About the Author(s)


Piet J. Strauss Email symbol
Department of Church History and Polity, University of the Free State, South Africa

Citation


Strauss, P.J., 2018, ‘Die hervormingsdaggetuienis van agt Nederduitse Gereformeerde Kerk-dosente op 31 Oktober 1980 – ’n oproep tot hervorming?’, Verbum et Ecclesia 39(1), a1872. https://doi.org/10.4102/ve.v39i1.1872

Original Research

Die hervormingsdaggetuienis van agt Nederduitse Gereformeerde Kerk-dosente op 31 Oktober 1980 – ’n oproep tot hervorming?

Piet J. Strauss

Received: 04 May 2018; Accepted: 01 Aug. 2018; Published: 26 Sept. 2018

Copyright: © 2018. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstract

The witness on Reformation Day, 31 October 1980, by eight Dutch Reformed Church lecturers – a call for reformation? Eight well-known lecturers, members of the Dutch Reformed Church, made a call on Reformation Day, 31 October 1980, for the churches in South Africa to strive for the reformation of the order of society in apartheid South Africa. They pleaded to the churches to help the cause of a new, integrated country based on love, justice and human dignity. Their witness created a climate in the Dutch Reformed Church to criticise the justification of apartheid and paved the way for the documents Church and Society of the general synods of 1986 en 1990. In 1980, the witness created a storm in the Dutch Reformed Church and unofficially announced the start of the end of apartheid in this church.

Intradisciplinary and/or interdisciplinary implications: This article concentrates on the reform of the status quo in the last years of official apartheid in South Africa. Years stretching from more or less 1980 until 1994. The question investigated is: What was meant by a reform of the existing society by the witness on Reformation Day 31 October 1980? The witness as formulated by eight specific Dutch Reformed Church lecturers? This kind of reform as well as the history of this witness in 1980 are matters for church history to investigate, but also show a side for a philosophical sociology, ethics and a contemporary history.

Inleiding

Die Hervormingsdaggetuienis of Getuienis van 31 Oktober 1980 word in Die verhaal van die Nederduitse Gereformeerde Kerk se reis met apartheid 1960–1994 as ’n getuienis en ’n belydenis sowel as ’n belangrike baken op hierdie pad beskryf (Gaum 1997:30). Hierdie kort getuienis kom van ses teoloë en twee wysgere van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK). Hulle was vyf dosente van die Universiteit van Stellenbosch (drie teoloë van Fakulteit Teologie en twee wysgere van Lettere), en drie teoloë van Fakulteit Teologie van die Universiteit van Pretoria. Dit is twee van die drie teologiese fakulteite waar predikante van die NGK destyds opgelei is.

Die Hervormingsdaggetuienis was ’n verklaring van die betrokke dosente in individuele hoedanigheid. Tog het dit groot rimpelings in die NGK en in die nuusmedia in Suid-Afrika veroorsaak. Juis omdat dit binne-kerklik of vanuit die NGK wou werk en ook, naas die kerk in die algemeen, op die NGK gerig wou wees, is die Getuienis in Die Kerkbode van 5 November 1980, die datum naaste aan Hervormingsdag (31 Oktober 1980), gepubliseer. Die Kerkbode, of deesdae net Kerkbode, is die amptelike spreekbuis van die NGK.

Die Getuienis het geïmpliseer dat apartheid in ’n doodloopstraat is en tot ‘toenemende spanning en polarisasie tussen die verskillende bevolkingsgroepe in ons land’ lei. Die skrywers was diep besorg oor die feit dat die geïnstitusionaliseerde kerk in Suid-Afrika hier in 1980 ’n ‘skynbare onvermoë’ toon om die gemeenskap van ’n helder, eenstemmige, geestelike leiding te bedien. Die land is in ’n staatkundige en samelewingsimpasse waaruit hy nie kom nie en die kerke lewer nie hulle tipies kerklike bydrae om die situasie te verlig of op te los nie (Kaapse Kerkargief [KKA] PPV 1375 – Die Kerkbode 5/11/1980:605).1

In sy kommentaar op die Hervormingsdaggetuienis beweer F.E. o’B. Geldenhuys, wat in September 1980 vanweë dieselfde besorgdheid as die Hoof Uitvoerende Amptenaar en die Direkteur van Ekumeniese Betrekkinge in die NGK bedank (KKA PPV 1375), dat die NGK deur sy getalle sowel as strategiese invloed die destydse Nasionale Party uit die kussings kan lig. Hy verwelkom die Getuienis, want wat hierdie kerk oor apartheid en die politieke bestel in Suid-Afrika sê, is belangrik (KKA K 17 – Cape Argus 12/1/1981:5).

Hierdie artikel ondersoek die ontstaan van die Hervormingsdaggetuienis van 1980 kortliks voordat dit die inhoud en gevolge daarvan vir die NGK, en daarmee die kerke en apartheid in Suid-Afrika in die tagtigerjare van die vorige eeu, in oënskou neem. Faktore wat hierdie kwessies ophelder is die inhoud van die Getuienis, die naam Hervormingsdaggetuienis en die noodsaak aan hervorming wat ondertekenaars in hulle eie bydraes aantoon. Laasgenoemde kan die Getuienis verduidelik wat kortweg en kompak ’n denkgreep op die kerk en apartheid in Suid-Afrika in 1980 wou uitoefen.

Die vraag wat hierdie artikel dus ondersoek is die volgende: Wat wou die Hervormingsdaggetuienis van 1980 sê en wat was die effek daarvan?

’n Behoefte van enkele vriende as individue

Volgens die outentieke weergawe van die Getuienis in Die Kerkbode van 5 November 1980, is die opstellers en ondertekenaars daarvan die volgende persone: C.F.A. Borchardt, A.B. du Toit en J.A. Heyns (teoloë van Pretoria), W.D. Jonker, B.A. Muller en H.J.B. Combrinck (teoloë van Stellenbosch), en H.W. Rossouw en W.P. Estherhuyse (wysgere van Stellenbosch) (KKA PPV 1375 – Die Kerkbode 5/11/1980:605; Jonker 1998:157–158).

Op navraag van hulle teologiese studente wat op die redaksie van die studentetydskrif Konteks dien, ontken Jonker, Muller en Combrinck agterna dat die agt ondertekenaars ’n georganiseerde drukgroep is. Hulle is vriende wat medeverantwoordelik voel vir wat in Suid-Afrika gebeur en die besorgdheid van die Getuienis met mekaar deel. Daarom wou hulle nie ondertekenaars werf of die indruk van ’n drukgroep skep nie. Hulle ken geen ander voorgeskrewe kerklike weg om hulle besorgdheid te lug nie, behalwe deur Die Kerkbode wat as ’n kanaal vir die bespreking van kerklike sake deur sinodes aangewys word. Gesprekke in die NGK kan nie tot kerklike vergaderings beperk word nie. Wat word dan van die vryheid om te profeteer? Die Hervormingsdaggetuienis gaan boonop oor die algemene toestand in Suid-Afrika en neem alle kerke in oënskou – nie net die NGK nie (KKA PPV 1375 – Konteks 1/3/1981).

Jonker bevestig hierdie werksmetode by die ontstaan van die Getuienis in Selfs die kerk kan verander (Jonker 1998:157–159) – ’n publikasie uit sy eie pen oor sy loopbaan en ervarings in die NGK. Volgens hom het Heyns hom ‘op ’n dag in Oktober 1980’ uit Pretoria gebel met die voorstel dat ’n ‘groepie van ons’ op Hervormingsdag (31 Oktober) ’n gesamentlike getuienis oor die kerklike situasie in apartheid-Suid-Afrika lewer. Heyns het met enkele kollegas in Pretoria daaroor gepraat en hy versoek Jonker om dieselfde op Stellenbosch te doen. Daarna is die ‘kort getuienis geformuleer en wêreldkundig gemaak’. Vir Jonker was die doel van die Getuienis ’n algemene oproep tot reformasie deur die kerk in Suid-Afrika met sy ‘besondere probleme en spanning’: ’n oproep in die gees van Hervormingsdag wat gekoppel word aan Martin Luther se 95 reformatoriese of hervormende stellings teen die voordeur van die Schlosskirche of Kasteelkerk in Wittenberg, Duitsland, op 31 Oktober 1517 (Kuiper 1995:163). Jonker voer aan dat die Getuienis geen politieke doel het nie. Dit is ’n kreet uit die hart om ‘die kerk’ opnuut na brandende vrae in Suid-Afrika te laat kyk.

Die finale formulering van die Hervormingsdaggetuienis van 1980 word aan Hennie Rossouw gegee vanweë sy ‘fyn taalvermoë’. Hierdie reëling het, aldus Jonker, ‘miskien’ gelei tot die akademiese trant en kompakte formulering waarvan die erns by ‘die man op straat’ verbygegaan het. Jonker maak gewag van kritiek dat die stuk te akademies, abstrak en vaag was. Tog wys hy daarop dat die Getuienis ’n klein ‘stormpie’ van enkele maande met ‘groot effek’ in die NGK veroorsaak het. Behalwe die reaksie van talle individue in, ondermeer, die media, sou ses van die ondertekenaars hulle op ’n Sondagaand voor ’n volgepakte kweekskoolsaal in Stellenbosch verantwoord, terwyl meer as 600 NGK-predikante op die Hartbeesjeugterrein naby die Hartbeespoortdam in die Noorde op 23 Maart 1981 van die opstellers rekenskap sou eis (Jonker 1998:158).

By hierdie saamtrek sou D.C.G. Fourie, die man belas met die kerkorde of die aktuarius van die Algemene Sinode van die NGK, as die ‘klaer’ in die ‘saak’ teen die ondertekenaars optree. Een van Fourie se besware was dat die Getuienis verwarring in die NGK saai. Daarom dring hy daarop aan dat die ondertekenaars hierdie kerk om verskoning vra. J.A. Heyns weier egter. Volgens hom is die Getuienis nie ’n protesstuk nie, maar ’n ernstige oproep dat die sinodebesluite van die NGK prakties uitgevoer word. Die waarnemende voorsitter van die Breë Moderatuur, J.E. Potgieter, beëindig die gesprek later op ’n versoenende toon met sy aanvaarding van die goeie trou en opregte bedoelings van die ondertekenaars van die Getuienis (KKA PPV 1315 – Rapport 29/3/1981).

Ongeveer twee jaar nadat die stof gaan lê het, aanvaar die 1982 Algemene Sinode van die NGK ’n voorstel van sy Algemene Sinodale Kommissie (ASK) waarin die opstellers van die Hervormingsdaggetuienis van 1980 by implikasie vermaan word om hulle by die ordelike weë van die NGK te hou indien hulle kritiek op die kerk het. Alle optredes, gesindhede en verklarings wat die goeie orde van die kerk as die moeder van die gelowiges ontwrig en sy onderlinge vertroue en verhoudinge versteur, word betreur. Die NGK het immers besluite wat die koers van ‘ordelike openheid en gemeenskaplike besinning duidelik stel’ (Nederduitse Gereformeerde Kerk [NGK] 1982:143, 1201). In die konteks is die implikasie hiervan dat selfs kritiek, geopper in Die Kerkbode, op die koers wat kerke (ook die NGK) en kerkleiers oor apartheid-Suid-Afrika inslaan, afgewys word. Die Getuienis het egter nie swaarde met spesifieke kerkvergaderings of sinodes van spesifieke kerke gekruis nie. Omdat niemand met naam, optrede, plek en tyd aangedui word wat die goeie orde, onderlinge vertroue en verhoudings in die NGK versteur het nie, sou die saak hier doodloop. Die besluit bevat geen spesifieke verwysing of rede wat ’n ondersoek of beoordeling van spesifieke wanordelikhede noodsaak nie.

Hiermee het die Algemene Sinode die effek van die Getuienis op die NGK op die oog af afgehandel en ongedaan gemaak. Dit is slegs op die oog af omdat die Getuienis twee onderskeibare kampe van verlig en verkramp of vernuwend en behoudend in die NGK ontbloot. Dit was twee kampe wat ten opsigte van standpunte sowel as ondersteuners nie konstant sou bly nie en waaruit die rasgeoriënteerde Afrikaanse Protestantse Kerk in 1988 sou ontstaan – ’n blanke kerk met die ‘Afrikaner as kultuurgroep’ (Hofmeyr 2012:449) en die stuk, Ras, volk en nasie en volkeverhoudinge in die lig van die Skrif van die Algemene Sinode van 1966, as rigtinggewend (Lamprecht 1997:108–110, 119; Van der Merwe 2009:112–117; Strauss 2015:86).

Ander individue reageer

Jonker se verwysing na die Getuienis as die bron van ’n stormpie van enkele maande met ’n groot effek in die NGK, word nie deur alle kommentators gedeel nie. Hennie Serfontein, ’n vryskutjoernalis en ’n skerp waarnemer van die Afrikanerpolitiek en -kultuur, noem dit op die inhoud af ’n niksseggende ‘damp squib’. Van ‘regs’ en ‘links’ word die opstellers as ‘halfslagtig’ beskou: naïewe middelfigure wat nie ’n keuse maak nie. Uit die konserwatief-behoudende Breë Moderatuur van die Algemene Sinode van die NGK word die Getuienis as betekenisloos, verwarrend en daarom ignoreerbaar afgemaak. Onder radikale swart predikante teen apartheid – dit is Jonker se gevoel – word die ondertekenaars met ’n ‘soort geslotenheid’ uit die hoogte bejeën (Jonker 1998:158–159).

Direk ná die publikasie van die Getuienis opper D.C.G. Fourie in ’n dagblad die beswaar dat hierdie stuk met sy ‘swewende, algemene raad’ nòg kant nòg wal raak. Hy wil weet op wie die Getuienis gerig is en waarom die ondertekenaars hulle besware nie op kerkvergaderings lug soos wat die ‘beleid’ van die NGK vereis nie? Heyns is immers ’n lid van die Breë Moderatuur en Jonker ageer dikwels as ouderling op die Kaapse Sinode (KKA PPV 1375 – Beeld 7/11/1980).

Die moderator of voorsitter van die vorige Oos-Kaapse Sinode, D.T. du P. Moolman, betreur Geldenhuys se kommentaar op die Getuienis. Sulke reaksies kan die NGK seermaak. In Februarie 1981 veroordeel die Sinodale Kommissie van Suid-Transvaal Geldenhuys se optrede as ‘onbroederlik en onverantwoordelik’. Volgens hulle word die kerklike debat in nie-kerklike media so voor die wêreld gevoer (KKA K17 – Die Burger 22/1/1981).

Geldenhuys reageer later weer op die polemiek. Wat hom betref, ly die NGK aan ’n innerlike verlamming. Die Getuienis verwoord duisende Christene se bekommernis oor die nood en polarisasie onder Christene in Suid-Afrika. Die reaksie op die Getuienis bevestig hierdie polarisasie (KKA K17 – Rapport 11/1/1981).

In die redakteurskolom van die dagblad Rand Daily Mail word die Getuienis daarvan verdink dat dit konserwatiewe protestantse kerke teen die ‘multiracial member churches’ van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke met sy weerstand teen apartheid wil monster. Die koerant word hierin voorgepraat deur die radikale Broederkring van predikante uit die NGK-familie. Vir die Broederkring kom die Getuienis ook ooreen met die – vir hulle – verwerplike anti-diskriminasie of hervormingspolitiek van premier P.W. Botha – ’n soort politiek wat, volgens hulle, net ’n sagter gesig aan apartheid wil gee (KKA PPV 1317 – Rand Daily Mail 8/11/1980).

Daar is egter ook reaksie wat die Getuienis as ’n nuwe, vars briesie in ’n gemufde apartheid-Suid-Afrika beskou.

Met verwysing na die koppeling van die Getuienis met Hervormingsdag, noem Willem de Klerk die verklaring ’n ‘visarendjie’ wat hoorders tot grondige besinning roep. Vir hom as ’n reformatoriese koerantman beweeg ‘ons politiek terug na die wortels van lewensbeskouing’. Hy voeg betekenisvol daaraan toe: ‘ons word al hoe meer daarvan bewus dat politiek meer is as oorlewing, selfhandhawing en ’n magspel … meer as bloed en bodem’. De Klerk is daarvan oortuig dat die kerk ’n hervormingstaak het wat, getrou aan die eise van die Bybel as sy maatstaf en werktuig, die hele samelewing raak. Die kerk praat profeties lewensbeskoulik en mag ook ‘in die politiek’ nie swyg nie. Die Getuienis is ’n belydenis en nie ’n stuk Christelike ideologie of dogmatiek nie. Die Getuienis is ’n alarm, ’n appèl, ’n besorgdheid wat alle kerke konfronteer. ’n Hinderlike lewensvreemheid in die kerke ten opsigte van die politieke krisis in die land maak die sout wat die kerk in die gemeenskap moet wees laf (KKA PPV 1375 – Rapport 16/11/1980). Vanuit sy reformatoriese of gereformeerde oogpunt – die ondertekenaars sou wel saamstem – vat Wimpie de Klerk die oogmerk van die Getuienis dus goed raak. Die agtergrond en inhoud van sy kommentaar bevestig ook Jonker se opmerking dat die Getuienis moontlik akademies en vaag was. De Klerk speel in dieselfde akademiese liga, maar probeer dit – eie aan ’n koerantman – meer bevatlik aanbied.2

’n Briefskrywer, P.J. Pelser, onderskryf die oproep tot beginselpolitiek. Wat hom betref, hou die NGK die sleutel tot ’n vreedsame toekoms in Suid-Afrika. Hy soek egter nog ’n antwoord op die vraag wat dit in die praktyk beteken. Hoe vertaal jy die Getuienis in die praktyk (KKA PPV 1375 – Die Burger 24/11/1980)? Pelser word in sy vraag gesteun deur 21 jong NG-predikante wat die agt dosente versoek om te sê watter praktiese kwessies in God se koninkryk hulle vir Suid-Afrika beoog. (KKA K 17 – Cape Argus 22/1/1981)? Dieselfde versugting kom van Charl le Roux, die voorsitter van die jongste Sinode van die Reformed Church in Africa. Hierdie kerk word in 1968 die jongste toevoeging tot die familie van NG Kerke (Van der Watt 1987:242; KKA PPV 1375 – Beeld 7/11/1980).

Etlike geestelike leiers vra dat die Getuienis tot ’n behoorlike kerklike gesprek en werklike optrede in Suid-Afrika lei. Onder hulle is daar persone soos Nico Smith (teologiese dosent, Stellenbosch), Pierre Rossouw (Geldenhuys se opvolger), David Botha (moderator of voorsitter van die Sinode van die NG Sendingkerk) en David Bosch (Sendingwetenskap, UNISA). Volgens Bosch kan die Getuienis, indien ’n sinode dit aanvaar, dieselfde impak op Suid-Afrika hê as wat die Barmenverklaring van Hitler op Duitsland gehad het in 1934 (KKA PPV 1375 – Beeld 7/11/1980). Jonker se stormpie kan dus ’n tsunami word …

Uit hierdie reaksie van individue op die Getuienis, word ’n paar sake nou reeds duidelik: Eerstens is die kritiek van ampsdraers in die NGK op die metode en kanaal van die Getuienis en sy gevolge vir verhoudings in die kerk gerig en nie op die inhoud daarvan nie. Niemand ontken die dringendheid van die behoefte aan besinning en optrede deur die kerke – veral die NGK – oor die toestand in die kerke self en in apartheid-Suid-Afrika nie. Tweedens verstaan diegene wat reageer die Getuienis tereg as kritiek op die kerke se hantering van die impasse waarin apartheid-Suid-Afrika verkeer. Wat hulle egter misvat – Willem de Klerk is hierin ’n uitsondering – is die behoefte aan hervorming as ’n metode vir verandering in Suid-Afrika: die Getuienis se hervorming van die ‘bestaande orde’ in die land. Die warm vraag wat die meerderheid hanteer, is of die Getuienis radikaal of minder radikaal teen apartheid is en nie of dit hervorming as ’n relevante reformatoriese eis vir kerk en samelewing voorstaan nie. Nog ’n kernsaak wat hulle mis, is die kerklike invalshoek en vlak waarop die Getuienis beweeg. Weer vat De Klerk raak met sy verwysing na die bybelse eise vir die lewensbeskoulike, die invalshoek van ’n hervormingsbenadering deur kerke van die werklikhede in Suid-Afrika. Vir De Klerk is hierdie benadering so grondig dat hy dit ’n belydenis of kernwaarheid noem – hervorming wat beteken dat ’n gemeenskap die vermoë sal ontwikkel om ’n verantwoorde samelewing van gelykes vanuit hulle self te vestig, te stabiliseer en te kontinueer. Hervorming beteken immers dat hulle wat hervorm die waarhede of beginsels waarop gereformeer word as oortuigings verinnerlik. Tipiese hervorming impliseer nie staatkundige dwang om sekere waardes in die gemeenskap te handhaaf nie, maar ’n beslissende geestelike drakrag en motivering daarvoor in die betrokke gemeenskap.

In hulle repliek op die wye reaksie op die Hervormingsdaggetuienis, wys van die ondertekenaars op die reformatoriese aanslag of benadering tot hervorming van die stuk.

Die ondertekenaars lewer repliek

In die nuusblad Korrels van die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van Pretoria verduidelik A.B. du Toit dat die stuk die Hervormingsdaggetuienis genoem word omdat die kerk op Hervormingsdag die kwaliteit van sy kerkwees ondersoek – ’n ondersoek wat tot reformasie of hervorming moet lei (KKA PPV 1375 – Korrels 26/3/1981). Op 17 Desember 1980 verduidelik Heyns in ’n uitvoerige brief in Die Kerkbode weereens die doel van die Getuienis. Nadat hy die beginsels vervat in die Getuienis verduidelik het, erken hy die behoefte aan die praktiese inwerkingstelling van hierdie beginsels. Een kerk alleen kan dit egter nie doen nie. Daarby kom die vraag: Hoe gaan die kerk as kerk te werk?

Met sy onderskeiding van tipies kerklike werk, gee Heyns blyke van sy Christelik wysgerige agtergrond of skoling in die neo-Calvinistiese Wysbegeerte te Potchefstroom (Botha 2008:457–458; Williams 2006:396–397) – ’n raakvlak tussen Johan Heyns en Willem de Klerk. Vir ’n reformerende kerk wat die bestaande bestel of orde in Suid-Afrika help hervorm, bly daar, volgens Heyns, ses terreine van tipiese kerklike werk oor.

Eerstens moet die kerk God se geloofwaardige versoeningsinstrument tussen wit, swart en bruin gelowiges wees. ’n Versoening wat erns met die Bybel maak. Tweedens moet die kerk geestelik-profetiese leiding gee oor watter van die huidige wette in die samelewing moet gly en watter moet bly. Dit gaan vir hom – Heyns verwys nie direk daarna nie – oor hervorming as ’n normgebonde kontinue verandering en groei, en nie die revolusionêre omverwerping of transformasie van die hele samelewing nie. Derdens gaan dit om die kerk se beïnvloeding van die gesindheid van individue, hulle innerlike krag en geestelike dissipline – boustene vir ’n gesonde samelewing. Vierdens moet die kerk te midde van die volkereverskeidenheid in Suid-Afrika, wat hy as ’n geleentheid en nie ’n verleentheid beskou nie, die Woord laat spreek. Vyfdens gaan dit oor die realisering van gestaltes van sigbare eenheid in byvoorbeeld die NGK-familie. Gestaltes waarvoor Heyns nie by voorbaat ’n keuse maak nie. In die sesde plek beklemtoon Heyns die rol van die kerk in die hervorming van die hele samelewing – die Getuienis se ‘bestaande orde’. Volgens hom moet die kerke besin oor die optimum ontwikkeling van die lewensomstandighede van alle mense. Daarby moet hulle meewerk aan ’n ruimte vir almal om hulle taak as volle mens ‘te kan uitoefen’ (KKA PPV 1375 – Die Kerkbode 17/12/1980:792).

Heyns maak dus eksplisiet erns met die hervorming van die bestaande orde vanuit die kerklike hoek van die Getuienis of dan Hervormingsdaggetuienis. Dat hy daarvan ’n afsonderlike punt onder sy ses agendapunte rondom die Getuienis maak, onderstreep hierdie punt. Ook ten opsigte van die toekoms in Suid-Afrika is Heyns ’n uitgesproke geesteskind van die Hervorming van die sestiende eeu. Dit is duidelik dat sy ses punte mekaar aanvul en nie weerspreek of opponeer nie. Vir hom beteken hervorming in ’n lewensomvattende sin ook versoening, kerkeenheid, ’n verandering in die land se wette sowel as van die land se bestaande orde. In sy akademiese publikasies in die tagtigerjare van die vorige eeu en later gaan Heyns meer uitvoerig hierop in. Terselfdertyd propageer die regerende Nasionale Party onder P.W. Botha hervorming as die geleidelike, ingroeiende oplossing vir die Suid-Afrikaanse politiek (Scholtz 1988:1; Kapp 2008:131).3 Oor hierdie benadering vat die Getuienis, as ’n kerklike faktor, en die Nasionale Party hande – die kritiese stemme in die NGK-familie gee reeds blyke van begrip vir dit wat nou hier ontwikkel. Heyns word ná 1986 deur kritici as die hofpriester en nie-amptelike ambassadeur van die Nasionale Regering bestempel toe hy as die moderator van die Algemene Sinode van die NGK die voortou neem met die uitdra van Kerk en Samelewing (ASK, 1986) in die binne- en buiteland (Strauss 2002:229; Williams 2006:276).

In hulle reaksie in die studentetydskrif Konteks wys Jonker, Muller en Combrinck daarop dat die ‘skynbare onvermoë’ wat die Getuienis aan die kerk toeskryf, geen gevaar vir ’n gereformeerde kerk inhou nie. So ’n kerk as ’n kerk van sondige mense moet altyd bereid wees om te reformeer – in die lig van die Skrif. Die kerk as die kerk van die Woord moet nooit as irrelevant voorgestel kan word nie. Mense moet bly glo dat die evangelie versoening bring en dat geweld nie die enigste oplossing is nie. Vir die Getuienis gaan dit om die volle betekenis van die evangelie wat op alle terreine van die lewe uitgeleef word. Dit is tipies gereformeerd. Die hele lewe moet onder die ‘beslag van die Woord kom’. Die Getuienis is ook nie vaag nie, maar toon die taak van die kerk duidelik aan. Dit wil immers ’n getuienis vir die kerk in Suid-Afrika of ’n soort kerklike getuienis wees. Die NGK se Ras, volk en nasie en volkereverhoudinge in die lig van die Skrif (1974) spel reeds die beginsels wat in die Getuienis vervat is uit.4 Die verklaring is ’n Hervormingsdaggetuienis omdat gereformeerdes dan die hand in eie boesem steek (KKA PPV 1375 – Konteks 1/3/1981:3–5).

Wat die drie Stellenbossers oor die skynbare vaagheid van die Getuienis sê, klaar die vraag na die taak van die kerk in die situasie in beginsel op, maar gee nie ’n antwoord op die vraag na die inhoud van die hervorming van die bestaande orde nie. In hierdie opsig is die Getuienis – selfs as ’n tipiese kerklike dokument, ingestel op die lewensbeskoulike of relevante beginsels vir apartheid-Suid-Afrika nog vaag. Vir groter duidelikheid oor wat met die hervorming van die bestaande orde bedoel word, moet die bewoording van die Hervormingsdaggetuienis en die denke van sommige opstellers aan vergelykende literatuurstudie onderwerp word.

Inhoud van die Hervormingsdaggetuienis

Daar is reeds gewys op die Hervormingsdaggetuienis se besorgdheid dat die bestaande kerke in Suid-Afrika ’n skynbare onvermoë toon om eenstemmig duidelike geestelike leiding te gee en sy rol van versoening in apartheid-Suid-Afrika te speel – ’n Suid-Afrika wat hom in ’n impasse van toenemende spanning en polarisasie bevind. Hierop word nou verder ingegaan.

Die Hervormingsdaggetuienis (KKA PPV 1375 – Die Kerkbode 5/11/1980:605), as ’n getuienis vanuit die grondbeginsels van die Hervorming van Johannes Calvyn en ander in die sestiende-eeuse Europa, vra die kerke om die staatsowerheid en die samelewing – ook in Suid-Afrika – van ’n helder en duidelike getuienis ‘omtrent die beloftes en eise van Gods Koninkryk’ vir die ‘sosiale werklikheid’ te bedien. Hierdie werklikheid is die strukture van en verhoudings in die samelewing. Vir die Getuienis – dit blyk uit die verduidelikings van ondertekenaars – gaan dit oor die reformatoriese eis dat die hele samelewing as ’n instelling, beman deur mense, onder die heerskappy van die Woord van God moet kom – ’n heerskappy in sy geheel oor mens en struktuur. Hierdie kerklike boodskap moet ingaan téén onderlinge vervreemding en frontvorming van Christene onder mekaar wat die verdeeldheid van die kerk stimuleer en die gemeenskap van die heiliges tot skande maak.

Die lidmate en vergaderings van kerke moet saam besin en bid oor drie sake. Die eerste hiervan is die uitskakeling van liefdelose, rassistiese gesindhede en krenkende optredes wat die boodskap van die versoenende genade van God ‘ontkragtig’. Die tweede saak is ‘die solidariteit van die Christelike liefde met almal’ wat deur sosiale gebruike, ekonomiese ‘wanverhoudinge’ en optrede in die politiek ‘in omstandighede van verhelpbare lyding en nood gedompel word’. Die derde saak is die strewe na ‘’n vorm’ van kerkeenheid waarin die geloofseenheid van hulle wat dieselfde belydenis koester ‘sigbare gestalte’ aanneem.

Die ondertekenaars is oortuig dat die NGK (hulle noem hierdie kerk by die naam omdat dit waarskynlik hulle geloofstuiste en daarom eerste teiken is) ‘langs hierdie weg’ saam met ander kerke ’n bydrae tot eer van God kan lewer.

Volgens die Getuienis benodig Suid-Afrika werklike ‘wedersydse vertroue en aanvaarding’ tussen die ‘bevolkingsgroepe’. Dit is die ‘onontbeerlike grondslag’ vir ’n vreedsame samelewing. Owerheid en onderdaan moet die ‘bestaande orde … hervorm, sodat aan elke mens die leefruimte gegun word waarin hy as beelddraer van God tot sy reg kan kom’. Bestaande verskille tussen groepe hoef nie deur vooroordele, eie belang en selfhandhawing tot ’n ‘bron van botsing gedemoniseer’ word nie. Die krag van God se ‘herskeppingsgenade’ kan ontgin word vir verryking en steun van mekaar in die één liggaam, Jesus Christus.

Aan die meer formele kant van die Getuienis moet dit aangetoon word dat die begrippe, verwoord in aanhalingstekens, die akademiese en minder verstaanbare karakter (vir die man op straat) vertoon waarna verwys is. Voorbeelde is ‘sosiale werklikheid’, ‘ontkragtig’, ‘solidariteit van die Christelike liefde …’, ‘verhelpbare lyding’ en ‘demoniseer’. Daarby is dit wel so dat hierdie stuk die kerke aan die dink kan sit met sy voorbeelde van reformatories-verantwoorde waarhede. Waarhede soos die beloftes en eise van God se koninkryk vir die sosiale of volle ‘werklikheid’; Christelik-kerklike versoening en eenheid; die band van die Christelike liefde; ekonomiese regverdigheid; sensitiwiteit vir mense in lyding en nood; die samelewing as die regs- en sosiale ruimte waarin die totale mens as beeldraer van God tot sy reg kan kom; die impak van God se omvattende herskeppende genade; en die verwoestende gevolge vir liefde en regverdigheid van vooroordele gekoppel aan ras, eie belang en ’n selfhandhawing ten alle koste.

Gemeet aan hierdie standaarde vir ’n tipies kerklike boodskap van die Hervorming in 1980, slaag die Hervormingsdaggetuienis. Vanuit ’n kerklike hoek en kerklike behoeftes as Woordbepaalde sake is die boodskap relevant en duidelik genoeg – al lees hierdie boodskap op plekke soos Oxford-Afrikaans. Die reaksie op die Getuienis onderstreep dat dit kerklike geeste wakker gemaak het. In sy werk oor Johan Heyns, die Nederduitse Gereformeerde Kerk en apartheid kom Williams (2006) tot die gevolgtrekking dat die eerste openbare kritiese geluide van hierdie moderator of voorsitter van die Algemene Sinode van 1986 oor die NGK en apartheid-Suid-Afrika in die Getuienis voorkom. Heyns se rol in Kerk en Samelewing (ASK 1986) wat ’n verandering in die NGK oor apartheid aankondig, is sig- en tasbaar. Veertig van die paragrawe kan direk na hom teruggevoer word (Strauss 2011:518; Williams 2006:169, 196–198).

Heyns beweer later self dat die NGK nie tot die apartheidkritiese stukke Kerk en Samelewing (ASK 1986) en Kerk en Samelewing (ASK 1990) sou gekom het as die Getuienis nie die klimaat help skep het nie. In sy gemoed het die Getuienis ruimte in die NGK geskep om krities met die regverdiging van apartheid om te gaan. Getuienis was die eerste saad van ’n grondige beleidsverandering in die NGK. Boonop was hervorming vir Heyns ’n vaste beginsel en werksmetode wat hy na die Hervorming kon terugvoer. Daarop kom ons terug (Heyns 1989:71; Williams 2006:169, 171, 213, 231).

Tydens die gesprek in ’n volgepakte kweekskoolsaal wat op die Getuienis volg en waarna reeds verwys is, verklaar Heyns dat die Getuienis ‘miskien iets verwoord het van wat in baie mense se harte leef’. Daarom het dit sy doel bereik. Vir Jonker is dit geslaagd omdat iets tot uitdrukking moes kom van die ‘sorg in ons harte’ oor die skerper wordende polarisasie – ook tussen Christene – in Suid-Afrika (KKA PPV 1375). Geldenhuys bestempel die Getuienis as die belangrikste getuienis uit die NGK sedert die Cottesloeberaad van Desember 1960 (KKA K 17; Williams 2006:396–397). Cottesloe wou die alarmklok lui omdat apartheid vasdraai in sy uitvoering: daar is gevaar – dit kan misluk (Strauss 1989:153)! Die Getuienis is ’n ‘visarendjie’ (Willem de Klerk) gestuur na die kerke in die land wat aankondig: apartheid in sy volle konsekwensie van interafhanklike maar vrye state, hét misluk! Neem afskeid van apartheid en beweeg aan. Daar is werk met die oog op ’n nuwe land!5

Individuele ondertekenaars en die Hervormingsdaggetuienis van 1980

Uit bronne oor die beskouings van ondertekenaars kom leidrade om die inhoud van die Getuienis te peil. Jonker se opmerkings en die skryfstyl van die stuk voer dit na Hennie Rossouw as die finale redigeerder en formuleerder. Hierdie bewering word deur niemand ontken nie. Op Jonker se mededeling dat Heyns hom een oggend in Oktober 1980 gebel het oor die Hervormingsdaggetuienis om, soos Heyns in Pretoria, met ’n aantal dosente en geesgenote op Stellenbosch oor die saak te praat, is ook gewys. Hierdie inisiatief laat die indruk dat Heyns alleen (of saam met ander) inisiërend opgetree het om die Getuienis tot stand te bring – ’n bewering wat ook nie ontken word nie. Daarby moes veral die teologiese dosente betrokke by die Getuienis agterna voor groot kerklike gehore kommentaar gelewer. Hierin was Heyns op die voorpunt met sy optrede by saamtrekke en sy reaksie in Die Kerkbode. Dit is ook Heyns wat by die groot saamtrek van predikante op 23 Maart 1981 naby die Hartbeespoortdam namens die ondertekenaars weier om verskoning vir die Getuienis te maak. Hy is in hierdie geval die segsman.

Uit skriftelike bronne blyk dit dat Du Toit, Jonker en Esterhuyse die trant van en sekere begrippe in die Getuienis met toestemming gebruik het. Begrippe soos dat Hervormingsdag die kerk tot selfondersoek dwing, dat die hele samelewing onder die beslag van die Woord moet kom, die behoefte aan liefde, geregtigheid, versoening en sigbare kerkeenheid teenoor polarisasie, vervreemding, frontvorming sowel as die noodsaak van saampraat en -bid van Christene in Suid-Afrika. Daarby impliseer die trant van die Getuienis dat die kerke en Christengelowiges ’n sterk en invloedryke stem in Suid-Afrika het. Soveel so dat hulle liefde, geregtigheid en versoening in die land kan bevorder. Meer nog, dat hulle gebrek aan kerklike optrede ’n wesenlike rol in die afwesigheid van hierdie sake in die land speel.

Op een punt ten opsigte van die inhoud van die Getuienis, is Heyns egter sigbaar op die voorpunt: die hervorming van die bestaande orde in Suid-Afrika vanuit die kerke gestimuleer. Hierdie waarneming blyk uit talle voorbeelde.

As Johan Heyns in Desember 1980 in ’n brief in Die Kerkbode terugkyk op die Hervormingsdaggetuienis en die effek daarvan, wys hy óók op hervorming van die samelewing as ’n punt wat die Getuienis op die agenda van die kerk in Suid-Afrika plaas. Uit die reaksies op die Getuienis waarna sover verwys is, is dit net Willem de Klerk wat hierdie nuanse behoorlik opvang en iets daarvan maak. Vir Heyns maak die Getuienis die NGK oop vir kritiek op apartheid en vir die koms van die waterskeidingstukke Kerk en Samelewing (ASK 1986) en Kerk en Samelewing (ASK 1990) (Hofmeyr 2012:448). Dit is drie stukke waarin hy – behalwe miskien in Kerk en Samelewing (ASK 1990) – ’n sleutelrol speel. Juis omdat Heyns ’n inisiërende en sentrale rol in die Getuienis speel, is hierdie gebeurtenis’n belangrike saak in sy gemoed.

Die samelewingsorde in Suid-Afrika, daarvan is Heyns oortuig, moet hervorm word deur die krag van God se herskeppingsgenade. Onder die invloed van Heyns kom Kerk en Samelewing (ASK 1986) en Kerk en Samelewing (ASK 1990) ook met ‘hervormingstappe’. In Januarie 1987 sê Heyns: ‘Ons moet bid vir ’n nuwe bedeling. Hervorming is die enigste alternatief tot geweld.’ Vir hom is hervorming nie ’n statiese saak nie, maar evolusionêr en beweeglik. Wat eenheid in die NGK betref, praat hy van ‘’n dinamies evolusionêre model van gestruktureerde eenheid’. Heyns is ’n voorstander van die beginsel en metode van hervorming in die hele samelewing in Suid-Afrika – mens en struktuur ingesluit. Dit is ’n saak wat hy dikwels verwoord (aangehaal deur Williams 2006:169, 171, 213, 229, 231, 232, 282, 299).

Heyns en hervorming

Volgens Heyns is reformasie of hervorming nie blote verandering, ’n reaksionêre restourasie van die verlede of ’n revolusie nie.

Restourasie is ’n vasklou aan die gebruike of oplossings van die verlede. So wys die Algemene Sinode van 1982 van die NGK, die laaste pro-apartheid Algemene Sinode wat ook die Getuienis veroordeel, voorstelle vir verandering in Suid-Afrika konsekwent van die hand. Heyns wat deur hierdie sinode op die Breë Moderatuur uitgestem word, noem die vergadering ’n reaksionêre sinode wat wal gooi teen elke ‘poging tot hervorming’. Dit was asof hierdie sinode in die laaste loopgraaf vir die kerklike verdediging van apartheid gelê het (Williams 2006:185). Aan die ander kant is revolusie ook volgens Heyns iets wat meestal met geweld gepaard gaan en die waardevolle in die bestaande ‘volledig’ ontken. Hier is nie kontinue of aaneenlopende ontwikkeling nie, maar ’n radikale omverwerping. Gevolglik word die lewensbeskoulike beginsels ten grondslag van die nuwe orde nie deur die draers verinnerlik en beheers nie, maar deur omstandighede op hulle afgedwing. Hierdie toestand skep ’n gebrek aan stabiliteit in die gemeenskap. Daarby is elke verandering nie ’n verbetering nie.

Teenoor hierdie verskynsels staan reformasie wat aan die hele bestaande orde ’n nuwe vorm gee. Die beperking van reformasie in Suid-Afrika tot die politiek is, aldus Heyns, ‘verstommend kortsigtig’. Die nood ten opsigte van alle groepe en volke maak die reformasie van die hele samelewing noodsaaklik. Prakties beteken dit dat almal moet saamstem oor die noodsaak van reformasie op alle gebiede: die politiek, ekonomie, sosiaal-maatskaplik en kerklik. Dit gaan nie net oor ’n reformasie van strukture nie (’n beter omskrywing as strukturele bekering), maar ook van die ‘individuele en sosiale lewe in strukture of samelewingsverbande’. ’n Voorwaarde hiervoor is dat almal moet weet waarheen én dat alle betrokkenes daarheen beweeg. Almal moet bereid wees om die strukture en hulleself as die draers van die strukture te reformeer. Reformasie vra ook kennis van deformasie of die gebreke in die huidige situasie (Heyns 1989:71). Vir Heyns en die Getuienis gaan dit om die hervorming van die bestaande orde met die oog op die vergestalting van liefde, geregtigheid en menswaardigheid in strukture, groepe en individue (Heyns 1989:73–75) – ’n benadering wat deur Esterhuyse (1982:94) in ’n opsienbare publikasie breedweg onderskryf word6 en later in Kerk en Samelewing (ASK 1986:53) ook weerklink.

Heyns toon ’n aanvoeling vir die gebreke wat apartheid in Suid-Afrika meegebring het, maar ook vir die realiteit van ’n sekere ongelykheid onder die mense in Suid-Afrika – nie in menswees nie, maar in wat hy as ongelykhede in ‘Westerskulturele prestasie en geleenthede’ beskou. Volgens hom leef daar ’n mite dat alle probleme sal verdwyn wanneer apartheid verdwyn. As dit so was, was die soort hervorming waarvan hy gewag maak nie nodig nie (Williams 2006:327).

Volgens Heyns het ’n reformerende Suid-Afrika ’n behoefte aan onderlinge konsultasie waarin mense wedersydse erns met mekaar se opinies en gedrag maak. Hierdie erns vra erkenning van mekaar as verantwoordelike redelik-sedelike wesens – al sou een groep volgens die ander onmenslik en onredelik optree. Konsultasie vind plaas op die basis van humaniteit – of dit wat daarvan oorgebly het – met die oog op die bevordering van humaniteit. Daarby beland konsultasie voor kompromieë. Die gewilligheid om kompromieë te sluit, behoort tot die ‘fundamentele geestesinstelling en etiese voorwaardes vir suksesvolle konsultasie’ (Heyns 1989:72).

Elke daad van reformasie (die doel, beplanning en uitvoering) moet aan die eis van geregtigheid voldoen. Dit begin by die aanvaarding van mekaar as wesens wat na die beeld van God geskape is en teenoor mekaar gesondig het, maar deel aan die soenverdienste van Christus en daarom gewillig hulle oortredings teenoor mekaar bely. Uit liefde moet mense aan mekaar die ruimte gun om as volle mense vir God te leef. Almal, ‘met name’ (hierdie is ’n tipies ‘Heynsiaanse’ uitdrukking) die wit mense, moet as bevoorregtes terwille van geregtigheid offer in belang van ander. Dit is ook reg dat die blankes met hulle groter kulturele en akademiese opleiding die inisiatief neem ‘in die bepaling van die gestalte van sosiale geregtigheid …’. Die inhoud van die toekoms lê egter by ’n vennootskap. Beraad en raadpleging is ’n bybelse eis vir geregtigheid. Vir Heyns is die aard van beraadslaging ook ’n saak van geregtigheid wat ‘… saamhang met die algemene ontwikkelingspeil van diegene met wie beraad gevoer word’ (Heyns 1989:73).

Heyns is dus ’n voorstander van hervorming in Suid-Afrika wat impliseer dat die aanvaarbare in die bestaande behou en in ’n nuwe vorm opgeneem word. Volgens hom is reformasie evolusionêre groei na ’n beter toekoms waarin liefde, geregtigheid en menswaardigheid in mense en strukture gestalte kry.7 Reformasie verbeter sake op grond van ’n gewillige vennootskap met dieselfde oogmerk – ’n vennootskap waarin ongelykhede in terme van die Westerse kultuur erken, verreken en ingewerk word. Agter alles staan God in sy herskeppingsgenade. Vir Heyns is die hervorming van die bestaande orde in Suid-Afrika ’n uitvloeisel van sy reformatoriese lewensuitkyk – ’n ideaal wat ook met die realititeite rekening hou.

As sodanig gee hierdie houding van Heyns ’n verduidelikende uitleg aan die hervormingsmotief van die Getuienis. Dit wil nie sê dat Heyns in die bewoording daarvan gelei het of dat alles in die Getuienis na hom teruggevoer kan word nie. Wat wel so is, is dat hy as ’n inisieërder met die inhoud kon saamstem en die kerklike karakter daarvan kon verdedig. Die Getuienis pas in by Heyns se lewensbeskoulik-etiese oortuigings en gee uit ’n lewensbeskoulik-kerklike hoek gestalte aan die generiese begrip hervorming wat op daardie stadium by Heyns, Esterhuyse sowel as premier P.W. Botha geleef het. In die skriftelike weergawes van die laaste twee gaan dit egter nie om ’n kerklik-profetiese inslag nie. Botha verwys na die filosofie van hervorming in die algemeen en hervorming om verantwoordelik uit ’n apartheid-Suid-Afrika te kom, en Esterhuyse na strukturele verandering in sosiaal-maatskaplike Suid-Afrika.8

Soos vir Heyns gaan dit ook vir Esterhuyse met hervorming in Suid-Afrika om ’n situasie wat rekening moet hou met etniese verskille en ‘’n differensiasie in ontwikkelingspeil’ wat die praktiese toepassing van die beginsel van gelyke regte en geleenthede bemoeilik. Die skepping van gelyke regte en geleenthede moet dus bou op gelyke kulturele en opvoedingsmoontlikhede. Dit is net regverdig om gelykheid te paar met gelyke vormingsmoontlikhede: gelyke onderwysstandaarde gewaarborg deur onderwysers met gelyke opleiding, bekwaamheid en geriewe. Wat Esterhuyse (1982:92) ook waarneem, is die opkoms van ’n gekleurde middelstand wie se sosiale en politieke aspirasies nie ‘geïgnoreer kan word nie’. Waarvan hy ook oortuig is, is dat ‘groot’ apartheid met sy onafhanklike, gekonsolideerde nasionale state langs mekaar of ‘betekenisvolle geografiese partisie’, ekonomies nie haalbaar is nie. Die lappieskomberskonsolidasie van hierdie state in ’n apartheid-Suid-Afrika skep geen borrelende patriotisme of eers ’n kraak in die muur van buitelandse ‘vooroordeel’ nie (Esterhuyse 1982:99, 115, 119).

Vir Heyns is kerk en staat albei legitieme, geroepe gestaltes van God se koninkryk met elkeen ’n eie tipiese taak. Soos in die Hervormingsdaggetuienis moet die kerk sê wat die Woord hom toelaat om te sê. Die kerk kom met die pretensie – ’n begrip wat Heyns graag gebruik – dat hy sê wat die Woord van God sê en dat hy dit daarom met die gesag van God sê. Vanuit sy geloofsfunksie moet die kerk as kerk in sy uitsprake op die verband van die volle lewe met die God van die Bybel konsentreer. Dit beteken dat die kerk, soos Willem de Klerk, op die lewensbeskoulike of geestelike onderbou van alles in die lewe konsentreer (Heyns 1977:224–225).

Slot

Die effek van die Hervormingsdaggetuienis van 1980 op ’n samelewingsomvattende hervorming in Suid-Afrika is moeilik meetbaar. Hoeveel effek dit as sodanig op ’n saampraat en saambid van Christene vir hervorming in Suid-Afrika gehad het, kan moeilik vasgestel word. Dieselfde geld ten opsigte van die navolging van waarhede van die sestiende-eeuse Hervorming soos in die Getuienis verwoord: die hele lewe onder die heerskappy van die Woord, ’n hervorming van die bestaande orde, die bevordering van Christelike versoening, liefde, geregtigheid, menswaardigheid en kerkeenheid in Suid-Afrika teenoor onderlinge vervreemding en frontvorming onder Christene sowel as die skep van ’n ruimte waarin die beeld van God – ’n omvattende saak vir elke mens as ’n persoonlikheid – in die mens herstel kan word.

Jonker se beeld van ’n klein stormpie met ’n groot effek in die NGK en Heyns se waarneming dat die Getuienis ’n klimaat in die NGK geskep het om die regverdiging van apartheid te bevraagteken, kan gekwalifiseerd – soos aangetoon – aanvaar word. Ten opsigte van Heyns se stelling moet daarop gewys word dat die Sinode van Wes-Kaapland in 1979 wel rassediskriminasie veroordeel het, maar nie apartheid as ’n lewensomvattende stelsel nie (Gaum 1997:27–28). Die Wes-Kaapse stap is nie deur almal verstaan as ’n ‘Apartheid – quo vadis?’ nie.

Dat toonaangewende Afrikaanse teoloë soos Jonker en Heyns apartheid bevraagteken het, het waarskynlik iets van ’n onherroeplike nuwe era daaraan verleen. Die blote bestaan van so ’n era impliseer dat Heyns reg is dat die Getuienis die weg vir Kerk en Samelewing (ASK 1986) en Kerk en Samelewing (ASK 1990) met hulle kritiek op apartheid gebaan het. Aan die gebruik van liefde, geregtigheid en menswaardigheid as norms vir die hervorming van die bestaande orde, is daarmee ook sanksie verleen.9

Die Hervormingsdaggetuienis het met sy blootlê van twee groepe in die NGK oor apartheid ook die klok gelui vir ’n finale rondte in die geveg waaruit die Afrikaanse Protestantse Kerk sou ontstaan. Reeds voor hierdie rondte het die ‘visarendjie’ van Willem de Klerk met sy uitroep – die Getuienis – die koms van die ná-apartheidsera in die NGK aangekondig.

Sentraal vir ons tema het een saak in die Getuienis mettertyd na die agtergrond verskuif: kerklike en politieke besinning oor die detail van hervorming as metode vir die verandering van die bestaande orde in Suid-Afrika. Hoewel Heyns en Kerk en Samelewing (ASK 1986) daarmee geloop en premier P.W. Botha dit op sy manier eksplisiet aangepak het, was hervorming in Kerk en Samelewing (ASK 1990) en ná Botha se uittrede in 1989 (Kapp 2008:131) nie meer in die soeklig nie. In die plek daarvan het transformasie ná 1994 die wagwoord geword. ’n Transformasie wat deur ‘hervormers’ van vroeër as onafwendbaar aanvaar is (Strauss 2013:81). Vir hulle was die vreedsame omkeer van die bestaande samelewingsorde of transformasie ’n tydige soort hervorming.

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Literatuurverwysings

Algemene Sinodale Kommissie (ASK), 1986, Kerk en samelewing: ’n Getuienis van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Pro Christo, Bloemfontein.

Algemene Sinodale Kommissie (ASK), 1990, Kerk en samelewing: ’n Getuienis van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Pro Christo, Bloemfontein.

Botha, W.J., Heyns, J.A. & Gaum, F. (reds.), 2008, Christelike Kernensiklopedie, Lux Verbi, Wellington.

Esterhuyse, W.P., 1979, Afskeid van apartheid: Opstelle oor rassediskriminasie, Tafelberg, Kaapstad.

Esterhuyse, W.P., 1982, Die pad van hervorming: Beskouinge oor die noodsaaklikheid van strukturele hervorming in Suid-Afrika, Tafelberg, Kaapstad.

Gaum, F., 1997, Die verhaal van die Nederduitse Gereformeerde Kerk se reis met apartheid, Hugenote, Wellington.

Heyns, J.A., 1977, Die kerk, NG Kerkboekhandel, Pretoria.

Heyns, J.A., 1989, Teologiese etiek 2/2: Sosiale Etiek, NG Kerkboekhandel, Pretoria.

Hofmeyr, J.W., 2012, ‘Die Afrikaanse kerke in die twintigste eeu’, in F. Pretorius (red.), Geskiedenis van Suid-Afrika: Van voortye tot vandag, pp. 443–452, Tafelberg, Kaapstad.

Jonker, W.D., 1998, Selfs die kerk kan verander, Tafelberg, Kaapstad.

Kaapse Kerkargief (KKA), K 17, PPV 1315, PPV 1317 & PPV 1375.

Kapp, P.H., Botha, P.W., Gaum, F. (reds.), 2008, Christelike Kernensiklopedie, Lux Verbi, Wellington.

Kuiper, B.K., 1995, The church in history, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Lamprecht, G., 1997, ‘Afskeiding geregverdig?’, MTh-verhandeling, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein.

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), 1982, Handelinge Algemene Sinode, Sl, sn.

Scholtz, J.J.J., 1988, Vegter en hervormer: Grepe uit die toesprake van PW Botha, Tafelberg, Kaapstad.

Strauss, P.J., 1983, ‘Die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Gereformeerde Kerke in Nederland: Betrekkinge rondom die Suid-Afrikaanse rassevraagstuk’, DD-proefskrif, Universiteit van Pretoria, Pretoria.

Strauss, P.J., 1989, ‘Ekumene gestol?’, in J.A. du Rand en J.S. Kellerman (reds.), Diensknegte van die Koning, pp. 146–162, Pro Christo, Bloemfontein.

Strauss, P.J., 2002, ‘Toenemende isolasie deurbreek’, in P. du Toit, J.W. Hofmeyr, J. van der Merwe & P.J. Strauss (reds.), Moeisame pad na vernuwing, pp. 183–241, Barnabas, Bloemfontein.

Strauss, P.J., 2011, ‘Kerk en samelewing in die dokumente “Kerk en Samelewing” na 25 jaar’, Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif 52(3&4), 511–520.

Strauss, P.J., 2013, Kerkwees in die branding: Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Algemene Sinodale verband 1994–2011, SunMedia, Bloemfontein. (Acta Theologica Supplementum 18).

Strauss, P.J., 2015, Gereformeerdes onder die Suiderkruis 1652–2011, SunMedia, Bloemfontein. https://doi.org/10.18820/9781920382674

Van der Merwe, R.M., 2009, ‘Die konkretisering van eenheid in ’n plurale en gebroke gemeenskap: ’n gereformeerd-kerkregtelike beskouing’, PhD-proefskrif, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom.

Van der Watt, P.B., 1987, Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1905–1975, NG Kerkboekhandel, Potchefstroom.

Williams, H.H., 2006, ‘JA Heyns en die Nederduitse Gereformeerde Kerk en apartheid’, DTh-proefskrif, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein.

Wessels, L., 1994, Die einde van ’n era, Tafelberg, Kaapstad.

Footnotes

1. In sy Die pad van Hervorming voer W.P. Esterhuyse (1982:88), ’n mede-ondertekenaar van die Getuienis, aan dat apartheid in Suid-Afrika rassediskriminasie bewerk het en dat ‘staat, skool, kerk en kultuurorganisasies’ dit oor jare as kondisionering gebruik het om te leer dat dit goed en reg is. Omdat die Afrikaanse Kerke sover – tot in 1982 – jammerlik gefaal het om dit reg te stel, is ’n ‘gekoördineerde morele heropvoeding in so ’n situasie van dringende belang’.

2. Esterhuyse (1982:90) maak melding van Afrikaanse politieke leiers en rubriekskrywers (in koerante) wat nie skroom om dít in apartheid-Suid-Afrika wat verkeerd is, by die naam te noem nie.

3. Kapp praat van belangrike hervormings en veranderings onder P.W. Botha in Suid-Afrika. Onder sy bewind is apartheid ‘allengs afgetakel’. Die pasboekstelsel vir mense van gemengde ras is afgeskaf; politieke gevangenes is vrygelaat; eiendomsreg vir stedelike swart mense is ingestel; en instromingsbeheer is gestaak. Botha het in 1989 ook ’n geheime ontmoeting met Nelson Mandela in die gevangenis gehad, maar wou hom nie onvoorwaardelik vrylaat nie (Kapp 2008:131). ‘Aftakel’ en ‘allengs’ dui op geleidelike verandering of hervorming. Leon Wessels (1994:6) merk in hierdie tyd op: ‘… Botha se hervormingspolitiek moet eenvoudig uit die erg beknopte wêreld van die blanke politiek breek en geleentheid kry om ongestoord verder te ontwikkel’.

4. Ras, volk en nasie en volkereverhoudinge in die lig van die Skrif noem naasteliefde en geregtigheid norme vir gesonde volkereverhoudings (Strauss 1983:393; 2015:68).

5. Teen hierdie agtergrond word die titels van twee boeke van W.P. Esterhuyse (1979; 1982), ’n mede-ondertekenaar van die Getuienis, in hierdie tyd nog meer verstaanbaar.

6. Esterhuyse (1982) bestempel demokrasie as voortgesette hervorming. Volgens hom is demokrasie ’n afspraak wat die samelewing struktureel wil orden om die regte, vryhede en verantwoordelikhede van die burger op die beste manier te verwesenlik. Die beginsel van regverdigheid (die gelykheid of gelykwaardigheid én gelyke behandeling van almal) is, aldus Esterhuyse, diep gewortel in die demokrasie. Die toepassing van regverdigheid beheer konflik, beperk griewe en kontroleer verset (Esterhuyse 1982:94–95).

7. Esterhuyse (1982:112) praat van konstitusionele hervorming om evolusionêre prosesse op dreef te bring wat strukturele verandering kan voed.

8. Vir Esterhuyse, kyk voetnoot 3. Vir P.W. Botha, kyk Scholtz (1988):

realistiese idealisme wat daarop bereken is om dit wat minder goed is, te verbeter; dit wat onooglik is, te verfraai; dit wat onregverdig is, te verwyder; dit wat haatlik is, te vervang deur respek. (p. 16)

In 1987 sê Botha ‘As jy nie meer moed het om te hervorm nie, sterwe jy’ (Scholtz 1988:iii). Vir hom het dit dus ’n lewensreël geword. Vroeër, in 1983, merk Botha op: ‘My ondervinding is dat die hervormer nie baie gewild is tot na sy dood nie’ (Scholtz 1988). Hierdie opmerkings is in ’n groot mate ook op Heyns van toepassing. Volgens Botha het die Afrikaner deur sy geskiedenis geweier dat ander oor hom regeer en vir hom besluit. Noudat hy regeer, moet hy bereid wees om teenoor almal regverdig op te tree. As hy nie daarin slaag nie, sal die:

magte van die radikalisme en rewolusie die nasionale lewe van Suid-Afrika ontsier… veranderinge moet voldoen aan die voorwaarde van billikheid en redelikheid, ook teenoor die blanke bevolking… dit moet vreedsaamheid en goeie orde verseker… en nie ’n aantasting van beskaafde waardes meebring … die Kommunisme bevorder nie … (Scholtz 1988: 18–19)

Heyns en Botha stem dus grootliks saam oor die noodsaaklikheid en metodes van hervorming in Suid-Afrika. Heyns is ook afwysend teenoor revolusie en bedag op beskaafde waardes te midde van beraadslaging of ’n vennootskap en geregtigheid aan almal. Kapp (2008) gee ’n opsomming van Botha se hervormingsinisiatiewe: die magsdeling met die bruinmense en Indiërs in die driekamerparlement van 1983, die afskaffing van die pasboekstelsel en instromingsbeheer, die vrylating van politieke gevangenes, eiendomsreg vir verstedelikte swart mense en ooreenkomste met Zambië (1982) en Mosambiek (1984). Botha het Mandela ook in Julie 1989 in die geheim in die gevangenis besoek, maar wou hom nie vrylaat nie. In 2001 bely Botha nogeens sy geloof in Jesus Christus wat geleef en gesterf het, ‘sodat ons kan lewe’ (Kapp 2008:131).

9. Esterhuyse (1982) praat van hierdie era wat ook ’n nuwe dimensie in die Suid-Afrikaanse politiek verteenwoordig: die koms van ’n morele bewuswording van die geregverdigde aspirasies van gekleurdes. Volgens hom (Esterhuyse 1982:90) vra ’n nuwe geslag Afrikaners in 1982 vrae oor die morele legitimiteit van die sosiale en politieke strukture van ’n apartheid-Suid-Afrika.



Crossref Citations

No related citations found.