Abstract
Milestones guidance as part of missional congregations. This article highlights the importance of establishing and celebrating milestones in the challenges of integrating and retaining children and adolescents within the church. The research clearly showed that congregations often fall short in effectively guiding baptised children and adolescents to become integral members of their faith communities. Furthermore, it highlights that the strong emphasis on confirmation, with its strong knowledge focus, creates the impression that this milestone marks the endpoint of the faith formation journey rather than an element of ongoing discipleship within a missional church. This perspective therefore limits the development of a missional congregational identity. This article argues that a reappraisal of biblical teaching fundamentals and faith formation will not only enhance the integration of children and adolescents into the church, but also guide them towards active participation in the church’s missional ministry. Faith formation signifies initiation, guidance and discernment on a lifelong discipleship journey. Along this journey, establishing, guiding, and celebrating milestones serve as continues and focused faith formation through a process of orientation, identification, profession of faith, and confirmation. It is consistently highlighted that this formation of faith inevitably includes the discovery of and participation in the missional identity of the church.
Intradisciplinary and/or interdisciplinary implications: This missional identity will ensure that the church provides not only a space for faith formation but also a lifelong journey of following Christ with the faith community and discovering ways to be a part of and participate in God’s mission in the world.
Keywords: milestones guidance; missional church; faith formation; missional identity; discipleship; life passages; inclusivity; orientation; identification; professing of faith; confirmation.
Inleiding
Hierdie artikel1 beklemtoon die belangrikheid van die oprigting en viering van roetemerkers in die uitdagings om kinders en adolessente in die gemeente te integreer en te behou. Die vraag wat in hierdie artikel aan die orde kom, is hoe gemeentes roetemerkers kan benut om kinders en adolessente voor, tydens en ná roetemerkers beter te begelei om wesenlik deel van ’n missionale gemeente te wees?
Probleemstellings waarop hierdie artikel fokus is die volgende:
- Gemeentes slaag nie daarin om gedoopte kinders en adolessente genoegsaam te begelei om wesenlik deel van hulle geloofsgemeenskappe te wees nie.
- Die sterk beklemtoning van die tradisionele belydenis van geloof en kennis-inhoud skep die indruk dat hierdie roetemerker die eindpunt van geloofsvorming op die geloofsreis is, en nie deel van ’n voortgesette dissipelskapsreis binne ’n missionale gemeente nie. Dit beperk dus ’n missionale gemeente-identiteit.
Wat gebeur tans in gemeentes ten opsigte van begeleiding?
Enkele aspekte van die navorsing2 oor wat tans in gemeentes gebeur tydens die begeleidingsproses van kinders en adolessente word hier uitgelig.
Belewenis van kategese
Die navorsing3 wou vasstel hoe die adolessente hulle kategese in hulle gemeentes ervaar het. Daar was positiewe sowel as negatiewe belewenisse. Die meeste adolessente het hulle kategese-ervaring as positief beskryf. Baie het bygevoeg dat die belydenisjaar veral vir hulle goed was. By die adolessente wat negatiewe ervarings gedeel het, was daar ’n patroon dat hulle eintlik eers van die belydenisjaar af ’n positiewe ervaring gehad het.
Geleenthede vir betrokkenheid en belewenis van deel-wees van die gemeente
In die navorsing4 is gepoog om by leraars en kategete vas te stel wat gemeentes doen om te verseker dat kinders en adolessente wesenlik deel van die gemeente is en geleenthede het om by bedienings in te skakel. Daar is ook gepoog om by adolessente vas te stel by watter bedienings van die gemeente hulle tans inskakel en in watter mate hulle beleef dat die gemeente hulle as volledig deel van die geheel beskou en aanvaar.
Dit is opvallend dat leraars en kategete beklemtoon dat die belangrikste geleenthede vir betrokkenheid sentreeer rondom die erediens en liturgie, soos deelname aan die nagmaal, die opneem en verwerking van dankoffers, betrokkenheid by multimedia en gasvryheid. Sosiale geleenthede soos basaars en gemeentelike kuiergeleenthede soos saameet, ook as belangrik uitgelig word. Uitreike en kampe word ook as belangrike geleenthede vir betrokkenheid genoem.
Wanneer die adolessente se insette in hierdie navorsing5 oorweeg word, blyk dit tog dat gemeentes baie moeite doen om adolessente direk ná die belydenisjaar (dus in hulle matriekjaar) aktief te betrek by die kategese of belydenisklas. In die Europese navorsing6 oor Confirmation is dit as uiters belangrik geïdentifiseer: ‘Seeing so many of them continue as volunteers after confirmation means that the invitation to become such a volunteer after confirmation is of key importance.’ Dit is opvallend dat ook adolessente sosiale geleenthede soos basaars en bedienings soos kampe waarby hulle tans betrokke is as baie belangrike geleenthede uitgesonder het. Slegs enkele adolessente het aangedui dat hulle by die erediens of liturgie betrokke is. Dit is kommerwekkend dat ’n groot groep adolessente nie (waarskynlik in die eerste jaar ná matriek) aktief in die gemeente betrokke is nie.
Uitval ná tradisionele belydenisaflegging
Die navorsing7 het probeer om duidelikheid te kry oor die sogenaamde ‘uitval’ van adolessente ná die tradisionele belydenisaflegging. Die vrae het gehandel oor wat onder uitval verstaan word en wat die hoofredes of oorsake van hierdie uitval is.
Dit het baie duidelik uit hierdie studie geblyk dat leraars, kategete en adolessente glo dat die hoofrede vir die uitval ná belydenisaflegging, is die siening dat belydenisaflegging die einde van die leerproses is en dat daar geen rede is om betrokke te bly nie. Leraars meen ook dat daar ’n gebrek is aan ’n volgende stap ná belydenisaflegging, naamlik om adolessente te help met integrering in die gemeente. Hierdie bevindings dui daarop dat die sterk beklemtoning van die tradisionele belydenisaflegging inderdaad die indruk kan skep dat hierdie mylpaal die eindbestemming van die geestelike reis of ten minste van die leerproses is. Hierdie gedagtes wys ook dat die huidige begeleidingsprosesse nie daarin geslaag het om dissipelskap en ’n missionale gemeente-identiteit te vestig nie.
Kategete en adolessente het verder aangedui dat die plig wat katkisante tydens belydenisaflegging deur hulle ouers opgelê is na belydenisaflegging verval. Adolessente voeg by dat daar ná belydenisaflegging ’n nuwe soort vryheid ontstaan wat hulle in staat stel om self keuses ten opsigte van hul betrokkenheid te maak.8
Leraars, kategete en adolessente het ook duidelik aangedui dat adolessente ’n ander aanbiddingstyl verkies, en dat hulle die gemeente se styl as verouderd ervaar. Dit maak dat hulle meer aanklank by charismatiese kerke vind9 wat meer geleenthede vir adolessente bied om in hulle bedienings betrokke te raak. Volgens die adolessente is daar dus nie genoegsame ruimtes of opsies vir jongmense om by die gemeente in te skakel of hulle geloof uit te leef nie.
Leraars beklemtoon egter dat uitval nie noodwendig beteken dat alle adolessente permanent die gemeente verlaat nie. Uitvalle kan ook siklies verklaar word. Hierdie saak sluit nou aan by wat sommige leraars beskryf as ’n geestelike soeke na identiteit wat gewoonlik met die verkenning van verskeie ander gemeentes en kerkgroepe gepaard gaan.
Leraars en kategete het ook die natuurlike proses van wegtrek uit die gemeente vir verdere studies of om elders te gaan werk as ’n belangrike rede vir die uitvalle geïdentifiseer.
Hoekom sukkel gemeentes met integrering en ’n hoë uitvalsyfer?
Nie ’n nuwe probleem nie
Dit blyk dat die probleem van jongmense wat nie betrokke is in die kerk ná belydenisaflegging nie en uit die kerk verdwyn, nie nuut is nie. Sedert 1966 word daar in die Algemene Sinode van die NG Kerk gepraat oor ’n gebrek aan Bybelkennis en onbetrokkenheid ná belydenisaflegging.10 In daardie stadium was die ouderdom van diegene wat belydenis aflê (16 jaar) en ’n gebrek aan geloofsrypheid as die hoofredes vir die probleme aangevoer. In 1994 het die Algemene Jeugkommissie dit soos volg in ’n verslag voor die Algemene Sinode van die NG Kerk11 verwoord: ‘In NG kerkkringe heers daar kommer oor die baie tieners en jong volwassenes wat na hulle openbare belydenisaflegging vinnig uit die kerk verdwyn.’
Daar is ook verskeie ander redes vir hierdie probleme aangevoer, wat die volgende insluit:12
- Oneffektiewe materiaal, verkeerde oordrag- en onderrigmetodes.
- Swak opgeleide of oneffektiewe kategete en begeleiers.
- Die onvermoë en afwesigheid van die geloofsvoorbeelde van ouers en volwasse rolmodelle.
- Die totale onvermoë om die Bybel met die lewe te kan integreer.
- Die afwesigheid van’n verhouding met Jesus Christus.
- Die totale afwesigheid van ’n missionêre- en diensgerigte ingesteldheid.
- Die opkoms van postmodernisme en individualisme, ensovoorts.
Die probleem is egter baie meer kompleks en verskeie faktore speel ’n rol in die navorsingsvrae van hierdie artikel. Die literatuur dui daarop dat die probleem wyer strek as die redes waarna in die bogenoemde sinodale verslae en lys verwys. Jeugbediening wêreldwyd is in ’n krisis. Neufeld13 gebruik woorde soos: ‘tumultuous, chaotic, and confused’. Die literatuur dui aan dat daar die afgelope paar dekades twee reaksies op hierdie krisis is: aan die een kant word daar klem gelê op die veranderde en steeds veranderende konteks en die gebrek om effektief na jongmense uit te reik binne die veranderde konteks,14 en aan die ander kant word die feit beklemtoon dat jeugbediening nie daarin slaag om jongmense effektief te begelei tot volwasse geloof en deelname in die gemeente nie.15 Daar word ook verwys na die uitvloei van jongmense uit die kerk, of die onvermoë om jongmense in die kerk te behou, veral na skool of na opleiding.16
Enige toekomstige benadering moet dus ’n holistiese en multidimensionele benadering en aard hê.
Sedert 2011 tot en met 202317 het die NG Kerk hierdie uitdaging benader deur ’n holistiese en multidimensionele lens, veral ten opsigte van die praktyk van belydenisaflegging. Daar het ook krities belangrike en rigtinggewende verslae voor die Algemene Sinode gedien oor die missionale identiteit18 van gemeentes ten opsigte van roetemerker-begeleiding binne ’n missionale gemeente. Die inhoud van die verslae daag gemeentes uit om intensioneel te werk aan ’n nuwe kultuur van inklusiewe jeugbediening wat spesifiek op roetemerker-begeleiding betrekking het en die intensionele begeleiding van gemeentes in die ontwikkeling van hulle missionale identiteit. Wat in hierdie artikel aangebied word, sluit baie nou aan by hierdie navorsing en bogenoemde verslae.
Roetemerker begleiding in ’n missionale gemeente
Wat is roetemerker-begeleiding?
Hoewel roetemerkers dalk nuut in die kerk is en nog min teologies verdiskonteer is in die verlede, het die kerk deur die eeue reeds roetemerkers (bewustelik of onbewustelik) by lewensdeurgange19 opgerig. Belydenisaflegging is ’n tipiese voorbeeld. Die Katolieke Kerk se aanvullende sakramente soos konfirmasie, die huwelik en dood is nog voorbeelde van deurgange waar roetemerkers opgerig is.20
Roetemerkers is geleenthede vir die kerk om kinders en adolessente (en volwassenes)21 doelbewus deur onsekerhede wat tydens lewensdeurgange en -krisisse beleef word, te begelei. Elke mens is bewus van die deurgange en krisisse op hulle lewenspad. Nel22 noem dit oomblikke of tye wanneer jou wording jou roep tot ’n oomblik se stilstaan, nadink, vier, geniet en voortgaan. Wepener23 verduidelik dat lewensdeurgange as roetemerkers drie fases behels: losmaking, liminaliteit en herintegrasie. Roetemerker-begeleiding wil kinders en adolessente help in hierdie proses deur hulle te ondersteun om los te maak van die bekende, deur die onsekerheid (liminaliteit) te beweeg, en vas te maak aan die onbekende (societas na communitas).24
In roetemerker-begeleiding word daar dus nie deurgange geskep nie, maar die natuurlike deurgange word as geleenthede benut om kinders en adolessente doelbewus in hulle geloofsvorming te begelei. By die 2023-Algemene Sinode is daar dus besluit om so ’n roetemerkerkultuur te ontwikkel.25
Roetemerker-begeleiding binne ’n missionale gemeente se uitsluitlike doel is om mee te help aan die vorming van ’n missionale identiteit. Roetemerkers kan binne hierdie konteks gesien word as stasies op die geloofsreis waar doelbewus gereflekteer, begelei en gevier word. Dit is waar kinders en adolessente die geleentheid kry om opnuut hulle nuwe identiteit in Christus te omarm en waar hulle hulle opnuut verbind aan God, aan hulle roeping en aan hulle geloofsgemeenskap wat saam op hierdie reis aan hierdie missie deelneem.
Wat is ’n missionale gemeente?
Hierdie artikel fokus op roetemerker-begeleiding binne ’n missionale gemeente. Nel26 benadruk dat alle gemeentes ongelukkig nie altyd missionaal is nie en dus nie meer kerk nie. Om hierdie rede is dit nodig om kortliks en baie oorsigtelik aan te dui wat hieronder verstaan word.
Guder,27 wat die term missionale kerk geskep het, beskryf ’n missionale kerk soos volg:
It is fundamentally and comprehensively defined by its calling and sending, its purpose to serve God’s healing purposes for all the world as God’s witnessing people to all the world.
Missionale denke is daarom onderliggend aan die verstaan van die missio Dei [sending van God] wat lei tot missio ecclesia [die sending van die gemeente]. In Bosch28 se woorde: ‘To participate in mission is to participate in the movement of God’s love towards people, since God is a fountain of sending love’. Die kerk word dus geroep om deel van God se lewegewende beweging na die wêreld te wees.29 In hierdie opsig is dit egter belangrik om te onthou dat hierdie gestuurdheid nie ’n beweging of gestuurdheid na die wêreld is asof die kerk teenoor die wêreld staan nie, maar eerder ’n gestuurdheid in die wêreld. Kerkwees beteken dus dat ons heelgemaak word deur die sturende God en dat Hy ons dan roep om aan sy heelmaking van die gebroke wêreld deel te neem.
Hierdie missionale identiteit behoort ontdek, omarm en uitgeleef te word. In hierdie verband is die besinning oor missionale teologie en spesifiek die agt trinitariese bewegings, wat as die kerk se missionale roeping gesien word, van groot waarde.30 Hierdie teologiese verruiming kan kategete en alle begeleiers help om die nodige fondasie vir kinders en adolessente reeds vroeg te lê om aan die missio Trinitatis deel te neem. Hierdie bewegings sluit die volgende in: missio Dei, Vereniging met Christus, Perichoresis, Kenosis, Pneumatologie, die soeke na die koninkryk en redding. Die bestaansdoel van die missionale kerk word deur deelname aan die lewe van die drie-enige God beantwoord.31
Geloofsvorming in ’n missionale gemeente
Die ontdekking van wie God is, wat God se missie behels en hoe dit deur en in die kerk of gemeentes beoefen en voortgesit word, word dikwels met die term geloofsvorming beskryf. Dit behels die ontdekking, ontwikkeling en uitleef van ’n gestuurde identiteit. Hierdie proses vind nie outomaties plaas nie, maar behoort begelei te word. Die onderrigtaak van die kerk het nog altyd deur die eeue aan hierdie ontdekking en begeleiding vorm gegee.
In die Ou Testament behels hierdie onderrig, soos in die inleidende artikel bespreek is en volgens Firet32 die totale proses van inlywing, begeleiding en onderskeiding van verbondsmense deur God. Soos Jesus sy dissipels in die Nuwe Testament geroep en geleer het wat sy missie behels, so word ingelyfdes in gemeentes vandag geroep tot ’n lewenslange leer (ontdekking) van wat ’n nuwe lewe in verhouding met God deur Jesus Christus (dissipelskap) behels,33 en hoe ons, soos Root34 dit as deel van sy ‘Christopraxis’ beskryf, in God se sturende aksie, wat in Christus gestalte gekry het, ingetrek word. Ons kan dus met reg vandag sê dat hierdie wording en vorming verwys na die inlywing in en begeleiding van ’n omvattende lewe van dissipelskap.35 Die herwaardering van die grondbeginsels van die onderrigtaak behoort vir ’n gemeente duidelike riglyne te gee hoe inklusiewe begeleiding behoort te lyk.
Begeleiding behoort altyd missionaal te wees
Begeleiding in ’n gemeente kan daarom nie anders as om deel van ’n missionale pedagogie van formasie te wees nie. So ’n pedagogie van formasie word soos volg omskryf:
[M]issionale pedagogie is die ontsluiting en die herwinning van dissipelskap. ’n Missionale pedagogie veronderstel dat geroepenes hulself sien as dissipels wat op ’n lewenslange reis van navolging van Christus ontdek en leer hoe om deel te neem aan God se sending avontuur. Hierdie identiteit van ’n dissipel is ’n pedagogiese beskrywing wat lidmate op ’n lewenslange reis as leerder innooi om as die liggaam van Christus die liggaamstaal van die Here uit te leef.36
Die hartseer in vandag se gemeentes is dat geloofsvorming by kinders en adolessente dikwels eensydig begelei word om ’n individualistiese identiteit te ontwikkel, eerder as ’n missionale identiteit van deelname aan dit waarmee God deur sy kerk besig is. Kinders en adolessente behoort dus begelei te word om hulle identiteit in Christus, sowel as die noodsaaklikheid van hulle deelname aan God se missie deur sy kerk, te ontdek. Die kweek van hierdie missionale bewussyn behoort dus die kern te wees van alle begeleiding37 – ook van roetemerker-begeleiding.
In hierdie begeleiding neem God altyd die inisiatief
Geloofsvorming begin altyd by God (die sturende God neem die inisiatief, Hy skenk geloof en Hy skenk ook die kerk of geloofsgemeenskap). Hierdie geskenkte geloofsinsig groei, en hier word onderrig, volgens Nel38, ingesluit. Burger39 waarsku dat ’n gelowige nie uit eie krag moet probeer om ’n verhouding met God en solidariteit met ander te laat groei nie, aangesien die krag wat enige gelowige hiervoor nodig het alleen van God kom. Hy benadruk dat Christelike praktyke gelowiges help om in ’n posisie te kom waar hulle kan ontvang wat God aan hulle gee.40 In hierdie vormingsproses sluit God mense (ouers en ook ander gelowiges)41 as medereisigers in om nuwe reisigers (kinders en volwassenes) saam te nooi op hierdie weg, hulle in te oefen en te begelei in die gemeente, sowel as in hulle samelewingsbetrokkenheid.
Begeleiding gebeur prosesmatig en duur lewenslank42
Hierdie begeleiding op ’n dissipelskapsreis begin by geboorte en duur tot en met die dood.43 Geloofsvorming is dus nie iets wat op ’n gegewe moment of gedurende ’n bepaalde tydperk soos in die kinderjare plaasvind en dan afgehandel is nie. Osmer44 dui aan dat inisiasie en begeleiding tydens die afrondingsfase van die kategumenaat45 van die vroeë kerk, liturgiese handelings ingesluit het wat die Heilige Gees se betrokkenheid by die Christelike lewe simbolies vergestalt het. Hierdie liturgiese momente was volgens hom deel van ’n primêre kategetiese proses van formasie waarin onderrig, aanbidding en geestelike begeleiding saamgewerk het om nuwe gewoontes en praktyke te kweek by die persone wat in die gemeente geïnisieer is. Hierdie prosesstruktuur van die kategumenaat het Wepener,46 op die voetspoor van Kreider,47 geïnspireer om te formuleer dat begeleiding op die geloofspad ‘believe, behaviour’ en ‘belonging’ stimuleer en beoog. Binne hierdie proses is geloofsvorming daarop gerig om mettertyd geloof, gedrag en gemeenskap (’n gevoel van behoort) te kweek. Dit is dus belangrik om te beklemtoon dat geloof nie gevorm word en dan eindig by byvoorbeeld belydenisaflegging nie, maar dat dit ’n lewenslange proses (dissipelskapsreis) is wat tot en met die dood ontvou.
Wanneer ons aan roetemerker-begeleiding dink, kom juis hierdie prosesmatigheid van die ontwikkeling van geloof en groei na vore, sowel as die feit dat dit lewenslank plaasvind. Gemeentes word aangemoedig om kinders, adolessente en volwassenes deur deurgange te begelei om op ’n manier wat by hulle begrip pas, roetemerkers op te rig en te vier.
Begeleiding behoort altyd inklusief te wees
Wanneer inklusiwiteit in die vormingsproses ontbreek en die sakrament van die doop afgewater word, waarsku Nel48 dat daar, met ’n eensydige bekeringsfokus op die lang termyn ’n hoë prys betaal word waar gedooptes as ‘uitgeslote’ kinders en adolessente in ’n geloofsgemeenskap grootgemaak word. Dit is daarom hartseer dat soveel gelowiges en gemeentes vandag met die inhoud van ’n verbondsteologie (inklusiwiteit) saamstem, maar in praktyk ’n eksklusiewe leefstyl49 volg.
In sulke gemeentes word kinders en adolessente in die totale bediening afsonderlik bedien, en hulle word nie grootgemaak met die konstante herinnering van wie hulle in Christus is en dat hulle deel van ’n sturende gemeenskap is nie. Freudenburg en Lawrence50 het meer as twee dekades gelede betekenisvolle navorsing hieroor gedoen en tot die volgende gevolgtrekking gekom:
[T]he church is stuck in an old pattern of teaching the faith to families – its programming and structure is focused to meet the needs of families in a culture that does not exist anymore. For example: Sunday schools that pattern themselves after 1950s-era educational models; youth ministries that still follow a stand-alone ‘mini-church’ model that discourages church-wide involvement; church programs that segregate age levels almost exclusively and require families to separate to participate in church activities; and faith-development strategies that assume, wrongly, that homes are partnering with the church to teach kids about Jesus.
Ook De Vries51 het in sy navorsing oor die vraag waarom jeugbediening dit nie regkry om kinders en jongmense tot geloofsvolwassenheid en groter betrokkenheid in hulle gemeentes te begelei nie, die volgende gevolgtrekking gemaak: ‘… in typical youth ministries, teens had been systematically separated from adults, isolating them from the very relationships that are most likely to lead them to maturity’.
Roetemerker-viering wil juis help om kinders en adolessente deel van die groter geheel te maak.
Begeleiding as opleiding vir deelname
Die inklusiwiteit waarvoor daar gepleit word, fokus op twee dimensies: om kinders en adolessente nie afsonderlik te bedien nie, maar as deel van die geheel, soos reeds beskryf; en om hulle te betrek in die bediening en deelname aan die bediening moontlik te maak. In die navorsing het adolessente oor die algemeen aangedui dat hulle kategese as teoreties ervaar en ’n behoefte uitgespreek dat dit meer prakties moet wees. Dit is hier waar deelname in die bediening onontbeerlik is.
Dykstra52 beklemtoon dat geloofsvorming en groei op die geloofspad fundamenteel ’n proses van deelname aan die werk van God is. Daarom is deelname aan bedienings van wesenlike belang in die begeleiding van kinders en adolessente. Bedienings fasiliteer volgens Nel53 nie net God se koms na die wêreld deur die diens van mense nie, maar ook identiteitsontdekking en -ontwikkeling. Om hierdie rede maak Nel54 die volgende stelling: ‘bediening in al sy vorme is intensioneel vormend’. Dit is ook hoe Paulus in Efesiërs die doel van elke funksie beskryf: vorming, bekwaammaking of toerusting vir die bediening wat aan elkeen van ons gegee word. Die woord wat Paulus in Efesiërs 4:12 gebruik vir toerus, naamlik katartismos verwys, volgens Roberts,55 na die toerusting van gelowiges vir hulle dienswerk. Dit impliseer die voorbereiding van iemand om effektief te funksioneer, om iemand af te rond, en om iemand te help om hulle roeping te vervul en daarin toegerus te word. Volgens hom verwoord die term opleiding hierdie betekenis die beste. Kinders en adolessente se deelname in die bedienings is dus ’n vorm van opleiding om deel te neem aan God se werk.
Te lank is die fokus van begeleiding van kinders en adolessente slegs op kategese geplaas as kognitiewe kennisoordrag in ’n ‘klaskamer’ met belydenisaflegging as eindpunt, eerder as deelname aan bedienings, en die opleiding en vorming wat daarmee gepaard gaan. Roetemerker-begeleiding maak juis gebruik van die uitdagings van lewensdeurgange en -krisisse om kinders en jongmense vir die bediening te begelei en op te lei op pad na die viering van hierdie deurgange.
Begeleiding deur gewoontes en praktyke
Die deelname aan bedienings hou direk verband met die gereelde deelname aan Christelike praktyke binne bedienings. Christelike praktyke is, volgens Yaconelli,56 gewoontes, dissiplines en lewenspatrone waardeur Christene gemeenskap met Christus en solidariteit met mekaar soek. Voorbeelde sluit in gesamentlike Bybellees (wandel deur die Woord), geloofsonderskeiding (waarmee God besig is en hoe die Gees ons daarby wil inskakel), gereelde uitdeel van kos by ’n sopkombuis, geloofsgesprekke in die huishouding, ensovoorts. Hierdie praktyke funksioneer op die vlak van persoonlike ervaring wat betekenis, emosionele ervaring van die transendente, en geestelike bewussyn insluit.57 Hier sluit begeleiding direk aan by die oprigting en viering van roetemerkers as ’n geloofsvormingspraktyk. Deelname aan die voorbereiding en viering van roetemerkers skep gereelde geleenthede op die geloofsreis waar kinders en adolessente (ook volwassenes) begelei kan word tot oriëntering, identifisering, asook belydenis en bevestiging.
Die herhaalde inoefening van nuwe praktyke, vaardighede en houdings lei, volgens die In Pas-handleiding vir missionale gemeentes,58 mettertyd tot die vorming van eenvoudige en maklik oordraagbare gewoontes in die lewe van die gemeente wat hulleself onderhou en dupliseer. Hierdie nuwe gewoontes word die draers van ’n nuwe gemeentekultuur en lewer ’n belangrike bydrae om die nuwe kennis, praktyke en houdings in die hele gemeentelike lewe oor te dra. Só word die nuwe kultuur dieper en breër in die gemeente gevestig, en nuwe lede wat in die gemeente inkom, word hierin opgeneem.
Intensionele begeleiding by deurgange
Saam met kategese en deelname in bedienings is roetemerker-begeleiding die ruimte waar gemeentes kinders en adolessente doelbewus by lewensdeurgange en deur lewenskrisisse begelei op hulle geloofsreis. Net soos gemeentes moeite doen en gedoen het met die belydenisjaar,59 behoort daar ook baie moeite gedoen te word met die voorbereiding en begeleiding by elke roetemerker wat die gemeente oprig. Wanneer ’n roetemerker-kultuur deel van ’n gemeente se bediening begin vorm, sal dit ook tot ’n verandering in die heersende denke lei, naamlik dat belydenisaflegging60 die einde van die begeleidingspad is.
Roetemerkers help met oriëntering, identifisering, belydenis en bevestiging
Roetemerkers het, soos reeds bespreek, drie funksies. Al drie funksies speel ’n rol by die viering van alle roetemerkers. Die begeleiding van hierdie funksies verskil egter soos individue se insig groei en hulle bevatlikheid ontwikkel.61
Oriëntering
Waar bevind ek my op die lewensreis as deel van die geloofsfamilie? By ’n deurgang help oriëntering elke gedoopte om doelbewus oor hulle geloofsreis, hetsy vir die eerste keer of opnuut, te reflekteer.
Die volgende vrae behoort hierin belangrik te wees:
- Waar kom ek of ons vandaan? (Verlede).
- Waar is ek of ons nou? (Hede).
- Waarheen is ek of ons op pad? (Toekoms).
Oriëntering hou veral verband met identiteit en identiteitsvinding. Volgens Westerhoff62 en White63 behels dit hoofsaaklik drie aspekte:
- Die vermoë om jouself in die groter narratief van die gesin, groep, of gemeenskap (gemeente) te plaas.
- Die omlyning van waardes of ’n basiese raamwerk waarbinne die individu die wêreld beoordeel.
- Die definiëring van rolle, oftewel wat in die algemeen van ’n individu verwag word in roetines en verhoudings met ander.
Identifisering
Aan wie verbind ek my, en wie is aan my verbonde? Hierdie funksie help elke gedoopte om doelbewus te reflekteer oor wie hulle identifiseringsfigure is en waar hulle in hulle identifisering met Christus staan.
Die volgende vrae is hier belangrik:
- Wie is ek, of ons?
- Wie s’n is ek, of ons?
Identifisering gaan veral oor verhoudings met God en medegelowiges. Dit behels, volgens Nel,64 modellering en die waarneming van rolmodelle. Dit kan ook beskryf word as vereenselwiging. Dit help kinders en adolessente om rolmodelle te identifiseer, om hulleself te vereenselwig met dit waarmee hulle identifiseer, en om hierdie eienskappe uit te leef. Hoewel praktiese riglyne hier gegee word, is dit belangrik om te besef dat identifisering en vereenselwiging wat daarmee gepaard gaan, nie net kognitiewe prosesse is nie.
Vern Bengston en sy kollegas,65 wat navorsing gedoen het oor die oordrag van geloof tussen generasies, beklemtoon die belangrikheid van konstantheid tussen wat rolmodelle sê en doen: ‘walking the walk and not just talking the talk’. Yaconelli66 beskryf dit treffend:
We listened as young people told us again and again that adults who embodied a spiritual vitality and passion for life were the most transforming aspect of their youth ministry program.
Belydenis en bevestiging
Wat bely of bevestig ek, en saam met wie bely of bevestig ek dit? Die missionale dimensie speel hier ’n belangrike rol. Afgesien van die simboliese handelings by die doopwater tydens die roetemerkerviering, is dit nodig om doelbewus by die volgende sake stil te staan:
- Herinner kinders en adolessente aan God se verbintenis en beloftes aan elkeen en almal by hulle doop (inlywing).
- Herinner hulle aan God se heilshandelings deur Christus en die werking en teenwoordigheid van die Heilige Gees wat hulle ook saam met die geloofsgemeenskap by elke nagmaal vier (inblywing).
- Help hulle verstaan wat ’n belydenis of bevestiging is en wat die verbintenis behels om deel te wees van God en ons geloofsfamilie.
Belydenis gaan oor ’n verklaring en ’n verbintenis: Ek bely dat Jesus Christus my Here is en dat ek deel van die liggaam van Christus is. Dit behels ook ’n verbintenis: God se verbintenis aan my, my reaksie van toeëiening en oorgawe, my verbintenis aan Hom en sy liggaam op aarde, en die gesamentlike navolging en deelname aan sy voortgesette bediening op aarde. ’n Vraag wat hier kan help is: In hoe ’n mate help ek die gemeente met my gawes om gehoorsaam deel te neem aan wat God doen?
Oriëntering, identifisering en belydenis fasiliteer die ontwikkeling en vorming van geloof [believe], gedragsverandering [behave] en ’n ervaring van behoort [belong].67 Al drie funksies herhaal en gaan voort op ’n lewenslange dissipelskapreis.
Hoe lyk roetemerker-begeleiding prakties?
Identifisering van roetemerkers vir eie konteks
Die beginpunt vir die oprigting en viering van roetemerkers is die identifisering van roetemerkers wat die gemeente doelbewus wil implementeer. Die wagwoord hier is om nie met te veel roetemerkers gelyk te begin nie, maar met ’n enkele een, en dit dan na ’n volgende uit te bou. Indien die gemeente nog niks rondom roetemerkers gedoen het nie, is dit raadsaam om eers die belydenisaflegging te omvorm. Die verslag en aanbevelings van die Taakspan Roetemerkers68 bied handige wenke oor hoe belydenisaflegging omvorm kan word tot die roetemerker vir vroeë volwassenheid. Sodra hierdie eerste roetemerker suksesvol verloop, kan die gemeente na ’n tweede oorbeweeg – miskien die oorgang na adolessensie. Kyk gerus weer na bogenoemde verslag vir voorstelle hieroor. So kan roetemerkers wat vir elke konteks relevant is, stapsgewys bygevoeg word. Die veronderstelling is dat gemeentes nie net aan kinders en adolessente dink wanneer hulle roetemerkers oprig nie, maar ook aan die lewensfases daarna tot en met die dood.
Begeleiding voor, tydens en na roetemerkerviering
Die volgende is volgens Nel en beskikbare navorsing, enkele praktiese gedagtes oor hoe begeleiding voor, tydens en na roetemerker-vierings benut kan word deur gemeentes wat ouers, kinders en adolessente op hierdie pad wil help:
- Neem die huwelikskategese ernstig op. Die huwelik is op sigself ’n lewensdeurgang, en die huwelikseremonie is die roetemerkerviering. Hierdie begeleiding kan alles insluit wat in hierdie artikel oor roetemerker-begeleiding bespreek is en berei ook die pad voor vir toekomstige roetemerker-begeleiding wanneer kinders in die huwelik gebore word.
- Neem die doopkategese ernstig op – in die gees van geloofsvorming [didache] as bediening op die weg:
- Deel die bedoeling van die roetemerker-benadering met die ouer(s) of groep.
- Deel inligting oor bestaande roetemerkers in die gemeente, die ouers se rol by elkeen, en die gemeente se ondersteuning.
- Oorweeg jaarliks opleiding of voorbereiding in geloofsdeling vir ouers. In hierdie proses leer ons as volgelinge van Jesus hoe om rekenskap te gee oor die hoop wat in ons is (1 Pet 3:14–16).
- In gemeentes waar die roetemerker-bedieningsfilosofie aanvaar word, word die nagmaal hopelik gereeld as sakrament gevier. In hierdie benadering word aanvaar dat kinders tot die nagmaal toegelaat word.69 Maak sover moontlik van die volgende seker:
- Ouers wat oorweeg om hulle kinders vir hulle eerste nagmaalviering aan te moedig, moet as ouers betrokke wees.
- Daar moet weer nagedink word oor die simboliek en betekenis van die nagmaal en hoe om dit aan die kind wat oorweeg om vir die eerste keer aan die nagmaal deel te neem, te verduidelik.
- Hoe word die kinders en hulle ouers wat hulle hiertoe voorberei het, betrek by die ‘tafel van die Here’ deur die liturgie.
- Betrek ouers (albei of enkel) by die voorbereiding van en deelname aan die liturgie vir elke roetemerker wat in die gemeente gevier word.
- Fokus so gereeld moontlik op die betekenis van die nagmaal in die prediking en maak dit duidelik dat hierdie prediking ook gesprekstof is vir geloofsgesprekke met eie kinders.
- Ontwikkel ’n ryk sakramentele tradisie in die gemeente deur alle moontlike kanale.
- Help die gemeente verstaan dat ‘verstaan’ nie die sakrament geldig maak nie, maar dat dit wel die viering daarvan in en as deel van die liggaam verdiep en verryk.
- Bevorder dissipelskap en dissipelmaking deur en in ouerhuise – ons is op reis as leerlinge van Christus.
- Ontwikkel deur gesprekke en betekenisgewing tydens roetemerker-vierings die basiese betekenis van roetemerkers: oriëntering, identifisering en belydenis.
- Bevorder hierdie bedieningsfilosofie deur middel van gesprek, viering en diens (gasvryheid), soos deur Forster70 voorgestel. Geloofsgemeenskappe wat praat en dien, vier met groter vreugde!
Hier volg enkele gedagtes oor die inhoud van hoe gesprekke, viering en diens by roetemerkers gestalte kan kry.
Gesprekke: Die begeleiding voor en na die deurgang kan verskillende vorms aanneem. By sommige deurgange, soos byvoorbeeld ’n eerste nagmaal waaraan kinders gaan deelneem of skoolbeginners, kan die begeleiding een of twee gesprekke insluit, waarin die ouers ’n baie belangrike rol speel. Ander deurgange, soos die oorgang na adolessensie of vroeë volwassenheid, vra vir langer en meer intensiewe begeleiding wat moontlik tot ’n jaar kan duur waartydens kategesemateriaal en ontwikkelingsveranderings en -uitdagings bespreek kan word.
Verskeie onderwerpe kan tydens hierdie begeleidingsgesprekke voor die roetemerkerviering hanteer word. Hier is enkele voorbeelde: Gesprekke oor die betekenis van die doop en die nagmaal; Fowler71 se voorstelle oor geloofsfases en om kinders en adolessente na die volgende geloofsfase te begelei, bied ook waardevolle inhoud vir gesprekvoering. Die drie fases wat by deurgange plaasvind, soos Wepener72 daarna verwys, naamlik losmaking, liminaliteit en vasmaak, bied uitstekende aanknopingspunte by elke deurgang om in die begeleiding voor die roetemerker-viering benut te word.
Viering: Dit is belangrik dat ’n roetemerker tydens ’n erediens met ’n spesifieke liturgie gevier word. Die redes daarvoor is die volgende:
- Die geloofsfamilie het mekaar nodig en behoort betrokke te wees by hierdie gesprek, viering en diens.
- Prediking, as die verkondiging van God se Woord, gee die rigting aan vir die reis.
- By elke roetemerker is die viering van die sakramente betrokke:
- Die doop as die viering van die inlywing in die geloofsfamilie. Hier kan ’n simboliese handeling, soos die hand in die doopbak as herinnering (doopviering), ’n belangrike rol speel.
- Die nagmaal as die herhalende belydenis en viering van die inblywing (voortgaande deel wees van en deelneem aan) in die geloofsfamilie.
- In die Taakspan Roetemerkersverslag73 en in die boeke Ongekaart74 sowel as Roetemerkers: Oorgangsrituele vir tussenin-tye75 is voorstelle oor hoe roetemerkervierings gereël kan word en liturgieë wat gebruik kan word.
Diens (gasvryheid): Daar moet ekstra moeite gedoen word om kinders en adolessente rondom die viering van roetemerkers doelbewus en binne hulle begripsvlak aan die bedienings van die gemeente te laat deelneem. Blootstelling aan verskeie bedienings en die ontdekking van gawes speel hier ’n baie belangrike rol. Wanneer Foster76 oor diens praat, verwys hy spesifiek na gasvryheid. Dit skep volgens hom ’n veilige ruimte wanneer kinders en adolessente se maats maklik en volledig in die gemeente en die gemeente se missionale bediening ingesluit kan word omdat hulle van nature eerder met hulle maats assosieer. Dit is ook opvallend dat gasvryheid of geleenthede rondom gesamentlike etes deur die adolessente in hierdie navorsing77 uitgelig is as ’n belangrike ruimte waar hulle wel inskakel in hulle gemeentes. Diens tydens die voorbereiding van ’n roetemerker behoort geensins opsioneel te wees nie, maar ’n kerndeel van die begeleiding.
Slot
Hierdie navorsing78 toon dus duidelik dat gemeentes nie daarin slaag om gedoopte kinders en adolessente ten volle in hulle gemeentes te integreer nie. Verder toon dit dat die sterk fokus op die tradisionele belydenisaflegging van geloof met klem op kennis-inhoud die indruk skep dat hierdie roetemerker die eindpunt van die geloofsvorming is, in plaas daarvan dat dit deel vorm van ’n voortgesette dissipelskapsreis binne ’n missionale gemeente.
In hierdie artikel is betoog dat wanneer gemeentes roetemerkers oprig, begelei en vier binne ’n missionale identiteit, sulke gemeentes beter daarin sal slaag om kinders en adolessente in die gemeente te integreer en te behou.
Daar is ook gepleit vir ’n herwaardering van die bybelse grondbeginsels vir onderrig en geloofsvorming as inlywing, begeleiding en onderskeiding op ’n lewenslange dissipelskapreis. Wanneer dit gebeur, word die oprigting, begeleiding en viering van roetemerkers ’n stuk gefokusde geloofsvorming op die geloofsreis. Dit sal daartoe bydra dat kinders en adolessente beter in die gemeente geïntegreer word en in die missionale bediening sal deelneem. Verder is daarop gewys dat geloofsvorming deurlopend ook die ontdekking en deelname aan die missionale identiteit van die gemeente insluit.
Om hierdie visie te verwesenlik, vra niks minder nie as ’n kultuurverandering. Die artikel beklemtoon daarom die kritiese belang daarvan om ’n kultuur van inklusiwiteit, lewenslange dissipelskap, roetemerker-viering en missionaliteit in gemeentes te vestig indien gemeentes die uitdagings wat in die navorsing aangetoon is, ernstig in oënskou wil neem.
Erkennings
Ds C Thirion van NG Kenridge (eerste proefleser) en Dr T Smith Hoof van Excelsus (tweede proefleser).
Hierdie artikel spruit voort en is ‘n uitbreiding van besluite geneem rakende roetemerkers tydens die 18de vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse-Gereformeerde Kerk, 2023, Roetemerkers. Taakspan Roetemerkers en Missionale Triniteitsteologie.
Mededingende belange
Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenisse is wat die skryf van hierdie artikel op onvanpaste wyse kon beïvloed nie.
Outeursbydrae
J.C.A. is die engiste outeur van hierdie navorsingsartikel.
Etiese oorwegings
Hierdie artikel het alle etiese standaarde gevolg vir navorsing sonder direkte kontak met, en deelname van mense.
Befondsingsinligting
Die outeur het geen finansiële ondersteuning vir die navorsing, outeurskap en/of publikasie van hierdie artikel ontvang nie.
Databeskikbaarheidsverklaring
Die data wat die bevindinge van hierdie studie ondersteun, is openlik beskikbaar in Universiteit van Pretoria navorsingsdata by https://doi.org/10.25403/UPresearchdata.28182179.v1.
Vrywaring
Die menings en sienings wat in hierdie artikel meegedeel word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde instelling, befondser, agentskap of dié van die uitgewer nie. Die outeur is verantwoordelik vir die inhoud van hierdie artikel.
Literatuurverwysings
AGENDA vir die 4de vergadering van die ALGEMENE SINODE van die NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK, 1974, Jeugverslag van werksaamhede van die Algemene Jeugbediening, pp. 360–379, Kerkargief Algemene Sinode, Kaapstad.
AGENDA vir die 9de vergadering van die ALGEMENE SINODE van die NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK, 1994, Algemene Jeugkommissie, pp. 141–142, besoek 24 Junie 2024, vanaf https://www.kerkargief.co.za/doks/acta/AS_Agenda_1994.pdf.
AGENDA vir die 14de vergadering van die ALGEMENE SINODE van die NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK, 2011, Doopviering, pp. 142–147, besoek 24 Junie 2024, vanaf https://www.kerkargief.co.za/doks/acta/AS_Agenda_2011.pdf.
AGENDA vir die 15de vergadering van die ALGEMENE SINODE van die NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK, 2013, Kategese: Belydenisaflegging, viewed 24 June 2024, from https://www.kerkargief.co.za/doks/acta/AS_Agenda_2013.pdf.
AGENDA vir die 16de vergadering van die ALGEMENE SINODE van die NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK, 2015, Belydenis van geloof, pp. 150–157, viewed 24 June 2024, from https://www.kerkargief.co.za/doks/acta/AS_Agenda_2015.pdf.
AGENDA vir die 17de vergadering van die ALGEMENE SINODE van die NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK, 2019, Geloofsvorming: Jeug, Sub-Taakspan Belydenis van Geloof, pp. 288–302, viewed 12 January 2020, from https://www.kerkargief.co.za/doks/acta/AS_Agenda_2019.pdf.
AGENDA vir die 18de vergadering van die ALGEMENE SINODE van die NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK, 2023, Roetemerkers. Taakspan Roetemerkers, pp. 296–314 en Missionale Triniteitsteologie. Algemene Kuratorium, pp. 108–136, viewed 24 June 2024, from https://ngkerk.net/wp-content/uploads/2023/09/AGENDA-AS-2023-Elektronies.pdf.
Avenant, J.C., 2011, ‘Die verhouding Ouermentoraat, Geloofsidentiteit en betrokkenheid van Jongmense na Belydenisaflegging’, Ongepubliseerde Meesters proefskrif, Universiteit van Pretoria, Pretoria.
Avenant, J.C., 2021, ‘Intergenerasionele geloofsvorming in ’n huis-gefokusde, gemeente-ondersteunde jeugbediening’, Ongepubliseerde PhD proefskrif, Universiteit van Pretoria, Pretoria.
Avenant, J.C., Nel, M. & Jordaan, J.C., 2021, ‘Die rol van die ouerhuis in die intergenerasionele geloofsvorming van die jeug in belang van ’n geïntegreerde jeugbediening’, Verbum et Ecclesia 42(1), a2250. https://doi.org/10.4102/ve.v42i1.2250
Bengston, V., Putney, N.M. & Harris, S., 2013, Families and faith: How religion is passed down across generations, Oxford University Press, New York, NY.
Bosch, D.J., 1991, Transforming mission, Orbis, Maryknoll, NY.
Burger, C., 2005, Ontmoetings met die lewende God, Bybelkor, Wellington.
Burger, C., Havenga, M., Van Den Munckhof, J. & Wepener, C., 2023, Om te word wie ons is: Oor geloofsvorming in en deur gemeentes, Bybel-Media, Wellington.
Clark, C., 2001, ‘The missional approach to youth ministry’, in M.H. Senter, W. Black, C. Clark & M. Nel (eds.), Four views of youth ministry and the church: Inclusive congregational preparatory, missional, strategic, pp. 77–96, Zondervan/Youth Specialties, Grand Rapids, MI.
Cordier, G.S., Bosman, L.L. & Van Der Walt, P. (eds.), 2020, In pas met die lewende God: Ritmes en gewoontes van roepingsgetroue gemeentes, viewed 24 July 2024, from https://www.inpas.co.za/wp-content/uploads/2020/11/IN-PAS-DIGITAAL.pdf.
De Vries, M., 2004, Family-based youth, 2nd edn., Intervarsity Press, Downers Grove, IL.
Dykstra, C., 2005, Growing in the life of faith: Education and Christian practices, 2nd edn., Westminister John Knox Press, Louisville, KY.
Firet, J., 1977, Het Agogisch Moment in het Pastoraal optreden, 3e druk., Kok, Kampen.
Forster, C.R., 2012, From generation to generation: The adaptive challenge of mainline protestant education informing faith, Cascade Books, Eugene, OR.
Fowler, J.W., 1981, Stages of faith. The psychology of human development and the quest for meaning, Harper Collins Publishers, San Francisco, CA.
Freudenburg, B. & Lawrence, R., 1998, Family friendly church, Group Publishing, Loveland, CO.
Greyling, A. & Van Niekerk, W. (reds.), 2019, Roetemerkers: Oorgangsrituele vir tussenin-tye, Bybel-Media, Wellington.
Guder, D.L., 2015, Called to witness: Doing missional theology, Eerdmans, Grand Rapids, MI.
Kreider, A., 1999, The change of conversion and the origin of Christendom, Wipf and Stock Publishers, Eugene, OR.
Matthee, N., 2023, UP Navorsingsprojek: Geloofsontwikkeling (Kategetiek) Data, Ongepubliseerde verslag, https://doi.org/10.25403/UPresearchdata.28182179.v1
Nel, M., 2001a, ‘The inclucive congregational approach to youth ministry’, in M.H. Senter, W. Black, C. Clark & M. Nel (eds.), Four views of youth ministry and the church: Inclusive congregational preparatory, missional, strategic, pp. 2–22, Zondervan/Youth Specialties, Grand Rapids, MI.
Nel, M., 2001b, Jeugbediening – ’n Inklusiewe Gemeentelike Benadering, Barnabas, Bloemfontein.
Nel, M., 2009, ‘Imagine-making disciples in youth ministry … that will make disciples’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 71(3), 1–11. https://doi.org/10.4102/hts.v71i3.2940
Nel, M., 2015, Identity-driven churches – Who are we, and where are we going? Biblecor, Bible Media, Wellington.
Nel, M., 2018, Youth ministry: An inclusive missional approach, HTS Religion & Society Series: 1, AOSIS, Cape Town.
Nel, M., 2023, ‘Nuwe praktyke vir geloofsbelydenis’, in C. Burger, M. Havenga, H. Van Der Munckhof & C. Wepener (eds.), Om te word wie ons is, pp. 212–230, Bybel-Media, Wellington.
Neufeld, T., 2002, ‘Postmodern models of youth ministry’, Direction 31(2), 194–205. https://doi.org/10.1023/A:1016008723554
Osmer, R.R., 1990, A teachable spirit: Recovering the teaching office in the church, John Knox, Westminister, Louisville, KY.
Osmer, R.R., 1996, Confirmation. Presbyterian practices in ecumenical perspective, Geneva Press, Louisville, KY.
Roberts, J.H., 1983, Die brief aan die Efesiërs, NG Kerk-Uitgewers, Kaapstad.
Roehlkepartain, E.C., Benson, P.L., King, P.E. & Wagener, L.M., 2006, ‘Spiritual development in childhood and adolescence: Moving to the scientific’, in E.C. Roehlkepartain, P.L. Benson, P.E. King & L.M. Wagener (eds.), The handbook of spiritual development in childhood and adolescence, pp. 1–16, viewed 20 May 2011, from https://psycnet.apa.org/record/2006-04945-000.
Root, A., 2014, Christopraxis: A practical theology of the cross, Fortress Press, Minneapolis, MN.
Root, A., 2017, Faith formation in a secular age, Baker Publishing Group, Grand Rapids, MI, viewed 18 May 2018, from https://www.amazon.de/Andrew-Root-ebook/dp/B01MS7DN0N/ref=sr_1_1?dchild=1&keywords=faith+formation+a+secular+age&qid=1595265293&sr=8-1.
Senter, M.H., Back, W., Clark, C. & Nel, M., 2001, Four views of youth ministry and the church: Inclusive congregational, preparatory, missional, strategic, Zondervan/Youth Specialties, Grand Rapids, MI.
Smith, J.K.A., 2016, You are what you love: The spiritual power of habit, Brazos Press, Grand Rapids, MI.
Wepener, C., 2014, Van voor die Wieg tot na die Graf: Rituele roetemerkers vir die drumpels van die lewe, BybelMedia, Wellington.
Wepener, C. & Greyling, A. (reds.), 2019, Ongekaart: ’n Bronboek met roetemerkers vir oorgange, Bybel-Media, Wellington.
Westerhoff, J.H. & Neville, G.K., 1974, Generation to generation, United Church Press, Philadelphia, PA.
Yaconelli, M., 2001, ‘Focusing youth ministry through Christian practices’, in K.C. Dean (ed.), Starting right: Thinking theologically about youth ministry, pp. 155–166, Zondervan Publishing House, Grand Rapids, MI.
Yaconelli, M., 2007, Growing souls. Experiments in contemplative youth ministry, Zondervan, Grand Rapids, MI.
Schweitzer, F., 2017, ‘Researching non-formal religious education: The example of the European study on confirmation work’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 73(4), a4613. https://doi.org/10.4102/hts.v73i4.4613
White, J.R., 1988, Intergenerational religious education: Models, theory, and prescription for interage life and learning in the faith community, Religious Education Press, Mishawaka, IN.
Willard, D., 1988, The spirit of the disciplines. Understanding how God changes lives, Harper Collins Publishers, New York, NY.
Voetnotas
1. Hierdie artikel is die vyfde in ’n reeks van 10 in hierdie Supplementum. Soos die ander is ook hierdie artikel ’n teologiese refleksie op ’n konsep wat uit die analise van 123 kwalitatiewe onderhoude kom. Die onderhoude was deel van ’n empiriese navorsingsprojek oor geloofsontwikkeling en kategese waaraan 4 Afrikaanssprekende denominasies binne die Reformatoriese tradisie deelgeneem het.
2. Matthee (2023).
3. Matthee (2023).
4. Matthee (2023).
5. Matthee (2023).
6. Schweitzer (2017:6).
7. Matthee (2023).
8. Vir meer inligting oor die die rol van ouers ten opsigte van geloofsvorming, vergelyk artikel 4 van hierdie bundel.
9. Vir meer inligting oor die die rol van die erediens ten opsigte van geloofsvorming, vergelyk artikel 6 van hierdie bundel.
10. NGK (1974:383 e.v.).
11. NGK (1994:126–153).
12. Avenant (2011:2).
13. Neufeld (2002:19).
14. Clark (2001:79; kyk ook Senter et al. 2001:118–119; ook aangehaal deur Avenant 2023:133).
15. De Vries (2004:26; ook aangehaal deur Avenant 2021:133).
16. De Vries (2004:25; Avenant 2023:133).
17. NG Kerk (2011:141–142; 2013:75–76; 2015:150–157; 2019:299–302; 2023:296–314).
18. NG Kerk (2013:199–215; 2019:324–352; 2023:209–246).
19. Lewensdeurgange is in die verlede beskryf met terme soos Les Rites de Passage of mylpale.
20. NG Kerk (2019:299–302).
21. In hierdie artikel word by roetemerkers telkens na kinders en adolessente verwys. Roetemerkers word natuurlik in alle lewensfases gevier. Wat vir kinders en adolessente geld, geld dus ook vir volwassenes.
22. Nel (2023:214).
23. Wepener (2014:155–158).
24. Wepener (2014:25–26).
25. NG Kerk (2023:302).
26. Nel (2015:11; ook aangehaal deur Avenant 2021:45).
27. Guder (2015:122).
28. Bosch (1991:389–390; ook in NG Kerk 2023:121).
29. NGK (2019:179).
30. NG Kerk (2019:177–181).
31. NG Kerk (2023:123).
32. Firet (1977:71–78; ook aangehaal deur Avenant 2021:168–169).
33. Nel (2023:214).
34. Root (2014:93, 108, 153; 2017:145).
35. Nel (2009:6).
36. NG Kerk (2019:196–197).
37. NG Kerk (2013:212).
38. Nel (2018:173; kyk ook in 2001b:148).
39. Burger (2005:88).
40. Willard (1988:19, 23).
41. Firet (1977:55).
42. Avenant, Nel and Jordaan (2021:4–5).
43. NG Kerk (2023:298).
44. Osmer (1996:163).
45. Kategumenaat verwys na die kategetiese onderrigproses van die vroeë kerk.
46. Wepener (2014:157; 2023:59–76, 251–366).
47. Kreider (1999:21–22; kyk ook Burger et al. 2023:357–358).
48. Nel (2023:213).
49. Kinders word nie ingelyf en begelei om te word wie hulle in Christus reeds is nie.
50. Freudenburg en Lawrence (1998:17, 27).
51. De Vries (2004:21, 36).
52. Dykstra (2005:40; ook aangehaal deur Avenant 2021:187).
53. Nel (2015:63–83).
54. Nel (2023:217).
55. Roberts (1983:17; ook aangehaal deur Avenant 2021:45).
56. Yaconelli (2001:156).
57. Roehlkepartain et al. (2006:3–4).
58. Cordier, Bosman and Van der Walt (eds. 2020:10).
59. In sommige gemeentes is die belydenisjaar langer as ’n jaar.
60. Belydenisaflegging is reeds in 2023 in die NG Kerk omvorm tot roetemerker vir jongvolwassenheid.
61. NG Kerk (2019:299–302).
62. Westerhoff and Neville (1974:37–39).
63. White (1988:98).
64. Nel (2018:258–261; vgl. ook in 2001a:110–112).
65. Bengston, Putney and Harris (2013:193–195; ook aangehaal deur Avenant 2021:201).
66. Yaconelli (2007:26).
67. ‘Believe, behave’ en ‘belong’ was die fokus van die kategeseproses in die kategumenaat volgens Kreider (1999:21–22).
68. NG Kerk (2023:296–314). Vergelyk ook in Nel (2023:224–225).
69. Onderstaande geld meer vir kerke waar dit reeds aanvaarde beleid geword het.
70. Forster (2012:98; NG Kerk 2019:295; 2023:299).
71. Fowler (1981:151–198; vgl. ook Osmer 1990:236–251).
72. Wepener (2014:25–26, 33).
73. NG Kerk (2023:296–314).
74. Ongekaart, Wepener en Greyling (eds. 2019) bevat beskrywings en liturgiese hulpmiddels van verskeie roetemerkers.
75. Roetemerkers: Oorgangsrituele vir tussenin-tye deur Greyling en Van Niekerk (eds. 2019) gee ook beskrywings en liturgiese hulpmiddels vir die mees bekende roetemerkers vir kinders en adolessente.
76. Forster (2012:98 e.v.).
77. Matthee (2023).
78. Matthee (2023).
|