Erkenning word gegee aan die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns wat hierdie navorsingsprojek en publikasie moontlik gemaak het deur ’n ruim finansiële bydrae.
Ek beskryf die aanloop tot hierdie navorsing en publikasie in die eerste artikel. Hier is dit genoeg om net weer na die kritiese belang van die saak te verwys.
Gedurende hierdie span-navorsing het die besef gegroei dat die vier deelnemende denominasies se uitdagings ten opsigte van kategese (geloofsontwikkeling soos in hierdie publikasie bespreek) groot is. Dringende intervensie en transformasie is nodig. Die onderhoude self, asook hierdie teologiese refleksie op die kernkonsepte vanuit die onderhoude, bevestig dit.
Leraars in gemeentes was deelnemende navorsers. Hulle het die onderhoude gevoer, en in totaal was 13 gemeenteleraars as eerste en tweede lesers van elke artikel betrokke1.
Die totale aantal navorsingsvennote beloop 21 akademici en gemeenteleraars. Aan elkeen: ’n opregte woord van dank vir julle tyd en waardevolle insette.
As navorsers bely ons dat ons binne die Reformatoriese tradisie die doop ernstig opneem. ’n Dringende herontdekking van die kernbetekenis van die doop is vir geloofsontwikkeling van kritiese belang. Geloofsontwikkeling behels die ontvouing van wat in die doop aan die ingelyfdes verseël is.
Ons bely verder dat geloof ’n geskenk is wat ontwikkel in verhouding met:
- God.
- Almal wat ’n rol speel (veral ouers).
- Die leerstof wat aandui hoe om, met groeiende insig, in ons hele lewe met God rekening te hou – om te glo.
Ons bely ook dat die transformering van die gemeente se betrokkenheid by die geloofsontwikkeling van kinders en adolessente radikaal mag wees. Vir baie denominasies mag dit ’n ‘stop-en-weer-begin’ inhou.
Wat hier volg, is ’n geselekteerde uittreksel uit opmerkings van die eerste en tweede lesers van die artikels voordat dit vir amptelike keuring ingedien is.
Artikel 1: Die konsep van ’n ‘geloofsreis’ word hier sentraal geplaas. Dit beklemtoon geloofsontwikkeling as ’n lewenslange proses. Die artikel verbind geloofsontwikkeling aan dissipelskap en onderstreep die deurslaggewende rol van die gesin en geloofsgemeenskap as ‘oefen’-ruimtes vir dissipelskap. Die artikel roep die akademiese en geloofsgemeenskappe op tot ’n transformerende diskoers en praktyk2.
Artikel 2: Roetemerkers word hier aangebied as ’n moontlike antwoord op Osmer se vraag oor ‘wat nou/waarheen nou?’ Vanuit die teorie is dit duidelik dat daar verskillende lewensdeurgange is, maar ook ’n behoefte aan ’n ‘verbintenis’ [confirmation] wat nie aan ouderdom gebonde is nie, maar eerder ’n volgende stap in geloofsontwikkeling verteenwoordig3.
Artikel 3: Die noodsaaklikheid van ’n balans tussen kennis en verhoudings in geloofsvorming, veral vir adolessente, word bespreek. Dissipelskap speel ’n sleutelrol in die integrasie van kennis en verhoudings. Mentorskap, die ontwikkeling van gawes en ’n kreatiewe leerbenadering is deurslaggewend om ’n sterker en meer gebalanseerde geloofsgemeenskap te vorm4.
Artikel 4: Ouers se primêre invloed op hulle kinders se geloofsvorming is hier die hoofargument. Hierdie rol wat ouers in geloofsvorming speel, word verder bespreek aan die hand van vier aspekte: (1) stel ’n geloofsvoorbeeld; (2) speel ’n mentorsrol; (3) vervul ’n sosialiseringsrol; en (4) bou ’n positiewe ouer-kind-verhouding. Die artikel verwys na die gevolglike rol wat gemeentes in die geloofsvormingproses moet vervul. Dit gaan oor meer as net die oordra van geloofsinhoud of die beoefening van geloofsgewoontes. Dit handel oor die egtheid en integriteit van die ouer of ouers se geloofslewe en die kwaliteit van die ouer-kind-verhoudings5.
Artikel 5: Hier word beklemtoon dat die jeug- en kategetiese prosesse in gemeentes die teologiese skuiwe kan reflekteer wat binne die breër missionale beweging plaasgevind het. Hierdie teologiese verruiming kan kategete en ander begeleiers help om die nodige fondament te lê sodat lidmate deel kan word van die missio Trinitatis. Hierdie bewegings behels ’n soeke na die Koninkryk en heil (heelwording). Hierdie dissipelskap sal die karaktereienskap van ’n missionale identiteit aanneem en weerstand bied teen die individualistiese neigings van die hedendaagse samelewing. Hiervoor sal kategete en volwassenes wat begeleiding gee, self deel moet wees van ’n doelbewuste vormingsproses as missionale dissipels wat nie in die doodloopstraat van verbruikers-Christenskap verval nie6.
Artikel 6: Die erediens word verstaan as die hart van missionale gemeentewees. In die erediens is geloofsontwikkeling belangrik en dit vind doelbewus plaas. Geloofsontwikkeling behoort elke mens te motiveer om missionaal te wees. Hierdie aspek sluit aan by die missionale identiteit van die gemeente. Hierdie identiteit word vanuit die erediens versterk, waaruit ander bedienings voortvloei en groei.’n Kognitiewe sowel as ’n holistiese benadering is belangrik sodat kinders van kleins af ’n ontmoeting met God kan hê, hulle spiritualiteit en geloof kan ontwikkel en kan besef dat hulle (be)hoort. Die Godly-play-benadering help kinders om ’n verstaan van God te vorm wat by hulle lewenservarings aansluit7.
Artikel 7: Hierdie artikel fokus op die kritiese evaluering van bestaande katkisasiemateriaal en die behoefte aan aanpassings om jongmense se geloofsvorming te fasiliteer. Waar kerkgemeenskappe reeds kurrikulums gebruik, is dit noodsaaklik om die doeltreffendheid daarvan te evalueer. Riglyne behoort ontwikkel te word wat interaktiewe en praktiese elemente insluit om die jeug se aktiewe betrokkenheid te bevorder. Die belangrikheid van ouerbetrokkenheid en die aanpassing van leermetodes om beter by die veranderende kultuur en behoeftes van die hedendaagse jeug aan te sluit, word uitgelig8.
Artikel 8: Die toerusting van ouers vir hulle deurslaggewende rol in die geloofsontwikkeling van hulle kinders word in hierdie artikel bespreek. Die artikel bied deeglike teologiese, neurologiese en psigologiese agtergrond oor die rede waarom hierdie taak van geloofsontwikkeling in ouers se hande die grootste invloed het. Praktiese voorstelle word gemaak oor hoe om daaglikse en deurlopende geloofsritmes kreatief en eenvoudig in die gewone gesinslewe te inkorporeer. Gemeentes word aangemoedig om ouers toe te rus en te ondersteun9.
Artikel 9: Die rol van mentor en rolmodel word in hierdie artikel beklemtoon. Dit vereis ’n nuwe paradigma en vaardighede wat minder op kennisinhoud en formele aanbiedings fokus en meer op gedeelde ervarings, storievertellings en refleksie. Vaardighede soos luister (oop vrae, eggo van antwoorde, bevestiging van bydraes), storievertelling en geestelike begeleiding is hiervoor nodig. Die toerusting van begeleiers moet dus ruimte skep vir hulle eie geloofsvorming, paradigmaskuiwe en die inoefening van nuwe vaardighede10.
Artikel 10: Hierdie artikel nooi lesers uit om te leer uit ’n soortgelyke projek in die Verenigde State van Amerika (VSA) en daaruit verryk te word ten opsigte van die Suid-Afrikaanse uitdagings en geleenthede11.
Afsluitende opmerking
Die tydskrif se beleid vereis die Harvard-aanhalingsmetode. Op versoek van die navorsingspan is toestemming verleen vir die uitsondering dat voetnote gebruik mag word, hoofsaaklik om die leesbaarheid vir ouers, begeleiers en lidmate te verbeter. ’n Opregte woord van dank vir hierdie vergunning.
Mag hierdie publikasie vir die vier denominasies, sowel as vir ander, ’n belangrike roetemerker wees – ’n ware lewensdeurgang en toegang tot nuwe teorie en praktyk op die pad van ’n nuutontdekking van die lewe van elke gedoopte se geloofsreis as inwyding, begeleiding en onderskeiding.
Literatuurverwysings
Avenant, J.C., 2025, ‘Roetemerker begeleiding as deel van missionale gemeentes’, Verbum et Ecclesia 46(2), a3302. https://doi.org/10.4102/ve.v46i2.3302
Beukes, J.W., 2025, ‘Herbesoek en herontwikkeling van leermateriaal en kurrikulum vir geloofsvorming’, Verbum et Ecclesia 46(2), a3311. https://doi.org/10.4102/ve.v46i2.3311
Botha, A. & Dreyer, Y., 2025, ‘Die erediens as hart van missionale gemeentewees: Kinders en adolessente’, Verbum et Ecclesia 46(2), a3280. https://doi.org/10.4102/ve.v46i2.3280
Greyling, A. & Nel, M., 2025, ‘Geloofsontwikkeling: ’n Geloofsreis met roetemerkers’, Verbum et Ecclesia 46(2), a3304. https://doi.org/10.4102/ve.v46i2.3304
Hoffman, L., 2025, ‘Toerusting van begeleiers op die geloofsreis’, Verbum et Ecclesia 45(2), a3309. https://doi.org/10.4102/ve.v45i2.3309
Mikoski, G.S., 2025, ‘Keeping the main thing, the main thing: An overview of a United States ecumenical study of confirmation’, Verbum et Ecclesia 46(2), a3294. https://doi.org/10.4102/ve.v46i2.3294
Mouton, D.P., 2024, ‘Geloofsvorming as saam-stappende verbondenheid’, Verbum et Ecclesia 46(2), a3308. https://doi.org/10.4102/ve.v46i2.3308
Nel, M., 2025, ‘Die wese van onderrig’, Verbum et Ecclesia 46(2), a3277. https://doi.org/10.4102/ve.v46i2.3277
Robinson, C.B., 2025, ‘Toerusting van ouers’, Verbum et Ecclesia 46(2), a3289. https://doi.org/10.4102/ve.v46i2.3289
Yates, H. & Avenant, J.C., 2025, ‘Ouers se primêre rol in geloofsvorming’, Verbum et Ecclesia 46(2), a3321. https://doi.org/10.4102/ve.v46i2.3321
Voetnotas
1. Die 13 gemeenteleraars is: Daniel Bock, Gerrie Bodenstein, Tienie Bosman, Dirk de Bruyn, Anriëtte de Ridder, Thomas Dreyer, Rue Hopley, Olga Ludwick, Sonnika Nel, Natasha Smit, Tom Smith, Christi Thirion, Wynand van Niekerk.
2. Nel, M. (2025).
3. Greyling, A. & Nel, M. (2025).
4. Mouton, D. (2025).
5. Yates, H. & Avenant, J.C. (2025).
6. Avenant, J.C. (2025).
7. Botha, A. & Dreyer, Y. (2025).
8. Beukes, J. (2025).
9. Robinson, C.B. (2025).
10. Hoffman, L. (2025).
11. Mikoski, G.S. (2025).
|