About the Author(s)


Pieter Kruger Email symbol
Department of Systematic and Historical Theology, Faculty of Theology and Religion, University of Pretoria, Pretoria, South Africa

Citation


Kruger, P., 2022, ‘2001, die NG Kerk se Jaar van Hoop. Twintig jaar later: ’n Kerkhistoriese oorsig’, Verbum et Ecclesia 43(1), a2401. https://doi.org/10.4102/ve.v43i1.2401

Original Research

2001, die NG Kerk se Jaar van Hoop. Twintig jaar later: ’n Kerkhistoriese oorsig

Pieter Kruger

Received: 20 Oct. 2021; Accepted: 01 Feb. 2022; Published: 30 Mar. 2022

Copyright: © 2022. The Author Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstrak

2001, the Dutch Reformed Church’s Year of Hope. Twenty years onwards: A church historiographic review. The Dutch Reformed Church (DR Church) proclaimed the Year of Hope in 2001 as part of the church’s response to complex social problems regarding poverty and factors affecting reconciliation and morality within the South African society at that stage. The ultimate objective was to mobilise the church to address these matters through different means, on different levels and within the respective contexts. In this church historiographic article, newspaper articles and official church documents are reviewed to assess the church’s dealing with the Year of Hope and its subsequent effects in the years that followed, on the DR Church’s resolutions, declarations and activities concerning the matters first articulated when introducing the Year of Hope. It is clear that the DR Church has not neglected its social and prophetic responsibilities. In this article, interest is also expressed, particularly in how the theme of hope is superposing matters of poverty, reconciliation and morality. Twenty years had lapsed since the Year of Hope. In this article it is argued that the theme of hope in social and ecclesiastical matters is still acutely relevant, and in the conclusion the idea is introduced of a theology of hope to direct the church in continuing to be a bearer of hope within society.

Intradisciplinary and/or interdisciplinary implications: Although the focus of this study falls within the field of Church Historiography, the study of the matters concerned, furthers inquiry in relation to Practical Theology and, more specifically, from a public theological perspective.

Keywords: Year of Hope; 2001; reconciliation; poverty; morality; hope; 2021; theology of hope.

Inleiding

Teen 2021 het 20 jaar verloop sedert die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) se Jaar van Hoop in 2001. Tydens die Jaar van Hoop se afsluiting, het prof Piet Meiring gesê:

[D]ie NG Kerk skuld die deurmekaar en stukkende Suid-Afrika hoop en nogmaals hoop; ons moet ’n klimaat van ordelikheid en naasteliefde skep. Daarom behoort die NG Kerk se Jaar van Hoop ’n ‘seisoen van hoop’ te word. Dié uitdaging is gerig aan die NG Kerk se elfde Algemene Sinode van 2002. (Du Toit et al. 2002:129)

Hierdie artikel is ’n oorsigtelike kerkhistoriese ondersoek na die temas wat deur die Jaar van Hoop ontsluit is en die wyse waarop dit in en deur die NG Kerk ter sprake gekom het die afgelope 20 jaar. Eerstens word besin oor die Jaar van Hoop se herkoms en bedoeling. Vervolgens word gefokus op die aktualisering van die tema van hoop in die kerk en die samelewing die afgelope 20 jaar. Potgieter (2001:11) het immers in Die Kerkbode van 02 Februarie 2001 die vraag gevra of daar van 2001 gesê sal word dat die NG Kerk inderdaad hoop gebring het. ’n Verdere doelwit is om te besin oor spesifieke sake in 2021 wat weereens die tema van hoop oproep. Ten slotte word nagedink oor die gestalte van hoop op die pad vorentoe.

Die doel van hierdie artikel is nie om ’n prinsipiële beoordeling te bied van die komplekse sake wat deur die Jaar van Hoop aan die orde gestel is nie.

Besinning oor die herkoms, bedoeling en realisering van 2001 as Jaar van Hoop

Herkoms en bedoeling van die Jaar van Hoop

Die NG Kerk verklaar die jaar 2001 as Jaar van Hoop. Die NG Kerk se Algemene Sinode van 1998 was die aanloop daartoe. Met die behandeling van die verslag van die Algemene Sinodale Kommissie (ASK) oor die instelling en funksionering van die destydse Waarheid-en-versoeningkommissie (WVK) is die volgende voorstel goedgekeur:

  1. Die Algemene Sinode aanvaar sy groot verantwoordelikheid om saam met ander kerke in die land aan die volgende dringende sake aandag te gee. Die bevordering van versoening; die bekamping van armoede, sowel as die verval van morele waardes in Suid-Afrika.

  2. Die Algemene Sinode benoem ’n ad hoc-kommissie om die ASK so spoedig moontlik met konkrete voorstelle in dié verband te dien.

  3. Die ASK ontvang die bevoegdheid om indien die voorstelle na sy mening aanvaarbaar en implementeerbaar is, die verslag van die ad hoc-kommissie in werking te stel.

  4. Die nouste moontlike samewerking met die lidkerke van die NG Kerkfamilie moet in dié verband gesoek word (Handelinge van Algemene Sinode 1998:395).

Met die gevolglike daarstelling van ’n ad hoc-kommissie vir Versoening, Armoede en Morele Herstel (VAM) moes die probleme van armoede, versoening en moraliteit wat as komplekse maatskaplike probleme die toekoms van Suid-Afrika bedreig, vanuit die kerk in oënskou geneem word. Die oortuiging was dat die kerke van die land (naamlik die NG Kerk) ’n wesenlike rol het om te speel ten opsigte van die genoemde probleme (Anon 2001b:4). Die kommissielede was doktore C.W. Burger, A.S. van Niekerk, R.C. Lindeque en L.C. Dressel, asook professore D.E. de Villiers, P.G.J. Meiring en P.J. Naudé (Du Toit et al. 2002:128).

Hierna het die VAM-kommissie verskeie rolspelers binne die Christelike gemeenskap en uit die samelewing geraadpleeg oor die rol van die NG Kerk op die terreine van versoening, armoede en morele herstel (Agenda van Algemene Sinode 2002:332). In samewerking met die ASK het die VAM-kommissie besluit om 2001 as Jaar van Hoop in die NG Kerk uit te roep en word die beplanning vir die Jaar van Hoop in November 2000 goedgekeur. Die tema was Jesus Christus bring hoop, want ‘Jesus Christus bring immers hoop vir die samelewing’, lui die woorde van die VAM-kommissie se skriba, dr. Louis Dressel (Anon 2001b:1).

Vroeg in 2001 is in kerklike geledere besin omtrent die moontlike impak van die Jaar van Hoop, asook faktore wat die projek kan laat skipbreuk ly.

In die moderator se rubriek in Die Kerkbode van 02 Februarie 2001, vra Pieter Potgieter of daar van 2001 gesê sal word dat die NG Kerk inderdaad hoop gebring het. Armoede sal nie verdwyn nie. Daar sal nog altyd slegte menseverhoudings, asook morele uitdagings wees. Daarteenoor het die kerk ’n woord van hoop vir die wêreld en ook die verantwoordelikheid om die dinge te bestry wat wanhoop verdiep. Verder wys Potgieter daarop dat die kerk se boodskap van hoop met Christus te doen het, aan liefde en geloof verbind is en ’n toekomsperspektief het. Die hoop is uitgespreek dat gemeentes sal besin oor menseverhoudings in hulle omgewing en oor moontlike projekte om armoede plaaslik aan te pak. Morele verval noodsaak die oproep tot bekering en gehoorsaamheid aan God, terwyl die kerk ook aandag moet verleen aan die omstandighede waarin morele verval gedy en daaromtrent in gesprek moet tree met die owerheid op verskillende vlakke. ‘Die Jaar van Hoop is die afskop van ’n groot verantwoordelikheid wat nog ver in die toekoms sal moet resultate lewer’ was die woorde van Potgieter (2001:11).

Rudi Buys (2001:8) skryf in ‘Jongstemme’, ’n rubriek in Die Kerkbode, dat sommige jongmense nie entoesiasties is om aan VAM se projek deel te neem nie weens die ruimte wat VAM laat vir gevestigde magstrukture en organisasiestyle ‘om ook hierdie inisiatief te beheer’. Die meer uitgebreide NG Kerk se onvermoë om die tydgees te ontmoet, veroorsaak dat jongmense die VAM-inisiatief skepties bejeën. Die geslaagdheid van die inisiatief lê nie alleen in VAM se doelwitte nie, maar vra in geheel ’n verandering van bedieningstyl waarin gemeenskap, narratief en ekumene voorop staan. Volgens Buys soek postmoderne jongmense ook hoop, maar ‘dan hoop wat óór alle grense sal gaan en na alle mense sal uitreik’.

Die vraag van Dreyer (2001:12) in Maart 2001 of daar hoop is vir die Jaar van Hoop, vind aanklank by Potgieter en adem Buys se besorgdheid. Dít vra hy omdat die Jaar van Hoop op die ‘bekende patroon van die NG Kerk’ georganiseer is:

[D]ie Algemene Sinode het in 1998 ’n besluit geneem oor versoening, armoede en geregtigheid. ’n Indringende verslag is deur kundiges opgestel (VAM-verslag). Die Algemene Sinodale Kommissie het in November 2000 ’n besluit oor die aanbevelings geneem en ’n reglement vir fondse goedgekeur. Inligting is aan gemeentes deurgestuur met die motivering om ten beste daarby in te skakel. Die styl ‘van bo’ is kenmerkend van ’n kerkkultuur wat al minder geslaagd blyk te wees.

Verder noem Dreyer ’n aantal faktore wat die projek se sukses moontlik negatief kan beïnvloed:

  • Die NG Kerk is in die nuwe sosiale opset van Suid-Afrika na die rand van die samelewing geskuif;
  • Kerkwees is vir baie mense ’n bysaak in ’n omgewing wat toenemend sekulariseer;
  • Gemeentes is in ’n oorlewingstryd;
  • Die NG Kerk het nie meer die ‘hulpmiddels van die verlede tot ons beskikking om besluite tot uitvoering te bring nie’;
  • Gemeentes is waarskynlik nie toegerus om ’n skuif in denke te maak nie: weg van instandhouding na uitreik in die samelewing;
  • Die NG Kerk groei nie wat daarop dui dat die kerk ‘ontuis voel op die nuwe sendingveld in die jaar 2001’.

Om ’n verskil in die samelewing te maak, gaan Dreyer (2001:12) voort, moet die NG Kerk weg van die kerklike paradigma van institusionele teologie beweeg na ’n missionêre paradigma met ’n koninkryksteologie wat na buite gerig is. Dit vereis nuwe teologiese denke oor die kerk se verhouding met die samelewing, kerklike strukture en besluitnemingsprosesse. Vir Dreyer moet die Jaar van Hoop deur gebedsaksie ondersteun word en moet die kerkleiers saam met die kerkvolk ‘op hulle pelgrimstog deur die wêreld’ gaan, terwyl hulle begelei word om hulle eie gawes te ontdek en daarmee ’n verskil in die toekoms te maak. Gemeentes behoort missionêre gemeenskappe van versoening, heelheid, omgee en geregtigheid te wees waaruit bepaalde aksies met gemeenskaplike doelwitte geloods word. Dit gebeur nie in ’n jaar nie en daarom vra Dreyer of ’n vyfjaarplan van aksie nie meer gepas sou wees as ’n Jaar van Hoop nie. Tog spreek Dreyer die hoop uit dat die Jaar van Hoop vir die NG Kerk ’n vertrekpunt sal wees om te besin oor sy taak in die wêreld en dat lidmate met nuwe oë na die wêreld en mekaar sal kyk sodat hulle met veranderde houdings en gedrag ’n verskil aan armoede kan maak en aan morele herstel kan meewerk.

Betekenisvolle momente ten opsigte van die realisering van die Jaar van Hoop se ideale

Die Jaar van Hoop het op verskillende wyses gedurende 2001 gerealiseer deur amptelike byeenkomste, amptelike materiaal aan gemeentes en ander geleenthede waar besin is oor sake wat met die Jaar van Hoop se ideale in verband gebring kon word:

  • Die eerste hiervan was die Jaar van Hoop se loodsing tydens ’n aanddiens op 25 Januarie 2001 wat deur prof Piet Naudé gelei is in NG gemeente Lynnwoodrif (Agenda van Algemene Sinode 2002:333). Tydens die prediking uit Romeine 15:1–13 het prof Naudé gesê dat God Christene se hoop is, en dat hoop nie deur ’n jaar van hoop opgewek word nie, maar soos genade ’n geskenk is eerder as ’n program (Anon 2001c:1).
  • By die Predikantedag, met die opening van die Fakulteit Teologie aan UP op 29 Januarie 2001, lewer prof Piet Meiring, voorsitter van die VAM-kommissie, ’n referaat met die tema ‘Die hoop beskaam nie: Die NG Kerk se rol ten opsigte van versoening, armoede en morele herstel’. Met verwysing na Wilhelm Jordaan se artikel in Rapport van 21 Januarie 2001, word die opmerking gemaak dat Suid-Afrika hoop nodig het, want die samelewing word beleef ‘as tot in die murg toe siek en getraumatiseerd’. Daar word gewys op mense se hoë stresvlakke, die uitsigloosheid onder jongmense, gesinsverbrokkeling, geweld, misdaad, armoede, dwelmverslawing en gereelde voorvalle van rassespanning. Die ‘afwesigheid van ’n burgerlike norm, of maatskaplike kontrak van verbondenheid aan en verpligting teenoor die samelewing’ is ook uitgelig. Dit alles ontketen ’n gebrek aan toekomsvertroue wat deur ‘ambivalente gevoelens, sinisme en ontnugtering’ gedra word en gevolglik ’n samelewing se hoop op iets beter inhibeer. Met die Jaar van Hoop het die kerk gekies om ‘weer te hoop, in plaas van te wanhoop’, redeneer Meiring (2001:105–107). Meiring beskryf die kerk se getuienistaak gedurende die Jaar van Hoop aan die hand van die woorde kerugma, diakonia, koinonia en leitourgia. Met kerugma staan die kerk se verkondigingtaak sentraal en word die onus op predikante gelê om opnuut te besef wat die evangelie van die Koninkryk beteken, hoe omvattend die boodskap van hoop in die Bybel is en om met groot oortuiging ‘die fakkel van hoop aan hul gemeentelede’ aan te gee. Wat die kerk benodig, is ’n Teologie van Hoop1 waaraan teoloë van elke dissipline moet meewerk. Diakonia, wat die liefdesdiens van die kerk omvat, het in besonder met die Jaar van Hoop te make – hoop moet uitgeleef word. Die kerk moet soos Christus in die gestalte van ʼn dienskneg in die samelewing beweeg. Verder is die kerk ’n lewende advertensie van die Koninkryk en moet daar gekyk word na die kerk se koinonia, na hoe die gemeenskap van gelowiges funksioneer en hulle roeping verstaan. Hierbinne plaas Meiring die NG Kerk-familie se eenheidproses wat hy gehoop het ’n nuwe dinamika sou ontwikkel gedurende die Jaar van Hoop. Leitourgia rig ons op God. Die vraag is hoe hoop prakties neerslag vind in die erediens – die erediens wat Sondae in die kerk begin, maar deur die week in die wêreld voortgesit word (Meiring 2001:108–113).
  • Om gemeentes in die Jaar van Hoop in te lei, is inligtingpamflette en preeksketse onder die temas Hoop, Moraliteit, Armoede en Versoening versprei (Anon 2001a:v). Gemeentes is aangemoedig tot betrokkenheid by versoening, morele herstel en die verligting van armoede – nie uit plig nie, maar omdat hulle binne hulle onderskeie omgewings ’n unieke bydrae kon lewer tot die hantering daarvan. Hierdie oortuiging is soos volg verwoord:

    ‘[I]n ’n tyd waarin baie van ons lidmate nog besig is om hulle voete te vind’ in die nuwe situasie [verwysend na 1994 se politieke oorgang en gevolglike verandering van die sosiale strata] (outeursinvoeging)] en talle vrae het oor hulle eie rol en toekoms, glo ons dat betekenisvolle en daadwerklike betrokkenheid van die NG Kerk by hierdie drie sake ‘’n deur van hoop’ kan wees vir baie van ons lidmate. Dit is so dat nuwe hoop nie altyd aan ons gegee word terwyl ons passief wag daarvoor nie; soms ontvang ons dit juis wanneer ons Christus en sy Gees in gehoorsaamheid navolg met klein dade van liefde en ontferming (Anon 2001b:4–5).

    Om nadenke op gemeentelike en ringvlak te stimuleer, is bykomende inligting omtrent die sake van armoede, morele herstel en versoening voorsien (Anon 2001b:5–9):

    • In antwoord op die vraag hoe die kerk op armoede kan reageer, word dit gestel dat die armoedeprobleem se omvang en aard duidelik begryp moet word. Indien armoede gaan oor die gebrek aan lewensmiddele is die oplossing relatief maklik. Dit is egter veel meer kompleks wanneer armoede die psige, selfbeeld en waardes van die mens aangetas het. Gemeentes moenie hiervoor terugdeins nie, maar insien dat die kleinste projek wat die probleem reg verstaan, ’n verskil in mense se lewens kan maak.
    • Morele verval is ’n omvangryke en ingewikkelde probleem wat met verskeie faktore saamhang: uiteenlopende opvattings, asook onsekerheid oor wat moreel reg en verkeerd is, verset teen die oorgelewerde moraal van kulturele of godsdienstige groepe, en die ontbrekende wil om moreel reg op te tree weens ’n diepliggende bestaanskrisis midde haglike lewensomstandighede wat mense respek laat verloor vir hulle medemens se lewe en besittings. Vanuit die kerk se unieke identiteit as liggaam van Christus en in ooreenstemming met die bybelse boodskap, kan die kerk ’n bydrae lewer ten opsigte van hierdie uitdagings. Gemeentes se gewone bediening bied geleentheid om ’n sterk moreelvormende uitwerking op lidmate te hê.
    • Ondanks ’n demokratiese bestel, met ’n grondwet wat die basiese regte van elke persoon en gemeenskap waarborg, is daar negatiewe kragte in Suid-Afrika aan die werk wat versoening op byna elke terrein van die samelewing noodsaak. Dit is misdaad en geweld, armoede en ekonomiese ongelykheid, werkloosheid, rassisme en onverdraagsaamheid, en die pyn van onreg in die verlede. In die besinning oor die NG Kerk se rol omtrent versoening word die Algemene Sinode van 1998 se opmerking in gedagte gehou:

      In die sosio-politieke lewe word van versoening gepraat wanneer enkelinge of groepe mekaar nie langer beveg of vermy nie, maar verskille opklaar en mekaar in mindere mate aanvaar. Hierdie vorm van versoening kan diep menslike ervarings meebring en wonderlik bevrydend wees.

      Dit word gestel dat die NG Kerk daartoe verbind is om in die jare wat voorlê die koninkryk van God uit te brei, onreg op alle vlakke van die samelewing uit te skakel en Christelike versoening te bevorder. Om ’n eendragtig gesamentlike Christelike getuienis te laat hoor, moes met ander lede van die NG Kerk-familie, die Afrikaanse gereformeerde kerke en ander kerke saamgewerk word.

      Hierbenewens het enkele publikasies die lig gesien: Op pad na versoening: Bybelse en praktiese riglyne vir gemeentes, asook Hoop in nood wat handel oor armoede (Agenda van Algemene Sinode 2002:332).

  • In Ockie Raubenheimer se bydrae Onderwys en morele waardes (Anon 2001b:13–14) is aangedui dat die invloed van die ouerhuis en kerk as plekke waar jongmense se waardes vasgelê word, in baie gevalle afneem. Hoewel jongmense se morele keuses deur vriende, rolmodelle uit die sport- en vermaaklikheidswêreld, asook TV [sosiale media kan deesdae bygevoeg word (outeursbyvoeging)] beïnvloed word, is gemeen dat die skool ’n plek bly waar die meerderheid jongmense se waardes gevorm word. ’n Vennootskap tussen die ouerhuis, die kerk en die skool, waar die kerk ’n bydrae rondom waardes kan lewer, is dus nodig. Om hierdie rede is riglyne aan gemeentes gebied omtrent ’n plan van aksie ten opsigte van samewerking tussen plaaslike kerke en skole (Anon 2001b:15–19). Aanvullend hiertoe is ouerskapsinligting en-kursusse beskikbaar gestel (Anon 2001b:24–26).

    In verband met die vennootskap tussen skool en kerk, word Ockie Raubenheimer (voorsitter van die Interkerklike Kommissie vir Opvoeding en Onderwys) in Die Kerkbode van 16 Maart 2001 aangehaal dat kerke dankbaar is dat die Nasionale Onderwysdepartement hulle as vennoot in die onderwys erken. Die Interkerklike Kommissie vir Opvoeding en Onderwys is uitgenooi na ’n kongres in Kaapstad oor waardes, demokrasie en onderwys waar ’n bydrae gelewer is oor die uitbou en vestiging van waardes in die onderwys (Anon 2001e:7).

  • By die jaarlikse Teologiese Dag aan die Universiteit van Stellenbosch het dr Stiaan van der Merwe gepraat oor die kerk se rol in die ekonomie, asook in die bekamping van armoede. Teenoor die ideologie van globale kapitalisme, waaronder baie mense ly, het Van der Merwe gemeen, moet die kerk ’n teologie van hoop herontwikkel. Omdat armoedeverligting een van die grootste uitdagings is, moet Christene op gemeentelike vlak by gemeenskapsprojekte betrokke wees en behoort kerke die lot van armes by die regering te bepleit. Dr Molefe Tsele, voorheen verbonde aan die Ecumenical Service of Social Ecumenical Transformation, het by dié geleentheid gesê die vraag is hoe die kerk die armoedevraagstuk moet aanspreek. Alhoewel praktiese voorstelle uit besprekings na vore gekom het, het prof Daniël Louw opgemerk dat die kerk op daardie tydstip nie duidelikheid gehad het oor die daadwerklike rol wat dit moet speel ten opsigte van dié betrokke vraagstuk nie (Anon 2001d:7).
  • Tydens ’n streekbyeenkoms van die NG Kerk in die Wes- en Suid-Kaap is oor die Jaar van Hoop gepraat. Dr. Coenie Burger het onder meer gesê dat die NG Kerk (in samewerking met ander kerke) ’n groot rol in die heropbou van Suid-Afrika kan speel. Dr. Johannes Erasmus van die Hofmeyr-sendingsentrum het bygevoeg dat die kerk in die meeste gemeenskappe die mees stabiele organisasie is en daarom in staat is om te help met versoening, die verligting van armoede en die herstel van morele waardes (Anon 2001f:6).
  • Gedurende 2001 is verskeie projekte geloods (Du Toit et al. 2002:129). Onder meer is ’n Christenfees vir 2001 beplan wat, volgens die verslag van die Christenfees se reëlingskomitee (2000:2), bedoel was om brûe te bou oor kerk- en kultuurgrense heen sodat Christene aan Suid-Afrika ’n verenigde getuienis van hoop kon bied. Hierdie fees, wat aanvanklik vir 26 Augustus –02 September 2001 beplan was, vind toe op 21 Maart 2002 by die Voortrekkermonument plaas (Notule VAM 2001:3).
  • Aan die einde van 2001 was die NG Kerk deel van ’n afvaardiging van die National Religious Leaders’ Forum in samesprekings met verskeie kabinetslede en senior staatsamptenare oor, onder meer, morele herstel. Met die samesprekings het die Regeringkommissie vir Morele Herstel ’n vierjaarplan om moraliteit in Suid-Afrika te herstel in vooruitsig gestel met onder meer die volgende: ’n konferensie met sakemanne, onderwyskundiges, sportpersoonlikhede en andere; samesprekings oor moraliteit met redakteurs en leiersfigure in die media; die beskerming van vrouens en kinders; en besinning oor aborsie (Anon 2002:7).

Die VAM-kommissie het aan die einde van 2001 ontbind. By die Algemene Sinode van 2002 word verslag gelewer omtrent belangrike sake in verband met die Jaar van Hoop (Agenda van Algemene Sinode 2002:332–333):

  • Tydens ’n Armoedekongres van 25–26 Julie 2001 (gereël deur SEVTO [Sentrum vir Voortgesette Teologiese Opleiding] en die Konvent van Gereformeerde Kerke) is kontak tussen ryk en arm gefasiliteer. Kennis word geneem dat die Algemene Sinode armoedebekamping deur die ASK (Algemene Sinodale Kommissie) wil stimuleer en moniteer, en ook ‘die verantwoordelikheid aanvaar om selfs as voorspraak vir die armes op te tree’ in gesprek met ander rolspelers soos ekumeniese vennote, die regering en sakewêreld.
  • Die AJK (Algemene Jeugkomitee), AKLAS (Algemene Kommissie vir Leer en Aktuele Sake) en AKV (Algemene Kommissie vir Vrouelidmate) word versoek om leiding te neem by die ontwikkeling van nuwe inisiatiewe en projekte waardeur die gesinslewe versterk kon word. In hierdie verband skryf Pretorius (2001:8) dat die sleutel tot die Jaar van Hoop die ‘klein kerkie’ – die gesin is. Indien ouers nie rolmodelle is nie, kan kinders nie waardes leer nie. Indien die kerk gesinne toerus om hoopvol te leef, kan die hele samelewing daarby baat.
  • Die NG Kerk se verbintenis tot die onderwys en die vestiging van gesonde Christelike morele waardes deur die onderwys word bevestig, en die AJK is versoek om leiding te neem by die ontwikkeling van inisiatiewe ter versterking van die onderwys in Suid-Afrika.
  • Beroepsetiek het gedurende 2001 aandag geniet deurdat kursusse deur SEVTO en die Sentrum vir Beroepsetiek aan die Universiteit van Pretoria aangebied is, en daar word besluit om hierdie sentrum vir die ontwikkeling van verdere programme te nader.
  • Die ASK versoek kerkrade om gespreks- en toerusgeleenthede te reël omtrent die volgende: aktuele morele kwessies; die bevordering van vaardighede in morele oordeelsvorming; die vorming van Christelike deugde; en morele vorming van lidmate by die werkplek.

Die VAM-verslag is met die volgende woorde afgesluit:

[D]ie Jaar van Hoop was net ’n inleiding tot ’n seisoen van hoop. Die saak van versoening, armoede en morele herstel is nog nie naastenby uitgeput nie en talle projekte en inisiatiewe kry nou eers momentum. (Agenda van Algemene Sinode 2002:333)

Die doelwitte en inisiatiewe van die Jaar van Hoop word aan die Werkgroep Missionêre Diakonaat en ander bedienings van die kerk oorgedra om te kontinueer. In die hantering van die drie sake, naamlik armoede, versoening en morele herstel moes samewerking met ander openbare instansies, staatsdepartemente, skole, belangegroepe en nasionale welsynorganisasies bewerkstellig word (Agenda van Algemene Sinode 2002:333).

2001 se Jaar van Hoop het komplekse uitdagings in die samelewing aangeroer wat omvattende nadenke vereis het. Die VAM-kommissie het getuig dat hulle ‘telkens onder die indruk gekom het van die ingewikkeldheid en diep verweefdheid van die vraagstukke rondom versoening, armoede en morele verval’ in die Suid-Afrikaanse samelewing (Anon 2001b:5). Op hierdie tydstip het die tema van hoop met die kerk se getuienis en taak omtrent hierdie aangeleenthede verband gehou.

Vroeg in 2002 maak Kritzinger (2002:1) die volgende opmerking: ‘2001 was die NG Kerk se Jaar van Hoop. Het ons hoop gebring? Sekerlik.’ Ook hy meen dat ’n Seisoen van Hoop beter sou vaar, want die wanhoop bly en daarom die nood vir hoop. Elkeen van die terreine waarop die Jaar van Hoop gefokus het, het die wanhoop onderstreep en elke Christen en elke gemeente opgeroep om deur die oë van die Here na die wêreld te kyk. In aansluiting hierby is vroeër verwys na die oortuiging dat die NG Kerk se daadwerklike betrokkenheid by morele herstel, die aanspreek van armoede en die bediening van versoening ‘’n deur van hoop’ vir baie lidmate kan wees. In samehang daarmee is ook gesê dat nuwe hoop soms ontvang word wanneer Christus nagevolg word deur klein dade van liefde en ontferming. Hoe die bogenoemde gedagtes hierna in die praktyk moes realiseer, was, op sigself beskou, ’n ope vraag.

Vervolgens word onder subtemas voorbeelde belig van amptelike en nie-amptelike wyses waarop die temas van die Jaar van Hoop in die NG Kerk oor die afgelope 20 jaar gerealiseer het by wyse van die Algemene Sinode se werksaamhede in gemeentes en onder lidmate, asook binne die konteks van die meer algemene Suid-Afrikaanse samelewing.

Oorsig oor die tema van hoop op kerklike front die afgelope 20 jaar

By die Algemene Sinode van 2002 dien ook ’n verslag oor missionêre diakonaat. Luidens hierdie verslag het dit in die Jaar van Hoop:

… duidelik geword dat missionêre diakonaat ingeskuif het in die sentrum van die kerk se roeping. Daar het ’n bewussyn gegroei van die oorweldigende nood in die totale gemeenskap waarbinne die kerk en plaaslike gemeentes geroep is. (Agenda van Algemene Sinode 2002:329)

Met missionêre diakonaat word die kerk deur ’n dienende getuienis na die wêreld gerig, en elke gemeente dus na die gemeenskap. Uit die verslag het dit geblyk dat die opdrag aan die Werkgroep Missionêre Diakonaat om die Jaar van Hoop se doelwitte, inisiatiewe en projekte te kontinueer oorweldigend is en dat besinning oor die mees effektiewe wyse waarop die kerk hierdie roeping kan aanpak, noodsaaklik is (Agenda van Algemene Sinode 2002:330). In die prinsipiële besinning oor missionêre diakonaat is die term diensgetuienis oorweeg vir ’n beter omskrywing en is die volgende beklemtoon (Agenda van Algemene Sinode 2002:330–331):

  • Die missionêre diakonaat moet ’n aspek van elke lidmaat en gemeente se spontane getuienis wees deur ’n eenvoudiger lewenstyl, ’n ekologies volhoubare lewenspeil, ’n sin vir geregtigheid en deernis met minderbevoorregtes;
  • Missionêr diakonale projekte behoort gesamentlik met die NG Kerk-familie en ook interkerklik plaas te vind, terwyl vennootskappe met ander organisasies en die sakegemeenskap gesluit word;
  • Die kerk beskik oor minder bronne vir diakonale werk as vroeër, terwyl die nood al hoe groter word en daarom moet bronne ontgin word om projekte te befonds. (Die verslag noem terloops dat die gebrek aan befondsing die suksesvolle deurvoering van baie van die Jaar van Hoop se projekte belemmer het.)

Met die NG Kerk se Roepingsverklaring waarvan die eerste weergawe by die Algemene Sinode van 2002 aanvaar is, het die kerk verklaar dat die evangelie van Christus gelowiges op ’n pad van heil plaas, en daarom wil die kerk oral getuig ‘van die hoop wat in ons leef’. Daar is ook verklaar dat die NG Kerk opnuut daartoe verbind is om mee te werk aan oplossings vir die samelewing se uitdagings: geweld; armoede en gevolglike hongersnood; die Vigspandemie; die gebrek aan respek vir mense, diere en die omgewing. Gemeentes is ook opgeroep om by die genesing van die land betrokke te raak (Handelinge van Algemene Sinode 2002:527). Met die bespreking en uitbreiding van die Roepingsverklaring in 2004, kry die ASK opdrag om verdere studie te doen (en toepaslike optrede te oorweeg) ten opsigte van die sogenaamde groot kwessies wat bepalend vir die land se toekoms is. Weereens word armoede en moraliteit sowel as ander kwessies soos die ontwikkeling van mense, die impak van MIV en VIGS, misdaad en geweld, onderwys en grondhervorming genoem (Handelinge van Algemene Sinode 2004:277).

Die volgende subtemas waarmee die tema van hoop vervleg is, hou verband met die Jaar van Hoop se temas, armoede, versoening en moraliteit. Die toeligting van aspekte wat in subtemas vervat is, is nie bedoel om ’n prinsipiële beoordeling daarvan te gee nie.

Hoop en versoening

Die NG Kerk se besef dat hoop met versoening saamhang, word duidelik in die VAM-kommissie se verslag (Anon 2001b:5–9) waarin aangedui word dat die NG Kerk daartoe verbind is om in die jare wat voorlê die koninkryk van God uit te brei, onreg op alle vlakke van die samelewing uit te skakel en Christelike versoening te bevorder. Prof Botman (2002:4), verbonde aan die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Stellenbosch, wys in Junie 2002 daarop dat die NG Kerk tydens die Jaar van Hoop een van die ‘grootste treë in die rigting van geloofwaardigheid ten opsigte van sy verhouding met swartes’ gegee het. In talle gesprekke het die NG Kerk se verbintenis tot verandering, veral ten opsigte van armoede, versoening en moraliteit duidelik geword. Dit was juis betekenisvol, aangesien die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke in 2001 op soortgelyke sake gefokus het en as kerke saam wou stry teen Afro-pessimisme deur tekens van hoop in alle gemeenskappe te vestig.

Hoe hoop met versoening vervleg, word duidelik uit die volgende:

Waar hoop is, word versoening gewaag

Kritzinger (2013:3) besin oor hoop as ’n motiverende krag om versoening te soek en te bewerk. As lid van die Algemene Taakspan vir Leer- en Aktuele Sake lig hy die volgende omtrent die tema Hoop oorbrug afstand uit:

  • Hoop waag dit om opnuut oor die wêreld – die skepping wat aan flarde geslaan is – te droom as ’n plek waar die sjalom van God aangekom het;
  • Hoop bou grootpaaie deur die woestyn, bou brûe waar daar voorheen mure was, breek kerkers van hooplose vereensaming oop tot ’n ‘arena van gedeelde vreugde en dankbaarheid’;
  • Hoop hou vas aan die onderlinge aangewesenheid van mense op mekaar;
  • God is die Bron van hoop. Dit is hoekom hoop afstand oorbrug.
Hoop, versoening en kerkeenheid

Met betrekking tot die saak van versoening stel Hofmeyr (2020:409) tereg dat die kerk juis een van die belangrikste draers van die boodskap van versoening is. En, dan verwys hy spesifiek na die bydraes van die VGKSA (Verenigende Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika) tot versoening in die gees van die Belydenis van Belhar gedurende die afgelope dekades. In hierdie tyd was versoening en hoop belangrike temas in die talle gesprekke, uitkomste van werkgroepe, besluite en verklarings omtrent kerkhereniging van die NG Kerk-familie. In die Esselenpark-verklaring van 2006 as voorbeeld, het die NG Kerk se leierskap die VGKSA verseker van hulle vaste verbintenis aan die bybelse opdragte van eenheid, geregtigheid en versoening – die drie groot temas van die Belydenis van Belhar (Agenda van Algemene Sinode 2007:392). Omdat die waarde van die belydenis daarin geleë is dat ongeregtigheid en onversoenbaarheid aangespreek word, het die plek van die Belydenis van Belhar ook toenemend die fokuspunt in die Algemene Sinode se nadenke oor die aangeleenthede geword (Notule van die Algemene Sinode 2013:15).

Alhoewel die proses van kerkhereniging intussen momentum verloor het, het Johan Botha as direkteur van die Kommissie vir Getuienisaksie van die NG Kerk-familie in Kaapland, in September 2013 nog geskryf dat die NG Kerk-familie erfgoed met mekaar deel ‘wat groot hoop gee vir môre, én waarop ons saam verder met ander kan bou’:

  • Die NG Kerk-familie behoort saam aan God wat die kerk deur sy Woord en Gees versamel, beskerm en versorg.
  • Die NG Kerk-familie is saam God se bonte verskeidenheid saamgevoeg in die één liggaam van Christus en het veral sedert die laat negentiende eeu in Afrika versprei om in talle soorte samelewingverbande te leef en te werk.
  • As gereformeerde familie is die NG Kerk-familie se geloof en lewe op die Bybel gegrond. Gerig deur die Heilige Gees word die wil van die Here by kerkvergaderings, in bedieningsgroepe, by projekspanne, vennootskapbyeenkomste, diensaksies en in moderatuurvergaderings gesoek.
  • Die gemeenskaplike roeping van die NG Kerk-familie is om mekaar en ander te dien met die onderskeie genadegawes. ‘[I]n die afgelope klompie jare het ons die boodskap van diens aan mekaar duideliker gehoor’, meen Botha op daardie tydstip.
  • Die kerkfamilie het mekaar nie gekies nie, maar is deur die Here aan mekaar gegee en is sáám in sy sending. (Botha 2013:14–15)

In hierdie verband word berig oor ’n erediens met die opening van die sitting van die NG Kerk-ring op Worcester op 04 September 2016. Die diens is op uitnodiging van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK)-ring van Worcester in die VGK gemeente Worcester-Oos gehou met die tema Eenheid, Geregtigheid en Versoening. Die uitnodiging was die gevolg van ’n reeks gesprekke tussen die NG Kerk- en VGK-predikante oor verdeeldheid, rassisme en klassisme in die gemeenskap. Die prediking is waargeneem deur die moderatore van die VGK se Kaaplandse Sinode, ds Pieter Grove, en die NG Kerk se Wes-Kaapse sinode, ds Nelis Janse van Rensburg. Tydens die prediking en ná die geleentheid is vele opmerkings gemaak oor die strewe na kerkeenheid as opdrag van Christus, dat skouer aan die wiel gesit moet word met betrekking tot kerkeenheid, en ‘dat die voorbeeld van eenheid, geregtigheid en versoening van Christus wat tydens dié erediens sigbaar was, aangesteek sal bly en ’n helder lig van hoop in Worcester sal skyn’ (Helena 2016:13).

Hoop, versoening en geregtigheid

In 2001 raak Dolamo (2001:296–298) die saak van versoening en geregtigheid, asook die kerk en teologie se rol daaromtrent aan. Dolamo was van mening dat versoening en vrede in die Suid-Afrikaanse samelewing nie bereik kon word sonder die soeke na geregtigheid nie. Kwessies wat verband hou met ekonomiese geregtigheid is hierby ingesluit: restitusie deur grondhervorming; die ondersoek van die behuisingkrisis en werkloosheid met gepaardgaande geweld en misdaad; en die vraag na wie die ware bevoordeeldes van die staat se makro-ekonomiese beleide is. Dolamo beveel aan dat die kerk die lot van die meerderheid Suid-Afrikaners moet verhef tot ’n status confessionis om sodoende teologies die ekonomiese uitbuiting en verarming van mense as ’n sonde te verklaar en antropologies as ’n misdaad teen die mensdom.

Hoop op versoening is immers skraal wanneer die belewenis van geregtigheid ontbreek. Dit is aangeraak tydens ’n konferensie oor versoening met die eeufeesviering van die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Teologie in 2017. Dr. Frank Chikane, senior visepresident van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, het die vraagstuk van ekonomiese geregtigheid geïdentifiseer as ’n uitdaging vir Suid-Afrika waarin vennootskappe ’n kardinale rol moet speel om projekte wat die vraagstuk aanpak te laat slaag. Hierop het prof. Piet Meiring gevra dat kerke bereid moet wees om hande te vat in die stryd om geregtigheid (Jackson 2017:5).

Claassen (2017:5) skryf in Oktober 2017 dat verskeie gesprekke met belangegroepe plaasgevind het om beter te verstaan watter rol die NG Kerk ten opsigte van geregtigheid kan speel. Gesprekke het plaasgevind met, onder meer, die Institute for Justice and Reconciliation, die Catholic Parliamentary Liaison Office en die Khulumani Support Group (’n groep wat poog om deur verskeie projekte ekonomiese ongelykhede te bestry) – instansies waarmee die NG Kerk ’n vennootskap wou vestig tot teenwerking van ekonomiese ongelykheid in Suid-Afrika.

In 2018 vind ’n konferensie in Klerksdorp plaas oor moontlike wyses waarop die NG Kerk kan help om versoening in Noordwes te bewerkstelling. Hier vertel dr. Gustav Claassen van die NG Kerk van die reis met Khulumani op algemene sinodale vlak. Versoeningverhale is tydens die konferensie gedeel, onder meer oor Coligny se inisiatief Reconciliation, Healing and Renewal. Ná die verwoestende onrus en plundering in April 2017 het kerklui oor rassegrense heen saamgewerk aan die heropbou van die dorp en gemeenskap. Die missionale diakonaat van Goudland Sinode het belangstellendes genooi om die inisiatief op te volg (Jackson 2018:1).

Dit is tog belangrik om ook te let op ’n leemte wat Vorster (2009:552, 563) identifiseer omtrent die gebruik van die begrip versoening in die Suid-Afrikaanse konteks deurdat dit meestal op sosiaal etiese terrein gebruik word. Teen hierdie agtergrond kom die oproep tot mense en kerke om versoening te bevorder deur mee te werk tot sosiale geregtigheid in die samelewing. Hy meen egter dat versoening in ’n sosio-politieke konteks tot sy reg kom juis ‘wanneer die volle lading daarvan, soos beskryf in die Christelike tradisie, aan die orde kom’. Aangesien die moderne neiging is om versoening in Christus te laat oorgaan in sosiale geregtigheid, word die ryke betekenis daarvan vir die kerk en gelowiges se versoeningrol in ’n onmenslike samelewing ontneem. Die evangeliserende rol wat kerke en gelowiges moet speel om agente van versoening te wees, word ook afgewater. Kerke en gelowiges se rol in versoening lê dus daarin om versoening in Christus te verkondig, dit te vergestalt en die etiese beginsels wat daaruit voortvloei, toe te pas.

Armoede en hoop

Soos reeds genoem, het die Algemene Sinode van 2002 deur die ASK die verantwoordelikheid aanvaar om die bekamping van armoede te stimuleer en moniteer, en om as voorspraak vir die armes op te tree. Verder het die Werkgroep Missionêre Diakonaat die opdrag opgeneem om die ontbinde VAM-kommissie se doelwitte voort te sit deur aandag aan sake soos armoede, versoening en morele herstel te verleen (Agenda van Algemene Sinode 2002:333). Daar is ook aangedui dat missionêre diakonaat of diensgetuienis wat die kerk met ’n dienende getuienis na die wêreld rig, ’n wesenlike aspek van elke lidmaat en gemeente se spontane getuienis behoort te wees met ’n sin vir geregtigheid en deernis vir minderbevoorregtes (Agenda van Algemene Sinode 2002:330).

Van der Merwe (2020:307) wys daarop dat daar, desondanks, by die Algemene Sinode van 2004 gerapporteer is dat die vraagstuk van armoede in Suider-Afrika omvattend en diep gewortel is en ’n steeds groterwordende probleem is. Die Diensgroep Diensgetuienis is dan ook versoek om ’n strategie vir die bekamping en uitwissing van armoede in Suider-Afrika te ontwikkel. In 2007 gee die Algemene Sinode opdrag dat, in samewerking met die NG Kerk-familie, ’n omvattende, geïntegreerde beleidsdokument voorberei word wat sou aandui hoe die kerk se roeping (aan die hand van die hersiene Roepingsverklaring 2007) in die Suider-Afrikaanse konteks geïmplimenteer kan word. Vorige opdragte rakende strategieë vir die bestryding van armoede, die bekamping van misdaad en geweld, asook die MIV- en Vigsstrategie, moes ook in die dokument opgeneem word. Die taakspan wat hieroor by die Algemene Sinode van 2011 verslag lewer, verduidelik dat die opdrag omvangryk was (Agenda van die Algemene Sinode 2011:53). Die uitkoms van die opdrag was teologiese vertrekpunte met die oog op die inname van ’n standpunt oor die konteks van die NG Kerk-familie. Aspekte wat besinning, beplanning en handeling vereis het, het onder meer die volgende ingesluit: armoede, werkloosheid, ongelykheid, politieke magsmisbruik, korrupsie, miskenning van menseregte en die kultuur van aggressiewe vyandigheid (Agenda van die Algemene Sinode 2011:59, 63). Diepe kommer is ook uitgespreek oor die groot gebrek aan versoening wat steeds in die Suid-Afrikaanse samelewing geheers het, en daarom is die kerk opgeroep om met groot erns die ‘bediening van versoening’ te beoefen. Die Algemene Sinode se besluit omtrent die teologiese vertrekpunte was dat verdere besinning praktiese riglyne moes bevat omtrent versoening in die NG Kerk-familie en in die meer algemene Suider-Afrikaanse gemeenskap, die bestryding van armoede en ekonomiese ongeregtigheid sowel as die kerk se rol in die bekamping van misdaad en geweld. Verder is met dank kennis geneem van die talle projekte op die terrein van die bekamping van armoede en maatskaplike ontwikkeling waarby die verskillende verbande van die kerk betrokke was (Handelinge van die Algemene Sinode 2011:107, 110, 111).

’n Omvattende verslag oor die NG Kerk se betrokkenheid by die stryd teen armoede, werkloosheid en maatskaplike ongeregtigheid dien by die Algemene Sinode van 2013. Onderskeid word getref tussen verligting van armoede wat met korttermyn-intervensies in mense se lewens verband hou, en die vermindering daarvan wat verwys na ’n benadering waarvolgens ’n volhoubare uitkoms verkry word deur programme wat vaardighede en bronne ontwikkel. By die Algemene Sinode wat in 2015 sou volg, het die taakspan vir Armoede en Maatskaplike Geregtigheid aangedui dat vroeë kinderontwikkeling die mees koste-effektiewe wyse was waarop die kerk by die voorkoming van armoede betrokke kon wees. Die Ukuba-beweging in die familie van NG Kerke was die uitkoms daarvan (Van der Merwe 2020:309–310). By die Algemene Sinode van 2015 is opdrag gegee om ’n standpunt te formuleer oor die ekonomie met betrekking tot die kerk se rol in die hantering van armoede, ongelykheid en werkloosheid (Handelinge van Algemene Sinode 2015:71).

In aansluiting by die gedagte dat missionêre diakonaat of diensgetuienis ’n wesenlike aspek van elke lidmaat en gemeente se spontane getuienis behoort te wees, verskyn daar die afgelope sowat 20 jaar talle artikels in Kerkbode oor gemeenteverhale en ander kerklike projekte as momente van hoop te midde van armoede. Vervolgens word hieronder na enkeles as voorbeeld verwys.

Verhale van hoop

In die Jaar van Hoop se gespreksdokument is gevra hoe die kerk op gemeentelike en ringvlak op armoede kan reageer (Anon 2001b:5). Daar is genoem dat die aanpak van armoede kompleks is wanneer dit die mens se psige, selfbeeld en waardes aangetas het. Gemeentes moet dit in gedagte hou wanneer hulle deur projekte ’n verskil in mense se lewens wil maak.

Iets hiervan word verwesenlik in ‘die storie van armoede en die stryd tussen wanhoop en hoop’ in Britstown waaroor in Kerkbode van 22 Julie 2016 berig word (Jackson 2016:10–11). Die berig handel oor hoe die herwinningprojek van die NG en die VGK gemeentes op Britstown een van die maniere is waarop hulle die gemeenskap wil help genees. Ds. Hanri Joubert, predikant van die NG en die VGK gemeente van Britstown, merk op dat indien die kerk in Suid-Afrika nie by gemeenskapontwikkeling betrokke is nie, die kerk nie die evangelie verstaan nie. Daar word berig:

[B]ietjie vir bietjie is die herwinningsprojek besig om ’n verskil te maak … Stadig maar seker word daar gebou aan ’n alternatief vir die wanhopige soort lewe wat armoede ontvlug deur kruiwaens wat kraak onder die vragte alkohol. Nou help kruiwaens vol rommel om ’n ander perspektief op die lewe oop te maak. ’n Perspektief waarin ’n mens met eerlike werk kos kan verdien, waarin wanhoop plek maak vir selfrespek en hoop. (Jackson 2016:11)

Oor ’n projek wat moet hoop bring op Hofmeyr, berig Kerkbode van 08 September 2017:

Hugs of Hope is ’n werkskepping- en opheffingprojek wat daarna streef om in liefde en deernis hoop te bring waar omstandighede ’n moedeloosheid veroorsaak het. Die gedagte is om te help om mense se lewe te verander op ’n manier wat tot die hele gemeenskap se voordeel sal strek. (Anon 2017:9)

Onder die vaandel van hierdie projek word naaldwerk- en kookopleiding verskaf en word produkte wat in die proses gemaak word, verkoop. Vroue wat deel is van die projek leer ook om hulle geld te bestuur. By die Hugs of Hope-winkel word goeie tweedehandse klere, gordyne en linne teen bekostigbare pryse verkoop. Hofmeyr-inwoners werk saam om ’n gesonder gemeenskap in hierdie deel van die Oos-Kaap te verseker en skud elke week nog ’n bietjie meel uit die sakkie wat nooit leeg raak nie (Anon 2017:9).

In 2021 vier die welbekende nie-regeringorganisasie MES wat destyds in die boesem van die NG Kerk ontstaan het hulle 35ste bestaanjaar. Meissenheimer (2021:4) berig soos volg oor MES se verhaal van hoop en genade: MES, wat oorspronklik as Middestad Evangelisasiesentrum bekendgestaan het, het ontwikkel van ’n uitreikaksie in die middestad van Johannesburg tot ’n organisasie met takke in ander sentra en vennootskappe met kerkgenootskappe, ander welsynorganisasies en regeringinstansies. Die dienslewering by MES se Sentrums van Hoop sluit die oprig van kleuterskole, naskoolse en jeugsentrums, werkrehabilitasie, tweedehandse-klere-winkels, groentetuine en vaardigheidontwikkeling in. Met hoop op die toekoms, fokus MES op die volgende planne: die IT Pathway-inisiatief om kinders rekenaarvaardighede te leer; die vind van kreatiewe oplossings vir werkloosheid en die behuisingtekort; die uitbreiding van geakkrediteerde vaardigheidprogramme; die vermindering van voorskoolse kinders se agterstand in ontwikkeling; en die vind van innoverende oplossings vir families om bymekaar te bly.

Die enkele voorbeelde van verhale van hoop waarin die beginsels van die verligting en vermindering van armoede figureer, beklemtoon die werklikheid van hierdie betrokke vraagstuk in Suid-Afrika.

Dit is ook duidelik dat die kerk nie oor al die bronne beskik om hierdie omvattende en diepgewortelde probleem aan te pak nie, maar in vennootskap kan die kerk minderbevoorregtes met ’n sin vir geregtigheid en deernis dien.

Hoop en morele herstel

In hierdie verband is die bydrae van die plaaslike kerk destyds in die VAM-kommissie se opsommende verslag aan gemeentes aangedui met die opmerking dat gemeentes se gewone bediening ‘wel ’n sterk moreel vormende uitwerking het’ (Anon 2001b:7). Destyds is met dankbaarheid van hierdie feit kennis geneem. Die noodsaak hiervan het verder duidelik geword in president Thabo Mbeki se gesprek met godsdiensleiers aan die einde van 2002 waarin die belangrike verantwoordelikheid van kerke (en alle godsdiensgroepe) omtrent die vestiging van waardes in Suid-Afrika weereens uitgestippel is (Burger 2003:26).

Die Algemene Sinode van 2004 besin ook oor morele waardes binne Suid-Afrika se nuwe staatkundige bedeling (as deel Leer- en Aktuele Sake se verslag). Die kerk se ondersteuning van die regering se Morele Vernuwingsbeweging2 word bevestig, aangesien dit aan kerke die ruimte bied om ’n eie bydrae te lewer tot ’n beter samelewing in Suid-Afrika. ’n Ad hoc-kommissie moes ook benoem word om ondersoek in te stel na ’n omvattende toerustingprogram vir lidmate ten opsigte van hulle persoonlike morele verantwoordelikheid in die samelewingsverbande waarin hulle betrokke is (Handelinge van Algemene Sinode 2004:373).

In Katts (2009:401–405) se besinning omtrent die morele vorming van mense van karakter en verantwoordelikheid word uitgelig dat menseregte nie genoeg is om die Suid-Afrikaanse gemeenskap menswaardiger te maak nie en dat daar gepleit word vir moreel verantwoordelike en/of getransformeerde mense. Die gees van die handves van menseregte moet deur mense se werk, familie, gemeenskapstrukture, staatsinstellings en persoonlike praktyke gerealiseer word. Hierin word die rol van die kerk (en ander geloofsgemeenskappe) beklemtoon om ’n morele visie te voorsien wat private deug met die klem op selfbelang verander na publieke deug van gemeenskaplike belang. Die ekumeniese kerk het ’n groot rol te speel ten opsigte van die geloofwaardige en verenigde bydrae tot morele vorming.

Die kompleksiteit van die aangeleentheid word deur Dames (2009) se artikel oor die ‘Ethical Leadership Project’ (ELP) ’n respons van die Wes-Kaap op die inisiatief van die Moral Regeneration Movement en ’n vennootskap tussen die MRM, die kantoor van die Wes-Kaapse premier, die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch, die Universiteit van die Wes-Kaap en die Cape Peninsula University of Technology, belig. As program wat op daardie tydstip reeds vyf jaar gefunksioneer het, was die doelstellings van die ELP om tot die ontwikkeling van etiese leierskap op alle vlakke van die samelewing by te dra; om maniere van morele transformasie waardeur ’n kultuur van menseregte in ’n demokratiese samelewing bevorder kon word te ondersoek; en om by wyse van interdissiplinêre navorsing, opleiding en werkwinkels omtrent etiese leierskap sosiale kapitaal te bou. In die loop van 2006 is, onder meer, ’n konferensie met opvolgende werkwinkels gehou omtrent etiese leierskap en hoe godsdienstige en sekulêre gelooftradisies morele vorming en transformasie opnuut kon aanwakker en gestalte gee. Ter afsluiting van die artikel, meen Dames dat die ELP wel daarin geslaag het om deur hulle werksaamhede ’n platform te skep waardeur verskillende sosio-ekonomiese en kulturele groepe, ideologieë en rasse byeengebring is om te besin oor morele transformasie in die samelewing. Daar is besef dat geen absolute program op sigself transformasie sal bewerk nie en dat die vestiging van etiese leierskap veral in die hande en harte van die land se kollektiewe leierskap lê (Dames 2009:36–37, 41, 43, 46).

Dit plaas ook die NG kerk se openbare getuienis op die tafel wat verwys na die oortuigings wat die kerk uitspreek omtrent eties aktuele sake, asook ander sake op die markplein wat die kerk se geloof uitdaag. Hierdie getuienis word onder meer by die Algemene Sinode van 2013 bespreek. Die mening word gehuldig dat sake van openbare belang waaroor die kerk nie mag swyg nie deur die leierskap van die Algemene Sinode aangepak moet word. Andersins behoort die kerk se oortuiging verwoord te word volgens die eis van gebeure op die markplein. Dit is egter belangrik dat hierdie taak en voortvloeiende aksies op goeie navorsing gegrond is (Agenda van die Algemene Sinode 2013:223).

So word by die Algemene Sinode van 2015 in die verslag Publieke Getuienis na die Tussenkerklike Raad (TKR) se ope brief van 02 Junie 2015 aan die ANC (African National Congress) verwys. Hierin is ’n aantal verontrustende sake aangeraak: die morele ineenstorting wat toenemend in staatsinstellings sigbaar is; die ANC-regering se skynbare onwilligheid om konkreet te handel met die morele krisis; xenofobiese uitsprake teenoor minderheidsgroepe in Suid-Afrika; ANC-leiers se ondermyning van grondwetlike meganismes soos die Openbare Beskermer en die minagting van hofuitsprake waardeur Suid-Afrika as ’n regstaat in gedrang kom; politieke inmenging en magsmisbruik in burgerlike organisasies en semi-staatsinstellings; en ANC-uitsprake wat die gesag van die Grondwet van Suid-Afrika ondermyn. Onwillekeurig lei die morele krisis tot ʼn gebrek aan sosiale kohesie en toename in rassekonflik. Essensiële dienslewering word belemmer deur sistemiese korrupsie en swak administrasie waaronder juis die armstes van die armes ly. Op hierdie tydstip was die beplanning van die TKR om die gesprek oor moraliteit en integriteit met ander kerke in Suid-Afrika te inisieer (Agenda van die Algemene Sinode 2015:388–389).

In nog ’n voorbeeld verklaar die NG Kerk se moderamen in 2018 die noodsaak van morele herstel in die Suid-Afrikaanse samelewing:

Suid-Afrikaners is oor die afgelope jare blootgestel aan talle berigte van korrupsie, magsmisbruik en swak bestuur deur die regering, staatsdiens, semi-staatsinstellings en privaat sektor. Uitsprake van die Openbare Beskermer en die howe het telkens bevestig dat die kommer en lae moraal van die Suid-Afrikaanse nasie nie sonder rede is nie. Morele verval het ook in verskeie ander oorde toegeneem. Gelowiges het oral begin bid vir uitkoms en vir morele, vaardige en toegewyde leiers wat die belange van al die burgers van die land op ’n ewewigtige wyse op die hart dra. (Verklaring 2018:1)

In daardie stadium, met die verwisseling van regeringsleiers, is die moontlikhede van nasionale versoening, ekonomiese ontwikkeling en ’n menswaardige lewe vir almal in vooruitsig gestel. Vir die NG Kerk was dit ook die geleentheid om ’n opbouende rol te speel deur lidmate op te roep om te bly bid vir morele standvastigheid, geregtigheid en vrede, en om op alle vlakke van die regering en die burgerlike samelewing te beding vir etiese regering, menswaardigheid, geregtigheid vir almal, werkskepping, rentmeesterskap, ekonomiese investering, gesonde rasseverhoudings, asook vrede en harmonie in ’n diverse samelewing (Verklaring 2018:1).

Ten slotte kan bygevoeg word dat die gees van die Jaar van Hoop in ’n groot mate ook neerslag vind in die latere Seisoen van Menswaardigheid. In Oktober 2013, word toeligting oor die NG Kerk-familie se voorgestelde Seisoen van Menswaardigheid gegee (Agenda van die Algemene Sinode 2013:14–15). Teen die agtergrond van geweldsmisdade, uitdagings in die onderwys, rassisme, vreemdelingehaat, geslagsongelykheid, maatskaplike ongelykheid en armoede was die vier kerke van die familie oortuig dat die kerk na vore moet tree ten einde die Suid-Afrikaanse nasie te begelei tot morele hervorming en die genesing van die samelewing. Menswaardigheid is as ’n Godgegewe werklikheid voorgehou en gelowiges is aangemoedig om in navolging van Jesus Christus mense se waarde te bevestig en te herstel. Die waardes wat bevorder moes word, is respek, luister (wat verband hou met openheid en leerbaarheid), omarming (wat vergifnis, liefde en omgee behels) en selfloosheid (omdat die een die ander hoër moet ag as homself). Oor die pad vorentoe is aangetoon dat gemeentes en lidmate begeleiding sal ontvang om deel te word van die Seisoen van Menswaardigheid by wyse van produkte wat daarvoor ontwikkel sal word, asook deur konferensies, byeenkomste en gesprekke wat op verskillende vlakke gehou sal word. In 2015 sou die Seisoen van Menswaardigheid verdere beslag kry deur die besluite van die Algemene Sinode dat die onderskeie samestellende sinodes elk ’n taakspan aanwys om die oogmerke daarvan in eie gebied te bevorder en dat samewerking met die NG Kerk-familie bevorder word (Handelinge van Algemene Sinode 2015:27). In 2019 neem die Algemene Sinode kennis dat taakspanlede van die verskillende sinodes hulleself verbind tot die bevordering van menswaardigheid en die bewusmaking van prominente sake wat die waardigheid van mense raak, byvoorbeeld armoede, rassediskriminasie, gestremdheid en geweld teen vroue en kinders. Die voorneme was ook dat die Seisoen van Menswaardigheid bevorder moes word as beweging wat die kerk help om ’n kontekstueel relevante teologie en bediening te ontwikkel (Agenda van Algemene Sinode 2019:61). Die waardes van die Seisoen van Menswaardigheid het veral ook in die debat oor selfdegeslag-verhoudings ter sprake gekom soos verwoord in 2015:

[D]ie Algemene Sinode weerhou haarself voortaan van enige homofobiese taal, gedrag en gesindheid juis vanweë ons verbintenis aan die Seisoen van Menswaardigheid, en ook vanuit ’n diepe oortuiging van die diskriminerende aard van sodanige taal, gedrag en gesindheid as gevolg daarvan. (Handelinge van Algemene Sinode 2015:71)

In hierdie afdeling is gepoog om ’n oorsig te gee oor hoe die Jaar van Hoop die verskillende temas ontsluit het – iets wat oor die afgelope 20 jaar keer op keer deur die kerk besoek is op verskillende wyses en in verskillende verbande. Weens die beperkte omvang van die artikel en uiteenlopendheid van die tema kon die onderwerp slegs kursories behandel word. Dit is duidelik dat die navorsing, besinning en uitvoering van besluite omtrent hierdie temas omvattend van aard was en steeds is, en daarby ’n geweldige en soms oorweldigende taak op die kerk plaas. Vervolgens word besin oor die relevansie van hoop in 2021, 20 jaar na die Jaar van Hoop.

Hoop in 2021?

Die temas van 2001 het nie verdwyn nie – armoede, ongeregtigheid en voortgesette morele verval is steeds immer teenwoordig. En op die onbestendige politieke front is president Cyril Ramaphosa aan die stoei om die skade en skandes van jare se ongebreidelde korrupsie onder die vaandel van die ANC-regering aan te pak. Die Kommissie van Ondersoek onder regter Raymond Zondo se voorsitterskap, stel die afgelope jare ondersoek in na bewerings van staatskaping, korrupsie en bedrog in die openbare sektor en staatsorgane (Suid-Afrika 2018:9). Buiten hierdie ervarings wat hoop op die toekoms inhibeer, is daar nog uitstaande uitdagings wat in 2021 die tema van hoop oproep.

Die Covid-19-pandemie

2020 se Covid-19-pandemie vloei in 2021 voort. Hofmeyr (2020:413–416) skryf enersyds oor die krisis wat die Covid-19-pandemie vir die kerk veroorsaak het en andersyds oor die winspunte daarvan vir die kerk. Teen die agtergrond van ekonomiese druk, grendeltyd met sosiale en sielkundige implikasies, verskerpte toename van werkloosheid en armoede moes die kerk rekening hou met beperkings op kerkbywoning, beperkte inkomste en finansies, asook die onderbreking van pastorale sorg, kategetiese onderrig en ander gemeentelike aktiwiteite en byeenkomste. Hierdie inperking het egter aan die ander kant die behoefte aan geloofsgemeenskap gestimuleer. Lewensvrae wat na vore gebring is, het in sommige gevalle ’n keuse vir die Christus-pad gebring met geestelike verdieping. Wat die toekoms met die voortslepende effek van die Covid-19-pandemie betref, sal kerke met die voortgesette verlies aan die belewing van die gemeenskap van gelowiges (koinonia), verminderde inkomste en die afskaling van aktiwiteite rekening moet hou. In 2021 is dit in mindere en meerdere mate steeds die geval met die kerk.

Voordele van die sogenaamde ‘nuwe normaal’ is dat virtuele kommunikasie, digitale prediking en klankopnames ’n belangrike aspek van die kerkwese geword het en waarskynlik voortgesit sal word. Dit bring die voordeel dat die verkondiging van die evangelie ’n groter gehoor bereik, maar dit kan ook die tendens van ’n verbruikermentaliteit by mense verskerp. Verder is kreatiewe verbeelding van leiers vereis, aangesien die tradisionele wyse en bestaan van kerke uitgedaag is. Dat Christus die kerk in stand hou te midde van radikale aanpassing is ’n verblydende belewenis ‘en daarom bly daar steeds hoop en toekoms’ vir die kerk in hierdie wêreld, meen Hofmeyr. Missionaliteit is ook gestu in die sin dat kerkgeboue gedien het as gemeenskapsentrums waarvandaan materiële hulp verleen is. So skryf ds. Nelis Janse van Rensburg (2020:7) in Kerkbode van 12 Junie 2020 dat, alhoewel die Covid-19-pandemie ons lewe en toekomsverwagting onverwags verander het en die nabye toekoms met onsekerheid bejeën word, die ‘nuwe normaal’ interkerklike netwerke van sorg en omgee veral op plaaslike vlak bou. Verder stel hy in die vooruitsig dat identiteit ten diepste deur persoonlike oortuigings en omgee vir ander gevorm sal word, en nie op grond van stereotipes en vooroordele nie. Van Rensburg merk op dat kerke tydens Covid-19 mense versorg ‘wat ons lanklaas gesien het’, dat die kerk weer beleef word as ’n bron van hoop en in priesterlike gestalte erken word as die onmisbare getuie van God se sorg.

Hofmeyr (2020:420–422) merk egter op dat verhoudings as wesenlike aspek van die wese van die kerk in hierdie tyd uitgedaag word. Uit baie gesprekke gedurende die beperking van toepassing op eredienste het die behoefte aan fisieke kerkdienste duidelik geblyk, maar andersins het ander weens onbetrokkenheid belang by die kerk verloor. Hiermee saam loop ook die gedagte dat die erediens plaasvind volgens die wete dat die bedienaar van die Woord (Verbi Divini Minister) die opdrag daartoe ontvang het om deur die werking van die Heilige Gees en deur behoorlike voorbereiding die Woord aan die gemeente te verkondig. Die direkte impak van Covid-19 se inperkings het dus implikasies vir sake soos Skrifinterpretasie, asook etiese uitdagings. Die woorde van Hofmeyr wat tot hoop stem, is dat die kerk proaktief moet beplan en moet voorberei vir gebeurlikhede sodat dit nie deur die onvoorsiene in paniek verval nie. In hierdie opsig is die opmerking van Hanekom (2011:8) so relevant: ‘Hoop is deel van die kerk se hartklop.’ Die kerk behoort altyd te hoop, selfs wanneer daar oënskynlik geen hoop meer is nie. Daar moet gewaak word dat gelowiges nie die grens na wanhoop oorsteek weens pessimisme en swartgalligheid nie. Vir Hanekom beteken dit dat die kerk in die praktyk integriteit moet terugwen deur op wesenlike kwessies van algemene belang te fokus, deur die dinge wat die kerk deur die jare gedoen het te herwin en om weer ernstig te raak oor gebed en geestelike groei omdat God die bron van ware hoop bly.

2021 se politieke onrus, vandalisme en geweld

In die voorwoord van die publikasie Op pad na versoening: Bybelse en praktiese riglyne vir gemeentes (Du Toit et al. 2002:128) word dit duidelik gemaak dat in 2001, sewe jaar ná 1994, onreg en misdaad, korrupsie en geweld, misverstand en vooroordeel, asook rassisme nie soos mis voor die son verdwyn het nie. Dit het weereens gedurende Julie 2021 met die politieke onrus, vandalisme en geweld duidelik geword dat hierdie probleme steeds akuut is.

Ná hierdie gebeure, skryf dr. Louis van der Riet, sameroeper van die Algemene Sinode se Taakspan vir Identiteit en Versoening, dat lidmate van die NG Kerk die geleentheid het om opnuut oor ras en versoening te dink. Die gebeure was veel meer as ’n politieke agenda en het uiting gegee aan die desperaatheid wat nie alleen deur die Covid-19-pandemie veroorsaak is nie, maar deur dekades van neerdrukkende ongelykheid, armoede, hongersnood en werkloosheid. Dit is ook opvallend dat ras en rassisme deel van die publieke diskoers bly in die beoordeling van sodanige gebeure. Die gesprek oor ras en rassisme is ongemaklik, maar die stemme wat opgaan omtrent die ellende wat met ras gepaardgaan, behoort vir die kerk wegwysers te wees in die taak as vredemakers, eerder as om hierdie gesprek te beskou as ’n rasverknogte bedreiging. Van der Riet wys daarop dat die NG Kerk vir minstens 30 jaar temas soos versoening, sosiale kohesie en kerkeenheid op die agenda het en met ’n missionale roeping en identiteit beskryf word. Desondanks is gemeentes grootliks by barmhartigheidswerk betrokke en werk hulle nog nie saam as gelyke vennote in hulle plaaslike gemeenskappe aan geregtigheid en die aftakeling van strukture wat ongelykheid in stand hou nie. Indien die NG Kerk die blywende geweld en onrus in die land wil beredder, sal die roeping meer konkreet en kreatief uitgeleef moet word. In hierdie verband verwys Van der Riet na die Versoening- en Leergemeenskap wat gemeenteleiers wil bemagtig om met die nodige geloofsgewoontes en kennis brûe te bou in ’n diverse samelewing.

[M]y generasie se vermoë om te kan versoen – om tuis te kom in ons eie vel, en saam met ander – sal heel moontlik ons grootste uitdaging bly vir die kweek van die soort leierskap en spiritualiteit wat ons land nou nodig het. (Van der Riet 2021:n.p.)

Hierdie gedagtes vind weerklank in die woorde van Naudé (2018:9) wat as lid van die Wes-Kaapse Jong Volwasse Leergemeenskap skryf dat dit die kerk se verantwoordelikheid is om opgewonde te raak oor die evangelie en die hoop van die evangelie in gemeenskappe te beliggaam. Die mening word gehuldig dat indien die NG Kerk werklik daarna strewe om missionaal gerig te wees, dit nodig is om na mense te luister sodat ruimtes geskep kan word waarin almal ’n alternatiewe verstaan en ervaring van liefde en hoop ontdek.

Spanning in die NG Kerk

Oor die kerklike situasie in 2021 berig die redaksie van Kerkbode (2021:3): ‘Die spanning wat tans binne die kerk heers, draai veral om die AS se 2019-sinodebesluit oor selfdegeslagverbintenisse.’ Met hierdie besluit het die Algemene Sinode ruimte geskep vir kerkrade en predikante om burgerlike selfdegeslag-verbintenisse te bevestig. Intussen het ’n beweging van dolerende gemeentes teen hierdie besluit momentum gekry in die NG Kerk. Daarby het die Kairos Netwerk (KN) tot stand gekom en bestaan dit hoofsaaklik uit dolerende lidmate en gemeentes van die NG Kerk wat dit eens is dat die interpretasie van die Bybel deur die NG Kerk se Algemene Sinode onskriftuurlik is. Die KN en dolerende gemeentes stel die moontlikheid in die vooruitsig om binne die kerkverband ’n sinode van behoudende gemeentes te skep. In reaksie het die algemene sekretaris van die NG Kerk, dr Gustav Claassen, gesê dat die NG Kerk ’n eenheidsmodel soek waarvolgens diversiteit in die kerk erken word eerder as om bloot verdeeldheid te bestuur. Terwyl die NG Kerk se leierskap besin oor die moontlikheid van ’n hergroepering van ringe en sinodes, bly die uitdaging vir die kerk dat die KN en die dolerende gemeentes ‘die einste strukture soos die Algemene Sinode bevraagteken’, verduidelik Claassen. Tydens ’n besprekingsgeleentheid oor die aangeleentheid by die Lentekonferensie in September 2021 is die opmerking gemaak dat sodanige hergroepering in die kerk moontlik die konflik in die NG Kerk kan institusionaliseer (redaksie van Kerkbode 2021:3). Hoe die spanning wat tans in die NG Kerk heers, ontlont gaan word, sal die toekoms leer. Maar dit is juis hierdie spanning wat die kerk self laat hoop op uitkoms.

Na alles is 2021 net nog ’n jaar waarin die werklikheid van gebrokenheid in sy vele fasette deur die skepping, menslike samelewing, die kerk en die persoonlike lewe van mense loop. Hierdie ervaring roep soos altyd hoop op as ’n versugting na iets beter.

Slot

Volgens Meiring se opmerking in 2001 dat die NG Kerk die deurmekaar en stukkende Suid-Afrika hoop en nogmaals hoop skuld, is die Jaar van Hoop afgesluit. Maar deur dieselfde opmerking is ’n komplekse en oorweldigende taak op die skouers van die kerk gelê. Die bedoeling van hierdie artikel is om hieromtrent ’n oorsig te gee. In die uitvoering van die kerk se taak die afgelope twee dekades was die stem soms skaars hoorbaar in die oorverdowende gedruis van armoede, onversoenbaarheid, ongeregtigheid en morele verval. Tog het die NG Kerk nie haar taak versaak nie. Inteendeel, die artikel het aangedui dat die kerk se taak keer op keer herbevestig is met die hoop dat die kerk ’n verskil kan maak.

Dit was so duidelik in 2013 toe die Algemene Sinode, met die aanvaarding van die beleidsdokument oor die NG Kerk se missionale aard en roeping, verklaar het dat die beleidsdokument uitdrukking gee aan die geloofsonderskeidende prosesse waardeur die kerk aandag aan haar wese, aard en getuienis in die wêreld gee. Die verwagting was dat die omvattende dokument die kerk moes help om nuwe taal te skep en om deur nuwe gesprekke verbeeldingryke moontlikhede vir die toekoms van die NG Kerk te ontdek (Handelinge van die Algemene Sinode 2013:8). Die vraag in 2021 is of die missio Dei wat die kerk se missionale aard en roeping ten grondslag lê, die kerk tans kan help om steeds nuwe taal te skep en om deur nuwe gesprekke weer verbeeldingryke moontlikhede vir die toekoms te ontdek.

Dalk is die terloopse opmerkings wat die afgelope 20 jaar gemaak is, naamlik dat die kerk ’n Teologie van Hoop benodig en moet herontwikkel, juis nou baie relevant. Dit verg verdere nadenke, maar ter afsluiting word die waarde hiervan aangedui.

In Saaiman (2020:2) se beoordeling van Moltmann se teologie van hoop wys hy op die sterk relasie tussen hoop en beliggaming (embodiment) – veral gesien in Jesus se menswording wat beskryf word as hoop wat tot lewe kom. Jesus se dade van omgee en liefde, sy protes teen onreg en sy meelewing met lydendes en armes is dade van hoop. Die belangrike gedagte is dat die hoop wat Jesus gebring het elke dag deur mense beleef kan word. Die idee van beliggaamde hoop word, volgens Saaiman, ook in Moltmann se werk omtrent etiek en hoop beklemtoon waarin dit in essensie handel oor ’n tipe lewenswyse wat daartoe meewerk dat die toekoms nie deur die hand van die mensdom self ten gronde gaan nie. Hierdie gedagtes is so relevant vir die tyd waarin ons bestaan.

Heyns (1986:125–127) het tevore ook gevra watter sosiaal etiese dimensie in hoop opgesluit lê. Hoop waarom dit in die Skrifopenbaring gaan, het alles te make met die sosiale werklikheid waarin die mens leef en voor verantwoordelik is. Ofskoon hoop tot die struktuur van die menslike bestaan behoort, is dit nie ’n prestasie van die menslike gees nie, maar ’n gawe van God. Christelike hoop het te doen met die rigting waarin God die kosmos stuur – die visie van die toekoms waarin die nuwe werklikheid vervul sal word. Dit plaas die huidige werklikheid in ’n juiste perspektief, terwyl dit bemagtig en inspireer. Daarom het hoop ook die wegbreek van die gevestigde orde en struktuur tot gevolg, en is die toekomsgerigte mens ‘besig om te herformuleer aan ’n nuwe lewensverwagting en te arbei aan ’n beter lewenswerklikheid’. Waar hoop hierdie visie by mense open, lei hulle ’n gehoorsame lewe, maak hulle ruimte vir ander, gaan hulle in eerbied met ander om, laat hulle ander geregtigheid toekom, versoen hulle, is hulle betroubaar, oefen hulle gesag uit sonder om te kwets en beywer hulle hul vir ander se vryheid. Dit is sekerlik beliggaamde hoop.

In Forster (2015:12) se vraag oor watter hoop daar vir Suid-Afrika is en die kerk se rol daaromtrent, is dit ’n gegewe dat die kerk, in die verskillende gestaltes wat hy bespreek, die draer van hoop is. Forster meen dat die kerk in die verlede dalk nie volle begrip getoon het vir die kompleksiteit van ’n teologie van hoop nie en ook nie vir die ervaring van lyding en misnoeë met die ontoereikende veranderings in Suid-Afrika nie. Daarom belig hy hoop vanuit die publieke teologie en diskoers. Om waarlik die draer van hoop te wees, moet die kerk by die realiteit van die huidige sosiale en demografiese konteks betrokke wees. Foster bepleit ook ’n ‘present-futurist eschatology’ waarmee die kerk en Christene binne ’n konteks van ongeregtigheid en lyding in staat gestel word om daadwerklik op te tree vir daardie verlangde toekoms wat in vooruitsig gestel word.

Romeine 15:13:

[M]ag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

Outeursbydrae

P.K. is die enigste outeur betrokke by die skryf van die artikel.

Etiese oorwegings

Dié artikel voldoen aan alle etiese standaarde vir navorsing sonder direkte kontak met mens of dier.

Befondsing

Dié navorsing het geen spesifieke toekenning ontvang van enige befondsingagentskap in die openbare, kommersiële of nie-winsgewende sektore.

Data beskikbaarheidsverklaring

Data-deling is nie van toepassing op die artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in die artikel uitgedruk word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeur nie.

Verwysings

Agenda van die elfde Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Pretoria, 13–19 Oktober 2002, pp. 1–445.

Agenda van die twaalfde Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Hartenbos, 10–16 Oktober 2004, Deel 2, pp. 15–203.

Agenda van die dertiende Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Boksburg, 4–8 Junie 2007, Deel 1, pp. 1–497.

Agenda van die veertiende Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Boksburg, 10–14 Oktober 2011, pp. 1–301.

Agenda van die vyftiende Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Port Elizabeth, 6–10 Oktober 2013, pp. 1–320.

Agenda van die sestiende Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Pretoria, 4–9 Oktober 2015, pp. 1–462.

Agenda van die sewentiende Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Benoni, 6–11 Oktober 2019, pp. 1–529.

Anon, 2001a, Jesus Christus bring hoop. Versoening, armoede en morele herstel (1). Jaar van Hoop: 13 preke oor vier temas, CLF-Uitgewers, Bloemfontein.

Anon, 2001b, Jesus Christus bring hoop. Versoening, armoede en morele herstel (3). Jaar van Hoop: Bykomende inligting, CLF-Uitgewers, Bloemfontein.

Anon, 2001c, ‘Hoop!’, Die Kerkbode 1, 2 Febr.

Anon, 2001d, ‘Kerk moet “hoop-teologie” herontwikkel en prakties help’, Die Kerkbode 7, Mrt. 2.

Anon, 2001e, ‘Asmal erken kerk as onderwysvennoot’, Die Kerkbode 7, Mrt. 16.

Anon, 2001f, ‘Burger: NG Kerk kán ‘n verskil maak’, Die Kerkbode 2, Apr 6.

Anon, 2002, ‘Kerk neem deel aan staat se aksie vir morele herstel’, Die Kerkbode 7, Febr. 1.

Anon, 2017, ‘Hugs of Hope bring hoop op Hofmeyr’, Kerkbode 9, Sept. 8.

Botha, J., 2013, ‘Ons erfgoed. Boustene vir vandag en môre se hoop’, Kerkbode 14–15, Sept. 20.

Botman, R., 2002, ‘Van die “Jaar van Hoop” na die “Jaar van Wanhoop”?’ Kerkbode 4, Junie 13, 14, 15.

Botman, R., 2013, ‘Dis tyd vir ’n “NOP van die siel”’, Okt. 15, besigtig op 1 Oktober 2021, van https://blogs.sun.ac.za/rector/af/tag/ndp.

Budhoo, N., 2007, ‘The moral regeneration movement’, Jul, besigtig op 1 Oktober 2021, van https://gdt.org.za/word/the-moral-regeneration-movement/.

Burger, C., 2003, ‘So kan die kerk ’n verskil maak. Lyk die bulte te steil vir die kerk?’ Rapport 26, Febr. 2.

Buys, R., 2001, ‘Jonges vra ander gesig agter VAM’, Die Kerkbode 8, Febr. 16.

Claassen, G.A., 2017, ‘NG Kerk maak erns met ekonomiese ongelykheid’, Kerkbode 5, Okt. 20.

Dames, G.E., 2009, ‘The ethical leadership project. Its role as a key contributor for a morally transformed society’, Ned Geref Teologiese Tydskrif 50(1&2), 36–47.

Dolamo, R.T.H., 2001, ‘Reconciliation and economic justice in South Africa: The role of the church and theology’, Verbum et Ecclesia 22(2), 292–299. https://doi.org/10.4102/ve.v22i2.646

Dreyer, D., 2001, ‘Is daar hoop vir die Jaar van Hoop?’, Die Kerkbode 12, Mrt. 2.

Du Toit, F., Hofmeyr, J., Strauss, P. & Van der Merwe, J., 2002, Moeisame pad na vernuwing. Die NG Kerk se pad van isolasie en die soeke na ’n nuwe relevansie, Barnabas, Bloemfontein.

Forster, D.A., 2015, ‘What hope is there for South Africa? A public theological reflection on the role of the church as a bearer of hope for the future’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 71(1), Art. 2814, 1–13. https://doi.org/10.4102/hts.v71i3.2814

Handelinge van die tiende Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Pretoria, 11–17 Oktober 1998, pp. 305–527.

Handelinge van die elfde Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Pretoria, 13–19 Oktober 2002, pp. 447–636.

Handelinge van die twaalfde Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Hartenbos, 10–15 Oktober 2004, pp. 271–452.

Handelinge van die veertiende Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Boksburg, 10–14 Oktober 2011, pp. 1–190.

Handelinge van die sestiende Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Pretoria, 4–9 Oktober 2015, pp. 1–213.

Hanekom, B., 2011, ‘As ’n kerk hoop verloor’, Kerkbode 8, Aug. 5.

Helena, J.M., 2016, ‘Worcester steek tekens van hoop aan’, Kerkbode 13, Sept. 23.

Heyns, J.A., 1986, Teologiese etiek. Deel 2/1, NG Kerkboekhandel, Pretoria.

Hofmeyr, J.W., 2020, ‘Enkele slotakkoorde oor die toekoms van die Afrikaanse gereformeerde kerke in Suid-Afrika, ook ná Covid-19’, Stellenbosch Theological Journal 6(3), 389–430. https://doi.org/10.17570/stj.2020.v6n3.a9

Jackson, N., 2016, ‘’n Kruiwa vol hoop’, Kerkbode 10–11, Jul. 16.

Jackson, N., 2017, ‘Ekonomiese geregtigheid is die groot uitdaging’, Kerkbode 5, Sept. 22.

Jackson, N., 2018, ‘Op soek na versoening’, Kerkbode 1, Jun. 15.

Jansen van Rensburg, N., 2020, ‘Toekomsdrome’, Kerkbode 7, Jun. 12.

Katts, D.J., 2009, ‘Die rol van ’n etiek van verantwoordelikheid en morele vorming in die bou van ‘n menswaardige samelewing’, Ned Geref Teologiese Tydskrif 50(3&4), 397–408.

Kerkbode se redaksie, 2021, ‘Nuwe eenheidsmodel om kerkskeuring te vermy’, Kerkbode 3, Okt. 8.

Kritzinger, A., 2013, ‘Hoop oorbrug afstand’, Kerkbode 3, Nov. 1.

Kritzinger, D., 2002, ’n Jaar van Hoop … en nou?’, Getuies. Kwartaalblad van Algemene Sendingkommissie van die NG Kerk 1, Feb. 1.

Meiring, P.G.J., 2001, ‘Die hoop beskaam nie: Die NG Kerk se rol ten opsigte van versoening, armoede en morele herstel’, Verbum et Ecclesia 22(1), 102–114. https://doi.org/10.4102/ve.v22i1.626

Meissenheimer, H., 2021, ‘MES se verhaal van hoop en genade’, Kerkbode 4, June 18.

Naudé, S., 2018, ‘’n Kerk van radikale liefde en hoop’, Kerkbode 9, Apr. 20.

Notule van die VAM-vergadering, 12 September 2001, pp. 1–10.

Notule van die vyftiende Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Port Elizabeth, 6–10 Oktober 2013, pp. 1–69.

Potgieter, P., 2001, ‘Sal ons kan sê 2001 hét toe hoop gebring?’ Die Kerkbode 11, Febr. 2.

Pretorius, W.A., 2001, ‘Gesinne is sleutel tot kerk se hoop’, Die Kerkbode 8, Mrt. 16.

Saaiman, G.M., 2020, ‘Hope incarnate: A systematic theological investigation in conversation with Jürgen Moltmann and Russel Botman’, Dissertation – M.Th, Stellenbosch University.

Suid-Afrika, 2018, ‘Geregtelike Kommissie van Ondersoek ten einde ondersoek na bewerings van staatskaping, korrupsie en bedrog in die openbare sektor met inbegrip van staatsorgane, in te stel (Proklamasie no. 3, 2018)’, Staatskoerant 41403, 1–16, besigtig op 7 September 2021, van https://archive.opengazettes.org.za/archive/ZA/2018/government-gazette-ZA-vol-631-no-41403-dated-2018-01-25.pdf.

Van der Merwe, J.M., 2020, ‘Armoede: ’n Uitdaging aan die Afrikaanse gereformeerde kerke (1994–2019)’, Stellenbosch Theological Journal 6(3), 301–324. https://doi.org/10.17570/stj.2020.v6n3.a10

Van der Riet, L., 2021, ‘Van ’n “wit kerk” na ’n kerk met ’n “menslike gelaat”’, Kerkbode Jul. 23, besigtig op 12 September 2021, van https://kerkbode.christians.co.za/2021/07/23/Van-’n-wit-kerk-na-n-kerk-met-n-menslike-gelaat/.

Verklaring van die moderamen van die NG Kerk oor gelowiges se roeping in Suid-Afrika, Maart 2018, Pretoria.

Verslag van die ASK Reëlingskomitee: Christenfees 2001 aan die VAM-kommissie, 30 September 2000, pp. 1–6.

Vorster, J.M., 2009, ‘Versoening “in Christus” en sosio-politieke versoening’, Ned Geref Teologiese Tydskrif 50(3&4), 552–565.

Voetnotas

1. Meiring (2001:109) verduidelik dat ’n aantal teoloë in die jare na die Tweede Wêreldoorlog ’n dinamiese koninkryksteologie ontwikkel het wat ’n geweldige invloed op die kerklike lewe uitgeoefen het en waardeur lidmate weer moed geskep het. Die name van Hendrik Kraemer, JC Hoekendyk en AA van Ruler in Nederland; Karl Hartenstein, Walter Freytag, Hans Jochen Margull, Oscar Cullmann en Jürgen Moltmann in Duitsland en Switserland, en Max Warren in Engeland word genoem. Missionêre arbeid het gebloei, asook die sendingaksie van kerke. Die Apostolaat-teologie oor die uitgaan van die evangelie in die wêreld, wat die Teologie van Hoop sterk beïnvloed het, het ook in Suid-Afrika tuisgekom by missioloë soos David Bosch, Jaap Durand en later Adrio König as sistematiese teoloog. Die herlewing in die NG Kerk se sendingbelangstelling gedurende die vyftiger- en sestiger jare is beslis deur die Apostolaat-teologie gevoed.

2. Die Morele Vernuwingsbeweging (MVB) was ’n inisiatief van die voormalige president, Thabo Mbeki, wat aan die destydse adjunkpresident, Jacob Zuma, toevertrou is. Die MVB het op die morele weefsel van die samelewing gekonsentreer. Sedert 2000 het die inisiatief momentum gekry by wyse van werkswinkels met politieke en godsdienstige leiers, die organisering van werkskomitees waarby alle regeringsdepartemente betrek is, bewusmaking deur die media, asook konferensies met religieuse gemeenskappe. Die geloofwaardigheid van die beweging is egter ondermyn en dit het teen 2009 stilweg van die radarskerm verdwyn (Botman 2013; Budhoo 2007).



Crossref Citations

No related citations found.