About the Author(s)


Johann Beukes Email symbol
Department of Philosophy, Faculty Humanities, University of the Free State, Bloemfontein, South Africa

Citation


Beukes, J., 2020, ‘Intervroulike seksualiteit in die latere Middeleeue: ʼn Ideëhistoriese oorsig’, Verbum et Ecclesia 41(1), a2074. https://doi.org/10.4102/ve.v41i1.2074

Original Research

Intervroulike seksualiteit in die latere Middeleeue: ʼn Ideëhistoriese oorsig

Johann Beukes

Received: 22 Nov. 2019; Accepted: 20 Feb. 2020; Published: 25 June 2020

Copyright: © 2020. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstract

Female same-sex relations in the later Middle Ages: An idea-historical survey. This article presents an idea-historical survey of attitudes towards women who were involved in same-sex relations from the middle of the 11th century to the middle of the 15th century, how these attitudes manifested themselves in later Medieval societies and what the reflections about these women involved at the time. Taking as its premise the inclusion of ‘female sodomy’ in an extensive 11th-century (per Damian’s Liber gomorrhianus, 1049) articulation of ‘sodomy’ as every possible form of ‘irrational fornication’, and employing Foucault’s critique of modern, heteronormative scientia sexualis, themes presented in the article include the 11th-century construction of gender-inclusive ‘sodomy’ and the postulation of ‘the female sodomite’, the distinction between simple and complex taboos, transgressing and transcending modes of resistance to complex taboos, four significant developments during the 12th century (the subtle heterosexual distinction between male and female homosexuality, the critique of marriage as an institution, female same-sex relations as an agency for social change and a platform for the initial economical emancipation of women), the rise of the libertine beguine orders in the first decades of the 13th century, and ‘uniformity’, ‘homogenity’, as well as the rise of ‘minorities’ (including the ‘sexual minority’) within the characteristic cultural intolerance of the 14th and early-15th centuries. The historical development of ideas regarding female same-sex relations in the later Middle Ages must in the end be indicated as part of a regressive Medieval prelude to modern scientia sexualis.

Intradisciplinary and/or interdisciplinary implications: This idea-historical survey of female same-sex relations in the later Middle Ages impacts numerous disciplines and sub-disciplines, inter alia Medieval Philosophy, Continental Philosophy, History of Ideas, Medieval History, Church History, Sociology, Dogmatics, Practical Theology and Philosophy of Religion.

Keywords: female sodomy; Michel Foucault (1926–1984); history of sexuality; homosexuality in the Middle Ages; libertine beguine sexuality; Medieval female same-sex relations; pre-modern lesbian; transgressing and transcending resistance to taboos.

‘Monstrum feminei bimembre sexus,
quam coacta virum facit libido,
quae gaudes futui furente cunno,
cur te ceperit impotens voluptas?
Non das, quod pateris, facisque cunnum.
Illam, qua mulier probaris esse,
partem cum dederis, puella tunc sis’.1
- Codex Parisiensis 10318, I, 317, 221, 7de eeu -

Scientia sexualis

Natuurlik was daar geen ‘vroulike homoseksuele’, ‘lesbiërs’ of ‘gay vroue’ in die Middeleeue nie. Daar was wel vroue wat die geselskap van ander vroue in sommige sfere van sowel die private as die openbare lewe verkies het: begrippe soos homoseksueel, lesbies en selfs ʼn onpejoratiewe eietydse begrip soos gay is, teen die agtergrond van Michel Foucault (1926–1984) se oortuigende seksualiteitsontleding reeds meer as vyf dekades gelede, bloot (en steeds) diagnostiese instrumente om die gewaande kohesie van die moderne seksualiteitsdiskoers te ondersteun. Volgens hierdie seksualiteitsdiskoers is daar ʼn ‘soort vrou’, naamlik juis daardie ‘soort vrou’ wat in sommige opsigte voorkeur verleen aan verhoudings met ander vroue, wie se individualiteit en partikulariteit gereduseer kan word tot net daardie voorkeur, om daarmee tot ʼn ‘tipe’ (Traub 2011:25), ʼn ‘spesie’ (Foucault 1978:43) en selfs ʼn ‘pasiënt’ (Beukes 2002:284; 2019d:2), op grond van die arbitrêre dinamika van hierdie reduserende proses, verklaar te word. Hierdie artikel2 ondersoek teen die agtergrond van daardie ‘spesiemerker’ die wyses waarop oor intervroulike seksualiteit3 in die latere Middeleeue4 nagedink is, lank voor die moderne ‘uitvinding’ van dít wat Foucault deur middel van die begrip scientia sexualis teenspraakvry gedemonstreer het.5

Foucault het naamlik in die drie volumes van sy The history of sexuality (1978, 1985, 1986, met ʼn ‘vierde volume’, Histoire de la sexualité 4: Les aveux de la chair [Gros {red.} 2018] tans onder bespreking in die Foucault-navorsing as óf ʼn addendum tot die bestaande drie volumes óf inderdaad ʼn ‘vierde volume’ [Beukes 2020f:1.2]), daarop aanspraak gemaak dat die algemene opvatting dat die Westerse samelewing sedert die 17de eeu ʼn repressie van seksualiteit beleef het, misplaas en selfs foutief is. Hierdie opvatting, tot so onlangs as in die 1960’s, het van die vertrekpunt uitgegaan dat seksualiteit sedert die 17de eeu onderdruk is en dat enige sistematiese diskoers oor seks voor die 17de eeu in elk geval nie bestaan het nie. Daarom, na hierdie opvatting, is dit nie moontlik om enige iets koherent en betekenisvol oor seksualiteit in veral die periode vanaf die 17de tot die 20ste eeue te postuleer nie, totdat ‘seksualiteit’ uiteindelik tot ‘diskoers’ bevry is gedurende die kultuurrevolusie van die 1960’s. Foucault argumenteer dat hierdie modernistiese beskouing van historiese seksualiteit heeltemal van die merk af is: die Westerse samelewing het volgens hom reeds vanaf die 11de eeu sistematies dog inderdaad repressief op seks gefikseer. Die sosiale konvensies vanuit daardie Middeleeuse periode, wat seksuele kontak streng gereguleer het, het inderwaarheid ʼn progressiewe openbaarmaking of ‘diskoers’ geproduseer, wat daartoe gelei het dat hierdie diskoers – eers in die 19de eeu ‘seksualiteit’ genoem – sedertdien ʼn sosiale alomteenwoordigheid geword het.

Die begrip seksualiteit is uiteraard self ʼn gevolg van die 19de-eeuse diskoers ‘seksualiteit’ en dit is die rede waarom ‘seksualiteit’ volgens Foucault (1978:16) ʼn betreklik ‘onlangse uitvinding’ is. Die streng regulering van (en effektief die verbod op enige buitehuwelikse) seks in die Middeleeue was, afgesien dat daarmee ʼn selfperpetuerende diskoers tot stand gebring is wat andersins nooit ʼn selfstandige diskoers sou word nie, ironies uitermate produktief: seksuele identiteite is daardeur geskep en ʼn meervoudigheid van seksualiteite is bevorder – ongetwyfeld ook die seksualiteite van byvoorbeeld ‘nie-outentieke homoseksuele’ (ʼn kenmerkende scientia sexualis-begrip), wat in hulle begeerte na menslik intieme aanraking homoërotiese ervarings opgesoek het (wat hulle andersins moontlik nie spontaan sou opgesoek het nie). Dit is presies wat dikwels in die kloosters en, binne die konteks van die selibaat, in konfessionele ruimtes gedurende die 11de eeu gebeur het (vergelyk Goodich 1979:12). Met forensiese presisie speur Foucault die openbare ruimte waarin ‘seksualiteit’ ‘diskoers’ sou word terug na hierdie kerklike praktyk wat reeds in die 11de eeu gestandaardiseerd en verpligtend vir alle kerklike subjekte was, naamlik die bieg: eenmaal in die ope gebring, selfs in die veronderstelde begrensde en hipervertroulike sfeer van die bieghokkie, sou seksuele voorkeure en oriëntasies nooit weer privaat kon wees nie. In hierdie sin is daar volgens Foucault histories (post-Romeins) wesenlik net twee Westerse perspektiewe op seksualiteit aan te merk: die eerste, ars erotica, verskuif die blik geografies vanaf Wes na Oos, na China, Japan, Indië, en histories na Athene en Rome, waar ars erotica geassosieer is met ʼn geheimenisvolle, privatistiese en erotiese kuns, opgeneem in eksessiewe ervarings wat nie op skande of skuld gedui het nie en dus geen verbod behoef het nie, mits dit in radikale privaatheid beoefen is (met die premisse dat enige vorm van publiekstelling die veronderstelde plesier wat in hierdie verskuilde erotiese ondernemings opgesluit is, sou vernietig).

Die ander Westerse perspektief na Foucault se ontleding dui op seksualiteit as die algaande verwetenskapliking van seksualiteit, ʼn ‘kennis van seksualiteit’ of scientia sexualis, waarvan die oorsprong inderdaad die konfessionele praktyk van die Middeleeuse Latynse Weste in die 11de eeu was: presies die teenoorgestelde van ars erotica, is dit nie net die dinamika van die bieghandeling – om te praat oor seks, om ondervra te word oor seks nie – maar die voortgaande behoefte in die samelewing sélf om aanhoudend daaroor te bly praat, aangesien die ‘waarheid aangaande seks’ nou immers reeds in die ope gebring is (die stomme banaliteit van 20ste-eeuse ‘pornografie’, hoe arbitrêr gedefinieer ook al, is volgens Foucault die helderste eietydse manifestering van hierdie voortgaande scientia sexualis ‘ondervraging’). Met scientia sexualis is ʼn ‘waarheid’ dus oopgedek wat toenemend op wetenskaplike status aanspraak sou maak, vergesel van ʼn kwasi-wetenskaplike jargon bestaande uit begrippe (gebaseer op die Latynse vernakulêr;6 Beukes 2019d:9) wat sowel mediese beroepslui as leke kon verstaan en in die openbaar sonder vrees vir morele teregwysing gebruik kon word, onder meer vagina, penis, vulva, klitoris, anus, orgasme, ejakulasie, genitalieë, heteroseksueel, homoseksueel, masturbasie, geadopteerde homoseksualiteit, nie-outentieke homoseksualiteit, outentieke homoseksualiteit, en so meer – begrippe, by nadruk, wat dit vanaf die laat-19de eeu moontlik gemaak het om vryelik in die openbaar oor seks te praat, sonder enige vrees vir sensuur: dit is presies wat scientia sexualis wou aanbied.

Teen hierdie agtergrond van die toenemende openbaarma-king van dít wat wesenlik privaat veronderstel is om te wees, is die vraag: hoe is oor vroue nagedink wat geen behae in mans en manlike geselskap gehad het nie, spesifiek ten opsigte van hulle seksuele voorkeure en met geen begeerte om kinders die wêreld binne te bring nie – wat deur geheel die Middeleeue beskou is as die wesenlikste funksie van ‘alle vroulike dinge’? Hoe is hierdie vroue hanteer in die manlikgedomineerde en dikwels misoginistiese kontekste vanaf die 11de tot die 15de eeue? Wat het van ʼn vrou geword wat duidelik ʼn vrou of vroue as haar mees intieme medeganger of medegangers verkies het? Met ander woorde, wat het intervroulike seksualiteit in die latere Middeleeue in die ideëhistoriese sin van die woord behels?

ʼn Antwoord op hierdie inleidingsvrae sou in terme van die latere Middeleeue vertrek moes neem vanuit die periode waarin ‘sodomie’, ‘irrasionele fornikasie’ en ‘teen-natuurlike omgang’ (contra naturam) vir die eerste keer as ʼn maatskaplike probleem gemanifesteer het, in die kerk en kloosterwese in die besonder: dit is die periode vanaf die middel van die 11de eeu, ingelui deur die pouslike advies van ʼn polemies-hervormende monnik wat antwoorde gesoek het op vrae wat deur ʼn probleem, groter as selfs simonie (die omkoop van priesters en die koop van kerklike ampsposisies) in die kerk en algemene korrupsie in die Franse samelewing, opgeroep is. Hierdie probleem was naamlik die progressiewe disintegrasie van die seksuele moraal in die kerk en kloosterwese, duidelik waarneembaar vanaf die 1030’s.

Die 11de-eeuse ‘vroulike sodomiet’

Die hantering van selfdegeslag- seksuele aktiwiteite in die vroeë Middeleeue

Die hoë verdraagsaamheid ten opsigte van selfdegeslag-verhoudings in die antieke Egiptiese, Hellenistiese en Romeinse kulture is in die vroeë Christendom matig geproblematiseer in arbitrêre (nie-sistematiese) vermanings daaromtrent deur prominente kerkvadere, onder andere Tertullianus van Kartago, Clemens van Aleksandrië, Johannes Chrysostomus en Augustinus van Hippo (Brooten 1996:314–358). Die patristiese kritiek was hoofsaaklik geskoei op die (oënskynlike) Pauliniese afwysing in Romeine 1:18–32 en ʼn tiental Ou-Testamentiese tekste (Brooten 1996:195–303). Hierdie kritiese vermanings was egter, oorhoofs beskou, oneffektief (Beukes 2019d:3–4): selfdegeslag- seksuele kontak in die vroeë Middeleeue (dit is, die vyfde tot negende eeue) was ʼn onderbeklemtoonde, maar konstante ‘probleem’ wat die kerk met onder meer biskopstatute7 en herderlike skrywes diskreet probeer hanteer het (Beukes 2019d:7). Die veroordeling van ‘sodomitiese praktyke’ was dus nie ongewoon aan die ordinansies en ander regulerende literatuur van die Christelike kerk in die vroeë Middeleeue nie.

Die berugte straftekste (Paenitentiales, of libri poenitenti) wat in Ierland ontstaan het in die laaste helfte van die sesde eeu, verwys op ʼn hele aantal plekke na homoërotiese ‘oortredings’ en maak voorsiening vir ʼn wye reeks strafsanksies in hierdie verband (McNeill & Gamer 1938:2). Die meerderheid van hierdie straftekste vanaf die 6de tot die 10de eeue bevat minstens een kanon of hoofstuk rakende homoërotiese praktyke: die Decretum van Burchard (ca. 950–1025), biskop van Worms, verskaf byvoorbeeld ʼn oorsig van die kanons tot in die helfte van die 11de eeu, met ʼn verstommende sin vir detail rakende die aard van die tersaaklike verbintenismoontlikhede in die relevante kanons (Burchard 1898:435–436; vir intervroulike kontak, sien 433). Tog was die literatuur buiten hierdie kanons beperk tot die notules van die konsilies van Toledo (693), Parys (829) en Trosly (909). In die vroeë Middeleeue is daar wel uitdruklike strafsanksies vir homoërotiese verbintenisse gekodifiseer en dit is feitlik sonder uitsondering as een kategorie tesame met bestialiteit, bloedskande en pederastie8 aangedui, soos opgeneem in die versameling van Benedictus Levita.9 Wanneer hierdie strafskrifte en biskopstatute saamgelees word, is dit duidelik dat die kerk lank voor 1049 ʼn ononderbroke pastorale kommer oor ‘sodomie’, in besonder in die kerk en kloosters self, gehad het. Tog was ‘sodomie’ tot in daardie stadium nie as ʼn meer uitdagende probleem as onder meer simonie uitgesonder nie en nie as ʼn wesenlike morele probleem geag nie. Teen die helfte van die 11de eeu was dit egter duidelik dat die morele verval binne die kerklike praktyk en die kloosterlewe ʼn hoogtepunt bereik het, deur die hele kontinentale Europa in die algemeen en binne Frankryk in die besonder. Teen die 1040’s was dit duidelik dat die kerk voor drie wesenlike probleme te staan gekom het wat nie langer slegs met biskopstatute en strafskrifte hanteer sou kon word nie, naamlik simonie, die ondermyning van die selibaat, en sodomie. Die tyd het aangebreek vir die hervorming van die kloosterwese en die kerk in terme van ʼn hersiening van die seksuele moraal.

Die disintegrasie van die seksuele moraal in die kerk en kloosterwese van die 11de eeu

Deur Foucault se berugte stelling10 rakende die verskil tussen die ‘Middeleeuse sodomiet’ en die heteronormatiewe ‘19de-eeuse homoseksueel’ as basis te gebruik, is onlangs geargumenteer (Beukes 2019d) dat die diskursiewe bron van hierdie hervorming die kloosterkritiek van die 11de-eeuse monnik Petrus Damianus (1007–1072) was, met verwysing na sy obskure dog gevolgryke teks, Liber gomorrhianus (Diamanus 1982; in 1049 aan pous Leo IX oorhandig as adviesstuk met die oog op besluitneming by die konsilie van Reims later daardie jaar). In hierdie onlangse herwaardering van Damianus se teks, die eerste sodanige herlesing sedert die vroeë 1980’s, word aangedui dat die ‘Middeleeuse sodomiet’ ver verwyderd was van ʼn elementêre voorloper tot die moderne scientia sexualis-homoseksueel, maar deur Damianus aangebied as ʼn komplekse, geslagsonbepaalde, permissiewe persoon binne die konteks van die verval van die seksuele moraal binne die kloosters, die kerk en die groter Franse landskap, in die vroeg- tot middel-11de eeu. Damianus se omvangryke argument en pleidooi vir die summiere ontheffing van lapsi (‘gevalle priesters’) uit die amp en die skorsing van permissiewe monnike (en nonne) uit hulle ordes, met spesifieke verwysing na sy toepassing van die begrippe teen-natuurlik en irrasionele fornikasie11 word verduidelik as agtergrond vir Leo IX se pastorale antwoord aan Damianus (Ad splendidum nitentis). Hierdie vermanende antwoord sluit wel die sanksionering van Damianus se insluitende herverwerking van die komplekse begrip sodomie in, wat met die pous se aanvaarding daarvan die konseptuele bron geword het vir die konsilie van Reims en opvolgende Middeleeuse konsilies wat met die ‘probleem van sodomie’ in die kerk en kloosterwese in die reine moes kom (Beukes 2019d:8–12; sien Neill 2009:358).

Teen die helfte van die 11de eeu het ʼn diversiteit van seksuele relasies en oriëntasies ontwikkel, wat almal as skandalig geag is (consuetudo turpis) en op die een of ander wyse onder die sambreelbegrip sodomie tuisgebring moes word, wat aanleiding gegee het tot Damianus se geslagsinsluitende en soepel ontwikkeling van die begrip. Damianus is gekonfronteer met die werklikheid dat ‘irrasionele fornikasie’ nie alleen plaasgevind het tussen priesters en priesters, monnike en monnike, en monnike en priesters nie, maar ook tussen priesters en nonne, monnike en nonne, nonne en nonne, priesters en sowel manlike as vroulike leke (veral tydens die afneem van die bieg), monnike en sowel manlike as vroulike leke, en nonne en sowel manlike as vroulike leke. Die begrip sodomie moes uitgebrei word om al hierdie moontlike vergestaltings van irrasionele fornikasie te ondervang (Benkov 2001:101).12 Die begrip sodomie het nie langer, teen Damianus se eie aanvanklike verstaan en aanbod daarvan, duidelik en stabiel na manlike ‘homoseksuele praktyke’ verwys nie, alhoewel alle homoërotiese ervarings en verbintenisse per definisie steeds deel uitgemaak het van die inhoud van die begrip: met ander woorde, alle ‘homoseksuele’ was sodomiete, maar nie alle sodomiete was ‘homoseksueel’ nie; alle homoërotiese handelinge is as ‘sodomie’ geag, maar nie alle vorme van ‘sodomie’ was noodwendig homoëroties nie. Heeltemal anders as die elementêre betekenis van ‘sodomie’ in byvoorbeeld Genesis 19 (peniel-anale seks tussen mans13), het die begrip nou ook vroulike14 subjekte ingesluit (vergelyk Neill 2009:352–353).

Priesters het vanaf die laat-10de eeu diskrete seksuele kontak opgesoek (en vanaf die middel van die 11de eeu, toenemend openlik): verder het die interesse in nie-vaginale seksuele kontak in hierdie tyd verhoog, juis binne heteroseksuele kontekste, met die oogmerk om ongewenste swangerskappe te vermy. Trouens, heteroseksuele anale seks het algemeen voorgekom (Jordan 1997:111–113; Mills 2015:40–63). Natuurlik was seksuele kontak tussen priesters en nonne, en monnike en nonne, nie alledaags nie, maar dit het wel wyd voorgekom en kan nie as sporadies of uitsonderlik beskryf word nie. Hierdie kontak was oorwegend oraal, femoraal (nie-penetrerend vaginaal) en anaal, met, afgesien van die minimalisering van swangerskappe, die bykomende oorweging om nonne se maagdelikheid ongeskonde te hou (met inbegrip daarvan dat ongeskonde maagdelikheid ʼn voorwaarde was vir toetrede tot enige noemenswaardige orde en klooster; Jankowski 2001:81; Jordan 1997:112). Sodomie, in terme van die aanvanklike peniel-anale verwysingsbetekenis, was dus glad nie langer beperk tot manlike homoërotiese ontmoetings nie (Foucault 1978:38, 43). Damianus se gebruik van die begrippe sodomie en sodomiet kon nie langer gebruik word om slegs na seksuele kontak uitsluitlik tussen mans te verwys nie en hy het dit besef: daar was immers op die basis van ‘irrasionele fornikasie’ en in terme van ‘morele skuld’ geen verskil tussen (om die scientia sexualis-verwysings te gebruik) ‘homo’ en ‘hetero’ peniel-anale fornikasie nie. Wat altyd gegeld het vir uitsluitlik mans, het nou ook gegeld vir vroue.

Die begrip ‘lesbiër’ in laat-Middeleeuse konteks

Daarby moet in gedagte gehou word dat die begrippe lesbies, lesbiër en lesbianisme uiteraard nie in die 11de eeu gefigureer het nie: antiek-geïnformeerd soos wat hierdie begrippe mag voorkom, is dit, soos die begrip homoseksueel, moderne, heteronormatiewe en uitdruklik 19de-eeuse verwysings, wat die ‘Middeleeuse vroulike sodomiet’ inderdaad as ʼn ‘spesie’ spesifiseer. Waar die begrip lesbies eietyds of vanuit moderne perspektief terugskouend gebruik word, juis omdat die ‘voormoderne lesbiër’ effektief uit die argiewe ‘weggevee’ is, behoort die bedoeling provokatief te wees (Giffney et al. 2011:2–3), met die toegewing dat die begrip sporadies en eklekties reeds vanaf die tweede eeu gebruik is (Laskaya 2011:36).15 Selfs die retrospektiewe ontoepaslikheid van die gebruik van die begrip lesbiër blyk egter uit die onlangse ondersoek van Yalom (2015:27–82) na die aard, omvang en intensiteit van intieme kontak tussen nonne (aangebied met ʼn sonderlinge vertaling uit Latyn van die korrespondensie tussen prominente nonne soos Hildegard von Bingen en haar geliefde Richardis [Beukes 2019a:7; sien Schibanoff 2001:49–83], en die begyn Marguerite Porete se libertyns-erotiese korrespondensie met ander begyne [Beukes 2020c:6]).

Yalom se aanduiding van die verrassend hoë frekwensie van vroulike homoërotiese kontak tussen nonne in geïnstitusionaliseerde kloosters en tussen begyne in die vrysinnige bedelordes, dui daarop dat dit wydgaande genoeg was dat Damianus reeds ʼn eeu vantevore nie naïef daaroor kon gewees het nie (vergelyk Benkov 2001:103). Terwyl Yalom op diskursiewe gronde afstand neem van begrippe soos seksueel, homoseksueel en selfs homoëroties en slegs die neutrale verwyser ‘vriendskap tussen vroue’ gebruik, blyk die (ook) seksuele aard van die intieme kontak tussen hierdie vroue duidelik. In aansluiting verken die betreklik onlangse werk van Weston (2011) die dikwels homoërotiese aard van hierdie vriendskappe tussen vroue reeds vanaf die sewende eeu, met insluiting van ʼn diepgaande ondersoek na die opvatting van die ‘non as maagd’ (sien ook Jankowski 2001:82). Homoërotiese kontak tussen nonne, wat ook al die aard daarvan, is pertinent verstaan as sou dit nié lei tot die verlies aan maagdelikheid nie – hoewel die opvatting van ‘maagdelikheid’ reeds vanaf die 11de eeu toenemend geproblematiseer sou word binne kloosterkontekste (aangesien dit juis priesters en monnike was wat met weinig uitsondering vir die deflorering van nonne verantwoordelik was, met die toegewing dat seksuele kontak tussen nonne en manlike leke wel sporadies voorgekom het [Jankowski 2001:81–82]). Dat daar ʼn unieke ekonomie van plesier tussen sommige vroulike kloosterlinge met die aanvang van die latere Middeleeue in die 11de eeu vaardig was, moet egter as ʼn gegewe aanvaar word.

Vroulike sodomie en die opstel van ʼn komplekse taboe

Die posisie rakende intervroulike seksualiteit rondom die tweede helfte van die 11de eeu was dus betreklik eenvoudig: daar is met die geslagsinsluitende toepassing van die begrip sodomie geen verdere onderskeid tussen mans en vroue in selfdegeslagverhoudings getref nie. Teen 1050 het die begrip sodomie dus ook ʼn wye verskeidenheid seksuele verbintenismoontlikhede aangedui, met die uitdruklike insluiting van vroulike homoërotiese kontak en heteroseksuele femorale en anale kontak. Manlike en vroulike selfdegeslagverhoudings is vanaf die middel van die 11de eeu oor dieselfde kam geskeer: beide is beskou as ‘irrasioneel’ en ‘teen-natuurlik’, omdat beide skuldig geag is aan dieselfde basiese transgressie, naamlik seksuele kontak ter wille van ʼn veelheid van ander dinge, maar uitdruklik nié voortplanting nie. Die komplekse of veeltermige taboe ten opsigte van selfdegeslag- seksuele kontak is op hierdie wyse elementêr en ondubbelsinnig opgestel. Die vraag is hoe hierdie taboe deur vroue in selfdegeslagverhoudings hanteer is in die opvolgende eeue.16

Die 12de-eeuse pogings tot transendering van sodomie as komplekse taboe

Dit is presies die elementêre verwoording van die komplekse taboe ‘sodomie’ wat daartoe aanleiding gegee het dat dit nié met aanduibare erns gedurende die 12de en 13de eeue eerbiedig is nie en trouens subtiel ondermyn is. Taboes het die gewenste inhiberende effek juis wanneer dit nog onverwoord en onomlynd is: wanneer selfs komplekse taboes17 (waaronder intervroulike seksualiteit in die laat-11de eeu ongetwyfeld getel het) eers eenmaal duidelik verwoord is soos in Liber gomorrhianus, is dit veel makliker om te ondermyn as wat die geval voor die artikulasie van die taboe was. Dit is presies wat in die ideëhistoriese ontwikkeling vanaf die 11de tot die 12de eeue gebeur het: eenmaal geartikuleer en met harde lyne (in stede van stippellyne) gekarteer, kon die taboe subtiel teengegaan word. Betekenisvolle ontwikkelinge in die 12de en 13de eeue dui aan hoe die 11de-eeuse taboe ten aansien van sodomie inderdaad versag is: nou in harde lyne opgestel, het die kloosters en die latere bedelordes die oop senuweepunte van sodomie as taboe diskreet uitgedaag. Taboes, simpleks (bestaande uit ʼn enkele term, byvoorbeeld ‘anale seks’) of kompleks (bestaande uit meervoudige terme, byvoorbeeld ‘heteroseksuele anale seks’), kan na die skrywer se ontleding elders aangedui word as óf transgressief óf transenderend. Die transgressiewe verset deurkruis die taboe openlik en onmiddellik, sonder oorweging van individuele of maatskaplike gevolge. Dit is ʼn eiegeregtige keuse wat die taboe se sensuurvermoë op die langtermyn eerder verhoog as ondermyn. Die transenderende verset, daarteenoor, oorweeg sowel tempo as diskresie in die teengaan van die taboe: dit hou dus rekening met sowel ʼn sistematiese, langsame ondermyning van die taboe, as ʼn diskrete en onderbeklemtoonde oorstyging daarvan. Soos opvolgend aangedui word, is gepoog om sodomie as ʼn komplekse taboe in die 12de en 13de eeue transenderend teen te gaan.

Die subtiele heteroseksuele onderskeid tussen vroulike en manlike homoseksualiteit

Die laat-11de en 12de eeue dui ʼn periode van merkwaardige verdraagsaamheid in die Europese samelewing aan, waar eksperimentering aangemoedig is, nuwe idees met erns oorweeg is en die uitbreiding van die status quo voorkeur bo gelykblywendheid geniet het (Boswell 1980:269). Hierdie oop kulturele ingesteldheid het ook ʼn invloed op ʼn meer ontvanklike verstaan van intervroulike seksualiteit uitgeoefen as wat in die voorafgaande eeue die geval was. Na die konsilie van Reims (1049) se aanvaarding van die wesenlike inhoude van Liber gomorrhianus op grond van Leo IX se voorwaardelike sanksionering van die begrip sodomie, het die fokus vanaf sodomie vir die volgende vyf dekades verskuif na die twee ander dominante probleme in Frankryk, naamlik simonie in die kerk en algemene korrupsie in die samelewing. Die taboe rondom selfdegeslag- seksuele kontak was immers nou duidelik omlyn. Vier betekenisvolle oorwegings tree egter in die eerste dekades van die 12de eeu in hierdie verband na vore.

Hoewel die taboe natuurlik steeds vir beide intermanlike en intervroulike seksualiteit gegeld het en daar vanaf 1050 formeel geen onderskeid tussen die twee getref is nie, is met groter vrymoedigheid oor intervroulike seksualiteit gepraat (hoewel die frekwensie van seksuele ontmoetings tussen mans ongetwyfeld hoër was, is dit as ‘die stil sonde’ [peccatum mutum] oorwegend verswyg). Intervroulike seksualiteit as ʼn vorm van sodomie was inderdaad steeds taboe, maar is toenemend eerder as ‘aweregs’ beskou as wat dit as ‘sonde’ getipeer is (Klosowska 2011:107). Die nogal banale rede daarvoor was dat die heteroseksuele perspektief op intervroulike seksualiteit deur sowel heteroseksuele mans as heteroseksuele vroue as ‘seksueel prikkelend’ beskou is (Watt 1998:268). Die perspektief op intervroulike seksualiteit was dus gedemp en minder veroordelend as wat die geval met mans was: ʼn man se manlikheid is beskou sou dit deur intermanlike seks gekompromitteer word (veral ten opsigte van passiwiteit tydens penetrasie) en dat ʼn man binne so ʼn konteks iets sou ‘prysgee’ of ‘verloor’, terwyl vroue binne intervroulike kontekste geag is niks gehad het om te ‘verloor’ nie (soos vermeld, ongeag byvoorbeeld objek-penetrasie, is vroue se maagdelikheid uitdruklik geag nie gekompromitteer te wees deur intervroulike seks nie).

Die kritiek van huwelik as institusie

Met die sirkulasie van die drie belangwekkende tekste van die 12de-eeuse Franse non Héloïse d’Argenteuil (ca. 1100–1164, voormalige minnares en teensinnige eggenote van Petrus Abelardus, 1079–1142), Epistolae duorum amantium, Epistolae Heloissae en Problemata Heloissae, word ʼn sistematiese kritiek van die huwelik as institusie vanaf die 1130’s vir die eerste keer in die Middeleeue deur ʼn vrou opgestel, oorwegend vir ʼn vroulike adres (Beukes 2019c:5–11). Intimiteit tussen vroue word hiermee as ʼn politieke alternatief vir die patriargale huwelik aangebied, wat beteken dat kloosters nou as openbare ruimtes begin funksioneer vir vroue wat nie uitsluitlik op godsdienstige gronde tot die kloosters toegetree het nie, maar ook vir vroue wat uit beginsel nie wou trou nie of reeds van jongs af seksueel nie met mans wou assosieer nie (Traub 2011:25).

Hoe diskreet intervroulike seksuele kontak ook al in die kloosterwese was, het die kloosters – uiteraard sonder enige direkte opset daartoe – ʼn gewaarborgde en betreklik veilige ruimte vir vroue wat daardie vorm van intimiteit verkies het, gebied. Soos vermeld, die vroeg-Middeleeuse libri poenitenti het ruim voorsiening gemaak vir strafsanksies in terme van intervroulike seksuele kontak, wat daarop dui dat die kerklike owerhede diep bewus was van die omvang daarvan in vroeg-Middeleeuse kloosters en dat hierdie verbintenisse in die 11de eeu dramaties toegeneem het. Na die konsilie van Reims in 1049 is daardie strafsanksies ironies minder ferm toegepas (aangesien die taboe nou duidelik geformuleer was). Kloosters het in die 12de eeu, hoewel uitermate subtiel, dus begin funksioneer as veilige hawens vir vroue wat voorkeur aan selfdegeslagverhoudings verleen het.18

Vroulike homoërotiek as ʼn agent vir maatskaplike verandering

Derdens begin vroulike homoërotiek reeds in die 12de eeu as ʼn agent vir maatskaplike verandering funksioneer, veral deur middel van kloosterpoësie (Vicinus 2011:196; sien Yalom 2015:66). Deur die belangrikheid van ‘vriendskap tussen vroue’ voorop en juis bo die huwelik te stel, was hierdie vroulike digters nie per moderne aantekening ‘proto-feministe’ nie, maar eerder grondige eksponente van ʼn 12de-eeuse kritiek van die huwelik, wat ʼn vrou se hoogste lewensdoel in hierdie periode (om ‘toeganklike eggenote’ en ‘versorgende moeder’ te wees) doelbewus geproblematiseer het. Hierdie kloosterpoëtiese uitsette se diepste oogmerk was om maatskaplike verandering in terme van vroue se (ook sosiale) selfbegrip te bemoontlik: dit het sodoende moontlik geword vir vroue om hulle gestandaardiseerde rol in die 12de-eeuse samelewing te heroorweeg en ʼn alternatiewe lewensstyl juis binne die hiërargiese kerk en samelewingstrukture te bedink. Dit moet as ʼn betekenisvolle ontwikkeling geag word, aangesien die algemene persepsie (selfs nog eietyds) is dat die emansipasie van vroue hoogstens teruggaan na bepaalde ontwikkelinge in die Victoriaanse periode – en gewis nie na die hoë Middeleeue nie. Tog het intieme intervroulike kontak binne die kloosters reeds in die 12de eeu die grondslag daarvoor gelê.

Vroulike self-outonomie en ekonomiese emansipasie

Vierdens het die hegte verbintenisse tussen vroue binne kloosterverband tot ʼn betekenisvolle ekonomiese vooruitgang en merkwaardige materiële verselfstandiging van nonne in die 12de eeu gelei. Voor die laat 13de-eeuse pouslike bul Periculoso (1293) wat die ekonomiese selfstandigheid en institusioneel kritiese vermoëns van abdisse finaal ingeperk het, kon vroulike kloosters vanaf die vroeg-12de eeu bo die patriargale en inderdaad dikwels misoginistiese kontekste waarin hulle gebed was, begin uitstyg. In die vroeg-12de eeu word naamlik daarvoor voorsiening gemaak dat abdisse ʼn rang gelykstaande aan dié van ʼn (provinsiale) biskop kon verkry, wat in sekulêre terme gelyk was aan die status van ʼn barones. In Engeland het die abdisse van die kloosters te Shaftesbury, Wilton, Barking en Nunnaminster selfs ook regsprekende gesag verkry en was hulle gemagtig om verhore oor mindere kriminele oortredings binne hulle gemeenskappe selfstandig af te handel (Brede 1979:79). Magistrae het hiervolgens effektief magistrate geword.

Dit was egter in Duitsland waar die toenemende ekonomiese en institusionele selfstandigheid van vroulike kloosters die skerpste na vore getree het, in besonder deur die arbeid van Hildegard van Bingen (1098–1179) en, tot ʼn mindere mate, haar voorganger Hrotsvith van Gandershein (ca. 932–1002). Hildegard het haar tussen 1147 en 1152 in die berugte Duitse kloosterpolitiek begewe, deur aan te dring op die skeiding van die nonneklooster te Disibodenberg van die monnikeklooster aldaar (Beukes 2019a:70–72). Sy begin trouens nog voordat sy tot ʼn ooreenkoms met die monnike van Disibodenberg kon kom met die bou van ʼn eie klooster te Rupertsberg, naby Bingen (Brede 1979:80). Sonder enige materiële ondersteuning van die monnike te Disibodenberg vir hierdie nuutgestigte, dog eiesinnige dogterklooster, was die broodgebrek en uitdagende omstandighede in die Europese winters vir talle van die nonne wat Hildegard vanaf Disibodenberg vergesel het, te veel – en ʼn groot getal vertrouelinge het Hildegard alleen by Rupertsberg agtergelaat. Eers in 1158 het Hildegard ʼn ooreenkoms met die monnike te Disibodenberg bereik, op grond waarvan hulle die bruidskat aan die dogterklooster by Rupertsberg oorhandig het (Seibrich 1979:63). In 1163 slaag sy daarin om ʼn skriftelike beskermingsbrief van keiser Frederik Barbarossa (1122–1190) te beding, op grond waarvan die klooster te Rupertsberg van keiserlike beskerming verseker is. Die feit dat sy dit kon beding, terwyl by verre die meerderheid monnikekloosters nie daarin kon slaag nie – juis omdat die keiser lugtig was om hom in kloosterpolitiek te begewe – getuig van haar diplomasie en oorredingsvermoë (Seibrich 1979:65).

Met die klooster te Rupertsberg geborge, beweeg Hildegard dadelik oor om ʼn tweede klooster te Eibingen naby Rüdesheim in 1165 te stig. Die stigting van hierdie tweede klooster te Eibingen was nie vanweë ydele uitdagendheid teenoor die monnike te Disibodenberg, as sou sy die bruidskat vir die klooster te Rupertsberg daarmee wou vermors nie. Eerder getuig die stigting van die klooster te Eibingen van ʼn diep sosio-ekonomiese sensitiwiteit: die monnike en nonne wat tot in daardie stadium in die Benediktynse kloosters georden was, op hoë uitsondering na, van adellike afkoms – soos Hildegard self. In daardie stadium was elke non onder Hildegard se toesig, by verstek steeds by die nonneklooster in Disibodenberg waar sy steeds as magistra akademiese toesig gehou het, maar veral direk so in Rupertsberg waar sy abdis was, vanuit juis die adel aan die kloosters toevertrou. Hildegard wou egter uitdruklik nonne in haar kloosters opneem, wat – teen die letter en gees van die tersaaklike Benediktynse voorskrifte in – nié uit die adel afkomstig was nie. Dit was trouens vir haar ʼn saak van filosofiese belang: dat die dogters uit minder bevoorregte families die geleentheid gebied sou word tot akademiese en geestelike ontwikkeling by Rupertsberg en Eibingen (Brede 1979:86). Die lys van name van die eerste nonne te Eibingen, wat steeds in die navorsing beskikbaar is, dui op enkele uitsonderinge na op nonne van nie-aristokratiese afkoms (met ander woorde, sonder die ‘von’ tussen die noemnaam en van; sien Dronke 1984:169). Hildegard was tot haar afsterwe abdis van beide kloosters te Rupertsberg en Eibingen (Beukes 2019a:68–74).

Die non Richardis von Stade, met wie sy in ʼn intieme langtermyn-verhouding betrokke was (Schibanoff 2001:50–80) en wat teen Hildegard se wens uiteindelik ʼn aanwysing as abdis van die Bremenklooster aanvaar het (waar sy binne maande daarna oorlede is), was nie het haar minnares nie, maar ook haar eerste skriba (Yalom 2015:55–61). Hildegard het dit duidelik gemaak dat sy haar nie sou laat voorskryf deur mans nie en die drie kloosters nie deur mans sou laat bestuur nie – tot so ʼn mate dat die stigting van die klooster te Rupertsberg as ʼn vorm van vroulike self-outonomie en ʼn eerste voorbeeld van die Middeleeuse emansipasie van die vrou beskou kan word (Gösmann 1989:29). Haar inisiatiewe met betrekking tot die afskeiding van Disibodenberg en die stigting van twee nuwe kloosters te Rupertsberg en Eibingen dui op ʼn progressiewe tendens vanaf die tweede helfte van die 12de eeu: vroue sou voortaan self wou omsien na vroue se belange, in elke sfeer van die bestaan, vanaf die privaatseksuele tot die openbare ekonomie (Jankowski 2011:79).

Libertynse waardes en die 13de-eeuse begyne

In dieselfde tyd waarin die sogenaamde ‘mendikaanse’ (klooster-ongebonde) ordes as alternatief tot die geïnstitusionaliseerde ordes (soos die Benediktyne) gestig word, met besondere verwysing na die ontwikkeling van die Franciskaanse en die Dominikaanse ordes vanaf die 1220’s,19 tree sogenaamde ‘bedelordes’ vanaf die 1230’s as nog ʼn alternatief tot die geïnstitusionaliseerde ordes na vore, waar begyne soos Mechtild von Magdeburg (ca. 1207–ca. 1282, Beukes 2019b:1–3) en Marguerite Porete (1250–1310, Beukes 2020c) diep spore gelaat het. Die woord bedel is gelade in Afrikaans en skakel maklik met opvattinge wat boemelary en laksheid impliseer. Allermins is dit wat die bedelordes was. Die begyne was onafhanklike godsdienstige groeperinge in die latere Middeleeue wat hulleself streng geslagtelik en grotendeels in nabootsing van die lyngesag in gevestigde kloosterstrukture georganiseer het, maar sonder dat enige lid van die betrokke orde bindende geloftes moes aflê ten opsigte van ʼn lewe in selibaat of om gestroop te word van bestaande of toekomstige individuele eiendom (wat juis die bron van inkomste van die meerderheid van kerklik-gesanksioneerde ordes was; Eckenstein 2010:328–353). Begyne was vry om te kom en te gaan, maar moes lojaal teenoor die betrokke bedelorde bly. Hulle was dus ook vry om die bedelorde permanent te verlaat sonder enige strafsanksie, maar kon nie na die spesifieke bedelorde terugkeer wanneer dit eenmaal verlaat is nie (Lewis 1989:24). Tegnies het die bedelordes dus nie gebedel nie, maar was wel vir die daaglikse onderhoud afhanklik van die barmhartigheid van die betrokke gemeenskap waarin hulle hulle bevind het. In ruil het hulle in die gemeenskap versorgingswerk gedoen, wat ingesluit het die versorging van siekes, gebreklikes, bejaardes en weeskinders. Trouens, teen die helfte van die 13de eeu was die meerderheid verpleegsters in Duitsland en Frankryk begyne (Beukes 2019b:2).

Hierdie begyne was egter sosiaal blootgestel: juis omdat die bedelorde nie onder die toesig van die plaaslike klooster en provinsiale biskop gefunksioneer het nie, kon die begyne nie op dieselfde soort beskerming aanspraak maak wat geordende nonne en monnike binne die kloosters en abdye geniet het nie. Juis hulle vrygeestigheid het hulle ook oopgestel vir voortdurende aanklagte van kettery (veral ten opsigte van wat beskou is as ʼn antroposentriese teologie en ʼn humanistiese mensbeskouing), seksuele permissiwiteit (wat inderdaad plaasgevind het, maar oorwegend en steeds diskreet binne selfdegeslagkonteks20) en openbare bedelary (wat wel voorgekom het, maar slegs wanneer die plaaslike gemeenskap die betrokke begyne versaak het; McDonnell 1954:45). In 1311 is die beweging van bedelordes by die konsilie van Vienne onder leiding van pous Clemens V (pous vanaf 1305 tot 1314) finaal veroordeel (dieselfde konsilie het pouslike ondersteuning van die gevierde Ridders van die Tempelorde teruggetrek) en die bedelordes is daarna verban en ontbind (Bynum 1984:175). Dit was egter ruim drie dekades na Mechtild se afsterwe. Haar Franse tydgenoot Marguerite se veroordeling en dramatiese teregstelling in 1310 het binne hierdie institusionele verbanning van die bedelordes ongetwyfeld ʼn rol gespeel (Marin 2010:92; Scarborough 2017:315).

Die onafhanklike bedelordes, blootgestel soos wat hulle was, het libertynse begyne soos Mechtild en Marguerite se vrygeestigheid soos ʼn handskoen gepas. Daar bestaan weinig twyfel dat beide vroue, soos by verre die meerderheid begyne, in verskeie verhoudings met vroue binne hulle ordes betrokke was en dat dit een van die punte van fel kritiek teen die herlewing van die bedelordes in die laat-14de eeu sou word (onder meer die Nederlandse mistikus Jan van Ruusbroec se fel kritiek teen spesifiek Marguerite; Beukes 2020g:6).21 Die 13de-eeuse bedelordes het sonder twyfel ʼn alternatief gebied vir vroue wat nie net teologies en godsdienstig nie maar duidelik ook seksueel meer libertyns in oriëntasie was as wat die geïnstitusionaliseerde ordes bereid sou wees om te akkommodeer. Die bedelordes het in hierdie sin ʼn besondere bydrae gelewer om ʼn toeganklike ruimte te skep waar vroue wat dit gekies het, steeds diskreet maar met ʼn sin vir persoonlike vryheid tussen ander vroue kon bestaan, ook ten opsigte van hulle mees private en intieme voorkeure.

Hiënas figureer in die latere Middeleeue met hoë frekwensie as simbool vir vroue in selfdegeslagverhoudings (Figuur 1). Die Middeleeus-Latynse woord hyena is trouens as ʼn eufemistiese dog steeds kwetsende bynaam vir sodanige vroue gebruik, enersyds op grond van die spesie se matriargale sosiale ordening en andersyds op grond van wat as seksueel ‘afwykend’ en ‘ambivalent’ in die spesie waargeneem is (vergelyk Boswell 1980:203).

FIGUUR 1: Kantskets van twee hiënas in omhelsing vanuit ʼn 12de-eeuse manuskrip.

Uniformiteit, homogeniteit en die kulturele onverdraagsaamheid van die 14de en vroeg-15de eeue

Die chaotiese Wes-Europese landskap in die 14de eeu

Wes-Europa was in anargistiese omstandighede in die tweede helfte van die 14de eeu gedompel, omdat die (Renaissance-benoemde) ‘Middeleeue’ nou duidelik ʼn afloop begin toon het en ʼn ‘nuwe era van hergeboorte’ reikhalsend ingewag is (Huizinga 1924:85–94). Die laaste dekades van die 14de eeu sou selfs skerper as ‘revolusionêr’ (Mommaers 1981:17) gekenmerk kon word: politieke opstande was algemeen (ingelui deur die kleinboere-opstand in Vlaandere in die vroeë 1330’s) en die jong nasie-state, wat afstand begin neem het van die knellende historiese en outoritêre greep van die pousdom, was uiteindelik bevry tot die moontlikheid van onafhanklike identiteitskepping. Maar saam met die moontlikheid van vryheid kom ook die versoeking om die parameters van daardie moontlike vryheid te toets: oorloë tussen hierdie jong 14de-eeuse state was daarom algemeen en uitgerek, selfs tot so lank as ʼn eeu. Gildes en stadsrade het hulle teen die gesag van hertogdomme georganiseer en opgestel. Die Swart Pes het daarby in verskeie sarsies, met die hoogtepunt vanaf 1346 tot 1353, oor die kontinent geswiep en die lewens van soveel as 50 miljoen mense geëis. Die eens magtige heilige, algemene Christelike kerk is tot in haar fondamente geskud deur die Westerse Verdeling (ook die ‘Groot Schisme’ genoem) van 1378 tot 1417, wat die pousdom en die kerk self effektief geskeur het, met soveel as drie pouse wat mekaar tot in 1410 oor en weer geëkskommunikeer het. In hierdie anargistiese konteks tree die opvatting van ‘absolute regering’, asook burgerlike pogings tot die konsolidering van ʼn gefragmenteerde gemeenskap na vore, onder meer in die soeke na ‘uniformiteit’ en die afwysing van enige oorweging wat die opvatting van die gelykblywendheid van identiteit geproblematiseer het. Dit sluit uiteraard ‘nie-identiese’ seksualiteite in.

Die skerp toename in allerlei wetgewing in die 14de eeu

Marguerite se teregstelling in 1310 en die verbanning van die bedelordes in 1311 was simptomaties van ʼn kultuur van algehele onverdraagsaamheid wat gevolglik in die 14de en vroeg-15de eeue in Wes-Europa gebotvier het: so ‘oop’ en verdraagsaam as wat die laat-11de, 12de en minstens die eerste helfte van die 13de eeu oor ʼn wye aantal kulturele aangeleenthede was, so onverdraagsaam en ‘geslote’ was die 14de en vroeg-15de eeue oor dieselfde aangeleenthede (Heer 1962:158–192). Die impetus vir hierdie onverdraagsaamheid kan gevind word in die verbete soeke na juis daardie ‘absolute regering’, met ʼn kenmerkende strewe na intellektuele en institusionele uniformiteit, die korporatisering van die sosiale leefwêreld en die konsolidering van burgerlike, kerklike en administratiewe burokrasieë, soos vergestalt in die dramatiese toename in wetgewing van allerlei aard in hierdie tyd (met inbegrip van die herwaardering van Justiniaanse Romeinse reg in die 13de eeu): waar die omvang van koninklike en ander edikte in die 12de en 13de eeue nie meer as 100 volumes beslaan het nie, het die gemiddelde wetgewing deur ʼn monarg van selfs ʼn beskeie streek in die 14de eeu etlike duisende registers beslaan, terwyl die 14de-eeuse pous Johannes XXII, berug vir sy wydgaande polemieke, honderde pouslike bulle nagelaat het (Mundy 1973:6).

Hierdie dramatiese uitgebreide sekulêre wetgewing begin in die 14de eeu vir die eerste keer ook voorsiening maak vir ʼn juridiese verbod op homoseksualiteit – en daardie wetgewing neem in die 14de eeu skerp toe op grond van wat as die ‘anti-sosiale karakter’ daarvan beskryf is (Boswell 1980:295). Nou was dit nie langer die ‘sodomiet in die kerk’ nie, maar die ‘anti-sosiale, homoseksuele krimineel’ wat deur wetgewing in terme van ʼn verbod op selfdegeslagverbintenisse aangespreek sou word. Alle state en streke in Wes-Europa het teen die einde van die 14de eeu uitgebreide wetgewing wat homoseksualiteit gekriminaliseer het, tot hulle beskikking gehad (Mundy 1973:7). Die gelyklopende konsentrasie en kriminalisering van hierdie wetgewing rakende ‘misdadige homoseksualiteit’ in die 14de eeu het die belofterykheid van die transendering van die komplekse taboe van sodomie in die 12de en 13de eeue effektief beëindig. Met die kriminalisering van ‘homoseksualiteit’ (hoewel die begrip sodomie steeds in 14de-eeuse wetgewing gebruik is maar, anders as in die 12de en 13de eeue, nie langer met verwysing na ook heteroseksuele aktiwiteite nie), was die tafel gedek vir die progressiewe patologisering van homoseksualiteit: die ‘misdaad’ wat in die 14de en 15de eeue deur straf en dissipline gekorrigeer moes word, sou eeue later as ʼn scientia sexualis ‘siekte’ benoem word wat klinies gediagnoseer, geëksamineer en ‘genees’ moes word.

Die skep van ‘minderhede’ in die 14de eeu

Binne die korporatiewe en juridies gedrewe konteks van die 14de eeu ontstaan nou ook vir die eerste keer die opvatting van ‘minderhede’ (minoritatem): buiten ekonomiese opstande en groeiende klasseverskille, neem onder meer anti-Semitisme en algemene godsdienstige onverdraagsaamheid (byvoorbeeld teenoor Muslims in Andalusiese Spanje) betekenisvol toe. Alle dinge moes konformeer aan die ideaal van suiwere uniformiteit, wat effektief beteken het dat alles trefseker gereduseer sou moes kon word tot ʼn enkele beginsel van identiteit: teologiese uitsette is toenemend in die korset van korter summae met enkele sistematiese formules gedwing; die draagwydte van die Inkwisisie se jurisdiksie om ‘afwykende’ teologiese en lewensbeskoulike posisies te dissiplineer, is aansienlik uitgebrei; sekulêre kennis is in enkelformate gedwing, waarvan die 14de-eeuse ‘ensiklopedie’, synde die byeenbring van alle beskikbare kennis oor ʼn bepaalde kennisrubriek in ʼn enkele boek, ʼn reeks volumes of een kennissisteem, sprekend was; die kerklike hiërargie se opsigvermoë oor etiese, morele en selfs juridiese aangeleenthede is intensief uitgebrei; en vroue is toenemend uit die kerk- en staatshiërargie gesluit, aangesien kriteria vir deelname aan politieke prosesse toenemend met onbuigbare voorwaardes (waaronder ordening as kerklike ampsdraer of bewese universiteitsopleiding) gekwalifiseer is, waartoe vroue uiteraard nie toegang gehad het nie.

Die 14de eeu was inderdaad die tyd van die ‘groot suiwering’: Jode is reeds in die eerste dekade van die 14de eeu uit Engeland en Frankryk verban (Baer 1961:63–70), melaatses in Frankryk is vanaf 1322 op bevel van Karel IV vir lang tydperke in die tronk opgesluit (met die gevolglike sluiting van die betroubare ou Middeleeuse leprosaria, wat vir eeue ʼn tuiste gebied het nie net vir melaatses nie, maar juis ook aan ander sosiaal geostraseerdes), terwyl Edward II van Engeland, die laaste Middeleeuse monarg wat openlik aan selfdegeslag- seksuele aktiwiteite deelgeneem het, in 1327 onder brutale omstandighede vermoor is in Berkeley-kasteel.22 In kort: in die 14de eeu was homogeniteit die ideaal en heterogeniteit is as ʼn swakheid geag. Ironies is dit juis hulle wat aan ‘seksuele homogeniteit’ voorkeur verleen het, wat nou toenemend as ʼn heterogene ‘minderheid’ voorgestel is.

Afgesien van die skep van minderhede op grond van etniese, godsdienstige en geslagsidentiteit, asook seksuele voorkeure, word ʼn verskeidenheid ander minderheidsmerkers in die 14de eeu opgestel. Belangrik is dat nie ‘getalle’ of kwantifiseerbare oorwegings nie, maar ‘tipe’, ‘soort’ en talle ander arbitrêre, kwalifiseerbare oorwegings gebruik is om sodanige minoritatem aan te dui. Selfs armoede word ʼn aanduiding van ʼn ‘minderheidsbelang’: hoewel by verre die grootste deel van elke Wes-Europese bevolking in die Middeleeuse geskiedenis bestaan het uit (modern gesproke) armlastiges en dit uiteraard steeds die geval in die 14de eeu was, word daardie meerderheid nou ʼn ‘minderheid’ (Tierney 1959:360–373). Die aanmerk van arm mense as ʼn ‘minderheid’ dui op die vermoë van die nuut-ontwerpte uitsluitingsmeganismes van die 14de eeu om selfs self-teenstellende oorwegings te gebruik om die samelewing effektief te homogeniseer. Die druk om aan die ideaal van homogeniteit te konformeer, was oral aanwesig: selfs die Franciskaanse armoede-ideaal is in die eerste dekades van die 14de eeu tot op die punt van kettery geproblematiseer.23 Daarby is geldskieters (Middeleeuse ‘bankiers’; Mundy 1973:174–189) en politieke dissidente (Boswell 1980:276) tot die algaande wyer register van sensureerbare minderhede ingesluit. Dit is daarom nie verrassend dat Damianus se ‘sodomiete’ van weleer vir die eerste keer sedert sy tirade in Liber gomorrhianus van 1049, in die 14de eeu met wydgaande wantroue en vyandigheid begroet is nie.

Morlaix en Cantorius: die polemisering van die seksuele minderheid

Die eerste aanduiding van hierdie vyandigheid teenoor wat nou duidelik as ʼn ‘minderheid’ op ‘seksuele gronde’ geag is, kan gevind word in die 14de-eeuse herwaardering van ʼn omvangryke (3000 reëls) satiriese gedig van die 12de-eeuse Cluniaanse monnik Bernardus van Morlaix getitel De contemptu mundi (‘Afsku aan die wêreld’; sien Hoskier 1929). In hierdie werk word beide intermanlike en intervroulike seksualiteit geïdentifiseer as die bron van ʼn wye reeks ondeugde, waaronder hedonisme, gierigheid en oneerlikheid. De contemptu mundi is wyd hersirkuleer in die 14de eeu en opgevolg met hersirkulasies van die laat-12de eeuse Petrus Cantorius (d. 1197) se deurgaans homofobiese eksegese van Romeine 1 verse 26 en 27, asook 11 ander Bybelse tekste wat na sy uitleg op die ‘radikale sonde van sodomie’ (synde die wortel van alle kwaad) dui.

Aangesien daar geen sekulêre strafsanksies vir ‘homoseksualiteit’ in Frankryk in die 12de eeu bestaan het nie, beroep Cantorius hom op ʼn Romeins burgerlike regsreël van 342 om ʼn presedent vir die vervolging van sowel manlike en vroulike ‘sodomiete’ te verskaf (Boswell 1980:277). Natuurlik was hierdie twee 12de-eeuse monnike se tekste onkenmerkend van die verdraagsame kulturele stemming van die 12de en 13de eeue, maar dit het die 14de-eeuse opponente van die ‘seksuele minderheid’ nie verhoed om hierdie tekste te rehabiliteer en met toewyding te laat hersirkuleer nie. Daarmee is die slagordes opgestel vir die progressiewe marginalisering van hierdie ‘seksuele minderheid’. Die enkele pogings tot ʼn pendulum-reaksie vanuit die Renaissance vanaf die 1470’s om die effek van die 14de-eeuse kriminalisering van seksualiteit en die definiëring van seksuele minderhede teen te gaan, was oneffektief (Borris 2004:1–19.) Trouens, die intra-dissiplinêre verfyning van veral regsgeleerdheid en geneeskunde in die laat-15de eeu het die effektiwiteit van die 14de-eeuse wetgewing met betrekking tot die kriminalisering van ‘sodomie’ verhoog.

Hierby kan ʼn betekenisvolle tendens in 14de-eeuse kruistogliteratuur gevoeg word, wat ‘sodomie’ met die oënskynlik hoë mate van verdraagsaamheid in Islam ten opsigte van homoërotiese verbintenisse verbind het. Natuurlik was daar nie sonder meer so ʼn verdraagsaamheid in Islam nie, maar hierdie Oriëntalistiese assosiasie is geskep ter wille van die bevordering van ʼn selfs wyer polarisasie: nie net moes alle vorme van ‘sodomie’ in die 14de eeu op grond van Morlaix en Cantorius se aanduidings van die sondige ondeugdelikheid daarvan herafgewys word nie, maar dit moes juis as intrinsiek vyandig teenoor die Christelike leertradisie uitgewys word (Watt 1972:9).

Samevatting en konklusie

Ten spyte van toepaslike strafsankies wat per biskopstatute en strafskrifte op grond van die vermanings van prominente kerkvadere tot in die vyfde eeu in die vroeë Middeleeue beskikbaar was, was selfdegeslag- seksuele kontak tot vlak in die 11de eeu nie as ʼn dwingende morele probleem geag nie. Nadat dit in die eerste helfte van die 11de eeu egter duidelik geword het dat die disintegrasie van die seksuele moraal binne kloosters en die kerk self sodanige afmetings aangeneem het dat ʼn vorm van kerklike intervensie noodsaaklik geword het, is die begrip sodomiet in Damianus se pouslik adviserende Liber gomorrhianus sodanig uitgebrei dat dit ook intervroulike seksuele kontak, van welke aard ook al, ingesluit het, met verwysing na die begrippe teen-natuurlikheid, irrasionele fornikasie, vroulike sodomie en vroulike sodomiet. Met die veeltermige, komplekse taboe van ‘sodomie’ hiermee duidelik verwoord vir implementering vanaf die konsilie van Reims in 1049 en opvolgende Middeleeuse konsilies wat oor die saak wou handel, is die moontlikheid geskep (in terme van twee moontlike versetvorme teen taboes, naamlik ‘transgressief’ en ‘transenderend’) om hierdie 11de-eeuse taboe ‘transenderend’ – dit is, diskreet en met ʼn sin vir diskursiewe tempo – teen te gaan. Vier ontwikkelinge gedurende die 12de eeu dui sodanige ‘transenderende verset’ teen die komplekse taboe van sodomie aan: die subtiele heteroseksuele onderskeid tussen manlike en vroulike homoseksualiteit, die kritiek teen die huwelik as institusie, vroulike selfdegeslagverhoudings as agent tot maatskaplike verandering en as basis vir die aanvanklike ekonomiese emansipasie van vroue. Hierdie ‘transenderende verset’ word geïntensifiseer met die opkoms en betekenisvolle sosiale teenwoordigheid van die libertynse begyne in die eerste dekades van die 13de eeu.

Die strewe na uniformiteit en homogeniteit in die Wes-Europese samelewingsordes van die 14de en vroeg-15de eeue, waarvan die kriminalisering van selfdegeslag- seksuele kontak, die skep van ʼn verskeidenheid minderhede op grond van etniese, godsdienstige en geslagsidentiteit, ekonomiese status en seksuele voorkeure, asook aspekte vanuit die polemiese kruistogliteratuur van die 14de eeu die duidelikste manifestasies was, het hierdie 12de- en 13de-eeuse pogings tot die transendering van die taboe effektief tot stilstand gebring. Daar sou vir die volgende bykans ses eeue geen ontwikkeling wees wat die 12de- en 13de-eeuse openheid ten opsigte van homoërotiese verbintenisse en selfdegeslag- seksuele aktiwiteite kon ewenaar nie. Lank na die 19de-eeuse patologisering van seksualiteit met behulp van ʼn kwasi-wetenskaplike scientia sexualis en die gevolglike opname van ‘homoseksualiteit’ in die Westerse register van diagnoseerbare psigiatriese afwykings in 1891, is die 14de-eeuse kriminalisering van seksualiteit in Wes-Europese lande tot diep in die 20ste eeu onverkort gehandhaaf. Met inbegrip van die bevrydingspotensiaal wat daar in die 12de en 13de eeue se verkennende kultuurbegrip opgesluit was, sou die ontwikkeling van idees rakende vroulike selfdegeslagverbintenisse in die latere Middeleeue dus as deel van ʼn regressiewe inleiding tot moderne scientia sexualis beskryf moes word.

Erkenning

Die outeur is ook werksaam by die Sentrum vir die Geskiedenis van Filosofie en Wetenskap (CHPS), Radboud Universiteit Nijmegen, Nederland.

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Outeursbydrae

J.B. was die enigste outeur betrokke by die skryf van die artikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel volg alle etiese standaarde vir navorsing, sonder direkte kontak met mens of dier.

Befondsing

Hierdie artikel is befonds deur die Departement Filosofie, Universiteit van die Vrystaat.

Data beskikbaarheidsverklaring

Data-deling is nie van toepassing op hierdie artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeur nie.

Literatuurverwysings

Adams, J.N., 1982, The Latin sexual vocabulary, Duckworth, Londen.

Baer, Y., 1961, A history of the Jews in Christian Spain, Jewish Publication Society of America, Philadelphia, PA.

Bataille, G., 1962, Death and sensuality: A study of eroticism and the taboo, Walker & Company, New York, NY.

Benkov, E., 2001, ‘The erased lesbian: Sodomy and the legal tradition in Medieval Europe’, in F.C. Sautman & P. Sheingorn (eds.), Same sex love and desire among women in the Middle Ages, pp. 101–102, Palgrave MacMillan, New York, NY.

Bennett, J.M., 2000. ‘“Lesbian-like” and the social history of lesbianisms’, Journal of the History of Sexuality 9(1), 1–24.

Beukes, J., 2002, ‘Ars erotica en die detrivialisering van die seksuele diskoers: ʼn Aantekening by die seksualiteitsanalise van Michel Foucault’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 58(1), 283–298. https://doi.org/10.4102/hts.v58i1.541

Beukes, J., 2019a, ‘Hildegard von Bingen as ʼn 12de-eeuse filosoof-teoloog’, Litnet Akademies 16(1), 64–102.

Beukes, J., 2019b, ‘“Maak die wêreld nie tot bespotting nie”: ʼn Herwaardering van die filosofiese aspekte in Mechtild von Magdeburg se Das fließende Licht der Gottheit (1250)’, Verbum et Ecclesia 40(1), Art. #1965, pp. 1–8. https://doi.org/10.4102/ve.v40i1.1965

Beukes, J., 2019c, ‘Héloïse d’Argenteuil se filosofiese uitset’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 75(4), Art. #5281, pp. 1–12. https://doi.org/10.4102/hts.v75i4.5281

Beukes, J., 2019d, ‘“Foucault se sodomiet”: Damianus se Liber gomorrhianus (1049) heropen’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 75(4), Art. #5216, pp. 1–13. https://doi.org/10.4102/hts.v75i4.5216

Beukes, J., 2019e, ‘De potestate regia et papali: ʼn “uurglas”-bywerking van die mees onlangse Quidort-navorsing’, Litnet Akademies 16(2), 109–168.

Beukes, J., 2020a, Middeleeuse filosofie, Volumes I & II, Akademia, Pretoria.

Beukes, J., 2020b, ‘Die “vyf trane” as mistieke uitdrukking in die Dialoë van die Dominikaanse non Katherina van Siena (1347–1380)’, Litnet Akademies 17 (In publikasie).

Beukes, J., 2020c, ‘Die eliminering van die siel in die filosofiese mistiek van die begyn Marguerite Porete (1250–1310)’, Litnet Akademies 17 (In publikasie).

Beukes, J., 2020d, ‘The Trinitarian and Christological Minnemystik of the Flemish beguine Hadewijch of Antwerp (fl. 1240)’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 77 (In publikasie).

Beukes, J., 2020e, ‘The Dominican Robert Kilwardby (ca. 1215–1279) as schoolman and ecclesiastical official’, Verbum et Ecclesia 41 (In publikasie). https://doi.org/10.4102/ve.v41i1.2038

Beukes, J., 2020f, Foucault in Iran, 1978–1979, AOSIS, Kaapstad.

Beukes, J., 2020g, ‘Die triomf van ʼn post-skolastieke mistiek oor skolastieke lojalisme: Gersonius versus Ruusbroec (postuum), 1399’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 76, Art. #5672, pp. 1–12. (In publikasie).

Borris, K., 2004, ‘General introduction’, in K. Borris (eds.), Same-sex desire in the English Renaissance. A sourcebook of texts, 1470–1650, pp. 1–19, Routledge, New York, NY. https://doi.org/10.4324/9780203499160

Boswell, J., 1980, Christianity, social tolerance and homosexuality: Gay people in Western Europe from the beginning of the Christian era to the fourteenth century, Chicago University Press, Chicago, IL. https://doi.org/10.7208/chicago/9780226067148.001.0001

Brede, M.L., 1979, ‘Die Klöster der hl. Hildegard Rupertsberg und Eibingen’, in A.P. Brück (eds.), Hildegard von Bingen 1179–1979. Festschrift zum 800. Todestag der Heiligen, pp. 77–94, Quellen und Abhandlungen zur Mittelrheinischen Kirchengeschichte, Mainz.

Brooten, B.J., 1996, Love between women. Early Christian responses to female homoeroticism, Chicago University Press, Chicago, IL. https://doi.org/10.7208/chicago/9780226075938.001.0001

Burchard, J., 1898, ‘Decretum 19.5’, in H.J. Schmitz (red.), Die Bussbücher und das kanonische Bussverfahren nach handschriftlichen Quellen dargestellt, pp. 1–56, H.J. Schmitz Verlag, Düsseldorf.

Bynum, C.W., 1984, Jesus as Mother. Studies in the spirituality of the high Middle Ages, University of California Press, Los Angeles, CA.

Damianus, P., 1982, Liber gomorrhianus, trans. J.P. Payer, Wilfrid Laurier University Press, Waterloo.

De Paepe, N., 1967, Hadewijch Strofische Gedichten. Een studie van de minne in het kader der 12e en 13e eeuwse mystiek en profane minnelyriek, Koninklijke Vlaamse Academie, Gent.

Denholm-Young, N., 1957, Vita Edwardi Secundi, Thomas Nelson, Londen.

Dronke, P., 1984, Women writers of the Middle Ages: A critical study of texts from Perpetua to Marguerite Porete, Cambridge University Press, Cambridge.

Eckenstein, L., 2010, Woman under monasticism. Chapters on Saint-Lore and convent life between A.D. 500 and A.D. 1500, Theophania, Calgary.

Finsterwalder, P., 1925, ‘Zwei Bischofskapitularien der Karolingerzeit’, Zeitschrift der Savigny-Stiftung für Rechtsgeschichte, Kanonistische Abteilung 14(1), 1–35. https://doi.org/10.7767/zrgka.1925.14.1.336

Foucault, M., 1976 (1978 uitg.), The history of sexuality, Volume 1: The will to knowledge, trans. R. Hurley, Pantheon, New York, NY.

Foucault, M., 1984a (1985 uitg.), The history of sexuality, Volume 2: The use of pleasure, trans. R. Hurley, Random House, New York, NY.

Foucault, M., 1984b (1986 uitg.), The history of sexuality, Volume 3: The care of the self, trans. R. Hurley, Pantheon, New York, NY.

Gibson, J., 1989, ‘Mechtild of Magdeburg’, in M.E. Waithe (ed.), A history of women philosophers. Volume II. Medieval, renaissance and enlightenment women philosophers, pp. 115–140, Kluwer, Dordrecht. https://doi.org/10.1007/978-94-009-2551-9_6

Giffney, N., Sauer, M.M. & Watt, D., 2011, ‘Preface and introduction’, in N. Giffney, M.M. Sauer & D. Watt (eds.), The lesbian premodern, pp. xviii, 1–21, Palgrave Macmillan, New York, NY. https://doi.org/10.1057/9780230117198_1

Giffney, N., Sauer, M.M. & Watt, D. (eds.), 2011, The lesbian premodern, Palgrave Macmillan, New York, NY. https://doi.org/10.1057/9780230117198

Goodich, M., 1979, The unmentionable vice: Homosexuality in the later Medieval period, Ross-Erikson, Santa Barbara, CA.

Gösmann, E., 1989, ‘Hildegard of Bingen’, in M.E. Waithe (ed.), A history of women philosophers. Volume II. Medieval, renaissance and enlightenment women philosophers, A.D. 500–1600, pp. 27–61, Kluwer, Dordrecht. https://doi.org/10.1007/978-94-009-2551-9_2

Hadewijch van Antwerpen, 1980, Hadewijch: The complete works, trans. C. Hart & inl. P. Mommaers, Paulist Press, New York, NY.

Heer, F., 1962, The Medieval world: Europe, 1100–1350, trans. J. Sondheimer, World Publishing, New York, NY.

Hoskier, H.C., 1929, De contemptu mundi: A bitter satirical poem of 3000 lines upon the morals of the twelfth century by Bernard of Morval, monk of Cluny, Bernard Quaritch, Londen.

Huizinga, J.K., 1924, The waning of the Middle Ages, trans. F. Hopman, Peregrine Books, New York, NY.

Gros, F. (red.), 2018, Michel Foucault, Histoire de la sexualité 4: Les aveux de la chair, Éditions Gallimard, Parys.

Jankowski, T.A., 2011, ‘Virgins and “Not-women”: Dissident gender positions’, in N. Giffney, M.M. Sauer & D. Watt (eds.), The lesbian premodern, pp. 75–82, Palgrave Macmillan, New York, NY. https://doi.org/10.1057/9780230117198_6

Jordan, M., 1997, The invention of sodomy in Christian theology, Chicago University Press, Chicago, IL.

Klosowska, A., 2011, ‘Medieval Barbie dolls: Femme figures in ascetic collections’, in N. Giffney, M.M. Sauer & D. Watt (eds.) lesbian premodern, pp. 105–117, Palgrave Macmillan, New York, NY. https://doi.org/10.1057/9780230117198_8

Laskaya, A., 2011, ‘A “wrangling parliament”: Terminology and audience in Medieval European literary studies and lesbian studies’, in N. Giffney, M.M. Sauer & D. Watt (reds.), The lesbian premodern, pp. 35–47, Palgrave Macmillan, New York, NY. https://doi.org/10.1057/9780230117198_3

Lewis, G.J., 1989, Bibliographie zur deutschen Frauenmystik des Mittelalters, Erich Schmidt Verlag, Berlyn.

Marin, J. 2010, ‘Annihilation and deification in beguine theology and Marguerite of Porete’s Mirror of simple souls’, Harvard Theological Review 103(1), 89–109. https://doi.org/10.1017/S0017816009990320

McDonnell, E.W., 1954, The beguines and beghards in Medieval culture, Rutgers University Press, New Brunswick, NJ.

McNeil, J. & Gamer, H., 1938, Medieval handbooks of penance: A translation of the principal libri poenitentiales, University of Columbia Press, New York, NY.

Mills, R., 2015, Seeing sodomy in the Middle Ages, Chicago University Press, Chicago, IL. https://doi.org/10.1163/9789004338562_013

Mommaers, P., 1981, ‘Introduction’, in G. Baere (red.), inl. P. Mommaers & vert. H. Rolfson, Opera Omnia 1. Boecsken der verclaringhe, pp. 17–41, 55–80, Ruusbroecgenootschap, Universiteit van Antwerp & Leiden, Brill.

Mundy, J., 1973, Europe in the high Middle Ages, 1150–1309, Basic Books, New York, NY.

Neill, J., 2009, The origins and role of same-sex relations in human societies, McFarland & Co., Londen.

Sautman, F.C. & Sheingorn, P. (eds.), Same sex love and desire among women in the Middle Ages, Palgrave MacMillan, New York, NY.

Scarborough, E., 2017, ‘Critical approaches to Marguerite Porete’, in W.R. Terry & R. Stauffer (eds.), A companion to Marguerite Porete and The mirror of simple souls, pp. 295–322, Brill, Leiden.

Schibanoff, S., 2001, ‘Hildegard von Bingen and Richardis of Stade: The discourse of desire’, in F.C. Sautman & P. Sheingorn (eds.), Same sex love and desire among women in the Middle Ages, pp. 49–83, Palgrave MacMillan, New York, NY.

Seibrich, W., 1979, ‘Geschichte des Klosters Disibodenberg’, in A.P. Brück (ed.), Hildegard von Bingen 1179-1979. Festschrift zum 800. Todestag der Heiligen, pp. 55–75, Quellen und Abhandlungen zur Mittelrheinischen Kirchengeschichte, Mainz.

Tierney, B., 1959, ‘The decretists and the “deserving poor”’, Comparative Studies in Society and History 1(1), 360–373. https://doi.org/10.1017/S0010417500000372

Traub, V., 2011, ‘The present future of lesbian historiography’, in N. Giffney, M.M. Sauer & D. Watt (eds.), The lesbian premodern, pp. 21–34, Palgrave Macmillan, New York, NY. https://doi.org/10.1057/9780230117198_7

Vicinus, M., 2011, ‘Lesbian ghosts’, in N. Giffney, M.M. Sauer & D. Watt (eds.), The lesbian premodern, pp. 93–104, Palgrave Macmillan, New York, NY.

Watt, D., 1998, ‘Behaving like a man? Incest, lesbian desire, and gender play in Yde et Olive and its adaptations’, Comparative Literature 50(4), 265–285. https://doi.org/10.2307/1771525

Watt, W.M., 1972, The influence of Islam on Medieval Europe, Edinburgh University Press, Edinburg.

Weston, L.M.C., 2011, ‘Virgin desires: Reading a homoerotics of female monastic community’, in N. Giffney, M.M. Sauer & D. Watt (eds.), The lesbian premodern, pp. 193–201, Palgrave Macmillan, New York, NY. https://doi.org/10.1057/9780230117198_7

Wolfskeel, C., 1989, ‘Hadewych of Antwerp’, in M.E. Waithe (ed.), A history of women philosophers. Volume II. Medieval, Renaissance and Enlightenment women philosophers, A.D. 500–1600, pp. 141–166, Kluwer, Dordrecht. https://doi.org/10.1007/978-94-009-2551-9_7

Yalom, M. 2015. The social sex. A history of female friendship, Harper Perennial, New York, NY.

Footnotes

1. Jy, monstrositeit van die vroulike geslag,
wie se lus vir vroue van jou ʼn man maak,
wat vroue met jou waansinnige liggaam verlei,
waarom het hierdie steriele begeerte van jou besit geneem?
Jy gee niks terug nie en soek eerder ʼn vrou.
Eers wanneer jy daardie deel teruggee
op grond waarvan jy as ʼn vrou oorweeg kan word,
eers dan sal jy ʼn meisie wees.
(Vry vertaal, met selfsensuur ten opsigte van die vertaling van cunnus en facere).

2. Die oogmerk van hierdie artikel is om die mees onlangse uitsette met betrekking tot intervroulike seksualiteit in die Middeleeue logies en sistematies te dissemineer, met spesifieke verwysing na die filosofiese (ideëhistoriese) interpretasie van die relevante tekste. Die artikel is beskrywend analities in die daarstel van ʼn toeganklike oorsig van die kontekstuele geskiedenis en sinteties in die oogmerk om die relevante primêre en sekondêre tekste te integreer.

3. Die begrip intervroulike seksualiteit, afgewissel met die begrippe vroulike selfdegeslagverhoudings en vroulike homoërotiese verbintenisse, word hier aangebied as ʼn onpejoratiewe sinoniem vir die scientia sexualis (diagnostiese) begrip homoseksualiteit en verwys na sowel langtermyn-verbintenisse as ad hoc, eenmalige, kortstondige of andersins sporadiese seksuele kontak tussen vroue.

4. Vir ʼn oorsig oor vroulike homoërotiese verbintenisse in die voor-Middeleeuse periodes, sien Brooten (vir die Romeins-Hellenistiese konteks, sien 1996:29–188; vir die patristiek, sien 1996:303–338; en vir die vierde en vyfde eeue, met insluiting van Augustinus, sien 1996:343–362). Die tydperk 410 tot 1464 CE, soos breedvoerig elders beredeneer (Beukes 2020a:1.1), word hier gehandhaaf vir ʼn breë periodisering van die Middeleeue, met die fokus in hierdie artikel op die laaste drie van ses interne periodes (die ‘latere Middeleeue’), naamlik die vroeg-skolastiese periode (die laat-11de tot die vroeg-13de eeue); die hoog-skolastiese periode (13de en 14de eeue) en die post-skolastiese periode (14de eeu tot die eerste helfte van die 15de eeu).

5. Met skolastiese onderklemtoon word slegs per voetnoot aangemerk dat so ʼn periodegebaseerde, ideëhistoriese lesing ten opsigte van die latere Middeleeue tans nog in die sekondêre literatuur ontbreek. Bloemlesings en redaksiewerke (skaars soos wat dit is), soos dié van Giffney, Sauer en Watt (2011) en Sautman en Sheingorn (reds. 2001), werk met tematiese indekserings en oorhoofse rubriserings, waaruit ideëhistoriese posisies binne elke eeu of periode selfstandig gedistilleer moet word. Hierdie artikel poog om so ʼn selfstandige ontginning in terme van die latere Middeleeue aan te bied, gelyksoortig aan wat Brooten (1996) ten opsigte van die patristiek en die vroeë Middeleeue aangedui het.

6. Daar moet in terme van ‘vulgariteit’ en die ‘seksuele vernakulêr’ in gedagte gehou word dat die ontwikkelende diskoers oor seks in die latere Middeleeue hoogs problematiese eise gestel het, met slegs daardie ‘vulgêre’ begrippe in die ou moedertale voorhande. Damianus, byvoorbeeld, en sy tydgenote het slegs die woorde wat in die moderne periode mettertyd onder die vaandel van scientia sexualis ‘vulgêre’ status sou verkry, die woorde in die ou moedertale, juis ook in die Latynse vernakulêr, wat iets heel anders was as die moderne verskynsel van ʼn Latyn-gebaseerde scientia sexualis-terminologie, tot hulle beskikking gehad. Die latere, moderne register van scientia sexualis maak voorsiening vir (eufemistiese, transtalige en transkulturele) Latynse of andersins gelatiniseerde aanwysers soos penis, vagina, anus, clitoris, per anum, coitus en so meer, wat dit maklik maak om onverstoord oor sake te praat wat baie meer robuust in die daaglikse omgang van enige taal figureer – en, soos Foucault (1978:40) provokatief aangedui het, daar is nie ʼn taal sonder sodanige alledaagse ‘sekstaal’ nie en dit is trouens die ‘outentieke taal’, wat grotendeels, hoewel nie uitsluitlik nie, in nie-publieke en ars erotiese kontekste van elke taal gebruik is en word. Natuurlik was daar in die oorspronklike (dus voor die modern-Latynse hertoewysing) Latyn self ʼn seksuele vernakulêr, wat heeltemal verskil van die modern-Latynse hertoewysing: byvoorbeeld vir oraal-genitale seks was dit irrumo, fello, lingo mentula en lingo cunnus (Adams 1982:125, 130, 134). Die scientia-sexualis-weergawe is opgebou uit die mees eufemistiese en oorwegend metaforiese begrippe vanuit die oorspronklike Latynse vernakulêr. Trouens, Adams (1982; vergelyk selfs net die indeks op bladsye 257–265) lys, met grondige etimologiese verklaring, die hele oorspronklike Latynse seksuele register, wat letterlik honderde inskrywings bevat. Die ironie ontgaan die skrywer nie dat dit tergend problematies sou wees om hierdie artikel te kon skryf met slegs die Afrikaanse seksuele vernakulêr voorhande (vergelyk die onafwendbare selfsensuur met betrekking tot die vertaling van cunnus en facere in voetnota 1).

7. Vergelyk byvoorbeeld die tweede biskopstatuut van Theodulf van Orleans, 14: ‘Priesters moet ʼn voorbeeldige lewe lei vir diegene onder hulle sorg’; daarvanuit 34 tot 44: ‘Hier volg ʼn volledige omskrywing van die irrasionele sondes van sodomie, bestialiteit en bloedskande …’ (waarop ʼn uitgebreide omskrywing volg). Al drie hierdie verskynsels word as ʼn enkele verskynsel saamgesnoer op grond van die ‘irrasionele’ kwaliteit daarvan, wat daarom onderhewig is aan presies dieselfde strafsanksies. Vergelyk ook die biskopstatuut MS Vat Reg lat 612/8: ‘As gevolg van sodomie word koninkryke vernietig en in die hande van heidene oorgelewer. Elke Christen moet homself en haarself teen hierdie misdaad beskerm en diegene wat nog nie daardeur besoedel is nie, moet versigtig wees om nie daarin te verval nie’ (Finsterwalder 1925:359); asook die biskopstatuut van Herardus van Turyn, Capitula 11: ‘Diegene wat irrasioneel sondig, moet hewig gestraf word ten einde hierdie ontug teen die wortel af te sny’. Opvallend verwoord al drie hierdie statute die probleem gender-neutraal, met begrippe soos ‘diegene’, ‘elke Christen’ en ‘homself en haarself’ (Beukes 2019d:7).

8. Pederastie moet baie duidelik van pedofilie (in die Middeleeue is pedofilie bloot verstaan as die seksuele uitbuiting van pre-puberteitse kinders, wat soos verkragting ʼn halsmisdaad geag is, strafbaar met die dood) onderskei word en dui op die antieke, oorwegend Hellenistiese gebruik om post-puberteitse minderjariges seksueel deur volwassenes van dieselfde geslag op te voed. ʼn Post-puberteitse jong man se eerste seksuele ervaring was binne daardie konteks met ʼn ouer man en ʼn post-puberteitse jong vrou se eerste seksuele ervaring met ʼn ouer vrou (Beukes 2019d:7).

9. Vergelyk byvoorbeeld Benedictus Levita 3,143: ‘Sodomie moet ten alle koste vermy word. Die ryk word daardeur verskeur en verarm’; 3,356: ‘Bestialiteit, bloedskande en sodomie moet gestraf word met die dood, of indien die subjek tot bekering kom, moet boete gedoen word volgens die voorskrifte van die konsilie van Ancyra’; 3,378: ‘Sodomie is een van die booshede op grond waarvan mense met hongersnood en pes gestraf word, die integriteit van die kerk word daardeur ondermyn en die (Karolingiese – JB) ryk in gevaar gestel’.

10. In vrye vertaling: ‘Die (Middeleeuse – JB) sodomiet was ʼn tydelike afwyking, maar nou (in die 19de eeu – JB) was die homoseksueel ʼn spesie’ (Foucault 1978:43, aangaande die ontwikkeling van ‘homoseksualiteit’ as een gestalte van scientia sexualis in die laat-19de eeu). Hoewel dit waar is (Traub 2011:22) dat Foucault se uitspraak feitlik uitsluitlik met seksuele verbintenisse tussen mans in verband gebring word, is daar geen rede waarom die stelling nie as vertrekpunt gebruik kan word met toepassing op die verbintenisse tussen vroue nie, met betrekking tot juis sowel die geslagsinsluitende aard van die 11de-eeuse begrip sodomie as die opponering van ʼn historiese ‘patriargale equilibrium’ (Bennett 2000:3), waarin mans se seksuele identiteite, oriëntasies en voorkeure as meer homogeen, voorspelbaar en onverstoorbaar beskou word as dié van vroue – of dit nou manlike heteroseksualiteit of homoseksualiteit is wat ter sprake is.

11. Vir ʼn omvangryke oorsig van Damianus se gebruik van die begrippe irrasionele fornikasie, sodomie en sodomiet (met gebruikmaking van die geykte sodomita, die manlike selfstandige naamwoord paedicator, asook die meer vulgêre cineadus), sien Beukes (2019d:4–5; met inbegrip van Foucault se Franse vertaling van hierdie begrippe as la sodomie en sodomite, asook die gelykblywende Engelse vertalings sodomy en sodomite). Die taboe word hiermee betreklik eenvoudig opgestel en verwys na enige vorm van seksuele aktiwiteit sonder die oogmerk van vrugverwekking of voortplanting, insluitende alle vorme van masturbasie, onanisme (ejakulasie buite die vagina), alle moontlike variante van heteroseksuele orale en anale seks en natuurlik enige en alle vorme van selfdegeslag- seksuele aktiwiteit.

12. Trouens, reeds in die 1030’s het die begrip sodomie ʼn omvangryker toepassing in heteroseksuele as in homoseksuele kontekste geniet (Boswell 1980:202).

13. Die onderskeid met die gangbare eietydse betekenis van die begrip sodomie moet hierby in gedagte gehou word: eietyds dra die begrip sowel ʼn pejoratiewe as die steeds ouer (14de-eeuse) juridiese lading en dui eerder op verkragting per anum as instemmende anale seks tussen volwassenes van dieselfde geslag of van teenoorgestelde geslagte.

14. Intieme verbintenisse tussen nonne word hier as ʼn ideaaltipe van intervroulike seksualiteit in die 11de eeu gebruik, vanuit die redelike vooronderstelling dat indien daar selfdegeslag- seksuele permissiwiteit onder nonne binne die kloosters aanwesig was, dit met ʼn hoër frekwensie in die minder gereguleerde bestaan buite die kloosterwese sou voorgekom het.

15. Hoewel die provokerende, krities-inversiewe gebruik vanuit feministiese lesings daarvan toegegee kan word, is die skrywer nietemin van mening dat die begrip lesbiër eietyds sover moontlik vermy behoort te word vanweë die pejoratiewe lading daarvan (onder andere met verwysing na die assosiasie met 20ste-eeuse karikature soos die ‘1950s bar dyke’ en ‘stone butch’; vergelyk Traub [2011:26]).

16. Vir ʼn oorsig van die betekenis en maatskaplike impak van selfdegeslagverhoudings in die Renaissance (1470–1650), sien Borris (2004:1–19.)

17. Die skrywer vind hier in terme van die dinamika van komplekse taboes aansluiting by Bataille (1962:49–54).

18. Neem as voorbeeld die volgende twee passasies uit ʼn behoue 12de-eeuse manuskrip van korrespondensie tussen twee vroue vanuit ʼn klooster in Tegernsee in Beiere: ‘Dit is jy wat ek met my hele hart liefhet, ek het jou lief bo alles, jy alleen is my begeerte … soos ʼn tortelduifie wat haar maat verloor het, staan ek alleen op ʼn tak en ek sal rou totdat ek jou weer kan bemin’. Haar geliefde antwoord: ‘As ek jou soene onthou, en hoe jy my borste met sagte woorde vertroetel het, wil ek sterf, want ek kan jou nie sien nie. Kom terug na my en na ons huis in die klooster, ek kan nie langer sonder jou leef nie’ (beide passasies verskaf in Boswell 1980:220–221).

19. Die Dominikane het uitgemunt in die aanbod van gratis skoolonderrig en openbare prediking in die gemeenskappe waarin hulle ontplooi is (paslik betitel as Ordo Praedicatorum [Orde van die Predikers, O.P.], vis-à-vis die Fransciskane, wat nederigheid in hulle barmhartigheidswerk, diakonale ondernemings en gemeenskapsorg geaksentueer het (eweneens paslik benoem as Ordo Fratrum Minorum [Orde van die Nederige Broers, O.F.M.]; Beukes 2020e:2). Die Dominikane het mettergaande wel voorsiening gemaak vir vroue om as nonne tot die orde toe te tree (waaronder Katharina van Siena, 1347–1380; Beukes 2020b), hoewel onder uiters streng, gedissiplineerde en asketiese omstandighede.

20. Natuurlik was konvensionele heteroseksualiteit ook in die bedelordes aanwesig. Die Vlaamse begyn Hadewijch van Antwerpen (fl. 1240, Beukes 2020d) se Minnemystik bevat byvoorbeeld geen homoërotiese verwysings nie en word trouens in streng heteroseksuele kategorieë aangebied. Vergelyk hierdie treffende (en ʼn tipiese) voorbeeld van Hadewijch se erotiese mistiek: ‘Op ʼn Pinkstersondag het ek ʼn visioen met dagbreek ervaar. Psalms en Gesange is in die kerk gesing en ek was daar teenwoordig. My hart en are het warm en vinnig met suiwer bloed geklop en my lendene het gebewe en geruk van begeerte. ʼn Waansin en vrees het besit van my geneem, dat indien ek my Geliefde nie tevrede stel nie en my Geliefde my begeerte nie vervul nie, ek waansinnig sal sterf en sterwend waansinnig sal word. Op daardie dag was my verstand so angstig en pynlik in besit geneem deur ʼn begerende liefde, dat dit gevoel het my ledemate gaan skeur en my are uitmekaar gaan spat’ (Hadewijch 1980:xiv; vergelyk Wolfskeel 1989:150). Hierdie en soortgelyke beskrywings van haar in-God ervarings tel onder die mees gewaagde en uitdagende passasies waaroor die hele korpus van Middeleeuse mistieke literatuur beskik, waarna De Paepe (1967) in sy gesaghebbende kommentaar oor Hadewijch as ʼn ‘profane minnelyriek’ verwys. God word deur Hadewijch voorgestel as só radikaal toeganklik en ‘oop’ dat God selfs toelaat om op ʼn ondenkbare en onverwoordbaar intieme wyse in besit geneem te word (Beukes 2020d:2).

21. Mechtild sou vir die volgende 40 jaar, totdat sy waarskynlik net oor 50 jaar oud was, ʼn begyn bly. In 1250 het sy begin om haar lewe op skrif te stel en die enorme verguisings wat sy en ander begyne as gevolg van hulle libertynse leefwyse moes verduur, te boekstaaf. In die werk spreek sy skerp kritiek uit teen korrupsie in die kerk en die hebsug en skynheiligheid van monnike in talle kloosters en abdye. Die kritiek sou natuurlik heftig teengegaan word en sy is by meer as een geleentheid fisiek aangerand. Uiteindelik sou sy haar bedelorde te Magdeburg as gevolg van ʼn verswakte liggaam en bedroefde gees moes verlaat om wel toegang te vind in ʼn konvensionele klooster, waar sy as blinde in haar latere jare versorg is (Bynum 1984:173–186; Gibson 1989:132[1]). Marguerite weer, is op 1 Junie 1310 op die brandstapel in Parys, op grond van inkwisisionele skuldigbevinding op ʼn klag van volgehoue dwaalleer, deur die provoos van die Paryse hoofinkwisiteur tereggestel.

22. ‘Cum veru ignito inter celanda confossus ignominiose peremptus est’ (Denholm-Young 1957:30). Vry vertaal kom dit daarop neer dat Edward brutaal vermoor is deurdat hy met ʼn rooiwarm kaggelstok verkrag is.

23. Die Franciskane het in die vroeg-14de eeu in ʼn algehele en skynbaar onoplosbare konfrontasie met vermelde pous Johannes XXII oor die vraagstuk na die orde se verstaan van armoede beland (Beukes 2019e:121–122). Dit het gelei tot onder meer die prominente Franciskaan Willem van Ockham (ca. 1285–1349) se ekskommunikasie in 1323 (Beukes 2020a:5.50).



Crossref Citations

No related citations found.