Abstract
Policraticus and Metalogicon: Updating the Saresberiensis-research, 2013-2018. This article provides an overview of the philosophical outputs of John of Salisbury (ca. 1115–1180), with reference to his two main philosophical texts, Policraticus and Metalogicon (both circulated in 1159). After presenting current research challenges in Medieval philosophy, Salisbury is presented as an example of a ‘non-canonised’ figure in Medieval philosophy; one who is throughly researched in his niche compartment, but remains unacknowledged in ‘canonised’ Medieval philosophy. Few introductions, readers and companions in the discipline give attention to ‘non-canonical’ thinkers such as Salisbury – yet when the niche research itself comes forward with a remarkable output in a short period of just five years, the ‘canon’ of Medieval philosophy itself could possibly be challenged. The niche research in Salisbury’s case has indeed presented an energetic output over the past few years, which transcends the standardised sources and enriches the discipline. The question lingers: do these combined efforts have the ability to challenge the notion of a ‘canonised’ Medieval philosophy? Four contributions from the niche scholarship from 2013 to 2018 are henceforth discussed: i) A new translation of Metalogicon (Hall & Haseldine 2013); ii) A research-updated introduction (Grellard & Lachaud 2015), the first of its kind in Salisbury scholarship in more than three decades; iii) A monography (O’ Daly 2018, overstating the own case contra Nederman, yet with a stunning Roman premise); and iv) The replacement of the complete Salisbury section in the online Stanford Encyclopedia of Philosophy (Bollermann and Nederman 2016).
Intradisciplinary and/or interdisciplinary implications: As a millennium-long discourse, Medieval philosophy functions in a Venn diagrammatical relationship with Medieval history, Church history, patristics and philosophy of religion. Whenever ‘mainstream’ or ‘canonised’ Medieval philosophy is impacted from the niche research, it may well have implications that these closely related disciplines could take note of.
Keywords: John of Salisbury; Saresberiensis-Research; Policraticus; Metalogicon; Hall & Haseldine 2013; Grellard & Lachaud 2015; Irene O’Daly 2018.
Inleiding: die huidige navorsingsproblematiek in Middeleeuse filosofie
Hierdie artikel kan teen die agtergrond van ʼn toenemende navorsingsproblematiek in Middeleeuse filosofie gelees word. Middeleeuse filosofie word naamlik tans as ʼn filosofiese sowel as teologiese (met verwysing na Venn-diagrammatiese snydinge met godsdiensfilosofie en kerkgeskiedenis) deeldissipline, deur drie ernstige vakinterne probleme gekonfronteer. Hierdie probleme behels die standaardisering van periodisering in Middeleeuse filosofie, die daarstel van ʼn enkelregister in Middeleeuse filosofie en die verwerking van nisnavorsing binne die ‘kanon’ van Middeleeuse filosofie.
Die standaardisering van periodisering in Middeleeuse filosofie
Die vraag is: waar begin Middeleeuse filosofie en watter denkers behoort by die Middeleeuse korpus ingesluit en daarvan uitgesluit te word? Dit is ʼn belangrike vraag, want dit bepaal watter denkers wat op die marges van die historiese spektrum staan (met Neoplatonisme patristies links en die Italiaanse Renaissance modern regs), in die Middeleeuse korpus hoort. Omdat die oorgang vanaf Neoplatonisme en laat patristiek na die Middeleeue gradueel was, word die Middeleeue soms sover terug gedateer as na Plotinus (ca. 204–270) en Porphyreus (ca. 234–305), terwyl ander navorsers die Middeleeue weer vorentoe dateer, so laat as met die aanvang van die Karolingiese Renaissance (742), maar minstens as eers vanaf Boethius (480–524), wat Augustinus (354–430) dan uit die Middeleeuse korpus sluit.
Augustinus is die sleutelfiguur in hierdie periodiseringsvraag, want dit is sy posisie in die Middeleeuse ensiklopedie wat altyd in dispuut sal wees, synde óf die eerste Middeleeuse denker (indien die eerste geslaagde barbaarse inval in Rome in 410 as die aanvang van die Middeleeue aanvaar word; kyk my argument in Beukes 2011a:2) óf dalk wel die wesenlike deurgangsfilosoof tussen die antieke en die Middeleeue (Beukes 2011b:2). Tans bestaan daar geen eenstemmigheid oor Augustinus se plek, hetsy binne of buite, die Middeleeuse korpus nie.
Dieselfde gebrek aan eenstemmigheid geld vir die afsluiting van die Middeleeuse korpus en die oorgang na die Italiaanse Renaissance: hetsy Nikolaus van Kusa (1401–1464) as die ‘laaste Middeleeuse en eerste Renaissance filosoof’ (Moran 2007:143) of dalk tog as die ‘poortwag van die moderne’ (Gilson 1940:404) beskou word, is dit ʼn diskursiewe keuse wat altyd eers weer van voor af verantwoord moet word.
Ek het reeds grondig op hierdie probleem in die navorsing ingegaan (Beukes 2011a, 2011b, 2012a, 2012b). Sedertdien is daar nog geen vordering in die vak gemaak met die standaardisering van periodisering in Middeleeuse filosofie nie. Willekeur botvier steeds en denkers word arbitrêr by die Middeleeuse korpus ingesluit of daarvan uitgesluit.
Die daarstel van ʼn enkelregister in Middeleeuse filosofie
Middeleeuse filosofie is sowel Westers as Oriëntaal; sowel Latyns as Arabies-Joods – hoewel hierdie insluitende sentiment in by verre die meerderheid inleidingswerke tot Middeleeuse filosofie afwesig is. Die Arabiese en Joodse denkers word normaalweg bloot verbygegaan en daar word vanuit die Latynse register feitlik konsekwent reguit vanaf Eriugena (815–877) na Anselmus (1033–1109) beweeg. As die leser gelukkig is, word Avicenna (980–1037), Averroes (ca. 1126–1198) en Maimonides (1138–1204) vanuit die Joods-Arabiese sektor dalk ingesluit.
In hierdie Westers-eiesinnige proses word by meer as ʼn 150 jaar se ideëgeskiedenis verbybeweeg – ’n geskiedenis wat juis grootliks bestryk word deur die intellektuele denkarbeid van ’n beduidende getal Arabiese en Joodse denkers. Dit word toenemend problematies om Arabiese denkers vanuit die Middeleeue prinsipieel in die filosofiese deeldissipline van ‘filosofie van Islam’ of ‘Islamitiese filosofie’ te rubriseer, terwyl die register van Middeleeuse filosofie gevolglik oorwegend en op enkele uitsonderings na vanuit die Latyns-Westerse denkers saamgestel word. Dat die gespesialiseerde eksegese van hierdie Arabiese denkers tot daardie Arabiesmagtige deeldissipline behoort, is nie te betwyfel nie. Tog behoort hierdie denkers ook meer oorsigtelik en minder gespesialiseerd in inleidingswerke tot die Middeleeuse filosofie aangebied te word, as wat histories die geval was en steeds die geval is.
Die grondige register van Middeleeuse filosofie behoort meer moeite te doen om die Arabiese denkers, wat dus gespesialiseerd en effektief vanuit Islamitiese nisruimtes nagevors word, in periode-bepaalde werke en oorsigwerke in die Middeleeuse filosofie bekend te stel. Daarsonder word die register van die Middeleeuse filosofie ernstig ingeperk en is die diskursiewe integriteit van die register trouens onder verdenking. Daarom ag Copleston (1993:186) dit noodsaaklik om in sy gevierde inleiding tot Middeleeuse filosofie (eerste uitgawe 1972), die eksplisiete rubriseringsvraag te stel: Waarom behoort Arabiese denkers tereg te kom in die Westerse register van Middeleeue filosofie? Vir juis so ’n grondige verantwoording van die insluiting van ondergekommentarieerde Arabiese denkers in die ‘Westerse’ register, sien Walzer (1967:643–652).
Dit is egter eers 30 jaar later, met die inleidings en bloemlesings van Bosley e.a. (2004), Gracia en Noone (2006) en Hyman, Walsh en Williams (2010), dat Walzer se legitieme oproep sigbaar eerbiedig begin word. Ook my onlangse werk elders (Beukes 2018c, 2018d) verteenwoordig hierdie insluitende sentiment – trouens, ek werk intensief mee tot die verryking van beide registers, maar met die oogmerk dat die Westerse en Oosterse registers uiteindelik spontaan as onlosmaaklik een met mekaar ontvang sal word: met ander woorde, dat daar uiteindelik net een navorsingsregister in Middeleeuse filosofie sal wees. Hierby kan die diskursiewe strekking van my resepsie met betrekking tot die revolusie in Iran 1978–1979 gelees word, betreffende Michel Foucault as ’n ‘soekende Griek in Persië’ (Beukes 2009a, 2009b), wat binne die konteks van ʼn eietydse Oriëntalisme werklik relevant is – juis ʼn Oriëntalisme wat latent, bykans onsigbaar in Middeleeuse navorsing vaardig is. Dit het tyd geword om daardie Oriëntalisme sigbaar te maak en krities in die navorsing te verreken.
Die verwerking van nisnavorsing binne die ‘kanon’ van Middeleeuse filosofie
In hierdie artikel word die derde probleem in die huidige Middeleeuse navorsing subtiel ingelei en implisiet omlyn. Die Middeleeuse nisnavorsing lewer, ook hier in Salisbury se geval, ʼn wesenlike bydrae tot die eksegese van die Middeleeuse korpus, en stel die inleidingsnavorsing in staat om met erudisie te kan kommentarieer. Tog bly die nisnavorsing stil en gedemp binne die nisnavorsing self en het dit feitlik geen effek op die gevestigde ‘kanon’ van Middeleeuse filosofie nie. Ek aanvaar natuurlik dat dit nie moontlik is om elke noemenswaardige denker uit die Middeleeue in elke inleidingswerk, redaksiewerk of bloemlesing tereg te laat kom nie. Wat ek wel bevraagteken, is dat dit dieselfde denkers is wat met reëlmaat aan die bod gestel word – en dat dit dieselfde denkers is wat met reëlmaat weggehou of onderkommentarieer word. Figure soos Augustinus, Boethius, Abelardus, Anselmus, Aquinas, Duns Skotus en Ockham beskik oor ʼn sekondêre literatuur wat in ʼn verskeidenheid tale reeds onoorsigtelik is. Waarom hierdie ‘gekanoniseerde’ denkers steeds en met oordrewe klem in inleidingswerke en bloemlesings aan die orde gebring word, val my as onbillik teenoor die historiese digtheid en omvattendheid van die Middeleeuse epog self op.
Dat sommige denkers meer gevolgryk en meer invloedryk as ander denkers was, is waar. Maar geen Middeleeuse denker het in isolasie presteer nie. Dit was juis die sosio-historiese konteks, bemiddel deur baie ander denkers en kontekste, voorafgaande en tydgenootlik tot ʼn spesifieke denker, wat daardie denker in staat gestel het om wel ʼn prestige-uitset te kon lewer. Die vraag is of daardie konteks buite die nisnavorsing verreken word – en die hermeneutiese antwoord daarop is dat dit oorwegend nie die geval is nie. Middeleeuse filosofie se 21ste-eeuse navorsingsinteresses behoort daarom toenemend in die ondergepubliseerde, eenkantfigure in Middeleeuse filosofie te vestig – en daar is talle sodanige eenkantfigure, indien ʼn navorser bereid is om die argiewe werklik met erns te neem.
Enersyds beteken dit dat die nisnavorsing oopgebuig en Middeleeuse filosofie, as ʼn werklik tegniese akademiese vak, deur middel van ʼn rehabiliterende aksent op die ‘nie-gekanoniseerde’ denkers, verryk moet word. Andersyds beteken dit om vanuit die vak self toenemend minder bestaande resepsie-prioriteite toe te ken; anders gestel, om eerder met en vanuit Foucault se opvatting van diskursiewe (juis marginale) eenhede in die ideëgeskiedenis te werk, as met ʼn ‘kanon’, wat skynbaar nie durf uitgedaag word nie. Die navorsingsuitdaging in die vak Middeleeuse filosofie vir die toekoms is in hierdie sin om die ‘kanon’ oop te buig, en vanuit die nisnavorsing ʼn weliswaar ondermynende bydrae tot ‘hoofstroom-’ of ‘gekanoniseerde’ Middeleeuse filosofie te lewer. Hierdie artikel kan as ʼn aanduiding van wat ek met so ʼn ‘oopbuiging’ in gedagte het, gelees word.
Johannes van Salisbury is juis ʼn uitstekende voorbeeld van ʼn Middeleeuse filosoof wat binne die stil en gedempte nisnavorsing steeds grondig ontgin word, maar buite daardie gespesialiseerde ruimte ʼn ondergewaardeerde figuur in Middeleeuse filosofie bly. Weinig inleidingswerke en bloemlesings, selfs vanuit die afgelope twee dekades, gee vanuit die ‘hoofstroom’-navorsing aan ʼn ‘nisfiguur’ of ‘nie-gekanoniseerde’ denker – soos Salisbury – aandag.1 Wanneer die nisnavorsing egter binne ʼn merkwaardige kort tyd uitsette lewer wat die gespesialiseerde belange van die nis transendeer, veral ten opsigte van ʼn marginale figuur soos Salisbury in Middeleeuse filosofie, is dit ʼn geskenk aan die deeldissipline2 van Middeleeuse filosofie, maar ook aan die vak filosofie as sodanig. So het die Saresberiensis-navorsing binne net vyf jaar met ʼn vierdelige aanbod na vore gekom, wat die persoon, werk en belangrikheid van hierdie denker helder in die oog gebring het, sinteties bo die gestandaardiseerde bronne uitgestyg en die kanon van Middeleeuse filosofie tegelyk geproblematiseer en verruim het.
Eerstens verskyn daar uit die Saresberiensis-nisnavorsing in 2013 ʼn bygewerkte vertaling van Metalogicon (Salisbury 2013, deur J.B. Hall en J.P. Haseldine) by Brepols, gebaseer op die laaste bygewerkte redaksiewerk in Latyn (Salisbury 1991, deur J.B. Hall en K.S.B. Keats-Rohan) in die reeks Corpus Christianorum Continuatio Mediaevalis (nommer 98), ook by Brepols. Tweedens word die eerste omvattende inleidingswerk oor Salisbury se historiese konteks en uitsette as skrywer in meer as dertig jaar, gebed binne die 12de-eeuse intellektuele wêreld, in 2015 by Brill te Leiden in die reeks Brill’s companions to the Christian tradition onder redaksie van C. Grellard en F. Lachaud, gepubliseer. Derdens verskyn in 2018 ʼn uitstaande Salisbury-monografie deur I. O’Daly by Manchester University Press – die eerste sodanige oorsigwerk sedert C.J. Nederman die navorsing bygewerk het in sy omvattende 2005-publikasie, John of Salisbury.3 Vierdens neem Nederman saam met K. Bollermann in 2016 die inisiatief om die Salisbury-afdeling in die betroubare Stanford encyclopedia of philosophy geheel en al oor te doen.
In Middeleeuse navorsing gebeur dit bitter selde, selfs in terme van die weliswaar ‘gekanoniseerde’ denkers, dat ʼn vertaling, ʼn inleidingswerk, ʼn monografie en ʼn nuwe ensiklopediese inskrywing binne net vyf jaar die lig sien. Trouens, selfs as sou die uitsette binne ʼn dekade plaasgevind het, sou dit ewe merkwaardig wees. Navorsing in Middeleeuse filosofie geskied teen ʼn geduldige pas. Wanneer so ʼn vaartversnelling in die navorsing sigbaar word, verdien dit ʼn grondige bywerking en bespreking van die aanloop en inhoude van sodanige versnelling, teen die agtergrond van die vraag of sodanige uitset die vermoë het om die Middeleeuse ‘kanon’ te konfronteer.4
Etiese oorwegings
Hierdie artikel het alle etiese standaarde gevolg wat van toepassing mag wees.
Policraticus
Salisbury5 is gebore in Saresberia oftewel Old Sarum, naby eietydse Salisbury in Wiltshire, en is oorlede te Chartres. Hoewel hy uit ʼn beskeie huis afkomstig was, het hy akademies van jongs af uitgeblink en Engeland in 1136 verlaat om in Frankryk te gaan studeer. In Frankryk was Salisbury bevoorreg om onder die beste leermeesters van die vroeë 12de eeu te studeer: hy was ʼn student van onder andere Abelardus, Thierry, Willem van Conches, Gilbertius en Helias. So afgerond was Salisbury se akademiese opvoeding dat sy gebruik van Latyn as foutloos beskou is en hy dikwels die ‘perfekte en mees belese 12de-eeuse Latinis’ genoem is (McGarry 1971:xxiv). Vanaf 1141 tot 1148 was hy ʼn privaat dosent in filosofie en teologie, waarna hy terug in Engeland tot 1162 die sekretaris of kerklike skriba van die aartsbiskop van Kantelberg sou word. Nadat die aartsbiskop, Thomas Becket, in 1163 vir sy lewe na Frankryk moes vlug op grond van die hewige konflik tussen die aartsbiskopsdom te Kantelberg en koning Hendrik II van Engeland, het Salisbury hom lojaal gevolg. Nadat Becket in 1170 in ʼn sluipmoord-aanval binne die katedraal vermoor is, is Salisbury in dieselfde jaar toegelaat om terug te keer na Kantelberg, waar hy gewerk het totdat hy in 1176 as biskop van Chartres aangewys is.
Salisbury se werke bestryk die poëtiese Entheticus (de dogmate philosophorum), geskryf tussen 1154 en 1162 (Salisbury 1987), Policraticus (Salisbury 1990) en Metalogicon (Salisbury 1991, 2013), beide geskryf in 1159, en die onvoltooide Historia Pontificalis, ʼn kerkhistoriese oorsig van ontwikkelinge in Wes-Europa tussen 1148 en 1152, waarin die fokus geplaas word op die redes vir die katastrofiese tweede kruistog in 1149.6 By hierdie vier werke word ook twee getuigskrifte (vir Anselmus en Thomas Becket)7 en Salisbury se korrespondensie (Salisbury 1979, 1986a) gevoeg.
Hoewel 1159 Salisbury se deurbraakjaar was met die feitlik gelyktydige verskyning van Policraticus (in September) en Metalogicon (in Oktober; vgl. McGarry 1971:xix[vn.26]), was Entheticus ʼn belangrike voorbereidende werk tot beide hierdie tekste.8 In Entheticus word Salisbury (1979, 1987) se intellektuele oriëntasie en stilistiese voorkeure noukeurig uiteengesit, wat hy gelykblywend in hierdie twee groot tekste gehandhaaf het. Die titel Entheticus is waarskynlik ʼn neologisme – aangesien die woord in Latyn geen gestandaardiseerde betekenis het nie – waarmee Salisbury sy gebedheid in die Bybelse wysheidsliteratuur, sowel as die Griekse filosofiese erfenis, onder woorde wou bring: In die eerste afdeling kommentarieer Salisbury veral die Psalms, Job, Spreuke en Prediker en gebruik hy hierdie Ou Testamentiese wysheidstekste om die inhoud en skopus van grondige onderrig in ʼn algemene wysheidsleer aan te toon. Dit is egter die tweede afdeling van Entheticus waarin Salisbury se akademiese verfyndheid en filosofiese erudisie na vore tree: hy bespreek die antieke filosofiese skole (by name Stoïsisme, Epikurisme, die Peripatetiese tradisie en die Akademies-skeptiese tradisie) uitvoerig, en eksegetiseer en kommentarieer die vyf filosowe wat hy vanuit daardie oorlewering as onmisbaar beskou: Pythagoras, Sokrates, Plato, Aristoteles en Cicero, met aksent op die epistemologiese, kosmologiese en etiese inhoude van hierdie denkers se werk. Sy Neoplatoniese voorkeure spruit duidelik uit sy bespreking van Plato, tot wie hy slegs gedeeltelik toegang gehad het via Calcidius se vertaling van Timaeus, Macrobius se vertaling van Scipio, sowel as Augustinus en Boethius se Plato-resepsies. In terme van logika staan Aristoteles vir hom egter voorop: Salisbury was een van die eerste 12de-eeuse denkers wat toegang tot die volledige Organon vanuit die Latynse vertaling van die Arabiese vertaling van die Griekse tekste gehad het – en hy was die eerste om dit kommentariërend voluit te gebruik.
Policraticus – die titel nogeens ʼn neologisme, waarmee Salisbury ʼn erudisie ten opsigte van die klassieke en die politieke inhoude van die werk kombineer9 – reflekteer een van die mees uitstaande eienskappe van Middeleeuse navorsing, veral vanaf die vroeg-skolastiese periode, om die tekste sowel immanent te lees, as om die kommentaartradisie grondig in die eie lesing te verreken (‘JWGV’;10 vgl. Beukes 2018d:566). Daarom tref ons in Policraticus verwysings na en aanhalings vanuit beide die heidense en Christelike bronne aan, sonder dat hierdie bronne by voorbaat geprioritiseer word. Natuurlik moet dit onderskei word van Bybelse kommentaar as sodanig: wanneer Salisbury die Bybelse tekste self eksegetiseer, staan die Bybelse tekste self uiteraard voorop. Boek V van Policraticus is byvoorbeeld ʼn selfstandige kommentaar op die boek Job in die Ou Testament, waarin die teks sowel as die resepsietradisie van die teks ondersoek word. Waar Salisbury egter nie eksplisiet met Bybelse kommentaar besig is nie, is hy konstant in tekstuele gesprek met sowel die patristiek (veral Augustinus en Hieronymus) as met sy tydgenote, in besonder Bernardus (Salisbury 1990:95–98).
Policraticus het egter om ʼn ander rede beroemdheid verwerf, naamlik die aantal verwysings na en omvangryke besprekings van die Griekse en Romeinse erfenisse (Salisbury 1990:145–159, 182–188; Liebeschütz 1950:3–5). Policraticus delf diep na die hart van retoriek, filosofie en die poësie van Cicero en ander Romeinse digters soos Vergilius, Horatius, Juvenalis, Lucanus en Ovidius. Waar hy nie toegang gehad het tot die tekste van hierdie Romeinse denkers self nie, het Salisbury nie gehuiwer om hom op latere redaksiewerke of florilegia te verlaat nie – en die katedraalbiblioteek van Kantelberg was juis beroemd vir die aantal redaksionele werke wat daar gehuisves is. Wat die Grieke betref, was dit meer problematies: soos feitlik alle ander denkers uit die Latynse Weste, kon hy nie Grieks lees nie en steeds aangewese op die Latynse vertalings van die Arabiese vertalings van die Griekse tekste. Hy gebruik die beskikbare vertalings in Latyn egter so effektief moontlik om Homeros, Herodotus, Pythagoras, Sokrates, Plato en Aristoteles se sleutelgedagtes te verwoord. Aristoteles se etiese en politieke werke sou eers vanaf die 13de eeu in Wes-Europa in Latynse vertaling begin sirkuleer: Salisbury slaag egter daarin om vanuit die beskikbaarheid van die volledige Organon nie slegs die mees vaartbelynde opsomming van Aristoteliese logika daar te stel nie, maar ook om die belangrikste Aristoteliese idees ten opsigte van etiek, psigologie en politiek te begin distilleer. Salisbury se erudisie ten opsigte van die klassieke is die eerste uitstaande eienskap van Policraticus.
Die tweede buitengewone eienskap van Policraticus is stilisties en vestig in Salisbury se uitgebreide en bykans oordrewe gebruikmaking van exempla, wat (helde-)verhale is wat vertel of oorvertel word ten einde ʼn bepaalde lesing of dogmatiese posisie te illustreer. Sommige van hierdie verhale is Bybels in oorsprong, sommige gaan terug na die antieke en patristiese geskiedskrywers, terwyl ander afspeel in kerklike en koninklike politieke ruimtes. Die exempla het die demonstratiewe bedoeling gehad om enersyds mee te werk tot die filosofies spekulatiewe en moreel verhelderende oogmerk van die boek, as wat dit prakties en konkreet relevant wou wees, in die polities onstuimige omstandighede in Engeland in die 1150’s en 1160’s.
Die laaste noemenswaardige en unieke eienskap van Policraticus is tematies, naamlik Salisbury se hantering van die verhouding tussen die sekulêre en geestelike sfere. Salisbury was nie streng gesproke ʼn ‘hiërokratiese’ denker nie, bedoelende dat hy nie gekonformeer het aan die tydgenootlike opvatting dat alle politieke outoriteit direk van God, via die kerk, na wêreldse heersers vloei nie. Trouens, hy dring daarop aan – uniek vir die 12de eeu – dat die sekulêre regering sonder direkte inmenging, deur die kerk moet funksioneer. Soos die siel in die liggaam, vestig die kerklike ampte die algemene oogmerke van ʼn gesonde politieke organisme (te wete die voorwaardes vir verlossing). Maar die kop van die liggaam is verantwoordelik vir die toesig en regulering van die daadwerklike fisiese welsyn van die organisme. Daar vestig ʼn algemene belang binne die gemeenskap, uniek en onderskeibaar van (hoewel altyd meewerkend tot) die uiteindelike geestelike oogmerk van die verlossing. Dit is die bevordering van die algemene belang oftewel die verwesenliking van ʼn regverdige gemeenskap – wat die primêre, tydelike plig van alle konings, prinse en hulle onderdane is. Salisbury aanvaar ná die diskursiewe eise van sy tyd dat die uiteindelike oogmerk van alle menslike bestaan die ewige lewe in die teenwoordigheid van God is. Maar dit impliseer nie ʼn inkorting van die moontlikheid en belangrikheid om die goeie en regverdige reeds in die wêreld te laat realiseer nie. Bykans refreinmatig herhaal Policraticus dat elke mens moreel verplig is om self tot ʼn tydelike vervulling te kom, deur middel van kennisverwerwing en die beoefening van die deugde, of die goeie. So ʼn lewe verdien nie die genade waaruit verlossing na vore tree nie; dit bevestig juis eerder die volkomenheid en vreugde in die wêreldbeskouing van die Christenmens. Salisbury is in Policraticus duidelik besig om antieke, klassieke en Christelike waardes te verbind en om ʼn fundamentele verbintenis tussen antieke morele filosofie en Middeleeuse morele teologie te boekstaaf. (Figuur 1)
|
FIGUUR 1: Die Salisbury-gedenksteen te Chartres-katedraal. |
|
Daarom is Salisbury (1990:27–64) se politieke en morele posisies ook ten nouste met mekaar verweef. Dit blyk duidelik uit sy opvatting van ‘matigheid’ – wat natuurlik ʼn Aristoteliese klemtoon het. Matigheid, of die ‘goue middeweg’, is die strukturele eienskap van alle deugde waarmee ʼn individu moontlik toebedeel mag wees: deugde soos dapperheid en die soeke na geregtigheid is as’t ware middelpunte tussen ondeugde soos oordaad of luiheid. Daarom moet die ondeugde self gebalanseerd geweeg word. Bepaalde aktiwiteite soos jag, banketvieringe, seksuele aktiwiteit en alkoholgebruik is volgens Salisbury nie per definisie afwysbaar nie, maar moet in terme van reëlmaat en intensiteit geweeg word: solank as wat dit nie ʼn oordrewe gewoonte is of telkens met oordaad gepaardgaan nie, is dit aanvaarbaar. Matigheid is ʼn etiese geleier en die basis vir ʼn eties verantwoorde en gelukkige lewe. So moet die koning ook wees: iemand wat mag matig uitoefen, wat enersyds nie sy onderdane oorlaat aan hulle diskresies en drifte nie, maar wat andersyds nie so beheersoekend optree dat die onderdane se vermoë tot die uitoefening van vrye wil aan bande gelê word nie. Koninklike matigheid is die ekwivalent van die respek vir die ware sfeer van individuele vryheid, waartoe elke lid van die politieke gemeenskap toegang behoort te hê. Selfs ʼn oordadige soeke na deug kan in hierdie sin ondeugdelik wees: wanneer die koning oordadig klem plaas op die deug van sy onderdane, kom dit op ʼn ondermyning van matige regering neer. Die koning behoort aan die onderdane genoegsame persoonlike vryheid te verleen, juis sodat hulle kan fouteer en daaruit kan leer, solank as wat die foute wat die onderdane maak nie die wesensinhoude van die Christelike geloof ondermyn of die veiligheid van die politieke gemeenskap in gevaar stel nie. Trouens, die vermoë van die individu om die deugde aan te leer, is afhanklik van die moontlikheid om daarin te faal. Dit is ʼn werklik unieke eties-politieke posisie in die 12de eeu.
Maar hierdie unieke eties-politieke posisie is weliswaar takties: wat Salisbury (1990:161) uiteindelik wil teiken, is juis die eties-politieke verskynsel van tirannie; en hierin wyk Salisbury van sy eie Aristoteliese beginsel van matigheid af. Salisbury se bespreking oor tirannie is trouens die mees invloedryke en mees gekommentarieerde gedeelte in die hele Policraticus. Salisbury (1990:160–162) definieer tirannie eenvoudig as ‘enige poging om die vryheid van die Ander in te perk, ten einde eie ambisies te laat realiseer’. Salisbury se definisie van tirannie verskil grondig van die voorafgaande antieke en Middeleeuse opvattinge van tirannie, wat tirannie normaalweg met ‘boosheid’ of minstens met die vernietigende effek van die misbruik van publieke gesag geassosieer het. Salisbury se teorie van tirannie is generies, in die sin dat sy definisie of teorie toelaat dat die tiran op enige plek en vanuit enige sektor van die samelewing na vore kan tree. Hy bespreek dan juis generies minstens drie sodanige vorme van tirannie uit die samelewing self: die private tiran, die publieke tiran en die kerklike tiran.
Private tirannie vind plaas wanneer enige private subjek die gesag wat aan hom of haar toebedeel is, gebruik om die legitieme vryheid van enige ander private subjek of subjekte te begrens of te ondermyn. Die private tiran kan moontlik na vore tree in die huishouding, op die landgoed, in die distrik, of op enige ander plek waar mag privaat tussen subjekte gevestig is. Die koninklike regering het die verantwoordelikheid om private tirannie teen te gaan, aangesien die koning volgens Salisbury die primêre verantwoordelikheid het om die wet toe te pas en alle sektore van die gemeenskap te beskerm.
Dit is egter juis wanneer monargiese gesag in die hande van ʼn ambisieuse prins beland, dat tirannie publieke gestalte aanneem. Juis omdat die monarg se gesag van ander gestaltes van mag in die sekulêre gemeenskap verskil, synde die hoogste punt van politieke organisering, verteenwoordig die monarg die bevestiging van gangbare sekuriteit, die vryheid van sy onderdane en die bron van wêreldse wetgewing en jurisdiksie. Die publieke tiran opereer dus vanuit die hoogste strukturele posisie en vernietig daarom ‘van bo’, wat beteken dat die publieke tiran nie net enkele segmente van die gemeenskap nie, maar uiteindelik die hele gemeenskap sal vernietig. In ʼn unieke eties-politieke argument dring Salisbury daarop aan dat die lede van die politieke gemeenskap die morele verantwoordelikheid sal opneem – afkomstig uit die beginsel van geregtigheid as sodanig – om die tiran te kritiseer, te korrigeer en, indien dit daarop aankom, te vermoor. ‘Vermoor die tiran indien nodig!’ (Kill the Tyrant!, in Engelse vertalings), is sekerlik een van die bekendste frases vanuit Policraticus. Wat meer is, Salisbury (1990:201–205) beskou dit as ʼn algemene imperatief: nie net het magistrate en regters daardie verantwoordelikheid nie, maar alle segmente in die politieke gemeenskap, aangesien almal ewe verplig is (vanuit hulle gelyke ledeskap in die gemeenskap) om die inhoud van die begrip ‘geregtigheid’ te laat seëvier.
Dit is egter die ‘kerklike tiran’ wat in terme van Salisbury se argument rondom tirannie die mees gevolgryke is: Salisbury (1990:188–209) staan nagenoeg dieselfde ruimte in Policraticus aan ʼn kritiek van kerklui af as wat hy aan ʼn kritiek van politieke gesagsdraers wy. Met die ‘kerklike tiran’ het Salisbury in gedagte die wye skopus van moontlike magsmisbruike in en vanuit die kerk, waar ʼn enkele ampsdraer se persoonlike ambisie en die obsessie met die ‘strukturele vooruitgang’ van die kerk, die eenheid en geestelike versorging van die liggaam van Christus op enige wyse ondergrawe. Salisbury dring aan op ʼn vorm van dubbele ontslag vir die kerklike tiran: afgesien dat die pous self so ʼn priester, biskop, aartsbiskop of kanselier summier uit die amp moet onthef, moet daar ʼn gevolglike strafregtelike vervolging vanuit die sekulêre gesag wees. En indien die kerklike tiran die pous self is? Hoewel Salisbury dit nie pertinent uitspel nie, sou sy nihileringsimperatief ook hier moet geld. ‘Vermoor die pous indien nodig!’… Met hierdie fel aanwysing argumenteer Salisbury vir die onmoontlikheid van enige presedent ten opsigte van die verskoning of meer inskiklike behandeling van enige tiran – en daarin gebruik hy die kerklike tiran juis as hoogste voorbeeld. As selfs die (hoogste) kerklike tiran sonder enige uitsondering vervolg moet word – of gewelddadig verwyder moet word – is daar geen rede om enige ander vorm van tirannie simpatiek te hanteer nie.
Dit is duidelik dat Salisbury filosofiese ondersoek as’t ware na die strate wil neem: filosofie is vir hom geen afstandelike, gespesialiseerde en obskure onderneming nie, maar ʼn integrale eienskap van ʼn aktiewe en dienende lewe binne die politieke arena – en juis ook sprekend van ʼn lewe toegewy aan God. Filosofie is die medium waarvolgens die goeie lewe vir beide die enkeling en gemeenskap kan realiseer. So verbete as wat hy in sy struktuurkritiek is, so relevant stel Salisbury ʼn filosofiese analise van politiek vir sy Middeleeuse gehoor. Policraticus betoog dat die openbare sfeer nie noodwendig korrup is nie, maar wanneer korrupsie wel voorkom, dit filosofies ondersoek, gekritiseer, gekorrigeer en – indien dit daarop aankom – filosofies vernietig moet word, ten einde geregtigheid en die goeie binne die politieke gemeenskap te laat seëvier. Salisbury verdien met Policraticus sy reputasie as die restoureerder van politieke filosofie as ʼn onafhanklike en opkomende vakgebied in die intellektuele sisteem van die Middeleeuse Weste.
Metalogicon
Net ʼn maand nadat Policraticus begin sirkuleer, in Oktober 1159, verskyn Salisbury se ander belangrike teks, Metalogicon. Beide tekste is aan aartsbiskop Thomas Becket opgedra en die eerste kopieë van die twee tekste is tegelyk in Oktober 1159 na Becket te Kantelberg gestuur. Anders as Policraticus is Metalogicon ʼn meer tegniese filosofiese teks, wat Aristoteliese logika, soos opgeneem in die trivium (logika, grammatika en retoriek) as ʼn fundamentele deel van filosofiese onderrig, verdedig.11 Die Griekse titel konformeer nogal aan die de rigueur neiging vanaf die laat 10de eeu om Latynse werke onder Griekse titels te sirkuleer (Anselmus se Proslogion en Monologion, Hugo van Saint-Viktor se Didascalion en Willem van Champeaux se Dragmaticon is bekende ander voorbeelde), wat ironies is, in die sin dat nie enige van hierdie Latynse skrywers Grieks kon lees of skryf nie. Die titel is nogeens ʼn neologistiese sintese: μετάλογικών, meta logicon, wat vertaal sou kon word as ‘aangaande’ of selfs ‘ter wille van’ ‘logika’ of ‘logiese studies’. Salisbury (2013:5) verduidelik self wat hy met die titel in gedagte het, naamlik om die trivium te herbestendig as die primêre vak in die onderrig van studente in teologie en filosofie, veral nadat die trivium onder die aanslag van allerlei ‘progressiewe hervormers’ vanuit die opkomende universiteite gekom het. Salisbury adresseer hierdie polemici van die trivium met die naam Cornificius, wat teruggaan op die verdagmaker van Vergilius en die liberale lettere, sodanig benoem deur Donatus in sy biografie van Vergilius, Vita Vergilii interpolata. Deur afstand te handhaaf teenoor 12de-eeuse tydgenote wat die trivium geheel uit die kurrikulum wou weer, juis deur hulle nie by die naam te noem nie, stel Salisbury homself in staat om self hiperpolemies te wees, sonder om enige individu in die besonder aanstoot te gee – kenmerkend van akademiese protokol in die tyd.
Metalogicon bestaan uit vier boeke (I–IV), wat elkeen uit ʼn verskeidenheid hoofstukke bestaan, onderskeidelik 25 (I), 20 (II), 10 (III) en 42 (IV) – ʼn totaal van 97 hoofstukke (vgl. Salisbury 1971, 2013: Inhoudsopgawe, ix–xii) – wat as volg opgesom kan word:
- Voorwoord en Inleiding: die konteks, doel en algemene aard van die werk
- Boek I: Die trivium en grammatika
- Hoofstuk 1 – 12: Die trivium. Ongeregverdigde aanvalle op die trivium; die aard, gebruikswaarde en belangrike historiese posisie van die trivium in die liberale lettere.
- Hoofstuk 13 – 25: Grammatika. Die aard, inhoud en gebruikswaarde van grammatika; ʼn didaktiese aanwysing vir onderrig in grammatika.
- Boek II: Logika – Algemene waarnemings
- Hoofstuk 1 – 15: Die oorspronge, aard en gebruikswaarde van formele logika.
- Hoofstuk 16 – 20: ʼn Didaktiese aanwysing vir onderrig in en studie van logika.
- Boek III: Logika – Inhoude
- Hoofstuk 1: Porphyreus se Isagoge.
- Hoofstuk 2 – 3: Aristoteles se Categoriae. (Onthou dat Salisbury die volledige Organon van Aristoteles in Latynse vertaling tot beskikking gehad het.)
- Hoofstuk 4: Aristoteles se De Interpretatione.
- Hoofstuk 5 – 10: Aristoteles se Topica.
- Boek IV: Logika en waarheid
- Hoofstuk 1 – 8: Aristoteles se Analytica Priora en Analytica Posteriora.
- Hoofstuk 9 – 20: Kognitiewe funksies: fakulteite, werkinge, onderwerpe en redevoeringe.
- Hoofstuk 21: Voorwaardelike redevoering.
- Hoofstuk 22 – 23: Sofistiese redevoering en Aristoteles se De Sophisticis Elenchis.
- Hoofstuk 24 – 29: Hoe Aristoteles se Organon in die algemeen onderrig en bestudeer moet word.
- Hoofstuk 30 – 42: Waarheid en affektiewe sowel as praktiese waarheidsherkenning as die mens se hoogste doel.
Duidelik is Metalogicon nie net ʼn verdedigingsteks ter wille van die integriteit van die trivium nie, maar inderdaad ʼn opvoedkundige werk: Metalogicon argumenteer vir ʼn behoorlike opvoeding in die liberale lettere met betrekking tot die korrekte gebruik van woorde (mondeling sowel as skriftelik) en ‘woorde midde redevoering’, in die formele onderrig en studie van logika en grammatika. Die werk maan teen oppervlakkige karikature van die trivium en ʼn populistiese omarming van dit wat sogenaamd ‘eietyds en daarom beter’ is. Daar is sekere dinge waarop daar nou eenmaal nie vanuit die geskiedenis verbeter kan word nie – en dit sluit ʼn behoorlike opvoeding in grammatika in, wat insluit taalkunde, skryf- en speltegniek, tekskomposisie en retoriek; ingebed in grondige kennis van letterkunde, insluitende poësie en geskiedenistekste. Dit sluit ook ʼn behoorlike opvoeding in logika in, wat sowel die tegniek as die kuns van teenspraakvrye redevoering is. In hierdie rubrieke het Aristoteles se Organon volgens Salisbury geen gelyke nie. Die Organon onderrig sistematies die vermoëns en fakulteite van die ervaring, die verbeelding, rasionele verantwoording en die intuïtiewe begrip; en vandaar, die moontlikheid van wetenskaplike kennisverwerwing en miskien uiteindelik tog, wysheid. Die waarheid, synde kognitief, affektief en prakties, word Aristotelies aangebied as die hoogste doel van die menslike soeke en verwesenliking van lewensin.
Allermins is Metalogicon bloot ʼn dienstige lesing van die Organon: selfs net ʼn oorhoofse lesing van die teks dui op Salisbury se erudisie en trouens diepe aangewesenheid op die klassieke Griekse en Romeinse skrywers, tesame met talle patristiese en voorafgaande Middeleeuse skrywers. In die teks lees ons aanhalings uit en kommentaar op baie meer as die Organon: Plato se Timaeus, saam met Chalcidius en Apuleius se kommentaar op Plato; Porphyreus, Cicero, (Lucius Annaeus) Seneca, Quintilianus, (Markus Annaeus) Seneca, Martianus Capella, Hippokrates, Plineus, Palladius, Vegetius, Terentius, Catulus, Vergilius, Horatius, Ovidus, Publilius Syrus, Valerius Maximus, Persius, Martialus, Lucanus, Statius, Juvenalus, Suetonius, Gellius, Macrobius en Pseudo-Plautus; terwyl die kerkvaders en voorafgaande Middeleeuse skrywers grondig bespreek word: Hilarius van Poitiers, Hieronymus, Ambrosius, Augustinus, Gregorius, (Pseudo)-Dionisius, Nemesius, Fulgentius, Claudianus Mamertus, Boethius, Alcuin, Isidorus, Abelardus, Gilbertius, Hugo, Willem van Conches en Bernardus. Salisbury is hiermee nie naamstrooiend demonstratief nie: hy haal elkeen van hierdie voorgangers met grondige verwysings per voetnoot met uitgebreide kommentaar aan, om sy argument ter wille van die instandhouding van die trivium en ʼn algemene opvoeding vanuit die klassieke te boekstaaf. Hy doen dit ook in die keurigste Middeleeuse Latyn, tot die mate dat sy Latyn telkens as ‘perfek’, ‘foutloos’ en ‘grasieus’ bestempel is (Poole 1924:31).12
Metalogicon reflekteer die veelsydigheid van die skrywer daarvan: dit is ʼn 12de-eeuse landmerk in talle dissiplines, insluitende filosofie, teologie en opvoedkunde. Waar Policraticus die eerste Middeleeuse werk vanuit die Latynse Weste in die dissipline van politieke teorie of politieke filosofie was, kan Metalogicon met reg as die eerste opvoedkundige handboek van die Middeleeuse Weste, langs Hugo se Didascalion, bestempel word. Metalogicon is die eerste Middeleeuse werk vanuit die Latynse Weste wat die volledige Organon bespreek en as ʼn bloudruk vir die wydgaande studie van Aristoteliese logika aangebied en aangemoedig het. Metalogicon se oortuigende argumente vir die beheersing van die liberale lettere van grammatika, retoriek en logika, asook die implikasies wat hierdie beheersing vir beide induktiewe en deduktiewe argumentvoering inhou, was uiteraard nie net vir die hoë skolastiek van die 13de en 14de eeue betekenisvol nie – dit is tot vandag toe geldig vir outentieke wetenskapsbeoefening en die summiere afwysing van strooipop-filosofie, pseudo-akademiese banaliteite en kwasi-wetenskaplikheid.
Die Saresberiensis-navorsing, 2013–2018
Teen die agtergrond van bogenoemde bespreking kan die vier merkwaardige uitsette vanuit die Saresberiensis-navorsing vanaf 2013 tot 2018 in perspektief gestel word. Die ongewoonheid van hierdie vaartversnelling in die navorsing moet beklemtoon word: dat ʼn vertaling, ʼn inleidingswerk, ʼn monografie en ʼn nuwe ensiklopediese inskrywing oor ʼn Middeleeuse denker (wat buite die nisnavorsing ongetwyfeld ʼn randfiguur in die Middeleeuse korpus is) binne net vyf jaar gepubliseer word, is werklik merkwaardig.
Die 2013 vertaling van Metalogicon (Hall en Haseldine)
In 2013 verskyn daar uit die Saresberiensis-nisnavorsing ʼn bygewerkte vertaling van Metalogicon (Salisbury 2013, deur J.B. Hall en J.P. Haseldine) by Brepols, gebaseer op die laaste bygewerkte redaksiewerk in Latyn (Salisbury 1991, deur J.B. Hall en K.S.B. Keats-Rohan) in die reeks Corpus Christianorum Continuatio Mediaevalis (CCCM 98), Ioannis Saresberiensis Metalogicon. Ten spyte van vyf uitgawes in Latyn (Parys 1610, Leiden 1639, Amsterdam 1664 [al drie gebaseer op MS Codex I, i–ii, 31, Cambridge University Biblioteek], J.A. Giles se vyf-volume Ioannis Sarisberiensis, Opera Omnia, nunc primum in unum colligit et cum codicibus manuscriptis contulit [Universiteit van Oxford 1848] en die Migne-uitgawe van 1855 [Patrologia Latina 199]), was daar geen vertaling van die volle teks in Frans, Duits of Engels beskikbaar nie, tot en met McGarry (1971) se eerste en betroubare Engelse vertaling, wat vir meer as 40 jaar die lesing van die primêre teks in ʼn moderne taal bemoontlik en die navorsing getrou gedien het. Met die kritiese bywerking van die Latynse teks self, gebaseer op eietydse tekskritiese metodes, moes ʼn vertaling vanuit die Latyn weldra volg. Opvallend was dit dat Lejeune (2009) se vertaling van en kommentaar op Metalogicon in Frans wat die leiding geneem het om die CCCM 98 Latynse uitgawe as bronteks te gebruik. Lejeune se vertaling is wel op CCCM 98 gebaseer, maar gee nie die Latynse teks parallel weer nie. Dit is juis in hierdie opsig waarin Hall, emeritus professor in Latyn by die Universiteit van Londen, en Haseldine, professor in Middeleeuse geskiedenis by die Universiteit van Hull, se vertaling uitmunt: vir die eerste keer is dit moontlik om die CCCM 98 Latynse teks se ooreenstemmende bladsye met ʼn onberispelike vertaling in Engels te kan lees. Dit is ʼn uitnemende bydrae tot die Saresberiensis-navorsing, sowel as tot die groter ensiklopedie van Middeleeuse filosofie.
Die 2015 inleidingswerk by Brill (Grellard en Lachaud)
In 2015 word ʼn omvattende inleidingswerk, die eerste in meer as drie dekades,13 oor Johannes van Salisbury se intellektuele nalatenskap by Brill te Leiden in die reeks Brill’s companions to the Christian tradition, onder redaksie van C. Grellard14 en F. Lachaud,15 gepubliseer. Met bydraes wat die mees resente ontwikkelinge in al die fasette van die nisnavorsing ondervang, word 13 bydraes uit die werk aangebied wat Salisbury in die politieke landskap gedurende die regering van koning Hendrik II en die kerkpolitieke konteks van die 12de eeu situeer. Ná ʼn grondige inleiding deur die redakteurs (Grellard en Lachaud 2015a), voltrek die inleidingswerk in vier afdelings: I) Historiese konteks (Barrau16 2015; Bollermann17 en Nederman18 201519; Giraud20 en Mews21 201522), II) Salisbury as ʼn skrywer (Hermand-Schebat23 2015; Monagle24 2015; Pepin25 2015), III) Die intellektuele bedding van die 12de eeu (Bloch26 2015; Grellard27 2015; Nederman28 2015; Sassier29 2015; Sønnesyn30 2015) en IV) Die Salisbury-resepsie (Lachaud31 2015). Hierdie oorsigwerk is ʼn keurige toevoeging tot die oplewing in Saresberiensis-navorsing die afgelope vyf jaar in die besonder.
Die 2018 monografie (O’Daly)
Maar in 2018 verskyn daar ook ʼn uitstekende Salisbury-monografie deur Irene O’Daly by Manchester University Press: John of Salisbury and the Medieval Roman Renaissance; die eerste sodanige oorsigwerk sedert Cary Nederman die navorsing bygewerk het in sy omvattende 2005-publikasie, John of Salisbury. O’Daly se werk is uniek en lewer ʼn buitengewone bydrae tot die Saresberiensis-navorsing. Die werk dui naamlik aan in welke mate Salisbury se denke geïnspireer is deur Romeins-Stoïsynse bronne en hoe Salisbury op unieke wyse daarin kon slaag om hierdie bronne met die patristiese oorlewering te sintetiseer. Hierdie sinteses word in Salisbury se politieke denke nagespeur en deur O’Daly in ʼn koherente aanbod argumentatief gekontekstualiseer.
O’Daly werk dus met ʼn vars premisse: anders as om Salisbury se denke binne Middeleeuse humanisme, vroeg-skolastiek of ʼn suiwer Aristotelianisme te situeer, gebruik sy die opvatting van ʼn ‘Romeinse Renaissance’ (O’Daly 2018:29), wat volgens haar via Cicero en Seneca in die besonder Middeleeuse filosofiese refleksie gevoed het. Sy bied Salisbury aan as ʼn denker wat by uitstek deur hierdie Romeinse bronne gevoed is en vul ʼn nis in die navorsing deur geslaagd aan te dui dat hierdie invloed op Salisbury, spesifiek in terme van die Stoïsynse nawerking, nog nie in die nisnavorsing verreken is nie.
O’Daly se werk val in agt dele uiteen: ʼn inleiding (1–24); (1) The Roman inheritance (25–66); (2) Nature and reason (67–91); (3) Defining duties: the cooperative model of the polity (92–116); (4) Political relationships in context: the body politic (117–144); (5) Moderation and the virtuous life (145–180); (6) The princely head (181–220), gevolg deur ʼn samevatting en konklusie. Die inleiding verskaf ʼn wydgaande oorsig oor Salisbury se lewe, opvoeding en loopbaan; die basiese historiografiese beginsels wat in terme van die eksegese van Salisbury se tekste tot dusver gegeld het, wat O’Daly afspeel teen haar eie metodologie (die sogenaamde ‘Cambridge-model’ wat politieke denke streng ontleed binne die konteks wat dit geproduseer het). Ná hierdie omvangryke inleiding ondersoek O’Daly in deel 1 Salisbury se disposisie teenoor die klassieke uitsette, met die leidingsvraag waarom Salisbury enersyds so geïnteresseerd was in die tekste, maar andersyds geen erg gehad het aan die kulturele bedding en konteks waarbinne hierdie tekste geproduseer is nie. Sy bied ʼn oorsig van Salisbury se voorkeurbronne aan, veral ten opsigte van die aard van die aanbod vanuit die klassieke bedding self: waar, wanneer en in watter formaat en vertaling Salisbury hierdie tekste teëgekom en sy eie gemaak het. Hoofstukke 2 tot 5 vorm ʼn eenheid, ten opsigte van Romeins-Stoïsynse filosofie as kritiese informant van Salisbury se politieke filosofie. In deel 2 ondersoek O’Daly Salisbury se ontleding van die waarde van die verhouding tussen natuur en rede, ‘gedetermineer deur genade’; wat ‘natuur’ is en waarom ʼn optrede in ooreenstemming met ‘natuur’ ook ‘redelik’ en daarom juis ‘waardevol’ is. In deel 3 skakel O’Daly hierdie natuurbegrip met die politieke liggaam: daar ontstaan verpligtinge, ontleen aan ‘natuurlike konvensies’, wat universeel toepaslik is.
In dele 2 en 3 aksentueer O’Daly die Romeins-Stoïsynse moment in Salisbury se denke en jukstaponeer dit (polemies) met die humanistiese, Aristoteliese en in die mate waarin Salisbury wel skolasties was, die vroeë skolastiese perspektiewe op Salisbury se politieke denke. Salisbury se opvatting van die menslike liggaam as metafoor vir die politieke liggaam word in deel 4 uitgewerk: O’Daly ondersoek die bronne vir hierdie metafoor, waar en hoe die metafoor in heidense en Christelike kontekste uitgewerk is (onder meer in Paulus se ekklesiologie) en hoe Salisbury hierdie metafoor nuut interpreteer en implementeer, naamlik as ʼn verduideliking van die interne kohesie van die politieke liggaam, sowel as dat die ledemate van die liggaam radikaal interafhanklik funksioneer.
In dele 5 en 6 word die konsekwensies van hierdie metafoor skerper institusioneel oordink: Salisbury se definisie van deug en matigheid word herondersoek, maar nou, op O’Daly se aandrang, nie as ʼn Aristoteliese invloed nie, maar as ʼn pertinent Romeins-Stoïsynse nawerking. Daarby word geregtigheid as ʼn sleutelbegrip by Salisbury ondersoek en hoe hierdie begrip die politieke liggaam dra en definieer. O’Daly herbesoek Salisbury se aandrang op die verwydering van die tiran, met moord indien nodig, en vind die grondslae van hierdie opvatting weer terug by Cicero en Seneca – en nie by die Grieke32 nie. Die werk voltrek met ʼn opsommende teruglesing en ʼn aanduiding van die koherensie van die argument. O’Daly lewer met hierdie monografie ongetwyfeld ʼn noemenswaardige bydrae tot die Saresberiensis-navorsing.
Die vervanging van die Salisbury-afdeling by SEP (Bollermann en Nedermans)
Die aanlyn Stanford encyclopedia of philosophy (SEP) is sonder enige twyfel die mees betroubare en bygewerkte aanlyn ensiklopedie van filosofie en die enigste van sodanige aanlyn ensiklopedieë wat oor ʼn grondige en prinsipieel insluitende Middeleeuse afdeling beskik (talle randfigure in Middeleeuse filosofie word hier wel per afdeling verreken, van Champeaux tot Conches tot De Rivo). Dit gebeur uitermate selde dat ʼn afdeling in SEP in geheel vervang word: normaalweg – en dit is natuurlik die wins aan ʼn digitale ensiklopedie – word die bydraes eenvoudig bygewerk, soos wat die mees onlangse navorsing in elke veld dit bemoontlik of noodsaak. In 2016 word die afdeling oor Salisury egter in geheel vervang op aandrang van die huidige Salisbury-frontnavorser, Cary Nederman, wat saam met Karen Bollermann die inisiatief geneem het om die Salisbury-afdeling in SEP, in die lig van die momentum in die nisnavorsing oor die voorafgaande paar jaar, letterlik oor te doen. Die afdeling oor Salisbury in SEP is oor die afgelope twee dekades ʼn paar keer bygewerk, maar dit het in 2015 duidelik geword dat ʼn bywerking alleen mank sal gaan aan die rykdom van inligting wat sedert Nedermans (2005) se monografie beskikbaar geraak het.
Die resultaat van hierdie vervanging is indrukwekkend: Bollermann en Nedermans, wat reeds saamgewerk het in die inleidingswerk van Grellard en Lachaud in 2015 by Brill (2015b:63–104), gebruik aspekte van daardie teks sowel as Nederman (2005) en Bollermann se primêre aandeel in die herskrywing van die nuwe afdeling in SEP, om ʼn omvattende beskrywing van Salisbury se denke in die virtuele ruimte beskikbaar te maak. Die afdeling in SEP bestaan uit ʼn inleiding, nege afdelings en ʼn bygewerkte bibliografie, wat op Woensdag 10 Augustus 2016 aanlyn gepubliseer is. Uiteraard is die aanbod informatief en grootliks nie-argumentatief – hoewel die spanning in die nisnavorsing ná die publiekstelling van O’Daly se argument, wat in daardie stadium reeds by ʼn verskeidenheid van seminare in voordragvorm gedien het, in die teks aanvoelbaar is.
Afdeling 1, ‘Biography’ (https://plato.stanford.edu/entries/john-salisbury/#Biog), voorsien ʼn genoegsame biografiese inleiding tot Salisbury se lewe, opvoeding en werk.
Afdeling 2, ‘Classical philosophical sources’ (https://plato.stanford.edu/entries/john-salisbury/#ClasPhilSour), ondersoek Salisbury se bronne (waarby die Romeinse bronne, vir O’Daly se kennisname, pertinent ingesluit word).
Afdeling 3, ‘Philosophical method’ (https://plato.stanford.edu/entries/john-salisbury/#PhilMeth), verken Salisbury se filosofiese metode (en weer word nadruk op sy afhanklikheid van Cicero geplaas).
Afdeling 4, ‘Moderation’ (https://plato.stanford.edu/entries/john-salisbury/#Mode), herondersoek Salisbury se toepassing van die begrip ‘matigheid’ en argumenteer opnuut vir die Aristoteliese en nie-Romeinse grondslae daarvan.
Afdeling 5, ‘Princely moderation’ (https://plato.stanford.edu/entries/john-salisbury/#PrinMode), pas bogenoemde begrip op die politieke liggaam en binne die konteks van akademiese skeptisisme toe.
Afdeling 6, ‘Anti-Epicureanism’ (https://plato.stanford.edu/entries/john-salisbury/#AntiEpic) lig ʼn faset van Salisbury se denke toe wat tot op daardie datum ondergekommentarieerd was, naamlik sy polemiese interpretasie van die filosofie van Epikureërs en waarom hy daardie filosofiese stelsel as ontoepaslik vir die welsyn van die politieke liggaam bestempel het.
Afdeling 7, ‘Naturalism’ (https://plato.stanford.edu/entries/john-salisbury/#Natu), herondersoek die rol wat Salisbury aan die natuur in die grondslae van maatskaplike en politieke ordes toeken – en opvallend, volgens Bollermann en Nederman, nie net in Policraticus nie, maar ook in Metalogicon.
Afdeling 8, ‘The body politic’ (https://plato.stanford.edu/entries/john-salisbury/#BodyPoli), verskaf ʼn oorsig van die organiese metafoor vir die funksie, werksverrigting en radikale inter-afhanklikheid binne die politieke liggaam, soos uiteengesit in Policraticus.
Afdeling 9, ‘Practical philosophy’ (https://plato.stanford.edu/entries/john-salisbury/#PracPhil), is die enigste werklik argumentatiewe gedeelte in die SEP-bydrae, in die sin dat al Salisbury se nie-filosofiese werke (korrespondensie, die getuiglesings vir Anselmus en Becket, asook die kort historiese tekste in Historia Pontificalis) deur Bollermann en Nederman steeds as ‘filosofie’ gerubriseer word, hoewel as ‘praktiese filosofie’ – waarmee die skrywers argumenteer vir ʼn ‘sentrale toegewydheid’ aan die geleefde lewe, met die hewige interne politieke en etiese spanninge in die geleefde lewe in Salisbury se werk.
Die afdeling in SEP word afgesluit met ʼn bygewerkte bibliografie, waarin die belangrikste tekste uit die sekondêre afdeling oor die afgelope twee dekades ingesluit word. Geen tekste van O’Daly is gelys nie.
Slot
Die merkwaardige uitsette vanuit die Saresberiensis-navorsing oor net die afgelope vyf jaar dui aan wat vermag kan word wanneer die nisnavorsing in Middeleeuse filosofie momentum kry en navorsers in vinnige opeenvolging op mekaar se werk voortborduur. Dat daar interne vakpolemiek in so ʼn kompeterende en gespanne werksruimte sal wees, is verstaanbaar. Daardie spanning is egter produktief: sou dieselfde impetus in die navorsing vanaf 2013 tot 2018 gerealiseer het, indien dit nie rugbaar geword het dat die gestandaardiseerde Saresberiensis-resepsie onder druk gaan kom nie, vanuit ʼn hoogs bevoegde maar polemiese lesing, wat voorkeur verleen aan die Romeinse invloede, eerder as aan die Aristoteliese nawerking, in Salisbury se twee belangrikste werke, Policraticus en Metalogicon? Maar daarby, en uiteindelik is juis dit in die groter vakgebied belangriker: sou hierdie opwelling van inisiatiewe in die nisnavorsing, die ‘kanon’ of ‘hoofstroom’-navorsing effektief kon impakteer? Reguit gestel: sal ons vorentoe net soveel van Salisbury as van Ockham in inleidingswerke, bloemlesings en in (uiteraard ongereguleerde) digitale kommentare kan lees? Tyd sal geduldig moet leer: maar wanneer die nisnavorsing binne net vyf jaar uitsette lewer wat die gespesialiseerde belange van die nis transendeer, veral ten opsigte van ʼn marginale figuur soos Johannes van Salisbury in Middeleeuse filosofie, is dit ʼn geskenk waarby nie met te veel geduld verbygegaan kan word nie. Hierdie uitsette dui aan dat navorsing in Middeleeuse filosofie sinteties steeds bo die gestandaardiseerde bronne kan uitstyg en die ‘kanon van Middeleeuse filosofie’ altyd nog ʼn keer kan verruim – maar daardie toenemend problematiese ‘kanon’ ook effektief kan begin ondermyn.
Ut enim monachōrum opera legerem, necesse erat mē ipsum monachum fierī.
Erkenning
Mededingende belange
Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig in die skryf van hierdie artikel kon beïnvloed nie.
Outeursbydrae
J.B. was die enigste outeur betrokke by die skryf van hierdie artikel.
Befondsing
Befondsing vir die publikasie is deur die Departement Filosofie, Universiteit van die Vrystaat verskaf.
Data-beskikbaarheidsverklaring
Data-deling is nie van toepassing op hierdie artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.
Vrywaring
Die outeur verklaar dat standpunte ingeneem die outeur se eie standpunte is en nie die standpunte van enige institusie of organisasie reflekteer nie.
Literatuurverwysings
Anselmus, 1974, Anselm of Canterbury. Monologion, Proslogion, Debate with Guanilo and Meditation on human redemption, J. Hopkins en H. Richardson (eds. en transl.), SCM, London.
Anselmus, 1998, Anselm of Canterbury: The major works, B. Davies & G.R. Evans (eds. en transl.), Oxford University Press, Oxford.
Barrau, J., 2015, ‘John of Salisbury as ecclesiastical administrator’, in C. Grellard & F. Lachaud (eds.), A companion to John of Salisbury, pp. 105–146, Brill, Leiden.
Beaudouin, B-Y., (2011), Français: Plaque apposée à Chartres [online]. Available at: https://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/b/b4/Chartres_-_Plaque_Jean_de_Salisbury.jpg
Beukes, J., 2009a, ‘Hamartia: Foucault & Iran 1978–1979 (I Introduction & texts)’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 65(1), Art. #124. https://doi.org/10.4102/hts.v65i1.124
Beukes, J., 2009b, ‘Hamartia: Foucault & Iran 1978–1979 (II Scholarship & significance)’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 65(1), Art. #125. https://doi.org/10.4102/hts.v65i1.125
Beukes, J., 2011a, ‘God kan net doen wat God wel doen: Petrus Abelardus se Megariaanse argument in Theologia Scholarium, Opera Theologia III’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 67(1), Art. #124. https://doi.org/10.4102/hts.v67i1.124
Beukes, J., 2011b, ‘Die konstellasie taalbegrip-logika in die Middeleeuse filosofie (1): Augustinus tot Aquinas’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 67(3), Art. #1072. https://doi.org/10.4102/hts.v67i3.1072
Beukes, J., 2012a, ‘Die konstellasie taalbegrip-logika in die Middeleeuse filosofie (2): Duns Skotus tot De Rivo’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 68(1), Art. #1112. https://doi.org/10.4102/hts.v68i1.1112
Beukes, J., 2012b, ‘Vanaf Ockham na Kusa: Die ensiklopediese aanspraak van ’n post-skolastiek in die Middeleeuse filosofie’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 68(1), Art. #2381. https://doi.org/10.4102/hts.v68i1.1134
Beukes, J., 2018a, ‘’n Herlesing van Pseudo-Dionisius se metafisika’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 74(4), Art. #5111. https://doi.org/10.4102/hts.v74i4.5111
Beukes, J., 2018b, ‘Dionisiese spore in Kusa se metafisika’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 74(4), Art. #5112. https://doi.org/10.4102/hts.v74i4.5112
Beukes, J., 2018c, ‘Die Arabiese trajek in die Karolingiese periode in Middeleeuse filosofie’, Litnet Akademies 15(4), 502–564.
Beukes, J., 2018d, ‘Die Arabiese trajek in die post-Karolingiese periode in Middeleeuse filosofie’, Litnet Akademies 15(4), 565–526.
Bloch, D., 2012, John of Salisbury on Aristotelian science, Brepols, Turnhout.
Bloch, D., 2015, ‘John of Salisbury on science and knowledge’, in C. Grellard & F. Lachaud (eds.), A companion to John of Salisbury, pp. 289–306, Brill, Leiden.
Bollermann, K. & Nederman, C.J., 2015, ‘John of Salisbury and Thomas Becket’, in C. Grellard & F. Lachaud (eds.), A companion to John of Salisbury, pp. 63–104, Brill, Leiden.
Bollermann, K. & Nederman, C.J., 2016, ‘John of Salisbury’, in E.N. Zalta (ed.), The Stanford encyclopedia of philosophy, viewed 20 November 2018, from https://plato.stanford.edu/entries/john-salisbury/.
Bosley, R.N. & Tweedale, M. (eds.), 2004, Basic issues in medieval philosophy. Selected readings presenting the interactive discourses among the major figures, Broadview Press, Ontario.
Brooke, C.N.L., 1984, ‘John of Salisbury and his world’, in M. Wilks (ed.), The world of John of Salisbury, pp. 1–20, Blackwell, Oxford.
Brown, S.F. & Flores, J.C., 2007, ‘John of Salisbury’, Historical dictionary of Medieval philosophy and theology, pp. 162–163, The Scarecrow Press, Plymouth.
Canning, J., 1996, A history of Medieval political thought 300–1450, Routledge, Londen.
Colish, M.L., 1999, Medieval foundations of the Western intellectual tradition, 400–1400, Yale University Press, New Haven.
Copleston, F.C., 1993, A history of philosophy (Volume II): Medieval philosophy, Doubleday, New York.
Dronke, P. (red.), 1988, A history of twelfth-century Western philosophy, Cambridge University Press, Cambridge.
Gilson, E., 1940, The spirit of Mediaeval philosophy, Scribner, New York.
Giraud, C. & Mews, C., 2015, ‘John of Salisbury and the schools of the 12th century’, in C. Grellard & F. Lachaud (eds.), A companion to John of Salisbury, pp. 31–62, Brill, Leiden.
Grabmann, H., 1957, Die Geschichte der scholastischen Metode, vol. II, Akademie Verlag, Berlyn.
Gracia, J.J.E. & Noone, T.B. (eds.), 2006, A companion to philosophy in the Middle Ages, Blackwell, Oxford.
Grant, E., 2004, God and reason in the Middle Ages, Cambridge University Press, Cambridge.
Grellard, C., 2015, ‘John of Salisbury and theology’, in C. Grellard & F. Lachaud (eds.), A companion to John of Salisbury, pp. 339–376, Brill, Leiden.
Grellard, C. & Lachaud, F., 2015a, ‘Introduction’ in C. Grellard & F. Lachaud (eds.), A companion to John of Salisbury, pp. 1–30, Brill, Leiden.
Grellard, C. & Lachaud, F. (eds.), 2015b, A companion to John of Salisbury, Brill, Leiden.
Hannam, J., 2009, God’s philosophers: How the Medieval world laid the foundations of modern science, Icon Books, Londen.
Haren, M., 1985, Medieval thought. The Western intellectual tradition from antiquity to the thirteenth century, Macmillan, Londen.
Hermand-Schebat, L., 2015, ‘John of Salisbury and classical antiquity’, in C. Grellard & F. Lachaud (eds.), A companion to John of Salisbury, pp. 180–214, Brill, Leiden.
Hyman, A., Walsh, J.J. & Williams, T. (eds.), 2010, Philosophy in the middle ages: The Christian, Islamic and Jewish traditions, Hackett, Indianapolis, IN.
Kemer, M., 1977, Johannes von Salisbury und die logische Struktur seines Policraticus, Franz Steiner Verlag, Wiesbaden.
Kenny, A., 2005, Medieval philosophy, Clarendon Press, Oxford.
Kneepkens, C.H., 2006, ‘John of Salisbury’, in J.J.E. Gracia & T.B. Noone (eds.), A companion to philosophy in the Middle Ages, pp. 392–396, Blackwell, Oxford.
Koterski, J.W., 2009, An introduction to Medieval philosophy: Basic concepts, Wiley-Blackwell, Sussex.
Kretzmann, N., Kenny, J. & Pinborg, J. (eds.), 1982, The Cambridge history of later Medieval philosophy. Cambridge: Cambridge University Press.
Lachaud, F., 2015, ‘Filiation and context: The Medieval afterlife of the Policraticus’, in C. Grellard & F. Lachaud (eds.), A companion to John of Salisbury, pp. 377–438, Brill, Leiden.
Lagerlund, H. (red.), 2011, Encyclopedia of Medieval philosophy. Philosophy between 500 and 1500, Springer, Londen.
Lejeune, F. (transl., introd. and ed.), 2009, Jean de Salisbury. Metalogicon. Présentation, traduction, chronologie, index et notes, Vrin, Parys.
Liebeschütz, H., 1950, Mediaeval humanism in the life and writings of John of Salisbury, The Warburg Institute, Londen.
Luscombe, D.E., 1984, ‘John of Salisbury in recent scholarship’, in M. Wilks (ed.), The world of John of Salisbury, pp. 21–37, Blackwell, Oxford.
Luscombe, D.E., 1997 (2004), Medieval thought, Oxford University Press, Oxford.
Marenbon, J., 1998, Medieval philosophy, Routledge History of Philosophy, vol. III, Routledge, Londen.
Marenbon, J., 2007, Medieval philosophy: An historical and philosophical introduction, Routledge, Londen.
Martin, C.J.F., 1996, An introduction to Medieval philosophy, Edinburgh University Press, Edinburgh.
Martin, J., 1984, ‘John of Salisbury as a classical scholar’, in M. Wilks (red.), The world of John of Salisbury, pp. 179–201, Blackwell, Oxford.
McGarry, D.D., 1971, ‘Introduction’, in J. Salisbury, The Metalogicon of John of Salisbury, A twelfth-century defense of the verbal and logical arts of the trivium, pp. xv–xxvii, University of California Press, Berkeley, CA.
McGrade, A.S. (red.), 2003, The Cambridge companion to Medieval philosophy, Cambridge University Press, Cambridge.
Monagle, C., 2015, ‘John of Salisbury and the writing of history’, in C. Grellard & F. Lachaud (eds.), A companion to John of Salisbury, pp. 215–234, Brill, Leiden.
Moran, D., 2007, ‘Nicholas of Cusa and modern philosophy’, in J. Hankins (ed.), The Cambridge companion to Renaissance philosophy, pp. 173–192, Cambridge University Press, Cambridge.
Nederman, C.J., 1990, ‘Biography’, in J. Salisbury, Policraticus: Of the frivolities of courtiers and the footprints of philosophers, pp. xvi–xxvi, Cambridge University Press, Cambridge.
Nederman, C.J., 2005, John of Salisbury, Arizona Center for Medieval and Renaissance Studies, Tempe, AZ.
Nederman, C.J., 2009, Lineages of European political thought. Explorations along the Medieval/modern divide from John of Salisbury to Hegel, The Catholic University of America Press, Washington, DC.
Nederman, C.J., 2011, ‘John of Salisbury’, in H. Lagerlund (ed.), Encyclopedia of Medieval philosophy. Philosophy between 500 and 1500, pp. 637–641, Springer, Londen.
Nederman, C.J., 2015, ‘John of Salisbury’s political theory’, in C. Grellard & F. Lachaud (eds.), A companion to John of Salisbury, pp. 258–288, Brill, Leiden.
O’Daly, I., 2018, John of Salisbury and the Medieval Roman Renaissance, Manchester University Press, Manchester.
Pasnau, R. & Van Dyke, C. (eds.), 2010a, The Cambridge history of Medieval philosophy Volume I, Cambridge University Press, Cambridge.
Pasnau, R. & Van Dyke, C. (eds.), 2010b, The Cambridge history of Medieval philosophy Volume II, Cambridge University Press, Cambridge.
Pepin, R.E., 2015, ‘John of Salisbury as a writer’, in C. Grellard & F. Lachaud (eds.), A companion to John of Salisbury, pp. 147–179, Brill, Leiden.
Poole, R.L., 1924, ‘Early correspondence of John of Salisbury’, Proceedings of the British Academy XI, 31–51.
Salisbury, J., 1855, ‘Opera omnia’, in J.-P. Migne (ed.), Patrologia Latina 199, viewed 27 November 2018, from http://patristica.net/latina.
Salisbury, J., 1971, The Metalogicon of John of Salisbury, A twelfth-century defense of the verbal and logical arts of the trivium, D.D. McGarry (ed. and transl.), University of California Press, Berkeley, CA.
Salisbury, J., 1979, The letters of John of Salisbury. Volume 2: The later letters (1163–1180), W.J. Millor & C.N.L. Brooke (ed. and transl.), Oxford University Press, Oxford.
Salisbury, J., 1986a, The letters of John of Salisbury. Volume 1: The early letters (1153–1161), W.J. Millor, H.E. Butler & C.N.L. Brooke (ed. and transl.), Oxford University Press, Oxford.
Salisbury, J., 1986b, The Historia Pontificalis of John of Salisbury, M. Chibnall (ed. and transl.), Clarendon Press, Oxford.
Salisbury, J., 1987, Entheticus maior et minor, L. Van Laarhoven (ed.), vols. 1 tot 3, Brill, Leiden.
Salisbury, J., 1990, Policraticus: Of the frivolities of courtiers and the footprints of philosophers, C.J. Nederman (ed. and transl.), Cambridge University Press, Cambridge.
Salisbury, J., 1991, Ioannis Saresberiensis Metalogicon, J.B. Hall & K.S.B. Keats-Rohan (eds.) Corpus Christianorum Continuatio Mediaevalis 98, Brepols, Turnhout.
Salisbury, J., 1993, Ioannis Saresberiensis Policraticus I–IV, K.S.B. Keats-Rohan (eds.) Corpus Christianorum Continuatio Mediaevalis 118, Brepols, Turnhout.
Salisbury, J., 2013, Metalogicon, J.B. Hall & J.P. Haseldine (eds.), Brepols, Turnhout.
Sassier, Y., 2015, ‘John of Salisbury and law’, in C. Grellard & F. Lachaud (eds.), A companion to John of Salisbury, pp. 235–257, Brill, Leiden.
Sønnesyn, S., 2015, ‘Qui recta quae docet sequitur, uere philosophus est: The ethics of John of Salisbury’ in C. Grellard & F. Lachaud (eds.), A companion to John of Salisbury, pp. 307–338, Brill, Leiden.
Walzer, R., 1967, ‘Islamic and Greek philosophy: al-Kindi and ar-Razi; al-Farabi and his successors’, in A.H. Armstrong (ed.) The Cambridge history of later Greek and early Medieval philosophy, pp. 648–669, Cambridge University Press, Cambridge.
Webb, C.C.J., 1971, John of Salisbury, Russell & Russell, New York.
Wilks, M. (ed.), 1984, The world of John of Salisbury, Blackwell, Oxford.
Footnotes
1. Let daarop dat die gangbare gebruik in die Middeleeuse navorsing is om Latyn te gebruik wanneer na die nisnavorsing verwys word (‘Saresberiensis-navorsing’), maar per Engelse eienaam na die persoon ‘Salisbury’ te verwys; ook in Duits (Johannes von Salisbury), Frans (Jean de Salisbury) en Nederlands (Johannes van Salisbury; wat ek ook so in Afrikaans gebruik).
Die betroubare inleidingswerk in Duits vanuit die 1950’s, Grabmann (1957:438–451), vertoef grondig by Salisbury. Maar ons vind wisselvallige verwysings na en kortaf besprekings van Salisbury in by verre die meeste ander betroubare, ook betreklik onlangse, inleidingswerke in Middeleeuse filosofie. Vergelyk byvoorbeeld die volgende:
Die redaksionele bloemlesing van Bosley en Tweedale (2004) bevat geen verwysing nie.
Die filosofiese woordeboek van Brown en Flores (2007:162–163) bevat ʼn kriptiese inskrywing van twee paragrawe.
Canning (1996:110–14) bevat ʼn goeie bespreking van Salisbury se politieke filosofie.
Colish (1999:177, 347) bevat twee kort verwysings.
Copleston (1993:172–174) se gestandaardiseerde inleiding verskaf ʼn kriptiese oorsig van ongeveer ses paragrawe.
Dronke (1988:21, 249, 358, 451) bevat vier kort verwysings.
Die resente en hoogs inklusiewe Gracia en Noone gee via ʼn opsomming van Kneepkens (2006:392–396) die belangrikste biografiese en bibliografiese inligting effektief deur.
Grant (2004:48–51, 49, 116, 294) bespreek kortliks Salisbury se hantering van die trivium, met drie kort verwysings daarby.
Hannam (2009) se tematiese inleidingswerk bevat geen verwysing nie.
Haren (1985:90–94) wys slegs op enkele implikasies van Salisbury se werk vir die latere hoog-skolastiek.
Die bloemlesing van Hyman et al. (2010) bevat geen verwysing nie.
Kenny (2005) se inleidingswerk bevat geen verwysing nie.
Die tematiese inleidingswerk van Koterski (2009) bevat geen verwysing nie.
Die sistematiese inleidingswerk van Kretzmann et al. (1982:870) bevat slegs ʼn paragraafverwysing, asook ʼn saaklike bibliografie.
Die resente redaksiewerk van Lagerlund (2011) voorsien via ʼn resumering van Nederman (2011:637–641) ʼn deurtastende bespreking.
Luscombe (1997:55, 87) bevat slegs twee kort verwysings; wat vreemd aandoen, in die lig daarvan dat Luscombe (1984) net meer as ʼn dekade vroeër ʼn grondige navorsingsoorsig aangebied het.
Marenbon (2007) se uitstaande inleidingswerk in soveel ander opsigte bevat slegs vier saaklike verwysings (2007:149–150, 162, 166). Sy ouer geskiedsoorsig (1998:154, 172) bevat slegs twee kort verwysings.
Martin (1996) se inleidingswerk bevat geen verwysing nie.
Die inleidingswerk van McGrade (2003:33, 281) bevat twee saaklike verwysings.
Die tematiese inleidingswerk van Pasnau en Van Dyke (2010b:913) verskaf ʼn kort bespreking, bestaande uit twee paragrawe.
2. Oor periodisering in die Middeleeuse filosofie, sien Beukes (2011a:1, 2011b:1, 2018a:1, 2018b:1). Die skrywer se sesdelige periodisering van Middeleeuse filosofie kom in kort op die volgende neer: (1) Die post-Romeinse periode (vyfde tot sewende eeue [410 {Alaricus I en die eerste barbaarse inval in Rome} tot 668 {d. Konstans II}], met Augustinus [354–430] en Boethius [480–524] as die belangrikste filosofiese eksponente); (2) Die Karolingiese periode (agste en negende eeue [742 {g. Karel I} tot 877 {d. Eriugena}], met Alcuin [730–804] en Eriugena [815–877] as die belangrikste Latyns-Westerse geleiers van die Karolingiese Renaissance, met inbegrip van die opkoms van Arabiese filosofie in Bagdad en Andalusiese Spanje); (3) Die post-Karolingiese periode (negende tot 12de eeue [877 {d. Eriugena} tot 1088 {aanvang van die kruistogte en die opkoms van die vroegste universiteitswese}], met Anselmus [1033–1109] en Abelardus [1079–1142] as die mees gevolgryke onder die Latyns-Westerse denkers wat sou baat by die rehabilitering van die antieke erfenis in die Karolingiese Renaissance); (4) Die vroeg-skolastiese periode (11de tot 13de eeue [1088 {stigting van die Universiteit van Bologne, die eerste Europese universiteit} tot 1225 {g. Aquinas}]); 5) Die hoog-skolastiese periode (13de tot 14de eeue [1225 {g. Aquinas} tot 1349 {d. Ockham}, met Aquinas, Duns Skotus en Ockham as die beroemdstes onder die hoë skolastici]); 6) Die post-skolastiese periode (14de tot 15de eeue [1349 {d. Ockham} tot 1464 {d. Kusa}]).
3. Met inbegrip van Lejeune (2009) se vertaling van en kommentaar op Metalogicon in Frans.
4. Die doel van hierdie artikel is om die onlangse Saresberiensis-navorsing logies en sistematies in terme van filosofiese analises binne hierdie navorsingskonteks te ondersoek. Die aard van die artikel is enersyds oorsigtelik, in die sin dat grondig aandag gegee word aan die tersaaklike intellektuele geskiedenis. Die artikel is andersyds analities en sinteties, bedoelende dat Salisbury se primêre tekste in die mees onlangse Latyn-uitgawes so selfstandig moontlik gelees word, sonder sekondêreteks-begeleiding, waarna die sekondêre tekste geraadpleeg en getoets word aan my lesing, om tot ’n koherente sintese te kom.
5. Hierdie uiteensetting is geskoei op ʼn lesing van die primêre tekste van Salisbury (1855, 1979, 1986a, 1986b, 1987, 1990, 1991, 1993, 2013) en ʼn ontleding en byeenbring van die volgende sekondêre tekste: Barrau (2015:105–146); Bloch (2015:289–306); Bollerman en Nederman (2015:63–104, 2016:1–9); Brooke (1984:1–20); Canning (1996:110–114); Copleston (1993:172–174); Giraud en Mews (2015:31–62); Grabmann (1957:438–451); Grellard (2015:339–376); Grellard en Lachaud (2015a:1–30); O’Daly (2018:1–24); Hermand-Schebat (2015:180–214); Kemer (1977:1–48); Kneepkens (2006:392–396); Lachaud (2015: 377–438); Luscombe (1984:21–37); Martin (1984:179–201); McGarry (1971:xv–xxvii); Monagle (2015:215–234); Nederman (1990:xvi–xxvi; 2005:1–30; 2009:99–121; 2011:637–641; 2015:258–288); Pasnau en Van Dyke (2010a:1–10; 2010b:539–564); Pepin (2015:147–179); Sassier (2015:235–257); Sønnesyn (2015:307–338) en Webb (1971:1–18).
6. Die mees onlangse vertaling en redigering van die onvoltooide Historia Pontificalis is dié van Chibnall (Salisbury 1986b).
7. Vita sancti Anselmi archiepiscopi Cantuariensis, Patrologia Latina 199, 1110–1140; Vita Sancti Thomae Cantuariensis archiepiscopi et martyris, Patrologia Latina 190, 195–203.
8. Die korter weergawe van Entheticus is opgeneem in C.C.J. Webb se 1909-redigering as voorwoord tot die Policraticus, terwyl die langer weergawe net so behoue gebly het in die Migne-uitgawe van 1855 (Patrologia Latina 199:965–1004). Beide weergawes is in 1987 geredigeer deur L. van Laarhoven in drie volumes by Brill (Salisbury 1987).
9. Die Policraticus-teks in Latyn, in die Migne-uitgawe van 1855, is krities geredigeer deur C.C.J. Webb in 1909, in twee volumes. Die eerste vertaling in Engels (The stateman’s book) van J. Dickinson verskyn in 1927, opgevolg deur J.H. Pike se vertaling (Frivolities of courtiers and footprints of philosophers) met redaksionele kommentaar in 1938. Die belangrikste latere vertaling en redigering van Policraticus tot op datum is dié van Nederman (Salisbury 1990), met inbegrip van Keats-Rohan se bywerking van die Latynse teks in die Brepols uitgawe van 1993.
10. Ek bied die afkorting ‘JWGV’ vanuit Anselmus (1033–1109) se metodologiese inleiding tot die skolastiek, aan as ʼn toeganklike definisie vir die skolastiese metode (jukstaposisie, woord vir woord, gesag, verifikasie): 1) Tekste kom tot stand vanuit die jukstaponering van idees en tekste vanuit die bestaande resepsie oor ʼn bepaalde saak; 2) Die bestaande resepsie word woord vir woord gekommentarieer in kantaantekeninge en voetnotas, so omvangryk as moontlik, en uitlatings word verantwoord, terwyl die Aristoteliese tegniek van divisie en subdivisie gevolg word; 3) Die gesag is die tekste en ideëhistoriese voorkommentaar self en nie die Bybelse tekste of die credo’s van die kerk nie; 4) Die geldigheid van skolastiese konklusies word intern geverifieer (met ander woorde, nie met beroep op enige outoriteit buite die immanente teks nie). Die voorwoord van Anselmus se Monologion verskaf enkele belangrike geleiers vir hierdie ontwikkelende styl, wat later as ‘skolastiek’ bekend sou staan. Eerstens dui Anselmus (1974:3) in die voorwoord aan dat boek gerig is aan sy monnike-broers te Bec en dat, op hulle aandrang, geen argumentvoering in die boek op Skrifgesag sal berus nie, maar op rasionele argumentvoering: ‘… rasionele afleiding moet die bewyse verskaf en die helder waarheid moet daarvanuit openlik manifesteer, wat ook al die gevolgtrekkings van die onderskeie ondersoeke in die werk’ (Anselmus 1974:5). Daarom het Anselmus, voordat die boek begin sirkuleer het, alle verwysings na gesag in terme van die Bybel en ander kerklike gesag soos die credo’s van die kerk uit die teks verwyder. Hy het dit aan aartsbiskop Lanfranc in Kantelberg gestuur, wat onthuts was oor die afwesigheid van Skrifverwysings en ander kerklike gesagsverwysings. Tog het Anselmus die werk so laat sirkuleer sonder enige herwysiging – die skolastiese metode het gekom om te bly. Die skolastiese metode was ongetwyfeld ʼn nuwe vorm van filosofiese aanbod in die Latynse Weste. Tog deins Anselmus, wat van nature konserwatief was en wie se eerbied vir gesag ooglopend was, nog terug voor hierdie nuwe metode, wat hy op aandrang van sy broers te Bec ontwikkel het. Die nuwe metode het inderdaad by hom spanning veroorsaak, wat hy in die opvolgwerk Proslogion met ʼn beroep op ‘geloof ten einde te verstaan’ – credo ut intelligam – verantwoord het. Die skolastiese metode is uiteindelik volgens Anselmus net dit: ʼn metode. Dit is nie ʼn refleksie van die skrywer se geloof nie. Tog sou die skrywer nie tot ʼn verstaan van die komplekse sake kon kom sonder geloof nie – soos wat Anselmus reeds met die selfonderbrekende bespreking van die Drie-Eenheid in Monologion aangedui het. Sommige sake wat juis sober rasioneel in terme van skolastiese argumentvoering aangebied word, kan eers verstaan word wanneer dit geglo word. Dit is uiteindelik nie die saaklike korrektheid van die argument wat die laaste woord oor die waarheid daarvan het nie. Anselmus (1974) verwoord dit in Monologion se voorwoord nog so:
Indien ek in hierdie ondersoek ʼn stelling maak wat nie deur ʼn groter outoriteit genoem word nie, en selfs indien my stelling ʼn noodsaaklike gevolg is van redes wat ek as goeie redes beskou, wil ek dat die stelling soos volg ontvang sal word: Dit word nie aangebied as absoluut noodsaaklik (vir die redes daaromtrent aangebied – JB) nie, maar wil verstaan word as in staat om voorlopig noodsaaklik voor te kom. (p. 5)
Met ander woorde, die demonstrasies van die rede binne die konteks van religieuse waarhede is in wisselende grade voorlopig en dra die karakter van hipoteses. In die opvolgende Proslogion, waar Anselmus geen argumentatiewe antesedente hoegenaamd het nie, ook sou hy dit graag wou hê, maak Anselmus (1998:87) vanuit Jesaja 7 vers 9, in samehang met Augustinus se sitaat vanuit dieselfde teksvers uit ʼn prevulgaatvertaling, die duidelikste stelling moontlik van die prioriteit van geloof in die greep op ʼn ‘verstaan van verstaan’: ‘Credo ut intelligam… Ek soek nie begrip ten einde te kan glo nie, maar ek glo ten einde te kan verstaan. Want dit glo ek: as ek nie glo nie, sal ek ook nie verstaan nie’. Hierdie sentiment wou Anselmus (1998:83) aanvanklik oordra as subtitel of selfs die enkeltitel van Proslogion, naamlik as Fides quaerens intellectum (Geloof op soek na verstaan).
11. Die primêre manuskrip van Metalogicon is die Cantuariensis kodeks, op perkament in folio, gehuisves in Corpus Christi College Biblioteek te Cambridge Universiteit: MS Cod. 46, fols. 184–239. Die manuskrip dateer inderdaad uit die 12de of op die heel laaste uit die vroeë 13de eeu en daar bestaan min twyfel dat dit die oorspronklike kopie is wat na Becket in die herfs van 1159 gestuur is (vgl. Poole 1924:31–32; Webb 1971:19). Ten spyte van vyf uitgawes in Latyn (Parys 1610, Leiden 1639, Amsterdam 1664 [al drie gebaseer op MS Codex I, i–ii, 31, Cambridge University Biblioteek], J.A. Giles se vyf-volume Ioannis Sarisberiensis, Opera Omnia, nunc primum in unum colligit et cum codicibus manuscriptis contulit van vyf volumes [Universiteit van Oxford 1848] en die Migne-uitgawe van 1855 [Patrologia Latina 1999]), was daar geen vertaling van die volle teks in Frans, Duits of Engels beskikbaar nie, tot en met McGarry (1971) se eerste en betroubare Engelse vertaling, maar daarna juis die baanbrekende vertaling van die volle teks in Engels in 2013 deur J.B Hall en J.P. Haseldine, gebaseer op die hersiene Latynse teks in die Brepols-uitgawe van Hall en K.S.B. Keats-Rohan in 1991, Ioannis Saresberiensis Metalogicon (Corpus Christianorum Continuatio Mediaevalis 98).
12. McGarry (1971:xxiv) wys op talle aspekte van hierdie ‘perfekte Middeleeuse Latyn’: Die enkelvokaal e word altyd gebruik in plaas van die diftonge æ en oe; i en y asook t en c word ter wille van die vloeibaarheid van die teks uitruilbaar gebruik; h word dikwels weggelaat; j word nooit in die plek van i of v in die plek van u gebruik nie, wat nogal mode in die latere Middeleeue sou word en daadwerklik steurend op die vloei en leesbaarheid van die teks inwerk. Daarmee saam, soos nou reeds duidelik, huiwer Salisbury nie om neologismes te skep indien dit die tematiese en stilistiese aansprake van sy tekste kan verhoog nie: hy gebruik woorde soos diacrisis, subarrauerunt en maneries in semantiese wysigings per konteks, terwyl hy Griekse woorde na die Latynse alfabet translitereer, met logos wat byvoorbeeld lecton, lexis en idos word.
13. Wilks (1984) se redaksiewerk, die resultaat van ʼn konferensie met die 800ste gedenking van Salisbury se dood as tema, was die laaste aanbod van so ʼn grondige inleiding tot Salisbury se konteks, lewe en werk. Daarby kan die monografie van Nederman (2005) wel ook gereken word, hoewel die skopus van ondersoek kleiner was as in vermelde redaksiewerk van Wilks.
14. Christophe Grellard is mede-professor in Middeleeuse geskiedenis aan die Universiteit van Parys I (Panthéon-Sorbonne).
15. Frédérique Lachaud is professor in Middeleeuse geskiedenis aan die Universiteit van Lorraine.
16. Julie Barrau is senior lektor in Middeleeuse Britse geskiedenis aan die Universiteit van Cambridge. Haar bydrae (2015:105–146), John of Salisbury as ecclesiastical administrator, fokus op die betreklike uniekheid daarvan dat Salisbury, anders as feitlik alle Middeleeuse denkers voor hom, nie as ʼn geordende priester of orde-monnik tot die akademiese lewe toegetree het nie, maar as ʼn kerklike administrateur. In 1154 het hy die skriba van die aartsbiskop van Kantelberg, Theobald van Bec (ca.1090–1161; aartsbiskop vanaf 1139 tot 1161) geword, nadat hy met sukses administratiewe probleme vanaf Kantelberg in 1149 met Pous Eugenius III in Rome opgelos gekry het. Barrau fokus ook op Salisbury se uitgebreide reise na Frankryk en Italië (hy het die Alpe meer as 10 keer per voet gekruis), wat daartoe meegewerk het dat hy ʼn gerespekteerde figuur in die curia of pouslike hof van sowel Eugenius III (pous vanaf 1145 tot 1153) as Adrianus IV (pous vanaf 1154 tot 1159) geword het.
17. Karen Bollermann is mede-professor in Engels aan Arizona State Universiteit.
18. Cary Nederman is professor in politieke studies aan Texas A&M Universiteit, met spesialisasie in die geskiedenis en ontwikkeling van politieke filosofie.
19. Bollerman en Nederman (2015:63–104) se bydrae, John of Salisbury and Thomas Becket, bespreek – vir die eerste keer sistematies in die navorsing – die intieme verhouding tussen Salisbury en Becket. Selfs 850 jaar ná sy dood bly Becket een van die mees kontroversiële en enigmatiese figure in die Anglo-Saksiese geskiedenis: as kanselier van koning Hendrik II, as aartsbiskop van Kantelberg en uiteindelik as martelaar, wek Becket steeds belangstelling in letterkunde, teater en rolprente. Dit is juis sy onvoorspelbare gedrag en algemene dislojaliteit teenoor selfs die mees gesagvolle figure wat sy verhouding met Salisbury belangrik maak: in Salisbury het Becket ʼn medeganger gevind in wie hy sy volle vertroue kon stel, wat hom gevolg het nadat hy uit Engeland verban is op grond van sy konflik met Hendrik II, en in wie hy ʼn akademiese geesgenoot gehad het, tot op die punt dat Salisbury beide Policraticus en Metalogicon aan Becket opgedra het. Salisbury sou ook sorg tref dat die feite rondom die sluipmoord op Becket in 1170 grondig die historiese argiewe ingedra word. Bollerman en Nederman dui met nougesette ontledings vanuit die kommentaargeskiedenis aan dat hierdie verhouding – juis in terme van die gevolgrykheid van beide Becket en Salisbury se werk – geheel ondergekommentarieerd in die navorsing is en dat hierdie bydrae daardie leemte in die navorsing help vul.
20. Cédric Giraud is mede-professor in Middeleeuse geskiedenis aan die Universiteit van Lorraine.
21. Constant Mews is ʼn bekende frontnavorser in Middeleeuse filosofie en Direkteur van die Sentrum vir Studies in Godsdiens en Teologie aan Monash Universiteit, Australië.
22. Giraud en Mews se bydrae (2015:31–62), John of Salisbury and the schools of the 12th century, fokus op Salisbury se veelsydigheid binne die skoolomgewing van die 12de eeu. Hy was tegelyk ʼn Aristoteliaan, ʼn Platonis en Ciceriaan wat as komplekse intellektueel geweier het om aan slegs een trajek binne die vroeë skolastiek te konformeer. Juis omdat Salisbury gekies het om nie via priesterlike ordening of vanuit ʼn monnike-orde tot die opvoedkundige milieu van die 12de eeu toe te tree nie, maar die weg van ʼn heeltydse kerklike skriba of administrateur ingeslaan het (wat in effek beteken het, gegewe die hewige konflik tussen koning Hendrik II en aartsbiskop Thomas Becket, dat hy dikwels ʼn politieke diplomaat moes wees), word Salisbury in die resepsie dikwels as bloot ʼn kommentator van die 12de-eeuse skoolomgewing aangedui. Giraud en Mews voer egter aan dat Salisbury ʼn innoverende denker was, met ʼn merkwaardige vermoë om die kaf van die koring te skei in die hiperpolemiese en dikwels populistiese skoolomgewing van die 12de eeu. Metalogicon behoort juis verstaan te word as ʼn opvoedkundige korrektief op dit wat hy waargeneem het as ʼn toenemende gebrek aan erudisie in die skoolomgewing. Hy het dit veral gehad teen ‘professionele akademici’ se geneigdheid om eiebelang te bevorder, eerder as om die intellektuele opvoeding van die studentegemeenskap eerste te stel. Salisbury het politieke dienstigheid en akademiese politiek verafsku: dit was juis daardie weersin wat van hom so ʼn unieke figuur binne die kultuurpolitieke kontekste van die 12de eeu gemaak het.
23. Laure Hermand-Schebat is mede-professor in Latyn aan die Universiteit van Lyon. Haar bydrae (2015:180–214), John of Salisbury and classical antiquity, begin met ʼn uitgebreide bespreking van Hieronymus en Augustinus as figure wat die spanning tussen Christelike dogma en die heidens-filosofiese literatuur aanvanklik bestendig het, vanwaar Salisbury sy eie vertrekpunt neem in terme van die relevansie van Plato, Aristoteles en Cicero, in die akademiese debatte van die vroeë skolastiek. Hermand-Schebat bevestig met gedetailleerde kruisverwysings vanuit die Latyn na die Griekse tekste dat Salisbury inderdaad nie Grieks kon lees nie. Sy dui egter ook aan dat Salisbury se lesings van en kommentaar op Aristoteles en Cicero, eersgenoemde vanuit die Grieks-Arabies-Latynse vertaling, onder die mees omvangryke van die tweede helfte van die 12de eeu tel.
24. Clare Monagle is senior lektor by die Skool vir Filosofiese, Historiese en Internasionale Studies aan Monash Universiteit, Australië. Sy dui (2015:215–234), met ʼn opstel getitel John of Salisbury and the writing of history, op haar beurt die belang van Salisbury se Historia Pontificalis aan, as onderontgin in die historiografie van Middeleeuse geskiedskrywing. Sy dui aan dat Salisbury die gebruik van geskiedskrywing as primêr opvoedkundig beskou: die waarde en bedoeling van die kroniek is om die wyse waarop mense en gemeenskappe hulleself, hulle status en hulle eiendomme op enige gegewe stadium georganiseer het, te boekstaaf. Die kroniek word so ʼn kennisbron op grond waarvan opvolgende geslagte die konstellasies tussen wette, regte, gebruike en verpligtinge kon verstaan as toepaslik al dan nie vir die teenswoordige werklikheid. Hierdie pedagogiese perspektief, dui Monagle aan, was hoogs ongewoon vir die 12de eeu, waar geskiedskrywing se gangbare oogmerk was om die buitengewone en bonatuurlike as tekens en wonders te boekstaaf, as ʼn aanduiding van God se teenwoordigheid in die wêreld. Salisbury was ook nie geïnteresseerd in die kerkhistoriese opvatting van Eusebianus, waarin menslike tyd ontvou as gefigureerde herhalings van gebeure in die Ou en Nuwe Testamente van die Christelike Bybel nie. Eerder was Salisbury ʼn ‘immanente geskiedskrywer’, geïnteresseerd in die ‘dinge van die wêreld’ – vanaf regspraak, tot politieke diplomasie en staatkundige kwessies, tot ʼn sober geskiedskrywing van die pousdom. Monagle se bydrae is die eerste om Historia Pontificalis te lees as ʼn teks met ʼn gelyke (historiografiese) diskursiewe aanspraak as die politieke filosofie in Policraticus en die pedagogiek in Metalogicon.
25. Ronald Pepin is emeritus professsor in geesteswetenskappe aan die Capital Gemeenskapsuniversiteit in Hartford, Connecticut. Sy bydrae (2015:147–179), John of Salisbury as a writer, fokus op die literêre kwaliteit van Salisbury se tekste, sowel in Policraticus en Metalogicon as in sy uitgebreide korrespondensie. Pepin speur Salisbury se tekste op grond van die letterkundige meriete (uita) en die letterkundige erudisie (litteratus) daarvan na, met betrekking tot Salisbury se hantering van die Bybelse tekste, die klassieke tekste, vroeg-Middeleeuse tekste en vroeg-skolastiese tekste.
26. David Bloch is professor in klassieke studies aan die Universiteit van Kopenhagen. Hy ondersoek (2015:289–306) in sy bydrae, John of Salisbury on science and knowledge, Salisbury se wetenskapsbegrip en aspekte daarvan wat inderdaad as ‘wetenskapsfilosofie’ gekenmerk kan word. Bloch se bydrae is wesenlik ʼn resumering van sy kritiese werk oor Salisbury en die Aristoteliese wetenskapsbegrip (Bloch 2012), waarin hy aanvoer dat Salisbury se kennis van die Organon beperk was, ten spyte daarvan dat die volledige Organon in daardie stadium in die Latynse Weste beskikbaar was. In die werk is Bloch se oogmerk nie om Salisbury se Aristoteles-resepsie vanuit ʼn 21ste-eeuse hovaardigheid te problematiseer nie, maar om aan te dui dat Salisbury se wetenskapsbegrip van meer invloede as net die Aristoteliese invloed (groot soos dit was) afhanklik was – en dat geheel die hoë skolastiek se aanvaarde aangewesenheid op Aristoteles se logika alleen geproblematiseer behoort te word. Bloch situeer Salisbury binne die wetenskapsteoretiese konteks van akademiese skeptisisme: kennis, waarvan ook al, is per definisie onseker. Sekere vorme van kennis is trouens onbereikbaar, buiten wanneer dit deur ‘Goddelike intervensie bemiddel word’. Tog, by hierdie kenteoretiese vertrekpunt is Salisbury duidelik ʼn Aristoteliese denker: hy was immers die eerste denker in die 12de eeu om van die nuut ontdekte (of eerder, Grieks-Arabies-Latyn-vertaalde) Organon in sy wetenskapsbegrip gebruik te maak. Die probleem is dat Aristoteles self geen skeptikus was nie. Vir Salisbury was die uitdaging om sy Aristoteles-resepsie met Akademiese skeptisisme te versoen. Bloch se bevinding is dat Salisbury slegs gedeeltelik daarin kon slaag.
27. Grellard (2015:339–376) se bydrae as enkelskrywer in hierdie bundel, John of Salisbury and theology, neem vertrek uit die gegewe dat daar nie sprake van ʼn teologie as sodanig in Salisbury se werk is nie. Sy letterkundige uitset bevat geen teologie nie, hy het geen pastorale geskrifte geskryf nie en het geen bydrae tot skolastiesese filosofie-teologie gelewer nie, ten spyte daarvan dat hy onder die mees uitgelese filosoof-teoloë van die vroeë 12de eeu gestudeer het, onder andere Abelardus, Gilbertius en Helias, en minstens ses jaar aan die skole in Parys gestudeer het. Ten spyte van sy skolastiese opleiding, staan Salisbury afstandelik teenoor die skolastiese kultuur en die nuwe temas wat vanuit die skole gegenereer sou word. Eerder sou Salisbury volgens Grellard (2015:339) nader aan die topos van die monachus geplaas moes word: hoewel hy nie ʼn orde-monnik was nie, vind hy homself nader aan die klooster as intellektuele ruimte as aan die skole. Tog blyk sy diepe eerbied vir sy teologiese leermeesters duidelik, sowel in die opvoedkundige Metalogicon as in die historiografiese Historia Pontificalis. Die vraag is hoe hierdie eerbied verstaan moet word en of dit wel ʼn omlyning van ʼn teologiese raamwerk by Salisbury kan bemoontlik. Grellard roer hierdie vraag aan deur eerstens breedvoerig na die inhoud van Salisbury se Bybelse kommentaar te verwys. Die boeke wat Salisbury by Chartres-katedraal agtergelaat het, was sonder noemenswaardige uitsondering kommentaartekste en notas oor Bybelse tekste. Die ontleding en bespreking van hierdie tekste is die eerste faset van Grellard se ondersoek. Daarna beweeg Grellard oor om Salisbury uit die trajek van spekulatiewe filosofie te haal en eerder binne die konteks van akademiese skeptisisme te plaas, op grond waarvan ʼn skeptiese fideïsme by Salisbury wel omlynbaar word, wat twee teologiese oorwegings na vore bring: die afwysing van ʼn rasionele ontleding van die aard van die Godheid, en die beklemtoning van die praktiese dimensie van die kultus; anders gestel, die verwerping van die spekulatiewe en die primaat van die politieke. Dit is die twee teologiese elemente wat Grellard in verifikasie met die Salisbury-tekste self geslaagd isoleer.
28. Nederman (2015:258–288; John of Salisbury’s political theory) verskaf ʼn bygewerkte oorsig van die mees onlangse navorsing oor Policraticus, as effektief die eerste werk in politieke filosofie vanuit die Middeleeue, soos in die hoofteks hierbo bespreek.
29. Yves Sassier is ʼn genoot van die regsfakulteit, sowel as professor in Middeleeuse geskiedenis, aan die Universiteit van Parys-Sorbonne. Sy opstel (2015:235–257), John of Salisbury and law, verken Salisbury se erfenis as regsgeleerde. Sassier dui aan dat hierdie aspek van Salisbury se werk grootliks onderbespreek is, selfs in die nisnavorsing. Tog is dit moontlik om aan te dui dat Salisbury die Codex Justinianus, Pandectae, Institutiones Justiniani en Decretum Gratiani grondig bestudeer en groot gedeeltes daarvan van buite geken het. Sassier (2015:235) beskryf Salisbury se gebruik van regstegniese jargon as ‘verstommend akkuraat en presies’, in die sin dat hy geen ruimte vir twyfel laat rakende sy kennis van die tersaaklike regsreëls in die sekulêre reg sowel as die kerklike reg nie, veral ten opsigte van appèlprosedures. Wanneer die korrespondensie van Salisbury wat oor regskwessies handel in diepte bestudeer word, is daar by Sassier geen twyfel dat ons in Salisbury met ʼn bona fide en belese regspraktisyn te make het nie. Dit is nogeens ʼn bevestiging van die veelsydigheid en literêre vermoë van Salisbury.
30. Sigbjørn Sønnesyn is ʼn genoot van die Saxo Instituut aan die Universiteit van Kopenhangen. Hy verken (2015:307–338) in hierdie afdeling, The ethics of John of Salisbury, die etiese inhoude en konsekwensies van Salisbury se werk, wat nogeens met bostaande probleem gekonfronteer word, naamlik hoe om Aristotelianisme en Akademiese skeptisisme met mekaar te versoen. Sønnesyn dui aan dat etiek vir Salisbury die hoogtepunt van filosofiese refleksie verteenwoordig: hy het hom digby morele oorwegings gehou, ongeag die aard van die tema en rubriek waarmee hy besig was. Daar is binne die Saresberiensis-navorsing ʼn bekende aanhaling in Latyn: ‘Illa autem quae ceteris philosophiae partibus praeminet ethicam dico, sine que nec philosophi subsistit nomen, collati decoris gratia, omnes alias antecedit’ (Daardie deel van filosofie wat bo die ander dele uittroon, noem ek etiek, wat alle ander [dele] verbygaan op grond van haar vermeerdering van skoonheid. Sonder haar sou ook die naam van filosofie nie kon bestaan nie’). Geen vorm van geadministreerde geleerdheid dien volgens Salisbury enige doel indien dit nie tot die goeie lewe, en selfs net ʼn beter lewe, bydra nie. Daarom val die fokus by Salisbury minder op filosofiese etiek en eerder op wat vanuit die moderne gesigspunt ‘toegepaste etiek’ genoem sou kon word. Tog kan Salisbury nie aan ʼn teoretiese verantwoording van sodanige toegepaste etiek ontkom nie – en dit is juis hierdie verantwoording wat die onderwerp van Sønnesyn se bespreking is.
31. Lachaud se bydrae as enkelskrywer in die oorsigwerk (2015:377–438; Filiation and context – the Medieval afterlife of the Policraticus) ondersoek die resepsie van Policraticus in die 13de en 14de eeue, met aksent op die interpretasie van hierdie politieke filosofie in die stormagtige politieke landskappe in Wes-Europa gedurende die 1300’s.
32. By al die winste van hierdie monografie, in terme van die kwaliteit van die navorsing en die argumentatiewe oorspronklikheid daarin aanwesig, moet die oordrewe vakkundig polemiese trant daarvan bevraagteken word. O’Daly vind dit goed om die standpunte en lesings van ongetwyfeld die mees bedrewe Salisbury-frontnavorser van die afgelope twee dekades, Cary Nederman, wat die laaste monografie oor Salisbury in 2005 die lig laat laat sien het, herhaaldelik te bevraagteken, te kritiseer en te polemiseer. Natuurlik is juis die frontnavorser in enige veld nie immuun teen kritiek nie en rus die onus juis op die frontnavorser om op geldige en gevolgryke kritiek te antwoord, ten einde voor in die veld te bly – maar meer nog, ter wille van die akademiese integriteit van die veld self. Gegewe die diskursiewe digtheid en historiese diepte van Middeleeuse filosofie, gebeur dit ook gereeld dat sodanige frontnavorsers op ʼn bepaalde punt tot die wysiging van ʼn lesing of ʼn standpunt gevra word. Dit gebeur ewe gereeld dat frontnavorsers daardie versoek met erns neem en ʼn premis of ʼn formulering wysig en selfs moet wysig. Dit gebeur egter nie dat ʼn frontnavorser in ʼn bepaalde werk herhaaldelik tot orde geroep en selfs gekasty word oor bepaalde standpunte nie. Die frontnavorser het immers nie tot voor in die veld gevorder op grond van herhaalde misplaasdhede nie. Tog vind O’ Daly dit aanneemlik om Nederman herhaaldelik in die hoofteks aan te val – en nie uitsluitlik in voetnota of eindnota om opheldering te versoek, soos wat in terme van goeie etiket in Middeleeuse navorsing die geval is nie. O’Daly opponeer Nederman se klem op die Aristoteliese invloed op die Salisbury-korpus herhaaldelik en uiteindelik voorspelbaar, ten einde haar eie tese van ʼn skerper Romeinse invloed te demonstreer en te legitimeer (vgl. bv. O’Daly 2018:20 ev, 115 ev, 151 ev). Die probleem is dat nie enige van die voorstelle waarmee O’Daly na vore kom in terme van ʼn Romeins geïnspireerde Salisbury, die wesenlike grondslae van ʼn aristotelies geïnspireerde Salisbury verander nie. Dit is ʼn Salisbury met ʼn ietwat ander gelaat en ʼn rooi in stede van ʼn pers mantel – maar diskursief is dit dieselfde Salisbury. O’Daly verruim ongetwyfeld die Saresberiensis-navorsing met haar aksent op die Romeinse bronne. Sy maak ʼn sterk saak daarvoor uit dat Salisbury nie eensydig aristotelies verstaan kan word nie – met die implikasie dat indien dit vir Salisbury geld, daar ook ander 12de- en 13de-eeuse denkers is wat tradisioneel as uit en uit aristotelies verstaan is, terwyl die Romeinse invloed ook moontlik by hulle verbygelees is. Ongetwyfeld is O’Daly se boek ʼn waardevolle toevoeging tot die Saresberiensis-skat. Stilisties en in terme van vak-etiket is die boek egter ook ʼn waarskuwing dat geen navorser in Middeleeuse filosofie daarop geregtig is om die eie tese of eie standpunt – of jouself, inderdaad – te ernstig op te neem nie: daar was baie lesers voor jou, en daar sal baie ná jou wees.
|