Abstrak
Missional Diaconate: From fragmentation to integration and impact. The Dutch Reformed Church has a history of social care and development through its professional social service organisations, and of goodwill through its congregations and members. Since 2002, declarations of intent for transformative service from the church in all its facades have testified to the Dutch Reformed Church’s commitment to contribute to a better life for everyone in South Africa. However, it appears in practice that the Dutch Reformed Church’s response has fallen into silos and that it has been challenging to accomplish collective impact.
The publication of the Dutch Reformed Church’s Framework Document for Missional Transformation (2013) has increased the need for an in-depth discussion about the diaconate. An outdated diaconate policy (1994) exposed problems with which the Dutch Reformed Church is struggling. It showed, among other things: the ecclesiocentric focus of the diaconate; a theological departure that has not kept pace with the development of a missional theology; and the disposition for separate operatives between the different forms of ecclesiastical diaconate.
The aim of this article is to react to the potential for collaboration between different forms of the diaconate in the Dutch Reformed Church. The Research Strategy for Missional Transformation (2018) provides an approach that allows clarification of a research problem that leads to the design of prototypes in the next phase of research. The research shows that collaboration should be approached in a nuanced way, and that practice theory for integrated diaconal ministry should be further researched and developed.
Intradisciplinary and interdisciplinary implications: Theological development contributes to a new appreciation for a holistic, interdisciplinary approach to diaconal work.
Keywords: diaconate; missional theology; social work; integration; partnerships; social spaces; early childhood development.
Kontekstuele inleiding
Wanneer missioloog Scott Sunquist (2013:370) oor evangelisasie in die hedendaagse wêreld praat, sê hy die volgende: ‘Every place of mission is a place of partnership in the twenty-first century’. As dit oor die diakonaat in die Nederduitse Gereformeerde (NG) Kerk gaan, is daar egter ’n besorgdheid dat die kerk se beleidsraamwerk vir die diens van barmhartigheid eerder tot afsonderlike funksionering as geïntegreerde benadering, oftewel vennootskap en netwerke, lei. Die NG Kerk het laas in 19941 ’n amptelike beleidsverklaring en by implikasie ’n teologiese grondslag vir die diakonaat aanvaar (Van der Merwe 2014:159). In die lig van die omvang en kompleksiteit van maatskaplike probleme en sosiale nood in Suid Afrika is die ruimte vir fragmentering in hierdie beleidsdokument problematies. Gemeentes en kerklike maatskaplike diensorganisasies funksioneer in silos (Van der Merwe 2014:239).
Met die eerste demokratiese verkiesing in 1994 het nie net die sosio-politieke landskap in Suid Afrika dramaties verander nie, maar breek daar ook ’n tyd van buitengewone missionale ontwikkeling in die NG Kerk aan. Die missionale kerkbeweging met sy oorsprong in die VSA spoel oor na die NG Kerk in Suid Afrika en begin ’n transformasieproses wat die ekklesiologie van hierdie kerk dramaties skuif. Die ontwikkelingsgang word in 2013 saamgevat met ’n Raamwerkdokument oor die missionale aard en roeping van die Ned Geref Kerk2 (Niemandt & Meiring 2013). Dit het baie spesifieke implikasies vir die diakonaat van die kerk, hoewel navorsing hieroor tot op datum beperk is. Van der Merwe (2014) publiseer wel ’n omvattende studie wat ’n oorsig gee op die NG Kerk se lang geskiedenis van maatskaplike sorg en ontwikkeling voor 1994 en die veranderde landskap post-1994 verken. In sy tesis, ‘Met woord en daad in diens van God: die diakonaat van die NG Kerk in postapartheid Suid Afrika’ (Van der Merwe 2014) begin verken hy die impak van die missionale beweging en lê hy hoekstene vir ’n teologie vir die diakonaat.
Die NG Kerk se welwillende bedoeling om daadwerklik by die bestryding en voorkoming van armoede en ander vorme van maatskaplike nood in Suid Afrika betrokke te wees, noodsaak verdere besinning oor die teologiese grondslag en praktiese werkswyse wat in die 21ste eeu hieraan gestalte sal gee. In terugskoue was daar ’n rubicon-oomblik in 2002 toe die Algemene Sinode van die NG Kerk ter vergadering die vraag vra: ‘Suid Afrika, hoe gaan dit werklik met jou en hoe kan ons jou help?’ Na aanleiding hiervan verklaar die NG Kerk (Algemene Sinode van die NG Kerk 2002):
Daarom verbind ons ons opnuut tot ons kontinent, in die besonder Suider-Afrika. Die tragiese verhale van die allerverskriklike vorms van geweld, die geweldige omvang van armoede en gevolglike hongersnood, die konsekwensies van die vigspandemie, die gebrek aan respek vir mense, diere en die omgewing en ook ons aandeel daaraan, het ons ontstel. Die Sinode betuig sy meegevoel aan die talle slagoffers. Ons wil ook ’n verskil maak. Daarom verbind ons ons om mee te werk aan oplossings vir ons samelewing. Ons stel ons as Kerk beskikbaar om op elke vlak waar ons kan help betrokke te raak. Ons verseker die owerheid van ons voorbidding en ons verbintenis tot diens aan die gemeenskap. (p. 583)
Behalwe vir ’n bepaalde teologiese vertrekpunt, word die diakonale werkswyse (strategie) en benaderings (praktyke) van die kerk tradisioneel deur kerkordelike bepalings, reglemente en beleidsraamwerke gereël. In kerkvergaderings en verslae sedert 2013 word telkens verwys na die fragmentering van die NG Kerk se betrokkenheid by sosiale kwessies. Daar is ’n duidelike soeke na ’n beter geïntegreerde benadering tussen kerklike rolspelers en gepaste praktykmodelle wat hierdie samewerking akkommodeer. Die soeke na konsolidering of nouer samewerking kom konseptueel heel goed tuis in Bybelse beelde, soos byvoorbeeld Paulus se gebruik van die gemeente (kerk) as liggaam met Christus as hoof.
Die doel van hierdie artikel is om ’n oorsig te gee op die ontwikkeling van ’n diakonale teologie en praktyk wat die NG Kerk posisioneer om as gesante van God Drie-enig optimale impak te maak in die sosio-ekonomiese nood in Suid Afrika. Dit is veral ’n geïntegreerde benadering tussen die NG Kerk en kerklike maatskaplike diensorganisasies wat ter sprake kom wanneer daar oor impak gedroom word.
Hipoteties word voorspel dat hoewel die gesprek oor diakonale praxis veral die afgelope dekade toegeneem het, die teologiese fundering nog nie amptelik in beleidsriglyne opgeneem is nie en navorsing oor praktykmodelle beperk is.
Derhalwe, om die doel te bereik, fokus die literatuurondersoek oorsigtelik op:
- reglementering van die diakonaat van die NG Kerk en tentatiewe ontwikkelings wat reeds plaasvind, soos die prototipe vir samewerking rondom vroeëkindontwikkeling in die sinodale gebied van die Wes-Kaap.
Navorsingstrategie vir missionale transformasie
’n Kerk-eie metodologie word gevolg om die tema van integrasie as praktykbenadering vir die diakonaat van die NG Kerk te verken.
Verheldering van die probleem
Die Navorsingstrategie vir missionale transformasie (Niemandt et al. 2018) is een van die sistemiese uitkomste van missionale teologie wat deel van die NG Kerk se geloofsonderskeidende reis geraak het. Hierdie navorsingstrategie, wat bou op die sisteemteorie van Scharmer (2009) en Senge (1990), bied ’n geheelsisteem-benadering tot die ontwikkeling van bedieningspraktyk. ’n Volledige navorsingsiklus behoort by te dra tot diep integrasie in die totale sisteem.
Met ’n beweging deur drie siklusse3 is die strategie opgedeel in vier fases (begeleiding, navorsing, ontwerp, en opleiding). Dit maak voorsiening:
- vir die identifisering van ’n navorsingsprobleem, wat deur verdere ondersoek verhelder word.
- prototipes ontwikkel wat getoets en aangepas word.
- en dan institusioneel deur vaardigheidskoling en opleiding geïntegreer word.
Binne elk van die vier fases is daar drie bewegings (dus twaalf bewegings in totaal). Die totale proses dra by tot sistemiese verdieping soos daar deur die siklusse, fases en bewegings gegaan word. Sien Figuur 1 vir die volledige model en veral ook die twaalf bewegings.
|
FIGUUR 1: ’n Navorsingstrategie vir missionale transformasie (Niemandt et al. 2018:5). |
|
Die huidige ondersoek word in die tweede fase (navorsing) en tweede beweging (verheldering van die probleem) van die eerste siklus gedoen. Invloed van die missionale beweging op die ekklesiologie van die NG Kerk is sigbaar, maar moet nog verfyn word in terme van dié kerk se diakonale selfverstaan, veral ook in terme van praxis. Die NG Kerk is sigbaar ‘barmhartig’. ’n Kritiese vraag is egter of missionale teologie die afgelope twee dekades ’n vormende impak op die bedieningspraktyk van die NG Kerk se diakonale aksies gehad het.
’n Kwalitatiewe benadering gebaseer op ’n dokumente-studie word gevolg om die status quo van diakonale beleid, reglementering en praktyk in die NG Kerk te ondersoek. Die primêre bron vir hierdie ondersoek is die Missionale Raamwerkdokument (Niemandt & Meiring 2013) en meer spesifiek vroeë aanduiders hierin van vertrekpunte vir ’n missionale diakonaat. Die bron word aangevul deur ander amptelike dokumentasie van die NG Kerk tussen 1994 en 2022 oor hierdie saak.
Teologie, teorie, praktyk
Hierdie artikel bespreek teologie, teorie, en praktyk as volg: Die eerste punt handel oor die teologiese grondslag vir ’n missionale ekklesiologie wat deur die Raamwerkdokument (Niemandt & Meiring 2013) gelê word, maar spesifiek toegepas op die diakonaat van die NG Kerk. Onder die tweede hofie word aandag gegee aan ’n basiese konseptualisering van integrasie, hoofsaaklik maar as ’n woordomskrywing en ’n Bybelse konseptualisering. Die derde punt is ’n bespreking van enkele buitelyne vir ’n basisteorie wat nodig is vir die ontwikkeling van praktykmodelle. Hier word spesifiek gefokus op integrasie tussen kerk (teologie) en organisasie (maatskaplike dienswerk).
Die missionale beweging en ’n missionale ekklesiologie
Missionale teologie het oor die afgelope twee dekades die NG Kerk se ekklesiologiese landskap dramaties beïnvloed. Nuwe verbeelding is ontsluit met legio nuwe moontlikhede vir die bediening. Die vernaamste skuif was die skuif van ’n ekklesiosentriese benadering na geloofsonderskeiding en bediening wat teosentries aangevoer word (Marais 2017:77). Die eertydse kerkbegrip van die NG Kerk is gevorm in ’n tyd toe die Christendom nog groot aanhang gehad het en dié kerk ’n invloedryke middelpunt van feitlik elke gemeenskap in Suid Afrika was. Marais (2017:65) beskryf die missionale beweging as onvergelykbaar met enige soortgelyke beweging in die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis.
Saamgevat in ’n raamwerkdokument
In 2013 ontvang die Algemene Sinode van die NG Kerk die Raamwerkdokument oor die missionale aard en roeping van die Ned Geref Kerk (Niemandt & Meiring 2013). Die dokument is ’n samestelling van verskeie navorsingsverslae sedert die aanvang van die missionale beweging in die NG Kerk. Intussen raak dit ’n fundamenteel belangrike dokument wat die kerk help om in ’n veranderde konteks (post-1994) haar identiteit en roeping te ontdek. Verder gee dit ook merkers vir die praktyk van bediening wat verder ontsluit moet word. As die Raamwerkdokument (Niemandt & Meiring 2013:2) een punt maak, dan is dit om die identiteit en aanpasbaarheid [ecclesia reformata, semper reformanda] van ’n gereformeerde kerk te bevestig wat altyd op weg is met die Heilige Gees in die navolging van Christus, soekend na God se wil.
Vir die huidige ondersoek is dit noodsaaklik om te weet wat die dokument oor die diakonaat sê en tot watter mate dit tot die praktyk van hierdie roeping spreek.
Teologiese vertrekpunte vir die diakonaat
Hoewel die Raamwerkdokument (Niemandt & Meiring 2013:9–10) slegs een paragraaf wy aan ‘Diensbaarheid aan die gemeenskap’, sluit die totale dokument met die teologiese grondslag daarvan ’n besliste impetus vir besinning oor die diakonaat van die NG Kerk in. Die missionale ekklesiologie wat deur die dokument omskryf word, anker die diakonaat in die eerste plek en primêr in die Triniteit (Niemandt & Meiring 2013):
Ten diepste is die identiteit van die NG Kerk ingebed in ons verstaan van God self. Ons Gereformeerde identiteit plaas die Ned Geref Kerk in die ‘lewe van die Drie-enige God’. Nadenke oor die identiteit van die kerk begin dus by nadenke oor wat dit beteken om in verhouding met die God te lewe. (p. 3)
Vanuit die Triniteit is die diakonaat daarom gegrond in God self: in Sy liefde, genade, barmhartigheid, geregtigheid en die shalom-heelheid wat Hy vir hierdie wêreld begeer. Die NG Kerk leef ’n roeping uit wat die lewegewende teenwoordigheid van God Drie-enig beliggaam.
God neem die inisiatief. Daarom, tweedens is dit van belang vir die diakonaat om God as die sturende God [missio Dei] te erken. Hy nooi gelowiges om Hom te volg waar Hy lei. Die NG Kerk se sending [missio ecclesiae] is gegrond in God se missie (Niemandt & Meiring 2013:4).
Die diakonaat is derdens integraal deel van elke ander aspek van die kerk se deelname in God se missie: diakonia [diensbaarheid], leitourgia [aanbidding], koinonia [gemeenskap van gelowiges], en kerugma [verkondiging] (Niemandt & Meiring 2013:5). Die diakonaat kan nooit ’n ‘projek van die kerk’ of ’n bediening in isolasie wees nie; dit is die kern van die aard en wese van God self en word nie geskei van enige ander vorm van aanbidding nie.
Die vierde hoeksteen vir die diakonaat wat in die Raamwerkdokument (Niemandt & Meiring 2013:6) uitgelig word, is die feit dat die ganse skepping onder die heerskappy van God staan. God se Koninkryk word gevestig in hierdie werklikheid. Midde-in die alledaagse lewe, weerspieël die diakonaat tekens van God se ontferming en is die kerk instrumenteel in sy liefde en sorg. Dit is net vanselfsprekend dat die kerk hierdie roeping op die bes moontlike en mees effektiewe wyse moontlik wil opneem.
Wanneer die Raamwerkdokument (Niemandt & Meiring 2013) die diakonaat beskryf as ’n uitvloeisel en vergestalting van die kerk se viering, beliggaming en verkondiging van die goeie nuus, is sogenaamde effektiwiteit nie meer die belangrikste maatstaf nie:
[W]ant selfs waar sulke pogings oënskynlik misluk en na niks meer as ’n druppel in die see lyk nie, bly dit steeds ’n viering, beliggaming en verkondiging van die hoop wat lewend is binne die kerk. (p. 10)
’n Aanhaling van Tankler (2022) bevestig hierdie gedagte en gaan selfs verder. Hy beklemtoon interafhanklikheid in die missie van die kerk en sê dat wanneer daar ter wille van impak en effektiwiteit gekies word om saam te werk, vennootskappe aan te gaan, of netwerke te vorm, die motivering primêr teologies moet wees en nie noodwendig strategies nie:
Mission is meant to happen in partnership and mutuality, but partnership in mission is not a matter of efficiency so much as a matter of theology. (pp. 74–75)
Tog durf die kerk nie onverskillig staan nie en behoort die gawes en talente in die kerk en onder leiding van die Heilige Gees gebruik te word om werkswyses te vind wat die bediening van nood ten beste dien. Dit is reeds genoem dat die NG Kerk toenemend vra na konsolidering (teenoor fragmentering) van sy diakonale reaksie op nood.
Integrasie onderskei as voorkeurbenadering
Dit blyk duidelik dat daar geruime tyd reeds ’n openheid bestaan vir integrasie en samewerking tussen die verskillende vorme van kerklike reaksie in die stryd teen armoede, werkloosheid en ongeregtigheid. ’n Voorbeeld hiervan kan gesien word in die Roepingsverklaring van die Algemene Sinode van die NG Kerk van 2007 (Niemandt & Meiring 2013):
Ons wil hande vat met alle ander Christene om sodoende ons samelewings te kan opbou en die pynlike situasies waarin mense hulle bevind, te verlig. Mekaar liefdevol aanmoedig, lei en bemagtig om as gemeentes en leiers betrokke te raak by die genesing van ons lande. Ons maak onsself vir, en verbind ons tot, dade van diens binne gemeenskappe. (p. 10)
In 2013 versoek die Algemene Sinode die Kerklike Maatskaplike Diensteraad (KMDR)4 om navorsing te doen oor die verhouding en samewerking tussen gemeentes en lidorganisasies (Algemene Sinode van die NG Kerk 2013b:46). Deur die jare het daar ’n afstand tussen plaaslike gemeentes en maatskaplike diensprogramme ontstaan.5
Tydens die sinodesitting van 2019 formuleer die Algemene Sinode ’n visie, ook bekend as die Droomscenario 2030, wat ’n netwerkbenadering tot bediening voorstel: ‘Ons droom van ’n netwerk van inklusiewe gemeentes wat op voetsoolvlak funksioneer en gedryf deur God se liefde ons gemeenskappe dien’ (Moderamen van die NG Kerk 2020). Hierdie visie word steeds verder uitgewerk deur verdere navorsing oor verskeie onderwerpe binne die verskillende taakspanne onder leiding van die moderamen.
Dit is egter ’n memorandum van voorneme wat deur die KMDR by die Algemene Sinode van 2019 dien wat aandring op meer as net welwillende intensie tot samewerking, maar vra vir daadwerklike meganismes vir integrasie. In die memorandum onderneem die KMDR om werkswyses en meganismes te ontwikkel wat konstruktiewe samewerking tussen KMDR-lidorganisasies en plaaslike gemeentes, ringe en sinodes moontlik sal maak. Die KMDR onderneming skep ’n oorvloed van vooruitsigte vir die verwesenliking van ’n samewerkende geïntegreerde diakonale praktyk (Algemene Sinode van die NG Kerk 2019:407).
Konseptualisering van integrasie
Taal skep werklikhede en roep betekenisvolle beelde op, ook Bybelse beelde wanneer daar as gelowiges oor sekere konsepte nagedink word.
Woordomskrywing
Die woord integrasie kom van die Latynse integrat wat letterlik beteken ‘om heel te maak’ (wat verdeeld geraak het). Stevenson en Lindberg (2010:16976–16977) definieer integrasie as die proses om twee of meer groepe of sisteme op gelyke basis byeen te bring met ’n gemeenskaplike doel. Dit kan saam gelees word met die Latynse collaborat wat, soos verwag kan word, eenvoudig beteken ‘werk saam met’ (Stevenson & Lindberg 2010:6292–6293). Dit is ook interessant om na die oorsprong van die word partner (vennoot) te kyk. Die woord partner kom van die Anglo-Franse parcener, ’n juridiese term wat op mede-eienaarskap dui (Ross 2010:145).
Met hierdie verklarings as rigtinggewend, merk ons die volgende beginsels vir integrasie op:
- Die geheel is groter as die afsonderlike dele.
- Daar is gedeelde belang (mede-eienaarskap) op die spel.
- Daar word saam gewerk na ’n verwagte uitkoms.
’n Mens sou selfs kon begin om ’n paar verbande te trek tussen integrasie en die beginsels van ’n missionale teologie wat ons tot nou ontdek het:
- Vir een is daar die verhoudingsaspek in die dogma van die Drie-eenheid wat vergelykbaar is met die geheel wat groter is as die afsonderlike dele. Hierin is interaksie en ’n interafhanklikheid ter sprake.
- Jesus nooi gelowiges en stuur hulle [missio Dei] om aan te sluit by sy werk en die werk van sy Vader (Joh 20:21): ‘Soos die Vader My gestuur het, so stuur Ek julle’.
- Paulus sê dat gelowiges saam met Christus erfgename is van die Vader en daarom nie los staan van Jesus se lyding of sy heerlikheid nie.6
Laasgenoemde bring ons by Paulus se beeld oor die liggaam van Christus en interafhanklikheid wat Bybels gekonseptualiseer kan word.
Bybelse konseptualisering
Daar is in werklikheid ’n teologiese rykdom om te ontgin rondom die gedagte van integrasie. Celesi en Bowers du Toit (2019:2) wys op die gemak waarmee die vennootskapsgedagte tot ’n Christelike konteks vertaal kan word met terme en konsepte soos verhouding, om te deel (met mekaar of in mekaar se ervarings), gemeenskaplikheid, gemeenskap [fellowship] en koinonia. Integrasie, samewerking en vennootskap spreek tot interafhanklikheid, wederkerigheid en solidariteit. Sunquist (2013:376) is van mening dat wanneer daar daadwerklik vanuit God Drie-enig vertrek word, samewerkende deelname ’n natuurlike gevolg is. Die fundamentele gedagte van Vader, Seun en Gees wat één is, verenig ook gelowiges, hoewel divers in gawes en persoonlikhede, voor mekaar en voor God. Grondliggend gaan dit oor eenheid in diversiteit en in die verband is daar nie ’n duideliker Bybelse beeld as dié van Paulus se beeld van die liggaam van Christus nie:
12Net soos die liggaam ’n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus (1 Kor 12:12; 1983-vertaling).
Die liggaam is ’n gemeenskaplike werklikheid. Primuth en Kaspar (2019) is van mening dat Paulus se liggaamsmodel beide op ’n verhoudingsaspek en na funksionaliteit verwys. God heg waarde aan diversiteit, maar nie aan verdeeldheid nie. Samewerking is derhalwe nie net ’n kwessie van gelyke verantwoordelikheid nie, maar ook van interafhanklikheid en van sinergie, wat beteken dat daar saam soveel meer bereik kan word. Daar is natuurlik meer verwysings na eenheid in diversiteit in die Bybel as net Paulus se hantering daarvan.7 Dink byvoorbeeld aan Johannes 4:35–388 wat sê dat een saai en ’n ander water gee, maar beide deel in die vreugde wanneer die oes inkom.
Daar is die Bybelse beelde, maar ook Bybelse konsepte om samewerking en integrasie te beskryf. Hiervan is die woord koinonia ’n goeie voorbeeld. Louw en Nida (1989:562) beskryf koinonia as die verbintenis van wederkerige naby verhoudings en onderlinge betrokkenheid. Burger (1999:231) pas koinonia toe op ondersteunende en gemeenskapvormende aktiwiteite wat gelowiges aan mekaar en aan Christus verbind. In die saamwees en saamwerk word die krag van die evangelie beleef. Koinonia gaan oor mense of partye wat mekaar raaksien en respekteer. Integrasie kan as ’n vorm van georganiseerde koinonia verstaan word.
Integrasie en samewerking vanuit ’n Bybelse oortuiging en met die oog op groter effektiwiteit, mag dalk net die mees kragtige getuienis wees wat rolspelers van die NG Kerk, as draers van hoop en genesing, in die 21ste eeu in Suid Afrika kan bring. Die kerk het die aanvoeling dat nouer samewerking die pad vorentoe is, maar vra nog na praktykmodelle wat hierdie visie akkommodeer.
Van fragmentasie na integrasie
Die soeke na nouer samewerking in die NG Kerk stem ooreen met ’n breër ekumeniese beweging in hierdie rigting. Dit is veral duidelik in die 2013 byeenkoms van die Wêreldraad van Kerke (WRK) in Busan, Korea. Kontekste verskil uiteraard, maar die WRK moedig nietemin die kerk wêreldwyd aan om oorweging te skenk aan vennootskappe en noue samewerking in die uitvoering van hul diakonale roeping (World Council of Churches 2013):
…[D]iakonia has to be dynamic, contextual and versatile. It must affect partnerships, not only at the level of global or larger church structures, but also among congregations, special ministries, and networks of people committed to values of justice, peace and human dignity at local, regional and national levels. (pp. 105–106)
Strategies sou dit ook as ’n beweging van fragmentasie na integrasie beskryf kan word. Duidelike fragmentering is sigbaar in die NG Kerk tussen die diakonale betrokkenheid van gemeentes en dié van maatskaplike diensorganisasies en programme in dieselfde gemeenskap. As hierdie posisies op ’n horisontale as aangedui word en ’n vertikale as word bygevoeg om die potensiaal van samewerking aan te dui, sou die twee vertikale pole die moontlike beweging van stagnasie na optimalisering kon wees.
Hierdie model is ’n opsomming van die Algemene Sinode van die NG Kerk (2013a) se versoek om fragmentasie aan te spreek en kollektiewe impak te verhoog. Die model is ontwikkel in gesprekke tussen Diaconia, ’n sinodale diensgroep vir gemeentediakonaat in die Wes-Kaap se NG Kerk en Badisa, ’n KMDR-lidorganisasie (kerklike maatskaplike diensorganisasie). Dit was eerste treë vir Diaconia en Badisa om verder te gaan as net die uitklaring van ’n teologiese grondslag vir die diakonaat.
Terwyl dit hier oor nouer samewerking tussen die kerk en maatskaplike diensorganisasies gaan, help ’n literatuurstudie om vertrekpunte vir die ontwikkeling van sodanige modelle en teorieë te identifiseer. Vertrekpunte sluit leierskapstyle, verskillende vlakke van samewerking, en onderskeiding van rolle en verantwoordelikhede in. Aangesien so ’n literatuurstudie by ander vakdissiplines moet gaan leen, sal dit uiteraard van toepassing gemaak moet word op die unieke aard van kerkwees, van bediening, en van interdissiplinêre samewerking met maatskaplike diensorganisasies.
Leierskap en integrasie
Vroeg reeds met die aanvang van die missionale beweging in die NG Kerk, skryf Niemandt (2007:124) oor die rol van missionale leierskap in transformasie. Hy noem geloofsgewoontes wat hiervoor aangeleer sal moet word en beskryf ’n netwerkbenadering as een voorbeeld hiervan. Enige vorm van benadering wat op samewerking, vennootskap of integrasie gebou word, het nie plek vir hiërargiese, burokratiese, en outoriteit-gedomineerde leierskap nie. Sukses sal bepaal word deur die vermoë om spanne saam te stel en netwerke te bou wat met gedeelde mag en verantwoordelikheid werk.
Eurich (2020:1) meen dat die kerk juis leiding moet gee met dit waarin die kerk uitblink, naamlik om ruimtes te skep vir mense om mekaar te ontmoet. Hy noem dit ‘social spaces’ en argumenteer dat potensiaal tussen mense ontsluit word wanneer hulle net eers saamgebring word. Dit gaan alles oor die bou van verhoudings en hierdie vaardigheid lê immers in die hart en wese van die kerk. Vanuit hierdie ruimtes ontwikkel verhoudings en word samewerking gefasiliteer. ‘Social spaces’ verwys na geografiese ruimtes, maar ook na funksionele ruimtes, byvoorbeeld waar enersdenkende rolspelers met gedeelde visie en motief mekaar ontmoet en saam beplan vir optimalisering en groter effektiwiteit. Strukture van die NG Kerk maak ruimtes wat nasionaal (algemeen sinodaal), plaaslik in sinodale konteks, in ringsverband of in plaaslike gemeenskappe voorgestel kan word.
Netwerkbediening mag dalk net een van die grootste uitdagings vir die praktyk van ’n missionale ekklesiologie, en by implikasie ’n missionale diakonaat, wees. Die kerk kan leer by die sosiale wetenskappe oor die vorming van netwerke en verskillende vlakke van samewerking.
Kontinuum van aktiwiteite
Ons het nou reeds kennis geneem van die beweging tussen fragmentasie en integrasie. Fragmentasie sal ook as isolasie beskryf kan word, of die funksionering in silos. Op die lyn tussen fragmentasie en integrasie lê verskillende vlakke van samewerking. Romero en Molina (2011:447–472) praat van die netwerk-era waarin ons leef en dat netwerke talle voordele vir die optimalisering van impak het. Vanuit netwerke kan daar saam besin word oor uitdagings. Moontlikhede vir saam-ontwerp [co-design] en saam-innoveer [co-innovate] ontstaan in netwerke. Netwerke is ’n ‘social-space’, om by Eurich (2020) aan te sluit. Die skrywers ag dit noodsaaklik om te onderskei tussen verskillende vorme van samewerking wat as sulks ’n kontinuum van aktiwiteite skep.
Vir ’n plaaslike gemeente en ’n plaaslike maatskaplike diensprogram sal die eerste oefening waarskynlik wees om te bepaal waar hulle afsonderlik en saam op hierdie kontinuum is en waar hulle graag wil wees. Eers wanneer daar op die vlak van samewerking ooreengekom is, kan die meganismes ontwikkel word om hierdie vorm van samewerking ter wille van kollektiewe impak (optimalisering) te realiseer.
Diversiteit in rolle en verantwoordelikhede
In die Sinode van Wes-Kaapland van die NG Kerk het die sinodale diensgroep, Diaconia, en die KMDR-lidorganisasie, Badisa, in 2018 aan ’n prototipe vir ’n geïntegreerde benadering tot diakonaat begin werk. Vroeëkindontwikkeling (VKO) is as fokus gekies en die twee partye het ’n proses begin om gemeentes en gemeenskappe gesamentlik te begelei en te ondersteun om by die beweging rondom VKO betrokke te raak.9 As vertrekpunt is ’n model vir geïntegreerde dienslewering gebruik wat deur die Departement Maatskaplike Ontwikkeling (DSD) ontwerp is. Die Integrated Service Delivery Model (2005) is kortweg bekend as die ISDM-model (DSD 2005). As praktykmodel het dit waarde vir die kerk en organisasie om ’n tentatiewe onderskeid te begin maak tussen rolle en verantwoordelikhede in ’n geïntegreerde benadering.
Die ISDM-model onderskei tussen vier vlakke van intervensie:
- bewusmaking en voorkoming,
- vroeë intervensie (nie-statutêre ingryping),
- statutêre ingryping, residensiële sorg en/of alternatiewe versorging,
- nasorg of her-integrasie (DSD 2005:30).
Die model het Diaconia en Badisa onmiddellik gehelp om een van die redes raak te sien waarom die status quo van samewerking meer na fragmentering leun as na samewerking. Die uitdaging is inderdaad meer kompleks as ’n gedateerde beleidsraamwerk vir die diakonaat. Diaconia en Badisa het raakgesien dat die derde intervensievlak professionele kinderbeskermingsdienste vereis en dat staatsbefondsing hoofsaaklik vir hierdie doel toegeken word. Dit bring die professionalisering van maatskaplike dienste na vore, maar ook volhoubaarheid van die organisasie. Die staat het hierdie organisasies se grootste bron van inkomste geraak. Dieselfde geld vir die bestuur van residensiële sorginstellings, met die gevolg dat gemeentes, reg of verkeerd, geleidelik vervreem geraak het van hierdie werksaamhede. Die afstand het in so ’n mate gegroei dat daar later min of geen samewerking in enige van die ander drie vlakke van intervensie sigbaar was.
Diaconia en Badisa se eerste waarneming was die potensiaal wat daar op die ander drie vlakke lê. Gerugsteun deur ’n missionale ekklesiologie het die soeke by die kerk na meer kundige en volhoubare benaderings tot die aanspreek van maatskaplike uitdagings soos armoede, ongelykheid en werkloosheid in Suid Afrika verdiep. Diaconia en Badisa het die VKO prototipe begin ontwikkel met hierdie sinergie in gedagte. Een van die eerste take vanuit die ISDM-model sal wees om te konsolideer rondom ’n gesamentlike visie en dan rolle en verantwoordelikhede te verdeel sodat elke rolspeler uit ’n posisie van sterkte betrokke kan raak by ’n betekenisvolle saak.
Verdere navorsing
Die potensiaal en uitdagings van interdissiplinêre samewerking tussen kerk en organisasie moet verder verken word. Missionale teologie bied ’n genoegsame basis daarvoor om ’n geïntegreerde benadering verder te ontwikkel. Prototipes moet binne die Navorsingstrategie vir missionale transformasie (2018) bestudeer, getoets, aangepas, en sistemies geïntegreer word. Die leemte van die huidige verslag is dat dit nog tentatief bou op ervaring in die ontwikkeling van ’n prototipe, aangesien die projek nog onvoltooid is.
Gevolgtrekking
Die missionale beweging het die afgelope twee dekades die NG Kerk geskuif van ’n ekklesiosentriese na ’n teosentriese vertrekpunt vir bediening in die algemeen, maar ook vir die diakonaat. Die diakonaat kry betekenis in die wese van God self: God Drie-enig wat verhoudingsgerig in Homself is; God Drie-enig wat stuur; en God Drie-enig as heerser oor die ganse skepping en van wie se heerskappy die kerk ’n instrument en teken is. Die beweging van fragmentasie na integrasie in die NG Kerk se diakonale betrokkenheid in die wêreld stem ooreen met ’n wêreldwye ekumeniese aanvoeling oor hierdie strategie. Uiteindelik gaan integrasie oor die impak wat die kerk hoop om te maak en hierin ondersteun Bybelse beelde en konsepte die benadering wat onderskei word. Onderweg na ’n geïntegreerde benadering, behoort leierskap aandag te kry. Verhoudings binne spanverband en netwerke word gebou en versterk deur duidelik afgebakende rolle en verantwoordelikhede wat elkeen rig om by dié aktiwiteite betrokke te wees wat sy of haar spesifieke vaardighede tot reg laat kom. Die NG Kerk behoort nie net na die teologiese ontwikkeling van die diakonaat om te sien nie, maar moet veral ook groot erns maak met die ontwikkeling van praktykmodelle sodat goeie intensies in dade kan oorgaan.
Erkenning
Mededingende belange
Die outeur verklaar dat geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.
Outersbydrae
N.V. was die enigeste outeur betrokke by die skryf van die artikel.
Etiese oorwegings
Hierdie artikel voldoen aan alle etiese standaarde vir navorsing sonder direkte kontak met mens of dier.
Befondsing
Hierdie navorsing het geen spesifieke toekenning ontvang van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of nie-winsgewende sektore.
Data beskikbaarheidsverklaring
Data-deling is nie van toepassing op hierdie artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.
Vrywaring
Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur (s) en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeurs nie.
Literatuurverwysings
Algemene Sinode van die NG Kerk, 1994, ‘Agenda van 9de vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk’, NG Kerk, Pretoria.
Algemene Sinode van die NG Kerk, 2002, ‘Agenda van die 11de vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk’, NG Kerk, Pretoria.
Algemene Sinode van die NG Kerk, 2013a, ‘Agenda vir die 15de vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk’, NG Kerk, Veremarksaal, Port Elizabeth.
Algemene Sinode van die NG Kerk, 2013b, ‘Notule vir die 15de vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk’, NG Kerk, Veremarksaal, Port Elizabeth.
Algemene Sinode van die NG Kerk, 2019, ‘Agenda vir die 17de vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk’, NG Kerk, Benoni.
Burger, C.W., 1999, Gemeentes in die kragveld van die Gees: oor die unieke identiteit, taak en bediening van die kerk van Christus, BUVTON, Stellenbosch.
Celesi, M.P. & Bowers du Toit, N.F., 2019, ‘The centrality of partnership between local congregations and Christian development organisations in facilitating holistic praxis’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies 75(4), 9 pages. https://doi.org/10.4102/hts.v75i4.5523
DSD, 2005, Service delivery model for developmental social services, viewed 15 June 2022, from https://bit.ly/3zCfvGF.
Eurich, J., 2020, ‘The church and diaconia as local partners in the social space: Challenges and opportunities’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 76(2), 8. https://doi.org/10.4102/hts.v76i2.6085
Louw, J.P. & Nida, E.A., 1989, Greek-English lexicon of the New Testament [volume 1]: Based on semantic domains, United Bible Societies, New York, NY.
Marais, F., 2017, ‘The history and challenge of the missional movement in South Africa: Perspectives from an insider’, in C.W. Burger, F. Marais, & D. Mouton (eds.), Cultivating missional change: The future of missional churches and missional theology, pp. 64–79. BM Biblecor, Wellington.
Moderamen van die NG Kerk, 2020, ‘Agenda van die derde vergadering van die Moderamen (2019–2023)’, 29–30 September 2020, NG Kerk, Pretoria.
Niemandt, N., 2007, Nuwe drome vir nuwe werklikhede: Geloofsgemeenskappe in pas met ’n postmoderne wêreld, Lux Verbi BM, Wellington.
Niemandt, N. & Meiring, P., 2013, Raamwerkdokument oor die missionale aard en roeping van die NG Kerk, 17 pages, viewed 02 September 2022, from http://bitly.ws/tVd9.
Niemandt, C.J.P., Marais, F., Schoeman, W.J., Simpson, N. & Van der Walt, P., 2018, ‘’n Navorsingstrategie vir missionale transformasie’, Verbum et Ecclesia 39(1), 1–12. https://doi.org/10.4102/ve.v39i1.1893
Primuth, K.B. & Kaspar, M., 2019, ‘Ministry partnerships & networks: Why collaboration is critical to the movement’, viewed 2 July 2022, from https://bit.ly/3R5iNsy.
Romero, D. & Molina, A., 2011, ‘Collaborative networked organisations and customer communities: Value co-creation and co-innovation in the networking era’, Production Planning & Control 22(5–6), 447–472. https://doi.org/10.1080/09537287.2010.536619
Ross, C., 2010, ‘The theology of partnership’, International Bulletin of Missionary Research 34(3), 145–148. https://doi.org/10.1177/239693931003400305
Scharmer, C.O., 2009, Theory U: Learning from the future as it emerges, Berrett-Koehler Publishers, San Francisco, CA.
Senge, P.M, 1990, The fifth discipline: The art and practice of the learning organization, Doubleday, New York, NY.
Stevenson, A. & Lindberg, C.A. (eds.), 2010, New Oxford American dictionary, 3rd edn., Oxford University Press, Oxford, New York, NY, viewed 28 June 2022, from https://openlibrary.org/books/OL24791546M/New_Oxford_American_dictionary
Sunquist, S.W., 2013, Understanding Christian mission: Participation in suffering and glory, Baker Academic, Grand Rapids, MI.
Tankler, Ü., 2022, ‘The theology of partnership in mission: Reflections on interdependence’, European Journal of Theology 31(1), 73–91. https://doi.org/10.5117/EJT2022.1.005.TANK
Van der Merwe, W.C., 2014, ‘Met woord en daad in diens van God: die diakonaat van die Ned Geref Kerk in postapartheid Suid-Afrika’, PhD thesis, Stellenbosch University, viewed 18 June 2022, from https://scholar.sun.ac.za:443/handle/10019.1/95820
World Council of Churches (ed.), 2013, Resource book: World Council of Churches 10th assembly, Busan, WCC Publications, Geneva.
Voetnotas
1. Konsepbarmhartigheidsbeleid vir die NG Kerk se barmhartigheidsbediening (Algemene Sinode van die NG Kerk 1994:264)
2. Voortaan verwys na as Raamwerkdokument (Niemandt & Meiring 2013).
3. Die drie siklusse bestaan daaruit dat daar in elke siklus deur vier fases gegaan word (begeleiding, navorsing, ontwerp, en opleiding). Elke fase het sy eie bewegings. As die beweging byvoorbeeld in siklus een en fase twee die verheldering van die navorsingsprobleem is, is die beweging in die tweede siklus die waarneming van patrone wat ontvou het, en die beweging in die derde siklus die dokumentering van deurbrake.
4. Die tien professionele maatskaplike diensorganisasies wat die lede van die KMDR uitmaak, het elk ’n direkte oorsprong in die NG Kerk en is tans sinodaal verbind.
5. Van der Merwe (2014:222–224) lys moontlike redes vir hierdie verwydering. Dit sluit in: gemeentesentriese uitgangspunte van die 1994 beleidsraamwerk vir die diens van barmhartigheid; spesialisering en institusionalisering wat ’n wig inslaan tussen gemeente betrokkenheid en professionele dienslewering, en as sulks dan die professionalisering van die diakonaat.
6. Romeine 8:15–17: ‘Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid’. (1983-vertaling)
7. Sien Romeine 12, Efesiërs 4, 1 Korintiërs 3:1–9 vir ander voorbeelde oor eenheid en diversiteit as net die van Paulus se liggaamsmodel.
8. Johannes 4:35–38: 35 ‘Sê julle nie: “Nog vier maande, dan is die oes daar” nie? Maar Ek sê vir julle: Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes. 36Nou al ontvang die man wat oes, sy loon en samel hy die oes in vir die ewige lewe. So is die een wat saai, en die een wat oes, saam bly. 37Hier is die gesegde waar: “Die een saai, en die ander een maai.” 38Ek het julle gestuur om ’n oes in te samel waaraan julle nie gearbei het nie. Ander het gearbei, en julle pluk die vrug van hulle arbeid.’
9. ’n Doktorale tesis is tans in proses om die ontwikkeling van die prototipe, Little Seeds vir vroeëkindontwikkeling, kwalitatief te ondersoek. Verwysings na die proses word deur hierdie navorsing ondersteun.
|