About the Author(s)


Jacques W. Beukes Email symbol
Department of Practical Theology and Mission Studies, Faculty of Theology and Religion, University of Pretoria, Pretoria, South Africa

Citation


Beukes, J.W., 2023, ‘Diakonaat en jeug in Afrikaanssprekende Gereformeerde gemeentes in Suid-Afrika’, Verbum et Ecclesia 44(1), a2762. https://doi.org/10.4102/ve.v44i1.2762

Note: Special Collection: Diakonia.

Original Research

Diakonaat en jeug in Afrikaanssprekende Gereformeerde gemeentes in Suid-Afrika

Jacques W. Beukes

Received: 03 Nov. 2022; Accepted: 07 Apr. 2023; Published: 31 July 2023

Copyright: © 2023. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstrak

Diaconate and youth in Afrikaans-speaking Reformed congregations in South Africa. South Africa is characterised by various socio-economic and socio-political challenges (fractures) not easily met (or healed). ‘Fractures’ refer to social, economic, religious, spatial, ecological, environmental, and economic injustices and other issues. Within this context, the church is confronted with her vocation. The unique vocation of a congregation is that the members become a ‘new community’ (koinonia) in which they not only care for one another but also develop relationships featuring care for, and mercy and solidarity (diakonia) with the weak, poor, and marginalised in society. Several researchers prove that the current South African youth could be classified as vulnerable and marginalised. Since the church does not preach the gospel in a vacuum but in relation to specific human realities, the theme of the youth and diaconate in the Afrikaans-speaking Reformed churches in South Africa is examined in this study, based on Osmer’s Practical Theological Interpretation.

Interdisciplinary and/or interdisciplinary implications: The interdisciplinary nature of this contribution is spread across the two fields of youth ministry and diaconate. The sub-disciplines of both the youth in general, and youth ministry and youth work within the academic discourse of the diaconate are studied, specifically in the Afrikaans-speaking Reformed denomination.

Keywords: youth; diaconate; Afrikaans-speaking Reformed congregations; DRC; RCSA; NRCA; URCSA; marginalisation; transformative diakonia; human dignity.

Inleiding

Die Suid-Afrikaanse samelewing word tans gekenmerk deur verskeie sosio-ekonomiese en sosio-politieke uitdagings (frakture) wat nie maklik getakel (of genees) nie. Hier verwys frakture na maatskaplike, ekonomiese, godsdienstige, ruimtelike, ekologiese, omgewings- en ekonomiese kwessies en ongeregtighede wat verder deur COVID-19 vererger is. Binne dié konteks word die kerk gekonfronteer met haar roeping. Die unieke roeping van ’n gemeente is dat die lidmate ’n ‘nuwe gemeenskap’ (koinonia) word waarin hulle nie net vir mekaar omgee nie, maar ook verhoudings van sorgsaamheid, barmhartigheid en solidariteit (diakonia) ontwikkel met die swakkes, armes en gemarginaliseerde in die samelewing. Verskeie studies (cf. Aziz 2020; Beukes et al. 2022:150; Beukes, Thyssen & Jacobs 2022:150; Department of Social Development 2013; Nel 2014, 2015; Swart 2018; Swart et al. 2022; Swartz & Nyamnjoh 2018) bewys dat die huidige Suid-Afrikaanse jeug inderdaad as weerloos en gemarginaliseerd geklassifiseer kan word. Navorsing (Beukes et al. 2022:150; King 2012; Voas & Watt 2014) het ook bewys dat jongmense uitgesluit en gemarginaliseerd selfs binne die kerk en sekere kerkstrukture voel. Aangesien die kerk nie die evangelie in ’n vakuum verkondig nie, maar in verhouding tot spesifieke menslike werklikhede, behoeftes, vrae, probleme, frakture en moontlikhede in die wêreld waarin die kerk leef, word die tema ‘diakonaat’ en ‘jeug’, juis in die Afrikaanssprekende Gereformeerde kerke in Suid-Afrika aan die hand van Osmer se vier take/vrae, ondersoek.

Hierdie artikel is ’n bydrae oor die diakonaat, binne én buite die bediening en bedieningstruktuur van gemeentes, op die spoor van die navorsingsmodel van Osmer (2008) op die terrein van Praktiese Teologie. Osmer (2008) beskryf navorsing in Praktiese Teologie aan die hand van vier verskillende take. Die eerste taak, die empiries beskrywende taak, het te make met die insameling van informasie. In hierdie fase word inligting verkry wat die navorser in staat stel om die dinamika en patrone van spesifieke episodes, kontekste of situasies te onderskei en te beskryf. Volgens Osmer en Schweitzer (2003:2) kan hierdie empiries beskrywende taak verwoord word deur die vraag: ‘Wat gaan aan?’ Of: ‘Wat is besig om te gebeur?’ Osmer (2008:6) noem die tweede taak, die interpretasietaak. Hiervolgens vra ons: ‘Waarom bestaan ’n bepaalde situasie? Dus is die vraag wat die interpretasietaak die beste verwoord: ‘Hoekom/waarom gebeur dit?’ Dit stel die navorser in staat om verskillende patrone te begryp en teorieë toe te pas (Osmer 2008:6). Die derde taak wat Osmer (2008) voorstel, noem hy die normatiewe taak. In hierdie stap word gevra: ‘Wat is veronderstel om te gebeur?’ Anders gestel: ‘Hoe behoort dinge te wees?’ In dié geval: ‘Watter vorme behoort godsdienspraktyk in hierdie spesifieke maatskaplike konteks aan te neem?’ Die vierde en laaste taak is volgens Osmer die pragmatiese taak. Hiervolgens moet strategieë en handelinge ontwerp word om die praktyk volgens die gestelde doelwitte te verander. Die vraag wat gevra word, is: ‘Hoe behoort daar reageer te word?’ Of: ‘Hoe kan daar getrou en effektief reageer word?’ (Osmer 2008:10).

Dus, as bestekopname oor diakonaat en jeug in die Afrikaanssprekende Gereformeerde denominasies, sal die navorser Osmer se vrae in hierdie akadiemiese bydrae bespreek en beantwoord.

Empiries beskrywende taak: ‘Wat gaan aan?’

Suid-Afrika het die derdehoogste jeugwerkloosheidsyfer ter wêreld, wat ongeveer 50% van Suid-Afrikaanse jeugdiges raak (World Economic Forum 2014:14). Verdere statistiek toon 58% jongmense tussen die ouderdom van 15 tot 24 wat óf nie in diens (arbeid) is nie, óf ook nie tersiêre opleiding ontvang of aan enige onderwysinstelling verbonde is nie (Department of Higher Education and Training 2017). Meer nog, in tye van ekonomiese krisis is jongmense diegene wat eerste hul werk verloor en laaste werk terugkry. Volgens Statistiek Suid-Afrika (SSA 2020) dui die resultate van die kwartaallikse arbeidsmagopname vir die eerste kwartaal van 2020 daarop dat indiensneming met 38 000 gevalle tot 16.4 miljoen afgeneem het en die getal werklose persone met 344 000 tot 7.1 miljoen toegeneem het. Gevolglik het die amptelike werkloosheidkoers gestyg. Die koers bly eenvoudig hoog terwyl die jeug (ouderdom 15–34 jaar) die meeste deur werkloosheid getref word. In die eerste kwartaal van 2020 was daar in ons land 20.4 miljoen jongmense tussen 15–34 jaar oud. Hierdie jongmense het 63.3% van die totale getal werklose persone uitgemaak. Onder gegradueerdes in dié ouderdomsgroep was die werkloosheidskoers 33.1% gedurende dieselfde tydperk, in vergelyking met 24.6% in die 4de kwartaal van 2019 – ’n toename van 8.5 persentasiepunte (SSA 2020).

Benewens die hoë werkloosheidsyfer onder jongmense in Suid-Afrika, is daar ook ander maatskaplike kwessies wat bydra tot die marginalisering van Suid-Afrikaanse jeugdiges. Sulke kwessies is ’n hoë uitvalsyfer uit onderwysinstellings, onvoldoende vaardigheidsontwikkeling, onvoldoende werksgeleenthede vir die jeug, swak gesondheid, die hoë MIV- (die menslike immuniteitsgebreksvirus) en vigssyfers (verworwe immuniteitsgebreksindroom), hoë koerse van dwelmmisbruik, misdaad en geweld, ’n gebrek aan toegang tot sport- en kulturele ontwikkelingsgeleenthede, ’n gebrek aan maatskaplike kohesie, asook uitsluiting, om slegs enkeles uit te sonder (Republic of South Africa 2015:10–15). Die jeug vorm die helfte van die land se bevolking en as die jeug dus kwesbaar is, is die land en die kerk ook kwesbaar. Bosch (1991:399–400) verwys na die 20ste eeu wanneer hy noem dat daar nog nooit in die geskiedenis soveel maatskaplike nood was nie en dat Christene nog nooit tevore in ’n beter posisie was as ‘vandag’ om iets aan hierdie nood te doen nie. Statistiek, soos hierbo voorgehou, bewys dat die situasie in die 21ste eeu nog somberder is as in die vorige eeu wat die navorser by die punt bring dat die geleentheid vir die kerk om ’n daadwerklike verskil te maak, nou nog groter as tevore is.

Behalwe die weerlose jeug se gemarginaliseerde toestand in Suid-Afrika, het lidmaatgetalle in die afgelope twee dekades taamlik afgeneem in die Gereformeerde Afrikaanssprekende kerke (cf. De Klerk & Van Helden 2011; Schoeman 2014). Deur empiriese navorsing, verwys Van Helden (2016) na die tendens van krimpende lidmaattalle in die Afrikaanse susterskerke aan die hand van ’n steekproef deur die GKSA wat aantoon dat getalle steeds afneem. Schoeman (2014), in ’n meer omvattende ondersoek, bestudeer Afrikaanse hoofstroomkerke soos die NG Kerk, Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) en die GKSA, sowel as ander denominasies in Suid-Afrika. In hierdie studie maan Schoeman (2014) dat die gevaar bestaan dat wanneer daar slegs vanuit ’n statistiese perspektief na die statistiek oor die wisseling in lidmaatskap gekyk word, die redes en motiverings agter die verskynsel van afname nie geïdentifiseer kan word nie (Schoeman 2014:1). Tog meen Dreyer (201336) dat dit toegeskryf kan word aan stagnasie. Stagnasie, volgens Dreyer (2016:100), lei daartoe dat lidmaatgetalle daal, die jeug die kerk verlaat en die kerk nie die religiositeit van ’n postmoderne samelewing leer verstaan nie. Reeds in 2003 het ’n ander Dreyer (T.F.J.) gepubliseer dat die kontoere van die storie van die Hervormde Kerk duidelike ooreenkomste toon met wêreldwye tendense ten opsigte van die tradisionele hoofstroomkerke. Hier toon hy aan dat die Hervormde Kerk ’n drastiese daling in lidmaattal beleef, waarvan die jeug ’n beduidende persentasie is (Dreyer 2003). In 2017 het die Jongvolwassene-Leergemeenskap (JVLG)1 die bevinding bekend gemaak ná navorsing waarom jongmense die kerk (in hierdie geval die NG Kerk) verlaat. Hulle bevinding was dat sommige jong volwassenes direk na skool uit die NG Kerk na ander denominasies beweeg, terwyl ander na ’n tydperk van tussen kerke rondbeweeg (‘church hopping’), by ’n ander denominasie aansluit. Daar is ook diegene wat na ’n tydperk buite die kerk (kerklos) ’n tuiste in ’n ander denominasie vind. Volgens hulle is daar verskeidenheid redes ter sprake, maar hulle wys spesifiek ses redes uit, naamlik:

  • Rede 1: die soeke na ’n ander toelogie
  • Rede 2: ervaring in eredienste
  • Rede 3: beter konneksie (verhoudinge)
  • Rede 4: meer meelewing en diensgerigtheid
  • Rede 5: minder bagasie uit die verlede (die konneksie met apartheid)
  • Rede 6: meer diversiteit2

Die navorser is dus van mening dat redes 3 en 4 met die gemeente se diakonale en koinoniale betrokkenheid, of die gebrek daaraan, verband hou.

Ungerer (2011) doen ook ’n Prakties Teologiese ondersoek na die betrokkenheid van gemeentes van beide NHKA en die Nederduits Gereformeerde Kerk (NGK) om vas te stel hoe lyk die diakonale betrokkenheid in die gemeenskap waarbinne hulle bestaan. Alhoewel dit vanuit hierdie studie duidelik is dat gemeentes op verskeie maniere binne en buite hulle grense betrokke is, word daar binne die diakonale diskoers nie juis klem op jongmense gelê nie. Tog gebruik Ungerer (2011:2) die werk van Heitink (2007:181) en noem dat daar ’n groeiende behoefte by mense in die samelewing is om êrens te behoort. Dit sluit juis aan by rede 3, hierbo genoem, as een van die redes waarom jongmense die kerk verlaat. Daar is ’n hunkering na gemeenskap waar mense mekaar ken en na mekaar se behoeftes omsien. Of die gemeentes dus die weerlose jeug binne en buite gemeentes in hierdie verband ken of selfs erken, bly ’n ope vraag.

Interpreterende taak: ‘Waarom gaan dit aan’/of ‘waarom gebeur dit?’

Een van die hoofslaggate van diakonia is om die diens te reduseer tot slegs die amp van die diaken en liefdadigheid (sien veral ook die werk van die Suid-Afrikaanse akademikus Gert Breedt en sy breedvoerige navorsing oor diakonia en die diaken). Om deel te wees van die Christelike Kerk en om ’n volgeling van Jesus Christus te wees, het van die begin af beteken dat mense in diens is om mekaar, die gemeenskap én die wêreld te dien. Omgee vir mekaar se welstand, insluitend die beskerming van mekaar in tye van vervolging en die verskaffing van kos en skuiling soos nodig, was nog altyd deel van Christelike en kerklike identiteit. Die diakonale identiteit en lewe van die kerk het bygedra tot die groei van die Vroeë Kerk en is sedertdien deel van sy bestaan. Diakonia of ‘diens’, herinner die diakonale literatuur ons dikwels, is ’n integrale dimensie van kerkwees, naas en gelykstaande aan die ander erkende dimensies van kerkwees (Swart 2021:62).

Die konsep van diakonia het sy wortel in die vroeë Christelike tradisie, waarvolgens die gelowiges se omgee na hul gemeenskap uitgebrei het. Deur die geskiedenis heen het diakonia verskillende vorme aangeneem, maar die kern daarvan is die poging om die goeie nuus oor te dra en God se liefde te aanskou. Die Bybelse tradisie het gehelp om hierdie idee te ontwikkel, veral daardie gedeeltes wat die woorde diakonia, diakonein en diakonos bevat, wat dikwels vertaal word as ‘diens’, ‘om te dien’ en ‘dienaar’. Alhoewel die Griekse woord verwys na ’n opdrag wat aan ’n persoon gegee is (Hand 6:1–6), word die term wyd geassosieer met naasteliefde en hoe die kerk sy maatskaplike en welsynwerk uitvoer (Deifelt & Hofmann 2021:53). Van die begin af was dit duidelik dat Christelike dissipelskap en bediening ’n openbare getuienis van liefde insluit. Diakonia is ’n intrinsieke element van kerkwees en diep verwant aan wat die kerk in sy liturgie vier en in sy prediking verkondig (Deifelt & Hofmann 2021:53). Deifelt en Hofmann (2021:53) voer verder aan dat daar verstaan is dat diakonia – om deernis en sorg uit te brei na diegene wat geteister en geaffekteer word deur fisieke, geestelike en geestelike euwels – mense in die voetspore van Jesus plaas. Alhoewel daar saamgestem word oor die noodsaaklikheid hiervan, is daar geen eenvormigheid in hoe dié diensdaad uitgevoer word nie. Sedert diakonia ’n teologiese onderwerp geword het wat op die jare lange kerklike praktyk van diens reflekteer, het dit wortel geskiet en in verskillende wêrelddele vertak. Dit beskryf dikwels liefdadigheid as werke deur persone verbonde aan die Protestantse kerk, hoewel daar gelykwaardige inisiatiewe in ander Christelike denominasies is (Deifelt & Hofmann 2021:53).

’n Verdere gevaar of slaggat van ’n eng begrip van diakonia (en hier verwys die navorser weer na die redusering van diakonia tot die uitdeel van aalmoese), is dat dit die afhanklikheidsindroom vererger en laat toeneem onder die ontvangers van liefdadigheidswerk. Bygesê, geloofsgebaseerde organisasies (FBOs oftewel geloofsgebaseerde organisasies en NGOs nieregeringsorganisasies), asook kerke/gemeentes wat befondsing kry vanaf skenkeragentskappe, loop ook die gevaar om diensbaar te wees en diens te verrig vanuit ’n eensydige benadering waarvolgens donateurs of skenkeragentskappe byvoorbeeld ’n voorafbepaalde agenda het. Die gevolge is dat daar dan nie aandag gegee word aan die werklike behoeftes en -gawes op voetsoolvlak in plaaslike gemeentes en gemeenskappe nie. Die tendens is ook sigbaar in verskeie studies oor die kerk se diakonale betrokkenheid (cf. Swart 2010; Ungerer 2011; Van der Westhuizen & Swart 2015): dat daar gereeld na kospakkies, sopkombuise, die uitdeel van klere en komberse verwys word wanneer gemeentes hulle diakonale projekte deel. Dieselfde tendens is gevind in ’n studie oor Afrikaanssprekende VGK (Verenigde Gereformeerde Kerk-) gemeentes in die Wes-Kaap (cf. Bowers du Toit 2012; Beukes & Plaatjies-Van Huffel 2016). Na aanleiding van die studie by VGK-gemeentes, wys Bowers du Toit (2012:265) dat die meeste welsynswerk wat deur hierdie gemeentes gedoen word, grootliks noodlenigingswerk (welsynwerk/aalmoese) is. Sy verduidelik dat sopkombuise, kospakkies en die verspreiding van kos en klere, aksies wat almal relevant in hul konteks is, steeds meer gefokus is op die simptome as die oorsake van armoede en ander maatskaplike probleme (Bowers du Toit 2012:265).

Daarom pleit Swart (2010) dat die kerk verder moet gaan as die tradisionele betrokkenheid by liefdadigheidmodus en barmhartigheidsdiens. Alhoewel Swart beweeg vanuit die vertrekpunt dat die NG Kerk steeds binne ʼn tradisionele paradigma van maatskaplike welsyn en liefdadigheidsdiens funksioneer, kan daar aangevoer word, veral vanuit die ander genoemde studies hierbo van ander Afrikaanssprekende Gereformeerde kerke, dat die ‘liefdadigheidwerk’ selfs in hierdie denominasies die modus van diakonale betrokkenheid is. Sulke inisiatiewe fokus meestal op die ‘doen vir’ (en uitdeel van aalmoese), eerder as op ‘saam doen / doen met’ mense wat selfbemagtiging prioriseer en bevorder. Daarom is Swart (2010) van mening dat die kerk eerder moet reageer deur waarlik te luister na die werklike behoeftes van die mense. Die inisiatief moet daarom van die voetsoolvlak (grondvlak) af opkom.

Normatiewe taak: ‘Wat is veronderstel om te gebeur?’

Ham (2013) praat op sý beurt weer van transformerende diakonia wat beide die vertroosting en genesing van die slagoffer behels. Hy sluit alle weerloses (veral ook jeugdiges) in by hierdie verstaan van slagoffers. Verder is hy van mening dat kwessie van geregtigheid en konfrontasie met ‘magte en owerhede’, ook te make het met transformerende diakonia. Hy voer aan dat diakonia sonder transformerende werk ’n blote uitdrukking van diens sou wees en die belange van die onderdrukkende en uitbuitende magte subtiel dien deur hul medepligtigheid te bedek. As dit dus nie onreg en magsmisbruik uitdaag nie, hou dit op om outentieke diakonia te wees. Vir Ham (2013) is diakonia veronderstel om die pogings te ontbloot van magtiges en bevoorregtes om die onregverdige en onderdrukkende status quo te handhaaf. Hierdie vertolking van transformerende diakonia deur Ham, help ons om weg te beweeg van slegs liefdadigheidswerk na profetiese werk.

Swart (2021) is van mening dat deelnemers aan die breë ekumeniese beweging in meer onlangse tye ook die dringende behoefte voel om ’n paradigmaskuif te maak oor die manier waarop diakonia in die Christelike tradisie verstaan en beoefen word. In wese lei dit tot ’n steeds groeiende beweging wat nie meer tevrede is met die blote beperking van diakonia tot nederige en stille diens (welsyn of aalmoese) aan die armes en die siekes nie. Op grond van nuwe teologiese bevestiging wat deur ’n herlees van die Bybel ingelig is, beteken diakonia vir hierdie beweging eerder iets dieper en méér. Vir deelnemers aan die breë ekumeniese beweging en hul nuwe begrip van diakonia, is dié term nou ’n uitdrukking van die soort diens wat bemagtig, asook ’n meer dwingende manier van transformasie in diens van God se transformerende sending word (cf. Collins 1990; Swart 2021:62).

Dus, om terug te kom na die argument oor die gemarginaliseerde jongmense in ons samelewing en ons gemeentes, is dit noodsaaklik om ’n nuwe ingesteldheid oor die diakonale diskoers te vestig. Dit is belangrik dat die jeug die objek maar veral die subjek van diakonia moet wees. Daarom moet die doel van jeugbediening vir Erasmus en De Klerk (2003) wees om:

[D]ie kind/jongmens te leer om die Here lief te hê en voluit as volwassene in die geloof in ’n lewende verhouding met Hom te staan. Hierdie doel kan bereik word deur die kind op bevatlike wyse te onderrig in die versoening wat God deur Christus vir sy verbondsvolk – en die kind self as lid van die verbondsvolk – berei het. Wat in die gemeente gebeur, moet terselfdertyd met die jeug as onmisbare deel van die gemeente gebeur. Die jeug moet gelei en begelei word om as deel van ’n gemeente wat ’n verskil maak, in die wêreld waarbinne hulle leef, op te tree en so die wil van God te gehoorsaam. (p. 80)

Terselfdertyd is die doel van jeugbediening volgens Nel (1998:67) ook daarin geleë dat die jeug daartoe gelei word om die Koninkryk van God in hulle lewens te laat vergestalt as persoonlike sowel as openbare godsdiens. Dus, argumenteer Erasmus en De Klerk (2003:91–92) verder, dat effektiewe Skrifgefundeerde bediening van die Woord van God aan die jeug kontekstueel ontwikkel moet word. En dit moet geïntegreerd met die res van die bediening in die gemeente aangebied word.

Bediening aan die jeug moet nie gesien word as ’n aparte of nuwe bedieningsmodus nie. Dit gaan in jeugbediening nie daarom om ’n ekstra plek vir nog ’n bedieningsmodus te vind nie, maar om vir die jeug plek te vind binne die ruimte en tussen die mense op wie die bedieninge gerig is – die mense na wie God deur die bedieninge kom. Daar moet dus in die kerugma (prediking), marturia (missionêre aspek), didache (onderrig), leitourgia (erediens), koinonia (gemeenskap), paraklese (sorg) en diakonia (diens) van die gemeente doelbewus plek en ruimte vir die jongmens gevind word as prioriteit. In jeugbediening moet rekening gehou word met die konkrete werklikheid en ’n ontwortelde samelewing waarbinne die jongmens leef en hierdie werklikheid moet in die bediening verreken word. (Erasmus & De Klerk 2003:91–92)

Pragmaties: ‘Hoe moet daar reageer word?’

Om kerk te wees in diakonia impliseer die Godgegewe mandaat om deel te neem aan God se sending na die wêreld (Nordstokke 2002:30). Hierdie kort stelling deur Nordstokke, som gepas op wat vandag as die mees fundamentele teologiese oriëntasie in ekumeniese denke oor diakonia beskou kan word. Die daad van betrokke wees by diakonia begin by God en dit is in die diakonia van God, wat ’n integrale deel van God se sending is en behels dat die kerk geroep word om deel te neem. In die huidige ekumeniese gesprek oor diakonia, impliseer erkenning van die goddelike oproep tot deelname dus niks minder nie as ’n getroue reaksie op God se diakonale mandaat. Om by diakonia betrokke te wees, behoort gesien te word as ’n geloofsdaad wat noodwendig daartoe lei dat die gelowiges hul afhanklikheid van God erken om bemagtig te word vir hul taak. Daarom die vraag, tot hoe ’n mate word jongmense ook geroep om ‘diens’ in diakonia te verrig in hulle eie geloofsvorming? Met die jeug as objek word die werklike lewensituasie van die jongmens erken en geprioritiseer en met die jeug as subjek, word die potensiaal van die jeug erken en daarom van onder (grondvlak) na boontoe aangemoedig. Daarom is die navorser ook van mening dat ’n paradigmaskuif van diakonia teenoor (slegs) armes na diakonia teenoor alle weerloses nodig is, aangesien diakonia beide ’n pastorale sowel as profetiese mandaat tot die bevordering van menswaardigheid van alle weerloses het.

Daarom is ’n noukeurige ontleding van die magdinamika van kardinale belang: wie mag het, waarvandaan mag vloei en watter magstrukture party mense verhoed om met waardigheid te lewe. Soos Michel Foucault gesê het, mag is oral en kom van oral: ‘Power is everywhere; not because it embraces everything, but because it comes from everywhere’ (Foucault 1998:63). ’n Bekende spreekwoord lui dat ons nie net vir iemand wat honger is ’n vis moet gee nie, want dit sal hom slegs vir ’n dag voed. Ons moet individue eerder leer hoe om vis te vang sodat hulle hulself lewenslank kan voed. Maar diakonia, deur die idee van bemagtiging, gaan ’n stap verder, naamlik dat samewerking nodig is sodat almal toegang tot die visdam het, aangesien baie mense verhinder word om toegang te verkry tot die nodige middele vir hul lewensbestaan.

’n Bewustheid van magstrukture en dinamika stel ons in staat om voortdurend te vra: Gee diakonia ’n stem aan diegene wat nie in die samelewing gehoor word nie, of is dit die neiging om hul behoeftes te ignoreer en hul noodkrete stil te maak? Is diakonia ’n instrument om mense te bemagtig ten einde deelname aan die samelewing te verseker? Word diakonia gesien as ’n hulpmiddel om mense in staat te stel om hul eie vermoëns te ontwikkel in plaas daarvan om hul regte vir bystand via die regering en maatskaplike organisasies op te eis? Word diegene in nood beskou as ’n subjek in ontwikkeling of slegs as ’n objek vir ontwikkeling? Diakonia het ten doel om mense te bemagtig om hul stemme te laat hoor en op hul regte aan te dring. Die missie van die kerk is om met dié groep mense te worstel en hulle te bemagtig om hul redelike goeie lewe te bereik.

Dreyer (2016:177) is van mening dat die kerk ter wille van die wêreld bestaan: dat dit beide missionaal en diakonaal is en as die kerk in totaliteit ministerium of diakonia is, dan word dienswerk nie net aan ampsdraers toevertrou nie, maar aan alle gemeentelede, insluitend die jeug (beide as subjek en objek).

Van der Westhuizen en Swart (2015:752) is dit ook eens dat die gemeentelike rol in kontekste van armoede, werkloosheid en sosiale onreg gebaseer moet wees op die voorspraak en implementering van strategieë wat menswaardigheid bevorder. Dit behoort tot geleenthede te lei en ’n ruimte te wees waarin mense kan ontwikkel en op wedersyds voordelige maniere kan deelneem. Twee sleutelaspekte moet aandag geniet, naamlik vennootskappe en die aanmoediging van deelname deur begunstigdes (cf. Nordstokke 2009:46). Hierdie deelname moet daarop gemik wees om begunstigdes te bemagtig om betrokke te raak by die verbetering van hul eie lewens, en kan beskou word as een manier om afhanklikheid van formele strukture (bv. regeringsdienste en befondsing) te benader.

Toekomstige diakonale betrokkenheid vereis dus dat dienste toenemend volgens die konteks en behoeftes op voetsoolvlak saam met die begunstigdes beplan word. Hiermee bedoel die navorser nie dat die kerk se diakonale betrokkenheid nie meer op liefdadigheid mag fokus nie. Inteendeel, die kerk se rol op gemeentevlak is om voort te gaan met nood- en korttermyn-ondersteuning, maar dit behoort deurslaggewend, en selfs meer as wat tans die geval is, uitgebrei te word om programme in te sluit wat gemik is op langtermynverandering op grond van ’n teologiese verbintenis tot die mens se waardigheid, asook sosiale geregtigheid.

Slot

In hierdie artikel is die verstaan van die kerk se diakonale betrokkenheid uiteengesit. Die argument is dat Bybelse getuienis en die tradisie van die kerk dit duidelik maak dat diakonia nog altyd ’n intrinsieke element van die kerk se lewe in al sy verskillende kontekste was en behoort te wees. Verder word die belangrike klem in die literatuur op die behoefte aan diakonia se voortdurende bemagtiging vir die transformasie van jongmense erken. Diakonia se transformerende krag word in hierdie artikel benadruk veral onder die tema van die marginalisering en weerloosheid van die Suid-Afrikaanse jongmense. Baie van wat in die naam van ‘diakonia’ aangebied word, bly vas in ’n ‘liefdadigheidsmodel’; terwyl diakonia dus die mag het om te transformeer, moet dit ook kan bemagtig. As sodanig kan dit verstaan word as ’n oproep wat nie menslike inspanning en onderneming in die taak van bemagtiging uitsluit nie, maar terselfdertyd sy diepste betekenis en doel vind in wat slegs deur God se voortdurende bemagtiging verkry kan word. Met ander woorde, ’n spiritualiteit wat sensitief is vir mense wat ly (in hierdie geval die jeug). In die artikel word dus aangevoer dat die jeug geprioritiseer moet word binne die diakonale diskoers as beide die objek en subjek van diakonia.

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Outersbydrae

J.W.B., was die enigeste outeur betrokke by die skryf van die artikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel voldoen aan alle etiese standaarde vir navorsing sonder direkte kontak met mens of dier.

Befondsing

Hierdie navorsing het geen spesifieke toekenning ontvang van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of nie-winsgewende sektore.

Data beskikbaarheidsverklaring

Data-deling is nie van toepassing op hierdie artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur (s) en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeurs nie.

Bibliografie

Aziz, G., 2020, ‘Age does not determine influence: A consideration for children in ministerial service’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies 76(2), a5848. https://doi.org/10.4102/hts.v76i2.5848

Beukes, J.W. & Plaatjies-Van Huffel, M.A., 2016, ‘Towards a theology of development in the Uniting Reformed Church in Southern Africa (URCSA): Embodying Article 4 of the Belhar Confession’, Missionalia 44(2), 224–240. https://doi.org/10.7832/44-2-138

Beukes, J.W., Thyssen, A.A. & Jacobs, D., 2022, ‘#“Here am I, send Me!” The youth as co-participants and agents of change’, in N. Bowers Du Toit (ed.), Faith, race and inequality amongst young adults in South Africa: Contested and contesting discourses for a better future, pp. 149–163, African Sun Media, Stellenbosch.

Beukes, J. & Van der Westhuizen, M., 2016, ‘Exploring the voices of children and youth: A plea for renewal in church structures for child and youth ministries’, Stellenbosch Theological Journal 2(2), 111–130. https://doi.org/10.17570/stj.2016.v2n2.a06

Beukes, J. & Van der Westhuizen, M., 2018, ‘Moving from faith-based concerns to demarginalizing youths through the circle of courage’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies 74(3), a5013. https://doi.org/10.4102/hts.v74i3.5013

Bosch, D.J., 1991, Transforming mission: Paradigm shifts in theology of mission, Orbis Books, New York, NY.

Bowers du Toit, N.F., 2012, ‘Theology and the social welfare practice of the church: Exploring the relationship in the Paarl context’, in I. Swart, A. Gouws, P. Pettersson, J. Erasmus & F. Bosman (eds.), Welfare, religion and gender in post-apartheid South Africa: Constructing a South-North dialogue, pp. 257–268, Sun Press, Stellenbosch.

Collins, J.N., 1990, Diakonia: Re-interpreting the ancient sources, Oxford University Press, Oxford.

Deifelt, W. & Hofmann, B., 2021, ‘Towards a comprehensive concept of diaconia: Care, transformation, empowerment, advocacy and conviviality’, in G. Ampony, M. Büscher, B. Hofmann, F. Ngnintedem, D. Solon & D. Werner (eds.), International handbook on ecumenical diakonia: Contextual theologies and practices of diakonia and Christian social services – Resources for study and intercultural learning, pp. 53–61, Regnum Books International, Oxford.

De Klerk, B.J. & Van Helden, P., 2011, ‘Oorsake van kerkkrimping binne die tradisioneel Afrikaanssprekende Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika’, Verbum et Ecclesia 32(1), 18–20. https://doi.org/10.4102/ve.v29i2.47

Department of Higher Education and Training, 2017, Fact sheet on ‘NEETS’ (Persons who are not in employment, education or training), viewed 15 March 2017, from http://www.dhet.gov.za/Planning%20Monitoring%20and%20Evaluation%20Coordination/Fact-sheet-on-NEETs-Final-Version-27-Jan-2017.pdf.

Department of Social Development, 2013, Framework for social welfare services, Department of Social Development, Pretoria.

Dreyer, T.F.J., 2003, ‘Statistieke vertel ’n storie: ’n Visie vir die Hervormde Kerk op pad na 2010’, HTS 59(4), 1045–1062. https://doi.org/10.4102/hts.v59i4.685

Dreyer, W.A., 2016, Praktiese Ekklesiologie – Kerkwees in die 21ste Eeu, AOSIS, Durbanville.

Erasmus, J.A. & De Klerk, B.J., 2003, ‘Die plek van jeugbediening binne gemeenteopbou’, In die Skriflig 37(1), 73–94. https://doi.org/10.4102/ids.v37i1.459

Foucault, M., 1998, The history of sexuality: The will to knowledge, Penguin, London.

Ham, C., 2013, ‘Transformative diakonia in a rapidly changing world’, lecture hosted by StichtingRotterdam, Utrecht, A paper presented on 11th December, pp. 1–9.

Heitink, G., 2007, Een kerk met karakter: Tijd voor heroriëntasie, Kok, Kampen, NDL.

‘Jong Volwassene Leer Gemeenskap (JVLG)’, 2017, Nadenke oor jong volwassenes en die NG Kerk, besigtig 01 Oktober 2022, van https://dinkjeug.co.za/nadenke-oor-jong-volwassenes-en-die-ng-kerk/-besoek.

King, S., 2012, ‘Youth and children’s ministry’, Effective Ministry, viewed on 22 September 2022 from http://www.effectiveministry.org.

Nel, M., 1998, Jeugbediening. ’n Inklusiewe gemeentelike benadering, RGN-Uitgewers, Pretoria.

Nel, R.W., 2014, ‘Discerning the role of faith communities in responding to urban youth marginalisation’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies 70(3), a2743. https://doi.org/10.4102/hts.v70i3.2743

Nel, R.W., 2015, ‘Social media and the new struggles of young people against marginalisation: A challenge to missional ecclesiology in Southern Africa’, Stellenbosch Theological Journal 1(2), 511–530. https://doi.org/10.17570/stj.2015.v1n2.a24

Nordstokke, K., 2002, ‘Prophetic diakonia – A response’, in Prophetic diakonia: For the healing of the world report, Reinhard Böttcher (ed.), pp. 30–31, The Lutheran World Federation, Geneva.

Nordstokke, K., 2009, Diakonia in context: Transformation, reconciliation and empowerment, The Lutheran World Federation, Geneva.

Osmer, R.R., 2008, Practical theology − An introduction, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Osmer, R.R. & Schweitzer, F.L., 2003, Developing a public faith: New directions in practical theology, Chalice Press, St Louis, MO.

Republic of South Africa, 2015, National Youth Policy 2015–2020: The authors are generation 2020. The authors don’t want a hand-out, the authors want a hand up!, The Presidency of the Republic of South Africa, Pretoria.

Schoeman, W.J., 2014, ‘Agter die syfers is gelowiges, gemeentes en die kerk, ’n praktiese teologiese refleksie oor lidmaatskap’, HTS Teologiese Studies/ Theological Studies 70(1), Art. #2677, 10pp.. https://doi.org/10.4102/hts.v70i1.2677

SSA (Statistics South Africa), 2020, Quarterly labour force survey, viewed 22 September 2022 from https://bit.ly/3JmODg8.

Swart, I., 2010, ‘Dissecting a theology of social charity: The case of The Dutch Reformed Church and socio-economic development at the beginning of the early post-apartheid dispensation’, in I. Swart, H. Rocher, S. Green & J. Erasmus (eds.), Religion and social development in post-apartheid South Africa: Perspectives for critical engagement, pp. 289–305, Sun Media, Stellenbosch.

Swart, I., 2018, ‘Youth marginalisation as a faith-based concern in contemporary South African society: Introducing a research contribution’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies 74(3), a5253. https://doi.org/10.4102/hts.v74i3.5253

Swart, I., 2021, ‘The transformative power of diakonia – Theological reflections from South Africa’, in G. Ampony, M. Büscher, B. Hofmann, F. Ngnintedem, D. Solon & D. Werner (eds.), International handbook on ecumenical diakonia: Contextual theologies and practices of diakonia and Christian social services – Resources for study and intercultural learning, pp. 62–67, Regnum Books International, Oxford.

Swart, I., Vähäkangas, A., Rabe, M. & Leis-Peters, A. (eds.), 2022, Stuck in the margins? Young people and faith-based organisations in South African and Nordic localities, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.

Swartz, S. & Nyamnjoh, A., 2018, ‘Research as freedom: Using a continuum of interactive, participatory and emancipatory methods for addressing youth marginality’, HTS Teologiese Studies / Theological Studies 74(3), a5063. https://doi.org/10.4102/hts.v74i3.5063

Ungerer, A., 2011, ’n Prakties Teologiese ondersoek na die betrokkenheid van gemeentes in die gemeenskap waarbinne hul bestaan’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 67(3), Art. #1106, 9pp. https://doi.org/10.4102/hts.v67i3.1106

Van der Westhuizen, M. & Swart, I., 2015, ‘The struggle against poverty, unemployment and social injustice in present-day South Africa: Exploring the involvement of the Dutch Reformed Church at congregational level’, Stellenbosch Theological Journal 1(2), 731–759. https://doi.org/10.17570/stj.2015.v1n2.a35

Van Helden, S., 2016, ‘Waar is die gereformeerde lidmate dan?’, In die Skriflig 50(1), a2073. https://doi.org/10.4102/ids.v50i1.2073

Voas, D. & Watt, L., 2014, Numerical change in church attendance: National, local and individual factors, The Church Growth Research Programme Report on Strands 1 and 2, University of Essex, Essex, UK.

World Economic Forum, 2014, Global risks report 2014, World Economic Forum, Geneva, viewed on 22 September 2022 from http://www3.weforum.org/docs/WEF_GlobalRisks_Report_2014.pdf.

Voetnotas

1. See https://dinkjeug.co.za/nadenke-oor-jong-volwassenes-en-die-ng-kerk/

2. See https://dinkjeug.co.za/nadenke-oor-jong-volwassenes-en-die-ng-kerk/



Crossref Citations

No related citations found.