Abstract
Equipment of parents. The empirical research of this article highlights the pivotal role of parents in the faith development of children and adolescents who have recently completed catechesis and the traditional ‘confession of faith’ process. Data indicates that faith development primarily takes place within the family context, with parental involvement directly correlating with adolescents’ continued engagement in church following their confession. Observations reveal that children of devout parents tend to remain more actively involved in church life. However, a misconception exists among Christian parents regarding their role in spiritual formation, as they often mistakenly assume that this responsibility lies primarily with church professionals. Scriptural references affirm that the Lord has entrusted parents with the principal duty of discipling their children, positioning the family as a unique interpretative context through which God reveals himself within the ecclesiastical space. Psychological insights further support this, showing that minor’s mirror neurons, which facilitate learning, extend their influence to religious practices. Children internalise faith habits and behaviours by observing their parents and other significant adults, thereby reinforcing their spiritual connections. Consequently, mirror neurons are essential in the spiritual development of children. It is therefore primarily the responsibility of parents to exemplify their faith and instruct their children.
Intradisciplinary and/or interdisciplinary implications: The article further offers guidance through both structured family worship and spontaneous conversations to contribute to effective discipling within the home.
Keywords: faith development; confession of faith; parental involvement; responsibility; spiritual formation; covenant; discipleship; mirror neurons; family devotions
Inleidend1
Uit nasionale kategesenavorsing onder vier Afrikaanssprekende denominasies is dit merkwaardig hoe sterk die tema van ouerbetrokkenheid by kinders se geloofsvorming na vore kom. Nie net die leraars nie, maar ook die kategete en adolessente het ’n duidelike besef dat ouers die primêre rolspelers in die geloofsvorming van kinders is. Aangesien die denominasies wat aan hierdie navorsing meegewerk het vanuit die verbondsteologie funksioneer, behoort dit nie te verbaas nie, want die Here werk immers deur geslagte heen. Dit is die verantwoordelikheid van elke geslag om die werke en woorde van die Here aan die volgende geslag oor te dra.
Uit die empiriese navorsing onder leraars, kategete en adolessente wat pas deur die proses van kategese en die tradisionele ‘belydenis van geloof’ gekom het, blyk dit dat ouers ’n primêre rol in die geloofsontwikkeling van kinders en adolessente speel.
Uit die data2 is dit duidelik dat leraars die volgende gevoel het:
- Dit is waar die proses van geloofsontwikkeling primêr plaasvind.
- Die betrokkenheid van ouers in die gemeente het ’n direkte korrelasie met die betrokkenheid van adolessente ná belydenis van geloof.
- Gelowige ouers se kinders raak verder in die gemeente betrokke.
Uit die data is dit ook duidelik dat die kategete wat aan die ondersoek deelgeneem het hiermee saamstem. Hulle glo dat ouers se betrokkenheid in die gemeente, ’n direkte verband het met die betrokkenheid van adolessente ná belydenis van geloof. Verder is hulle ook oortuig dat meer gedoen kan word om ouers te betrek by die kategeseproses, asook om hulle met die nodige gereedskap toe te rus om die geloofsontwikkelingsreis saam met hulle kinders te onderneem. Ouers moet ook die rol van kategese beter verstaan.
Op die vraag aan adolessente oor wie die grootste invloed op hulle geloofsontwikkeling gehad het, was die ouers die eerstes wat genoem is. Hulle het egter ook genoem dat hulle ervaring van kategese dikwels negatief was, aangesien hulle dit as dwang van die ouers ervaar het.
Die navorsingsprobleem waarop hierdie artikel fokus, kan soos volg verwoord word:
Die rol van ouers in die geloofsontwikkeling van kinders en adolessente is tegelyk van kritieke belang en tog problematies. Wanneer hierdie rol en bydrae van ouers nie helder geformuleer is nie, ly die geloofsontwikkeling van kinders en adolessente in gemeentes skade en dit mag die primêre rede word vir die sogenaamde ‘uitval en wegraak’ ná die tradisionele aflegging van belydenis van geloof. Gemeentes blyk ook ontoereikende toerusting aan ouers te bied vir hierdie kritieke rol.
Hoewel hierdie artikel die belang van die rol van ouers beklemtoon, is die navorsingsdoel om lig te werp op die toerusting van ouers in en deur die gemeente vir hulle rol in die geloofsontwikkeling van hulle kinders.
Gemeentes behoort ondubbelsinnig die boodskap aan ouers oor te dra, dat die onderrig wat die gemeente aan die kinders bied, slegs ondersteunend van aard is terwyl ouers deur hulle onderrig en voorbeeld die primêre ‘kategete’ in hulle kinders se lewens is. Juis dit plaas die verantwoordelikheid op die gemeente om ouers in hierdie verband te ondersteun en toe te rus.
Die artikel gaan verder uit van die veronderstelling dat wanneer daar na ‘ouers’ verwys word, dit alle persone insluit wat verantwoordelik is vir die primêre versorging van die kind: enkelouers, beide ouers, grootouers of voogde.
Die Here se opdrag aan ouers
Brian Cosby3 stel dat naskoolse jeug in Amerika die kerk verlaat, aangesien hulle nie deur ’n Christus-gesentreerde bediening in die geloof gevoed en gevestig is nie. Hy beklemtoon verder dat die jeug nie net die bediening van God se genade deur sy Woord nodig het nie, maar ook ’n diep behoefte daaraan het.
Nel4 bevestig dat ouers die primêre rol as dissipelmakers van hulle kinders speel. God wil Homself aan sy skepsels bekend maak – spesifiek aan verbondskinders. God gebruik in besonder die ekklesiologiese lewensruimte hiervoor, maar Hy gee binne hierdie sfeer ’n besondere hermeneutiese funksie aan die gesin. Nel toon ook aan dat, gegrond op die Bybel, kinders ouers nodig het vir die noodsaaklike verstaan van die Woord van God.
Ons hoor dit in die woorde van die Here wat oorvertel moet word, waar die Here die volk ná 40 jaar in die woestyn5 opnuut herinner om volgens die wet te leef. Daardeur sal daar ook seën vir hulle wees. Die belangrikste daarvan is dat hulle die Here hulle God moet liefhê met hart, siel en krag. Die Here gee dan ’n baie belangrike opdrag, naamlik dat die woorde nie net in hulle eie gedagtes moet bly nie, maar ook by hulle kinders ingeskerp moet word deur deurlopende gesprekke met hulle te voer.
Die werke van die Here moet onthou word deur die bekende woorde van Josua: ‘Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien’.6 Hierdie woorde is die antwoord op die werk van die Here. Die Here praat deur Josua met die Israeliete en vertel die geskiedenis van al sy werke.7 Hy begin by die roeping van Abraham anderkant die Eufraat en Abraham se nageslag; van Jakob wat uit Abraham se nageslag gebore is; van die nageslag se slawerny in Egipte en hulle uiteindelike verlossing uit die slawerny; en van die beloofde land wat aan hulle gegee is, maar wat hulle nie bewerk het nie.
Hieruit kom die oproep aan die volk om die Here te dien, en Josua, wat op daardie stadium al 80 jaar oud was, se keuse namens sy familie, is om die Here te dien. Die volk het die Here nog gedien in die tyd wat Josua en die leiers nog geleef het, maar nadat hulle gesterf het, het die volk nie meer die Here en die groot dade wat Hy vir Israel gedoen het, geken nie.
Ons sien dus baie duidelik hoe die kennis van die Here se werke en woorde, en die dien van die Here hand aan hand gaan. Dit bevestig verder die belangrikheid van die opdrag wat aan die ouers gerig word om hulle kinders hierdie kennis oor die Here se woorde en werke te leer en om dan daardeur te leef. Dit is God se plan om die geestelike geloofsvorming van geslagte te verseker. Ouers leer hulle kinders uit die Woord wie God is en van sy werke en hoe Hy gedien wil word. Ouers moet verder hierdie lerings bevestig deur met hulle kinders te deel hoe dit neerslag in hulle eie lewens vind en op ’n praktiese wyse demonstreer hoe om God lief te hê.
Nel dui verder op die Paasfees wat nie net eenmalig gevier is nie. Hy beklemtoon dat God se opdrag nie slegs generies is en beteken dat Israel as volk die voorskrifte moet onderhou nie, maar dat die spesifieke opdrag aan die stamme en gesinne is dat: ‘Julle en julle kinders moet altyd hierdie voorskrif eerbiedig’.8 Daar is ’n patroon waarop kinders van elke generasie vrae aan ouers stel.9 Kinders toon dus ’n natuurlike nuuskierigheid om hulle omgewing te verstaan en vrae te stel om daardie doel te bereik. Kinders is nie net blote instrumente nie; hulle is aktiewe deelnemers aan dít waarmee God besig is. Hulle is nie net ontvangers van inligting nie, maar ook inisieerders van gesprekke en speel ’n dialogiese rol in onderrig.10
Hierdie studie beklemtoon weer die belangrike rol van ouers in die geloofsvorming van kinders.11 Mark Holmen12 haal die kerkhervormer Martin Luther aan, wat ouers beskryf as apostels, biskoppe en priesters vir hulle kinders, aangesien ouers diegene is wat hulle kinders aan die evangelie bekendstel.
Daar is ’n gesegde wat lui dat om kinders groot te maak nie moeilik is nie, maar dat dit aanhoudend is. Dieselfde geld vir die vestiging van ’n gesonde geloofslewe by kinders. Soos enigiets in die lewe wat oefening en volgehoue aandag vereis, geld dit ook vir ons geloofslewe. Iemand wat spiere in die gimnasium bou, moet daarmee volhou, want wanneer die doelwit bereik is, kan oefening nie gestaak word met die verwagting dat die resultate permanent sal wees nie. Daarom sê Paulus tereg vir Timoteus dat liggaamlike oefening van geringe waarde is, maar dat toewyding aan God groot waarde het – nou en in die toekoms.13 Ouers moet dus deurlopend met hulle kinders oor die Here praat, sodat hulle geestelike spiere versterk kan word.
Dit is nie ’n taak wat primêr deur die kerk vervul kan word nie. George Barna wys daarop dat, wanneer die kerk – intensioneel of nie – die gesin se verantwoordelikheid vir die geestelike versorging van kinders oorneem, dit ’n ongesonde afhanklikheid skep en die gesin van sy bybelse verantwoordelikheid ontneem.14 Nel ondersteun hierdie argument deur te beklemtoon dat die ouer generasie, wat al langer in ’n liefdevolle verhouding met die Here leef, die verlossingsverhaal aan die volgende geslag moet oordra. ’n Kritieke aspek hiervan is om iemand ‘aan die hand te lei’.15
Die Here het hierdie taak aan ouers toevertrou. Geloofsvorming vind daarom by die huis plaas. Dit kan nie in ’n halfuur per week geskied tydens die kategese-ontmoeting deur iemand met wie die kinders nie ’n sterk band het nie, of wat nie die geloofslewe prakties aan hulle kan demonstreer nie. Indien die kerk hierdie verantwoordelikheid oorneem, bly dit tot teorie beperk wat net op Sondae in ’n klaskamer geleer word, eerder as ’n lewenswandel met God. Ouers het die voorreg sowel as die verantwoordelikheid om hulle kinders uit die Woord te bedien deur hulle God se genadige werk in Christus te leer en te wys.
Spieëlneurone se invloed op geloofsgroei
In ’n verslag oor ouertoerusting wat gedien het by ’n sinode van een van die denominasies wat aan hierdie navorsing deelgeneem het, word gestel: ‘Ons weet van geen navorsing in Jeugbediening wat nie toenemend werk met ’n reeds baie ou teorie nie: die meeste kinders kies die lewensbeskouing van hulle ouers.’16
By die skepping van die mens en sy nageslag sowel as die sluit van sy verbond met die mens, het die Here dit so bestem dat kinders se geloof deur hulle ouers gevorm word. Vanuit die sielkunde, met die ontdekking van spieëlneurone [mirror neurons] in die negentigerjare van die vorige eeu wat die brein van makaak-ape bestudeer het, kom die duidelike besef van die Here se werking. Hierdeur is ons begrip van menslike kognisie, sosialisering en leer aansienlik verbeter. Rizzolatti en Craighero17 se navorsing toon dat hierdie neurone, wat ewe sterk afvuur wanneer ’n individu ’n aksie uitvoer en wanneer hulle iemand anders dieselfde aksie sien uitvoer, deur nabootsing in verskeie aspekte van menslike ontwikkeling ’n belangrike rol speel. Hierdie ontdekking verskaf ’n biologiese basis vir nabootsing, leer en empatie, aangesien hierdie neurone individue in staat stel om die aksies en emosies van ander te weerspieël.
Alhoewel spieëlneurone by alle mense voorkom, wys Marshall en Meltzoff18 dat hierdie neurone die aktiefste is in die vroeë kinderjare. Van jongs af boots kinders die gedrag, emosies en aksies van diegene rondom hulle na. Volgens Iacoboni19 is hierdie nabootsing nie net ’n meganiese replisering nie, maar behels dit ook die begrip en internalisering van die intensies en emosies agter hierdie aksies. Spieëlneurone is dus belangrik vir die kind se selfontwikkeling en vir die vorming van identiteit.20
Nabootsing is ’n fundamentele proses waardeur kinders nuwe vaardighede en gedrag aanleer. Dit is noodsaaklik vir die ontwikkeling van motoriese vaardighede, taal en sosiale gedrag. Meltzoff en Moore21 merk op dat selfs babas van slegs ’n paar uur oud gesigsuitdrukkings kan naboots, wat die aangebore aard van hierdie vermoë onderstreep.
Spieëlneurone speel ook ’n belangrike rol in die ontwikkeling van empatie en emosionele begrip. Hierdie weerspieëling help kinders om die emosies van ander te verstaan en daarop te reageer, wat emosionele en sosiale intelligensie bevorder.22 Dit stel kinders in staat om sosiaal aanvaarbare gedrag te verstaan en na te boots, wat essensieel is vir hulle integrasie in sosiale groepe en die ontwikkeling van ’n gevoel van behoort en identiteit.23
Die rol van spieëlneurone strek egter verder; dit sluit ook godsdienstige praktyke in. Kinders leer geloofsgewoontes en godsdienstige gedrag van hulle ouers en ander invloedryke rolspelers in hulle lewens aan. Spieëlneurone stel kinders in staat om hierdie praktyke waar te neem, na te boots en te internaliseer. Aktiwiteite soos gebed, bywoning van eredienste en die uitvoer van rituele, word dikwels deur waarneming aangeleer. Kinders kyk hoe hulle ouers aan hierdie aktiwiteite deelneem, en deur die aktivering van spieëlneurone begin hulle hierdie gedrag naboots en internaliseer. Hierdie proses behels ook die begrip van die onderliggende betekenisse agter hierdie praktyke.24 Namate kinders hierdie godsdienstige gedrag naboots begin die internalisering daarvan en word dit ook ’n integrale deel van hulle identiteit.
Spieëlneurone dra ook by tot die geestelike verbintenis wat kinders met hulle geloof ontwikkel. Deur byvoorbeeld hulle ouers se emosionele reaksies tydens godsdienstige praktyke waar te neem, soos ’n gevoel van vrede tydens gebed of vreugde tydens ’n godsdienstige viering, kan kinders hierdie emosies weerspieël en begin om soortgelyke gevoelens aan hierdie praktyke te koppel. Hierdie weerspieëling bevorder ’n persoonlike verbintenis tot geloof en versterk die kind se emosionele betrokkenheid by godsdienstige praktyke.25
Deur hulle ouers se houdings en gedrag waar te neem, internaliseer kinders die morele en etiese leerstellings van hulle geloof. Hierdie proses is essensieel vir die oordrag van godsdienstige waardes oor generasies heen, wat die bewaring en voortlewing van kulturele en godsdienstige erfenis verseker.26
Gevolglik speel spieëlneurone ’n fundamentele rol in die geestelike ontwikkeling van kinders. Ouers se invloed sluit die aanleer van geloofsgewoontes in, waardeur kinders in staat gestel word om godsdienstige praktyke waar te neem, na te boots en te internaliseer. Hierin word die noodsaaklike rol wat ouers speel as voorbeelde van die geloof wat hulle self uitleef, beklemtoon.
Geloofsontwikkeling is primêr ouers se verantwoordelikheid
Dit is duidelik dat dit die primêre taak van ouers is om hulle kinders in die geloof op te voed. Gehoorsame dissipels moet dissipels maak. Tog sien ons vandag die tendens in die kerk dat dit nie gebeur nie.
Brian Haynes27 identifiseer verskeie redes waarom ouers dikwels nalaat om geloofsvorming as hulle verantwoordelikheid te aanvaar. Hy noem byvoorbeeld dat ouers verkeerdelik glo dat die geestelike opvoeding en dissiplinering van hulle kinders die taak van professionele mense is. Die optrede van baie Christen-ouers weerspieël die oortuiging dat kinders se geestelike groei hoofsaaklik deur opgeleide spesialiste hanteer moet word. Hierdie wanopvatting oor ouers se rol lei tot die verwagting dat die kerk hierdie verantwoordelikheid namens hulle oorneem.
Haynes wys verder daarop dat ouers dikwels onseker is hoe om as primêre geloofsbeïnvloeders op te tree. Hulle besef nie dat dit wel hulle taak is nie en word ook nie toegerus om hulle kinders te leer hoe om deur die lewe, dood en opstanding van Jesus met God versoen te leef nie.
In die genoemde verslag oor ouertoerusting word die volgende vraag gestel: ‘Hoe help ons ouers om hulle deurslaggewende rol in die geloofsontwikkeling van die gedoopte kind meer effektief te vervul?’ Die volgende realiteite maak hierdie vraag dringend:
- ‘Dat menige leraar saamstem dat sommige (baie?) ouers nie eens altyd ’n benaderde antwoord kan gee oor waarom hulle hul kinders ten doop gebring het nie.
- Wat dan nog van ’n ouerlike nabyheid – verduideliking oor wat die doop beteken.
- Hoe deel ouers hulle geloof – hoe weet ons kinders dat ons as mense wat Jesus volg met God rekening hou in alles wat ons is en doen.
- Hoe neem ouers deel aan die ontvouing van beter verstaan van die Skrif en belydenis om spontaan en doelbewus deel te neem aan geloofsontwikkeling sodat daar by elke volgende roetemerker op die pad van die lewe met nog groter insig bely word dat ons aan God behoort.’28
In die Israelitiese tradisie was ouers voortdurend besig om oor die Here se woorde en werke met hulle kinders te praat. Hierdie beginsel is steeds vandag van toepassing. Die groot genade van God se openbaring in sy Woord, en sy verlossing deur Jesus Christus word op ’n heerlike wyse deur die hele Bybel geopenbaar. Ouers behoort daarom met ’n opregte begeerte hulle kinders daaroor te onderrig – formeel en informeel.
Ouers moet gesprekke inisieer wat geloofsvorming bevorder en hierdie tyd optimaal gebruik om met hulle kinders oor die Here te praat. Joel Beeke29 beklemtoon dat die Bybel wys hoe God deur geslagte heen aanbid word. Ons is as verskillende geslagte saam in ’n huis.30 Hy argumenteer ook dat, aangesien Paulus31 verduidelik dat die kinders van gelowiges geheilig is vir God, ons as gelowiges van verskillende ouderdomme saam moet aanbid. Geloof is nie ’n persoonlike saak of private saak nie. Die Bybel is baie duidelik daaroor dat geloof in gemeenskap met medegelowiges uitgeleef word. Dit begin by die huis waar kinders hulle ouers se geloof in aksie kan sien.32 Hierdie beginsels vorm dikwels die basis van wat as ‘family ministry’ bekend staan.
Gemeentes kan baat vind by ’n kultuur33 waar ouers as primêre bemiddelaars in die geloofsontwikkeling van hulle kinders toegerus word, en waar gesinne as die primêre hermeneutiese ruimtes vir geloofsontwikkeling dien.34
Volgens Charles M. Sell sluit family ministry kreatiewe pogings in om ouers (of enkelouers, grootouers of voogde) te help om hulle rol te vervul. Dit behels veral ’n jeugbediening wat op die onderbou van toekomstige vaders en moeders fokus om beter te verstaan hoe om hulle kinders eendag toe te rus om Jesus na te volg. Sell noem dit ‘Christian education for or of the home’ sowel as ‘Christian education in the home or family nurture’.35 Albei is van kardinale belang en moet ontwikkel word. Vervolgens word daar meer op die terrein van die tweede opvoedingsmetode, naamlik ‘Christian education in the home or family nurture’ gefokus:
- Maak nuwe erns met huwelikskategese.
- By doopkategese: in die gees van die bedoeling van die didache as begeleiding op die weg (sien die verslag).
- ‘Jaarlikse opleiding/toerusting/voorbereiding’ in geloofsdeling aan ouers gee. In hierdie saamloop met ouers leer ons as volgelinge van Jesus hoe ons rekenskap gee oor die hoop wat in ons is.36
- Ontwikkel dissipelskap en dissipelmaking binne ouerhuise – ons is op reis as leerlinge van die Christus.
- Laat ouers en die gemeente gesamentlik deelneem aan geloofsontwikkeling. Ouers speel egter die primêre rol.37
Die res van hierdie artikel fokus op praktiese toerusting aan ouers vir geloofsvorming deur gesprekke met ons kinders.38 Die aanbieding word in twee kategorieë verdeel, naamlik korporatiewe aanbidding (huisgodsdiens) en persoonlike (spontane) gesprekke.
Korporatiewe aanbidding (huisgodsdiens39)
’n Kritieke aspek van ouers se verantwoordelikheid om hulle geloof uit te leef en met hulle kinders oor die Here te praat, is om huisgodsdiens deel van die gesin se ‘DNS’ te maak. Voordat ons Joel Beeke40 se raamwerk vir huisgodsdiens ondersoek, is dit nuttig om die algemene besware en uitdagings rakende huisgodsdiens te oorweeg wat hy geïdentifiseer het en wat gelowiges dikwels opper:
- Daar is geen uitdruklike opdrag in die Bybel nie.
- Ons gesin het nie tyd nie of daar is nie ’n tyd wat almal pas nie.
- Ons gesin is te divers; die ouderdomsgaping is te groot.
- Ek is nie goed daarmee om my gesin te lei nie.
- Sommige lede van die gesin sal nie deelneem nie.
Hierdie besware stem ooreen met dié wat ons in ons eie konteks van gelowige ouers aanhoor. Brian Haynes41 dui aan dat slegs 17% van ouers gereeld huisgodsdiens saam met hulle kinders hou. Hierdie statistiek weerspieël nie net die beperkte geloofsvorming wat by kinders plaasvind nie, maar dui ook op die gebrek aan vrymoedigheid by ouers of selfs ’n wanbegrip oor hulle rol in hulle kinders se geloofsreis.
Dit is daarom noodsaaklik dat ouers voldoende toegerus en begelei word om hulle geloof te kan deel.42 Mark Holmen haal sy mentor, Roland Martinson, aan en beklemtoon dat die kerk se bediening in hierdie verband op die toerusting van ouers moet fokus. Volgens Martinson behoort ouers by die kerk toegerus te word en dan teruggestuur word na die missionale ruimte van hulle huise om dissipels van hulle kinders te maak.43
Brian Haynes stel verder voor dat gemeentes ten minste een Sondag per jaar aan die toerusting van ouers wy om hulle kinders te begelei.44 Hierdie fokus weerspieël die kerk se primêre roeping: om mense – en by implikasie ouers – dissipels te maak, sodat hulle op hul beurt ook dissipels van hulle kinders kan maak.
Diversiteit
Gesinslede verskil in terme van kognitiewe vermoëns, emosionele funksionering en geestelike ontwikkeling. Tog bly dit moontlik dat almal in die gesin kan baat vind by geloofspraktyke binne gesinsverband, mits die volwassene wat dit koördineer sensitief is vir hierdie verskille en toegerus is om dit te hanteer. Selfs al verstaan jonger gesinslede nie alles wat gesê word volkome nie, is dit belangrik dat hulle sien hoe hulle ouers hulle eie geloof uitleef.
Kinders leer deur waarneming. Hulle neem byvoorbeeld die gedissiplineerde roetine, die liggaamshouding of die eerbiedige stemtoon van die ouers aan wanneer hule die Here aanbid. Alle vaardighede, insluitend geloofspraktyke, word deur nabootsing aangeleer.
Aangesien kinders nie altyd die vermoë het om abstrakte en gekompliseerde terme te verstaan nie, behoort ouers woorde en begrippe op ’n konkrete vlak aan hulle te verduidelik. Ouers kan ook verseker dat elke gesinslid ten minste een kernkonsep verstaan tydens huisgodsdiens. Identifiseer karakters, gebeure en woorde of begrippe in die teksgedeelte wat vir kinders moeilik verstaanbaar kan wees en verduidelik dit op ’n praktiese wyse wat in hulle konteks sin maak. Dianna Wiebe45 stel voor dat Bybelverhale nie net deur visuele uitbeelding (soos tekeninge) verduidelik word nie, maar dat ouers die chronologie van die gebeure beklemtoon en daardie tekeninge op ’n tydlyn te plaas sodat kinders die groter verhaal van die Bybel beter begryp.
Na afloop van die huisgodsdiens kan ouers vir kinders vra om die teksgedeelte in hulle eie woorde oor te vertel. Moedig hulle aan om vrae te vra oor wat hulle nie verstaan nie, en verduidelik dit dan aan hulle.
Alle gesinslede kan deelneem aan huisgodsdiens, soos deur saam te sing, te bid, of eenvoudige take te verrig – ongeag hulle ouderdom. Kinders, en veral tieners neem dikwels makliker deel aan huisgodsdiens wanneer hulle die waarde daarvan insien. Voordat ouers met huisgodsdiens as geloofspraktyk begin, is dit belangrik dat hulle die redes daarvoor op ’n ouderdomstoepaslike wyse aan die kinders kommunikeer. Ouers kan verduidelik dat Christus die sentrale rol in die gesin vervul. Huisgodsdiens word beoefen om God te verheerlik, om Hom beter te leer ken, en om ’n lewende verhouding met Hom te bou.
Beplanning
Bid vir die gesin se huisgodsdiens en dat God die ouer(s) insig en onderskeidingsvermoë gee in die proses. Beplan vooruit hoe die gesin se gesamentlike aanbidding realisties en effektief kan plaasvind.
Neem die beskikbare tyd van die gesin in ag
Huisgodsdiens behoort twee aspekte te balanseer: (1) die belangrikheid van geloof en dat ons as Christene ons geloofsgroei as prioriteit beskou; en (2) die hoë verwagtings en tydsdruk van die hedendaagse samelewing. Gesinne kan geneig wees tot uiterstes. Sommige mag ’n idealistiese benadering hê, waar daar verwag word dat die gesin byvoorbeeld ’n halfuur in die oggend en ’n halfuur in die aand beskikbaar sal hê. Ander kan verval in minimalisme, waar huisgodsdiens beperk word tot vyf minute per week weens ander minder belangrike aktiwiteite.
Jesus se woorde aan Marta dat Maria die beste deel gekies het – om by sy voete te leer – beklemtoon die waarde van tyd saam met Hom en dat dit nie weggeneem sal word nie.46 ’n Praktiese oplossing is om weekliks as gesin tydsgleuwe te beplan wat realisties en haalbaar is.
Kies tye wat geleë is vir al die gesinslede. Skryf daardie tyd in die gesin se dagboek en beskerm daardie tyd teen afleidings. Gesinne behoort nie daardie tyd oor te slaan nie – wat baie maklik ’n gewoonte kan word. Maak seker dat almal bewus is van die tyd en dat alle take klaargemaak is of onderbreek word.
Beplan korter teksgedeeltes of oordenkings vir dae met minder beskikbare tyd.
Dit is belangrik dat alle bronne of materiaal wat benodig gaan word, maklik bereikbaar is. Sorg dat benodigdhede soos Bybels, dagboeke, gebedsboeke, sangboeke of selfs inkleurboeke beskikbaar is. Maak ook vooraf seker dat elke lid van die gesin wat al kan lees, dit wat gelees word saam kan volg.
Kies ’n plek waar daar min afleidings is. Verseker dat kinders se aandag nie meer op ander aktiwiteite gevestig is nie. Dit kan gebeur dat hulle gedagtes verdeeld is. Verwyder alle moontlike afleidings en skep ’n oomblik van stilte om hulle gedagtes op die huisgodsdiens te vestig.
Maak deurlopend oogkontak met kinders om seker te maak dat hulle aandag nog by die huisgodsdiens is. Ouers moet ook gefokus bly, sodat kinders besef dat gesinsaanbidding die belangrikste aktiwiteit van die dag is.
Huisgodsdiens (Bybellees, oordenking, aktiwiteit sang en gebed) moet bondig en eenvoudig wees. Indien dit te lank duur, verloor kinders hulle konsentrasie. Mik vir ’n tydsduur van 10 tot 20 minute, afhangend van die jongste lid se ouderdom.
Begin by die begin
Doen huisgodsdiens van vroeg af saam met kinders. Leer jong kinders basiese Bybelverhale, die boeke van die Bybel, hoe om Bybelverse op te soek en hoe om sangboekies te gebruik.
Volg ’n leesplan
’n Gesin kan dalk saam deur ’n Bybelboek werk, die week se kategese-onderwerpe saam lees, of enige ander uitgewerkte leesplan volg. Dit help om struktuur en selfdissipline te bevorder. Neem gerus ook die volgende in ag:
- Lees uit die Ou sowel as die Nuwe Testament.
- Lees opeenvolgende teksgedeeltes wat by mekaar hoort, byvoorbeeld die lewe van Josef, die boek Miga of die sewe wonderwerke van Jesus op die sabbat. Wanneer gedeeltes nie in volgorde gelees word nie, is dit baie moeiliker vir die kinders om ’n deeglike begrip te vorm. Vra gerus ’n kerkleier se hulp indien jy onseker is of op soek is na ’n nuwe reeks om te behandel.
- Neem spesiale dae en gebeure op die kerk- en gesinskalender in ag (bv. Lydensweek, Sondae, nagmaal, vakansie, siekte, kommer en benoudheid, sterftes).
- Lees die teksgedeelte saam.
Betrek die hele gesin. Laat elkeen hulle eie Bybel gebruik en verduidelik onbekende woorde, begrippe en ander konsepte.
Verduidelik die teksgedeelte aan die kinders en vra vrae. Die doel hiervan is om vas te stel hoe hulle die teksgedeelte verstaan. Vir ouer kinders kan gevra word hoe hulle die teks op hulle lewe sou toepas.
Mediteer oor en memoriseer teksgedeeltes
Brian Cosby47 beklemtoon dat vreugde in die Here se Woord ons moet aanspoor om dit te memoriseer en daagliks daaroor na te dink. Verduidelik aan kinders waarom dit belangrik is om teksverse te memoriseer.
Pas dit toe
Verduidelik aan die kinders hoe om die Skrifgedeeltes toe te pas deur liefdevol daarop te wys wat die Here van ons in spesifieke situasies vra waarin die kinders hulle dalk bevind het en dat die beginsel ‘korrek’ verstaan word.
Dit is baie belangrik dat ouers doen wat die Woord sê. Kinders kom vinnig agter wanneer iemand nie opreg is nie. Wanneer ouers dalk ook verkeerd opgetree het, moet dit nie weggeredeneer of goedgepraat word nie. Verduidelik aan kinders dat ouers ook sonde doen en daarvoor vergifnis vra. Maak hulle bewus van hoe jy of julle as ouer(s) dit op ’n geloofsvolwasse manier hanteer.
Leer kinders psalms, gesange en geestelike liedere
Daar is groot waarde in sang. Liedere is ’n kragtige wyse om Bybelwaarhede en selfs leerstellings aan kinders oor te dra. Leer jou kinders die psalms, want daar is groot waarde in dogma wat op poëtiese wyse daardeur uitgedruk word. Die persoonlike worstelings van die digter en gelowiges met die Here word ook deur die psalms verwoord; dus vind al die menslike emosies en belewenisse uitdrukking daarin wat deur die sing daarvan persoonlik toegeëien word. Sommige psalms is lofliedere en ander is weer skuldbelydenisse. Dit moet duidelik sigbaar en hoorbaar wees deur die manier waarop dit gesing word.
Volharding in huisgodsdiens
Dit is beter om daagliks korter tye aan huisgodsdiens te wy as om slegs een lang sessie per week te hê. Selfs wanneer daar konflik tussen lede van die huisgesin is, moet daar maar steeds volhard word. Bid eers saam oor die oplossing van die konflik en besef dat julle daar is om saam na die Woord van die Here te luister.
Gebedsriglyne:
- Wees kort en bondig. Moenie gebed gebruik om verder te ‘preek’ en te leer nie.
- Gebruik eenvoudig en verstaanbare woorde. Dit is nie nodig om hoogdrawend te wees nie.
- Wees direk. Bid vir spesifieke dinge en mense op die naam.
- Wees natuurlik. Moenie ’n onnatuurlike stemtoon en houding aanneem nie.
- Gebruik aanroeping, aanbidding en afhanklikheid afwisselend:
- noem byvoorbeeld twee eienskappe van God (bv. heilig, almagtig)
- bely gesinsondes (bv. jaloesie, bakleiery deur kinders).
- Danksegging as gesin. Dank die Here vir groot en klein seëninge in die gesin se lewe.
- Bid vir tydelike en geestelike dinge – nie net vir die daaglikse brood nie, maar ook vir die heiliging van die Here se Naam, die koms van sy koninkryk, die wil van die Here, die verlossing van die bose of vir vergifnis.
- Maak beurte om te bid. Dit is belangrik dat elkeen die geleentheid kry om te bid. Dit is nie net ‘oefening’ vir die jonger gelowiges nie, maar dit is ook belangrik dat hulle uitdrukking kan gee van wat in hulle harte leef.
Ander hulpbronne
Ouers hoef nie bekommerd te wees indien hulle nie oor uitgebreide kennis van die Woord of vaardighede beskik om ’n gesin in huisgodsdiens te lei nie. Een van die groot voorregte van ons tyd is die oorvloed kennis en hulpbronne wat maklik toeganklik is.
In ons daaglikse lewe spandeer ons baie tyd en energie op sosiale media, kommunikasie, nuus, musiek, Youtube-video’s en meer. Hierdie aktiwiteite vind dikwels plaas tydens alledaagse take, byvoorbeeld voor skool, tydens etes, tydens wasgoed of skottelgoed doen, terwyl ons ry of draf, of selfs net voor slaaptyd. Ons vind maniere om tegnologie in ons daaglikse roetine van werk en ontspanning in te pas. Net so kan tegnologie benut word om ons Godskennis en aanbiddingsvaardighede te verdiep. Daar is talle aanlynbronne wat tot gesinsgodsdiens en geloofsvorming kan bydra.48
Gebruik bronne oordeelskundig49
Alle bronne tot die mens se beskikking is nie noodwendig betroubaar nie; daar is ook baie dwaalleer. Wanneer daar dus van internetbronne (of ander soort bronne) gebruik gemaak word, soek dié wat met ’n erkende kerkgemeenskap of denominasie geassosieer word. Dit gee ’n aanduiding van die betroubaarheid van die inhoud. Indien die denominasie onbekend is, soek na geloofsbelydenisse of ’n geloofsverklaring [statement of faith] wat iewers op hulle webtuiste sal verskyn.
Gebruik ’n soekenjin om meer oor die outeur en die denominasie se posisie in die teologiese landskap te wete te kom.
Vanweë die oorvloed waninformasie wat beskikbaar is, is dit verstandig om jou kerkleier of ’n kundige te raadpleeg. Hulle kan spesifieke bronne evalueer en ander betroubare hulpbronne aanbeveel.
Verloop
Huisgodsdiens behoort soos volg te verloop: gebruik ’n oomblik om in die regte stemming te kom; sing geestelike liedere; lees saam uit die Bybel; gebruik hulpbronne om te help met die verklarings van onverstaanbare inligting; vra vrae en voer gesprekke oor die gedeelte; verduidelik aan kinders hoe die gedeelte van toepassing op elkeen se lewe is; doen ’n gebed.
Persoonlike gesprekke (spontaan)
Om as gesinne saam oor die Here en sy werk en woord te gesels, behoort nie net tydens huisgodsdiens te gebeur nie. Spontane en natuurlike geloofsgesprekke soos die opdrag in Deuteronomium,50 moet op ’n deurlopende basis gevoer te word: wanneer julle tuis; is wanneer julle op reis is; wanneer iemand siek is; voor slaaptyd; tydens ete; wanneer die gesin met vakansie is; asook geskeduleerde persoonlike afsprake met jou kinders.
Holmen51 gebruik die baie treffende akroniem, ‘TRAIN’ (oefen), om geloofsgesprekke te beskryf wat ouers met hul kinders behoort te hê. Die letters van die akroniem verteenwoordig die volgende konsepte:
T-Time; R-Repetition; A-Acceptance; I-Intentionality; N-Never Ending
Tydens die gespreksgeleenthede behoort die gesprekke spontaan te verloop. Gee behoorlik aandag aan kinders se kwellings, luister deeglik na hulle vrae en help hulle om hulle gedagtes en vrae verstaanbaar te formuleer voordat ’n antwoord gegee word.
Wees sensitief vir die bespreking van aktuele sake in kinders se lewe. Gebruik ook geloofsgesprekke om met jou kinders oor vraagstukke of wêreldgebeure te praat. Hier kan dit ook goed wees as gemeentes ouers meer toerus om sinvol met hulle kinders oor meer komplekse geloofskwessies (bv. waarom gebeur slegte goed met goeie mense) en ook oor aktuele sake (bv. oorlog, politiek, aborsie, seksualiteit) te gesels.
Herhaling van hierdie waarhede is nodig – selfs al weet jy dat jou kinders reeds daaroor ingelig is. Aanvaar mekaar in die proses. Kinders moet ouers se gesag wat hulle van die Here ontvang het,52 aanvaar, maar ouers moet ook kinders met hulle uniekheid en nuuskierigheid aanvaar, selfs oor dinge waaroor ouers nog nooit nagedink het nie, of waarvoor hulle geen antwoord het nie. Ouers kan eerlik wees indien hulle nie antwoorde het nie en voorstel dat daar saam na die antwoord gesoek word.
Ouers behoort doelgerig met hulle kinders se lewens te assosieer om te verhoed dat hulle verhouding skade ly. Dit kan baie maklik gebeur dat kinders hulle inligting elders gaan soek. Daarom is dit so belangrik dat ouers doelbewus werk aan hulle verhouding met hulle kinders. Verduidelik aan hulle hoe die Here in jou eie lewe besig is deur versorging, geestelike seën, beskerming, beproewing of op enige ander manier.
Hierdie gesprekke word ook by kinders aangewakker. Holmen53 gee praktiese aktiwiteite aan die einde van sy eerste hoofstuk in die boek Family makeover om aan te dui wat gesinne kan doen om hulle gesprekke meer op die geestelike te rig:
- Die eerste aktiwiteit is om sekere Bybeltekste in die huis54 op te sit. Hierdie teksverse is nie net bedoel om gememoriseer te word nie, maar ook om gesprekke te ontlok. Die verse kan ook gereeld met nuwe verse vervang word.
- Die volgende aktiwiteit wat genoem word, is dat plakkers met die letters WWJHMD (What would Jesus have me do [Wat wil Jesus hê moet ek doen]) op strategiese plekke geplak word soos by die rekenaar, televisie, yskas of kamer met die bedoeling dat dit die gedagtes prikkel of verkieslik ’n gesprek tussen ouers en kinders ontlok oor hoe sekere toestelle of kamers tot eer van die Here gebruik word of nie. Die plakkers kan ook gereeld geskuif word na nuwe plekke.
- Die laaste aktiwiteit wat gegee word, is om ’n gesinsmissieverklaring te skryf. Dink na oor wat die ononderhandelbare waardes van jou gesin is. Skryf ’n stelling wat by hierdie waardes pas en maak ’n banier of plakkaat wat op ’n sigbare plek in die huis opgesit word. Hieruit kan daar ook deurlopend gesprekke voortvloei waar die gesin hulleself deurlopend evalueer na aanleiding van hulle eie verklaring.
Brian Haynes55 gee ook in hierdie verband advies oor hoe daar effektief in ’n gesin met die kinders oor geloof gepraat word. Spesifieke tye word beplan vir Skrifgebaseerde gesprekke. Na afloop van sekere gebeure, waar ’n mens diep bewus is van die werk van die Here, is die ideale tyd om met jou kinders daaroor te praat. Sulke tye is byvoorbeeld die bewustheid van versorging uit die hand van die Here (bv. tydens ete) of dat alles aan die Here behoort (bv. tydens die aankoop van items) of dalk gesprekke oor lewensduur (bv. tydens ’n geboorte of sterfte).
Dit is ook baie belangrik dat ouers nie net met kinders hieroor praat nie, maar dat hulle hul geloof demonstreer in hoe hulle elke saak in die geloof hanteer.56 Kinders sien hoe hulle ouers hulle geloof uitleef, en hulle volg dit na.57
Kennis is iets wat aangeleer kan word, maar geloof word uitgebeeld en oorgedra. Dit word deur kinders waargeneem. Alles wat ouers daagliks doen, gee aan hulle die geleentheid om oor geloof te praat of om kinders in dissipelskap te lei in hulle navolging van Jesus – die Here van elke gesin.58 Dit gaan nie daaroor om al die antwoorde te hê nie, maar om die lewenswyse en die gesprekke te hê. Kinders, as dissipels, moet ouers se Christelike lewenswandel as voorbeeld kan navolg.59
Samevattend
Die Here gee aan ons kinders en die roeping om hulle as gedooptes60 op hulle geloofsreis te begelei. Dit is alle ouers se roeping en voorreg. Alle ouers is ook verantwoordelik voor die Here om hierdie roeping na te kom. In hierdie begeleiding op kinders se lewensreis moet ouers die beste van elke geleentheid maak. Die gemeente is weer verantwoordelik om ouers hiervoor toe te rus en erns daarmee te maak deur ’n doelbewuste bediening aan ouers. Indien daar ware erns deur ouers gemaak word om kinders op ’n georganieseerde en spontane wyse alles te leer wat die Here beveel het, behoort kinders na belydenisaflegging steeds erns met hulle geloof te maak.
Erkennings
Erkenning word gegee aan Thomas Dreyer vir die voorsiening van hulpbronne, en aan Sonnika Nel vir proeflees.
Mededingende belange
Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenisse is wat die skryf van hierdie artikel op onvanpaste wyse kon beïvloed nie.
Outeursbydrae
C.B.R. is die enigste outeur van hierdie navorsingsartikel.
Etiese oorwegings
Aansoek vir volle etiese goedkeuring is by die Universiteit van Pretoria se Navorsingskomitee en Navorsing Etiek komitee ingedien en etiese toestemming is op 1 Desember 2022 ontvang. Die etiese goedkeuringsnommer is T111/22.
Befondsingsinligting
Die outeur het geen finansiële ondersteuning vir die navorsing, outeurskap en/of publikasie van hierdie artikel ontvang nie.
Databeskikbaarheidsverklaring
Die data wat die bevindinge van hierdie studie ondersteun, is openlik beskikbaar in Universiteit van Pretoria navorsingsdata by https://doi.org/10.25403/UPresearchdata.28182179.v1.
Vrywaring
Die menings en sienings wat in hierdie artikel meegedeel word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde instelling, befondser, agentskap of dié van die uitgewer nie. Die outeur is verantwoordelik vir hierdie artikel se inhoud.
Literatuurverwysings
Agenda vir die 18de vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, 2023, 34.
Armstrong, R.S., 1987, Faithful Witnesses: Partcipant’s book, The Geneva Press, Philadelphia. Vertaal deur Marlèse Nel & Malan Nel, 1993, Getroue Getuies: Deelnemers werkboek, Kitskopie, Pretoria.
Avenant, J.C., Nel, M. & Jordaan, J.C., 2021, ‘Die rol van die ouerhuis in die intergenerasionele geloofsvorming van die jeug in belang van ’n geïntegreerde jeugbediening’, Verbum et Ecclesia 42(1), a2250. https://doi.org/10.4102/ve.v42i1.2250
Barna, G. 2003, Transforming Children Into Spiritual Champions (Regal Books) Ventura, CA.
Beeke, J.R. 2009, Family Worship (Reformation Heritage Books) Grand Rapids, Michigan.
Bybel, 1983/92, (Kaapstad, Suid-Afrika: Bybelgenootskap van Suid-Afrika, 1998).
Cosby, B.H. 2012, Giving Up Gimmicks: Reclaiming Youth Ministry from an Entertainment Culture (P&R Publishing) Philipsburg, NJ.
Decety, J. en Jackson, P.L., 2004, The functional architecture of human empathy, Behavioral and Cognitive Neuroscience Reviews, 3(2), 71–100.
DeVries, M., 2004, Family-based youth ministry, 2nd edn., InterVarsity, Downers Grove, IL.
Gallese, V., 2001. The ‘shared manifold’ hypothesis. From mirror neurons to empathy, Journal of Consciousness Studies, 8(5–7), 33–50.
Haynes, B. 2009, Shift What it takes to finally reach families today (Group Pub. Incorporated) Loveland, CO.
Holmen, M. 2005, Faith Begins at Home: The Family Makeover with Christ at the Center (Regal Books) Ventura, CA.
Iacoboni, M., 2009. Mirroring people: The science of empathy and how we connect with others, Farrar, Straus and Giroux.
Marshall, P.J. & Meltzoff, A.N. 2014, Neural mirroring mechanisms and imitation in human infants. Philosophical Transactions of the Royal Society B: Biological Sciences, 369(1644). https://doi.org/10.1098/rstb.2013.0620
Matthee, N., 2023, UP Navorsingsprojek: Geloofsontwikkeling (Kategetiek) Data. Ongepubliseerde verslag. https://doi.org/10.25403/UPresearchdata.28182179.v1
Meltzoff, A.N. & Decety, J., 2003, What imitation tells us about social cognition: A rapprochement between developmental psychology and cognitive neuroscience, Philosophical Transactions of the Royal Society B: Biological Sciences, 358(1431), 491–500.
Meltzoff, A.N. & Moore, M.K., 1997, Explaining facial imitation: A theoretical model, Early Development and Parenting, 6(3–4), 179–192.
Nel, M., 2018, Youth Ministry: An inclusive missional approach, in HTS Religion & Society Series Volume 1, pp. i–420, AOSIS, Cape Town.
Rizzolatti, G. en Craighero, L., 2004, The mirror-neuron system, Annual Review of Neuroscience, 27, 169–192.
Santon, J.B., 2021, Intergenerational Sabbath Communities, in Seibel, C., (ed.) 2021, Engage All Generations. A Strategic Toolkit for Creating Intergenerational Faith Communities, Abilene Christian University Press, Abilene, TX, 29–38.
Seibel, C., (ed.) 2021, Engage All Generations. A Strategic Toolkit for Creating Intergenerational Faith Communities, Abilene Christian University Press, Abilene, TX.
Seibel, C.L & Nel, M., 2010, ‘Generation X, intergenerational justice and the renewal of the traditioning process’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 66(2), Art. #876, 7 pages. https://doi.org/10.4102/hts.v66i2.876
Sell, C.M., 1981, Family Ministry, Zondervan, Grand Rapids, MI.
Van Kuilenberg, P. 2020, Distortion, praise and authenticity: The power of mirroring, AANZPA Journal, 29, Besoek 20 Januarie 2024, from https://www.grapevinestudies.com/blog/3-tips-for-teaching-with-timelines.
Voetnotas
1. Hierdie artikel is die agste in ’n reeks van 10 in hierdie Supplementum. Soos die ander is ook hierdie artikel ’n teologiese refleksie op ’n konsep wat uit die analise van 123 kwalitatiewe onderhoude kom. Die onderhoude was deel van ’n empiriese navorsingsprojek oor geloofsontwikkeling/kategese waaraan vier Afrikaanssprekende denominasies binne die Reformatoriese tradisie deelgeneem het.
2. Matthee (2023:4, 6, 7, 10, 11,14).
3. Cosby (2012:17).
4. Nel (2018:85–86; vgl. ook Avenant se MTh en PhD navorsing in hierdie verband in veral Avenant, Nel & Jordaan 2021).
5. Deuteronomium 6:4–5 (1983/1992-vertaling).
6. Josua 24:15 (1983/1992-vertaling).
7. Toe sê Josua vir die hele volk: ‘So sê die Here die God van Israel’ (Jos 24:2 – 1983/1992-vertaling).
8. Eksodus 12:24–27 (1983/1992-vertaling).
9. Nel (2018:86–87).
10. Nel (2018:59–60).
11. Vergelyk veral artikel 4 in hierdie bundel.
12. Holmen (2005:31).
13. 1 Timoteus 4:8 (1983/1992-vertaling).
14. Barna (2003:81; vgl. ook Seibel & Nel 2010).
15. Nel (2018:157).
16. Agenda van die 18de Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (2023:34). Vergelyk ook Avenant, Nel en Jordaan (2021); DeVries (2004:176); Nel (2018:82–89, 241–242).
17. Rizzolatti en Craighero (2004:169–192).
18. Marshall & Meltzoff (2014:1–11).
19. Iacoboni (2009:49–56).
20. Van Kuilenberg (2020:29).
21. Meltzoff en Moore (1997:179–192).
22. Gallese (2001:33–50).
23. Decety en Jackson (2004:71–100).
24. Vergelyk Iacoboni (2009).
25. Gallese (2001:33–50).
26. Meltzoff en Decety (2003:491–500).
27. Haynes (2009:29).
28. Agenda, Algemene Sinode (2023:34–35).
29. Beeke (2009:7–15).
30. Vergelyk veral Santos se bydrae in Seibel (ed. 2021:29–38).
31. 1 Korintiërs 7:14 (1983/1992-vertaling).
32. Sien ook Psalm 1:1–2 asook Handelinge 2:46 (1983/1992-vertaling).
33. Vergelyk Efesiërs 4:12 (1983/1992-vertaling).
34. Nel (2018:82–88).
35. Sell (1981:13,136–229).
36. Vergelyk 1 Petrus 3:14–16 (1983/92-Vertaling).
37. Agenda, Algemene Sinode (2023:34–35).
38. Vir die belangrike rol van ander begeleiers en hulle toerusting, vergelyk artikel 9 van hierdie bundel.
39. Huisgodsdiens verwys na intensionele geloofsbeoefening deur ’n huisgesin. Dit kan verskillende vorms aanneem of selfs ’n ander benaming hê.
40. Beeke (2009:35–39).
41. Haynes (2009:38).
42. Vergelyk Armstrong (1987) vertaal deur Marlèse Nel & Malan Nel (1993:44–53).
43. Holmen (2005:74).
44. Haynes (2009:45).
45. www.grapevinestudies.com.
46. Lukas 10:41–42 (1983/1992-vertaling).
47. Cosby (2012:41).
48. Oorweeg die volgende: Toepe: Youversion; Bible Society of South Africa; Literal Word; e-Sword; Olive Tree: The Bible Study AppWebblaaie: Ligonier Ministries; Desiring God; Gospel Coalition;Elektroniese sangboektoep, byvoorbeeld Hymnbook; Videos: Bible Project.
49. ‘Die mense daar was ontvankliker as dié in Tessalonika. Hulle het met groot belangstelling na die woord geluister en elke dag die Skrif ondersoek om te sien of dit is soos Paulus sê’ (Hand. 17:11 – 1983/1992-vertaling).
50. Deuteronomium 6:7 (1983/1992-vertaling).
51. Holmen (2005:74).
52. Kolossense 3:20–21 (1983/1992-vertaling).
53. Holmen (2005:30).
54. Motorhuis: Josua 24:15, Jakobus 1:17, Spreuke 24:3–4, Matteus 4:14–16; Voordeur Psalm 121:8; Sitkamer Johannes 13:24–25; Studeerkamer Spreuke 9:9; Kombuis 1 Timoteus 6:8, Mateus 6:25, Johannes 6:27; Eetkamer Sejanja 3:20; Slaapkamers Hebreërs 10:21–22, Psalm 4:8; Gastekamer Romans 15:7; Terug na die sitkamer Josua 24:14–15.
55. Haynes (2009:67).
56. ‘Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie’ (1 Tess 4:13b – 1983/1992-vertaling).
57. Vergelyk Paulus se woorde aan Timoteus in 2 Timoteus 1:5: ‘Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is.’ Sien ook verder 2 Timoteus 1:2: ‘Aan Timoteus, my geliefde seun’, en 2 Timoteus 3:10: ‘Maar jy het my nagevolg in leer, lewenswandel en lewensdoel, in geloof, geduld, liefde en volharding.’
58. Vergelyk Matteus 28:19 (1983/1992-vertaling).
59. 1 Kor. 11:1 (1983/92-Vertaling).
60. Vergelyk Efesiërs 6:1 (1983/1992-vertaling).
|