About the Author(s)


Piet J. Strauss Email symbol
Department of Historical and Constructive Theology, Faculty of Theology, University of the Free State, Bloemfontein, South Africa

Citation


Strauss, P.J., 2023, ‘Kerklike tug: ’n ‘inhoudloze kerkordelijke aangelegentheid’ in ’n plurale kerk?’, Verbum et Ecclesia 44(1), a2703. https://doi.org/10.4102/ve.v44i1.2703

Note: This article was republished with an updated abstract to include the omitted English title. The publisher apologises for any inconvenience caused.

Original Research

Kerklike tug: ’n ‘inhoudloze kerkordelijke aangelegentheid’ in ’n plurale kerk?

Piet J. Strauss

Received: 23 Aug. 2022; Accepted: 26 Nov. 2022; Published: 22 June 2023; Republished: 30 June 2023

Copyright: © 2023. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstrak

Church discipline without content in a plural church? The Dutch theologian Leo Koffeman comes to the conclusion that church discipline is irrelevant and without content in a plural church. Such a church is the Protestant Church in the Netherlands (PKN). In its view on church life, a plural church is of the opinion that it should rather cater for people of different religious and ethical viewpoints. This approach is applied to a variety in beliefs and behaviour among members. According to this conviction, a difference in viewpoint enriches the members involved spiritually. The need for church discipline in order to keep the church obedient to its Head, Jesus Christ and His commands and to prevent members from opposing the beliefs in the church, is neither accepted nor advocated in a plural church. Against this line of thought, reformed churches like the Dutch Reformed Church in Southern Africa keep to reformed confessions like the Confessio Belgica and the Heidelberg Catechism. Through their General Synod they opt for these confessions as a biblically based norm for the church. By making these two documents part of their confessions, the Dutch Reformed Church confesses church discipline as a core issue in a truly reformed church. The difference between truly plural and truly reformed churches on discipline boils down to the difference between a humanistic and a Biblical point of departure. The author associates with the latter.

Intradisciplinary and/or interdisciplinary implications: In this article, the ecclesiological implications of a reformed, modernistic and post-modernistic approach of life meet. The topic is church discipline: an ecclesiastical, ethical and church political issue reflected in the reformed confessions of faith referred to. A philosophical and ethical approach of church discipline is thus reflected.

Keywords: Protestant Reformed Church rejects church discipline; modernistic and post-modernistic approaches stress individual freedom of belief; rejection of church discipline determined by people; reformed churches confess church discipline; Word of God norm for life and church life; obedience to God’s Word important to the believers.

Inleidend

T.H.N. Sadler se proefskrif uit 1979 in die gereformeerde kerkreg oor ‘Die kerklike tughandeling’ met verwysing na die NG. Kerk (vgl. Sadler 1979) en die reaksie sedertdien daarop, bevestig die vermoede dat die laaste woord oor hierdie saak nog nie gespreek is nie. Die bespreking onderstreep die gewaarwording dat daar nie klaar gepraat is oor die meriete en hantering van die tughandeling na eeue van gereformeerde kerkwees nie.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) met artikel 29 oor die kenmerke van die ware kerk, naamlik die suiwere bediening van die Woord, die Skriftuurlike bediening van die sakramente en die kerklike tug ‘om die sondes te straf, en artikel 32 oor kerklike orde en tug, dateer uit 1561. Op sy beurt kom die Heidelbergse Kategismus (HK) met Sondag 31 oor die Christelike of kerklike tug1 as die sleutels van die hemelryk uit 1563 (NG Kerk-Uitgewers 1982:29–30, 62–63). Gereformeerde kerke in Suid-Afrika met ’n band van herkoms met gereformeerde kerke in Nederland bely die Drie Formuliere van Eenheid, te wete die NGB (1561), HK (1563) en Dordtse Leerreëls (DL, 1619) as die essensie van hulle geloofsoortuigings (Heyns 1992:38; Jonker 1994:6; NG Kerk-Uitgewers 1982:5). Dit gaan hier om geskrifte wat by daardie bekende gereformeerde ekumeniese vergadering, die Nasionale Sinode van Dordrecht van 1618–1619 (Kuiper 1995:268; Pont 1981:168),2 vasgelê en aanvaar is (vgl. Heyns 1992:38; Strauss 2006:656–657). Deur hulle aanvaarding van die Drie Formuliere bely die betrokke kerke die kerklike tug as ’n kernwaarheid van die Christelike geloof. As ’n belydenis van die kerklike tug gaan dit hier om ’n uitdrukking van die hart en nie ’n terloopse sinodebesluit of ordereëling nie. Daarby beteken die belydenis van die kerklike tug in die NGB en die HK dat hulle hieroor – al is dit voorlopig – betekenisvolle finaliteit bereik het. Slegs die kerklike ontkenning van die tug as deel van die essensie van die Christelike geloof én as Bybels begrond, kan tot die weglating hiervan uit die belydenis lei (Heyns 1977:156; Jonker 1994:6).

Tog is die bespreking oor die kerklike tug of aspekte daarvan nie afgehandel nie. Behalwe Sadler se bydrae in 1979, is die Ned.Geref. Kerk se kerkordelike besig wees met die tug ’n saak wat telkens opduik. In 1998 herskryf hierdie kerk sy Kerkorde (NGKO) oor die kerklike tug met twee hoofoogmerke: om die ‘pastoraal-kerkregtelike aard’ van tug in die Ned.Geref. Kerk as ’n eiesoortige tug te bevestig en gereformeerd voort te sit én om die tugreglement van 1974, as ’n afwyking van sy aard, te skrap (NGKO 1998:20–25; Sadler 1979:30–35; Strauss 2018:1). In 2011 besluit die Algemene Sinode van die Ned.Geref. Kerk egter, sonder redes genotuleer in die acta, weer op ’n tugreglement omdat hierdie kerk, volgens mondelinge getuienis, kerkorde-artikels oor die tug as die draers van ‘beginsels’ en reglemente as ‘reëlings’ vir die uitvoering daarvan beskou. Ander artikels in die NG Kerkorde of NGKO bly egter soos dit is. Skynbaar was ’n kerkorde as ordelike kanale of reëlings waardeur beginsels gestalte kry, die tug ingesluit, nie oortuigend vir hierdie Algemene Sinode nie. Soos die meriete van ’n tugreglement skipper die doel van ’n kerkorde heen en weer by hierdie instansie in die Ned.Geref. Kerk (Strauss 2018:6). Jonker se stelling is hier toepaslik, kort en bondig: ‘Die doel van ’n kerkorde is om die diens van die Woord, die bediening van die sakramente, die handhawing van die tug en die onderlinge sorg van die lede van die liggaam vir mekaar te reël’ (Jonker 1994:78–79).3

Hoe dit ook al sy, vir die doel van hierdie artikel handhaaf sekere gereformeerde kerke die kerklike tug ten minste in hulle kerkordes en, soms, hieraan toegevoegde reglemente (Koffeman 2009:282).

In sy omvattende ‘theologische’ inleiding op kerkreg, ‘Het goed recht van de kerk’, kom die Protestants-Nederlandse kerkregtelike, Leo Koffeman (2009), egter tot die slotsom dat die kerklike tug as ’n specifiek Christelijke tuchthandeling in die geldende moraal van ‘plurale’4 of eties-meerduidige kerke in Wes-Europa, gedateer is. In dié kerke het die tug ’n ‘inhoudloze kerkordelijke aangelegenheid’ geword. Die Bybelse antitese of dit wat spesifiek Christelik in onderskeiding van nie-Christelik in die bepaling van ’n lewenstyl is (Ef 4:17 e.v.), word nie sondermeer in plurale kerke gehandhaaf nie. Die onderskeid tussen Christelik en nie-Christelik word nie deur hulle antiteties beleef en erken nie (Koffeman 2009:282).5

Gevolglik oorweeg hierdie artikel die vraag of die kerklike tug noodwendig ’n ‘inhoudloze kerkordelijke’ saak in plurale én gereformeerde kerke binne ’n ideologiesgedrewe menseregte-omgewing moet wees. Spruit Koffeman se ‘inhoudloze kerkordelijke aangelegenheid’ noodwendig uit die feit dat die PKN ’n plurale kerk in ’n demokratiese Nederland is? Wat Suid-Afrika betref, word die Ned.Geref. Kerk – eens ’n kerk met noue bande met die Gereformeerde Kerke in Nederland wat nou in die PKN opgeneem is (Strauss 2015:102) – as ’n gereformeerde kerk in ’n byna verabsoluteerde menseregte-omgewing bekyk. Immers, in die Suid-Afrikaanse Grondwet van 1996 val die klem op indiwiduele menseregte met ’n Handves van Regte wat as dié norm vir menslike gedrag, veral in die openbare lewe, voorgehou word (Klein & Viljoen 1999:262–276). Hierdie artikel gebruik die term ‘kerklike tug’ omdat die wisselterm by sommige, naamlik die ‘Christelike tug’, ook in Christelike samelewingskringe behalwe die kerk, gebruik kan word.6 Vir die versameling van data word gebruik gemaak van ‘n literatuurstudie. Die artikel verloop onder die subhofies van die tug in plurale kerke met die teoloog Koffeman as die segsman daarvan, in gereformeerde kerke in Suid-Afrika met die NG Kerk as die voorbeeld en in die gereformeerde konfessies soos deur die NG Kerk onderskryf. ’n Samevatting en gevolgtrekking volg aan die einde.

Tug in ’n plurale kerk

Volgens Koffeman is die hantering van die ‘kerkelijke tucht over gemeenteleden welhaast gedoemd’ in ’n plurale kerk soos die PKN. Die tug sou nog kon funksioneer in kerke wat ’n stel norme vir die lewe deel, maar die PKN verskil inwendig oor verskeie etiese en kerklike kwessies. Soos die staat in sy strafregtelike afwysing van die seksuele misbruik van minderjariges vanuit ’n maatskaplike ‘normstelling’ of breë norme vir seksuele gedrag werk, moet die kerk in die tug oor lidmate van erkende eties-dogmatiese norme onder kerklidmate gebruik maak om hierdie deel van hul kerkwees te aktiveer. In ’n eties-plurale of meerduidige kerk met uiteenlopende etiese en dogmatiese oortuigings – soos die PKN waarin hy hom bevind – verword die tug volgens Koffeman ‘tot een inhoudsloze kerkordelijke aangelegenheid’. Selfs al sou kerke as eties-eenduidige instellings die tug toepas, is lidmate in ’n sekulêre gemeenskap geoorloof om hulle lidmaatskap weens ’n tugsaak teen hulle op te sê (Koffeman 2009:282). In die Westers-demokratiese samelewing met sy beklemtoning van indiwiduele menseregte word so iets nie as negatief beskou nie. Inteendeel, dit beklemtoon die vryheid van ’n lidmaat om by sy eie oortuigings te bly. ’n Beklemtoning wat morele stukrag vind in die invloed van die postmodernisme wat in etiese beslissings van kerke deurkom. ’n Postmodernisme wat die kernwaardes in reformatoriese belydenisskrifte of vertrekpunte vir etiese oordele relativeer (Rauntenbach & Malherbe 1994:8–16; Strauss 2015:101–102). Slagoffers van hierdie benadering is NGB artikel 29 met sy drie kenmerke (notae ecclesiae) van die ware kerk, waaronder die handhawing van die kerklike tug, NGB artikel 32 oor die orde en tug van die kerk en HK Sondag 31 oor die kerklike of of ‘Christelike’ tug. Tugsake oor dinge waaroor lidmate verskil of tugsake as ’n verskynsel, blyk in plurale kerke, vanweë inwendige verskille oor die meriete daarvan, ‘n onmoontlike saak te wees. Met die erkenning van indiwiduele regte as die maatstaf vir billikheid kan ’n mondige kerk nie volhou met ’n gebruik waarvoor daar nie genoegsame steun by lidmate is nie (Heyns 1992:343–345; NG Kerk-Uitgewers 1982:29; Strauss 2010:109).

Koffeman se afwysing van die kerklike tug spruit egter nie alleen uit die feit dat hy met ’n meerduidige of plurale kerk gekonfronteer is nie. Wat vir hom belangriker is, is dat die kerk sy ‘kwaliteit’ nie primêr behou deur die kerklike tug nie. Aspekte van pastorale versorging en die morele vorming van lidmate beskou hy as ‘veeleer bepalend’.7 Kerklike besluite oor ‘excommunicatie’ moet beskeie wees en kan, soos dit in gereformeerde kerke gebeur, nie aan vergaderings van die kerk met menslik erkende gesag gegee word nie. Kerklike besluite staan onder ’n eskatologiese voorbehoud. Kerklike besluite is voorlopig en ’n ‘definitiewe’ oordeel oor wie enduit aan die kerk behoort, lê nie by die kerk nie.8 Hy sê sonder enige verduideliking dat die Kerkorde van die PKN in ’n tugsaak boonop – ás dit sou voorkom (PJS) – ‘optimaal recht’ laat geskied aan die ‘persoonlijke verantwoordelijkheid’ van die aangeklaagde, al sou die persoon of persone teoreties afgesny kon word (Koffeman 2009:282–283). Beïnvloed deur die amptelik en moreel-erkende regte van die indiwidu in die Europese Verdrag van Menseregte (EVRM),9 openbaar hierdie Kerkorde respek vir die regte van die indiwidu (Torfs 2003:271).

Torfs oordeel dat die kerk in amptelike tugsake aan geloofwaardigheid by die breë publiek wen as hy in kerkregtelike prosesse of tugsake aanvaarde regprosesse in die burgerlike samelewing verreken. Europese kerke word toenemend gekonfronteer met ’n onvermydelikheid wat nie teologies van aard is of deur die staatsowerheid ‘hardhandig’ afgedwing word nie. Hierdie onvermydelikheid lê in die morele appèl wat van die samelewing as geheel uitgaan en op die kerke gemaak word; ’n appèl wat spruit uit die stand en status van die EVRM in die gemeenskap. Dit gaan hier oor ’n standpunt oor die regte van die mens wat die kerk nie kan verontagsaam nie. Die EVRM wat uit ’n morele en nie ’n staatsregtelike oogpunt nie, as die hoogste wet in Europa beskou word, staan moreel-emosioneel ook bo die Belgiese Grondwet van 1831. Hierdie lewende persepsie gee ‘n momentum aan die EVRM as ’n onvermydelikheid vir kerkregtelike prosesse. Torfs beskou dit as redelik dat ’n lidmaat kan verwag dat die kerk voldoende ‘rechtsmiddelen’ het om sy persoonlike regte te beskerm (Torfs 2003:271).10 By implikasie gee hy Koffeman hiermee gelyk as hy praat van kerklike tug wat aan die sogenaamde persoonlike verantwoordelikheid van die indiwidu reg moet laat geskied. Op sy beurt oordeel Coertzen dat teoloë kennis moet neem van die belangrike rol wat menseregte vandag in die regswetenskap en die vasstelling van wat billik is, speel. Die gebruik daarvan in en deur kerke moet egter teologies, juridies en ordelik-gefundeer aangewend word (Coertzen 2003:201).

Tug in gereformeerde kerke in Suid-Afrika

’n Soortgelyke situasie ontwikkel in Suid-Afrika. Die kern van die Grondwet van 1996 is hoofstuk II met ’n Handves van Regte vervat in artikels 7–39 in terme waarvan die res van die Grondwet, die wette van die land én regverdigheid in die algemeen vanuit die oogpunt van die staat vertolk word. ’n Handves wat die gedrag van die burgery wil rig. Ter inleiding word die Handves in artikel 7(1) omskryf as:

… ’n hoeksteen van die demokrasie in Suid-Afrika. Dit verskans die regte van alle mense in ons land en bevestig die demokratiese waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid.’ (Kleyn en Viljoen 1999:267)

Artikel 8 (1) brei hierop uit:

… Die Handves van Regte is van toepassing op die totale reg en bind die wetgewende, die uitvoerende en die regsprekende gesag van alle staatsorgane. (Klein & Viljoen 1999:267; Handves in Afrikaans in Klein & Viljoen 1999:267–276)

In sy slot bepaal artikel 39(2) van die Handves dat die gees, strekking en oogmerke van die Handves by die uitleg van alle wette in Suid-Afrika en die groei van die gemene of gewoontereg deur elke hof, tribunaal of forum bevorder moet word (Klein & Viljoen 1999:276). Hierdie bepaling beteken ook dat tugsake in gereformeerde kerke in Suid-Afrika die implikasies van die Handves as ’n sosiaal-morele onvermydelikheid en vanweë die kerkregtelike en regskante van kerklike tugsake, nie kan ignoreer nie. Beide die NGKO met sy artikels oor die kerklike tug en die Handves met sy menseregte vra vir die regverdige en menswaardige hantering van die mense betrokke, hoewel elkeen vanuit sy eie invalshoek en begronding. Die minste wat ’n gereformeerde kerk op hierdie punt kan doen, is om van die Handves kennis te neem en homself uit ’n kerklike oogpunt daaroor te verantwoord. As ’n kerklike tugliggaam die aard van die kerk as ’n instelling van geloof of ’n geloofsverband wil handhaaf, sluit hy as ’n Skrifgehoorsame instelling nie die vereistes vir regverdigheid en billikheid uit nie. Daarom word die gebruik van die reëls van natuurlike geregtigheid in kerklike tugsake deur die eeue as noodsaaklik beskou én in gedeeltes van die Skrif weerspieël.11 Daarom word die kerk as ’n nie-staatlike geloofsliggaam wat veronderstel is om in tugsake regverdig op te tree, in die gemene reg getipeer as ’n liggaam wat in kerklike tugsake kwasi-judisiële funksies verrig (Du Plooy 2007:18 e.v.; NGKO 2015:29; Sadler 1979:185–194).

As twee aspekte van die skepping as ’n samehangende geheel, staan geloof en reg én dus respektiewelik kerk en staat, elk met sy eie aard, prinsipieel vervleg en nie los van mekaar nie. Kerklike tugsake moet ook regverdig wees (regsaspek) en ’n lidmaat moet kan vertrou (geloofsaspek) dat sy saak reg, regverdig (regsaspek) en Bybels (lewensnorm) hanteer word. Kerklike tug as ’n pastoraal-kerkregtelike saak (NGKO 2015:29) vra vir ’n pastorale aanvoeling én gepaste onderskeidings om regverdig te wees (logiese aspek), pastorale selfbeheersing en geduld om te tug én die betrokkene te behou (historiese aspek), ’n pastorale ewewig by die tugliggaam in sy tugmaatreëls wat pas by die graad van die oortreding (ekonomiese aspek), harmonie tussen die tugliggaam en sondaar met die oog op die kerkherstel van laasgenoemde (kunsaspek) en Bybelsetiese respek vir die tugliggaam én die beweerde oortreder(s) wat almal na die beeld van God geskape is (Strauss 2010:1–2, 2018:1). Deur hierdie normatiewe kante in ’n kerklike tugondersoek te handhaaf, kan ’n kerklike tugvergadering aan interne kerkordelike beginsels voldoen én – op sy kerklike manier – die eise van die Handves stilswyend tegemoet kom wat opsommenderwys vra vir regverdigheid, menswaardigheid en billikheid. Só ’n hantering voldoen aan die funderings wat Coertzen vereis: juridies en ordelik (Strauss 2018:1).12

Afrikaanse gereformeerde kerke word beïnvloed deur hierdie veranderde moreel-emosionele denk- en geestesklimaat: ’n klimaat wat geskep word deur die invloed van beide die modernisme met sy klem op menseregte én die postmodernisme wat in sy relativering van standpunte ruimte laat vir die erkenning van verskille tussen indiwiduele lidmate en gemeentes. Vanuit die postmodernisme word die reg van ’n eie indiwiduele standpunt, soos gepropageer in die modernisme, onderstreep (Strauss 2015:102).

Die Ned.Geref. Kerk is ’n voorbeeld van ’n Afrikaanse gereformeerde kerk in hierdie veranderde denk- en geestesklimaat. ’n Opgesomde tipering van die klimaat in die Ned.Geref. Kerk is verskille oor godsdienstige en etiese kwessies en die besef dat verskille nie noodwendig oorbrugbaar is nie en die kerk dit in vrede moet aanvaar. Tipies postmodernisties word sommige kerklike standpunte gerelativeer en verdra. Die houding word ingeneem dat mense wat verskil nie afgesny – die laaste stap van die kerklike tug – moet word nie. Hulle is as indiwidue geregtig op ’n eie standpunt en wie kan sê hulle standpunt is verkeerd? Wie kan homself hierdie reg aanmatig? Hierdie verskynsel in die Ned.Geref. Kerk kom na die oppervlak by die Algemene Sinode van 2004 op Hartenbos. Die besluit van dié Sinode oor sy gereformeerde identiteit praat van ’n ‘ingrypende meningsverskil’ in die Ned.Geref. Kerk oor die vertolking van die gereformeerde belydenis en spiritualiteit (NGKO 2004:374, 433). Lidmate en gemeentes met verskillende spiritualiteite moet egter – let wel – naby aan mekaar leef en mekaar verryk met diens aan kerk en samelewing (NGKO 2004:353). Anders as vroeër gedink, hoef hierdie verskille nie kerklike verdeeldheid te skep nie. Dit verryk die betrokkenes geestelik – ten spyte van die sondeval is daar skynbaar iets goeds in die insette van elkeen – en eis verdraagsaamheid. In sy verslag aan dieselfde Sinode sê sy Kommissie vir Leer en Aktuele Sake onder Skrifgebruik en Skrifgesag dat ‘ons gemeentelede’ van sienings weet ‘waaroor ons nie meer so seker is nie en in elke geval nie meer eenstemmig is nie’. Hierdie verskille gaan byvoorbeeld oor die rol van die vrou in die samelewing, ewolusie, homoseksualiteit, aborsie, saambly en modelle vir gemeentewees (NGKO 2004:130). Die Algemene Sinode van 2007 volg dieselfde werkswyse met hulle liturgiese grondlyne wat deur gemeentes in hulle eie situasie en eie styl aangewend word. Van uitkenbare Ned.Geref. Kerke in hulle manier van aanbidding is daar nie altyd sprake nie. (NGKO 2007:201; Strauss 2013:77–78). Dat die Algemene Sinode hiermee ’n relativerende pad in ’n nuwe plurale baadjie betree, blyk ook uit voorbeelde by latere Algemene Sinodes: oor homoseksualiteit, die Satan as ’n persoon of nie en huweliksluiting met of sonder die erkenning van die staat. Onopgeloste verskille in die Algemene Sinode word soms na gemeentes en kerkrade vir beslissing verwys (Strauss 2015:102). Die indruk ontwikkel by die Algemene Sinode dat ’n indiwidu én ’n gemeente met teenoorstaande standpunte verdra moet word en dat kerklike verskille ongekwalifiseerd geestelik verrykend sou wees. Besluite van die Algemene Sinode oor dieselfde-geslag-huwelike en besluite wat vir verskillende standpunte in die Ned.Geref. Kerk oor die Satan as ’n persoonlike én nie-persoonlike begrip ruimte maak, toon verdraagsaamheid oor verskille in ’n menseregtegedrewe, relativerende gemeenskap. ’n Ontwikkeling wat tug oor sake waaroor daar verskille in die Ned.Geref. Kerk is, onseker maak (Strauss 2015:102). Die Ned.Geref. Kerk as grootliks ’n Afrikaanse gereformeerde kerk, het in die laaste dekade of meer die pad van Koffeman se plurale kerk begin loop. Aanvanklik was daar net plurale of uiteenlopende uitdrukkings in motiverings vir voorstelle aan die Algemene Sinode, maar later word dit in besluite gereflekteer. In dié proses is verskille oor sekere temas aanvaar omdat ‘ons ’n ruim huis’ met genoeg plek is …

Sy eie omskrywing of belewing van die kerklike tug as ’n ‘inhoudloze kerkordelijke aangelegendheid’ (‘op zijn Nederlands’, PS) wag vir die Ned.Geref. Kerk net om die draai.

Intussen handhaaf dieselfde Algemene Sinode amptelik en formeel nog NGB artikel 29 met sy kenmerke van die ware kerk: die suiwere bediening van die Woord, die Skriftuurlike bediening van die sakramente en die kerklike tug om die sondes te straf (NG Kerk-Uitgewers 1982:29). Die begrippe ‘kerklike tug’ en ‘sondes’ bly, wat die NGB, die HK én die Algemene Sinode van die Ned.Geref. Kerk betref, kernsake van die Christelike geloof (Jonker 1994:6). Anders as by Koffeman en die PKN het tug in die Ned.Geref. Kerk nog nie verword tot ’n ‘inhoudloze kerkordelijke aangelegenheid’ nie maar bly dit, formeel-amptelik én in sekere soorte tugsake, deel van die kerkpraktyk. Hoewel die Algemene Sinode van 2011 met NGB artikel 12 oor die Satan as persoon verskil sonder dat dit amptelik erken word (NG Kerk-Uitgewers 1982:15–16; Strauss 2015:102), weerhou hierdie vergadering hom nog van kritiese uitsprake oor die NGB, die HK en die kerklike tug. Al is die Algemene Sinode as ’n kerkvergadering geneig om standpunte waaroor daar sterk verskil word, te relativeer, word die gedeeltes in die belydenis oor die kerklike tug – NGB artikel 29 en 32 en HK Sondag 31 – so gelaat. Formeel gesproke kom die NGB en die HK verby die relativering, kritiek én ‘ingrypende meningsverskille’ oor die gereformeerde belydenis in die Ned.Geref. Kerk. Daar is geen noemenswaardige debat hieroor nie en tug om sondes te straf bly formeel én met sporadiese tuggevalle, staan.

Teenoor die houding van die kerklike tug as ’n inhoudloze kerkordelijke aangelegenheid’, staan NGB artikel 29 en 32 HK Sondag 31 in die Ned.Geref. Kerk met die belydenis van die kerklike tug as ’n kernsaak van die Christelike geloof (Jonker 1994:78–79). ’n Kernsaak waaroor daar in selfs in ’n plurale gemeenskap wat sigself ’n Christelike(?) kerk noem, nie ’n meerduidige aanpak kan wees nie. Hierdie belydenis oor die kerklike tug word nou met kort aantekeninge aan die woord gestel.

Gereformeerde belydenisse oor die kerklike tug

Vir NGB artikel 29 is die kenmerke of notae ecclesiae (ou Afrikaans: ‘merktekens’) van die ware kerk die suiwere prediking van die Evangelie, die bediening van die sakramente soos Christus ‘dit ingestel het’ en die kerklike tug om die sondes te straf. Die HK onderstreep die sleutelrol van die ‘Christelike’ tug in die kerk deur dit saam met die verkondiging van die Evangelie die sleutels van die koninkryk van die hemel of ryk van Christus te noem. Verkondiging en tugtiging is die twee kerklike aksies wat die koninkryk oop- en toesluit vir die mens. Twee kerklike praktyke wat draai rondom die Bybelse geestelike lewe of geestelike dood (NG Kerk-Uitgewers 1982:29, 62–63; Ef 2:1–7).

Heyns verwys tereg na die notae ecclesiae van die ware kerk as dié voorwaardes vir kerkwees. Om te bepaal of ons met ’n kerk te make het, moet ’n versameling mense rondom die Woord, sakramente en tug as ’n Bybelsgedrewe en geloofsbepaalde instelling vergader (Heyns 1992:326). Aan hierdie drie kenmerke word die kerk uitgeken as daardie samelewingskring of -verband wat ons die Christelike kerk noem.13 ’n Christelike kerk bestaan in die greep van Gods Woord soos oorgedra en gebruik deur die Heilige Gees en bemiddel deur Jesus Christus as Here en Middelaar. Volgens Efesiërs 1:3–14 word die kerk as die gelowiges deur God die Vader op grond van sy voorneme verkies, beskik, bestem en besluit, iets wat in en deur Jesus Christus bemiddel en deur die Heilige Gees uitgevoer, ‘beseël’ en gewaarborg word. Die kerk ontstaan en leef op grond van God-drie-enig se ‘genadige beskikking’ (Strauss 2010:81–83).

Op hierdie punt merk Heyns op dat die uitdrukking van ’n valse kerk ‘in ’n sekere sin’ ’n teenstrydigheid is. Dit is soos om te praat van ’n ‘onware waarheid’. Volgens hom word die kerk na sy wese in die lewe geroep en in stand gehou deur die Woord – en Gees (PS) – van God. In die kern van die saak is die kerk kerk omdat hy in God glo en uit sy geloof aan die Here gehoorsaam leef. As hy hierdie gehoorsaamheid verloor, hou hy op om kerk te wees. ’n Valse kerk gee voor om ’n kerk te wees, maar dit is soos met ’n onmoontlike moontlikheid: dit is onmoontlik (Heyns 1992:347). Vir Heyns lê die wese van kerkwees in gehoorsaamheid aan God-drie-enig. ’n Gehoorsaamheid wat volg op die oortuiging deur die Woord en Gees van God wat deurstoot tot die volle lewe van die mens – ook in die kerklike tug in die 21ste eeu met sy modernistiese en postmodernistiese tendense onder Westerlinge. Plurale én eenduidige kerke moet die sleutelbegrip ‘gehoorsaam aan God en sy Woord’ verstaan én uitleef om aan hierdie Bybelse norm vir die kerk te voldoen. Geen menslike inisiatief, denkstroom of mensereg kan die goddelike opdrag van ‘gehoorsaam God!’ ewenaar of kanselleer nie. Net soos geen mens die Here as die God van hemel en aarde kan vervang of kan laat vervang nie (Heyns 1992:366).

Heyns wys op NGB artikel 32 wat handel oor die orde en tug van die kerk en aanvoer dat ’n kerklike orde goed en nuttig vir die kerk as ’n geloofsinstelling is. Artikel 32 bepaal voorts dat geen kerklike uitspraak of reëling moet afwyk van wat Christus ‘vir ons ingestel het nie’ (NG Kerk-Uitgewers 1982:31). Volgens Heyns beteken hierdie stelling dat die kerk hom moet laat lei deur gehoorsaamheid aan die Woord van God. Gehoorsaamheid aan Gods Woord is ’n gereformeerde belydenis én vertrekpunt en geld nie net die kerkleer nie, maar ook die orde ‘vir’ en die tug van die kerk (Heyns 1992:366). Soos NGB artikel 32 dit stel:

… daarom verwerp ons alle menslike uitdinksels en alle wette wat mense sou wil invoer om God te dien en om, op watter manier ook al, die gewetens daardeur te bind en te dwing. Ons aanvaar… om alles in gehoorsaamheid aan God te onderhou. Daarvoor is nodig die ban en alles (van die tug, PS) wat daarmee saamhang, toegepas ooreenkomstig die Woord van God. (NG Kerk-Uitgewers 1982:31)

Vir NGB artikel 32 is die vraag nie wat mense van die 21ste eeu oor die kerklike tug sê nie, maar of die kerk hierin aan die Woord van God gehoorsaam is. Wat Bouwman betref, komplementeer die Woord, die sakramente en die kerklike tug as die notae ecclesiae van die kerk mekaar omdat hulle sonder mekaar ondenkbaar is. Woordtug of die gebruik van die Woord in die kerklike tug saam met ander verantwoorde geestelike maatreëls, bepaal die geestelike aard van dié soort tug (Bouwman 1985:589–599). Immers, Christus is die Hoof van die Kerk en Christusgesag is Woordgesag (Jonker 1965:6).

Polman kom tot die slotsom dat die kerklike tug, naas die suiwer bediening van die Woord en sakramente, by Calvyn nie een van die uitstaande kenmerke van die kerk as (Bybels gesproke) ware kerk is nie. Tug is wel vir Calvyn nodig om die kerk in sy ‘ongerepte staat’ te hou (Polman s.a.:331). Waar die ‘zaligmakende leer van Christus’ vir Calvyn die siel van die kerk is, is die ‘tucht in de kerk voor Calvijn de zenuwen’: die spiere of senuwees wat elke lidmaat in sy plek en die lidmate aan mekaar gebonde hou. Diegene wat die kerklike tug uitskakel of die herstel daarvan teenstaan – onnadenkend of opsetlik – soek die verstrooiing van die kerk. Wat sal gebeur as elkeen in die kerk kan doen wat hy wil? Diegene wat die leer van Christus bestry, word getoom, gestuur en getem deur die kerklike tug. Die kerklike tug is ’n prikkel wat die mens opwek tot gehoorsaamheid aan God én ’n vaderlike roede wat met die ‘zachtmoedigheid’ en ‘zachtzinnigheid’ van die Heilige Gees hulle tug wat geestelik val: die enigste geneesmiddel deur Christus voorgeskryf vir die verwoesting van die ware kerk en deur die eeue deur die gelowiges of ‘vromen’ gebruik (Sizoo s.a.:257, 265).

Calvyn, Melanchton en Bullinger wat die kerklike tug nie as ’n selfstandige, uitgekristalliseerde kenmerk van die ware kerk beskou nie, erken egter die sleutelrol van die tug in die ware kerk. Hierteenoor is daar gereformeerdes soos A Lasco, Beza, De Brès en John Knox wat die tug eksplisiet onder die drie kenmerke van die Woordgetroue kerk van Christus tel. Tussen hierdie twee moontlikhede en hulle voorstanders is daar egter geen prinsipiële verskil nie. Albei groepe is ‘warme voorstanders en verdedigers van de kerkelijke tucht’ (Polman s.a.:333). In sy kommentaar op die NGB artikel 29, lê De Brés klem op die ware kerk wat ‘zich aanstelt naar het zuiwere Woord Gods, verwerpende alle dingen die daar tegen zijn, houdende Jezus Christus voor het enige Hoofd’. Volgens De Brès wil die kerklike tug die kerk só lei dat lidmate ‘hun naaste liefhebben, niet afwijken noch ter rechter- noch ter linkerhand, en hun vlees kruisigen met zijn werken’ (aangehaal deur Polman s.a.:332). De Brès is vir Evangeliese en Woordbepaalde kerklike tug. Vir hierdie opsteller van die NGB met sy artikel 29 en 32 is kerklike tug die uitvloeisel van die suiwere Woord van God en die regte verstaan van die sakramente deur lidmate.

In hulle belydenis van die sleutelrol van die kerklike tug14 lig sekere gereformeerdes in die Reformasie van die sestiende eeu dié groot saak uit: die Woord van God is die norm vir die hele lewe – die kerklike lewe ingesluit (De Jong 1987:195). Daarby is die kerklike tug noodsaaklik vir die deurlopende gehoorsaming van Christus as die Hoof van sy kerk (NGKO 2015:29). Soos by Johan Heyns staan gehoorsaamheid as dié antwoord op Gods Woord – met die kerklike tug ’n geestelike geneesmiddel – by die reformatore sentraal. Tug is nodig vir gesonde kerkwees onder alle omstandighede: ook in modernistiese en postmodernistiese tye. Vir die Woord van God as die norm vir die lewe en gehoorsaamheid daaraan as die antwoord van die gelowiges daarop, werk die Christelike kerk met Skrifkonstantes wat nie met die denke van die mens of enige ander bron in die skepping, as bron vir lewensnorme vervang kan word nie.

Kerklike tug ’n sleutel

In sy hantering van ‘die sleutels van die koninkryk van die hemel’ of ‘ryk van Christus’ is die HK in Sondag 31 vraag en antwoord 83 saaklik: ‘die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike (kerklike) tug’. Met hierdie twee sleutels word die koninkryk van Christus ‘vir die gelowiges oopgesluit en vir die ongelowiges toegesluit’ (NG Kerk-Uitgewers 1982:62).

Die breër verband van HK Sondag 31 lê trekke van die koninkryk van die hemel bloot. Die koninkryk is ’n geestelike instelling wat uit die werk van die Here God in die mens en die skepping spruit en ‘beman word deur die gelowiges’: God se verteenwoordigers op aarde.15 Die Christelike gemeente en die ryk van Christus oorvleuel in die gelowiges én is – van die mens se kant gesien – die hart van die kerk en die ryk. Beide kerk en ryk word deur die Woord en Gees wat die mens daarvoor in diens neem, op- en uitgebou. Die gelowiges verteenwoordig die Here in albei en waar die kerk op die op- en uitbou van die Christelike geloof onder die mense konsentreer, bestaan die koninkryk uit die hele geskape werklikheid: oral waar God deur sy Gees teenwoordig is, deur sy Woord, sy geestelike en natuurwette regeer én Hy as ‘n gevolg daarvan, gehoorsaam word (Strauss 2010:1–2; Veldkamp 1975:95–97; vgl. HK antwoord 123 op die vraag na die bede van die Onse Vader: ‘Laat U koninkryk kom’, NG Kerk-Uitgewers 1982:75).

Opgesom, vir ’n mens om in die koninkryk van die hemel of die ryk van Christus te kom, moet hy met die geloof in God-drie-enig, bewerk deur die Woord en Gees van God, as ’n Geesverseëlde toegangskaartjie16 ingaan. Om aan Christus deur die geloof verbind te wees, is om saam met Hom in die koninkryk as ’n toestand – nie ’n plek of ruimte nie – van lewenswelsyn17 te wees (Op 21:1–8). Die sleutel wat die koninkryk oopsluit of toegang beheer, is die verkondiging van die ‘heilige evangelie’; ’n verkondiging wat die mens in die hart gryp om geestelik nuut gebore te word en van hieruit deur die Christelike geloof tot die koninkryk toegelaat te word, nuut gebore met die Christelike geloof as die geestelike armpies van afhanklikheid wat die pasgebore nuwe mens of gelowige om die nek van die Vader sit (Hartvelt s.a.:198–199; Veldkamp 1975:103).

Veldkamp kom op hierdie punt met die vraag: wie beslis wie in die koninkryk opgeneem word en wie nie?

Sy antwoord: ‘In hoogste instantie … Christus Zelf. Hij opent en niemand sluit. Hij sluit en niemand opent!’ (Veldkamp 1975:98). Die Here Jesus dra hierdie sleutelmag, waaroor Hy die beheer behou, aan sy mense op (Sadler 1979:10)18; mense wat in diens geneem, toegerus en begelei word omdat God die Vader beskik en besluit, God die Seun bemiddel en versoen en God die Heilige Gees oortuig en versamel. Onder hierdie mense is Petrus in Matteus 16:13–20 die eerste een. Dan volg die apostels én die ander gelowiges: al die gelowiges as die verteenwoordigers van Christus en sy kerk. Dit gaan om die hele kerk as die gelowiges en nie net diegene in die amp van dominee, ouderling of biskop nie. Daarom is die totale Christelike kerk, gelowige vir gelowige, dit aan sy Here verskuldig om die Evangelie te verkondig en daarmee indirek ook die ‘onheiligen’ uit te sluit (Veldkamp 1975:98). Christus sê aan Petrus:

Gelukkig is jy Simon Barjona, want dit (die belydenis van Christus as die seun van die lewende God) is nie ’n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my vader wat in die hemel is … Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly (Matt 16:17–19).

Vir Veldkamp setel die mag van die kerk nie in die dwingende swaardmag van die staat nie, maar in die dringende geestelike mag van Woord en Geesvan God-drie-enig (Strauss 2010:81–82). Daarom antwoord die HK die vraag na wat die hemel oopsluit so: die verkondiging van die Evangelie soos gedra en effektief gemaak deur die Heilige Gees!

Sy opdrag oor die sleutels van die koninkryk in Matteus 16:17–19 gee Christus eers aan Petrus en deur hom met sy belydenis as die rots waarop Hy sy kerk bou, aan die kerk of gelowiges. Christus sê: jou sonde word vergewe as jy glo. As jy weier om te glo, word jy nie vergewe nie. Jy word nie vergewe ómdat jy glo nie – geloof is nie ’n prestasie wat die koninkryk verdien nie – maar déurdat jy glo. Die Woord sluit vir jou die koninkryk van Christus oop. Jy aanvaar dit én gaan in deurdat jy die boodskap met sy uitnodiging glo. As jy weier, sluit jy jouself willens en wetens uit die koninkryk uit (Spoelstra 1989:381; Strauss 2010:81–83 vir die Bybelse relasie van ‘verkiesing-verkondiging-geloof’). As jy weier, sluit of maak die Woord met sy konstante ‘deur die geloof alleen’ of die Reformatoriese sola fidei, die koninkryk vir jou toe. Waar die Woord verkondig word, gebeur daar iets. Die verkondigde Woord keer nooit leeg na die Here terug nie (Hartvelt s.a.:199). Dit bind die harte van gelowige mense aan God of verhard die harte van die ongelowiges teenoor God-drie-enig en sy Woord – die Woord as die openbaring van God en sy heil (Hartvelt s.a.:203; Veldkamp 1975:98–99).

In diens van die Woord en vereis deur die Woord, staan die ander sleutel van die koninkryk in HK Sondag 31: die kerklike tug (NG Kerk-Uitgewers 1982:62–63).

Die bediening van die Woord met die oproep van ‘bekeer julle!’ is in beginsel reeds ’n tughandeling. Teen verborge sondes of sondes verborge vir die kerk of die gelowiges kan die kerk nie optree nie (Veldkamp 1975:103). Tugwaardige sondes gaan oor ’n onsuiwere leer én lewe – die volle lewe waarin alles met alles saamhang – by kerklidmate (Heyns 1992:367). Kerklidmate wat hulle onbekeerd en onboetvaardig aan rugbaar-geworde aanstootlike onbybelse gedrag skuldig maak, is tugwaardig: tug wanneer indiwiduele lidmate nie-amptelik uitreik en praat of wanneer dit amptelik by kerklike tugliggame geskied; tugliggame wat as tugmaatreëls na skuldigbevindings eers verkondig en vermaan en, as dit na ’n gepaste tyd nie die gewenste effek het nie, van die sakramente weerhou. As laaste stap volg die ban of afsnyding. Dit gaan hier oor geestelike maatreëls wat gemik is op bekering en berou by die sondaar(s) (Heyns 1992:367; NGKO 2015:31). Kerklike tug met hierdie tugmaatreëls is weens die aard van die kerk ‘geestelik’ (Visser 1999:262).

Wie in zonde viel, en verbrijzeld door berouw neerzit, is geen voorwerp van kerkelijke tucht. Wel kan het dan nodig zijn soms, dat het sacrament wordt ontzegd, ook omdat de kerk wil weten, dat betering niet alleen beloofd, maar ook bewezen werd, maar het doel der tucht is juist tot berouw en boetvaardigheid te wekken. Is dat bereikt, dan heeft ook de tucht haar doel bereik. (Veldkamp 1975:104–105)

Dit gaan in kerklike tughandelinge dus oor die liefde en omgee van Christus en sy kerk; tughandelinge wat opnuut tot inkeer en bekering wil lei (Heyns 1992:367). Dit gaan oor tughandelinge omdat die Here én die Here deur sy kerk, liefhet; omdat die kerk die Here en sy Woord bo die medelidmaat stel. Omdat Christus aan sy kerk die opdrag gegee het dat hulle wat hulself sonder berou en inkeer reeds buite die gemeenskap van Christus geplaas het, by die kerkdeur uitgesit moet word. ’n Uitsetaksie warop die kerk alleen kan besluit na ’n tydsame, geduldige oorweging van die saak. Uitsluiting beteken egter nie dat die kerk ophou met die verkondiging van bekering aan die sondaar nie. Inteendeel, wanneer inkeer kom, is daar plek in die koninkryk en in kerk én vreugde in die hemel (Veldkamp 1975:106)!

Slotgevolgtrekking

In die PKN as ’n erkende plurale kerk, het die kerklike tug volgens Koffeman ’n ‘inhoudloze kerkordelijke aangelegenheid’ geword. Vir hom is die kerklike tug in die PKN gedoem vanweë die feit dat dit ’n plurale kerk met uiteenlopende standpunte oor geloofs- en etiese kwessies is. Die kerklike tug loop hom vas teen lidmate wat mekaar verdra oor hierdie kwessies en nie meriete in kerkordelikbepaalde tug sien nie. Vir hulle is kerklike tug emosioneel onaanvaarbaar. Op sy beurt leef die Ned.Geref. Kerk in ’n onstabiele breër gemeenskap waarin indiwiduele menseregte in regeringskringe en breër, die norm is. Daarby het die postmodernisme in die 21ste eeu op algemene sinodale vlak in die Ned.Geref. Kerk sy verskyning gemaak. Onoplosbare verskille word soms gerelativeer en verdra en maak deel uit van innerlik teenstrydige sinodale besluite: onoplosbare verskille ontstaan wat in hierdie klimaat nie net tot aanvaarde verskille lei nie, maar die waarde van tug vir of op onchristelike gedrag misken.

Teenoor die bewering dat die kerklike tug as ’n inhoudlose kerkordelike aangeleentheid gedoem is vanweë die mening van kerklidmate in ’n kerkgemeenskap van verabsoluteerde indiwidue én ’n relativerende postmodernisme, staan die Bybel en gereformeerde belydenisskrifte soos die NGB en die HK. Hierdie geskrifte dra die boodskap dat die kerklike tug deur Jesus Christus en God-drie-enig ingestel en ’n kern- of belydeniswaarheid vir die kerklike lewe is en voorrang geniet bo die mening van mense. Die boodskap dat die kerklike tug deel van God se liefde is om te sorg vir ’n roepingsbewuste dinamiese kerk van gehoorsame gelowiges. Die boodskap dat die kerk waarlik ’n Christelike kerk is as hy in sy geestelike versorging van lidmate én nie-lidmate die tug as ’n middel gebruik om mense aan God se opdragte vir die lewe te bind. Die oortuiging dat die kerk en daarom die koninkryk van God direk en indirek by die kerklike tug baat.

As kerkordelike bepalings oor die kerklike tug inhoudloos word, het die betrokke kerkorde die Woord van God en sy – as gereformeerde kerk – belydenisskrifte as lewende normatiewe bronne vir die kerkorde, gemis (NGKO 2015:16). ’n Tuglose kerk raak, in die woorde van Calvyn, verstrooi. Om die kerklike tug te versaak is om lidmate aan geestelike verval en verstrooiing oor te gee. Dit is liefdeloos …

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Outeursbydrae

P.J.S., was die enigste outeur betrokke by die skryf van die artikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel voldoen aan alle etiese standaarde vir navorsing sonder direkte kontak met mens of dier.

Befondsing

Hierdie navorsing het geen spesifieke toekenning ontvang van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of nie-winsgewende sektore.

Data beskikbaarheidsverklaring

Data-deling is nie van toepassing op hierdie artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur (s) en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeurs nie.

Literatuurverwysings

Bouwman, H., 1985, Gereformeerd Kerkrecht II, De Groot Goudriaan, Kampen.

Coertzen, P., 2003, ‘Regsbeskerming in die kerk’, in R. Torfs, R. Martens, L. Koffeman & P. Coertzen (eds.), Recht op recht in de kerk, pp. 199–258, Peters, Leuven.

De Jong, O., 1987, Geschiedenis der kerk, Callenbach, Nijkerk.

Du Plooy, A.L.R., 2007, ‘Beginsels vir regspraak in die kerk’, Die Kerkblad 110(3198), 18–20.

Durand, J.J.F., 1984, ’n Belydenis – was dit werklik nodig?’, in G.D. Cloete & D.J. Smit (eds.), ’n Oomblik van waarheid, pp. 39–48, Tafelberg, Kaapstad.

Engelhard, D.H. & Hofman, L.J., 2001, Manual of Christian Reformed Church government, CRC Publications, Grans Rapids, MI.

Hartvelt, G.P., s.a., Tastbaar evangelie: Nieuwe commentaar Heidelbergse Categismus III, De Graafschap, Aalten.

Heyns, J.A., 1977, Die kerk, NG Kerkboekhandel, Pretoria.

Heyns, J.A., 1992, Inleiding tot die dogmatiek, NG Kerkboekhandel, Pretoria. (Originally published 1988).

Jonker, W.D., 1965, Om die regering van Christus in sy kerk, Unisa, Pretoria.

Jonker, W.D., 1994, Bevrydende waarheid, Hugenote, Wellington.

Klein, D. & Viljoen, F., 1999, Beginnersgids vir regstudente, 2de druk, Juta, Kenwyn.

Kock, P.D.B., 1975, Christelike Wysbegeerte – inleiding, Sacum, Bloemfontein.

Koffeman, L., 2003, ‘Rechtsbeskerming in de kerken van de gereformeerde traditie in Nederland’, in R. Torfs (ed.), Recht op recht in de kerk, pp. 103–198, Peters, Leuven.

Koffeman, L., 2009, Het goed recht van de kerk, Kok, Kampen.

Kuiper, B.K., 1995, The church in history, CSI, Grand Rapids, MI.

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGKO), 1998, Die Kerkorde, Bybelmedia, Wellington.

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGKO), 2004, Handelinge van die Algemene Sinode, s.n., s.l.

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGKO), 2007, Handelinge van die Algemene Sinode, s.n., s.l.

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGKO), 2015, Die Kerkorde, s.n., s.l.

NG Kerk-Uitgewers, 1982, Ons glo …, NG Kerk-Uitgewers, Wellington.

Polman, A.D.R., s.a., Onze Nederlandse Geloofsbelijdenis III, Wever, Franeker.

Pont, A.D., 1981, Die historiese agtergronde van ons kerklike reg I, HAUM, Pretoria.

Rauntenbach, I.M. & Malherbe, E.F.J., 1994, What does the constitution say, RAU, Auckland Park.

Sadler, T.H.N., 1979, Die kerklike tughandeling, NG Kerkboekhandel Transvaal, Pretoria.

Sizoo, A., s.a., Johannes Calvijn Institutie (3e deel boek IV), Meinema, Delft.

Spoelstra, B 1989, Gereformeerde Kerkreg en Kerkregering, ’n Handboek by die Kerkorde, Teologiese Skool, Hammanskraal.

Strauss, P.J., 2006, ‘Die Dordtse tradisie en binding aan die belydenis’, In die Skriflig 40(4), 649–666. https://doi.org/10.4102/ids.v40i4.363

Strauss, P.J., 2010, Kerk en orde vandag, Sunmedia, Bloemfontein.

Strauss, P.J., 2012, ‘Hoe geslaag is die kernwaarhede?’, in P. Theron (red.), Belhar geweeg, pp. 73–80. Kraal, Pretoria.

Strauss, P.J., 2013, Kerkwees in die branding, Sunmedia, Bloemfontein.

Strauss, P.J., 2015, Gereformeerdes onder die Suiderkruis 1652–2011, Sunmedia, Bloemfontein.

Strauss, P.J., 2018, ‘Tugwaardige sondes in drie gereformeerde kerkordes’, In die Skriflig 52(1), a2388. https://doi.org/10.4102/ids.v52il

Torfs, R., 2003, ‘Rechtsbescherming in de kerk. Nabeschouwingen’, in R. Torfs, K. Martens, L. Koffeman & P. Coertzen (eds.), Recht op recht in de kerk, pp. 259–284, Peters, Leuven.

Veldkamp, H., 1975, Zondagskinderen II, Wever, Franeker.

Visser, J., 1999, Die Kerkorde in praktyk, EFJS Drukkers, Orkney.

Voetnotas

1. Spoelstra (1989:380) verwys na die gebruik in die HK van Christelike in plaas van kerklike tug. Volgens hom bring die woord ‘Christelike’ meer as ‘kerklike’ na vore. Daarteenoor moet dit aanvaar word dat bv. ouerlike, opvoedkundige en verenigingstug ten diepste ook Christelik moet wees omdat dit ook koninkrykswerk kan wees. Die woordjie ‘kerklike’ dui aan op watter terrein van die koninkryk hierdie tug gebruik word.

2. Kuiper (1995:268) wys daarop dat die Dordtse Sinode van 1618–1619 uit 23 buitelandse teoloë en 37 predikante plus 19 ouderlinge uit die destydse Gereformeerde Kerk in Nederland bestaan het. Die buitelanders het uit Engeland, Switserland en Duitsland gekom. As ekumeniese sinode het Dordt-1619 by sy aanvaarding van die Drie Formuliere aan een van die vereistes vir die aanvaarding van ’n gereformeerde belydenis voldoen (Strauss 2012:73–78).

3. Jonker vat die doel van ’n kerkorde goed raak as hy oordeel dat dit in diens staan van die roeping en kerntaak van die Christelike kerk, naamlik ‘die diens van die Woord, die bediening van die sakramente … en handhawing van die tug en onderlinge sorg van die lede van die liggaam …’ (Jonker 1994:18–79).

4. Die byvoeglike naamwoord ‘plurale’ word hier gebruik vir plurale etiese oortuigings of ’n meerduidige kerklike opstelling onder gemeentelede teenoor etiese en leerkwessies.

5. Hierdie houding plaas die relevansie van vraag en antwoord 32 van die HK onder verdenking: Waarom word jy ’n Christen genoem? Vgl. hierdie vraag en antwoord in NG Kerk-Uitgewers (1982:47).

6. Die woorde ‘kerklike tug’ soos in die opskrif oor die saak in NGKO (2015:29) gebruik, beklemtoon die eie aard of pastoraal-kerkregtelike kant van die handeling.

7. Hierdie verskil met die klem van die gereformeerde belydenis op die tughandeling as ’n pastorale daad tot heiliging van die lidmaat is ’n klem op die sorg van die indiwiduele lidmaat ter wille van sy persoonlike groei en nie sy tugtiging gerig op die eer en gehoorsaamheid aan God wat sy versorging en groei insluit nie. Kyk die Kerkorde van die Christian Reformed Church wat die kerklike tug as pastoraal karakteriseer (Engelhard & Hofman 2001:430).

8. Vir die kerk se sleutelmag om Gods koninkryk oop en toe te sluit vir mense kyk die Heidelbergse Kategismus Sondag 31 vraag en antwoord 85, NG Kerk-Uitgewers (1982:29). Die huidige vertaling van die Kategismus in Afrikaans (NG 1982:29) beroep hom hiervoor op Matteus 18:15–17; 1 Korintiërs 5:4–5 en 2 Korintiërs 2:6–8 (NG Kerk-Uitgewers 1982:62–63). Koffeman vermeld egter nie hierdie besonderhede as die teenoorgestelde van wat hy aanvoer nie. In ’n relativerende klimaat waarin teenoorgestelde standpunte gewettig word, vervaag die belang van die argumente waarop standpunte bou.

9. Koffeman verwys hierna as hy die EVRM as ’n uitdrukking beskou van dit wat die Westerse ‘samenleving’ as wesenlik ervaar, ook in ander lewenskringe as die staat. Daarom moet kerklike prosesse volgens hom ook die EVRM evalueer vir interne gebruik (Koffeman 2003:113).

10. Koffeman (2003:113) sê: ‘Dat neemt niet weg, dat de in de EVRM overeengekomen criteria voor rechtsbescherming geacht mogen worden uitdrukking te zijn van wat in de westerse samenleving als wenselijk word ervaren, ook in andere verbanden dan die van de staat. In zoverre loont het zeker de moeite binnekerkelijke procesgangen in het licht hiervan nader te analyseren en te evalueren’.

11. Omdat die Bybel in God se wêreld wat op sy skeppingswette funksioneer of daaraan gebonde bestaan, met sy heilsboodskap kom, stuit hy in sy aanpak ook op die wette van ‘natuurlike’ geregtigheid (Deut 1:17; 16:19; Joh 7:51; Hand 25:16).

12. Die tema van hierdie artikel as bron is sprekend in hierdie kwessie: ‘Kerklike tug: pastoraal-kerkregtelik van aard en daarom billik en regverdig?’ (Strauss 2018:1).

13. Volgens Kock huisves die term ‘onchristelike kerk’ ’n innerlike teenstrydigheid omdat ’n gebrek aan geloof in God-drie-enig die kerk van sy kwalifiserings- of tiperingsfunksie beroof. ’n Kerk kan dwaal en valse dogmas leer, maar ’n onchristelike kerk per se kan nie uit God-drie-enig ontstaan nie (Kock 1975:142–144). Ten opsigte van Woord, sakrament en tug het NGB artikel 29 sy oog op die Bybel as die bron en norm daarvoor.

14. Let op gereformeerde skrywers wat die beginsel stel dat ’n duursame kerklike belydenis van wie die geldigheid sy eie tyd oorstyg, daarvoor juis oor die kernwaarhede van die Christelike geloof handel (Durand 1984:45; Heyns 1977:156; Pont 1981:9). Vanuit hierdie beginsel word die kerklike tug ook as ’n kernwaarheid van die Christelike geloof beskou.

15. Kragtens die werkverbond of kultuuropdrag van Genesis 1:26–28. Kyk na verse 26 en 27 waarin God na die mens verwys as sy verteenwoordiger. Sy verteenwoordiger wat alles op aarde en in die geskape werklikheid kan bewoon, bewerk en beheers.

16. Die egte Christelike geloof word deur die Heilige Gees aan die draer daarvan beseël (Ef 1:13).

17. As Polman hieroor skryf, verwys hy na Calvyn wat na die regte uitoefening van die tug verwys as maatreëls gerig op die welwese van die kerk (Polman s.a.:331).

18. Sadler voer tereg aan dat Christus die ampsdraers in die kerk met volmag beklee om te tug, maar sy eie gesag nie resloos aan hulle oordra nie, ‘Christus self behou volle regeer- en tugmag in sy gemeente’ (Sadler 1979:10). Uit sy gereformeerde hoek oordeel Sadler dus dat die kerklike tug, omdat dit deur Christus ingestel is, nie ’n inhoudlose kerkordelike aangeleentheid is of mag word nie. Die kerklike tug funksioneer in beginsel op grond van Christus en sy gesag en gemeet aan sy Woord. Daarom mag menslike argeloosheid dit nie tot ’n inhoudloosheid laat verword nie. In die woorde van Jonker (1965:25): ‘Dit gaan in die Christusregering (en die kerklike tug) om iets waaroor die kerk nie kan beskik nie, om iets waarvoor die kerk moet bid en waarop die kerk moet wag’.



Crossref Citations

No related citations found.