Abstract
The role of missional theology in the conversation between theology and philosophy. The research starts with a brief and concise description of missional theology and missional ecclesiology. For the sake of the local context, the focus is on how the Dutch Reformed Church in South Africa (NG Kerk) articulates these concepts. The broad ecumenical consensus on missional theology is described, including its relevance in discussions within mainstream churches in South Africa, with a brief discussion of denominations that have incorporated missional theology into their theological self-understanding and church praxis. Against this background, attention is given to the central concepts of trinitarian theology (missio Dei), namely incarnation, contextualisation, and inculturation in missional theology. It is attempted to indicate that missional theology intersects with philosophy in various ways, not only in terms of the origin of missional theology (which this research does not address) but especially regarding the nature of missional theology as being sent into the context (world and also philosophy) in which the church finds itself.
Intradisciplinary and interdisciplinary implications: This opens up an opportunity to highlight the importance of philosophy for missional theology regarding the following aspects of missional theology: (1) the importance of contextual insight and epistemologically reading the signs of the times; (2) the importance of contextualisation and thus understanding culture and philosophy [zeitgeist]; (3) the importance of a teleological orientation when missional theology inquiries about God’s preferred future; (4) the importance of the communities to which the church is sent and the language used in the conversation; (5) the key function of discernment. The research demonstrates that philosophy is an important and even indispensable conversation partner for missional theology.
Keywords: missional theology; philosophy; missional ecclesiology; incarnation; contextualisation; inculturation.
Die diskoers oor teologie en filosofie
Die navorsing poog om die vooraf-ruimte oop te maak vir ’n groter diskoers tussen teologie en filosofie wat moet volg. Daar is ’n lang tradisie van gesprek met die teologie en filosofie. Vosloo (2009:7) dui tereg aan dat die gereformeerde teologie nog altyd oop was vir ander bronne van wysheid. Dit het weer by twee konferensies ter sprake gekom (sien Akademia 2023; 2024). Volgens Maritz (Akademia 2023) is dit noodsaaklik om teologie en filosofie in die gesprek te bring, anders ‘… kan daar geen einde aan teologiese probleme vir ons skole, en die Christelike kerk wees nie’. Die samehang tussen teologie en filosofie moet herwin word, want volgens Akademia (2024), is die twee dissiplines nog altyd gesien as ondersteunend tot mekaar. Hierdie bydrae moet dan gesien word as ’n poging om die vooraf-ruimte oop te maak sodat missionale teologie, met die moontlike filosofiese implikasies daarvan, met die hoofstroom filosofiese tradisie (nasionaal en internasionaal) in ’n kreatiewe gesprek en dialoog kan tree. Dit is egter belangrik dat hierdie bydrae gesien moet word as ’n eerste poging van die missionale teologie (met die filosofiese implikasie daarvan) om vir ’n komende gesprek met die hoofstroom filosofie voor te berei.
Hierdie bydrae beoog om as ’n openingsgesprek, missionale teologie aan filosowe te verduidelik en raakpunte of uitdagings waarby wedersydse gesprek noodsaaklik is, vanuit die perspektief van die missionale teologie te verduidelik. Die uitgangspunt is dat alle teologie, ook missionale teologie, ’n onderliggende dogma het, en dat die eksplisiete verduideliking van die onderliggende dogma van die Suid-Afrikaanse missionale teologie kan help om die gesprek tussen filosofie en missionale teologie te steun. Dit val egter buite die omvang van hierdie navorsing om ’n omvattende omskrywing van filosofie te gee.
Missionale teologie
Missionale teologie – agtergrond
Missionale teologie is ’n ontwikkeling in teologie wat veral in die laaste eeu sterk gegroei het onder die invloed van die besluite van ekumeniese vergaderings, sendingkonferensies van die World Missionary Conference en die invloed van teoloë soos Karel Barth, Lesslie Newbigin, Dawid Bosch, Darell Guder, Christopher Wright, en andere. Enkele kenmerkende aspekte is die volgende:
Dit is ingebed in ’n teologie van God se trinitariese wese wat ook in God se sending (missio Dei) sigbaar is. Die agent van die sending is nie die kerk nie, maar God self. Sending is die verbreding en verdieping ten opsigte van die verstaan van die wese van God. Die kerk bestaan omdat dit deel is van God se werksaamhede om lewe in die ganse kosmos te laat floreer. God se sending begin by die skepping, kulmineer in die sending van Jesus Christus, word bemagtig deur die Heilige Gees en gaan voort in die roeping van die kerk om deel te neem aan hierdie sending en dit speel finaal uit in die toekoms – van waar God alles wat geskape is, roep tot nuwe lewe en herstel.
Daar is dus deurentyd ’n skerp fokus op God se werksaamhede. Sending word meermale beskryf as die taak om te onderskei waar die Heilige Gees aan die werk is en om aan te sluit by dit wat die Gees besig is om te doen. Dit is veral Bosch (1991:370) wat klem lê op die verskuiwing van die fokus van die kerk se aktiwiteite na God se voortdurende handeling in die wêreld. Dit is ook waarom die konsep van onderskeiding so belangrik in missionale teologie is – om te kan onderskei waar God aan die werk is en om daarby aan te sluit.
Hierdie teologiese denke gaan van die standpunt uit dat ’n missionale teologie meer is as bloot ’n teologie van sending. Bosch (1995:32) pleit: ‘We are in need of a missiological agenda for theology, not just a theological agenda for mission …’.
Missionale teologie verteenwoordig ook kritiek op die reduksionisme van die Verligting en die Christendom (waar daar simbiose tussen die kerk en die samelewing was en waar daar eintlik nie sprake kan wees van ongelowiges nie). Veral Guder (ed. 1998; 2000) het kritiek gelewer teen die reduksionisme van die Verligting sowel as teen die Christendom. Die probleem met die Verligting is drieërlei: (1) rasionalisasie en sekularisasie; (2) die privatisering van die geloof (Guder 2000:133); en (3) die histories-kritiese metode. Sy kritiek teen die Christendom fokus op die institusionalisering van die kerk (Guder 2000:135), asook sending as koloniale uitbreiding (sien ook Muswubi 2024:4), en derdens, die kerk wat sigself instand hou en op institusionele stabiliteit fokus teenoor ’n dinamiese verhouding met konteks. Guder (2000:150–165) is van mening dat ’n voortdurende bekering terug na missionale teologie die beste respons is om hierdie uitdagings te hanteer. Hy pleit ook vir die herwinning van die missio Dei-teologie, die belang van narratiewe teologie en kontekstualisering. Hierdie teologie sorg vir ’n herlewing in die Westerse kerk se verstaan en uitleef van hulle sendingroeping en dit verbreed die reduksionisme wat die kerk beperk (Guder 2000:20).
Missionale ekklesiologie
Die uitgangspunt dat God se werk groter en meer is as wat in die kerk gebeur en die uitnodiging aan die kerk om by God se sending aan te sluit, beteken dat elke aspek van die kerk se lewe – van aanbidding en dissipelskap tot diens en geregtigheid – missionaal is. Newbigin (1958:21) verduidelik dat die kerk ’n missionale dimensie het, maar ook ’n missionale intensie – wat beteken dat die kerk ook direk betrokke is in die samelewing. Die kerk is nie net ’n gemeenskap wat na binne gekeer is nie, maar ook ’n gestuurde gemeenskap wat uitreik na die wêreld. Gemeentes is geloofsgemeenskappe wat deur God geroep, versamel, gefokus en gestuur is na ’n ongelowige wêreld. Sulke gemeentes ervaar dat hulle opgeneem is in God se beweging en bestaan ter wille van God se sending.
Die Wêreldraad van Kerke (WRK 2021) het dit soos volg verduidelik in die belangrike beleidsdokument oor sending en evangelisasie:
Ons bevestig dat God die kerk beweeg en bemagtig om deel te neem aan God se sending. Die kerk is God se mense, die liggaam van Christus en die tempel van die Heilige Gees, en is daarom altyd aan die verander in die proses van deelname aan God se sending. (n.p.)
’n Missionale kerk word dus geroep, saamgebring, toegerus en gestuur om deel te neem aan God se sending van herstel, sodat lewe kan floreer. Wanneer die missio Dei die beginpunt is, word ekklesiologie van onder af gebou. Volgens hierdie perspektief is dit nie die kerk wat ’n sending het nie, maar is dit eerder God se sending wat deur ’n kerk gedoen word, of soos Bosch (1991:370) dit verduidelik: ‘The missio Dei institutes the missiones ecclesiae’. Volgens die WRK (2021) is ‘sending nie ’n projek om kerke uit te brei nie, dit is ’n wyse waarop die kerk God se verlossing in hierdie wêreld beliggaam’. Daar word van missionale kerke se gemeentes gepraat as gestuurde gemeentes. Om gestuur te wees, beteken nie om mense in ’n kerkgebou by ’n instelling betrokke te kry nie, maar eerder om kerk te wees in die doodgewone lewe tussen gewone mense waar die lewe sigself ook al afspeel (Keifert 2007:22). Dit is die kerkwees saam met ander wat die rol van kerklidmate in die samelewing hoog ag (Bosch 1991:373). Missionale teologie lê daarom groot klem op konsepte soos gasvryheid teenoor vreemdelinge, om God in die alledaagse raak te sien, en ook hartlike verhoudings.
Die missionale aard van die kerk speel byvoorbeeld ’n wesenlike rol in die onlangse beleidsdokumente van die Rooms Katolieke Kerk oor ekklesiologie: Evangelii Nuntiandi (1975) van Paulus VI, Redemptoris Missio (1990) van Johannes Paulus II en veral Evangelii Gaudium (2013) van Franciscus. Die kerke in die Ortodokse tradisie het weens die besondere verstaan van die Triniteit en die werk van die Heilige Gees, ’n tradisie rondom missionale kerkwees wat al eeue oud is.
Suid-Afrikaanse missionale teologie
Ter wille van die plaaslike konteks, word gefokus op die wyse waarop die NG Kerk missionale teologie verwoord. Dit moet egter duidelik gestel word dat die onderliggende teologiese temas en kerklike praksis by ’n groot aantal hoofstroomkerke in Suid-Afrika gevind word (sien die afdeling rakende Suid-Afrikaanse kerke in hierdie artikel).
Die NG Kerk se verstaan word in ’n beleidsdokument verwoord, getitel: Raamwerkdokument oor die missionale aard en roeping van die NG Kerk (NGK 2013). Die beleid word binne die Reformatoriese erfenis en historiese Christelike geloof van die NG Kerk geplaas, met ’n uitdruklike verwysing na ‘…’n gewilligheid en ’n openheid … om telkens nuut te dink. ’n Gereformeerde kerk moet altyd weer reformeer (ecclesia reformata semper reformanda)’ en wanneer dit nodig is, nuwe vorms aanneem (ecclesia semper formanda) (NGK 2013:2).
Missionale teologie begin telkens met ’n duidelike fokus op die wese van God. Die fokus is nie wat die kerk doen nie, maar die kerk se lewe in die Triniteit-wie die kerk ís: ‘Die kerk en die kerk se sending word vanuit die wese van die sturende God self verstaan’ (NGK 2013:4). Sending is ’n geskenk van die sturende God self (missio Dei). Die kerk neem deel aan die sending van God, en daarom is onderskeiding so belangrik – om te onderskei waar die Gees van God werk en daarby aan te sluit. Die kerk bestaan dus ter wille van die sending van God en ter wille van die wêreld. Die kerk ‘inkarneer die evangelie’ (NGK 2013:5), wat beteken dat die kerk kontekstueel sensitief moet wees: ‘Deur die krag van die Heilige Gees en die evangelie verander die kerk die gemeenskap (konteks) – en word die kerk op haar beurt deur die gemeenskap (konteks) verander’ (NGK 2013:5).
Die klem op inkarnasie, kontekstualisering en enkulturasie sal meer breedvoerig bespreek word in die gesprek oor missionale teologie en filosofie.
Ekumeniese konsensus
Daar bestaan op die oomblik ’n baie breë ekumeniese konsensus oor die sleutelbelang van missionale teologie en missionale ekklesiologie. Dit is onder meer duidelik in die volgende standpunte en beleidsdokumente:
- Die Wêreldraad van Kerke, Together Towards Life: Mission and Evangelism in Changing Landscapes, (WRK 2012; sien ook Niemandt 2015; Niemandt & Pillay 2015). (In hierdie navorsing word die Afrikaanse vertaling van Dr L. Bosman gebruik.)
- Die Lausanne-beweging se 2024-verklaring (Laussanne 2024), wat in die gees staan van Lausanne III wat in 2011 in Kaapstad plaasgevind het.
- Die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (Niemandt 2015; Niemandt & Pillay 2015).
- Die Evangeliese Alliansie (EA – Evangelical Allaince).1
Daar is ’n groot mate van ekumeniese konsensus rondom die belang van missionale teologie en die sleutelrol wat dit in die verstaan van die kerk (ekklesiologie) speel. Ons leef inderdaad in ’n nuwe era van ‘gestuur wees’ (Keifert 2007:15).
Suid-Afrikaanse kerke
Hierdie ekumeniese fokus word ook in ’n beduidende aantal hoofstroomkerke in Suid-Afrika weerspieël (vgl. Niemandt 2019a): die Apostoliese Geloofsending van S.A., die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, die Nederduitse Gereformeerde Kerk, die United Congregational Church in Southern Africa, die Anglikaanse kerk in Suid-Afrika, die Uniting Presbyterian Church in Southern Africa, the Metodist Church of Southern Africa,2 die Rooms-Katolieke kerk en die Ortodokse kerke (laasgenoemde twee het ’n lang tradisie van missionale selfverstaan en lewe in die Triniteit).
Filosofie en missionale teologie
In die res van die bydrae word sleuteltemas in die missionale teologie verduidelik in ’n poging om moontlike raakpunte in die gesprek tussen filosofie en teologie te ontgin. Die temas hier ter sprake is ’n lewe in die Triniteit, inkarnasie, kontekstualisering, kulturele assimilasie en onderskeiding. Hier moet weer beklemtoon word dat die sleuteltemas in die teken van ’n lang gespreksgeskiedenis met die filosofie staan. In hierdie navorsing word die temas vanuit die missionale teologie op die tafel gesit as voorspel vir verdere gesprekke met die hoofstroomfilosofie.
Triniteit en die missio Dei
Missionale teologie is trinitariese teologie. God is die drie-enige God en kan ook beskryf word as die sturende (missionale) God. Newbigin (1989:118) argumenteer soos volg: ‘… the mission of the church is to be understood, and only be rightly understood, in terms of the Trinitarian model’. Teologie se enigste bestaansrede is om oor die missio Dei te reflekteer en dit krities te begelei (Bosch 1995:32).
Sending begin in die hart van die drie-enige God, in die liefde wat die heilige Drie-eenheid aan mekaar bind en dit vloei oor na die ganse mensdom en die skepping. Die sturende God wat die Seun na die wêreld gestuur het, roep sy hele volk byeen (Joh 20:21), en bemagtig hulle om ’n gemeenskap van hoop te wees. Sending is die oneindige liefde van die drie-enige God wat na die wêreld oorvloei. God se beweging na die wêreld begin met die skeppingsdaad (WRK 2021:52).
Sending is deelname aan die onbeperkte liefde en eindelose lewe van die drie-enige God (Niemandt 2019a:17). Dit is duidelik dat die heroriëntasie wat die missionale teologie bring, hand aan hand loop met die trinitariese Renaissance van die 20ste eeu. Polkinghorne (2004:61) het juis na die trinitariese teologie verwys as ‘a deeply intellectually satisfying candidate for the title of a true “theory of everything”’. Hierdie diep verankering in trinitariese teologie maak juis van die missionale teologie ’n wonderlike gespreksvennoot vir filosofie. Die idee van die triniteit is ’n oop ruimte vir gedagtes en diskoerse, en dit laat altyd ruimte vir nog iets wat verder ontgin kan word. Venter (2022:5) verwoord dit dat, ‘The Cappadocian settlement in the fourth century construed a conception of God with inexhaustible vitality.’
Inkarnasie: Die goddelike word toeganklik gemaak
Inkarnasie is ’n sleutelbegrip en lê in die hart van die Christelike geloof. Inkarnasie het te doen met God wat betrokke raak by die geskape werklikheid soos kortliks hierbo verduidelik is met die begrip missio Dei. Die skeppingsdaad, bemiddel deur God se woorde (Heyns [1988:146, 147] noem dit Skeppingswoord), is volgens die Genesis-narratief God se toetrede tot die skepping wat God self tot stand gebring het. Inkarnasie verdiep as God, in die persoon van Jesus Christus, vlees word en onder die mensdom kom woon. Op hierdie wyse dui inkarnasie op God se diepgewortelde liefde en begeerte om op ’n intieme en tasbare manier in en saam met sy skepping te wees. Vleeswording getuig van God se solidariteit met ons wêreld en sy omgee vir die wêreld. Bosch (1991:165) verduidelik dat die konsep ons herinner aan die realiteit van God wat deel word van die menslike doen en late. Die inkarnasie veronderstel nie net dat God in Jesus Christus mens geword het nie, maar dat Hy ook deel van die ekonomiese realiteit, die politieke geskiedenis, die godsdienstige gevegte, sosiale grense, filosofiese gesprekke en taalverskynsels van sy tyd geword het. Muswubi (2024:3) het die belangrike band tussen inkarnasie, missio Dei en God se eenheid met sy kerk sterk beklemtoon. So ’n holistiese verstaan van inkarnasie beklemtoon ook dat inkarnasie ons help om op ’n visuele wyse na Jesus Christus te kyk. Harris, Negrão en Ntankeh (2024) verduidelik:
[A] biblical theology of the visual flows from the incarnation of Christ (kenosis), exemplifying God’s plan for materiality and visuality as key to validation of truth. The kenosis was the ultimate visual validation of Jesus as the way, the truth, and the life. (n.p.)
Die konsep van die sturende God (missio Dei) impliseer sy erns met die menswording (inkarnasie) van Jesus Christus. Die lewe van die kerk as ’n lewe in die Triniteit, asook die belang van die inkarnasie as ’n beweging van God na mense waar hulle hulself ook al bevind, bevestig die belang van inkarnasie as teologiese konsep. Die Edinburgh Common Call stel dit goed (Edinburgh Centenary Conference 2010):
In volle vertroue op die Drie-enige God en met ’n hernude gevoel van dringendheid, word ons geroep om die goeie nuus van redding, van vergifnis van sonde, van lewe in oorvloed, en van bevryding vir alle armes en onderdruktes te beliggaam en te verkondig. (n.p.)
Wanneer die boodskap, God se spreke en God se Skrifgeworde Woord in ’n verskeidenheid tale vertaal word, verdiep die inkarnasie. Op ’n manier neem God nou die vorm van menslike taal aan, wat die goddelike in alledaagse terme toeganklik maak. Die menswording van Jesus Christus het gevolge vir elke mens en word ook in elke mens herhaal – daarom sê Paulus dat hy vir die Jode soos ’n Jood geword het, en vir die heidene soos ’n heiden.
Dit is aangrypend om daaraan te dink dat Jesus Christus volledig mens geword het en hom ten volle met die lotgevalle van die mens en alles in die skepping vereenselwig het. Die vertaling van die Skrifgeworde Woord slaan die brug na die Verkondigde Woord. Dit dui op God se bereidwilligheid om mense te ontmoet waar hulle is, en om met hulle in die alledaagsheid van die menslike bestaan te praat (Muswubi 2024:5). Hierdie linguistiese inkarnasie maak dit moontlik dat die transformerende krag van die evangelie direk deur mense in hulle eie kulturele en filosofiese kontekste ervaar kan word. Anders gestel: inkarnasie veronderstel vertaling, tuiskoms en deel word van die werklikheid en denkstrome van ’n gemeenskap. Meer nog, beteken inkarnasie dat die kerk nie bloot uitbrei nie, maar nuut gebore word in elke nuwe konteks (Bosch 1991:454). Die Lausanne-beweging (2024) verklaar dat die kerk se evangeliese werk die doeltreffendste gedoen word deur die integrasie van die kerk se verkondiging, praktyk en teenwoordigheid in die wêreld. Die kerk moet ’n integrasie van missionale prioriteite nastreef deur inkarnasie as ’n grondhouding te aanvaar.
Kwame Bediako (1998:110–111), ’n vooraanstaande Afrika-teoloog, beklemtoon die belang van die inkarnasie en dat die evangelie deur vertaling van die Bybel in plaaslike tale tuiskom in die konteks van die Afrika-Christenskap. Hy benadruk dat die vertaling van die Bybel Afrika-Christene bemagtig om die evangelie op ’n wyse te ervaar wat diep in hulle bekende kulturele erfenis veranker is. Vir hom is dit basies ’n manier waarop die essensie van die inkarnasie weer relevant gemaak word. Nog ’n bekende stem uit Afrika, Lamin Sanneh (1989, veral hoofstuk 7), besing ook die lof van die vertaling van geloofstaal in die moedertaal. Hy verduidelik dat die vertaling van die Bybel in die plaaslike tale mense bemagtig om Christenskap as ’n geloof vir hulle eie kultuur te ervaar eerder as iets wat ingevoer word. Dit lei tot ’n egte en transformerende ontmoeting met die evangelie.
Charles Taylor (2007:554) verduidelik dat een van die groot krisisse van ons tyd juis te doen het met excarnational faith – geloof wat net in ons koppe leef en nie in ons harte nie. Ons dink oor geloof en omskryf dit in goed-geformuleerde stellings, maar dit is buite die aardse, alledaagse, vleeslike van die lewe – ’n soort onliggaamlike geloof. Dit is ’n privatisering van geloof wat godsdiens isoleer van die gemeenskap. ’n Missionale spiritualiteit, daarenteen, erken die inkarnasie – die aardse en alledaagse – en is diep bewus daarvan dat die liefdevolle God ons gewone lewe omhels en oral teenwoordig is. Dit is ’n spiritualiteit van die alledaagse wat geloofwaardige teenwoordigheid in die daaglikse gang van die lewe aanmoedig (Niemandt 2019b:217). Dit is ’n lyflike geestelikheid wat hart en liggaam, rede en die ganse lewe aanraak.
Kontekstualisering: die evangelie relevant gemaak
Die volgende bousteen in die gesprek is die teologiese konsep van kontekstualisering. Bevans en Schroeder (2004:31) voer aan dat die Christelike sending radikaal kontekstueel moet wees en beskryf inkulturasie (wat die idees van kontekstualisering en inkulturasie insluit) as ’n komponent van sending. Eintlik is geloof kontekstueel van aard. Ons kan dus stel dat kontekstualisering van die kerk ’n poging is om kerk te wees op maniere wat getrou aan Jesus Christus is en ook gepas is vir die lidmate en die mense wat die kerk dien. Muswubi (2024:2) beskryf kontekstualisering as ‘the process of becoming, embodying and/or incarnation of the divine word or text in the human world or context’. Kontekstualisering skep die veilige ruimte om die besondere en unieke van enige kultuur, groep of selfs filosofie binne die breër Christelike verhaal en gemeenskap te erken. Die WRK (2013) verklaar:
Waar die evangelie ook al uitgedruk word – Oos, Wes, Noord of Suid – dit is die verhaal van God se handelinge met ’n bepaalde volk en skepping, wat in ’n spesifieke konteks na ons toe kom in die historiese persoon van Jesus Christus. (p. 72)
Bosch (1991) beskryf hoe die konsep van kontekstualisering sterk beïnvloed is deur Schleiermacher. Hy was oortuig dat die kerk bepaal word deur die historiese oorsprong asook die konteks waarbinne die kerk sigself in die hier en die nou bevind: ‘The Christian church is always in the process of becoming; the church of the present is both the product of the past and the seed of the future’ (Bosch 1991:359). Teologie is dus nie bloot ’n projek om die verlede ongeskonde en suiwer te rekonstrueer nie, maar is eerder ’n proses van refleksie oor die kerk se eie lewe en ervaring (Bosch 1991:360). Daar is dus geen supra-historiese of supra-kulturele boodskap nie. Elke teks het ’n ryk gelaagdheid wat meespreek.
Geloof vat grond en word uitgedruk in elke unieke konteks. Kontekstualisering is ’n omvattende begrip wat bevestig dat God omgee vir die ganse skepping en ook belangstel in die kleinste van plaaslike omstandighede (local theologies) (Bosch 1991:427). Wanneer ons van die werk van God in hierdie werklikheid praat (missio Dei), is die wêreld as teater van God se aktiwiteite, ’n wesenlike deel van die gesprek. Sweet (2009:165) beskryf dit treffend. Die Christelike geloof word nie soos ’n potplant versprei nie, maar eerder soos saad wat wortel skiet en groei in die grond van elke kultuur. Kontekstuele teologie het ’n mens juis daarvan bewus gemaak dat teologie van onder af bedryf word. Kulturele en kontekstuele teologie is ’n belangrike faset van die teologie van die missio Dei. Die tekens van die tye moet gelees word. Moltmann (2010:loc. 3216–3217) argumenteer dat die kerk die verantwoordelikheid het om die tekens van die tyd te lees en dit in die lig van die evangelie te interpreteer.
Kontekstualisering het te doen met semiotiek. Sweet (2021:3) waarsku dat die wêreld krisistye binnegaan en dat ons konstant op die rand van ’n vulkaan leef. Een van die belangrikste take is om ons kontekstuele intelligensie te ontwikkel (Sweet 2021):
[B]y developing a high contextual quotient (CQ), developing and deepening our contextual intelligence (CI) so that we can choose “the next right thing” in a world of volcanic volatility. (p. 3)
Dan word teologie die oefening om God se aktiwiteite in hierdie wêreld te vertaal deur tipies vrae te vra soos die volgende: Wat is God besig om in hierdie wêreld te doen, en wat wil God hê moet ons doen om deel te neem aan sy sending?
Bediako (1998) en Sanneh (1989) het die tafel reeds gedek in hulle hantering van inkarnasie om logies daaruit aan te dui dat vertaling van die Woord ’n kritieke aspek van kontekstualisering is. Bediako (1998:110–111) pleit vir die vertaling van die Bybel in Afrikatale as ’n essensiële stap na kontekstualisering van die Christendom in die Afrika-konteks. Hierdie kontekstualisering verseker dat die evangelie in kultureel-relevante maniere uitgedruk word om te resoneer met Afrika-tradisies, waardes en wêreldbeskouing. Vertalings fasiliteer die uitdrukking van Christenskap in Afrika-idiome, metafore en simbole wat die transformerende krag van die evangelie direk tot die harte en gedagtes van Afrika-gelowiges laat spreek.
Lamin Sanneh (1989) argumenteer dat die vertaling van die Bybel ’n gevoel van kulturele eienaarskap en relevansie in die Christelike geloof bevorder. Hierdie benadering laat Christenskap breek met die assosiasie van die Westerse kultuur en maak dit toeganklik vir mense uit diverse kulturele agtergronde. Sanneh (1989) beweer dat vertalings mense bemagtig om teologiese refleksie in hulle eie tale te betrek wat lei tot ’n dieper begrip en toe-eiening van die evangelieboodskap binne hulle kulturele konteks. In waardering vir Sanneh se werk, verduidelik Gitau (2020) die belang van Sanneh se insigte soos volg:
The Christian message can be expressed in any language and interpreted into any culture. Therefore, translatability is the key to the spread of Christianity to new cultures across time, as has happened across Africa, Asia, and Latin America over the last 200 years. (n.p.)
Missionale teologie is baie sensitief om juis die konteks te respekteer. Op ’n manier kan ’n mens sê dat dit ook ’n reaksie is op die veranderende konteks waarin die kerk haarself bevind, veral in die Westerse wêreld waar sekularisasie hand oor hand toeneem. Tog moet ’n kosbare balans gehandhaaf word. In sy diepgaande bespreking van kontekstualisering waarsku Bosch (1991:362) dat ’n soort paradoksale balans gehandhaaf moet word. Dit is nie moontlik om geheel en al met jou verlede te breek en enige kontinuïteit met jou teologiese en kerklike verlede te ontken nie. Missionale teologie is getrou aan die verlede én die toekoms.
‘Inkulturasie’: geloof en kultuur geïntegreer
Die volgende bousteen is die konsep van inkulturasie. Bosch (1991:420–432) het elemente van ’n opkomende ekumeniese sendingparadigma beskryf waarvan een ‘Sending as kontekstualisering’ en ‘Sending as inkulturasie’ is. Inkulturasie is ’n tweede belangrike model van kontekstualisering (Bosch 1991:447–456). Inkulturasie is dus ’n tweerigtingverkeer, of ’n tweerigtingproses van wisselwerking tussen die Christelike geloof en kultuur wat ’n dubbelslag het – dit bring verandering in die kultuur en ’n herinterpretasie van geloof mee (Ukpong 2013:531). Marius Nel (2023:14) verduidelik die belang daarvan om die kulturele gaping te oorbrug wat tussen die bybelse verhale en die hedendaagse tyd bestaan. Hy gebruik ook die konsep van inkulturasie en stel dat dit onontbeerlik is vir die missie van die kerk, want geen kulturele groep hoef hulle identiteit te verloën om volgelinge van Jesus te word nie. Bevans en Schroeder (2011:69) onderstreep dat ‘Inculturation is acknowledged today as an integral part of communicating the gospel, if the gospel, indeed, is truly to be communicated.’ Die evangelie kan inderdaad in enige kultuur vertaal en ingeënt word. Dit gebeur waar gemeentes ’n hermeneutiek van die evangelie word. Newbigin (1989:222–233) het die kerk beskryf as ’n hermeneutiek van die evangelie – die kerk bring die blye boodskap, maar ís dit ook in haar getuienis en lewe. Michael Gorman (2015) verduidelik dit so:
The world has no access to the gospel story other than as it is narrated in the life, worship, and proclamation of the church. Through its service and being a witness, the Church is a rendering of the gospel in the world. (loc 78)
Die gemeente word ’n kulturele brug wat die evangelie in staat stel om die kulturele gapings wat ’n spesifieke gemeenskap skei van die gemeenskap waarin die evangelie die eerste tuisgekom hette oorbrug. Daarom stel Nel (2023:15) dat die organisatoriese, linguistiese en kulturele kapasiteite om brug-gemeenskappe te bou, een van die sleutelkomponente van ’n missionale teologie is. Sweet (2009:193) stel dit só: ‘For anything to be real it must be local’.
Bosch (1991:447) is ook diep oortuig dat die Christelike geloof nie anders kan bestaan as om in ’n bepaalde kultuur vertaal te word nie. Dit is tewens van die begin af kenmerkend van die Christelike geloof. Bosch (1991:175) verduidelik byvoorbeeld dat inkulturasie al duidelik was in die terminologie wat die vroeë kerk gebruik. Terme wat tipies was aan die keiseraanbiddingskultus, militêre terminologieë, misterieuse Griekse godsdienste en die Griekse teater word gou in die vroeë Christelike aanbidding en dogma oorgeneem. Bosch (1991:176) is tewens van mening dat vroeë Christelike teoloë baie positief gebruik gemaak het van die Griekse filosofie. Die Christelike geloof moet in elke menslike kultuur herbedink, herformuleer en nuut geleef word, en dit moet op ’n wyse gebeur wat lewe bring en tot in die diepste wortels van elke kultuur strek (Bosch 1991:452).
Inkulturasie dui ook op die belang van die erkenning van die diversiteit in die Christendom. Die feit dat daar ’n groot verskeidenheid kulture bestaan en dat die Christelike geloof in elke kultuur vertaal word, lei onafwendbaar tot ’n ryke verskeidenheid in die uitdrukking van geloof in elke kultuur. ’n Treffende manier om dit te verduidelik, is om na die diverse uitbeelding van Jesus Christus in kuns te kyk. Die uiteenlopende prentjies, beelde en skilderye van Jesus dra almal die kenmerke van die plaaslike en tydgebonde kultuur. Sweet (2009:168) verduidelik dit so: ‘The changing face of Jesus in every culture is eloquent testimony to the Truth that has more than one face, the Jesus of many faces.’
Al hierdie elemente van kontekstualisering, inkarnasie en inkulturasie bevat ’n paradoksale element. Dit is ook toepaslik in die nadenke oor inkulturasie. Natuurlik word hierdeur ’n brug na die kulturele werklikheid gebou, en word die goeie nuus op ’n bevatlike wyse oorgedra. Bevans en Schroeder (2004) verwys na konstantes en elke konteks. Die paradoks lê in die feit dat die kerk ook ’n kontra-kulturele taak het. Die tekens van die tyd word gelees en daar word onderskei waar die Heilige Gees werk, sodat ons daarby kan aansluit en so deel word van God se sending. In elke kultuur is daar egter ook elemente en fasette wat weerstaan moet word soos liefdeloosheid wat geïdentifiseer moet word en kenmerke wat in stryd is met die evangelie. Die kerk verkondig ’n alternatiewe moontlikheid waar lidmate in die wêreld is, maar nie van die wêreld is nie.
Op soek na God se voorkeurtoekoms
Die volgende aspek van missionale teologie wat ter sake is, is die soeke na God se voorkeurtoekoms. Mense is, volgens Augustinus, teleologiese wesens (Smith 2016:8). Dit is deel van die menslike aard om ná te dink oor die goeie in die lewe. Volgens Smith (2016:8) is dit ’n lewegewende oriëntasiepunt vir mense, ’n soort onbewuste maar beleefbare verlange, wat meer ’n honger as blote nuuskierigheid is – ‘less like an intellectual puzzle to be solved and more like a craving for sustenance’. Ons droom oor ’n lewe wat floreer, en wil dit eenvoudig hê – ons smag daarna (Smith 2016:11). Vir gelowiges is dit iets wat vanuit die toekoms wink, maar wat hier en nou op ons lewe beslag lê met ’n haas onbeskryfbare krag.
Bosch (1991:305) beskryf die fokus in missionale teologie op die toekoms as ’n herontdekking van die teleologiese dimensie. Hy stel dit dat mense nie sonder betekenis, ’n doel en hoop kan lewe nie. In ’n sekere sin is die teleologiese dimensie die kritiek van die missionale teologie op die denke van die Verligting, waar mense vasgevang is in die rigiede oorsaak-gevolg-denke. Die denke en verwagtings van baie kerkmense is sekulêr, byna ateïsties, vasgevang in die hede, met min aanvoeling vir die verlede en ’n beperkte visie vir die toekoms (Keifert 2007:60). Ook die postmoderne wêreld is een van pessimisme en swartgalligheid wat al as ’n soort zombie-kultuur beskryf word. Zombies word ’n populêre uitdrukking en simbool van die Westerse apokaliptiek (Wöll 2019:87). Vosloo (2015:12) argumenteer dat die modernistiese tydsbegrip veroorsaak het dat die toekoms sy glans verloor en ’n bedreigende karakter aangeneem het. Die missionale teologie kan dien as ’n antwoord op die rigiditeit van modernisme en ook die pessimisme van die hedendaagse postmoderne apokaliptiek. So kan die teologie weer nuwe lewe blaas in konsepte soos berou en bekering, visie en persoonlike verantwoordelikheid. Bosch (1995) noem een van sy laaste boeke Believing in the future.
Keifert (2007:57) verwys na die lesse wat die kerk by die Grieks-Ortodokse tradisie kan leer in die soektog na getrouheid aan die kerk se verlede sowel as sy toekoms. Ons moet getrou wees aan die tradisie van die apostels wat Jesus self aangestel het (die kerk soos dit daar uitgesien het toe dit in die tyd van Jesus tot stand gekom het). Dit is egter nie genoeg nie. Die kerk is nie net die kerk wat reeds tot stand gekom het nie, maar ook die kerk wat aan die kom is – wat aan ‘die einde van die tyd deur die krag van die Heilige Gees sal oordeel vanuit God se absolute toekoms’ (Keifert 2007:57).
Hierdie soort denke is baie relevant vir die kerk. Die kerk word inderdaad deur die telos, die kerk se toekoms, gekonstrueer. In die praksis van missionale gemeentes word daar gereeld gevra na wat God se toekoms is (‘Wat wil God doen?’). Die begrip wat gebruik word, is om na God se teenwoordige en beloofde voorkeurtoekoms te vra. Keifert (2007:56) beskryf dit soos volg: ‘Hoe lyk die toekoms wat inpas by God se wil en beloftes vir ons gemeente, en hoe onderskei ons God se toekoms en sy teenwoordigheid in die hier en die nou?’
Onderskeiding
Een van die belangrike konsepte wat sterk in die missionale teologie funksioneer en wat uiters relevant is vir die gesprek tussen teologie en filosofie is die konsep van onderskeiding. Niemandt (2019b:129) verduidelik dat twee baie belangrike luisterprosesse in die missionale kerk funksioneer: om te ‘wandel in die Woord’ en ‘te wandel in die wêreld’. Die basis van onderskeiding is wandel in die Woord. Volgens Nel (2013:1) is wandel in die Woord ’n gesamentlike luisterproses waar ’n geloofsgemeenskap oor ’n lang tyd besig is met ’n Bybelgedeelte sodat die gemeenskap in staat kan wees om hulle besluite en optrede met die bybelse meta-narratief te belyn. Wandel in die Woord is ten diepste verbonde aan wandel in die wêreld en speel ’n goot rol om geloofsgemeenskappe te help om te verstaan waar hulle by God se sending in die wêreld kan aansluit (Nel 2013:5).
Hierdie onderskeidende wandel in die Woord en wêreld verteenwoordig ’n dubbele luister – luister na die bybelse teks en luister na die konteks. Dit is om na God te luister in en deur sy Woord, sowel as om die werklikheid van die missio Dei in die alledaagse lewe te onderskei. Dingemans (2005:241) gebruik die beeld van ’n rivier en die twee rivierwalle. Aan die een kant is die Bybel en ortodoksie – die tradisie van interpretasie in die kerkgeskiedenis. Die ander rivierwal is die konteks – die wêreld, kultuur en die werklikheid waarin die kerk haarself bevind. Die kerk is die brug wat albei rivierwalle deur die proses van onderskeiding verbind. Die brug verbind die Bybel en die tradisie van interpretasie met die kontekstuele werklikheid. Missionale leierskap bou brûe deur onderskeiding wat die teks en die konteks verbind. Brûe maak nuwe geleenthede oop en lei na nuwe wêrelde. Die kerk is getrou aan haar verlede, hede en toekoms. God is immers die lewende, drie-enige God wat in alle tye lewend en teenwoordig is (Keifert 2007:57). Gestuurdheid veronderstel ’n rykdom van herinnering en waardering, sowel as openheid en kreatiwiteit. Dit is die inkarnasie van die evangelie wat die goeie nuus sigbaar en die eeue-oue tyding in alledaagse terme en in elke konteks (inkulturasie) verstaanbaar maak soos Niemandt (2019b) dit verwoord:
Dwelling in the world is an incarnational practice of the everyday. It is to discern God’s activity in everyday life and to exegete context. It is an exercise in contextualisation and discernment. (p. 133)
Natuurlik moet ’n mens dadelik erken dat die wandel in die wêreld – die brugbouery – ’n baie komplekse saak is. Die verhouding tussen die evangelie en die alledaagse kultuur is en bly ingewikkeld. Daar gaan dinge wees wat met oortuiging omhels kan word as uitdrukkings van God se betrokkenheid en genade. Daar is egter ook ander aspekte van die kultuur wat eers verander moet word deur die krag van die evangelie. Daar is natuurlik ook destruktiewe elemente in elke kultuur, en dit moet geïdentifiseer word as presies daardie dinge waarvan ons verlos moet word. Sweet (2009:52) stel dit duidelik: ‘There will always be a renegade, contradictory, counterintuitive spirit that refuses to go down with the status quo.’
Onderskeiding is dus ’n kernpraktyk in die missionale kerkwees – om die teenwoordigheid en beweging van die drie-enige God in verhouding met die ganse skepping te soek en daarby aan te sluit. Keifert (2007:65) fokus dit op die vrae: ‘Wat in hemelsnaam is hier besig om te gebeur? Wat is God besig om hier en nou te doen aan die verhoudings binne die gemeente en in die breër gemeenskap om ons.’ Bosman vertaal en verduidelik die WRK (2012) se siening soos volg:
Die Heilige Gees is die Gees van wysheid (Jes. 11:3; Ef. 1:17) en lei ons in die volle waarheid (Johannes 16:13). Die Gees inspireer menslike kulture en kreatiwiteit, daarom is dit deel van ons gestuurdheid om lewegewende wysheid in elke kultuur en konteks te erken, te respekteer, en daarmee saam te werk. (n.p.)
Plaaslike wysheid en kultuur wat lewensbevestigend is, is geskenke wat God se Gees gee. Ons wil volle erkenning gee aan die getuienisse van volke wie se tradisies deur teoloë en wetenskaplikes versmaad en verkleineer is, maar wie se wysheid vir ons ’n belangrike en nuwe oriëntasie bied waardeur ons weer verbind kan word met die lewe van die Gees in die skepping; wysheid wat ons kan help om raak te sien hoe God in die skepping geopenbaar word. (n.p.)
Die hedendaagse missionale teologie lê ook klem op ’n omvattende en holistiese benadering tot onderskeiding. Dit is baie meer as ’n blote rasionele besluit. Nuwe insigte in die neuro-wetenskappe ondersteun ’n omvattender benadering, wat rekening hou met die affektiewe, emosionele en artistieke aspekte van besluitneming en onderskeiding. Die brein gee beter aandag aan inligting wat betekenis het en emosionele inhoud het (Harris et al. 2024). Daarom is daar ’n oplewing in die nadenke oor die verband tussen kuns en missionale onderskeiding. Harris et al. (2024) verwys na die Global Ethnodoxology Network (GEN) en stel dit soos volg:
The arts are integral to personal and individual expression, and in initiating, transmitting, and reinforcing interpersonal and group communication. They permeate communities, marking messages as important, embedded in, and separate from everyday activities, drawing not only on cognitive, but also experiential, bodily, multimodal, and emotional ways of knowing. Arts instil solidarity, reinforce identity and serve as a memory aid. They inspire people to action, provide socially acceptable frameworks for expressing difficult or new ideas, and open spaces for people to imagine and dream. (n.p.)
Onderskeiding, die soeke na wysheid en insig, en om God se teenwoordigheid te sien en sin daarvan te maak met die gebruik van die rede, emosie en kuns is een van die belangrike missionale bewegings. Dit is ’n belangrike snypunt waar filosofie se insigte en kennis die missionale teologie kan help.
Gevolgtrekking
Hierdie navorsing bied ’n blik op die missionale teologie en ekklesiologie, en bied verskeie raakpunte vir ’n voortgesette gesprek tussen teologie en filosofie.
Bosch (1991:181) argumenteer dat veral die Griekse filosofie die kerk gehelp het met die werktuie om te analiseer, om kritiese vrae te vra, om waarheid van fantasie te onderskei, en om toorkuns en bygeloof te repudieer. Dit het die pad gewys om ernstig met epistemologiese vrae om te gaan en na te dink oor hoe mense toepaslike kennis van God verkry. Dit alles is beredeneer in kombinasie met intellektuele eerlikheid en ’n diep geloof. In kort sê Bosch hoe om krities en visionêr te wees.
Maritz (Akademia 2024) verwys na die behoefte aan interaksie tussen teologie en filosofiese intelligensie. Keifert (2007) dui ook aan dat missionale of gestuurde teologie ’n baie belangrike verskuiwing verteenwoordig, ook in die gesprek oor teologie en dogma. Gesprekke oor dogma is diep ingebed in filosofiese insigte. Teologie en dogma het juis ontstaan uit die situasie waar die dissipels geroep, versamel en oor grense gestuur is na plekke waar Jesus nog nooit was nie, soos Keifert (2007) dit stel:
Trouens, gestuurdheid was die moeder van teologie en dogma. Die vroegste vorme van teologie en dogma het ontstaan uit die proses om Christelike antwoorde te verskaf op die vrae wat die algemeenste in ’n spesifieke gemeenskap voorgekom het. (p. 23)
Die kerk se wandel in die Woord en wandel in die wêreld word daarom begelei, soms verduidelik en verhelder, meermale uitgedaag deur filosofie saam te nooi op die reis. Dit verdiep kontekstuele eksegese, help om die evangelie in die tydgees en selfs woorde van die dag te vertaal, gee intellektuele beliggaming aan die praksis van kerkwees en verhelder onderskeiding.
Erkennings
Mededingende belange
Die outeur verklaar dat befondsing van die Nasionale Navorsingstigting ontvang is, wat moontlik deur die navorsing wat in die ingeslote publikasie gerapporteer word, geaffekteer kan word. Die skrywer het hierdie belange volledig bekend gemaak en ’n goedgekeurde plan geïmplementeer vir die bestuur van potensiële konflikte wat uit die betrokkenheid voortspruit. Die bepalings van hierdie befondsingsreëlings is deur die geaffilieerde Universiteit hersien en goedgekeur in ooreenstemming met hul beleid oor objektiwiteit in navorsing.
Outeursbydrae
C.J.P.N. is die enigste outeur van hierdie navorsingsartikel.
Befondsingsinligting
Die outeur het die ontvangs van die volgende finansiële ondersteuning vir die publikasie van hierdie navorsingsartikel bekend gemaak: Die artikel is ondersteun deur die National research Foundation.
Etiese oorwegings
Hierdie artikel bevat geen studies wat menslike deelnemers betrek wat deur die skrywer uitgevoer is nie.
Databeskikbaarheidsverklaring
Datadeling is nie van toepassing op hierdie artikel nie aangesien geen nuwe data geskep of ontleed is nie.
Vrywaringsverklaring
Die menings en sienings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde instelling, befondser, agentskap of dié van die uitgewer nie. Slegs die outeur is verantwoordelik vir die inhoud van hierdie artikel.
Literatuurverwysings
Akademia, 2023, Akademia bied eerste Teologie en Filosofie-konferensie aan, viewed from 03 October 2024, from https://akademia.ac.za/teologie-filosofie-konferensie-2023/.
Akademia, 2024, Tweede Teologie en Filosofie-konferensie by Akademia ʼn reusesukses, viewed from 03 October 2024, from https://akademia.ac.za/teologie-en-filosofie-konferensie-2024/.
Bediako, K., 1998, ‘The doctrine of christ and the significance of vernacular terminology’, International Bulletin of Missionary Research 22(3), 110–111. https://doi.org/10.1177/239693939802200306
Bevans, S.B. & Schroeder, R.P., 2004, Constants in context. A theology of mission for today, Orbis, Maryknoll, New York, NY.
Bevans, S.B. & Schroeder, R.P., 2011, Prophetic dialogue: Reflections on Christian mission today, Orbis, Maryknoll, New York, NY.
Bosch, D.J., 1991, Transforming mission, Orbis, Maryknoll, New York, NY.
Bosch, D.J., 1995, Believing in the future, Trinity Press, Valley Forge, PA.
Dingemans, G.D.J., 2005, De stem van de Roepende: Pneumatheologie, Kok, Kampen.
Edinburgh Centenary Conference, 2010, Edinburg 2010 – Common Call, viewed 13 Julie 2024, vanaf https://edinburgh2010.oikoumene.org/fileadmin/Edinburgh_2010_Common_Call_with_explanation.pdf.
Gitau, W., 2020, The legacy of Lamin Sanneh: Colonial missionary impact, world Christianity, and Muslim-Christian dialogue, viewed 14 Julie 2024, from https://lausanne.org/global-analysis/the-legacy-of-lamin-sanneh#endnote-2.
Gorman, M.J., 2015, Becoming the Gospel: Paul, participation, and mission, The Gospel and Our Culture Series (GOCS), Kindle edn., Eerdmans, Grand Rapids, MI.
Guder, D.L. (ed.), 1998, Missional church: A vision for the sending of the church in North America, Eerdmans, Grand Rapids, MI.
Guder, D.L., 2000, The continuing conversion of the church, Eerdmans, Grand Rapids, MI.
Harris, R., Negrão, H. & Ntankeh, R., 2024, ‘Visual affect as validation of truth’, in What is the foundation of trust, Lausanne Movement, viewed 15 Julie 2024, from https://lausanne.org/report/trust/visual-affect-as-validation-of-truth.
Heyns, J.A., 1988, Dogmatiek, NGKB, Pretoria.
Keifert, P., 2007, Ons is nou hiér: ’n Nuwe era van gestuur-wees, Bybel-Media, Wellington.
Lausanne, 2024, The great commission: A theological basis, viewed 16 Junie 2024, from https://lausanne.org/report/the-great-commission-a-theological-basis.
Lausanne III, 2011, Cape Town commitment, The third Lausanne Congress on World evangelisation, Cape Town.
Moltmann, J., 2010, Sun of righteousness, arise!, SCM, London.
Muswubi, T.A., 2024, ‘Significance of incarnation in gospel contextualisation and communication interculturally’, Verbum et Ecclesia 45(1), a3138. https://doi.org/10.4102/ve.v45i1.3138
Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), 2013, Raamwerkdokument oor die missionale aard en roeping van die NG Kerk, viewed 13 Julie 2024, from https://ngkerk.net/wp-content/uploads/2024/03/Raamwerkdokument-oor-die-missionale-aard-en-roeping-van-die-kerk_2013.pdf.
Nel, M.J., 2013, ‘The influence of dwelling in the Word within the Southern African partnership of Missional Churches’, Verbum et Ecclesia 34(1), a778. https://doi.org/10.4102/ve.v34i1.778
Nel, M.J., 2023, Reframing: Novel metaphors for reimagining the church and the Bible, Bybel-Media, Wellington.
Newbigin, L., 1958, One body, one Gospel, one world, International Missionary Council, London.
Newbigin, L., 1989, The Gospel in a pluralist society, Eerdmans, Grand Rapids, MI.
Niemandt, C.J.P., 2015, ‘Together towards a new life for Missiology? Mission and missiology in the light of the World Council of Churches 2013 policy statement’, Acta Theologica 35(2), 81–101. https://doi.org/10.4314/actat.v35i2.6
Niemandt, C.J.P., 2019a, ‘“Narraphors” in missional transformation of South African denominations: A herd of buffaloes’, in S. Jung, V. Kessler, L. Kretzschmar, E. Meier (eds.), Metaphors for leading – Leading by metaphors, pp. 187–200, V&R Unipress, Göttingen.
Niemandt, C.J.P. & Pillay, J., 2015, ‘Trends in ecumenism and mission: Four significant ecumenical/missional events from 2010–2013’, Reformed World 65(1), 31–50.
Niemandt, N., 2012, viewed from https://repository.up.ac.za/bitstream/handle/2263/18785/nniemandt_paper_2012.pdf?.
Niemandt, N., 2019b, Missional Leadership, HTS Religion & Society Series, vol. 7, pp. i–242, AOSIS, Cape Town.
Polkinghorne, J., 2004, Science and the trinity: The Christian encounter with reality, Yale University Press, New Haven, CT.
Sanneh, L., 1989, Translating the message: The missionary impact on culture, Orbis Books, Maryknoll, New York, NY.
Smith, J.K.A., 2016, You are what you love: The spiritual power of habit, Kindle edn., Baker Publishing Group, Grand Rapids, MI.
Sweet, L., 2009, So beautiful: Divine design for life and the church, Cook, Colorado Springs, CO.
Sweet, L., 2021, ‘From semiotic exegesis to contextual ecclesiology: The hermeneutics of missional faith in the COVIDian era’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 77(4), a6939. https://doi.org/10.4102/hts.v77i4.6939
Taylor, C., 2007, A secular age, Harvard University Press, Cambridge, MA.
Ukpong, J., 2013, ‘Inculturation theology in Africa: Historical and hermeneutical developments’, in I.A. Phiri & D. Werner (eds.), Handbook of theological education in Africa, pp. 530–542, Cluster, Dorpspruit.
Venter, R., 2022, Pandemic, theological sense-making and the Triune God, ongepubliseerde referaat by die jaarlikse TSSA, Bloemfontein.
Vosloo, R., 2009, ‘Calvin, the academy of Geneva and 150 years of theology at Stellenbosch: Historical-theological contributions to the conversation on theological education’, Studia Historiae Ecclesiasticae 35, 17–33, viewed 04 October 2024, from https://core.ac.uk/download/pdf/43167526.pdf.
Vosloo, R., 2015, ‘Time in our time: On theology and future-orientated memory’, Intree-rede by die Department Sistematiese Teologie en Ecclesiologie, Stellenbosch Universiteit, 05 Mei, 2015, viewed 04 October 2024, from https://blogs.sun.ac.za/inaugural-lectures/files/2019/05/InauguralLectureProfVosloo.pdf.
Wöll, S., 2019, ‘Shuffling narratives: Apocalypticism, postmodernity, and Zombies’, Anglica 29/1, pp. 87–107, viewed 14 Julie 2024, from https://www.researchgate.net/publication/331114575_Shuffling_Narratives_Apocalypticism_Postmodernity_and_Zombies.
WRK (Wêreldraad van Kerke), 2021, Saam na Lewe. Missionaliteit en evangelisasie in veranderende landskappe, Werkgroep vir Evangelisasie van die Algemene Sinode van die NG Kerk (Vertaal en verwerk deur Lourens Bosman), Pretoria.
Voetnotas
1. Sien https://www.team.org/about-us/team-our-values
2. Sien https://methodist.org.za/index.php/who-we-are/vision-mission/
|