigheidsdiens te probeer vestig. ’n Belangrike katalisator vir hierdie pogings was ’n konferensie wat in 1986 deur die vier kerke in die NG Kerkfamilie gehou is oor die tema ‘Wat is Sending?’

Diens en getuienis in eenheid

Na aanleiding van die herdefinering van Sending waarna hierbo verwys word, het die Algemene Kommissie vir Sending en Evangelisasie (AKSE) in 1994 in samewerking met die AKDB ’n aanbeveling oor die onderskeid tussen ‘interkerklike hulpverlening’ en ‘diakonaat oor kerkgrense heen’ aan die Algemene Sinode voorgelê. Hierdie aanbeveling het die Algemene Sinode versoek om die beleid van die NG Kerk dat interkerklike hulpverlening en diakonaat oor kerkgrense sendingaktiwiteite is, te verander. Volgens genoemde twee kommissies strek die skopus van interkerklike hulpverlening verder as diakonaat oor kerkgrense en derhalwe hoort hierdie aktiwiteit tuis by die onderskeie kerkvergaderinge. Hierteenoor het ‘diakonaat oor kerkgrense heen’ te make met aangeleenthede van barmhartigheidsdiens soos armoede, geregtigheid, sosiale verhoudings en maatskaplike wantoestande en daarom is hulle deel van die kerk se diakonaat (AS 1994:214).

Die gesprek oor ’n nuwe definisie van die sending van die kerk het verder meegebring dat die skeiding wat die NG Kerk tussen sending en diens van barmhartigheid gemaak het, onhoudbaar geword het (AS 2002a:230). In ’n verslag van die ASSK verduidelik dié kommissie kommissie dat die onhoudbaarheid van hierdie skeiding wyer strek as net die praktyk (funksionele onderskeiding), maar ook indruis teen die roeping van die kerk om met woord en daad in diens van God in die wêreld besig te wees. Hierdie siening is deur die AKDB gedeel en in 2004 besluit die twee kommissies om een verslag onder die opskrif ‘Diensgetuienis’ na die Algemene Sinode wat in daardie jaar vergader het, te neem. In hierdie verslag rapporteer die twee kommissies ook dat hulle reeds sedert die vorige sinode (2002) meestal saam vergader.

In 2006 het die Verenigde Diensgroep vir Diens en Getuienis (VDDG) ontstaan wat saamgestel is uit die diens van barmhartigheid en die sendingbedieninge van die NG Kerk, die VGKSA, die NGKA en die RCA. ’n Resultaat van hierdie gesamentlike gesprek was die dokument: ‘Ons roeping tot diens en getuienis in eenheid. ’n Teologiese grondslag vir die NG Kerkfamilie se missionêre bedieninge’. In hierdie dokument toon die VDDG aan dat in terme van die missio die diens van van barmhartigheid en sending twee kante (aspekte) van dieselfde saak is naamlik die sending van die drie-enige God. Die VDDG is ongelukkig later deur die gesamentlike moderaturevergadering van die vier kerke in die NG Kerkfamilie ontbind wat meegebring dat die konsepte diens en getuienis in eenheid nie verder in die familie van NG Kerke gevestig is nie.

Missionêre diakonaat

Die Algemene Diensgroep vir Diens en Getuienis (ADD) wat ontstaan het uit die samevoeging van die Sendingkommissie (ASSK) en die Diens van Barmhartigheidskommissie (AKDB), het in hulle verslag aan die Algemene Sinode wat in 2007 vergader het, ’n omskrywing gegee van hoe hulle missionêr diakonale gemeentes verstaan (AS 2007a:83–85).10 Die teologiese basis van hierdie omskrywing is God se sending (missio Dei) en die feit dat die kerk geroep is as God se medewerkers hierin. Dit beteken dat ‘getuienis’ die bestaansrede vir die kerk is en getuienis gebeur deur woorde en dade. In sy proefskrif verduidelik Knoetze (2002:205) dat die missionêre diakonaat ‘dankbaarheidsdade van die kerk’ is wat gestalte vind in verskeie vorme van die diakonaat wat uitdrukking gee aan God se liefde en betrokkenheid by die wêreld.

Diens en geregtigheid

Nog ’n poging uit die vroeë 1990’s het begin toe verteenwoordigers van die barmhartigheidsbedieninge van die vier kerke in die NG Kerkfamilie in gesprek getree het oor ‘hoe ons mekaar tot diens kan wees’ (AS 1994). Hierdie aksie het gelei tot ’n gesprek op 18–20 Maart 1992 oor die tema ‘Diakonaat in die Suid-Afrikaanse konteks’. Tydens hierdie gesprek is ’n visie vir die barmhartigheidsbediening van die NG Kerkfamilie geformuleer wat soos volg lui:

Ons visie is om in navolging van Jesus Christus as één vredesdiakonaat van ’n verenigde NG Kerkfamilie in samewerking met ander kerke in die gemeenskap die totale gebroke SA gemeenskap deur aksies van geregtigheid en barmhartigheid te transformeer. (p. 258)

In die proses wat op hierdie gesprek gevolg het, is ’n Verklaring van Voorneme opgestel wat gelei het tot die skryf van ’n ‘Konsepreglement vir die Algemene Kommissie vir die diens van Barmhartigheid en Geregtigheid’ waarin die doelstellings, struktuur en diakonale programme uiteengesit is. Hierdie Reglement is in 1994 deur die Algemene Sinode van die NG Kerk goedgekeur en in Die Kerkorde van die NG Kerk opgeneem. Ongelukkig het dié kommissie nooit gekonstitueer nie en is die gedagte dat barmhartigheid en geregtigheid bymekaar hoort as twee komponente van één vredesdiakonaat, nooit verder in die familie van NG Kerke uitgewerk en geïmplementeer nie.

Missionale diakonaat

Teen die einde van die vorige eeu het ’n diskoers in die NG Kerk ontstaan oor die rol of roeping van die kerk in die nuwe konteks van Suider-Afrika. Gesprekke hieroor is op verskeie forums en in kommisies van die NG Kerk gevoer. Hierbo is reeds melding gemaak van die verslag van die ADD waarin hulle die Algemene Sinode in 2007 van ’n omskrywing van missionêr diakonale gemeentes bedien het. In 2002 het die Algemene Kommissie vir Gemeentebediening (AKG) ’n gespreksdokument in die vorm van twintig stellings aangaande teologiese en prakties teologiese uitgangspunte met die oog op kerkwees in die 21ste eeu aan die Algemene Sinode voorgelê. Na aanleiding hiervan het hierdie sinode opdrag gegee dat ’n ‘meer afgebakende en praktiese gemeentelike ekklesiologie ontwikkel moet word’ (AS 2002b:615). Die verslag wat op hierdie opdrag gevolg het, het in 2007 by die Algemene Sinode gedien. Aangaande hierdie verslag merk Van Der Merwe (2014:108) op dat hoewel die verslag enkele aspekte van die gemeente se missionêre gestuurdheid opper, dit opvallend is dat die saak nie groter aandag kry nie.

Die besinning oor die missionêre aard van die gemeente is in 2011 deur die Algemene Sinode voortgesit. By hierdie sinode het die Algemene Diensgroep vir Gemeente-ontwikkeling (ADGO)11 ’n verslag voorgelê waarin ’n ‘missionale’ ekklesiologie beskryf is. In die inleiding merk die diensgroep op dat die NG kerk inderdaad by ’n waterskeiding ten opsigte van hierdie kerk se verstaan van die wese en aard van gemeentes gekom het (AS 2011a:103). Die volgende aanhaling weerspieël die ‘verruiming’ in die ekklesiologie van die NG Kerk wat volgens die ADGO aan die gebeur is:

Terwyl die kerk die boodskap van God se nuwe bedeling verkondig, is dit ook midde-in die alledaagse lewe teenwoordig as ’n instrument in diens van die nuwe bedeling. Uiteindelik gaan dit om die koninkryk of die heerskappy van God in die wêreld – dit is die einddoel van die kerk se roeping ot getuienis. (p. 133)

In die lig van die onderskeie dokumente wat uit die besinning oor die roeping van die kerk in die nuwe konteks en tydvak ontstaan het, het die Algemene Sinode van 2011 (AS 2011b) besluit dat die verskillende dokumente in een dokument geïntegreer moet word:

… wat as ’n raamwerk vir die kerk in al haar verbande (Algemene Sinode, sinodes, ringe en gemeentes) sal dien. Hierdie dokument moet nie net ’n teologiese besinning nie, maar ook riglyne vir die praktyk bevat. (p. 114)

Hierdie saamgevoegde dokument onder die titel ‘Raamwerkdokument oor die missionale aard en roeping van die NG Kerk’ is in 2013 deur die Algemene Sinode in ontvangs geneem:

… as ’n dokument wat uitdrukking gee aan die geloofsonderskeidende prosesse wat die afgelope dekade aandag aan die wese en aard van die kerk en haar getuienis in die wêreld gegee het. (AS 2013b:8)

Hierdie Raamwerkdokument is nie slegs die kulminasie van ’n intensiewe gesprek wat in verskeie forums in die NG Kerk, asook die NG Kerkfamilie gevoer is nie, maar dit is ook die basisteologie waarop ’n nuwe ekklesiologie12 sedertdien in die NG Kerk begin ontwikkel het.

Hierbo is reeds daarna verwys dat diens en getuienis – of woord én daad – wesentlik twee aspekte van missio Dei is. In die lig hiervan waarsku Van Der Merwe (2014:214) dat daar ’n moontlikheid bestaan dat die konsep ‘missionêre diakonaat’ as ’n tipe of ’n modus van diakonaat verstaan kan word en dat die krag van die verweefdheid van woord en daad sodoende verlore kan gaan. Daarom verkies hy die byvoeglike naamwoord ‘missionale’ om te beklemtoon dat die diakonaat ’n wesenlike aspek van die kerk se roeping as medewerker en dienskneg in God se sending (missio Dei) is. Gebaseer op die definisie van diakonaat in die Raamwerkdokument (NG Kerk 2013a:207 par.10),13 omskryf Van Der Merwe (2014) die konsep missionale diakonaat soos volg:

Die missionale diakonaat is gerig op die herstel van God se heerskappy in die wêreld. Deur missionale diakonaat is die kerk in verskillende gestaltes, as dienskneg en deelnemer aan God se sending, betrokke by die voorkoming en bestryding van die lyding en maatskaplike nood van indvidue, groepe en gemeenskappe asook die bevordering van regverdige verhoudings binne die kerk en samelewing. (p. 214)

’n Nuwe verstaan van diakonia

Hierbo is daarna verwys dat die term ‘diaconal ministry’ problematies is. Een rede hiervoor is die feit dat die Griekse woord diakonia in ’n verskeidenheid kontekste in die Nuwe Testament gebruik word en derhalwe nie aan een spesifieke bediening gekoppel is nie. Nog ’n rede is dat die term diakonia dikwels as ’n oorkoepelende term gebruik word om na ’n reeks aanverwante bedieninge te verwys. So byvoorbeeld kan die term verwys na die werk van die diaken, die gemeente se barmhartigheidsbediening, kerklike maatskaplike dienste of ’n teologiese studieveld. Die konsep diakonia of diakonaat word nie algemeen in die NG Kerk gebruik om na maatskaplike dienslewering te verwys nie. Sedert die laaste dekade van die vorige eeu word hierdie term egter algemeen gehoor in gesprekke oor die bedieninge van die kerk waar diakonia (kerk as dienskneg) as ’n sentrale aspek van kerk-wees, naas kerugma (kerk as boodskapper/verkondiger), leitourgia (kerk as sakrament) en koinonia (kerk as gemeenskap) genoem word (Burger 1999:116).

In die Protestantse wêreld word die woorde diaconia (Engels), diakonie (Duits) of diaconaat (Nederland) algemeen gebruik om na Christelike liefdesdiens en die kerk se maatskaplike diensprogramme te verwys. Noordegraaf (2009:11) is van mening dat die verskyning van Kittel se Theologisches Wörterbuch zum Neuen Testament in 1935 ’n belangrike bydrae gelewer het om die gebruik van die woord diakonia in Duitsland, en later, nadat hier woordeboek ook in Engels vertaal is, wyer in die wêreld te vestig. Die artikel in dié woordeboek wat oor die diakon-woordgroep handel, is deur H.W. Beyer geskryf. Hy het sterk gesteun op die doktorale verhandeling van Wilhelm Brandt wat in 1931 onder die titel Service and serving in the New Testament verskyn het. In hierdie studie kom Brandt tot die slotsom dat die woord diakonia uitsluitlik na Christelike liefdesdiens verwys (Houtepen 2005:373; Noordegraaf 2009:11; Nordstokke 2011:43). Hierdie woordeboek het ’n belangrike standaardwerk in die teologie geword en Collins (1990:6–8) merk op dat, met enkele uitsonderings, almal wat later oor diakonia geskryf het, in navolging van Beyer (en Brandt), die woord gebruik met verwysing na Christelike liefdesdiens.

Byna ses dekades later, in 1990, publiseer die Australiese Nuwe-Testamentikus, John N. Collins, ’n studie oor die diakon-woordgroep waarin hy die klassieke verstaan van diakonia as nederige, lae-orde tafeldiens, bevraagteken. Volgens Collins het die antieke wêreld die diakon-woordgroep eerder in die konteks van ’n gestuurde wat as tussenganger namens iemand optree, gebruik. In die Wêreldraad van Kerke het die gesprek oor die konseptualisering van diakonia reeds in 1986 ’n nuwe wending14 geneem tydens die Lanarca Konsultasie.15 Volgens Nordstokke (2011) het hierdie konsultasie die leiding geneem:

… in disassociating the language of diakonia from its rather traditional north-European background, and the understanding of diakonia as charity and humble service … Instead, it linked diakonia to the global challenges of poverty and injustice, to the radical analysis of their root causes and to bold advocacy in defense of marginalized groups. (p. 226)

Dit is duidelik dat daar aan die einde van die vorige eeu ’n nuwe en indringende gesprek oor die definisie en praktyk van diakonia ontstaan het. Ter illustrasie word na Nederland verwys. In 2001 het die Landelijke Diaconale Studiekring besluit om ’n nuwe inleiding in die ‘diaconiewetenschap’ te skryf. Hierdie boek, Barmhartigheid en gerechtigheid. Handboek diaconiewetenschap, het in 2004 verskyn en bydraes uit verskillende geloofstradisies is hierin opgeneem. Aan die einde van die boek verskyn die volgende definisie van diakonaat:

Onder diaconaat/diaconie verstaan we het handelen vanuit en door kerken en andere door het evangelie geïnspireerde groepen en bewegingen, dat gericht is op het voorkomen, opheffen, verminderen dan wel mee uithouden van lijden en maatschappelijke nood van individuen, en van groepen mensen en op het scheppen van rechtvaardige verhoudingen in kerk en sameleven. (Van Well & Stoppels 2005:392)

Die afgelope paar dekades het daar ook in veral Europa en Skandinawië ’n beweging ontstaan om diakonia as ’n wetenskap of teologiese subdissipline te vestig.16 Uit Nederlandse geledere het daar in 2011 ’n tweede boek verskyn met die titel Diaconie in beweging. Hierin omskryf Noordegraaf en Wissink (2011) die studieveld soos volg:

Diaconiewetenschap is de doordenking van het diaconaat/de diaconie. Ze omvat zowel beschrijving, theorievorming, analyse, evaluatie en ontwikkeling van handelingsperspectieven. In het onderzoek zal de diaconiewetenschap interdissiplinair te werk gaan. Dat ‘interdisciplinaire’ heeft betrekking op de subdisciplines van de theologie en op die verwerking van inzichten en gegevens uit andere wetenchappen. (p. 390)

Invloed van ander vakdissiplines

Die huidige diskoers aangaande die konseptualisering en operasionalisering van diakonia is ook ’n interdissiplinêre gesprek. Hierdie studie word afgesluit met enkele opmerkings ten opsigte van die gesprekke tussen diakonaat en maatskaplike werk en diakonaat en ontwikkelingstudies.

Kerklike maatskaplike werk

Die idee om die kennis en vaardighede van professionele maatskaplike werk in die NG Kerk se Armesorg te benut, het ontstaan tydens ’n studiereis wat ds. P. Du Toit (1971:135 vv) in 1932 na die VSA onderneem het terwyl hy die algemene sekretaris van die Transvaalse Armesorgkommissie was. Die doel van hierdie reis was om ondersoek in te stel na nuwe maniere om grootskaalse armoede te beveg. In die VSA het hy kennis geneem van die nuwe professie Maatskaplike Werk. Hoewel die opleiding en lewensuitkyk van hierdie vakkundiges humanisties van aard was, het ds. Du Toit tog geoordeel dat die NG Kerk van hierdie nuwe professie kennis behoort te neem en derhalwe het hy die aangeleentheid sterk beklemtoon in sy verslag aan die destydse Transvaalse Armesorgkommissie.

’n Belangrike katalisator vir die vestiging van Maatskaplike Werk in Suid-Afrika was die Volkskongres wat in 1934 in Kimberley gehou is. Hierdie vergadering het ondere meer besluit: ‘die Kongres is diep onder die indruk van die behoefte aan deskundige maatskaplike werk en raadgewing en versoek die regeringsdepartemente om sover moontlik gebruik te maak van opgeleide werkers’ (Du Toit 1971:135).

Die Vroue-Sendingbond van die Kaapse Kerk het hierdie behoefte reeds vroeër raakgesien en in 1924 is die kursus om vroue as sendingwerkers aan Friedenheim op te lei, uitgebrei om ook voorsiening te maak vir binnelandse werkers (armesorgwerkers). Volgens die prospektus van Friedenheim was die doel van hierdie kursus:

… om jong dames van ons kerk so toe te rus dat hulle in staat sal wees om diegene onder wie hulle arbeid nie enkel op maatskaplike gebied op te hef nie, maar ook geestelik te beïnvloed. (Du Toit 1971:136)

’n Verdere stimulus vir die opleiding en aanstelling van kerklike (Christelike) maatskaplike werkers was die omvattende ondersoek na die verstedeliking van die Afrikaner wat die Federale Armesorgraad in die middel-veertigerjare van die vorige eeu onderneem het. Die verslag is in 1947 in boekvorm gepubliseer onder die titel Kerk en stad. Ten opsigte van kerklike maatskaplike werk beveel hierdie verslag aan:

Die tyd het aangebreek dat die Kerk (NG Kerk) se eie wel toegeruste skool vir die opleiding van Christelike arbeidskragte van allerlei aard sal stig, soos maatskaplike werksters, matrones en ander inrigtingwerksters, jeugleiers (leidsters) en selfs manlike werkers. (Kerk en stad 1947:320)

Hierdie droom het ’n werklikheid geword met die opening van die Hugenote Kollege in Wellington aan die begin van 1951.

Kerklike maatskaplike werk is professionele maatskaplike werk wat in die spesifieke konteks van die kerk gelewer word (Lindeque 1990:159; Yancey & Garland 2014:1). Volgens Garland (1997:97) is kerklike maatskaplike werk ’n praktyk-spesialisasie (konteks) en nie ’n waarde- of geloofsisteem van die professionele maatskaplike werker nie. Hierdie siening verskil ietwat van die droom van die Federale Armesorgraad (sien hierbo) om ‘Christelike arbeidskragte’ op te lei. Garland se verstaan impliseer dat ’n maatskaplike werker wat nie ’n Christen is nie, wel in ’n kerklike maatskaplikediensorganisasie kan werk, mits die persoon die identiteit, missie en etos van die organisasies aanvaar en in daardie konteks wil werk.

In praktyk beteken dit dat ’n kerklike maatskaplike werker tergelykertyd binne die professionele waardesisteem van Maatskaplike Werk, asook die waardestelsel van die kerklike organisasie werk en hier lê die spanning tussen kerklike maatskaplike werk as deel van die kerk se diakonaat en Maatskaplike Werk as vakdissipline. Hoewel beide die diakonaat en Maatskaplike Werk op maatskaplike verandering en ontwikkeling, maatskaplike kohesie en die bemagtiging en bevryding van mense fokus en beginsels soos maatskaplike geregtigheid, respek vir diversiteit en die regte van mense vir beide dissiplines in die kern staan, is daar wesenlike verskille tussen die diakonaat en Maatskaplike Werk. Die uitdaging waarmee diakonale (kerklike) organisasies gekonfronteer word, is om te verseker dat die personeel binne die teologie en etos van die organisasie kan werk sonder om hul professionele waardes en praktyk te versaak.

Kerklike maatskaplike dienste

Volgens Die nuwe woordeboek vir Maatskaplike werk (Vaktaalkommissie vir Maatskaplike Werk 1995:37) verwys die term ‘maatskaplike dienste’ na enige maatskaplike welsynsdiens of programme. Kerklike maatskaplike dienste is derhalwe ’n omvattende term wat maatskaplike dienste insluit.

Gemeenskapsontwikkkeling

Die diskoers in die NG Kerk oor missionale kerkwees het die Kerk opnuut bewus gemaak van haar roeping in die wêreld en die aandag gevestig op maatskaplike ontwikkeling (Hendriks 2007:1014). Tydens die vergadering van die Algemene Sinode (2002b:584) in 2002 het die NG Kerk haar ‘opnuut verbind tot ons kontinent, in die besonder Suider-Afrika’ en verklaar: ‘Ons wil ook ’n verskil maak. Daarom verbind ons ons om mee te werk aan oplossings vir ons samelewing’. Die ekumeniese kerk het egter al in die 1960’s ’n skuif begin maak in die rigting van ‘a new progressive engagement in the contemporary socio-economic problematic of poverty and under-development through its concern with development’ (Swart 2006:31).17

Gemeenskapsontwikkeling is egter ’n aspek van die groter ontwikkelingstema. Daar is ook ekonomiese ontwikkeling, staatkundige ontwikkeling en maatskaplike ontwikkeling. Hoewel daar in die ekumeniese gesprek oor die diakonaat konsensus bestaan dat ’n ontwikkelingsbenadering sentraal in die diakonaat behoort te wees, is hierdie aspek nog nie goed ontwikkel in die diakonale praxis van die NG Kerk nie.

Gevolgtrekking

Ten einde verdere gesprek en navorsing aangaande die konseptualisering en operasionalisering van haar betrokkenheid by maatskaplike nood in Suider-Afrika in die NG Kerk te bevorder, word die volgende voorlopige gevolgtrekkings gemaak:

  • Die barmhartigheid van God soos verpersoonlik in die liefdesdiens van Christus is die sentrale motief vir die NG Kerk se betrokkenheid by die maatskaplike nood van die wêreld. Vir hierdie kerk dui die konsep diakonia (Afrikaans: diens) eerder op hoe die kerk barmhartigheid beoefen. Om hierdie rede was die NG Kerk negatief teenoor die besinning in die WRK aangaande ’n verruimde konseptualisering van die term diakonia.
  • Betrokkenheid by die maatskaplike nood van haar lidmate, maar ook die gemeenskap, is deel van die wese van die NG Kerk. Vanweë die groot sosio-ekonomiese nood waarin lidmate van die NG Kerk en die breër Afrikanervolk aan die einde van die 19de eeu in Suid-Afrika verkeer het, het die barmhartigheidsbediening van dié kerk al meer eksklusief op geloofs- en volksgenote gefokus. Hierdie fokus, asook ’n vertroebelde sendingdefinisie, het veroorsaak dat die NG Kerk ’n valse skeiding tussen sending en diens van barmhartigheid begin maak het.
  • Die NG Kerk het vroeg reeds besef dat ’n holistiese en wetenskaplike benadering nodig is om die komplekse blanke armoedevraagstuk te bekamp. Dit het daartoe gelei dat hierdie kerk vakkundig opgeleide, professionele maatskaplike werkers aangestel het om die Kerk se diens van barmhartigheid te komplementeer en te versterk. Ongelukkig het die stap daartoe gelei dat die barmhartigheidsbediening van gemeentes mettertyd verskraal het tot ‘liefdadigheidsprojekte’ en korttermyn-uitreikaksies terwyl die sinodaal georganiseerde kerlik maatskaplike diensorganisasies ontwikkelde en professioneel maatskaplike diensorganisasies geword het wat hoofsaaklik in die staatsgereguleerde, formele maatskaplike welsynsektor werk. Die gevolg hiervan is dat die teologiese besinning oor die diakonaat van die kerk al minder aandag gekry het.
  • Hoewel die NG Kerk klaarblyklik ekklesiologies skuif in die rigting van ’n missionale kerk, wil dit voorkom asof die missionale teologie nog nie wyd neerslag vind in hierdie kerk se denke aangaande diakonaat nie.

Slot

In die titel word gevra hoe belangrik dit is dat die NG Kerk haar maatskaplike betrokkenheid in die wêreld diens van barmhartigheid of diakonaat noem. Dit blyk inderdaad belangrik te wees om die konsep diakonia ernstig te oorweeg indien die NG Kerk deel wil wees van die voortgaande ekumeniese besinning aangaande die diakonaat van die kerk.

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Outersbydrae

W.V.D.M., was die enigeste outeur betrokke by die skryf van die artikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel voldoen aan alle etiese standaarde vir navorsing sonder direkte kontak met mens of dier.

Befondsing

Hierdie navorsing het geen spesifieke toekenning ontvang van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of nie-winsgewende sektore.

Databeskikbaarheidsverklaring

Datadeling is nie van toepassing op hierdie artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur (s) en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeurs nie.

Literatuurverwysings

Albertyn, J.R., Du Toit, P & Theron, H.S. 1947, Kerk en stad. Kommissie van ondersoek oor stadstoestande, Pro Ecclesia, Stellenbosch.

Algemene Sinode van NG Kerk (AS), 1962, Die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Algemene Sinode, Pretoria.

Algemene Sinode van NG Kerk (AS), 1994, Agenda vir die negende vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Algemene Sinode, Pretoria.

Algemene Sinode van NG Kerk (AS), 2002a, Agenda vir die elfde vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Algemene Sinode, Pretoria.

Algemene Sinode van NG Kerk (AS), 2002b, Handelinge van die elfde vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Algemene Sinode, Pretoria.

Algemene Sinode van NG Kerk (AS), 2011a, Agenda vir die veertiende vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Algemene Sinode, Pretoria.

Algemene Sinode van NG Kerk (AS), 2011b, Handelinge van die veertiende vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Algemene Sinode, Pretoria.

Algemene Sinode van NG Kerk (AS), 2013a, Agenda vir die vyftiende vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Algemene Sinode, Pretoria.

Algemene Sinode van NG Kerk (AS), 2013b, Handelinge van die vyftiende vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Algemene Sinode, Pretoria.

Algemene Sinode van NG Kerk (AS), 2019, Die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Algemene Sinode, Pretoria.

Botha, L.L.N., 1957, Die maatskaplike sorg van die NG Kerk in Suid-Afrika (1928–1953), Paarlse Drukpers, Paarl.

Burger, C.W., 1999, Gemeentes in die kragveld van die Gees, BUVTON, Stellenbosch.

Collins, J.N., 1990, Diakonia. Re-interpreting the ancient sources, Oxford University Press, New York, NY.

De Klerk, J.J., 1976, Weldadigheid en mededeelsaamheid, NG Kerk-Uitgewers, Pretoria.

De Klerk, J.J., 1990, ‘Inleiding’, in J.J. De Klerk (red.), Die diens van barmhartigheid van die NG Kerk. (’n Diakonologiese studie), pp. 3–10, NG Kerk-Uitgewers, Kaapstad.

Du Toit, P., 1971, Die salf van eie gom, NG Kerk-Uitgewers, Kaapstad.

Eurich, J., 2015, From the past to the future. The development of diaconia in Germany since the 19th century and its influence on the church in South Africa, Unpublished dissertation.

Garland, D.R., 1997, ‘Church social work’, Social Work and Christianity 24(2), 94–113. https://doi.org/10.1300/J010v24n03_09

Hall, C., 2014, ‘Research on the diaconate; A retrospective view of promise and challenge’, International Journal for the study of the Christian Church 13(4), 258–269. https://doi.org/10.1080/1474225X.2014.892730

Ham Stannard, C.E., 2015, Empowering diakonia: A model for service and transformation in the ecumenical movement and local congregations, Vrije Universiteit, Amsterdam.

Hendriks, H.J. 2007. Missional Theology and social development. HTS 63(3), 999–1016.

Houtepen, A., 2005, ‘Diaconia opniew geïnterpreteerd’, in S. Stoppels, H. Crijns, W. Elhorst, L. Miedema, H. Noordegraaf, P. Robbers-Van Berkel et al. (reds.), Barmhartigheid en gerechtigheid. Handboek diaconiewetenschap, 2de uitg., pp. 366–379, Kok, Kampen.

Knoetze, J.J., 2002, Teologiese motiewe vir ʼn missionêr diakonale bediening van die kerk. Op weg na ʼn begronding van die missionêr diakonale ekklesiologie, Universiteit van Pretoria, Pretoria.

Lindeque, R.C., 1990, ‘Kerklike Gesinsorg’, in J.J. De Klerk (red.), Die diens van barmhartigheid van die NG Kerk (ʼn Diakonologiese studie), pp. 147–171, NG Kerk-Uitgewers, Kaapstad.

Nieuwoudt, M.M., 1990, ‘Praktiese implementering in die vaderlandse Kerkgeskiedenis (die Nederduitse Gereformeerde Kerk)’, in J.J. De Klerk (red.), Die diens van barmhartigheid van die NG Kerk. (ʼn Diakonologiese studie), pp. 74–102, NG Kerk-Uitgewers, Kaapstad.

NG Kerk in SA (NGKSA), 1915, Skema van werksaamhede, Sinode 1915, NG Kerk in Suid-Afrika, Kaapstad.

NG Kerk in SA (NGKSA), 1957a, Handelinge van die drie-en-dertigste vergadering van die sinode van die NG Kerk in Suid-Afrika, NG Kerk in Suid-Afrika, Kaapstad.

NG Kerk in SA (NGKSA), 1957b, Bepalinge en reglemente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, NG Kerk in Suid-Afrika, Kaapstad.

Noordegraaf, A., 2009, ‘Inleiding’, in G.C. Den Hertog & A. Noordegraaf (red.), Dienen en delen, Basisboek diaconaat, pp. 9–26, Boekecentrum, Zoetermeer.

Noordegraaf, H. & Wissink, J., 2011, ‘Een agenda voor de diaconiewetenschap’, in H. Crijns, E. Hogema, L. Miedema, H. Noordegraaf, P. Robbers-Van Berkel, H. Van Well et al. (reds.), Diaconie in beweging. Handboek diaconiewetenschap, pp. 390–404, Kok, Kampen.

Nordstokke, K., 2011, ‘Reflections on the theology of diakonia’, Diakonian Tutkimus 2, 223–233.

Stoppels, S., 2005, ‘In het begin was diakonia’, in S. Stoppels, H. Crijns, W. Elhorst, L. Miedema, H. Noordegraaf, P. Robbers-Van Berkel et al. (reds.), Barmhartigheid en gerechtigheid. Handboek diaconiewetenschap, 2de uitg., pp. 392–398, Kok, Kampen.

Swart, I., 2006, The churches and the development debate: Perspectives on a fourth generation approach, SUN Press, Stellenbosch.

Vaktaalkommissie vir Maatskaplike Werk, 1995, Die nuwe woordeboek vir Maatskaplike Werk, CTP Book Printers, Kaapstad.

Van Der Merwe, W.C., 2014, Met Woord en Daad in diens van God. Die diakonaat van die NG Kerk in postapartheid Suid-Afrika, Ongepubliseerde proefskrif, Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch.

Van Der Merwe, W.C., 2021, ‘Examples and concepts of diaconia in Southern African Christianity’, in G. Ampony, M. Büscher, B. Hofmann, F. Ngnintedem, D. Solon & D. Werner (eds.), International handbook on ecumenical diakonia, pp. 191–196, Regnum Books International, Oxford.

Van Well, H. & Stoppels, S., 2005, ‘De definitie opnieuw beschoud’, in S. Stoppels, H. Crijns, W. Elhorst, L. Miedema, H. Noordegraaf, P. Robbers-Van Berkel et al. (reds.), Barmhartigheid en gerechtigheid. Handboek diaconiewetenschap, 2de uitg., pp. 392–398, Kok, Kampen.

Werner, D. & Ross, M., 2021, ‘Terminologies, learning processes and recent developments in ecumenical diakonia in the ecumenical movement’, in G. Ampony, M. Büscher, B. Hofmann, F. Ngnintedem, D. Solon & D. Werner (eds.), International handbook on ecumenical diakonia, pp. 8–25, Regnum Books International, Oxford.

Yancey, G. & Garland, D.R., 2014, ‘Congregational social work’, in T. Mizrahi & L.E. Davis (eds.), Encyclopedia of social work, pp. 1–17, Oxford University Press, Oxford. https://doi.10.1093/acrefore/978019995839.013.882.

Voetnotas

1. Belangrike gesprekke in hierdie diskoers het byvoorbeeld plaasgevind by die tiende algemene vergadering van die Wêreldraad van Kerke (WRK) wat in 2013 in Busan, Korea gehou is, asook by die Internasionale Konsultasie oor die verhouding tussen kerke en gespesialiseerde organisasies wat deur die WRK en Action by Churches Together Alliance (ACT Alliance) in 2014 in Malawi gehou is. Gesprekke hieroor in die Lutheran World Federation (LWF) het onder meer gelei tot die publikasie van Diakonia in context: Transformation, reconciliation, empowerment (2009). Sien in die verband ook die artikel van Dietrich Werner en Matthew Ross (2021).

2. Die familie van NG Kerke omvat die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) asook die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA), die NG Kerk in Afrika (NGKA), asook die Reformed Church in Africa (RCA). Laasgenoemde drie kerke het uit die sendingwerk van die NG Kerk ontstaan.

3. In hierdie artikel verwys die term NG Kerk deurgaans na die denominasie, die NG Kerk. In die artikel kom ook verwysings na die NG Kerk in Suid-Afrika voor. Laasgenoemde term is die amptelike benaming van die NG Kerk Wes- en Suid-Kaapland, een van die samestellende sinodes van die NG Kerk. Hierdie sinode is vroeër ook die Kaapse Sinode genoem.

4. ’n Gesprek tussen verteenwoordigers van die Kerklike Maatskaplike Diensteraad en Algemene Sinode van die NG Kerk se taakspan: Missionale Diakonaat wat op 06–08 April 2021 te eMseni konferensiesentrum, Benoni, plaasgevind het.

5. Hierdie tipering van die ‘zinkende deel van ons volk’ kom uit die Herderlike Brief wat die Kaapse Sinode van 1894 aan al haar gemeentes gestuur het (Botha 1957:144).

6. Die konsep ‘Innere mission’ is in die 19de eeu deur Johann Wichern (1808–1881) in Duitsland gevestig. Die Sentrale Komitee vir Innere Mission van die Protestantse Kerk van Duitsland is in 1849 gestig. Tydens ’n konferensie wat in 2015 by die Hugenote Kollege op Wellington, Suid-Afrika gehou is om die eerste honderd jaar van sinodaal georganiseerde diens van barmhartigheid in die NG Kerk te vier, het prof Johannes Eurich van die Universiteit van Heidelberg, Duitsland, aangetoon dat hierdie konsep waarskynlik deur die buitelandse werk van die Duitse Protestantse Kerk in Suid-Afrika bekend geraak het.

7. Die sinode van die NG Kerk in Natal, die Transvaalse sinode en die sinode van die NG Kerk in die Oranje-Vrystaat.

8. Dr. P. Du Toit, voormalige Sekretaris van die Transvaalse Armesorgkommissie en lid van die eerste Carnegie-ondersoekkommissie wat ondersoek ingestel het na die verarming van blanke Suid-Afrikaners, het hierdie term verkies bo die term ‘armblanke’ wat na aanleiding van die Carnegie-ondersoek gevestig geraak het. In Die salf van eie gom (1971:65) skryf hy: ‘Toe ek in 1931 begin het met rondreise om ons volksprobleem asook die moontlike redmiddels onder die aandag te bring, het ek uit my pad gegaan om die woord “armblanke” uit ons gedagtes en woordeskat weg te swyg’.

9. In ’n publikasie Weldadigheid en mededeelsaamheid wat in 1976 verskyn het, beskryf De Klerk ‘weldadigheid en mededeelsaamheid’ (Heb 13:16) as kernbegrippe van ’n priesterlik geaarde offerdiens en derhalwe ook van die kerk se barmhartigheidsdiens.

10. Die opskrif van hierdie omskrywing is ‘Diens en getuienis’, die wesenstaak van die kerk wat ’n goeie samevatting is van die kern van die diensgroep se argument naamlik dat gemeentes wesentlik missionêr diakonaal van aard is.

11. Hierdie Diensgroep het die Algemene Kommissie vir Gemeentebediening waarna vroeër verwys is in 2004 vervang.

12. In dié verband merk Hendriks (2007:1002) op: ‘[T]he missional paradigm pursues a missional and practical ecclesiology: it develops a methodological strategy on how to be a contextually relevant church’.

13. Die Raamwerkdokument (2013) beskryf die diakonaat van die kerk soos volg: ‘Die diakonaat van die kerk is meerkantig en verskillende tipes diakonaat kan onderskei word, soos die bediening van God se barmhartigheid en omgee vir mense en die natuur, die bediening van God se versoening en vrede, die bediening van God se geregtigheid’ (par. 10).

14. Hierdie koersverandering in die WRK ten opsigte van die diakonaat is ’n belangrike rede waarom die term diakonia nie vastrapplek in die NG Kerk kon kry nie. In die inleidende hoofstuk van die handboek vir die diens van barmhartigheid wat in 1990 deur die AKDB uitgegee is, waarsku De Klerk (1990:4) teen ‘die geweldige aksentuering van die diakonale dienste deur die horisontalistiese teologie’ en ‘die opkoms van die sogenaamde “politieke diakonaat” met sy hoofsaaklike klem op die verandering van strukture aan die hand van politieke programme’.

15. Die tema van hierdie konsultasie was Diakonia 2000, Called to be neighors en dit is gehou by Lanarca, Ciprus.

16. Die pionier in hierdie verband is waarskynlik die Diakoniewissenschaftliches Institut aan die Fakulteit Teologie, Universiteit van Heidelberg, Duitsland, wat reeds in 1954 tot stand gekom het. In Europa en Skandinawië bestaan daar ook talle (kerklike) universiteite wat spesialiseer in diakonale studies en teologie. In 2010 het die International Society for the Research and Study of Diaconia and Christian Social Practice (Redi) tot stand gekom. Hierdie werkgemeenskap gee ook ’n vaktydskrif uit met die titel Diaconia. Journal for the Study of Christian Social Practice.

17. In ’n doktorale studie wat in 2015 aan die VU, Amsterdam voltooi is, gee Carlos Ham Stannard ’n goeie oorsig van die besinning oor ontwikkeling in die Wêreldraad van Kerke die afgelope vier dekades.



Crossref Citations

No related citations found.