About the Author(s)


Dawid P. Mouton Email symbol
Department of Practical Theology and Missiology, Faculty of Theology, Stellenbosch University, Stellenbosch, South Africa

Citation


Mouton, D.P., 2025, ‘Geloofsvorming as saam-stappende verbondenheid’, Verbum et Ecclesia 46(2), a3308. https://doi.org/10.4102/ve.v46i2.3308

Note: Special Collection: The manuscript is a contribution to the themed collection titled ‘Geloofsreis. Inwyding, Begeleiding en Onderskeiding nuut ontdek’ under the expert guidance of guest editor Prof. Malan Nel.

Original Research

Geloofsvorming as saam-stappende verbondenheid

Dawid P. Mouton

Received: 11 Sept. 2024; Accepted: 03 Oct. 2024; Published: 27 Feb. 2025

Copyright: © 2025. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstract

Faith formation as co-stepping covenantal accompaniment. Catechesis and other faith formation practices often focus solely on the transmission of theological and dogmatic knowledge. This approach, combined with other factors, frequently leads to adolescents disengaging from congregational activities after taking confession. Research shows that when meaningful relationships are integrated into these processes, adolescents are more likely to remain involved in their congregations even after confession. This article,1 drawing on data from a larger project on catechesis within Afrikaans-speaking congregations of the Dutch Reformed Church family, as well as a literature study, advocates for renewed emphasis on relationships during catechesis and other formation practices. The arguments presented here are centred on the concept of faith formation as a covenantal journey, and theological justifications for this are provided.

Intradisciplinary/interdisciplinary implications: While not explored in depth, this article highlights the connection between faith formation and the role of other disciplines, such as education. It aligns with the journal’s focus by promoting further interdisciplinary dialogue.

Keywords: faith formation; catechesis; relationships; covenantal connectedness; accompaniment; mentoring; journey; adolescent.

Inleiding

Godsdiensonderrig en geestelike groei deur katkisasie en ander geloofsvormingsprosesse is ’n integrale deel van gemeentelike prosesse wat mense help om in hulle geloof te groei en hulle te bemagtig om aktief in hulle geloofsgemeenskappe betrokke te bly. Tog blyk dit dat kinders en adolessente dikwels nie voldoende voorberei is om na die voltooiing van kategese steeds aktiewe dissipels2 te wees nie. In sommige gevalle fokus die onderrig hoofsaaklik op leerstellige of dogmatiese kennis, teologiese konsepte, kerkordelike reëlings en denominasionele vertrekpunte wat dit ’n kognitiewe oefening eerder as ’n geestelike proses maak. Navorsing, sowel as die outeur se eie pastorale ervaring, dui daarop dat geloofsvorming eerder as ’n geestelike reis gesien moet word waarin verhoudings ’n sentrale rol speel.3 Ook die tematiese analise van die data van die empiriese navorsing4 onder bespreking het die aspek van verhoudings as deel van geloofsvorming na vore gebring. In die lig hiervan, asook bogenoemde probleem, wonder ’n mens tog of hierdie aspekte behoorlik verstaan word, en indien wel, in hoe ’n mate dit nagestreef word.

Die navorsingsprobleem wat hierdie artikel in oënskou geneem word, is die volgende: ’n Gebrekkige verstaan van die rol van verhoudings in die volgehoue en sinvolle begeleiding van adolessente op hulle geloofspad dra moontlik by tot die verskynsel dat hulle na kategese nie aktief betrokke bly in hulle geloofsgemeenskappe nie. In die lig hiervan sal die volgende sentrale vraag hierdie bydrae rig: Wat behels die begeleiding van adolessente binne betekenisvolle verhoudings tydens geloofsvorming en hoekom is sodanige begeleiding nodig? Dit is met hierdie vraag in gedagte, en die hoop om ’n bydrae te maak tot die toerusting en bemagtiging van begeleiers (ouers en kategete), dat hierdie bydrae spesifiek op die aard, onderbou en belangrikheid van verhoudings en begeleiding vir kategese en geloofsvorming wil fokus.

Selvam5 praat van ‘spiritual accompaniment’ in jeugbediening en beskryf dit selfs as ’n formele verbondsverhouding waarin die toegewyde begeleier saam met die adolessent op die geloofspad reis en die uniekheid van sy of haar verhaal te midde van die uitdagings wat die verhaal verteenwoordig, erken. Hierdie idee van ’n verbondsreis herinner aan Nico Koopman, sistematiese teoloog by die Universiteit van Stellenbosch, wat dikwels sy korrespondensie afsluit met die uitdrukking ‘in saam-stappende verbondenheid’. Die uitdrukking kommunikeer iets van ’n belofte van verbintenis aan ander en hulle lewensreis. Ek leen daarom, met erkenning, hierdie uitdrukking van hom as riglyn omdat hierdie artikel op die integrale rol en belangrikheid van verhoudings as deel van die geloofsvormingsreis van adolessente tydens formele katkisasie fokus. Die doel is om ’n bydrae te maak tot die verstaan van hoe die bou en handhawing van betekenisvolle verhoudings geloofsvorming onder jongmense kan laat plaasvind met die oog daarop om geloofsgroei verder te koester, te bevorder en te onderhou. Dit is veral belangrik in ons hedendaagse konteks waar jongmense toenemend uitgedaag word met betrekking tot hulle identiteit, verhoudingsekerheid, en geloofswaarhede.6 Faktore soos sekularisasie, digitale netwerke, individualisme, gebrekkige sosiale sekerheid, ’n skynbaar toenemende gemeenskapsverbrokkeling, en die druk op gesinne en families maak dit selfs moeiliker om jongmense op hierdie reis te begelei.

Ospino7 beskryf begeleiding as ’n doelgerigte proses waardeur die begeleide bemagtig word om gestalte te help gee aan hulle menswees in Christus. Sy argument is gebaseer op veral twee teologiese vertrekpunte vanuit die Skrif.8 Die eerste is God se teenwoordigheid as ’n God wat voortdurend met ons wandel. Hierdie ‘wees-met-ons’ van God – ’n saam-stappende God – se grondslag is dan juis in God se verbond en sy begeerte om in ’n verhouding met ons te wees sodat ons in Hom vervulling vind. Dit sluit dan by die tweede vertrekpunt aan, naamlik dat begeleiding in die konteks van geloofsonderrig ’n geestelike reis is wat in die eerste plek die verhoudingsaard van God sowel as mens beklemtoon, maar in die tweede plek ook ons gedeelde menswees, bestaan en soeke na betekenis eerbiedig. God se meeloop kan daarom nie anders as in verbondenheid gesien word nie.9 Diegene wat jongmense op hulle geloofsreis vergesel, behoort dit dan ook in verbondenheid met hulle te doen. Hierdie verbondenheid, aldus Ospino,10 reflekteer weer die hart van die Christelike boodskap, naamlik God se voorkeur vir gemarginaliseerde en soekende mense. Om in verbondenheid met jongmense te reis, beteken dus daarom ook om hulle te help om onreg raak te sien en uiteindelik vanuit ’n diepe besorgdheid daarvoor ons eie medepligtigheid daarin te sien en daarop te reageer. So word dit ’n geloofsreis wat nie net op die gemeenskap steun nie, maar wat self ook kan lei tot ’n diepe besorgdheid vir en teenkanting teen dít wat die aard en betekenis van die gemeenskap bedreig.

Uit die studie

Die tematiese ontleding van die data het aangedui dat antwoorde op drie van die vrae (twee aan leraars en kategete en een aan adolessente) die aspek van verhoudings as deel van geloofsontwikkeling aan die orde stel.

Aan leraars en kategete is die volgende vrae gestel:

  • Vraag 2: Wat verstaan jy onder die ‘geloofsontwikkeling’ van kinders en adolessente?
  • Vraag 7: Wat het julle gevind dra die meeste daartoe by dat adolessente na hulle tradisionele belydenis van geloof aktief as deel van die geloofsgemeenskap by die bedienings van die gemeente inskakel?

Aan adolessente is die volgende vraag gestel:

  • Vraag 6: As jy drie persone kan noem wat die grootste invloed op jou geloofsontwikkeling gehad het – wie sou dit wees? (Noem die belangrikste eerste.)

Die mening dat geloofsontwikkeling primêr in die ouerhuis plaasvind, is sterk deur respondente gehuldig, terwyl ’n praktiese (praktyk en uitleef) en teoretiese (goeie Bybelkennis en teologie) verstaan van geloof ook as belangrik beskou word. Tog is die belang van verhoudings in die geloofsreis van die adolessent ook benadruk, met die klem veral op die begeleiding van jongmense. Hoewel hierdie aspek slegs as derde tema uit die data na vore kom, kan dit wel as belangrik beskou word. ’n Verskeidenheid van verhoudings is hier ter sprake, naamlik dié met ouers, die leraar, die kategeet, en ook ander persone. Uit die analise van die data blyk dit dat die mening gehuldig word dat die manier waarop ander persone die kinders of adolessente op die reis begelei, belangrik is vir hulle geloofsontwikkeling. Kategete, aan die ander kant, heg veral waarde aan die teoretiese (Bybelkennis) en praktiese (uitleef van geloof) aspekte van geloof wanneer dit kom by ’n verstaan van die geloofsontwikkeling by kinders en adolessente. In die tweede plek word die aspek van verhoudings wel ook deur kategete benadruk. In beide gevalle – leraars en kategete – word die idee van geloofsontwikkeling as reis aan die orde gestel en word begeleiding op hierdie reis as ’n belangrike aspek van die verstaan van geloofsontwikkeling gesien.

Met betrekking tot die vraag oor faktore wat adolessente se voortgesette betrokkenheid in gemeentes na belydenisaflegging bevorder, het leraars sowel as kategete veral die rol van ouers (betrokkenheid en geloof) en ander verhoudings beklemtoon. In albei gevalle was dit veral die rol van ouers wat die sterkste na vore gekom het. Leraars, as respondente, beskou adolessente se verhoudings met die leraar, volwasse vrywilligers, kategete en familie as deurslaggewende faktore vir die voortgesette betrokkenheid van adolessente by gemeentelike bedienings. Respondente reken dat een of ander vorm van ’n bestaande verhouding of verhoudings die adolessent na belydenis van geloof motiveer om deel van die gemeente te bly, en by bedienings betrokke te raak. Naas die rol van ouers, reken kategete ook dat (ander) verhoudings as motiveerder dien vir die voortgesette betrokkenheid van adolessente in die gemeente. Hierdie tema was nie so duidelik uiteengesit soos by die leraars nie, en die klem was op bestaande verhoudings wat ’n belangrike rol speel.

Aan adolessente is gevra om die drie persone te noem wat die grootste invloed op hulle geloofsontwikkeling gehad het. Die resultate, in volgorde van belangrikheid, was soos volg:

  • Ouer (ma en/of pa).
  • Grootouers (oupa en/of ouma).
  • Gemeente en/of predikant.
  • Skool en/of vriende.

Bogenoemde dui daarop dat adolessente, ten spyte van persepsies oor die teendeel, waarde daaraan heg om hulle geloofsreis in die konteks van verhoudings aan te pak. Dit wil voorkom dat adolessente hulle verhoudings binne familieverband belangriker ag as dié binne die gemeente en/of met die leraar en, selfs belangriker, as met hulle portuurgroep.

Dit is duidelik dat daar ’n redelike mate van belangrikheid aan verhoudings tydens kategese en geloofsontwikkeling geheg word. Tog lyk dit soms of ons baie eerder die klem op die oordrag van kennis en die behoud van die jongmens vir die gemeente wil laat val. Root11 voer aan dat dit nie die hoofdoel van kategese of geloofsonderrig behoort te wees nie; inteendeel, hy, soos baie ander, redeneer dat die bou en onderhouding van verhoudings tydens kategese en geloofsonderrig veel eerder beklemtoon moet word. Die bespreking wat volg, poog om perspektiewe oor die belangrikheid van gesonde verhoudings tydens die geloofsontwikkeling van jongmense aan die orde te stel. In die bespreking word dan ook aandag gegee aan die idee dat geloofsonderrig, ook kategese, eerder as ’n reis in plaas van ’n momentele intervensie gesien moet word. Verder sal geargumenteer word dat gewillige medereisigers nodig is om adolessente op hulle pad te vergesel om die behoefte aan verhoudings in die konteks van geloofsontwikkeling, soos ook deur die data uitgedruk, in oënskou te neem.

Geloofsvorming as saam-stappende verbondenheid

Die term ‘kategese’ kom van die Griekse woord κατήχησις en het met mondelinge onderrig te doen. Dit is afgelei van κατηχεῖν wat deur die Oxford English Dictionary soos volg beskryf word: ‘to instruct orally, originally to resound, sound amiss, “in one’s ears”’.12 Volgens Potgieter13 kom die term ‘kategismus’ van die woord kateleo wat beteken ‘om te luister’. Die Latynse betekenis van die woord, aldus Potgieter, het te make met mondelinge onderrig – ‘word of mouth’. Tradisioneel dien dit as ’n manier om mense – jonk en oud – in die Christelike geloof te onderrig met die oog op belydenisaflegging. Geloofsvorming is egter ’n baie wyer konsep as net die eenmalige oordrag van teologiese of dogmatiese kennis met die oog op denominasionele lidmaatskap. Inteendeel, as lewenslange proses het dit geestelike groei in gedagte wat ook aspekte soos geloofspraktyke, geloofsintegrasie en etiese- en morele ontwikkeling insluit, en behoort as ’n reis van soeke na betekenis en toewyding gesien te word.14

Geestelike groei of geloofsvorming kan as die hart en kern van die bestaan en doel van die kerk beskou word.15 Wilhoit16 reken dat dit veral met die opdrag in Matteus 18:19–20 ooreenstem waar die opdrag van onderrig aan nuwe bekeerlinge pertinent genoem word. Ook Dean17 pleit vir ’n verstaan van geloofsontwikkeling as ’n proses wat teologies gegrond is, maar nie net op die oordrag van teoreties-teologiese kennis fokus nie. Dit behoort dus eerder as meer omvattend en organies gesien te word, en as ’n proses wat binne die geleefde ervarings van mense geskied. Vir Dykstra18 is dit verder belangrik om te verstaan dat geloofsontwikkeling, as organiese proses, deurlopend binne die konteks van verhoudings, gemeenskap en menslike ontwikkelingsfases plaasvind.

Wilhoit19 se definisie van geestelike groei of geloofsgroei veronderstel ’n doelbewuste en gemeenskaplike proses waarby meedoeners aktief betrek word. Ook Naidoo20 deel hierdie perspektief en beskryf geloofsvorming verder soos volg:

[A] lifelong process of becoming, of being, formed and developed in the likeness of the Christ … a personal and relational formation which seeks to promote encounter and co-operation with God and society as a whole.

Hierdie proses geskied onder leiding van die Heilige Gees tot eer en in diens van God en van ander mense sodat gelowiges Christus op hierdie manier aan ander kan uitbeeld. Wanneer ’n mens mooi na hierdie beskrywing kyk, is dit duidelik dat verhoudings met God en ander, asook die idee van gemeenskap, wat self nie sonder verhoudings bestaan nie, sentraal in die proses van geloofsvorming staan.21 Osmer22 argumenteer ook dat geloofsontwikkeling uiteindelik tot die vestiging en groei van ’n persoonlike verhouding met God en ander lei. Ook Benson en Roehlkepartain23 benadruk die belang van verhoudings in hierdie konteks en beklemtoon veral dat verhoudings nie net oor sosiale verbintenisse gaan nie, maar ook geestelike betekenis en potensiaal het. Hierdie verhoudings sluit dié met God, familielede, maats, godsdienstige opvoeders, geestelikes en die breër geloofsgemeenskap in.

In die proses van geloofsgroei speel verhoudings tussen adolessente en die ouer generasies (inter-generasioneel) ’n belangrike rol omdat sodanige verhoudings die ruimte en geleentheid skep vir opbouende begeleiding en mentorskap wat tot verdere groei kan lei.24 Die idee om saam met adolessente te reis (saam-stappende verbondenheid) in hulle soektog na helderheid en identiteit word ook deur Selvam25 en Root26 gepromoveer. In so ’n saam-stappende verhouding gaan dit nie uitsluitlik om die behoud van die jongmens vir die denominasie nie, aldus Root,27 maar eerder oor ’n geloofwaardige teenwoordigheid en ’n toegewyde verbintenis op hierdie reis.28 Dit is dan ook belangrik dat volwasse meelopers of begeleiers besef dat hierdie saam-stappende verbondenheid nie in die eerste plek ten doel het om alle geloofsonsekerhede sommer net uit die weg te ruim nie, maar eerder dat dit ’n verbintenis is om saam te soek na die hoop in God en na ’n verhouding met God. Wanneer De Kock, Elhorts en Barnard29 reflekteer oor die rol van ouers en ouer persone in die geloofsreis van adolessente, argumenteer hulle juis vir ’n verstaan van faith learning as ’n intergenerasionele leerproses wat in die konteks van verhoudings in die gesin, familie en geloofsgemeenskap plaasvind. Met ander woorde, dit is iets wat in gemeenskap met mekaar geskied. Daarom dat hulle30 Christelike onderrig en kategese soos volg beskryf: ‘Christian education and catechesis are not ends in and for themselves but find their aim in living and learning faith together.’ Om jongmense op hulle geloofsreis te vergesel, vra nie net vir ’n helder verstaan van die teologiese basis vir geloofsvorming nie, maar ook ’n gewilligheid om met toewyding die reis na ’n soeke vir identiteit en roeping mee te maak.31 Dit versterk die idee dat ons God nie werklik op ons eie en sonder verhoudings kan beleef nie.32

Dreyer, Fazzino en ook Root,33 saam met baie ander, wys daarop dat die uitdagings wat jongmense as gevolg van sekularisasie in die gesig staar, ernstig opgeneem moet word. Verder argumenteer hierdie outeurs dat volwassenes die jongmense slegs hierin kan ondersteun en begelei deur betekenisvolle verbintenisse en verhoudings. Cloete34 meen daarom dat die begeleiding van jongmense op hulle geloofsreis, die betrokkenheid van die geloofsgemeenskap en ook ander verhoudings wat oor generasies strek van kardinale belang vir hulle reis is. Cloete35 sowel as Bunge36 beklemtoon die rol wat gesinne en uitgebreide families – oor alle generasies heen – in die geloofsvormingsproses van adolessente speel.

Ellis37 se vraag oor ons bedoeling met die verwysing na geloofsvolwassenheid in die konteks van jeugbediening is belangrik vir ons verstaan van die rol van verhoudings en die teenwoordigheid van medereisigers in die proses van geloofsgroei onder adolessente. Is geloofsvolwassenheid per se die uitkoms wat ons wil bereik met kategese en geloofsontwikkeling? En hoe lyk hierdie volwassenheid? Beteken sodanige volwassenheid noodwendig die voortgesette betrokkenheid van die adolessent in die denominasie (gemeente) van herkoms? Is die bereiking van hierdie uitkoms die maatstaf? Is hierdie uitkoms, met die ambivalente en variërende definiëring daarvan in ag genome, nie problematies nie? Saam-stappende verbondenheid in geloofsontwikkeling kan uiteraard nie oor een of ander vae gedefinieerde uitkoms gaan nie, maar eerder oor ’n toegewyde en geloofwaardige teenwoordigheid, ongeag die sogenaamde vordering van die jongmens. Uiteindelik gaan dit dan oor die beliggaming van God se teenwoordigheid waarbinne ’n verstaan van ‘eie’ – ’n eie identiteit en roeping in die konteks van verhoudings en ’n gevoel van ‘behoort’ – vir ’n jongmens moontlik word. Sodanige saam-stappende verhouding het dan eerder ten doel om God se verbondstrou te probeer kommunikeer en iets van die hoop daarvan te midde van uitdagings en vrae aan die jongmens voor te hou. Ellis maak die volgende stelling:38

[W]hat is necessary for youth ministry is an approach which values adolescents not for their potentiality but for their actual lived experiences and is able to hope and locate God’s action not in progress but even in the brokenness and impossibility.

Met ander woorde, kategese en geloofsontwikkeling by adolessente (gesien as deel van jeugbediening) gaan nie soseer oor die groeipotensiaal van die adolessent nie, maar eerder oor ’n erns met hulle geleefde realiteite en hulle soeke na God se hoopvolle teenwoordigheid te midde van hulle gebrokenheid en skynbare gebrek aan potensiaal. Hierdie kan slegs werklik beslag kry in geloofwaardige verhoudings waar daar op ’n manier aan die moontlikhede van God se verbondstrou vasgehou word. Indien alles oor die jongmens se potensiaal vir geestelike volwassenheid gaan, loop ons die risiko om slegs op hulle met die ‘meeste potensiaal’ en ‘ontvanklikheid’ te fokus, terwyl ander met ’n diep-grondige begeerte na saam-stappende verbondenheid, te midde van hulle geleefde realiteite van onsekerheid en gebrokenheid, mettertyd in die niet sal verdwyn. Vir Ellis39 lê die alternatief in ’n eskatologiese verstaan, geskoei op hoop en ’n soeke na die teenwoordigheid van die Heilige Gees te midde van die geleefde ervarings van jongmense.

Selvam40 verwys na jeugbediening, en mens sou die kategese van adolessente hieronder klassifiseer, as ’n ‘relational responsibility’ [verhoudings-verantwoordelikheid] – ’n verhoudings-verantwoordelikheid. Dit beteken dat jongmense binne hulle geleefde realiteite of omstandighede ontmoet word waar daar diep en opreg na hulle verhale geluister word en waar die konteks vir ’n saam-stappende verhouding [journey of accompaniment] geskep word.41 Zellma42 beskryf accompaniment in die konteks van kategese as die saam-wees, saam-stap, saam-vertoef, saam-gesels, saam-luister en saam-bestaan met mekaar op ’n manier wat die adolessent ondersteun in sy of haar soeke na betekenis, hulle lewenservarings deel en saam uitdagings die hoof probeer bied. In hierdie verhouding is die adolessent volwaardig mens, onafhanklik, outonoom, vry en gerespekteerd met die vermoë om ook hulle eie groei sowel as dié van hulle meeloper of begeleier te beïnvloed.43 ’n Verhouding van saam-stappende verbondenheid hoop om uiteindelik die omvattende (holistiese) groei van die adolessent te bevorder. Tarihoran, Firmanto en Kurniawan44 argumenteer dat die holistiese benadering in geloofsonderrig (van kinders byvoorbeeld) ten doel het om:

[O]ptimale ontwikkeling in verskeie lewensaspekte te fasiliteer, begrip te kweek vir die ingewikkelde verhouding tussen individue en hulle omgewing, en om hulle toe te rus met die vaardighede om lewensuitdagings effektief te navigeer. [Outeur se direkte vertaling uit Engels]

Om adolessente of enige iemand anders op hulle geloofvormings-reis te vergesel vra meer as net ’n simboliese saam-stap. Pembroke et al.45 argumenteer dat geestelike begeleiding [spiritual guidance] om die basiese menslike behoefte en soeke na betekenis in die teenwoordigheid van God gaan. Saam-stap is daarom gebou op ’n interpersoonlike verhouding waar daar deur deurlopende refleksie op geleefde ervarings nuwe ontdekkings gemaak word en nuwe insig gebore word – in die teenwoordigheid van God. Die idee dat die saam-stap met adolessente op hulle reis van geloofsgroei tot ’n dieper belewenis van God se teenwoordigheid moet lei, word ook deurgaans deur Platovnjak en Prijatelj46 beklemtoon. Hierdie saam-stappende verhouding, volgens Platovnjak en Prijatelj,47 vra van die begeleier (ouer, leraar, kategeet of ander volwassene) om op so ’n manier te luister en die adolessent se verhaal van geleefde realiteit aan die orde te stel dat ’n verhouding van nabyheid en omgee uiteindelik tot die getuienis oor God en sy verbondstrou sal lei. Hulle48 baseer hierdie verstaan op die bybelse getuienis van die manier waarop Jesus met mense omgegaan het in sy tyd op aarde: Hy luister, voer gesprek, bedien die Woord, bewys aanvaarding, liefde en omgee en uiteindelik maak Hy God se teenwoordigheid bekend en nooi sy volgelinge uit om hulle hoop op God te vestig. Wijoyoko en Indarjono49 wys daarop dat hierdie saam-stappende verhouding ook moet lei tot die ontwikkeling en bevordering van betekenisvolle verhoudings, selfs onder adolessente, wanneer die hoop gekoester word dat jongmense na katkisasie en belydenisaflegging steeds aktief in hulle geloofsgemeenskappe betrokke sal wees.

Selvam,50 met verwysing na jeugbediening, pleit vir ’n verstaan van saam-stap sonder die verwagting dat die begeleier deurgaans alles sal weet en rigting [direction] sal gee soos in die geval van spiritual directors. Inteendeel, hy pleit vir ’n saam-stappende verbondenheid waar onderskeiding en oorpeinsing, soos in die Ignatiaanse tradisie, sleutelkomponente is. In hierdie verhouding gaan dit dan eerder oor die jongmense as oor die een wat begelei. Daarom dat hy na homself as ’n unnamed companion verwys eerder as spiritual director. Vir Selvam51 is dit belangrik dat die begeleier [companion] self ook die teenwoordigheid van Jesus in die verhouding erken en oop sal wees om deur sy teenwoordigheid vernuwe en getransformeer te word.

Selvam52 beklemtoon dat dit die Heilige Gees is wat mense rig en lei. Hierin is die begeleier ook net ’n meeloper wat die adolessent help om self te onderskei wat werklik betekenisvol vir sy of haar lewe is. Selvam,53 met verwysing na die Ignatiaanse tradisie, beskryf onderskeiding hier as (1) ’n openheid vir God se teenwoordigheid en wil; (2) die onderskeiding van geeste en onderstromings; en (3) onderskeiding as deel van ’n besluitnemingsproses op die geloofsreis van die adolessent.54 Dit is dan veral die openheid vir God se teenwoordigheid en wil wat verdere onderskeiding en geloofsgroei moontlik maak. Hoewel die begeleier die adolessent wil help om God in hulle lewens te erken, te beleef en in verhouding met Hom te wees, kan die begeleier nie hierdie uitkoms manipuleer, beheer of self bepaal nie. Inteendeel, in saam-stappende verbondenheid behoort dit nooit oor die uitkoms (doel) te gaan nie, maar eerder oor die proses van onderskeiding en die hoopvolle verwagting in God se teenwoordigheid.55 Dit is daarom vir Ospino56 belangrik om die versoeking vir die oorbeklemtoning van meetbare kriteria soos, onder andere, die groei van getalle, die verwerwing van kennis en die ontleding van patrone en tendense teen te staan. Hoewel belangrik, kan hierdie en soortgelyke aspekte nie die kernfokus van geloofsonderrig wees nie. Ospino argumenteer verder dat die klem eerder op die idee van ’n geloofsreis met die oog op ’n transformerende ontmoeting met God moet val. Dit is vanuit hierdie verstaan dat hy eerder ’n pedagogie van begeleiding [pedagogy of accompaniment] voorstel wat begeleiers noop om bybelse, teologiese en geestelike perspektiewe in die geloofsreis te integreer terwyl hulle self ook oop bly vir nuwe perspektiewe wat met hulle eie unieke kontekste in gesprek gaan. Begeleiding, as raamwerk vir onderrig en geloofsgroei, kan dus nie rigied wees nie, maar word aan die uiteindelike doel, naamlik ’n transformerende verhouding met God en ander gekoppel. Hierdie doel bied ’n horison wat alle partye in die verhouding – begeleier en adolessent – in staat stel om die omvang van menswees en daarmee saam, ook die potensiaal en moontlikhede wat daarmee gepaard gaan, te verken, te ontdek en te beleef. Tog bly hierdie proses van onderrig steeds in die persoonlike en gemeenskaplike historiese en kontemporêre realiteite geanker. Op hierdie manier kan die taal, die idees en die verhoudings met God, met die self, met ander en met die wêreld ontwikkel. Die waarde van ’n pedagogie van begeleiding lê daarin dat die geleefde realiteite van betrokkenes nie net bevestig word nie, maar ook die konteks bied vir ’n hoopvolle soeke na nuwe moontlikhede en ervarings wat uiteindelik tot die verdieping van geloof kan lei. Ospino57 bring ook die relasionele aard van onderrig in verband met die oordrag van kennis en insig, soos oorgeërf en geïnterpreteer deur generasies, wat weer die belangrikheid van intergenerasionele verhoudings in geloofsonderrig benadruk.

Hierdie bespreking sou nie afgesluit kon word sonder om minstens na die aspek van mentorskap te verwys nie. Chiroma58 argumenteer dat mentorskap integraal is in die geloofsvormingsproses van adolessente. Chiroma59 staaf sy argument teologies deur na die volgende te verwys: Eerstens kom die grondterm vir mentorskap, meno (Grieks vir [enduring relationship]), ten minste 118 keer voor in die Nuwe Testament in die konteks van geloofs-ondersteunende verhoudings. Volgens Chiroma dui dit op die belangrikheid van mentorverhoudings in geloofsvorming en die ontwikkeling van dissipelskap. Verder voer hy aan dat daar toereikende bybelse getuienis bestaan wat daarop dui dat die geestelike vorming van jongmense deur mentorskap ’n noodsaaklike platvorm vir ’n ontmoeting en die ontwikkeling van ’n verhouding met die lewende God bied.60 Mentorskap bied dan weer die geleentheid vir die ontwikkeling van dissipelskap, veral wanneer daar in gedagte gehou word dat die Griekse woord vir mentor, matheteou, juis beteken om iemand te oortuig om ’n volgeling of nabootser (van die mentor) te word. Mentorskap, soos Chiroma ook benadruk, sluit dan elemente van begeleiding, modellering en nabootsing in wat in die konteks van ’n saam-stappende verhouding beslag vind.

Slotopmerkings

Hoewel die voorafgaande bespreking nie daarop wil aanspraak maak dat elke moontlike verwante aspek met betrekking tot geloofsvorming en verhoudings aan die orde gestel is of volledig ondersoek en bespreek word nie, bied dit wel ’n paar moontlikhede vir oorweging.

Die sentraliteit van verhoudings in kategese en geloofsvorming word deur die teologiese verstaan van die trinitariese aard van God en die verhoudingsaard van geloofsgemeenskappe ondersteun. Hiervolgens gaan dit oor meer as die blote oordrag van kennis en die behoud van tradisie en denominasionele identiteit. Inteendeel, dit gaan oor ’n reis van vernuwing waar ’n transformerende verhouding met God die adolessent sowel as die begeleier tot dieper begrip, insig en nuwe lewe lei. Sodanige transformerende verhoudings bied die konteks waarbinne geloof geleef, krities bevraagteken, versterk en oorgedra word. Hierdie geloofsreis vind plaas in die konteks van ’n verbondsverhouding: eerstens, binne die raamwerk van God se verbond met sy kinders; en tweedens, tussen begeleier en adolessent. Hierdie hartsreis wil nie net iets van God se hart beliggaam nie, maar spreek ook tot die hart van elke medereisiger. Effektiewe kategese gaan dus oor die vestiging en uitbou van egte, lewegewende verhoudings waarbinne God ontdek word en waar die misterie van geloof teëgekom, verken en omarm word. Hierin ontdek die kategeet sowel as die begeleier potensiële ankers wat hulle help om die uitdagings van die een-en-twintigste eeu te navigeer. Tog behoort ’n mens versigtig te wees om nie die waarde van teologiese kennis (teoreties en in praktyk) en tradisie te onderskat nie.61 Kennis bly belangrik vir die toerusting van adolessente in hulle geestelike reis, en sluit inderdaad kennis van en oor God, van geloofsleer, asook oor bybelse beginsels in. Hierdeur word jongmense gehelp om ’n dieper begrip van hulle geloof en die betekenis daarvan in hulle lewens te ontwikkel62 – ’n perspektief wat ook deur van die respondente in hierdie studie benadruk word.

Die idee van toegewyde, geloofwaardige verhoudings, gegrond in God se verbondstrou, die eskatologiese hoop in Christus, en ’n openheid vir die leiding van die Heilige Gees, behoort sentraal te staan met betrekking tot kategese en die geloofsvorming van jongmense. Hoewel die oordrag van kennis ’n belangrike aspek van kategese is, kry die impak van sodanige kennis eintlik eers behoorlik beslag in die konteks van verhoudings en binne die gemeenskap. Hierin is verhoudings in die familiekonteks, in die geloofsgemeenskap, met vriende en met geestelike leiers eintlik onontbeerlik. Sodanige verhoudings maak erns met die geleefde realiteite van adolessente. ’n Intensionele skuif na ’n verhoudings-gerigte benadering tot kategese is nodig, waar sodanige benadering die gedeelde soeke na betekenis in die lewe en ’n dieper belewenis van God in gedagte het. Aan die hand van God se verbondsverhouding met sy kinders, wil hierdie bydrae die idee van ’n verbondsverhouding tussen geestelike begeleiers en adolessente sterk benadruk wat die verwysing na geloofsvorming as saam-stappende verbondenheid tot gevolg het. Hierdie idee reflekteer ook duidelik in die verstaan van ’n pedagogie van begeleiding. So ’n verstaan van kategese en geloofsvorming vra dan dat begeleiers bybelse, teologiese en geestelike perspektiewe in die geloofsreis integreer, terwyl hulle self ook oop bly vir nuwe perspektiewe wat met hulle eie unieke kontekste in gesprek gaan. Uiteindelik gaan dit oor die verdieping van ’n transformerende verhouding met God en ander.

Geloofsgemeenskappe behoort krities te reflekteer oor hulle verstaan van die kategese en geloofsvorming van jongmense. So ’n kritiese refleksie se doel is om ’n gebalanseerde verstaan van geloofskennis- en praxis sowel as die noodsaaklikheid van ’n pedagogie van begeleiding (saam-stap) te vorm. Verder kan die belangrikheid van veilige en inklusiewe ruimtes vir kategese nie onderskat word nie. Die vraag oor wat hierdie in die konteks van gemeenskaplikheid sowel as persoonlike verhoudings beteken, behoort biddend oorweeg te word. Hier is fisiese, emosionele en geestelike veiligheid ter sprake. Aangesien dit hier om meer as net teoretiese kennis gaan, sal ervaringsleerbenaderings, wat die geleefde realiteite van die adolessent en die gemeenskap ernstig opneem, betekenisvolle bydraes tot ’n meer omvattende groei van jongmense kan maak. Die verwesenliking van bogenoemde voorstelle vra vir intensionele mentorskap asook die bevordering van intergenerasionele sowel as multigenerasionele verhoudings waarbinne wedersydse leer en groei kan geskied.63

Die volgende oorwegings kan gemeentes en geloofsleiers moontlik help in die nadenke oor die vernuwing van geloofsvorming in gemeentes: die noue verband tussen teoreties-teologiese kennis, geleefde realiteite van mense, en die bou van gesonde verhoudings behoort in die eerste plek die basis te vorm van ’n benadering tot die geloofsvorming van adolessente. Daar moet dus doelgerigte en sinvolle pogings aangewend word om die rol van teoreties-teologiese kennis en verhoudings met mekaar te integreer. Kategete, predikante en ander begeleiers behoort dus pogings aan te wend om ’n balans te vind met betrekking tot die oordrag van kennis en die opbou van verhoudings. Die ontwikkeling van dissipelskap wat geloofsleer sowel as praktiese groeigeleenthede, soos gemeenskapsprojekte, insluit, kan help met hierdie integrasie. Tweedens behoort die verstaan van die adolessent as ‘vol-mens’ aan hulle ook ’n regmatige rol en verantwoordelikheid in die proses te bied. Dit kan, onder andere, daarop te neerkom dat hulle, deur gerigte mentorskap, gehelp word om hulle gawes te ontdek en te ontwikkel om sodoende nie net aktief ’n rol in hulle eie vorming te speel nie, maar ook in die geloofsbelewenis van hulle gemeentes. Verder is dit belangrik dat gemeenteleiers biddend nadink oor die opleiding van en ondersteuning aan kategete, ouers en ander wat by die geloofsgroei van adolessente betrokke is. Hiervoor sou gemeentes ook by spesialisvelde soos, onder andere, opvoedkunde en sielkunde kon aanklop. Uitdagings wat verband hou met generasiegapings, gesinsdinamika, en ander stressors wat op gemeenskappe en gesinne inwerk, kan nie onderskat word nie en vra dikwels ook vir gerigte opleiding en steun deur professionele persone. Dit is belangrik om oop gesprekke hieroor te hê en om geleenthede te skep waar lede van die gemeente mekaar met raad en ondersteuning kan dien. Dit is dan ook belangrik dat volwassenes gehelp word om ’n dieper begrip van die leefwêreld van adolessente te verkry en sodoende ’n dieper empatie vir hulle te ontwikkel. Met die regte opleiding en steun kan die gebruik van kreatiewe en ervaringsgebaseerde leerbenaderings bevorder word, wat, onder andere, die gebruik van kuns, musiek en drama om die bybelse stories en beginsels op ’n toepaslike manier voor te stel, insluit. So ’n benadering kan juis help om die diepte en betekenis van geloofskennis vir adolessente te help ontsluit. In ’n wêreld waarbinne die tegnologie daagliks teen ’n ongelooflike spoed ontwikkel, is dit belangrik dat gemeentes besin oor die effektiewe gebruik van aanlynhulpbronne, die handhawing van ’n betekenisvolle aanlynteenwoordigheid, en die gebruik van aanlyn- en hibriede ontmoetingsgeleenthede waar adolessente dikwels meer gemaklik voel.

Slot

Die belangrikheid van verhoudings vir kategese en geloofsvorming van adolessente word deur die tematiese analise van die data sowel as die literatuurstudie onderstreep. Dit is egter meer as net sosiale verhoudings wat ter sprake is. Daarom wil hierdie bydrae ’n pleidooi rig vir ’n benadering tot kategese wat geanker is in opregte en toegewyde verhoudings wat op God se verbondstrou steun en terselfdertyd iets van hierdie verbond in die persoonlike verbintenis beliggaam wat uiteindelik as saam-stappende verbondenheid die ruimte bied vir transformasie en dieper geloofskennis. Tog kan die belangrikheid van die oordrag van kennis – Bybels-teologies en vanuit die tradisie en geloofspraktyke – nie onderspeel word nie. Hiersonder kan ’n verdieping in geloofskennis nie geskied nie.

Erkennings

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenisse is wat die skryf van hierdie artikel op onvanpaste wyse kon beïvloed nie.

Outeursbydrae

D.P.M. is die enigste outeur van hierdie navorsingsartikel.

Befondsingsinligting

Die outeur het geen finansiële ondersteuning vir die navorsing, outeurskap en/of publikasie van hierdie artikel ontvang nie.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel het alle etiese standaarde gevolg vir navorsing sonder direkte kontak met menslike deelnemers.

Databeskikbaarheid

Die data wat die bevindinge van hierdie studie ondersteun, is openlik beskikbaar in Universiteit van Pretoria navorsingsdata by https://doi.org/10.25403/UPresearchdata.28182179.v1.

Vrywaring

Die menings en sienings wat in hierdie artikel meegedeel word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde instelling, befondser, agentskap of dié van die uitgewer nie. Die outeur is verantwoordelik vir hierdie artikel se en inhoud.

Literatuurverwysings

Benson, P.L. & Roehlkepartain, E.C., 2008, ‘Spiritual development: A missing priority in youth development’, New Directions for Youth Development 2008(118), 13–28. https://doi.org/10.1002/yd.253

Bunge, M.J., 2008, ‘Biblical and theological perspectives on children, parents, and “best practices” for faith formation: Resources for child, youth, and family ministry today’, Dialog 47(4), 348–360. https://doi.org/10.1111/j.1540-6385.2008.00414.x

Chiroma, N., 2015, ‘The role of mentoring in adolescents’ spiritual formation’, Journal of Youth and Theology 14(1), 72–90. https://doi.org/10.1163/24055093-01401005

Cloete, A., 2012, ‘Spiritual formation as focus of youth ministry’, Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif 53(3–4), 70–77. https://doi.org/10.5952/53-3-4-250

Cloete, A., 2016, ‘Revisiting a family approach in youth ministry’, In die Skriflig/In Luce Verbi 50(1), 1–6. https://doi.org/10.4102/ids.v50i1.2078

De Kock, J., Elhorst, W. & Barnard, M., 2015, ‘The comeback of parents in catechesis practices’, Journal of Youth and Theology 14(2), 155–171. https://doi.org/10.1163/24055093-01402003

Dean, K.C., 2010, Almost Christian: What the faith of our teenagers is telling the American church, Oxford University Press, Oxford.

Dreyer, Y., 2004, ‘A public practical theological theory for religious education of secularised youth’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 60(3), 919–945. https://doi.org/10.4102/hts.v60i3.615

Dykstra, C., 2005, Growing in the life of faith: Education and Christian practices, 2nd edn., John Knox Press, Louisville, KY.

Ellis, W.W., 2015, ‘Human beings and human becomings: Departing from the developmental model of youth ministry’, Journal of Youth and Theology 14(2), 119–137. https://doi.org/10.1163/24055093-01402001

Fazzino, L.L., 2014, ‘Leaving the church behind: Applying a deconversion perspective to evangelical exit narratives’, Journal of Contemporary Religion 29(2), 249–266. https://doi.org/10.1080/13537903.2014.903664

Groome, T.H., 1980, Christian religious education: Sharing our story and vision, Harper & Raw, San Fransisco, CA.

Kinnaman, D. & Hawkins, A., 2011, You lost me: Why young Christians are leaving church … and rethinking faith, Baker Books, Grand Rapids, MI.

Kirkconnell, J., 2020, ‘Evangelizing catechesis: An essential element of the new evangelization’, International Journal of Evangelization and Catechetics 1(1), 3–18. https://doi.org/10.1353/jec.2020.0010

Matthee, N., 2023, UP Navorsingsprojek: Geloofsontwikkeling (Kategetiek) Data, Ongepubliseerde verslag. https://doi.org/10.25403/UPresearchdata.28182179.v1

Naidoo, M., 2008, ‘The call for spiritual formation in protestant theological institutions in South Africa’, Acta Theologica Supplementum 28(100), 128–146.

Nel, M., 2018, Youth ministry: An inclusive missional approach, HTS Religion & Society Series, vol. 1, pp. i–420, AOSIS, Cape Town.

Osmer, R.R., 1992, Teaching for faith: A guide for teachers of adult classes, John Knox Press, Louisville, KY.

Ospino, H., 2010, ‘Theological horizons for a pedagogy of accompaniment’, Religious Education 105(4), 413–429. https://doi.org/10.1080/00344087.2010.493402

Oxford English Dictionary, 1993, Oxford English Dictionary, viewed 24 April 2024, from http://www.oed.com/view/Entry/181318.

Pembroke, P., Kelly, E., Pleizier, T., Schmidt, W.S. & Van Den Berg, J.-A., 2002, Spiritual formation in local faith communities: A whole-person, prompt-card approach, Wipf and Stock Publishers, Eugene, OR.

Platovnjak, I. & Prijatelj, E., 2022, ‘Lifelong catechesis as a response to people’s life needs’, Studia Gdańskie 51, 124–136.

Potgieter, R., 2013, ‘A confident call to faith: Rediscovering the relevance of Christian catechisms’, In die Skriflig/In Luce Verbi 47(2), Art. #686, 1–10. https://doi.org/10.4102/ids.v47i2.686

Root, A., 2007, Revisiting relational youth ministry: From a strategy of influence to a theology of incarnation, IVP Books, Downers Grove, IL.

Root A., 2014, Bonhoeffer as youth worker: A theological vision of discipleship together, Baker Academic, Ada, MI.

Root, A., 2017, ‘Faith formation in a secular age’, Word & Word 2(2), 128–141.

Selvam, S.G., 2006, ‘Walking with the young: A theology of youth ministry’, in R. Mchami & B. Simon (eds.), Church ministry in African Christianity, pp. 65–80, Acton Press, Nairobi.

Selvam, S.G., 2013, ‘The unnamed companion on the road: Spiritual accompaniment in the context of youth ministry’, The Journal of Youth Ministry 11(2), 41–45.

Tarihoran, E., Firmanto, D. & Kurniawan, A.Z., 2024, ‘Improving the quality of children’s faith formation through catechesis for first communion preparation in the Parish with a Holistic approach’, EDUKASI: Jurnal Penelitian Pendidikan Agama dan Keagamaan 22(1), 125–136. https://doi.org/10.32729/edukasi.v22i1.1696

Wijoyoko, G.D. & Indarjono, R., 2023, ‘Fostering a culture of encounter, dialogue, and accompaniment: The impact of the Holy Spirit in the sacrament of confirmation among youth Catholics’, Paideía Christiana: Journal of Evangelization, Catechesis, and Religious Education in Asia 1(1), 46–57.

Wilhoit, J., 2008, Spiritual formation as if the church mattered: Growing in Christ through community, Baker Academic, Ada, MI.

Wyngaard, J., 2015, ‘Missio Dei and youth ministry: Mobilizing young people’s assets and developing relationships’, Missionalia 43(3), 410–424. https://doi.org/10.7832/43-3-120

Zellma, A., 2022, ‘Accompanying the catechised in their Holistic development’, Roczniki Teologiczne 69(11), 5–22. https://doi.org/10.18290/rt226911.1

Voetnotas

1. Hierdie artikel is die derde in ’n reeks van 10 in hierdie Supplementum. Soos die ander is ook hierdie artikel ’n teologiese refleksie op ’n konsep wat uit die analise van 123 kwalitatiewe onderhoude kom. Die onderhoude was deel van ’n empiriese navorsingsprojek oor geloofsontwikkeling/kategese waaraan 4 Afrikaanssprekende denominasies binne die Reformatoriese tradisie deelgeneem het.

2. Vergelyk artikel 1 in hierdie bundel.

3. Selvam (2006:65–80; 2013:43); Zellma (2022:5–22).

4. Vergelyk Matthee (2023).

5. Selvam (2013:43).

6. Wijoyoko en Indarjono (2023:47).

7. Ospino (2010:413–429).

8. Ospino (2010:418–422).

9. Vergelyk ook artikel 1 in hierdie bundel vir die verstaan van die didache as begeleiding op hierdie reis.

10. Ospino (2010:423–427).

11. Root (2017:129). Vir ’n meer volledige bespreking van die relasionele benadering in jeugbediening, vergelyk Root (2007) en Nel (2018:65–72, 293–310).

12. Oxford English Dictionary (1993).

13. Potgieter (2013).

14. Groome (1980:76).

15. Wilhoit (2008:15).

16. Wilhoit (2008:15).

17. Dean (2010:15–21).

18. Dykstra (2005:34–49).

19. Wilhoit (2008:23).

20. Naidoo (2008:1).

21. Kirkconnell (2020:12).

22. Osmer (1992:22–38).

23. Benson en Roehlkepartain (2008:21).

24. Chiroma (2015:72–90); Cloete (2012:70–77).

25. Selvam (2006:65–80).

26. Root (2014).

27. Root (2017:129).

28. Kinnaman en Hawkins (2011); Root (2017:129); Wyngaard (2015).

29. De Kock, Elhorts en Barnard (2015:163–164).

30. De Kock et al. (2015:165).

31. Selvam (2006:65–80).

32. Platovnjak en Prijatelj (2022:1280).

33. Dreyer (2004); Fazzino (2014); Root (2017).

34. Cloete (2016:1).

35. Cloete (2016:1).

36. Bunge (2008:348–360).

37. Ellis (2015:120).

38. Ellis (2015:121).

39. Ellis (2015:135).

40. Selvam (2006:71).

41. Selvam (2006:79).

42. Zellma (2022:7).

43. Zellma (2022:8).

44. Tarihoran, Firmanto en Kurniawan (2024:127).

45. Pembroke et al. (2002:26).

46. Platovnjak en Prijatelj (2022:128).

47. Platovnjak en Prijatelj (2022:127–131).

48. Platovnjak en Prijatelj (2022:127).

49. Wijoyoko en Indarjono (2023:47).

50. Selvam (2013).

51. Selvam (2013:42).

52. Selvam (2013:43).

53. Selvam (2013:44).

54. Vergelyk ook weer artikel 1 in hierdie bundel vir die verstaan van die didache as inwyding, begeleiding en onderskeiding op die lewensreis.

55. Selvam (2013:44).

56. Ospino (2010:413–429).

57. Ospino (2010:413).

58. Chiroma (2015:72–90).

59. Chiroma (2015:74–75).

60. Chiroma (2015:75).

61. Root (2017); Wilhoit (2008).

62. Wilhoit (2008).

63. Vergelyk, onder andere, Seibel (2021) vir ’n bespreking van die kritiese belang van ’n integenerasionele benadering in jeugbediening.



Crossref Citations

No related citations found.