About the Author(s)


Neels Marais Email symbol
Department of Practical Theology, University of Pretoria, South Africa

Citation


Marais, N., 2018, ‘Integrering en koördinering van bedienings in identiteitsontdekking en -ontwikkeling’, Verbum et Ecclesia 39(1), a1869. https://doi.org/10.4102/ve.v39i1.1869

Original Research

Integrering en koördinering van bedienings in identiteitsontdekking en -ontwikkeling

Neels Marais

Received: 25 Apr. 2018; Accepted: 16 Aug. 2018; Published: 20 Nov. 2018

Copyright: © 2018. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstract

Integration and coordination of ministries in identity finding and identity development. In this article Nel’s argument that ministries (in the building up of the local congregation) need each other to facilitate the discovery and development of identity is tested. The role that the integration and coordination of ministries in a systems approach play in the discovery and development of a missional congregation’s identity is investigated and research is done to see whether scholars agree with Nel’s theory that all the ministries can facilitate identity finding and identity development. This empirical research (quantitative as well qualitative) was conducted among the ministers of the Highveld Synod of the Dutch Reformed Church. Hundred and thirty nine of the 144 ministers agreed to take part in the quantitative research, followed by partly structured interviews with 16 randomly selected ministers. During the empirical study (which formed part of PhD research) every attempt was made to obtain data in connection with the understanding ministers have regarding the building up, identity and missional being of a congregation as well as the integration and coordination of the ministries that are present in their congregations. Most of the ministers are aware of the fact that they need to develop their congregations as missional congregations, but the ministers do not always have the knowledge and experience to make the move. It was clear that not all the ministers understand the role that the ministries play in identity finding and identity development. Nel’s theory has therefore been affirmed by the empirical research. The research has shown that some of the ministers seem to show a flawed understanding that identity is a relational reality. At the same time there exists quite possibly a defective understanding that a congregation’s reason for existence originates in its identity, and it is clear that the role that the integration and coordination of the ministry play in the discovery and development of the identity are not fully understood.

Intradisciplinary and/or interdisciplinary implications: Starting from within the framework of Practical Theology, I leaned into Dogmatics to learn more about the identity of the church. Dogmatics led me to a missiological ecclesiology that forms part of the study field of Missiology. The integration and coordination of ministries in a local congregation is basically systems theory. Systems theory is an interdisciplinary study of systems.

Inleiding

Die integrering en koördinering van die bedienings in ’n missionale gemeente is ’n komplekse saak. Integrering verwys na die inter verweefdheid, en koördinering na die gesamentlike funksionering van die bedienings. Tydens die PhD-navorsing wat hierdie artikel voorafgegaan het, is ondersoek ingestel met betrekking tot die rol wat bedienings in identiteitsontdekking en -ontwikkeling speel. Die sleutel konsepte van die studie is gemeentebou, die identiteit van die kerk, missionale gemeentewees en die integrering en koördinering van die bedienings.

In dié navorsing is agt modi van bedienings (leitourgia, paraklesis, kubernesis, didache, koinonia, diakonia, marturia en kerugma) gekies, waar elke modus daar is om die kommunikasie van die evangelie te dien. Elke bedieningsmodus én almal saam is drie-dimensioneel in die sin dat elkeen diens aan die Trinitariese God, diens aan mekaar en diens aan die wêreld is (Nel 2015:106).

Toetsing van Nel se teorie

Nel (2015:63–79) se teorie met betrekking tot die integrering en koördinering van die bedienings en die rol wat hulle afsonderlik én gesamentlik in identiteitsontdekking en -ontwikkeling speel, word in hierdie artikel ondersoek. Nel voer aan dat die doelbewuste integrering en koördinering van die bedienings identiteitsontdekking en -ontwikkeling fasiliteer en dat elke bediening ’n rol in identiteitsontdekking en -ontwikkeling te speel het. In hierdie studie word Nel se argument dat die bedienings mekaar nodig het om identiteitsontdekking en -ontwikkeling te fasiliteer, getoets.

Probleemstelling

Die probleemvraag van die artikel is die volgende: ‘Is gemeenteleiers bewus van die rol wat die bedienings in identiteitsontdekking en -ontwikkeling speel, en hou hulle daarmee rekening dat die bedienings gesamentlik funksioneer, interverweefd is en mekaar optimaliseer?’

Nel se teorie: Integrering en koördinering van die bedienings

Nel (2015) voer redes aan ten gunste van ’n vyf-dimensionele verstaan van gemeentebou, wat uit die volgende bestaan:

(1) ’n Konsep waar die gemeente haar identiteit ontdek en ontwikkel.

(2) ’n Konsep van reformasie.

(3) ’n Konsep van integrering en koördinering van al die bedienings.

(4) ’n Konsep van langtermynbediening.

(5) ’n Konsep van afhanklikheid van God. (bl. 25–88)

Die fokus val gevolglik op identiteit: die integrering en koördinering van al die bedienings ten einde identiteitsontdekking en -vorming op ’n hermeneutiese vlak te fasiliteer. Nel (2015:79) verduidelik dit aan die hand van die bou van ’n legkaart. Indien ’n mens voor die uitdaging staan om ’n legkaart van 8000 stukke te bou, is dit onmoontlik om die taak aan te pak sonder ’n prentjie van dit wat gebou moet word. Die prent moet daar wees sodat gesien kan word wat gebou moet word. Indien die prent nie aanwesig is nie, is die moontlikheid daar dat gemeenteleiers deur die loop van hul lewens met die ‘bedieningstukkies’ gaan speel sonder om te weet wat gebou moet word (Nel 2015):

On top of the box is the complex image of who we are in Christ and we are integrating and coordinating the explicitly distinguished ways by which God makes this happen. We do so knowing that for the whole picture all the pieces are equally important and essential. Integrating and coordinating are both an art and trade. (bl. 79)

Die teoretiese kern van dié artikel is te vind by Nel (2015:63–83), waar hy argumenteer dat die integrering en koördinering van ál die bedienings identiteitsontdekking en -ontwikkeling fasiliteer. Die integrering en koördinering van die bedienings spruit voort uit elke bediening wat afsonderlik identiteitsontdekking en -ontwikkeling fasiliteer. Nel (2015:223–229) voer aan dat die motivering van ’n gemeente daarin lê dat sy haar identiteit ontdek, verstaan, verder ontwikkel én geniet. Sulke gemeentes sal gemotiveerd wees om deel te neem aan hul eie opbouproses namate hulle al hoe meer as ’n missionale gemeente ontwikkel (Nel 2015):

Motivation, therefore, can take place through all the ministries of the congregation. But then the ministries have to be consciously aimed towards that end. (bl. 241)

Osmer (2012:51–52) wys op die belangrikheid van ’n sterk band tussen bedienings in identiteitsvorming en -ontwikkeling. Hy voer aan dat die gemeente sowel as die lidmate gevorm word wanneer hulle mense buite die kerk bedien:

Missional formation in a congregation of centered openness includes, but goes beyond, the typical practices we associate with spiritual formation. An important practical implication of this point is the need to build deep connections between ministries of upbuilding and sending in formation. Perhaps the best examples of this in my interviews were mission groups and learning communities. These are relatively small groups – up to thirty people – that combine worship, fellowship, study, and service. (bl. 51–52)

Osmer sê in hierdie groepe is daar ’n interverweefdheid tussen die opbou en gestuurdheid van die kerk, waar die diakonia byvoorbeeld die koinonia versterk, maar ook die didache verdiep. ’n Missionale gemeente neem vorm aan soos wat dit uit haar en in haar missionale roeping leef (Osmer 2012:51).

Die Nederlandse teoloog, Jacob Firet (Nel se teologiese mentor), het aan ons die woordeskat gegee om van God se koms na die kerk én na die wêreld deur middel van bedienings te praat. Firet het met drie bedienings (prediking, onderrig en pastorale sorg) gewerk en hoewel Nel (2015:106; vgl. 1994:27) se agt modi van bedienings vir hierdie artikel gekies is, het Firet (1986:15) se proefskrif die weg gebaan om te praat van ‘the action of God who, by way of the official ministry as intermediary, comes to people in his word’.

In navolging van Firet, voer Nel (2015:68) aan dat God na die wêreld kom via die bedienings (kerugma, leitourgia, paraklesis, didache, koinonia, diakonia, marturia en kubernesis), en ’n gemeente is op haar heel beste wanneer dit die koms van God promoveer en dien.

Waar Firet die term ‘pastoral role-fulfilment’ gebruik om van God se koms deur ’n persoon (pastor) te praat, voer Nel (2015:68) en ander aan dat ’n gemeente ook dié rol kan vervul (Bosch 1995:59; kyk Moltmann in ed. Runyon 1979:21; Newbigin 1986:142, 1991:6, 1995:129; Pasveer 1992:112; Roxburgh 2011:129, 189):

I believe it is fair and just to claim pastoral role-fulfilment not only for the pastor (as so well-developed in Firet’s dissertation), but also for the congregation as subject in God’s coming to one another and to the world. (Nel 2015:68)

Samevattend kan gesê word dat die bedienings God se koms na die kerk en wêreld fasiliteer, maar ook identiteitsontdekking en -ontwikkeling fasiliteer.

Die rol wat bedienings in identiteitsontdekking en -ontwikkeling speel

In hierdie gedeelte word kenners se argumente met betrekking tot die rol wat die verskillende bedienings in identiteitsontdekking en -ontwikkeling speel, ondersoek.

Soos wat hieronder aangetoon word, is kenners dit eens dat ’n gemeente haar identiteit deur ál die bedienings kan ontdek en dat al die bedienings identiteitsontwikkeling kan fasiliteer.

Kerugma

Linden (2015:72–112) dui breedvoerig in sy doktorale proefskrif aan dat die rol van prediking onontbeerlik vir identiteitsontdekking en -ontwikkeling is. In die Skrif word die kerk se identiteit in Christus aan haar op ’n diepgaande wyse geopenbaar, en deur Bybelse prediking (kerugma) ontdek die kerk haar identiteit (Thompson 1981:17). Packer (in Logan 1986:19) voer aan dat die meeste Westerse kerke ’n baie swak sin van hul identiteit het, en daarom sê hy dat prediking die identiteit van die kerk fokus en dat dit die roeping van die kerk verhelder soos geen ander aktiwiteit kan nie.

Leitourgia

Wepener (2011:11) skryf in sy boek, Soos ’n blom na die son draai, dat die ontmoeting tussen God en mens in die erediens een van die mens se diepste behoeftes is (Wepener 2011):

Dit is immers die kern en doelwit van die erediens – om vir dié wat saamkom om God te aanbid ’n ontmoetingsplek te skep waar hulle die lewende Christus kan ontmoet, en Hom dan spesifiek kan ontmoet as die verlossing wat God bewerk het. (bl. 11)

Daar bestaan ’n verbintenis tussen die liturgie van ’n geloofsgemeenskap en hul identiteitsvorming, en dikwels kom só ’n gemeenskap se identiteit via hul liturgie na vore. Wepener (2008) verwys na navorsers soos De Klerk (2000), Pieterse (1998) en Van der Merwe (2003), sowel as sy eie werk saam met Pauw (2004), en sê daar is die afgelope paar jaar redelik baie oor die verband tussen liturgie en identiteitsvorming nagevors (Wepener 2008):

These examples of liturgical research which point towards the fact that there is a connection between liturgy and identity formation are a clear barometer that in South Africa over the past decade or more our liturgy was and indeed is on the edge of tradition … seeking and longing for the (trans)formation of identities. (bl. 8)

Liturgie word deur Pieterse (1998:348) as die bewaker van die hoop én die uitdrukking van die identiteit van ons geloofsgemeenskap gesien:

Deur op sinvolle wyse binne ons tradisie op ’n vernuwende wyse ons liturgie ten opsigte van rituele en simbole in te rig kan die liturgiese viering ’n bydrae lewer tot die bepaling van ons identiteit en so die hoop bewaar. (bl. 344)

Paraklesis

Dykstra (2005:2) dui daarop dat pastorale versorgers, wat van tyd tot tyd onsekerheid oor hul identiteit beleef, se identiteit juis te vinde is waar hulle mense bystaan wat op die rand van die samelewing is: ‘Here, pastoral identity paradoxically seems to be found in a threatened loss of identity and pastoral theology’s relevance in the perception that it lacks much relevance’. Sy werk (Dykstra 2005) is aan die een kant ’n omhelsing van dié onsekere identiteit van die pastorale versorgers, maar aan die ander kant is dit ’n verduideliking van die rol wat pastorale versorgers speel en hoe hulle met verloop van tyd tot ’n verstaan van hulself en die rol wat hulle speel, gekom het.

Koinonia

Dingemans (1987:117) merk dat die koinonia van die Jesus-beweging die basis was vir die verdere ontwikkeling van die kerk, en dat die broeder- en susterskap reeds in die voor-Pauliniese tradisie voorop gestaan het: ‘Het zijn “huiskerken”, plaatselijke gemeenschappen: hè kat’oikon ekklèsia, huisgemeenten. Een netwerk van face-to-face-relaties’. Ulrich Kuhnke (1992:99–106) voer aan dat die koinonia die identiteit van die kerk kan rekonstrueer. De Roest (1998:290–291), in aansluiting by Kuhnke se argument, verwys na die praktyk van Christene om Jesus te volg waar die koinonia ’n narratiewe gemeenskap vestig waar die goeie nuus van die evangelie oor en oor op verskeie maniere vertel word. Die diakonale funksies is onlosmakend deel van hierdie gemeenskappe en die verhoudings is wederkerig. Die koinonia van die toekoms bepaal die identiteit van die gemeente in die hede (De Roest 1998:290–291).

Diakonia

Dietrich et al. (2014:2) sien diakonia as ’n teologiese begrip wat na die ware identiteit en missie van die kerk wys. Dit is ’n reaksie op die oortuiging dat die Bybelse verstaan van diakonia’n mens oproep om te dien. In sy studie van die diak-woorde (diakonia, diakonein en diakonos), wys Collins (in Dietrich et al. 2014:3) dat diakonia eerstens iets soos taak of missie beteken: ‘The importance of this task and its content relate to the one who authorises and in whose service the diakonos is sent as a messenger and go-between’.

Marturia

Witness to the gospel defines the identity, the activity, and the communication which are the calling of the church since Pentecost (Guder 2000:71).

Guder (2000) maak die volgende stelling met betrekking tot die konsep van marturia (witness):

It is missiologically provocative that this word family includes terms for the person who is the witness (martys, mainly in Acts), the testimony rendered by the witness (martyria, martyrion), and the process of giving or bearing witness (matyrein, diamartyresthai). (bl. 55)

Hy (Guder 2000:55) argumenteer dat hierdie klompie betekenisse aandui dat die Christelike getuienis (Christian witness) onder andere die identiteit van die Christen definieer en verwys na Barth wat praat van ‘die Christen as getuie’ (the Christian as witness).

Didache

Die ontwikkeling van ’n missionale gemeente gaan oor die waarheid dat gelowiges – individueel en korporatief – doelbewus opgebou word om deel te neem aan die missio Dei. Deur deelname aan die missio Dei kom hulle tot ’n waardering van sowel hul identiteit as die rede vir hul bestaan (Nel 2015:185). Die gemeente kan tot ’n groot mate beskryf word as mense wat voortdurend leer en ontdek wie God is, hoe Hy werk, en wat Hy doen en begeer in en deur ons vir die wêreld. Dit is een van die redes hoekom dit wat Jesus en die apostels geleer het soveel in die Bybel beklemtoon word, en daarom kan gesê word dat kinderlike geïnteresseerdheid en bereidwilligheid om te leer van die belangrikste eienskappe van dissipels is. Dit behoort so natuurlik te wees om die gemeente toe te rus en te leer as wat dit natuurlik vir kinders is om binne die familiekring te leer en te ontwikkel (Nel 2015:194).

Kubernesis

Through them [leaders], God prepares his people to understand their identity, to fulfil their functions according to the purpose of God for his congregation, and to create structures that best serve the acts of God’s salvation in a given time and society. (Nel 2015:143)

Wanneer Niemandt (2013:50) nadink oor die behoefte aan ’n nuwe manier van leierskap, voer hy aan dat baie van die hedendaagse leierskapsprobleme waarskynlik met ’n verkeerde verstaan van die identiteit en die wese van die kerk te doen het. Die gesprek rondom die ontwikkeling van leierskap in die kerk het binne die raamwerk van missionale kerkwees ontstaan. Die identiteit van ’n missionale gemeenskap bepaal haar doel (Niemandt 2013:51).

Nel (2015:156) voer aan dat sommige lidmate geroep word om gemeentes te lei en dit is die bediening waar hulle dien. Die opbou van ’n missionale gemeente kan nie plaasvind sonder gesonde leierskap nie, en alles wat uit die leierskap voortspruit, moet daartoe bydra dat lidmate al hoe meer bewus word van wie hulle reeds in Christus is. Die identiteit van ’n gemeenteleier is dié van ’n dienaar. Leiers is betrokke by die verskillende modi van bedienings in gemeentes, en al dié bedienings gaan primêr oor diens. Nel (2015:162) verwys na Markus 10:35–45, waar Jesus dit duidelik stel dat die een wat wil lei soos ’n dienaar moet word, en dit is duidelik dat Paulus bediening in terme van diens definieer.

Uit die bostaande is dit dus duidelik dat kenners oortuigend aangetoon het dat die kerk haar identiteit deur ál die bedienings kan ontdek en ontwikkel, en dat al die bedienings ’n rol te speel het in dié proses. Die literatuurstudie bevestig dus Nel se teorie.

Integrering en koördinering as sisteemdenke

In hierdie afdeling word daar na die integrering en koördinering van die bedienings as sisteemdenke gekyk, die noodsaaklikheid van ál die bedienings word beklemtoon, en daar word geraak aan sinergie as aksie van vermenigvuldiging (Daellenbach, McNickle & Dye 2012):

From about the 1940’s a number of researchers from various scientific disciplines, biology, mathematics, communication theory, and philosophy, started to recognize that all things and events, and the experience of them, are parts of larger wholes. (bl. 22)

Dié gewaarwording het nie die belangrikheid van individuele elemente of gebeure ondermyn nie. Die fokus het egter van die ‘onderdele’ geskuif na die ‘sisteem waaraan die onderdele behoort’. Dit het ’n nuwe denkrigting, wat vandag as sisteemdenke bekend staan, tot gevolg gehad. Wat ook al beskryf moes word, is as iets wat deel is van ’n groter prentjie gesien, en beskryf in terme van wat die betrokke element se rol in die sisteem is (Daellenbach et al. 2012:22). Die sisteem-wetenskaplike, Peter Senge (2006:68), beskryf sisteemdenke as die dissipline om die geheel te sien: dit is ’n denkraamwerk waar onderlinge verbindings en patrone raakgesien word. In die 21ste eeu is dit nodiger as ooit omdat die mens maklik kan verdrink in die oorvloed inligting wat tot sy beskikking is (Senge 2006:69). Vir Senge (2006:69) is sisteemdenke die hoeksteen van ’n leerbare gemeenskap. Dit is die dissipline wat integrasie tussen die onderdele en die geheel van die sisteem bring.

Gemeenteleiers as sisteemdenkers

De Wit (2017:435) voer aan dat suksesvolle leiers ‘sisteemdenkers’ is wat die groter prentjie raaksien en nie soveel aandag aan die gewone dag-tot-dag-take skenk nie. Hulle doen dit intuïtief en is soms gefrustreerd dat ander nie die wêreld soos hulle sien nie. De Wit (2017:435) sê leiers gaan in die toekoms al hoe meer ’n greep op sisteemdenke moet hê, en stel ’n paar vaardighede voor waaroor toekomsleiers moet beskik.

In die eerste plek moet leiers die vaardighede hê om die verhoudings en verbintenisse raak te sien (vgl. Senge 2006:69).

Tweedens moet leiers besef dat sisteme wat swak ontwerp is, meestal die blaam vir organisatoriese probleme moet kry: ‘We tend to blame each other or outside circumstances for our problems. But it is poorly designed systems, not incompetent or unmotivated individuals, that cause most organizational problems’ (De Wit 2017:435). Hy argumenteer dat leiers die vaardighede moet hê om te fokus op die areas wat die beste moontlike resultate sal oplewer. Hy beskryf dit as volg (De Wit 2017):

Focus on areas of high leverage. Tackling a difficult problem is often a matter of seeing where the high leverage lies, where a change – with a minimum of effort – would lead to lasting, significant improvement. (bl. 435)

Senge beskryf sisteemdenke as ’n kunsvorm wat verandering kan genereer. Sisteemdenke kyk deur die detail van kompleksiteit om die onderliggende sisteme raak te sien wat na verlangde uitkomste kan lei. Dit beteken egter nie om die detail van kompleksiteit te ignoreer nie; inteendeel, dit dryf leiers om die detail van kompleksiteit in ’n koherente storie te organiseer wat lig werp op die oorsake van probleme en hoe dié probleme in die toekoms uitgesorteer kan word (Senge 2006:124).

Sinergie: Aksie van vermenigvuldiging

Nel (2015:74–75) voer aan dat die opbou van ’n missionale gemeente veel meer is as die somtotaal van leitourgia plus paraklesis plus kubernesis plus didache plus koinonia plus diakonia plus marturia plus kerugma. In die opbou van ’n missionale gemeente is ál die bedienings nodig, en die onderskeie bedienings het mekaar nodig om werklik effektief te wees (Nel 2015:78). Die ideaal is ’n aksie van vermenigvuldiging waar al die bedienings ernstig opgeneem word. Binne só ’n sisteembenadering word die bedienings meer as wat hulle een-een op hulle eie kan word: ‘Synergism is the principle that two systems or processes can produce more when harnessed together than when standing alone’ (Armour & Browning 1995:53–143).

Stephan Covey (1989:262–263) beskryf ‘sinergie’ as volg:

Simply defined, it means that the whole is greater than the sum of its parts. It means that the relationship which the parts have to each other is a part in and of itself. It is not only a part, but the most catalytic, the most empowering, the most unifying, and the most exciting part. (Covey 1989:263; vgl. Pasveer 1992:35)

Campbell en Goold (2012) is voorstanders daarvan dat lede van organisasies voortdurend koppe bymekaarsit om te kyk of beter koördinering nie dalk tot beter resultate en groter sinergie kan lei nie. Hulle (Campbell & Goold 2012) stel voor dat die volgende vier vrae gevra word:

  • Wat is tans die houding jeens die koördinering van besigheids eenhede (business units) en hoe word dit bestuur?
  • Waar lê die grootste bron van sinergie en is dit al ten volle ontgin?
  • Is ons tans optimaal gerat vir geleenthede wat voor ons deur is?
  • Watter inisiatiewe met betrekking to sinergie moet laat vaar word? Watter nuwe moontlikhede moet ondersoek word en watter veranderings moet aan ons prosesse aangebring word? (bl. 278–279)

Gemeenteleiers kan moontlik waardevolle lesse by Campbell en Goold (2012:287–288) leer, veral wat ‘synergy killers’ betref. Hulle wys op heelparty faktore wat sal maak dat ’n organisasie se sinergievlakke nie optimaal funksioneer nie. Eerstens verwys hulle na ’n gebrek aan duidelikheid (clarity) oor wat ’n organisasie se korporatiewe prioriteite is. Tweedens voer hulle aan dat ongesonde konflik tussen senior personeellede ’n negatiewe impak op sinergie het. Hulle wys daarop dat ’n kultuur van geheimhouding en wantroue sowel as oormatige druk om te presteer sinergie sal vernietig.

Parks (2005:55) wys egter op die koste van sisteemdenke juis omdat dit leiers dwing om na die groter prentjie te kyk. Dit kan gebeur dat leiers se bestuursverantwoordelikhede net te veel raak en dat hulle oorweldig word deur die kompleksiteit wat met sisteemdenke gepaard gaan. Sy argumenteer dat leiers binne só ’n benadering minder in beheer voel, maar tog erken sy dat elke aksie (hoe klein of nederig ook al) ’n groot effek op die sisteem kan hê. Leiers se sfeer van verantwoordelikheid word vergroot, en hulle leer kort voor lank dat hulle nie al die kennis in pag het nie en dat talle van die uitkomste onseker is: ‘For many, this is the step into a new understanding of reality that calls for an enlarged measure of both humility and courage’ (Parks 2005:56).

Data met betrekking tot die integrering en koördinering van bedienings in die Hoëveld Sinode

Kwantitatiewe navorsing met betrekking tot die integrering en koördinering van bedienings is onder 139 van die Hoëveld Sinode se leraars gedoen, waarna half-gestruktureerde onderhoude met 16 ewekansig verkose leraars gevoer is (sien Marais 2018:156–249). Tydens dié navorsing was daar 144 leraars werksaam in die Hoëveld Sinode. Die 139 wat aan die kwantitatiewe navorsing deelgeneem het, verteenwoordig dus 96.5% van die leraars.

Van die kernsake wat uit die navorsing voortgespruit het, was:

  • Die gebrekkige begrip dat ’n gemeente se bestaansdoel en roeping vanuit haar missionale identiteit voortspruit.
  • Die bydrae wat die integrering en koördinering van die bedienings in identiteitsontdekking en -ontwikkeling speel, word heel moontlik nie ten volle begryp nie.
  • Nie al die leraars begryp ten volle die rol wat die bedienings in identiteitsontdekking en -ontwikkeling speel nie.

Wat duidelik na vore gekom het, was dat nie al die leraars saamstem met die stelling dat die gemeente waar hulle bedien, opgebou word wanneer daar ’n doelbewuste poging is om die bedienings te integreer en te koördineer ten einde identiteitsontdekking en -ontwikkeling te fasiliteer nie. Die respondente is gevra om aan te toon in hoe ’n mate hulle met die volgende stelling saamstem:

Die gemeente waar ek bedien word opgebou wanneer daar ’n doelbewuste poging is om die bedienings te integreer en te koördineer ten einde identiteitsontdekking en identiteits-vinding te fasiliteer. (Marais 2018: Vraag 9.2f)

Slegs 34.5% van die leraars het beslis met die stelling saamgestem, en 15.8% het nie met die stelling saamgestem nie. Daar was 47.5% van die leraars wat nie ten volle oortuig was deur die stelling nie en net gedeeltelik daarmee saamgestem het dat die doelbewuste integrering en koördinering van die bedienings identiteitsontwikkeling fasiliteer.

Daar was 40.3% van die leraars wat gesê het dat hulle doelbewus besig is om die bedienings wat teenwoordig is te integreer, en 43.2% het aangedui dat hulle die bedienings doelbewus koördineer. ’n Meerderheid van die leraars (77.7%) begryp dat die bedienings mekaar nodig het, inter-verweefd is en op mekaar steun. Al die leraars is egter nie daarvan oortuig dat die doelbewuste integrering en koördinering van die bedienings identiteitsontwikkeling fasiliteer nie. Slegs 52.5% van die leraars stem beslis saam dat dit die geval is.

Afleidings uit die navorsing

’n Afleiding wat uit die navorsing gemaak word, is dat die leraars nie ten volle oortuig is van die bydrae wat die afsonderlike bedienings tot identiteitsontwikkeling maak nie. Die afleiding word op grond van die volgende data gemaak:

  • Slegs 38.1% van die leraars stem beslis saam dat die bediening van leierskap en administrasie identiteitsontdekking en -ontwikkeling fasiliteer.
  • Dat die bediening van pastorale sorg identiteitsontdekking en -ontwikkeling fasiliteer, stem 51.8% van die leraars saam.
  • Dat die liturgie identiteitsontdekking en -ontwikkeling fasiliteer, stem 53.2% van die leraars saam.
  • Dat die bediening van getuienis identiteitsontdekking en -ontwikkeling fasiliteer, stem 45.0% van die leraars saam. Dieselfde persentasie van die leraars (54.0%) stem saam dat onderrig identiteitsontdekking en -ontwikkeling fasiliteer.
  • Dat koinonia identiteitsontdekking en -ontwikkeling fasiliteer, stem 63.3% van die leraars saam.
  • Dat die diens van barmhartigheid identiteitsontdekking en -ontwikkeling fasiliteer, stem 65.5% van die leraars saam.
  • Dat prediking identiteitsontdekking en -ontwikkeling fasiliteer, stem 69.8% van die leraars saam.

Al die leraars van die Hoëveld Sinode is dus nog nie naastenby oortuig van die rol wat die bedienings afsonderlik én gesamentlik in identiteitsontdekking en -ontwikkeling speel nie. Die data uit die kwalitatiewe navorsing het die kwantitatiewe data bevestig.

Die vraag ‘Hoe ontdek en ontwikkel ’n gemeente haar identiteit?’ is tydens die half-gestruktureerde onderhoude aan die 16 ewekansig verkose leraars gevra. Die rol wat die Skrif, leraar en omgewing in identiteitsontwikkeling speel, is beklemtoon en daar is genoem dat identiteitsontdekking uit ’n lewende verhouding met die Here voortspruit. Vier van die 16 leraars het na die belangrikheid van die erediens verwys, met drie wat klem geplaas het op die rol wat die gemeenskap van die gelowiges in identiteitsontdekking speel. ’n Kwart van die leraars het daarop gewys dat ’n gemeente se konteks en omgewingsfaktore ’n bepaalde invloed op haar identiteit uitoefen.

Die eerste deelnemer het as volg geantwoord:

‘Jy gaan hê ’n realistiese kyk na wat aan die gebeur is. Wat het ons? Wie is die mense wat hier is? Wat is min of meer die inhoud van die preke en kommunikasie? Jy gaan kyk die werklikheid in die oë, maar jy moet ook vra wat die gemeente se sterkpunte en leemtes is.’ (Marais 2018:259)

Identiteitsontdekking in Christus was die kern van die tweede deelnemer se antwoord, en die derde deelnemer het die sakramente en prediking uitgesonder. Die vierde leraar het gesê die gemeente neem die identiteit van die leraar aan, en in die volgende onderhoud is klem geplaas op die rol wat huisgodsdiens in identiteitsontdekking speel. Een van die deelnemers het die koinonia uitgesonder en die volgende geantwoord: ‘Dit lê vir my in verhoudings. In ons samekoms op Sondae en in ons gesprekke rondom braaivleisvure. Daar waar ’n ou kan gesels en deel’. ’n Ander deelnemer het gesê dat die kerk haar identiteit in die Skrif moet ontdek, met ’n volgende antwoord wat gesentreer het rondom lidmate wat hul identiteit ontdek wanneer hulle ’n verskil in hul omgewing maak. In die laaste paar onderhoude is visie, leierskap en die vra van die regte vrae beklemtoon:

‘Ek dink ’n gemeente moet begin deur die volgende vrae te vra: Wie is God? Hoe is God? Wie is God in ons omstandighede? Waar sien ons God? Hoe ervaar ons God? En dan moet ons as ’n gemeente daarop bou. Wat ook belangrik is, is die vraag oor hoe ons God se beelddraers en verteenwoordigers in ons omgewing gaan wees. Ons Godsvrae én die antwoorde op ons Godsvrae moet in gesprek gesit word met die vrae wat die omgewing vra.’ (Marais 2018:261)

Heelwat van die leraars het sporadies na die rol van die afsonderlike bedienings in die ontdekking en ontwikkeling van ’n gemeente se identiteit verwys. Daar is gepraat oor die diens van barmhartigheid, pastorale sorg, onderrig, liturgie, leierskap en administrasie, maar was daar nie één leraar wat na die gesamentlike funksionering van ál die bedienings in identiteitsontdekking en -ontwikkeling verwys het nie. Uit die 16 leraars het sewe nie na die bedienings se rol in identiteitsontdekking en -ontwikkeling verwys nie. Net twee van die leraars het in hul antwoord na drie of meer van die bedienings verwys.

Die kwalitatiewe data het die kwantitatiewe data bevestig, en dit is duidelik dat die rol wat die integrering en koördinering van bedienings in identiteitsontdekking en -ontwikkeling speel nie ten volle begryp word nie.

Gevolgtrekking: Bevestiging van Nel se teorie

Dié navorsing het duidelik uitgewys dat gemeenteleiers nie genoegsaam en doelbewus besig is om die bedienings wat wel in die gemeente teenwoordig is, te integreer en te koördineer nie. Die navorsingsvermoede wat voorspruit uit Nel se teorie dat gemeenteleiers nie aldag daarmee rekening hou dat die bedienings gesamentlik funksioneer, inter verweefd is en mekaar optimaliseer nie, is bevestig en dit is duidelik dat nie al die leraars van die Hoëveld Sinode God se koms via die bedienings na die kerk én wêreld ten volle begryp nie.

Die meeste leraars van die Hoëveld Sinode verstaan heel waarskynlik nie die rol wat die bedienings in identiteitsontdekking en -ontwikkeling speel nie. Die gevolg van dié gebrekkige begrip is dat gemeentes nie ten volle as missionale gemeentes ontwikkel nie, en die rol wat die bedienings in dié proses kan speel, word nie optimaal ontgin nie.

Dit sal waardevol wees indien verdere navorsing gedoen kan word oor leraars se verstaan van sisteemdenke (binne ’n missionale gemeente) in ’n post-Christendom wêreld. Tweedens sal dit waardevol wees indien navorsing gedoen kan word oor hoe die integrering en koördinering van bedienings op ’n praktiese vlak in makro-gemeentes kan geskied. Derdens word voorgestel dat verdere navorsing gedoen word oor die rol wat die bedienings (afsonderlik en gesamentlik) in identiteitsontdekking en -ontwikkeling speel.

Erkenning

Die outeur wil graag vir Joyce Jordaan, Departement Statistiek by die Universiteit van Pretoria bedank.

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Literatuurverwysings

Armour, M.C. & Browning, D., 1995, Systems-sensitive leadership, College Press, Joplin, MO.

Bosch, D.J., 1995, Believing in the future: Toward a missiology of western culture, Gracewing, Valley Forge, PA.

Campbell, A. & Goold, M., 2012, ‘Seeking synergies’, in H.G. Daellenbach, D.C. McNickle & S. Dye (eds.), Management science: Decision-making through systems thinking, 2nd edn., pp. 278–288, Palgrave Macmillan, London.

Covey, S.R., 1989, Seven habits of highly effective people: Powerful lessons in personal change, Simon & Schuster, London.

Daellenbach, H.G., McNickle, D.C. & Dye, S., 2012, Management science: Decision-making through systems thinking, 2nd edn., Palgrave Macmillan, London.

De Klerk, B.J., 2000, ‘Liturgiese identiteitsvorming as antwoord op die invloed van die verbruikerskultuur’, In die Skriflig 34(4), 451–468. https://doi.org/10.4102/ids.v34i4.610

De Roest, H., 1998, Communicative identity: Habermas’ perspectives of discourse as a support for practical theology, Uitgeverij Kok, Kampen.

De Wit, B., 2017, Strategy: An international perspective, Cengage Learning EMEA, Hampshire.

Dietrich, S., Jørgensen, K., Korslien, K.K. & Nordstokke, K., 2014, Diakonia as christian social practice, Regnum Books, Oxford.

Dingemans, G.D.J., 1987, Een huis om in te wonen, Uitgeverij Boekencemtrum, ‘s-Gravenhage.

Dykstra, R.C., 2005, Images of pastoral care: Classic readings, Chalice Press, St Louis, Missouri.

Firet, J., 1986, Dynamics in pastoring, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Guder, D.L., 2000, The continuing conversion of the church, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Kuhnke, U., 1992, Koinonia: Zur theologischen rekonstruktion der Identität christelicher Gemeinde, Patmos Verlag, Düsseldorf.

Linden, C., 2015, ‘Identity in congregational development through hermeneutical and contextual preaching’, Unpublished thesis, University of Pretoria, Pretoria.

Logan, S.T., 1986, ‘Phenomenology of preaching’, in S.T. Logan (ed.), The preacher and preaching, pp. 129–160, Presbyterian and Reformed, Phillipsburg, NJ.

Marais, C.T.R., 2018, ‘Geïntegreerde bediening in die opbou van ’n identitetisgedrewe missionale gemeente’, Unpublished thesis, University of Pretoria, Pretoria.

Nel, M., 1994, Gemeentebou, Orion, Johannesburg.

Nel, M., 2015, Identity-driven churches: Who are we, and where are we going?, Biblecor, Wellington.

Newbigin, L., 1986, Foolishness to the Greeks: The gospel and western culture, vol. 6, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Newbigin, L., 1991, Truth to tell: The gospel as public truth, vol. 2, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Newbigin, L., 1995, The open secret: An introduction to the theology of mission, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Niemandt, N., 2013, Nuwe leiers vir nuwe werklikhede, Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging.

Osmer, R.R., 2012, ‘Formation in the missional church: Building deep connections between ministries of upbuilding and sending’, in D.J. Zscheile (ed.), Cultivating sent communities: Missional spiritual formation, pp. 29–53, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Parks, S.D., 2005, Leadership can be taught: A bold approach for a complex world, Harvard Business School Press, Boston, MA.

Pasveer, J., 1992, De gemeente tussen openheid en identiteit: Een open-systeemtheorie als model voor de gemeente ten dienste van haar opbouw, Theologische Uitgeverij Narratio, Gorinchem.

Pieterse, H.J.C., 1998, ‘Die rol van rituele en simbole in die identiteitsvorming van ’n geloofsgemeenskap – ’n Gereformeerde perspektief’, Skrif en Kerk 19(2), 342–347. https://doi.org/10.4102/ve.v19i2.593

Roxburgh, A.J., 2011, Missional: Joining God in the neighbourhood, Baker Books, Grand Rapids, MI.

Runyon, T. (ed.), 1979, Hope for the Church: Moltmann in dialogue with practical theology, Abingdon, Nashville, TN.

Senge, P., 2006, The fifth discipline: The art & practice of the learning organization, Random House, London.

Thompson, W.D. (ed.), 1981, Preaching biblically: Exegesis and interpretation, Abingdon, Nashville, TN.

Van der Merwe, I.J., 2003, ‘Die krag van rituele’, Kruisgewys 3(2), 19–21.

Wepener, C.J., 2008, ‘Liturgy on the edge of tradition’, Practical Theology in South Africa 23(2), 313–335.

Wepener, C.J., 2011, Soos ‘n blom na die son draai: Liturgiese voorstelle vir die gebruik in die algemene erediens en in ander spesifieke dienste, Bybel-Media, Wellington.

Wepener, C.J. & Pauw, J.C., 2004, ‘Terug na die toekoms – Oor die samehang tussen rituele tyd en identiteit’, Scriptura 85(1), 110–122.

Zscheile, D.J. (ed.), 2012, Cultivating sent communities: Missional spiritual formation, Eerdmans, Grand Rapids, MI.



Crossref Citations

No related citations found.