About the Author(s)


Pieter Kruger Email symbol
Department of Systematic and Historical Theology, Faculty of Theology and Religion, University of Pretoria, Pretoria, South Africa

Citation


Kruger, P., 2024, ‘’n Teologie van Hoop vir die NG Kerk: ’n Vergete versugting?’, Verbum et Ecclesia 45(1), a3136. https://doi.org/10.4102/ve.v45i1.3136

Review Article

’n Teologie van Hoop vir die NG Kerk: ’n Vergete versugting?

Pieter Kruger

Received: 29 Feb. 2024; Accepted: 03 Apr. 2024; Published: 07 June 2024

Copyright: © 2024. The Author Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstrak

A theology of hope for the Dutch Reformed Church. A forgotten yearning? During Prof. Piet Meiring’s discussion of the Dutch Reformed Church’s ‘Year of Hope’ in 2001, he argued that the societal issues of reconciliation, poverty and moral regeneration on which the church focused that year, necessitated a theology of hope towards which theologians of different disciplines should contribute. In this article is explored whether to pursue such an endeavour more than two decades since the Year of Hope. Therefore, from a church historiographic viewpoint, aspects of Jürgen Moltmann’s ideas on a theology of hope within a context of injustices are revisited to assert their current relevance. In addition, more recent theological developments concerning the horizontal dimension of Christological hope within society are considered as well. In this regard reference is made to relevant ideas of the Emergent Church movement and its historical continuance. Reflecting on the current South African context and its socio-political, economic and environmental challenges, the need for a theology of hope is considered relevant to the church in order to establish credible relationships and engage strategically with society in need of hope itself.

Interdisciplinary implications: This article contains reviewed material of historical relevance and is, therefore, conducted within the field of Church Historiography. In further consideration of a Theology of Hope the opportunity arises for interdisciplinary collaboration of theological disciplines such as Systematic Theology and Practical Theology.

Keywords: Theology of Hope; Dutch Reformed Church; Jürgen Moltmann; emerging church; South Africa; social justice.

Inleiding

In Kruger se artikel ‘2001, die NG Kerk se Jaar van Hoop. Twintig jaar later’, word ’n kerkhistoriese oorsig gegee van die wyse waarop die tema van hoop in die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) deur die Jaar van Hoop ontsluit is en in die 20 jaar daarna gerealiseer het. Die Jaar van Hoop was ’n uitvloeisel van die werksaamhede van die ad hoc-kommissie vir Versoening, Armoede en Morele Herstel (VAM) wat deur die Algemene Sinode van 1998 daargestel is. Dit is aan die VAM-kommissie opgedra om vanaf ’n kerklike perspektief die probleme van armoede, versoening en moraliteit as komplekse en kritieke maatskaplike probleme binne die Suid-Afrikaanse konteks aan te raak en die NG Kerk met praktiese voorstelle in dié verband te dien. Hierdie opdrag sou die ideale van die Jaar van Hoop word, wat gedurende 2001 op verskillende wyses gerealiseer het in die vorm van amptelike kerklike byeenkomste, amptelike hulpmiddels aan gemeentes, projekte en regeringsvennootskappe. Met die bespreking van die Jaar van Hoop by die opening van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria op 29 Januarie 2001, het prof. Piet Meiring, voorsitter van die VAM-kommissie, in sy rede die nodigheid uitgewys van ’n Teologie van Hoop waaraan teoloë van elke dissipline moet meewerk. ’n Teologie van hoop was volgens Meiring se mening deel van die kerk se verkondigingstaak. Met verdere toeligting het Meiring verduidelik dat in die jare na die Tweede Wêreldoorlog ’n dinamiese koninkryksteologie ontwikkel het wat ’n geweldige invloed op die kerklike lewe uitgeoefen het. Hiervan was die Apostolaatsteologie oor die uitgaan van die evangelie in die wêreld deel en het dit ’n sterk invloed gehad op die ontwikkeling van ’n Teologie van Hoop. Jürgen Moltmann en etlike ander teoloë is in hierdie verband genoem (Kruger 2022:2–4).

Na afloop van die Jaar van Hoop is die bestaande doelwitte en projekte van die VAM-Kommissie oorgedra aan die NG Kerk se destydse Werkgroep Missionêre Diakonaat en ander bedieninge van die kerk, aangesien missionêre diakonaat (of diensgetuienis) die sentrum van die kerk se roeping geword het (Kruger 2022:5). Mettertyd sou die Taakspan Missionale Roeping en Taakspan Missionale Diakonaat die werksaamhede opneem en voortsit. Wat die tema van hoop per se betref, dui Kruger aan dat hoop telkens die afgelope 20 jaar in samehang met versoening, armoede en morele herstel op verskillende kerklike terreine ter sprake gekom het, veral by wyse van sinodale verslae en beleidsdokumente, projekte, werksgroepe en verhale van hoop wat verband hou met gemeentelike- en gemeenskapsprojekte. In Kruger se artikel is, buiten die behoefte aan hoop wat in 2021 ervaar is, ook die behoefte aan ’n Teologie van Hoop aangeraak, in aansluiting by Meiring se woorde van 2001, as vertrekpunt vir verdere nadenke omtrent die verwesenliking van hoop in die hedendaagse kerk en die Suid-Afrikaanse samelewing (Kruger 2022:13).

Hierdie artikel neem as vertrekpunt Meiring se opmerking omtrent ’n behoefte aan ’n Teologie van Hoop in die hedendaagse milieu. Is dit ’n relevante versugting uit die verlede wat opnuut aandag behoort te geniet? Eerstens het die artikel dus ten doel om met spesifieke verwysing na Moltmann die begronding en aktualisering van ’n Teologie van Hoop te belig. Hiermee vind nie ’n kritiese of prinsipiële beoordeling van Moltmann se Teologie van Hoop plaas nie, maar word die rasionaal daarvan, wat kerkhistories van belang is, aangeroer. Tweedens word meer resente ontwikkelinge bespreek waarin die kerkhistoriese relevansie en toepassing van (’n teologie van) hoop sentraal staan. Die verskynsel van die ontluikende kerk is hier van belang. Derdens word die werklikheid van ’n behoefte aan (’n teologie van) hoop in die NG Kerk teen die agtergrond van die Suid-Afrikaanse konteks bespreek. Die artikel is aangepak met ’n oorsig van primêre en sekondêre bronne wat boeke, artikels en voordrag insluit.

Om te besin oor ’n Teologie van Hoop kan tereg aangesluit word by Bauckham (1995:32) se vraag of sodanige herbesoek nie maar net ’n oefening in nostalgie is nie. Die antwoord op hierdie vraag vind ons in Meiring se opmerking dat teoloë van elke dissipline moet meewerk aan ’n Teologie van Hoop veral omdat dit deel is van die kerk se verkondigingstaak. Dit bly vir die kerk relevant. Dit is ook nie ’n unieke, moderne onderneming nie. Uit die patristieke era is die kerkvader Augustinus bekend as denker omtrent ’n Teologie van Hoop (Yuehua 2022:1). Die oomblik waarin hoop en vrese ontmoet, is die oomblik waar tot mense gespreek word (Bauckham 1995:105). Dit skep voortdurend die geleentheid vir nadenke oor die inhoud van hoop.

Moltmann se ontwikkeling van ’n Teologie van Hoop

In Bauckham (1995:43, 44) se beoordeling van Moltmann se Teologie van Hoop wys hy daarop dat Moltmann benadruk dat hoop in die moderne periode grootliks migreer het van die Christelike kerk na sekulêre bewegings van menslike hoop. Moltmann se teologiese werk gedurende die 1960’s was bedoel om hierdie skisma te oorbrug. Vervolgens word aandag gegee aan die gronde en aktualisering van hierdie teologie.

Gronde van ’n Teologie van Hoop

Moltmann (1975:45) dui aan dat ’n Christelike Teologie van Hoop nie ’n verskynsel is wat godsdienstig geïnterpreteer moet word nie, maar die onderwerp en motivering van die teologie op sigself is. Dit is gegrond op geloof en nie blote optimisme nie. Daarom is dit nie ’n teologie wat handel oor hoop nie, maar ’n teologie wat ontwikkel uit hoop op God, en die belofte van die komende God. ’n Teologie van Hoop interpreteer die Bybelse geskiedenis van beloftes betekenisvol binne die teenswoordige konteks van die Christendom se missie na die wêreld. Moltmann (1975:46) meen dat wanneer die Bybel gelees word as ’n boek omtrent God se hoop, die gewaarwording ontstaan dat dit ’n hoogs revolusionêre en selfs opruiende boek is. Die hoop wat ter sprake is, geld vir die hooplose en nie vir die optimis nie, vir die armlastige en nie vir die ryke nie, vir die diegene waarop neergesien word om ondanks verkleinering moedig voort te gaan, vir die onderdruktes om waardig te leef – dit alles só op die aarde soos dit sal wees in die hemel.

Bauckham (1995:30) dui aan dat in Moltmann se Teologie van Hoop die toekomstige eskatologiese teologie kontemporêr aangewend word sodat die Christelike geloof vir die moderne wêreld geloofwaardig en relevant kan wees. Bauckham meen verder dat Moltmann se interpretasie van die eskatologie sterk praktykgerig is deurdat Christelike hoop die motiverende krag agter die kerk se missionêre skakeling met die wêreld is – veral Christelike betrokkenheid by die proses van sosiale en politieke verandering. As ’n eskatologiese toekoms vir die kerk geopen word, open dit ook die kerk vir die wêreld en word die kerk die agent van eskatologiese beweging in die gemeenskap wat die wêreld rig op die komende koninkryk van God. Dit is volgens Bauckham (1995:31) die beweegrede hoekom Moltmann krities met die moderne wêreld omgaan en die kontemporêre geskiedenis beleef as ’n proses van konstante en radikale verandering waarin na ’n hoopvolle toekoms gesoek word. Dit skep die geleentheid vir die kerk om vanuit die eskatologiese Bybelse geloof deel te neem aan die moontlikhede vir verandering en te waak teen stagnasie.

’n Belangrike perspektief wat Bauckham (1995:31–32) aan die orde stel in die beoordeling van Moltmann se Teologie van Hoop is dat dit spreek tot die 1960’s se algemene optimistiese ingesteldheid. Sedertdien het nadenke omtrent hoop as sulks meer problematies geword. Utopiese hoop is in die jare hierna uitgedaag deur die realiteit van weerstand en konflik in ’n wêreld waar die verwagtinge van die vooruitstrewendes ten koste van die armes is, en die hoop van die armes die welvarendes bedreig. In die oorweging van Moltmann se Teologie van Hoop is dit duidelik dat hoop allermins ingebed is in die vlak grond van optimisme, maar in die teologie van die opstanding van Christus en die eskatologie. Volgens Bauckham (1995:36–37) vind hierdie teologie vir Moltmann volle waarde waar dit op aktiewe wyse die ongeregtighede van die hede blootlê en die hoop ondersteun van dié wat honger na verandering in die soeke na geregtigheid.

Aktualisering van ’n Teologie van Hoop

Die omvang van Moltmann se nadenke omtrent die aktualisering van ’n Teologie van Hoop binne ’n konteks van ongeregtighede en die soeke na geregtigheid kan nie in die artikel hanteer word nie, maar die volgende sub-afdelings word uitgelig as relevant vir moontlike verdere nadenke binne die NG Kerk.

Die etiek van Calvinisme

Moltmann (1975:120) verwys na reformasiegeloof binne die konteks van gereformeerde kerke as geloof in die voortdurende hervormende en vernuwende aktiwiteit van God. Dit behels ’n beweging van vernuwing van die geloof. Reformasie as sulks beteken die vernuwing van die kerk deur die werk van God. God se reformasie omvat die totale mens, die individu en sy verhoudinge in die kerk en samelewing. Moltmann meen dat die reformasie van dogma of leerstellings noodwendig deur die reformasie van die lewe gevolg moet word, want God se reformasie is ’n omvattende vernuwende aangeleentheid. Moltmann meen verder dat hierdie oortuiging uitdrukking vind in die Calvinistiese idee dat die volle openbare lewe onder die gesag van God staan. Hieruit ontwikkel ’n etiek wat nie by die private moraliteit van individue volstaan nie, maar wat die kultuur en ekonomie van die dag krities beoordeel, en gereed is tot politieke weerstand teen tirannie. Die wyse waarop Calvinisme die staat en sy konstitusies teologies binne die verbond van God plaas, bied vir Moltmann (1975:129–130) die morele sanksie om weerstand te bied teen die skending van die staat se grondwet. Wanneer ’n regering sy eie wette verbreek, verordeninge uitvaardig wat die grondwet weerspreek of ’n konstitusie daarstel wat die universele verklaring omtrent menseregte misken, spreek dit duidelik van tirannie en bied die gereformeerde tradisie volgens Moltmann ’n handelswyse vir die stryd – die oproep tot legitieme weerstand. Moltmann ag legitieme weerstand as ’n pertinente verpligting van Christene in die aanskoue van hedendaagse politieke dilemmas.

Die menslikheid van lewe en sterwe

Ten opsigte van dié tema fokus Moltmann (1975:171) op die samewerking tussen verskeie terapeutiese dissiplines in die mediese en sosiale sfere in die strewe na ’n omvattende en ongekwalifiseerde gevoel van redding – soteria – shalom. Hier is by uitstek ruimte vir die kerk van die huidige dag om betrokke te raak. Wat ons van redding in hierdie lewe verstaan, kom alleen deur geloof en hoop.

Politieke teologie

As Moltmann (1975:102) besin oor ’n politieke teologie as deel van die aktualisering van ’n Teologie van Hoop, toon hy dat verantwoordelike (omsigtige) teologiese kritiek op twee vlakke beoefen behoort te word, naamlik institusionele kritiek ten opsigte van kerklike instellings se plek in die lewe van die moderne samelewing en ideologiese kritiek as die kerk se refleksie na binne. Die kerk kan nie volstaan by die eie verstaan van die sosiale en politieke realiteite nie, maar in publiek verantwoordelike teologie staan dit bewustelik tussen die Christelik eskatologiese boodskap van vryheid aan die een kant en die sosio-politieke realiteite aan die ander kant. Hierdie teologie het geen verband met burgerlike godsdiens en die ideologiese begronding daarvan in ’n politieke teologie nie. Moltmann (1975:117, 118) maak dit duidelik dat in besinning omtrent ’n politieke teologie die Christelike geloof nie deur politiek verdun mag word of deur humanisme vervang mag word nie. Binne die raamwerk van politieke teologie fokus die Christelike hoop op die toekoms van die hooploses. Vir Moltmann dring die bevrydende herinnering aan die gekruisigde Jesus die Christelike kerk tot ’n kritiese beoefening van politieke teologie. Die kruis is die hoop vir die politiek van bevryding.

Bauckham (1995:104, 105, 106) beklemtoon dat Moltmann in Christelike hoop die inisiatief vir politieke verandering vind. Moltmann reduseer Christelike hoop egter nie tot iets wat deur die menslike aktiwiteit in die verloop van die geskiedenis realiseer nie. Inteendeel, ’n sleutelaspek is antisipasie waarin hoop en gehoorsaamheid gewek word deur die toekomstige koninkryk. Die doel is nie alleen om verandering ter wille van verandering te steun nie, maar om die moderne bewussyn van openheid, met die inisiatief tot verandering, in die rigting van die koninkryk van God te rig. Christelike hoop het te doen met die manifestasie van God se geregtigheid in ’n wêreld wat geken word aan lyding en ongeregtighede. Dit bring die hoop dat reg, vryheid en vrede oor onreg, onderdrukking en konflik sal heers. Daarom is dit volgens Bauckham (1995:106, 107) geen verrassing nie dat Moltmann in die beskrywing van die praktiese politieke implikasies van ’n Teologie van Hoop by die gesprek oor revolusie arriveer, aangesien sy simpatie gelê het by die 1960’s se talle bewegings van sosiale en politieke protes. Dit was bewegings wat radikale alternatiewe tot die status quo nagestreef het met klem op burgerregte en ’n anti-koloniale stryd. Op dieselfde wyse het Moltmann demokratiese sosialisme as die weg van verandering binne die Europese konteks gesien.

Wat egter deur Moltmann uitgelig word, is dat ’n Christen se solidariteit met enige politieke beweging ’n kritiese solidariteit moet wees (Bauckham 1995:111).

Hoop as ’n eksperiment

Moltmann (1975:187) is oortuig dat ’n Teologie van Hoop sistematies ontwikkel het uit die herontdekking van die Bybelse eskatologie aan die begin van die twintigste eeu. Gegrond op die Bybelse geskiedenis van beloftes en gerig op die verwagte koninkryk van God, kan die Christelike hoop sigself verantwoord te midde van die revolusies en die onderdrukking van die moderne wêreld. ’n Refleksie op hierdie verantwoordelike hoop toon nie alleen die basis van die Bybelse beloftes en verwagting nie, maar wys ook heen na die moderne geskiedenis van vryheid wat op die Reformasie gevolg het. Die tema van hoop en die toekoms is daarom nie van verbygaande aard nie. Dit is ’n essensiële tema van die Christelike geloof en liefde wat in die moderne konteks meer as ooit tevore moet uitspeel.

Moltmann (1975:187) verklaar treffend: ‘Hope is an experiment with God, with oneself, and with the history’. Elke nuwe begin bevat ’n surplus van hoop, want andersins sal niks nuuts begin word nie. Waar iets met hoop aangepak word, is die vooruitsig van nuwe ervarings. Tog sluit lewe in hoop ook risiko’s, gevaar en teleurstelling in. Daarom word gepraat van die eksperiment van hoop (Moltmann 1975:188). Hoop bevry die eksperiment van lewe van vooropgestelde idees en sekerhede en open dit vir die belewenis van lewe en dood. In die eksperiment van hoop, is hoop gesetel in Jesus en die evangelie en is daar ’n openheid vir die komende koninkryk en die belewenis daarvan deur die werk van die Heilige Gees. Hoe sekerder hierdie hoop word deur vertroue in die Vader, hoe meer solidariteit is daar met die versugtinge van die ongeredde wêreld. Hoop lei ons die lewe in – in die hele lewe in – waar geloof aangemoedig word en liefde versterk word. Die nodigheid om nuwe lewe en vryheid te ontsluit vir die hooplose, die onderdrukte, die sieke en die skuldige word orals erken (Moltmann 1975:188–189).

Ter afsluiting van hierdie afdeling is dit duidelik dat Moltmann ’n Teologie van Hoop sien realiseer binne ’n konteks van ongeregtighede en die soeke na geregtigheid. Verder is Christelike hoop in hierdie konteks vir Moltmann onontbeerlik omdat dit gerig is op die manifestasie van God se geregtigheid in ’n wêreld van ongeregtighede en die verwagting skep dat reg, vryheid en vrede oor onreg, onderdrukking en konflik sal heers. Die praktiese implikasie van ’n Teologie van Hoop, op Christelike hoop gegrond, is dat daar ’n praxis ontwikkel met ’n inisiatief en beweging tot verandering en bevryding in kontekste van ongeregtighede. Die Jaar van Hoop is juis in 2001 uitgeroep binne ’n konteks van armoede, sosiale spanning en morele verval. Die versugting na ’n Teologie van Hoop wat destyds uitgespreek is, het die noodsaak beklemtoon van interdissiplinêre teologiese besinning omtrent die genoemde komplekse maatskaplike probleme. Die versugting het ook die behoefte aan ’n kerklike praxis aangeroer waardeur die kerk bemagtig kon word om deel te neem aan ’n beweging van verandering en bevryding binne daardie genoemde konteks. Die relevansie van ’n Teologie van Hoop tans vir die kerk word in §4 bespreek. Die versugting daarna, asook die praxis daaromtrent, word immers deur die belewenis van die huidige lewenskonteks bepaal.

In aansluiting hierby word vervolgens oor meer resente teologiese ontwikkelinge besin waarin die relevansie en toepassing van hoop sleutelfaktore is.

Toepassing van ’n Teologie van Hoop in die resente verlede

Die klem op hoop binne ’n horisontale sosiale konteks het in die laaste jare veral neerslag gevind in die teologie van die sogenaamde ontluikende kerkbeweging (Emergent Church). Sowat ’n dekade gelede het dié beweging na vore gekom met die bedoeling om kerklike praktyke opnuut vanuit ’n Bybelse perspektief te omvorm of te reformeer sodat dit vir die postmoderne kultuur relevant kon wees. Alhoewel die frase Emergent Church deesdae minder gehoor word (ook in die Nederduits Gereformeerde [NG] Kerk), bestaan die impetus vir die ontluikende kerk steeds daar waar daar ’n behoefte is aan nuwe wyses waarop ’n geloofsgemeenskap uitdrukking kan gee aan hulle teenwoordigheid in gemeenskappe (De Haan 2022). Hieronder is enkele bydraes van denkers uit die beweging waarin oortuigings duidelik word wat korrespondeer met aspekte van ’n Teologie van Hoop, soos ontwikkel deur Moltmann.

Scandrette (2007:27) se bydrae tot die nadenke omtrent hoop word belig vanuit die perspektief dat Christene mense van hoop is by wie die gewaarwording is dat in die werk en boodskap van Jesus die potensiaal opgesluit is vir betekenisvolle genesing van elke dimensie van die lewe, met implikasies vir die hede en die toekoms. Denkers in die ontluikende kerk poog dus om met hulle bydrae ‘n verbetering te bring tussen oortuiging en praktyk, tussen die lokale en globale, tussen die individu se private sfeer en sy of haar plek binne die plaaslike gemeenskap en kultuur. Waar teologie en praktyk beter intergreer, is hernude klem op die evangelie se sosiale dimensies en raak dit sake aan wat wissel van gemeenskapontwikkeling tot globale geregtigheid. Dit vind ook uitdrukking in horisontale strukture en netwerke in gemeenskappe wat toeganklik is vir persoonlike en kollektiewe deelname om te besin oor werksgeleenthede, bestaansmiddele en ’n volhoubare ekonomie (Scandrette 2007:28).

Volgens Scandrette (2007:29–30) is daar dus ’n uitnodiging aan die kerk tot deelname aan die realiteit van die koninkryk van God waarin die etiek, leringe en gesag van Jesus ernstig opgeneem word in persoonlike en korporatiewe gehoorsaamheid. Die ontluikende kerk beklemtoon ’n herontdekking van Jesus se sosiale etiek en tasbare omgee wat ontwikkel moet word tot ’n globale bewustheid van behoeftes en geleenthede vir erbarming, geregtigheid en verdeling van bronne. Geïnspireer deur die Gees, en gemotiveer deur liefde, soek mense van hoop geregtigheid, rekonsiliasie, heling en herstel vir diegene wat siek, honger, dors, naak en alleen is en gevange sit.

Omtrent gemeenskappe van hoop skryf Maddock en Maddock (2007:82) dat ’n gemeenskap wat uitreik na diegene op die kulturele, politieke en sosio-ekonomiese periferie, ’n gevoel van diepgaande verlossing bewerk. Hulle gaan van dié standpunt uit dat verlossing meer is as vernuwing net op persoonlike vlak – dit is ’n kollektiewe ervaring. Só verstaan, dring verlossing Christene om húlle hoop in verband te bring met die hoop van die groter gemeenskap en word evangelisering en sending ook herdefinieer. Die verlossing wat die vrede bring waarvan die Skrif praat, word ook gevind in die dade van sorg, die verwelkoming van vreemdelinge en selfs protes teen die verval van die omgewing. In aansluiting hierby word verwys na die pleidooi van die Wêreldraad van Kerke (WRK) in die International Ecumenical Peace Convocation (2011) oor die rol van plaaslike gemeentes om menseregte, gendergeregtigheid, klimaatgeregtigheid, eenheid en vrede te bevorder. Deur hierdie deelname word kerke se legitimiteit in gemeenskappe verkry en is daar motivering in die stryd om geregtigheid en vrede (Keum 2023:42).

Die ontluikende kerk se horisontale verstaan van verlossing en die kerk se sosiale taak en roeping daarmee saam, bring uit die aard van die saak spanning met die bestaande hoofstroomkerke. Vir Condor (2007:99) word hierdie ekklesiologiese spanning gekarakteriseer deur ’n reeks ‘dramatic collisions’ wat verband hou met etiek, epistemologieë, teologie, sendingwerk, Bybelinterpretasie, leierskap, geestelike vorming en die aard van die Christelike gemeenskap. Condor (2007:100) dui aan waarin die spanninge of botsings voorkom, byvoorbeeld: in die bestaande modernistiese kerk is etiek absoluut, maar in die ontluikende postmodernistiese kerk is etiek kontekstueel; epistemologie is abstrak en hou verband met kritieke kennisstrukture van die bonatuurlike, maar is andersins tentatief en perseptueel; leierskap is hiërargies teenoor relasioneel; die basis van die geloofsgemeenskap word bepaal deur dogma en belydenis, terwyl geloofsgemeenskap andersins deur etiese en missionale oorwegings bepaal word. Condor (2007:103) is van mening dat die bestaande hoofstroomkerke hulle weg moet vind na die ontluikende kultuur om daardeur hulle missiologiese geloofwaardigheid te behou en te bly voortbestaan. Alhoewel daar ’n behoefte is aan die waarde en teenwoordigheid van die ontluikende kerk, word die vorming daarvan juis vertraag deur die spanninge en botsings met die bestaande hoofstroomkerke. Volgens Condor kan samewerking bewerkstellig word wanneer ’n kritiese analise van die hedendaagse kultuur plaasvind en teologiese dialoog die missio Dei met kreatiwiteit omarm.

Wanneer Bolger besin oor die ontluikende kerk se hoopvolle geloof toon hy aan dat die ontluikende kerk ’n sosiale beweging is. Bolger (2007:132) verreken dus die feit dat godsdiensbeoefening deur ’n gegewe gemeenskap se kultuur beïnvloed word. Deur die geskiedenis heen het die kerk die vorms en struktuur van die omliggende kultuur aangeneem. Dit is soms moeilik vir mense om hulle eie kultuurtendense te begryp ten opsigte van die plek daarvan in die geskiedenis en die verhouding daarvan met vormende kragte in die wêreld. Alhoewel dit die geval is, kan dit egter vir Christene van waarde wees om die toksiese aspekte te ken van die kultuur waarvan hulle deel is sodat alternatiewe waar nodig bedink kan word. As die kerk enigsins die heerskappy van God wil toon, moet dit juis bereid wees om die kritiek van die koninkryk van God teenoor die geldende kultuur (ook kerklik) te verreken. Daarby, as die kerk werklik wil dien, moet daar dinamiese interaksie wees met die omliggende kultuur op ’n wyse wat sin maak vir diegene wat hulle daar bevind (Bolger 2007:132).

Onder die oorhoofse tema van ’n hoopvolle weg vorentoe vir die ontluikende kerk, lewer Friesen en Keel onderskeidelik ’n bydrae. Friesen se bydrae fokus op ’n praktyk waarin hoop verskille omarm en die gesprek omtrent etiek dit nie buite rekening laat nie dat Jesus in sý sending mense genooi het tot die volheid van lewe – die volheid van die lewe wat te vinde is in die koninkryk van God. Hy het mense nie geroep om sekere idees of oortuigings aan te hang nie. Jesus het mense genooi om Hom na te volg in ’n sekere bestaanswyse in die wêreld (Friesen 2007:205). Vir Keel (2007:230) is die verskynsel van die ontluikende kerk dus ’n toepaslike alternatiewe poging om met die werklikheid om te gaan. Dit is ’n poging om die wêrelde waarin mense leef en aanbid in Christus te versoen, ter wille van die evangelie. ’n Kerk word benodig wat sy invloed kan laat geld in gemeenskappe anders as die kerke wat ingeburger geraak het in die moderne wêreld en dit bloot nadoen (Keel 2007:233).

Dit is ook duidelik dat die toepassing van ’n Teologie van Hoop nie sonder uitdagings is nie.

Hryniewicz (2007:9) postuleer dat die gevoel van hooploosheid aanleiding gee tot nadenke omtrent die rasionele gronde van hoop en die rol daarvan in mense se lewe. Die moderne tye word gekenmerk deur die stryd om ’n toekoms waarin mense met waardigheid kan bestaan en daarom is die vraag in watter mate die teorie omtrent die praxis van hoop menswaardigheid dien en bydra tot die mensdom se toekomstige vooruitgang. In nadenke oor hierdie gronde, wys Hryniewicz (2007:9–10) daarop dat hoop nie ’n Christelike uniekheid is nie, maar in alle mense leef en vir alle mense bedoel is. Dit vra uit die aard van die saak uitklaring van die universele koninkryk van God (wat die grond is vir die Teologie van Hoop) en ander nie-Christelike visies en konsepte van hoop. Alhoewel die Christelike hoop nie in stryd is met ander projekte of pogings om die mensdom se hoop op ’n meer menswaardige toekoms te bewerkstellig nie, is die vervulling daarvan meer as net ’n humanistiese ideaal. Die Christelike hoop is nie verwyder van aardse realiteite nie, maar is in staat om menslike verwagtinge, behoeftes en drome te deursyfer. Daarom plaas Christelike hoop ook ’n konstante appèl op die realisering van hoop hier en nou. Dialoog oor religieuse hoop en sekulêre hoop, asook oor rasionele en filosofiese benaderings tot die toekoms, word al hoe belangriker. Wat nie misken kan word nie, is dat die wêreldsituasie vereis dat die Christendom aktief betrokke moet wees in die proses om die realiteit die vorm, te heel en te verander. Daar is genoeg inspirasie daarvoor in Christelike hoop (Hryniewicz 2007:11). Die dialoog oor sekulêre hoop en Christelike hoop bring op sigself uitdagings. Wat sekulêre visies vir die toekoms en historiosofiese hoop vir rekonsiliasie, geregtigheid en vryheid betref, meen Hryniewicz (2007:14), het die geskiedenis geleer dat menslike wilskrag en beskikbare middele nie die gaping tussen ideaal en realiteit kan oorbrug nie. Daar bestaan dus spanning tussen wat is en wat behoort te wees. Sodoende ontstaan ’n konstante etiese dringendheid om in hierdie verband, wat van historiese belang sal wees, sukses te behaal. Vir die Christelike Teologie van Hoop bestaan ’n hindernis egter daarin dat die teoretici van eietydse historiosofie nie daartoe geneë is om nader aan die godsdienstige hoop, met kulminasie in die koninkryk van God, te beweeg nie. Die Christendom se teologiese uitgangspunte en evangelisasiemetodes is self vir hierdie situasie verantwoordelik. Te dikwels het die kerk ’n moraliserende aanslag geneem waarvolgens die getroues gelei is na redding op ’n weg van reëls en voorskrifte. Daarby het leringe oor die eskatologiese gebeure vrees ontketen met die bedoeling om gewetens te ontroer en sondaars tot bekering te roep (Hryniewicz 2007:15).

Hoop se taak is egter om ’n persoon gedurig te dring tot ’n ongedwonge samewerking met God en om deur die aanwending van menslike talente mee te werk aan die vorming van ’n toekoms met ’n waardige bestaan. Hoop se geloofwaardigheid lê nie in teoretiese dialoog of teologiese debatte nie, maar in die alledaagse praxis van gelowiges. Is daar tekens van sodanige hoop sigbaar in ons gemeenskappe? Reflekteer teoloë sistematies oor menslike hoop, twyfel, oorwinnings en stryd? Hierdie vrae is ook vir die NG Kerk relevant en bied geleentheid tot teologiese nadenke en die ontwikkeling van volhoubare bedieninge wat hoop bring. Die lewe as sulks daag ons voortdurend uit om te besin oor vrese en lyding, broosheid en verganklikheid. Al wat die gelowiges te doen staan, is om die tekens en simbole van God se koninkryk bekend te maak en met die hoop te leef vir universele rekonsiliasie en ’n allesomvattende gemeenskap met mense. Ons glo immers dat daar ’n dag kom wanneer God álles vir alles sal wees (1 Kor 15:28). Dit is die Christelike respons op die groeiende skeptisisme en hooploosheid van die tyd (Hryniewicz 2007:15–16). Dit is juis die universaliteit van hoop wat kan bydra tot die verandering van die wêreld.

Ter afsluiting: ’n Gesprek oor hoop bly relevant, want die stryd vir ’n toekoms waarin mense met waardigheid kan bestaan, is blywend. Daarom word die kerk van die huidige dag ook uitgedaag om aktief betrokke te wees by die vorming, heling en verandering van die realiteit. In hierdie afdeling is gefokus op denkers van die ontluikende kerk se besinning oor die relevansie en toepassing van hoop. Dat Christelike hoop die sosiale dimensies van die lewe moet impakteer en sake aanraak wanneer geregtigheid moet geskied, is ’n prominente redenasie. Verder is aangedui dat daar dinamiese interaksie tussen die kerk en die omliggende kultuur moet wees as voorvereiste dat die kerk werklik diensbaar sal wees. Dit sluit in dat die kerk die heerskappy van God moet toon en daarom krities teenoor die geldende kultuur staan. Hierdie nadenke toon duidelike ooreenkomste met Moltmann se Teologie van Hoop.

Vervolgens word die situasie van die NG Kerk binne die groter Suid-Afrikaanse samelewing beskou en besin oor die noodsaak van ’n Teologie van Hoop binne hierdie konteks.

Relevansie van ’n Teologie van Hoop binne die NG Kerk

Die vraag is of die relevansie van die voorgaande vir die NG Kerk binne die konteks van die hedendaagse Suid-Afrika geld. Bied dit genoeg rede om aandag te gee aan Meiring se destydse versugting na ’n Teologie van Hoop binne die NG Kerk?

In antwoord op dié vrae word verwys na Roland Henwood (2023) se voordrag of referaat by die NG Kerk se Algemene Sinode van 2023 waaruit die noodsaak en relevansie van besinning omtrent ’n Teologie van Hoop opnuut blyk. Met ’n blik op die wêreld in 2023 het Henwood die vormende faktore van post-COVID 19, oorloë in die Oekraïne en die Midde-Ooste en geo-politieke verwikkelinge uitgewys. Hy het ook die wêreld se kernuitdagings gelys: fopnuus en disinformasie; kapitalisme as sisteem wat deur mislukking gekonfronteer word; die mislukking van talle regerings; vrees vir die impak van tegnologie en die era van kunsmatige intelligensie; ekologiese, omgewings-, en klimaatsverandering. Teen hierdie globale agtergrond belig Henwood Suid-Afrika se politieke situasie en wys daarop dat vertroue in die regering afgeneem het weens interne en eksterne beleidsonsekerhede, institusionele agteruitgang, swak regering en toenemende konflik in die parlement (deels weens kompeterende dominante elites in die regerende party). Henwood bespreek ook die sosio-ekonomiese faktore wat onmiddellike en toekomstige bedreiging vir Suid-Afrika inhou: die agteruitgang van die demokrasie en grondwetlikheid; vervreemding van die burgery en sosiale fragmentasie; onsekerheid oor normes en waardes; ekonomiese stagnasie en agteruitgang; stygende armoede, ongelykheid en werkloosheid; toenemende vlakke van misdaad en geweld; omgewingskrisisse. Volgens Henwood is die potensiaal vir gewelddadige konflik teen hierdie agtergrond nie uitgesluit nie. Hierdie konteks spreek van talle ongeregtighede waarbinne sake soos versoening, armoede en morele herstel steeds aandag vereis.

In nog ’n beskouing van die Suid-Afrikaanse konteks in 2024 bespreek Von Widdern (2024) die grootste risiko’s wat Suid-Afrika in die gesig staar. Hy plaas politieke spanning boaan die lys en wys op die noodsaak van ’n politieke kultuur van deursigtigheid en insluiting. Dan volg die tikkende tydbom van agteruitgang by staatsbeheerde entiteite (Eskom e.a.) waarvoor ’n omkeerstrategie vereis word wat bestuurshervorming, aanspreeklikheid, finansiële volhoubaarheid en privaatsektorvennootskappe insluit. Agteruitgang is ook die geval by talle plaaslike owerhede, wat weens swak regering, dienslewering en ontwikkeling in die wiele ry. Suid-Afrika se toenemende afhanklikheid van China as ’n handelsvennoot is ’n risiko, want dit lei tot ’n gebrek aan handelsdiversifisering wat nodig is as buffer teen die invloed van die ekonomiese skommelinge in dié land. Von Widdern wys ook op klimaatsverandering as ’n wesentlike bedreiging vir Suid-Afrika en die nodigheid om pro-aktief te investeer in volhoubare landbou- en waterbesparende tegnologie, asook hernubare energiebronne.

Wat Von Widdern egter duidelik maak, is dat daar ’n dringende behoefte bestaan aan innoverende en samewerkingspogings waar belanghebbers oor alle sektore sterk vennootskappe moet smee. Om ’n holitiese benadering tot hierdie uitdagings te verseker moet die regering, private ondernemings, akademici en die burgerlike samelewing by hierdie vennootskappe betrek word. Volgens Von Widdern is dit tyd om op te tree om beleid te beïnvloed, besluitneming te rig en Suid-Afrika te stuur na volhoubare groei en stabiliteit. Hiervoor is individuele en organisatoriese stemme, wat die nodige hervormings beslissend kan voorstaan en bepleit, onontbeerlik. Dit skep dus uit die aard van die saak ruimte vir die NG Kerk om op hierdie vlakke betrokke te raak deur ’n politieke teologie wat ’n gesig van hoop na die wêreld draai en, waar nodig, vanuit die Calvinistiese verbondsbeskouing die morele sanksie vind om weerstand te bied teen die staat wat sy eie grondwet en konstitusies ondermyn.

Dit is opvallend dat in die inleidende woorde van die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) se verslag, wat gedien het by die Algemene Sinode van 2023, dieselfde politieke en sosio-ekonomiese sake opgehaal word wat reeds, met verwysing na Henwood en Von Widdern, aan die orde gestel is. Volgens die verslag het hierdie dinge die moraal van die Suid-Afrikaanse burgers tot nuwe laagtepunte laat daal. Dit is ook opmerklik dat gevolglik verklaar word dat die NG Kerk binne ekumeniese geledere deelgeneem het aan publieke protes teen magsvergrype, swak regering en onvanpaste beleide. Die ASM is egter van mening dat die kerk ‘beter as ooit’ verstaan watter verskil die kerk kan maak deur getuienis te lewer omtrent Christus, die Vredevors en Koning. Daarom is die gebed vir die Algemene Sinode se sitting van 2023 en die termyn daarna dat Christus die kerk:

[H]elder en duidelik sal lei en gebruik met die oog op die aanbreek van sy koninkryk in duisende lewens en lande en wêrelde, sodat God al die eer daarvoor kan ontvang. (p. 32)

Dit is ’n gebed wat sprekend is van die versugting na ’n Teologie van hoop. Die moontlikheid om ’n Teologie van Hoop te aktualiseer bestaan juis in die NG Kerk se scenariobeplanning oor die toekomsverwagtings wat sedert 2019 se Algemene Sinode momentum gekry het en in die ASM se formulering gekulmineer het: ‘Ons droom van ’n netwerk van inklusiewe gemeentes, wat op voetsoolvlak, vanuit God se liefde, diensbaar is in ons gemeenskappe’ (Agenda 2023:35). Dit eggo die WRK se verklaring dat in elke geo-politieke en sosio-ekonomiese konteks die kerk geroep word tot diakonia wat niks anders is nie as om die geloof en hoop van die geloofsgemeenskap uit te leef en te getuig van wat God in Jesus Christus gedoen het (Keum 2023:43). Daarby het die ASM in ’n verklaring opnuut die waardes van menswaardigheid, geregtigheid en omgee in die huidige tydvak en konteks bevestig en ’n oproep gerig aan lidmate van die NG Kerk om hulle te verbind tot die stryd teen korrupsie en misdaad en te bid vir ’n wending ten goede in ons gemeenskappe (Agenda 2023:55–56). Sodanige oproep korreleer met Moltmann se oortuiging dat die gereformeerde tradisie ruimte vir die oproep tot legitieme weerstand bied. Met rede kan die skrille kontras beklemtoon word tussen die vele teensprake met die Suid-Afrikaanse werklikheid en die verwagtinge van die beloofde toekoms by diegene wat hulle hoop in Christus plaas. As hoop in Christus die kerk se bron is vir die realisering van geregtigheid, is die tyd sekerlik ryp vir nuwe nadenke omtrent ’n Teologie van Hoop.

Saaiman (2020:100, 101) beoordeel Moltmann se Teologie van Hoop uit vele hoeke. Toegespits op die Suid-Afrikaanse konteks vra hy ook na die verhouding wat bestaan tussen hoop wat Christologies gevorm is en sosiale uitdagings soos armoede, ongeregtigheid, swak regering en ongelykheid. Dit word uitgewys dat hoop (beliggaam deur Christus self) meer is as optimisme of fantasie, maar dat hierdie hoop spesifieke temas aktief beklemtoon in ’n poging om transformasie te weeg te bring. Hierdie temas moet interdissiplinêr hanteer word, in gesprek met die teologie, soos Von Widdern dit ook uitgewys het. Dit skep geleentheid vir die kerk.

’n Saak wat hiermee saamhang, is Moltmann se gedagte van verantwoordelike burgerskap wat die rol van Christene beklemtoon om die heerskappy van God te ondersteun. Binne die konteks van ’n demokrasie, veronderstel dit ook ’n kerk wat op ’n aktiewe en betroubare wyse betrokke is by die hele samelewing met ’n boodskap wat transformerend en bevorderend is. Dié boodskap moet ook betrekking hê op die stryd om ekonomiese geregtigheid en die uitbuiting van mense. Dit moet aandag gee aan die stryd om menswaardigheid en politieke onderdrukking. Dit moet spreek van solidariteit met mense wat vervreemd voel en met diegene wat stry teen wanhoop. Sonder sosiale geregtigheid is daar geen politieke vryheid nie en sonder politieke vryheid kan die gevoel van vervreemding nie afgeskud word nie. En sonder kulturele identiteit is daar nie persoonlike hoop nie (Saaiman 2020:106–107).

Met verdere fokus op transformasie wys Saaiman (2020:112–113) op Moltmann se beskouing dat ware transformasie handel oor die betoning van inskiklikheid teenoor God se weë en wyses, met die verwagting dat die hele wêreld omvorm sal word in die koninkryk van God. Dit is ook vervleg met God se teenwoordigheid, wat op ’n besondere wyse deur Christus geopenbaar word en deur wie ’n nuwe toekoms van hoop en transformasie ontsluit is. Wat die toepaslikheid hiervan betref, verwys Saaiman na Botman wat transformasie as ’n ekumeniese en korporatiewe proses ag om die Suid-Afrikaanse samelewing te bring van verdeeldheid na eenheid en van vrees en misdaad na gemeenskaplikheid en bevryding, gestu deur die kragte van morele aanspreeklikheid, geregtigheid en menswaardigheid. Die antropologiese implikasie van transformasie, wat Christologies ingebed is, is dat dit verband hou met die morele en etiese optrede van Christus wat menslike bevryding van bindende realiteite inspireer. Saaiman vra tereg of hoop op hierdie wyse gewek kan word binne die gekompliseerde en sensitiewe konteks van Suid-Afrika. Vir Saaiman lê die plig om hoop te skep by die kerk (en gelowiges), want dit het as gemeenskap die opgelegde verantwoordelikheid om die wil van God te doen en in die voetspore van Christus te volg.

Meiring se opmerking van 2001 omtrent ’n behoefte aan ’n Teologie van Hoop is gemaak teen die agtergrond van die brandende kwessies van versoening, armoede en morele herstel wat die NG Kerk op daardie tydstip as wesentlik beskou het. Gegewe Moltmann se oortuiging dat ’n Teologie van Hoop binne ’n konteks van ongeregtighede en die soeke na geregtigheid aktualiseer, is dit duidelik dat Meiring se opmerking vir die teenswoordige ’n relevante oproep is.

Slot

Gemotiveer deur prof. Piet Meiring se opmerking in 2001 oor die nodigheid van ’n Teologie van Hoop vir die kerk van die dag, is in hierdie artikel besin oor die relevansie hiervan binne die huidige Suid-Afrikaanse konteks.

Met spesifieke verwysing na Moltmann is die begronding en aktualisering van ’n Teologie van Hoop belig. Wat na vore gekom het, is dat Moltmann hoop grondves op die belofte van die komende koninkryk van God. Vir Moltmann moet die toekomstige eskatologiese teologie kontemporêr aktualiseer om geloofwaardig en relevant te wees in die moderne wêreld. Daarom is op die belangrike praktiese dimensie daarvan gewys wat vir Moltmann regverdiging bied vir aktiewe Christelike betrokkenheid by die blootlegging van sosiale ongeregtighede en as alternatief die ondersteuning van sosiale verandering wat strewe na geregtigheid. Verder is die kerk by name die agent van eskatologiese beweging in die gemeenskap wat die wêreld rig op die komende koninkryk van God. Volgens Moltmann bied die Calvinistiese oortuiging dat die volle openbare lewe onder die gesag van God staan, juis hierdie geleenthede. Binne die ruimte van ’n Teologie van Hoop is plek vir verantwoordelike publieke en politieke teologie.

Die bedoeling met die artikel is ook om resente nadenke omtrent die relevansie en toepassing van (’n Teologie van) Hoop te ondersoek. In die teologie van die ontluikende kerkbeweging (Emergent Church) het hoop in die laaste jare binne ’n horisontale sosiale konteks neerslag gevind. Een aspek van hoop waaraan aandag gegee is, is die hernude belang van die werk en boodskap van Jesus vir betekenisvolle genesing van elke sosiale dimensie van die lewe – in die hede en die toekoms. Nog ’n aspek is dat verlossing ook ’n kollektiewe dimensie het waarvolgens Christene húlle hoop in verband bring met die hoop van die groter gemeenskap. Dit raak ’n verdere aspek van hoop aan in dié sin dat die omliggende kultuur (sosiaal en kerklik) krities geanaliseer word teen die maatstaf van God se koninkryk om sodoende alternatiewe vir die toksiese elemente van die geldende kultuur te bedink. Dan sluit hoop die moontlikheid in om verskille te omarm en versoening in Christus te bewerkstellig ter wille van die evangelie. Dit is duidelik dat die realisering van hoop binne die verstaanveld van die ontluikende kerkbeweging ’n immanente sosiale dimensie het waarin ongedwonge met God saamgewerk word om ’n toekoms met ’n waardige bestaan te vorm. Dit geld ook vir die kerk van die huidige dag. Hieroor moet teoloë sistematies reflekteer.

Laastens is die werklikheid van ’n behoefte aan ’n Teologie van Hoop in die NG Kerk bespreek. Om die behoefte te bepaal, is die huidige situasie in Suid-Afrika geskets. Dit is ’n problematiese konteks gekenmerk deur sosiale ongeregtighede en uitdagings op talle vlakke van die samelewing (en selfs op ekologiese vlak). Stemme uit verskillende oorde word opnuut gehoor oor ’n behoefte aan ’n holistiese benadering tot hierdie uitdagings. Hiervoor is sterk vennootskappe uit verskillende sektore nodig – onder meer uit die burgerlike samelewing waar die kerk gesetel is. Die behoefte aan hoop is ’n werklikheid in Suid-Afrika. Die aanmoediging aan die (NG) kerk is om (’n teologie van) hoop te ontwikkel terwyl spesifieke temas aangeroer word in ’n poging om by te dra tot die holistiese interdissiplinêre benadering tot transformasie in die huidige konteks. Alhoewel die nodigheid duidelik blyk, raak die artikel nie die praktiese wyse aan waarop die ideale behoort te realiseer nie. Dit verg verdere nadenke. Dat daar ook ’n duidelike oproep kom tot die kerkgemeenskap om die ideale van ’n Teologie van Hoop aktief te bevorder, word weens die fokus van die artikel nie aandag gegee aan lidmate se deelname aan pogings tot realisering daarvan nie.

Ter afsluiting: met verwysing na ’n lesing van Moltmann op 90-jarige ouderdom by die Ekumeniese Sentrum in Geneve, skryf Brown (2016) dat hoop in die koms van God vir Moltmann, 50 jaar na sy publikasie Theology of hope steeds ’n krag tot verandering van die wêreld was. Tydens die lesing het Moltmann opgemerk dat hy met Theology of Hope deelgeneem het aan die algemene herleiding van die teologie waarin hy, soos ander teoloë van sy generasie, afgewyk het van die ingekeerde teologie gerig op die kerk en ’n politieke teologie met ’n uitsig na die wêreld ontwikkel het. Brown (2016) beklemtoon opnuut Moltmann se oortuiging dat diegene wat hulle hoop in Christus plaas, ly wanneer hulle nie met die realiteit soos dit is, kan voortgaan nie. Hulle begin dit teenspreek. Vrede met God beteken konflik met die wêreld, want die verwagting van die beloofde toekoms staan in skrille kontras teenoor elke onvervulde teenswoordige oomblik. Sodanige hoop maak van die kerk die bron van voortdurende nuwe impulse tot realisering van geregtigheid, vryheid en menslikheid. Dit was die boodskap in die 1960’s en dit is steeds relevant.

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenisse is wat die skryf van hierdie artikel nadelig kon beïvloed nie.

Outeursbydrae

P.K. is die enigste outeur van hierdie navorsingsartikel.

Etiese oorwegings

Hierdie navorsingsartikel het alle etiese standaarde gevolg vir navorsing sonder direkte kontak met, of deelname van mense.

Befondsing

Die outeur het geen finansiële ondersteuning vir die navorsing, outeurskap en/of publikasie van hierdie navorsingsartikel ontvang nie.

Databeskikbaarheidsverklaring

Datadeling is nie van toepassing op hierdie navorsingsartikel nie omrede geen nuwe data geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die menings en sienings wat hierdie navorsingsartikel bevat, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde instelling, befondser, agentskap of dié van die uitgewer nie. Die outeur is verantwoordelik vir hierdie navorsingsartikel se inhoud.

Literatuurverwysings

Algemene Sinode, 2023, Agenda van die agtiende Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Boksburg, pp. 1–404, 15–20 Oktober.

Bauckham, R., 1995, The theology of Jürgen Moltmann, T&T Clark Ltd., Edinburgh.

Bolger, R., 2007, ‘Following Jesus into culture. Emerging church as social movement’, in D. Pagitt & T. Jones (eds.), Emergent manifesto of hope, pp. 131–139, Baker Books, Grand Rapids, MI.

Brown, S., 2016, 50 years after theology of hope, Jürgen Moltmann’s vision continues to inspire, 10 February 2016, viewed 23 November 2023 from https://www.oikoumene.org/news/50-years-after-theology-of-hope-jurgen-moltmanns-vision-continues-to-inspire.

Condor, T., 2007, ‘The existing church/emerging church matrix. Collision, credibility, missional collaboration, and generative friendship’, in D. Pagitt & T. Jones (eds.), Emergent manifesto of hope, pp. 97–107, Baker Books, Grand Rapids, MI.

De Haan, P., 2022, What happened to the Emergent Church?, viewed 08 January 2024, from https://www.peterdehaan.com/christianity/emergent-church/?amp=1.

Friesen, D.J., 2007, ‘Orthoparadoxy. Emerging hope for embracing difference’, in D. Pagitt & T. Jones (eds.), Emergent manifesto of hope, pp. 201–212, Baker Books, Grand Rapids, MI.

Henwood, R., 2023, Stand van sake in Suid-Afrika: ’n Politieke ontleding, Voordrag gelewer by die Algemene Sinode van die NG Kerk se sitting op 17 Oktober 2023, Ongepubliseer, Henwood is verbonde aan die Departement Politieke Wetenskappe van die Universiteit van Pretoria, 29p, Boksburg.

Hryniewicz, W., 2007, The challenge of our hope: Christian faith in dialogue: Polish philosophical studies VII, Cultural heritage and contemporary change series IVA, Eastern and Central Europe, vol. 32, The Council for Research in Values and Philosophy, Washington, DC.

Keel, T., 2007, ‘Leading from the margins. The role of imagination in our changing context’, in D. Pagitt & T. Jones (eds.), Emergent manifesto of hope, pp. 225–233, Baker Books, Grand Rapids, MI.

Keums, J.S., 2023, ‘Saam na die lewe: Sending en evangelisasie in veranderde landskappe, ’n Verklaring van die Wêreldraad van Kerke se Kommissie vir Wêreldsending en Evangelisasie’, in Afrikaans vertaal deur Lourens Bosman. ’n Publikasie van die Werkgroep vir Evangelisasie van die Algemene Sinode van die NG Kerk, pp.7–57, CLF Uitgewers, Wellington.

Kruger, P., 2022, ‘2001, Die NG Kerk se Jaar van Hoop. Twintig jaar later: ’n Kerkhistoriese oorsig’, Verbum et Ecclesia 43(1). https://doi.org/10.4102/ve.v43i1.2401

Maddock, S. & Maddock, G., 2007, ‘An ever-renewed adventure of faith. Notes from a community’, in D. Pagitt & T. Jones (eds.), Emergent manifesto of hope, pp. 79–88, Baker Books, Grand Rapids, MI.

Moltmann, J., 1975, The experiment hope, transl. M. Douglas Meeks, Fortress Press, Philadelphia, PA.

Saaiman, G.M., 2020, Hope incarnate: A systematic theological investigation in conversation with Jürgen Moltmann and Russel Botman, Stellenbosch University, Stellenbosch, dissertation – MTh, viewed 15 January 2024, from https://hdl.handle.net/10019.1/107877.

Scandrette, M., 2007, ‘Growing pains. The messy and fertile process of becoming’, in D. Pagitt & T. Jones (eds.), Emergent manifesto of hope, pp. 21–32, Baker Books, Grand Rapids, MI.

Von Widdern, V., 2024, The top 5 risks SA faces in 2024. And various ‘curve balls’ where vigilance is important, 03 January 2024, viewed 15 Januarie 2024 from https://www.moneyweb.co.za/moneyweb-opinion/soapbox/the-top-5-risks-sa-faces-in-2024/.

Yuehua, C., 2022, ‘On Augustine’s theology of hope: From the perspective of creation’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 78(4), a7878. https://doi.org/10.4102/hts.v78i4.7878



Crossref Citations

No related citations found.