Article Information

Authors:
Mary Anne Plaatjies van Huffel1
Johan M. Van der Merwe1

Affiliations:
1Department of Church History and Polity, University of Pretoria, South Africa

Correspondence to:
Mary Anne Plaatjies van Huffel

Postal address:
Private Bag X20, Hatfield, Pretoria 0028, South Africa

Dates:
Received: 23 Feb. 2012
Accepted: 04 Oct. 2012
Published: 04 Dec. 2012

How to cite this article:
Plaatjies van Huffel, M.A. & Van der Merwe, J.M., 2012, ‘Die reis met kerkeenwording tussen die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika en die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika’, Verbum et Ecclesia 33(1), Art. #724, 7 pages. http://dx.doi.org/10.4102/
ve.v33i1.724

Copyright Notice:
© 2012. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Die reis met kerkeenwording tussen die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika en die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika
In This Original Research...
Open Access
Abstract
Inleiding
Die kerkregtelike stryd om kerkeenwording
Beswaar teen voorgenome kerkeenwording
Besluite van die Nederduits Gereformeerde Kerk in Afrika Algemene Sinode 1991
Hofgeding oor kerkeenheid
Slotsom
Erkenning
   • Mededingende belange
   • Outeursbydrae
Literatuurverwysings
Abstract

The journey to church unification between the Uniting Reformed Church in Southern Africa and the Dutch Reformed Church in Africa. The article gives a historical overview of judicial problems that the Dutch Reformed Church (DRMC) and the Dutch Reformed Church in Africa (DRCA) encountered in their journey to church unification. On 14 April 1994 the DRMC and the DRCA merged and the Uniting Reformed Church in Southern Africa (URCSA) came into being. Firstly, attention is given to a historical overview of the unification process. Secondly, the resolutions of the General Synod of the DRCA (1991), the judicial problems that surfaced shortly after the unification between the DRMC and the DRCA, the objections against the unification process and the lawsuit that followed, will be attended to. The unification between the DRMC and the DRCA was tested in court and in 1998 the Supreme Court gave judgment in favor of the DRCA. The verdict indicated that all decisions with regards to church property were ultra vires and that the DRCA as a legal corporate entity remains. The article concludes with a few legal aspects that may be derived from the judgement. The verdict highlights the administration of justice according to established rules and principles, namely that a juristic person cannot be deprived of life, liberty or property without appropriate legal procedures and safeguards. The article proposes that Reformed churches in the South African context should seriously take cognisance of the judgement. This article attempts to identify the important criteria for and characteristics of administration of justice with regard to church unification.

Inleiding

Die artikel gee ’n historiese oorsig oor die kerkregtelike stryd tussen die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika (NGKA) en die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA) vanaf 1966. Op 14 April 1994 het die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGSK) en die NGKA verenig en het die VGKSA tot stand gekom (Acta VGKSA Algemene Sinode 1994:282). Op hierdie datum het die NGSK en die NGKA juridies ontbind en is die twee kerke tot ’n nuwe organisasie met volle regspersoonlikheid verenig (Skema VGKSA Algemene Sinode 1994:39). Hierdie eenwording het tot ’n kerkskeuring en etlike hofsake, wat in die guns van die NGKA beslis was, gelei. Die artikel poog om aan te dui hoe die kerk soortgelyke probleme op die weg na eenwording in die toekoms kan vermy, deur onder andere op die uitspraak, asook op die regsaspekte wat daaruit afgelei kan word, ag te slaan.

Die kerkregtelike stryd om kerkeenwording

In 1966 is ’n ad hoc komitee, bestaande uit die drie verteenwoordigers van die vier kerke, te wete NGSK, NGKA, Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) en die Reformed Church in Africa (RCA) saamgestel (Acta NGSK 1966:289). Die komitee het op 26 Oktober 1966 in Pretoria vergader. Die vergadering kan beskou word as die eerste Gesamentlike Gesprekskommissie met betrekking tot kerkeenwording. Die ad hoc komitee het voorgestel dat die Federale Raad met ’n Algemene Sinode vervang word (Skema NGSK 1978:54–56). Die NGSK Sinode (1970 en 1974) was teen die daarstelling van ’n oorkoepelende sinode gekant. Hulle het hul ten gunste van kerkeenheid uitgespreek (Acta NGSK 1970:307; Acta NGSK 1974:382). Die Algemene Sinode van die NGKA het in 1975 die begeerte uitgespreek om die RCA, NGK en NGSK tot een kerk te verenig en het dit aan die Algemene Sinodale Kommissie (ASK) opgedra, met die oog daarop om met die genoemde kerke in verbinding te tree (Acta NGKA 1975:253). Op 23 Maart 1978 het die Federale Raad met ’n tweederdemeerderheid ten gunste van strukturele eenheid in die NGK-familie gestem. Die Algemene Sinode van die NGKA (1987) het opdrag aan die moderatuur gegee om indringend gesprekke met bogenoemde kerke oor kerkeenheid te voer (Acta NGKA 1987:388). Gedurende Oktober 1989 het die NGSK en die NGKA ’n Gesamentlike Gesprekskommissie, bestaande uit die onderskeie moderature en ’n gelyktal adviseurs van beide kerke, gevorm met die oog op kerkeenwording (Acta NGKA 1994:6; Skema NGSK 1994:6). Die Gesamentlike Gesprekskommissie het onder andere aandag aan die voorbereiding van ’n Konsep Kerkorde (Skema VGKSA 1994:19) gegee. Uit die beraadslaging is ’n verslag met aanbevelings opgestel wat op 11 September aan die gemeentes van beide die NGKA en NGSK gestuur is om Kerkrade sodoende die geleentheid te bied om inspraak in die voorgestelde proses van eenwording te kon hê (Skema VGKSA 1994:8). Die Kerkrade is versoek om die verslag te bestudeer en teen 31 Januarie 1990 op die aanbevelings te reageer (Skema NGKA 1990:233). Die reaksie was power. Die sperdatum is tot 28 Februarie 1990 verleng. Die Gesamentlike Gesprekskommissie het daarna aanvaar dat Kerkrade wat nie reageer nie geen besware teen die voorgestelde eenwording het nie (ibid:221). Op die Buitengewone Sinode van die NGKA (1990) is die Konsep Kerkorde punt vir punt in behandeling geneem en as grondslag vir die kerkeenheid tussen die NGSK en die NGKA goedgekeur. Met betrekking tot die insluiting van die Belydenis van Belhar, is besluit om dit op die Stigtingsinode in die Konsep Kerkorde te voeg (ibid:221). Op die Sinode van die NGSK (1990) is al die aanbevelinge van die Gesamentlike Gesprekskommissie goedgekeur. Slegs 13 NGSK-gemeentes het aangedui dat hul besware teen die voorgenome eenwording het (Skema VGKSA 1994:8).

Op 04 Oktober 1990 het ’n Konvent met die oog op eenwording in die NGSK SA Gestig te Belhar tussen die NGKA en die NGSK plaasgevind (Skema VGKSA 1994:82–84). Die Konvent het aan die moderature opdrag gegee om gesamentlike sinodale kommissies saam te stel, die opdragte van die kommissies te bepaal en die plek en datum vir die eerste Algemene Sinode te bepaal (Acta NGSK 1990:1172–1175). Kort hierna het ’n kerkregtelike polemiek met betrekking tot die besluitnemingsbevoegdheid van die Konvent uitgebreek in beide die Ligstraal en die Ligdraer. Die gesamentlike moderature het ooreengekom dat die NGKA van 15 tot 16 Julie 1991 ’n buitengewone Algemene Sinode sou hou om die verslae en voorstelle van die verskeie gesamentlike kommissies met betrekking tot kerkeenheid af te handel. Die eerste Sinode van die Verenigende Kerk is vir 17 tot 21 Julie 1991 geskeduleer (Fourie 1991a:7).

Beswaar teen voorgenome kerkeenwording

Twee van die Streeksinodes van die NGKA, die Oranje-Vrystaat (OVS) en Phororo in die Noord-Kaap, het verklarings uitgereik waarin die wettigheid van die toekomstige eenwording, asook die besluitnemingsbevoegdheid van die moderature bevraagteken is (Fourie 1991a:3). Volgens die Streeksinode van die NGKA-Phororo was die Konvent van 04 Oktober 1990 (gehou te Kaapstad) onwettig, aangesien die moderatuur van die NGKA geen sinodale magtiging van die NGKA se Buitengewone Sinode verkry het vir die hou van so ’n Konvent nie. Volgens die moderatuur van die NGKA-OVS, het die Algemene Sinode van die NGKA (1990) heeltemal buite sy magte en bevoegdheid opgetree en is die besluite van die sinode dus ultra vires (ibid:3). Ds D. Potgieter van Heidedal-Suid het voorspel dat beide die Streeksinodes Phororo en OVS nie aan die kerkvereniging sou deelneem nie (ibid:11). Potgieter het onder andere beswaar gemaak teen die wyse waarop die Belydenis van Belhar op die Sinode (1990) van die NGKA as deel van die belydenisgrondslag van die NGKA aanvaar is - heeltemal in stryd met Artikel 36.1 (ibid:11). Die actuarius van die NGKA, dr Nico Smith, was daarenteen van mening dat meerderheidsbesluite van Sinodes deur mindere vergaderings en/of lede van die kerk aanvaar en respekteer behoort te word en dat dit enige leraar of lidmaat van die NGKA vrystaan om ’n beswaarskrif (gravamen) of beskrywingspunt na ’n Sinode te stuur as hul nie met ’n besluit van ’n Sinode saamstem nie (ibid:11). Hierdie gebrek om ag te slaan op die kerkordelike prosesse van kerkeenwording het veroorsaak dat die geskeduleerde kerkeenwording wat van 16 tot 21 Julie 1991 tussen die NGKA en die NGSK sou plaasvind, uitgestel moes word.

Op die Buitengewone Sinode van die NGKA Streeksinode Noord-Transvaal (22–27 April 1991 in die Mamelodi dienssentrum) is kennis geneem dat die Buitengewone Algemene Sinode van die NGKA (1990 te Bellville) reeds die Belydenis van Belhar aanvaar het en dat Artikel 36 op die Sinode gewysig is. Gevolglik het die Streeksinode Noord-Transvaal besluit om die Belydenis van Belhar as vierde belydenisskrif te aanvaar. Die Sinode het ook van die Konsep Kerkorde wat deur die Gesamentlike Gesprekskommissie voorberei is, kennis geneem en op die Buitengewone Algemene Sinode (1990) as riglyn vir ’n Kerkorde van die verenigde kerk aanvaar is (Acta NGKA Noord-Transvaal Spesiale Sinode 1991:14). Die Streeksinode Noord-Transvaal is een van die enkele Streeksinodes van die NGKA wat die besluite van die Buitengewone Sinode (1991) ongekwalifiseerd aanvaar het.

Op sy Buitengewone vergadering (23–24 April 1991 te Barkley-Wes) het die Streeksinode Phororo van die NGKA besluit om nie aan die ASK se versoek te voldoen om op 13 Julie 1991 ’n Buitengewone Sinode te Pretoria te hou nie. Die Streeksinode Phororo het beswaar daarteen gemaak dat Artikel 36.1, wat die reg van inspraak van die Streeksinodes in belydenisgrondslag verskans het, op die Buitengewone Sinode van die NGKA (1990 te Mitchell’s Plain) geskrap is (Le Grange 1991:11). Die Streeksinode van die NGKA-Phororo het van die veronderstelling uit beweeg dat die skraping van Artikel 36.1 op die wederregtelike aantasting van die regte van mindere vergaderinge neerkom en dat dit nie sonder die toestemming van die Streeksinodes self vervreem kan word nie (ibid:11). Die Streeksinode van die NGKA-OVS het aan die Algemene Sinode kennis gegee dat hul groot probleme het om die Konsep Kerkorde te aanvaar aangesien die Konsep Kerkorde nie aan die vereistes vir ’n kerkorde voldoen nie (Acta NGKA 1991:331). Hulle was van mening dat die moontlikheid deur die Konsep Kerkorde gelaat word dat ongereformeerde praktykte die kerk ingedra kan word. Hulle het gevolglik die Algemene Sinode van die NGKA versoek om die Kerkorde van die NGKA, asook die NGSK, te gebruik om ’n gesamentlike kerkorde op te stel (ibid:331–332). Reeds op 30 Oktober 1990 het die Moderatuur van die OVS aan die Moderatuur van die NGKA ’n skrywe gerig waarin hul aangetoon het dat die korrekte kerkordelike weg is dat kommissieverslae eers na die Streeksinodes gestuur behoort te word om sodoende die Streeksinode geleentheid te bied om hul inspraak oor kerkeenheid te lewer (ibid:333–134). Daar is nooit op hierdie skrywe gereageer nie.

Besluite van die Nederduits Gereformeerde Kerk in Afrika Algemene Sinode 1991

Op 28 Junie 1991 het die NGSK die NGKA versoek om die datum vir ’n eenheidsinode uit te stel, onderhewig daaraan dat die NGSK die moontlikheid van ’n buitengewone Sinode en/of ’n enkelparty verklarende hofbevel ondersoek (Botman 1992:15). Die gesamentlike moderatuur wat later dieselfde dag vergader het, het ’n verklaring uitgereik dat hul genoodsaak is om aan te kondig dat die voorgenome eerste Sinode van die VGK nie van 17 tot 21 Julie 1991 gehou sal kan word nie as gevolg van bepaalde regsprobleme in verband met die vereniging van die twee kerke (ibid:15). In die plek daarvan het die gesamentlike moderatuur, op onkoste van die afgevaardigdes van die twee kerke, ’n kerkeenheidskonferensie van 17 tot 18 Julie 1991 te Hatfield Christelike Gemeente in Pretoria gereël (Skema VGKSA 1994:91). Meer as 150 afgevaardigdes van die NGSK en die NGKA het die konferensie oor kerkvereniging na afloop van die NGKA Algemene Sinode (1991) bygewoon (Fourie 1991b:1). Die Algemene Sinode van die NGKA (1991) het besluit om struktureel met die NGSK te verenig (Acta NGKA 1991:391). Die Kerkorde van die NGKA is tydens die Sinode (1991) in twee opsigte gewysig om kerkeenheid moontlik te maak. Daar is onder andere besluit om ’n nuwe artikel, te wete Artikel 61, by te voeg wat soos volg lees:

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika mag ter enige tyd met ’n tweederdemeerderheid besluit van die Algemene sinode met een of meer van die kerke wat in Artikel 2 genoem word, struktureel verenig. Wanneer die NGKA sou besluit om met ’n ander kerk of kerke te verenig, moet die besluit deur die Algemene Sinode met ’n tweederdemeerderheidstem, sowel as tweederdemeerderheidstem van die streeksinodes geneem word. Wanneer sodanige besluit geneem is, hou die kerk op as om as NGKA te bestaan en gaan op in die nuwe kerk. Alle regte, voorregte, eiendomme, bates en laste van die regspersone van die NGKA word daarmee oorgedra aan die ooreenstemmende regspersone van die verenigde kerk wat uit die vereniging ontstaan. (ibid:440)

Ingevolge Artikel 61, volg ontbinding outomaties op die besluit om te verenig en is dit insidenteel tot die besluit om te verenig.

Op die Sinode is Artikels 36.1 en 36.2 van die Kerkorde van die NGKA gewysig ten einde die NGKA se Algemene Sinode in staat te stel om met ’n tweederdemeerderheidstem die belydenisgrondslag van die NGKA te wysig (Acta NGKA 1991:391). Bogenoemde artikels het oorspronklik soos volg gelui (Skema NGKA 1987):

Artikel 36.1: Die wysiging van die belydenis van die kerk kan alleen geskied met tweederdemeerderheid en nadat elke Streeksinode afsonderlik met ’n tweederdemeerderheid ten gunste daarvan besluit het en nadat alle kerke van die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband geraadpleeg is.

Artikel 36.2: Met uitsondering van die belydenis (Artikel 1) mag die Algemene Sinode die Kerkorde wysig of aanvul met ’n tweederdemeerderheidstem. (bl. 448)

Artikels 36.1 en 36.2 is soos volg gewysig (Acta Algemene Sinode NGKA 1991):

Artikel 36.1: ‘Die wysiging en uitbreiding van die belydenis van die kerk kan alleen geskied met tweederdemeerderheid deur die Algemene Sinode. Enige besware van lidmate, ring of streeksinode teen sodanige wysigings of uitbreidings mag by wyse van gravamina (beswaarskrifte) en/of memoranda aan die volgende vergadering van die Algemene Sinode voorgelê word vir oorweging.’ (bl. 434)

Die sinsnede ‘en nadat elke Streeksinode afsonderlik, met ’n tweederdemeerderheid ten gunste daarvan besluit het en nadat alle kerke van die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband geraadpleeg is’, asook Artikel 36.2 is op die Sinode geskrap (Acta Algemene Sinode NGKA 1991:5.1 punt 2. 2.4). Artikel 1 is ook op die Sinode (1991) gewysig om sodoende die Belydenis van Belhar deel van die Belydenisgrondslag te maak. (ibid:389)

Artikel 1: ‘Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika is gebou op die fondament Jesus Christus, gegrond op die Bybel, die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die kerk in ooreenstemming met Gods Woord bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Enigheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618-1919, naamlik die Heidelbergse Kategismus, die vyf Dordtse Leerreëls en die ekumeniese belydenisse, naamlik die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Belydenis van Nicea, die Belydenis van Athanasius en die Belhar Belydenis.’ (n.p.)

Die Algemene Sinode van die NGKA (1991) het verder besluit:

Die sinode vereenselwig hom met die aanbevelings van die verslag van die gesprekskommissie aan die kerkrade (6.1 tot 6.3) in verband met die voorlopige reëlings ten opsigte van bestaande grense en werksaamhede van gemeentes en dat daar slegs een kerk sal wees, dat alle ringe van die NG Sendingkerk en die NG Kerk in Afrika binne bepaalde geografiese grense saamsmelt, en dra dit aan die eerste Algemene Sinode van die een kerk op om die samestelling van Ringe vir een kerk te bepaal. (ibid:389)

Die Sinode het ook sonder teenstem besluit om die Belydenis van Belhar, soos vasgestel deur die Sinode van die NGSK (1986), by Artikel 1.1 van die Kerkorde van die NGKA te voeg (Acta NGKA 1991:392). Die Sinode het die voorgestelde Kerkorde as basis vir kerkeenwording aanvaar, asook dat die Konvent wettig was (ibid:392).

Volgens Artikel 36.2 moes elke Streeksinode van die NGKA vir die wysiging van die belydenisgrondslag afsonderlik met ’n tweederdemeerderheid ten gunste daarvan besluit alvorens sodanige wysiging op die Algemene Sinode gemaak kon word. Elke gemeente het dus inspraak in die wysiging van die belydenisgrondslag gehad. Die wysiging van die belydenisgrondslag is egter op die Sinode van die NGKA (1991) sonder die vereiste tweederdemeerderheidstem geneem. Die Algemene Sinode (1991) het dit eenparig goedgekeur dat die NGKA te enige tyd met ’n tweederdemeerderheidstem van die Algemene Sinode asook die Streeksinodes, met een of meer kerke struktureel kan verenig en dat wanneer so ’n besluit geneem word, die kerk ophou om as NGKA te bestaan en alle regte, voorregte, eiendomme, bates en laste van regspersone van die NGKA in die nuwe kerk opgaan en daarmee aan die ooreenstemmende regspersone van die verenigde kerk wat uit die vereniging ontstaan het (ibid:393). Die Sinode het verder besluit dat wanneer hy in uitvoering van sy besluit om struktureel met die NGSK te verenig wettiglik saam met die verteenwoordigers van die NGSK tot ’n Stigtingsinode gekonstitueer is, die Algemene Sinode van die NGKA kragtens Artikel 61 van sy Kerkorde sal ophou om te bestaan as regspersoon en sal gevolglik ontbind. Die Sinode dra gevolglik al sy regte, voorregte, eiendomme, bates, laste, verpligtinge (niks uitgesonderds nie) oor aan die Algemene Sinode van die verenigde kerk wat uit die vereniging van die NGKA en die NGSK ontstaan (ibid:393). Met betrekking tot die oordra van alle regte, voorregte, eiendomme, bates, laste en verpligtinge van die Algemene Sinode NGKA na die verenigde kerk, het die Sinode die volgende besluit geneem:

Besluit 1.1.34: Die Sinode besluit dat wanneer hy in uitvoering van sy besluit om struktureel met die NGSK in SA te verenig wettiglik saam met die verteenwoordigers van die NGSK tot ’n stigtingssinode gekonstitueer is, die Algemene Sinode van die NGKA kragtens Artikel 61 van sy Kerkorde as regspersoon sal ophou om te bestaan en te ontbind, en dra al sy regte, voorregte, eiendomme, bates, laste en verpligtinge, niks uitgesonders nie, oor na die Algemene Sinode van die verenigde kerk wat uit die vereniging van die NGKA en die NGSK in SA ontstaan. (ibid:393)

Volgens bovermelde besluit het die Algemene Sinode van die NGKA ontbind en was al die bates aan die Algemene Sinode na die nuwe kerk oorgedra op die stadium wanneer die nuwe kerk konstitueer. Die mindere vergaderings was nie versoek om selfstandige ontbindingsbesluite te neem nie, omdat geoordeel is dat die dekkende besluite van die Algemene Sinode van die NGKA (Artikel 61) en die Sinode van die NGSK voldoende is (Skema VGKSA 1994:95). Regsmening wat vooraf deur die NGKA en NGSK verwerf is, het egter daarop gedui dat ’n ontbindingsklousule nodig is om eenheid te bewerkstellig (Skema NGSK 1994:3–4; Acta NGKA 1991:393). Die ontbindingsbesluit van die Algemene Sinode van die NGKA het egter nie outomaties die gemeentes, Ringe en Streeksinodes gebind nie. Daarom is verdere besluite wat betrekking op die Streeksinodes, Ringe en Kerkrade op die Sinode het, geneem. Aan die Streeksinodes en Ringe was opgedra om self ontbindingsbesluite soortgelyk aan dié van die Algemene Sinode te neem (Acta NGKA 1991:393–394, besluit 1.1.35 en 1.1.36). Aan gemeentes is opgedra om self stappe te neem met betrekking tot die voortsetting van die gemeente as regspersoon met ’n nuwe identiteit (ibid: 393–394, besluit 1.1.37). Volgens appèlregter Vivier is geen ontbindingsbesluite deur die Streeksinodes van die NGKA-OVS en die NGKA-Phororo, of enige van die 102 ander gemeentes betrokke in die kerkstryd, geneem nie (Nederduitse Gereformeerde Kerk [OVS], Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika [Phororo] en die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika saaknommer 536/96:11). Alle eiendomme, bates en laste van die regspersone van die NGKA en die NGSK is na die ooreenstemmende regspersone van die verenigde kerk wat uit die vereniging ontstaan het, oorgedra. Hiermee is die laaste twee sinne van Artikel 61 in werking gestel (Skema VGKSA Algemene Sinode 1994:290–292). Besluite met betrekking tot die regspersoonlikheid en eiendomsreg wat op die Stigtingsinode geneem is, is in die hofsake tussen die VGKSA en die NGKA as ultra vires bewys. Die Stigtingsinode het onder andere bepaal dat by die inwerkingstelling van die Kerkorde van die verenigde kerk, sedeer elke Streeksinode, Ring en gemeente al sy bates, laste, regte en verpligtinge, niks uitgesluit nie, oor aan die Streeksinodes, Ring of gemeente wat deur die Stigtingsinode daartoe aangewys word (ibid:39). Die gestigte Streeksinode, Ring of gemeente wat so aangewys is, tree dan in as die opvolger in reg en titel van die betrokke ontbonde Streeksinode, Ring of gemeente soos van toepassing (ibid:131). By implikasie het elke regspersoon van die twee onderskeie kerke dus juridies ontbind by die Stigtingsinode (ibid:340).

Hofgeding oor kerkeenheid

Die Streeksinodes van die NGKA-OVS en NGKA-Phororo was van meet af nie gediend met die kerkvereniging en die wysigings van die Kerkorde wat die kerkvereniging voorafgegaan het nie. Alreeds tydens hul eerste vergadering op 26 Mei 1994 het die dagbestuur van die VGKSA kennis geneem van die besware van die Streeksinodes van die NGKA-OVS en NGKA-Phororo insake kerkeenwording (Skema VGKSA 1997:20). Bogenoemde Streeksinodes het van die veronderstelling uitgegaan dat die wysigings aan die Kerkorde en kerkvereniging nie regsgeldig was nie. Op 22 November 1994 het die Streeksinode van die NGKA-Phororo besluit om buite verband van die VGKSA te tree en om as die nuwe NGKA voort te bestaan terwyl hul toetrede tot die NGK Noord-Kaap soek. Op 08 Februarie 1995 het die dagbestuur van die VGKSA kennis gekry dat die Streeksinode Phororo toetrede tot die NGK Noord-Kaap soek. Die dagbestuur het hierdie handeling as ’n eensydige uittrede uit die kerkverband geag en het aan die actuarius, ds. J Buys, opdrag gegee om namens die dagbestuur instruksies aan ’n prokureur te gee om regstappe te neem om die regte en belange van die VGKSA te verseker (ibid:21).

Die NGKA en die VGKSA het eers pogings aangewend om die kerkregtelike geskil minlik by te lê. Op 15 Junie 1994, 03 Augustus 1994, 08 November 1994, 11 April 1995, 15 Mei 1995, 18 Julie 1995, 12 September 1995 en 15 November 1995 het vergaderings tussen die moderatuur van die VGKSA, die moderature van die twee onderskeie Sinodes, asook die beswaardes plaasgevind (Skema VGKSA 1997:20–23). Op die vergadering van 03 Augustus 1994 het die moderatuur van die Algemene Sinode kennis geneem dat die Streeksinode Phororo hul sedert hul Buitengewone Sinode (22 Junie 1994) buite die verband van die VGKSA ag (ibid:20). Die eerste gewone vergadering van die Streeksinode van die NGKA-Phororo het plaasgevind vanaf 22 tot 26 Maart 1995. ’n Memorandum van Ontevredenheid met betrekking tot die stigting van die Verenigende Gereformeerde Kerk, geteken deur di. M.S. Kuekue en M.J. Ramolahleli, is op die vergadering, wat tussen die moderatuur van die OVS Streeksinode en die moderatuur van die VGKSA plaasgevind het (11 April 1995), ter tafel gelê (ibid:35). Op 12 September 1995 het die dagbestuur van die VGKSA die ongeveer 120 persone uit die Vrystaatse Gemeentes in Bloemfontein ontmoet. Die beswaardes was van mening dat die NGKA nooit kerkregtelik ontbind het nie (NGKA – verskeie gemeentes vs VGKSA – verskeie gemeentes Hooggeregshof SA (saaknommer 766, 29 Julie 2003)). Geen ontbindingsbesluite of -stappe is ooit deur die Streeksinodes van die NGKA-OVS en die NGKA-Phororo, of enige van die ander 102 beswaarde gemeentes in die NGKA (76 gemeentes in die Vrystaat en 26 gemeentes in die Phororo-gebied) geneem nie.

Die dagbestuur van die VGKSA kon egter nie daarin slaag om die geskil minlik by te lê nie. Die Streeksinode van die NGKA-OVS het gevolglik van 27 September 1995 tot 6 Oktober 1995 te Parys plaasgevind (Skema VGKSA 1997:23). Die kernvraag volgens appèlregter Vivier is of die NGKA se Algemene Sinode by magte was om in 1991 Artikel 61, wat onder andere aan die Algemene Sinode die mag verleen het om ’n nuwe kerk te stig met oordrag van die bates van die NGKA se regspersone aan die nuwe kerk, in die Kerkorde te voeg (supra saaknommer 536/96). Op 15 November 1995 het die dagbestuur van die VGKSA, die moderatuur van die NGKA-OVS (di. P. Ralepeli, A.S. Bührmann, M.S. Kuekue en M.J. Ramolahlehi) ontmoet. Die partye kon egter nie tot ’n skikking kom nie aangesien die Streeksinode van die NGKA-OVS van mening was dat hul nie ontbind het nie en dus as ’n selfstandige kerk met ’n eie Kerkorde bestaan en nie deur ander kerke voorgeskryf kan word nie. Die VGKSA, daarenteen, was van mening dat met die NGSK en die NGKA se eenwording op 14 April 1994 beide deelnemende kerke se regspersone in die VGKSA opgegaan het (Skema VGKSA 1997:45).

Die VGKSA het op 26 Februarie 1996 ’n aansoek by die Oranje-Vrystaatse Provinsiale Afdeling aanhangig gemaak by wyse van Kennisgewing van Mosie waarin daar onder andere gevra word vir ’n bevel wat verklaar dat die voormalige NGSK en die voormalige NGKA op 14 April 1994 regsgeldig verenig het om die VGKSA te vorm. In die Kennisgewing van Mosie was ook ’n bevel aangevra wat verklaar dat die gemelde vereniging meegebring het dat die NGKA opgehou het om te bestaan en dat alle regte, voorregte, eiendomme, bates en laste van die regspersone van die NGKA oorgedra is na die ooreenstemmende regspersone van die VGKSA en dat die Streeksinode van die NGKA-OVS, wat op 27 September 1995 vergader het, oor geen regsbevoegdheid beskik het om enige regsgeldige handelinge namens die voormalige NGKA en die Vrystaat te verrig nie (supra saaknommer 799/96:3; supra saaknommer 536/96:3–4). Op 16 September 1996 het die Hooggeregshof uitspraak in die guns van die VGKSA gelewer.

Die Streeksinodes van die OVS en Phororo het gesamentlik om appèl aansoek gedoen. Die aanhoor van die appèlsaak is vir 06 November 1998 bevestig en die uitspraak is op 27 November 1998 gelewer (Skema VGKSA 2001:7). ’n Volle regbank van hooggeregshofregters het die appèl verhoor terwyl die uitspraak onderskeidelik deur appèlregters Harmse en Vivier gelewer is. In hul uitspraak het beide regters die gesag en beperkings van die gesag van meerdere vergaderings belig. Die Hoogste Hof van Appèl het op 27 November 1998 ten gunste van die NGKA uitspraak gelewer. Die kerkvereniging in 1994 verskil volgens die uitspraak met dié in 1963 daarin dat die bates van die onderskeie gemeentes, Ringe, Sinodes en Streeksinodes na die VGKSA oorgedra moes word. Die regter gaan van die standpunt uit dat die stigting van die VGKSA nie die NGKA opgehef het nie, maar dat die NGKA bly voortbestaan het. Daar word nie oor die stigting van die VGKSA in die hofsaak uitspraak gelewer nie. Die vier kerke (NG Bantoekerk in Suid-Afrika met die NG sendingkerke in die Oranje-Vrystaat, Transvaal en Natal) se gemeentes, Ringe en Sinodes het volgens appèlregter Vivier met die vereniging op 07 Mei 1963 bly voortbestaan sonder oordra van bates na die NGKA (supra saaknommer 536/96:3–5). Die Nederduitse Gereformeerde kerke word volgens appèlregter Vivier beskou as ’n vrywillige of onderlinge vereniging [collegium] waarvan die lede kontraktueel verbind word deur die betrokke kerkordes (ibid:13). Die VGKSA se betoog is volgens appèlregter Harmse op ’n oorvereenvoudigde siening van wat ‘kerk’ is, gebaseer (ibid:5). Die woord ‘kerk’ het volgens Harmse (ibid:5) meerdere betekenisse soos wat uit die kerkorde van die NGKA blyk - kerk is nie sinoniem met die Algemene Sinode nie. Die regter gaan van die veronderstelling uit dat daar ’n prinsipiële verskil is tussen die gesag van die Kerkraad en die meerdere vergadering en dat die regte van minderhede onder andere in Artikels 36.1 en 36.2 verskans is. In die Gereformeerde stelsel is elke plaaslike gemeente die sigbare openbaring en organisasie van die kerk - en op sigself volledig kerk (ibid:17). Kerkverband tussen kerke wat nie dieselfde belydenis het nie, of wat dieselfde belydenisskrifte verskillend vertolk en kerkregtelik verskillend georganiseerd is, is volgens Vivier nie moontlik nie aangesien eenheid in belydenis die samebindende faktor by die kerkverband is (ibid:17). Die beginsels wat tradisioneel by ander vrywillige organisasies geld, asook kontrakbeginsels, is volgens appèlregter Harmse in die saak aangewend (ibid:3). Van besondere belang in die saak was die ultra vires-leerstuk, want as ’n kerkorgaan buite sy bevoegdheid handel, is ’n burgerlike hof verplig om die handelinge ter syde te stel en is teologiese, kerklike (of ekklesiastiese), politieke (in ’n wyer sin) en praktiese oorwegings ontersaaklik. Die uitdrukking ultra vires beteken om buite jou bevoegdheid op te tree. Die regter was van mening dat die bevoegdheid tot die ontbinding van ’n gemeente of die verandering van ’n kerkverband nie by die Kerkraad berus nie, maar by die gemeente (Du Preez en andere v Nederduitse Gereformeerde gemeente, De Deur, 1994 (2) SA 191). Appèlregter Harmse was van mening dat die grondwette en kerkordes die regte van minderhede verskans deur middel van selfopgelegde formaliteite.

Wat die belydenisgrondslag van die kerk betref, kon dit volgens appèlregter Harmse ooreenkomstig Artikel 36.1 in sy oorspronklike vorm alleen gewysig word mits aan die drie formele vereistes voldoen is, naamlik (1) raadpleging van alle kerke van die NG kerkverband, (2) ’n tweederdemeerderheidstem ten gunste van die verandering deur elke Streeksinode afsonderlik en eers daarna (3) ’n tweederdemeerderheidstem van die Algemene Sinode (supra saaknommer 536/96:7). Volgens appèlregter Harmse beteken die inspraak van die Streeksinodes in hierdie verband in effek dat twee derdes van alle gemeentes vooraf tot die voorgestelde wysiging moet stem (ibid:9).

Met betrekking tot die ingevoerde Artikel 61 is die onmiddellike vraag, volgens appèlregter Harmse, waar die Algemene Sinode die bevoegdheid verkry het om te beskik oor die voorgesette regspersoonlikheid en bates van die gemeente (supra saak- nommer 536/96:10). Harmse het geoordeel dat sodanige bevoegdheid nie die meerdere vergadering toeval nie:

As ’n vereniging van regspersone die bevoegdheid het om ’n konstitusie te wysig, sluit dit by noodwendige implikasie in dat die vereniging die pasvermelde beskikkingsbevoegdheid het? As die vraag in die konteks van, sê ’n professionele of sportvereniging gevra word, is die antwoord ’n klaarblyklike nee. Byvoorbeeld, as ’n provinsiale tennisvereniging ’n blote wysigingsbevoegdheid van sy grondwet het, kan hy hom tog nie die reg toeëien om oor die bates van elke klub wat by hom geaffilieer is, te beskik nie. By ’n kerk met ’n samestelling soos die NGKA kan dit nie anders wees nie. Die Algemene Sinode kan dus nie by wyse van ’n wysiging aan die kerkorde beskik oor die regspersoon, voortbestaan, bates en laste van enige mindere vergadering nie. Volgens die bevoegdheid van vrywillige verenigings om hul grondwet te wysig, word dit beperk tot wysigings wat redelikwys geag word binne die beskouing en bedoeling van die partye wat tydens die sluiting van die kontrak, inagneming die aard en al die omstandighede van die kontrak. (ibid:28)

Die Algemene Sinode kan dus nie by wyse van ’n wysiging aan die Kerkorde beskik oor die regspersoon, voortbestaan, bates en laste van enige mindere vergadering nie. Die Suid-Afrikaanse howe beskou volgens Vivier die plaaslike gemeentes van die verskillende denominasies konsekwent as regspersone (supra saaknommer 536/96:20). Uit die Kerkorde van die NGKA blyk dit dat die plaaslike gemeente ’n regspersoon is. As regspersoon is die plaaslike gemeente die wettige eienaar van sy goedere, eiendomme en fondse. Harmse is van mening dat die Algemene Sinode dus nie by bewyse van ’n wysiging aan die Kerkorde oor die regspersoonlikheid, voortbestaan, bates of laste van enige mindere vergadering kon beskik nie. Hy oordeel gevolglik dat ‘omdat Artikel 61 klaarblyklik ondeelbaar is, maak hierdie wesenlike vernietiging die hele klousule ongeldig’ (ibid:11). ‘(V)an besondere belang is die ultra vires-leerstuk, want as ’n kerkorgaan buite sy bevoegdheid handel, is ’n burgerlike hof verplig om die handeling ter syde te stel, en is teologiese, kerklike (ekklesiastiese), politieke (in ’n wyer sin) en praktiese oorwegings onsaaklik’ (ibid:3). Die Algemene Sinode is volgens Vivier tydelik van aard en nie ’n permanente bestuursliggaam nie (ibid:24). Die bevoegdheid van die Algemene Sinode eindig by die uiteengaan van die vergadering. Die Algemene Sinode is gevolglik volgens Vivier nie by magte om ’n besluit in stryd met die kerkorde te neem nie (ibid:325). Wanneer die NGKA besluit om met die NGSK te verenig, word die sinodale besluit nie ipso facto die besluit van ’n Kerkraad nie. Volgense Harmse verteenwoordig die Algemene Sinode nie in alle opsigte die kerk nie (ibid:3) en het die Algemene Sinode gevolglik beperkte bevoegdhede.

Die Algemene Sinode is volgens Vivier (supra saaknommer 536/96:23) nie by magte om ’n bepaling in die Kerkorde te wysig om ’n doel te bereik wat buite sy magte is nie. Vivier (ibid:28) gaan van die veronderstelling uit dat met die invoeging van Artikel 61, die Algemene Sinode buite sy bevoegdheid gehandel het. Volgens Vivier (ibid:31) gaan Artikel 61 van die NGKA verder as die ontbinding van die NGKA. Volgens Artikel 61 gaan die NGKA by ontbinding op in ’n nuwe kerk en word alle regte, voorregte, eiendomme, bates en laste van die regspersone oorgedra aan die ooreenstemmende regspersone in die nuwe kerk. Dit kom daarop neer dat elke gemeente se regte, voorregte, eiendomme, bates en laste eenvoudig opgeneem word, sonder enige deelname aan die besluit, en oorgedra word aan ’n nuwe kerkverband. Die Algemene Sinode het egter volgens appèlregter Vivier nie die mag om besluite oor ’n gemeente se bates te neem of eensydig die gemeente se aard en identiteit te verander of te ontbind nie (ibid:33).

Die Algemene Sinode het volgens Vivier (supra saaknommer 536/96:34) nie die reg om sonder die goedkeuring van sy lede, dit wil sê al die gemeentes, die kerkverband te verander en ’n ander kerk te stig nie. Die bevoegdheid tot die ontbinding van ’n gemeente of verandering van ’n kerkverband berus nie by die Kerkraad nie, maar by die gemeente. Die vereiste goedkeuring is nie verkry nie en daarom is die besluit van 1991 nie regsgeldig nie. Die Algemene Sinode kan volgens Vivier slegs tot kerkvereniging en die stigting van ’n nuwe kerk oorgaan indien goedkeuring van lede verkry is. Die Algemene Sinode van die NGKA (1991) het volgens appèlregter Vivier buite sy bevoegdheid gehandel:

Die hele besluit van die Algemene Sinode van die NGKA op sy vergadering van Julie 1991 om met die NGSK te verenig (besluit 1.1.33), sowel as die besluite wat daarmee in verband staan (besluite 1.1.34 tot 1.1.38), was gevolglik ultra vires en ongeldig. Daarbenewens was die wysiging van Artikel 36, soos ek reeds bevind het, ook ongeldig. (ibid:43)

Die Hoogste Hof van Appèl het die uitspraak van die Hooggeregshof omvergewerp en het op 27 November 1998 ten gunste van die NGKA-OVS en Phororo uitspraak gelewer (Acta VGKSA Algemene Sinode 1997:134). Die uitspraak van die hof was dat die Algemene Sinode van die NGKA nie die bevoegdheid gehad het om Artikel 36 te wysig en ’n ontbindingsklousule in te voeg nie. Al die besluite wat betrekking gehad het op vereniging met die NGSK was gevolglik ultra vires. Hierdie uitspraak is daarop gebaseer dat daar by die stigting van die NGKA in 1963 nie voorsien is dat die NGKA sou verenig nie. Die hof het gevolglik besluit dat die NGKA-OVS en NGKA-Phororo bestaan (ibid:134).

Slotsom

Die NG Kerkfamilie behoort op weg na eenwording deeglik kennis te neem van die uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl op 27 November 1998. Die volgende regsaspekte kan uit vermelde uitspraak afgelei word:

1. Die gesag van meerdere vergaderings is beperk. Die Algemene Sinode is geen permanente bestuursliggaam nie. Die bevoegdheid van die Algemene Sinode eindig by die uiteengaan van die vergadering. Die regte van minderhede word in die kerkorde verskans.

2. Kerke moet daarteen waak om buite hul bevoegdheid [ultra vires] te handel, andersins sal ’n burgerlike hof verplig wees om die handelinge ter syde te stel. Die Algemene Sinode is gevolglik nie by magte om ’n besluit in stryd met die kerkorde te neem nie. Die Algemene Sinode kan nie eensydig ’n gemeente se bates neem, of die gemeente se aard en identiteit verander of ontbind nie, of die kerkverband verander en ’n ander kerk stig nie.

3. Die Nederduitse Gereformeerde kerk word beskou as ’n vrywillige of onderlinge vereniging [collegium] waarvan die lede kontraktueel verbind word deur die betrokke kerkordes. Die beginsels wat tradisioneel by ander vrywillige organisasies geld, asook kontrakbeginsels, geld dus ook by kerke.

4. In die Gereformeerde stelsel is elke plaaslike gemeente die sigbare openbaring en organisasie van die kerk en is op sigself volledig kerk. Die bevoegdheid tot die ontbinding van ’n gemeente of die verandering van ’n kerkverband berus nie by die Kerkraad nie, maar by die gemeente. Die Suid-Afrikaanse howe beskou die plaaslike gemeentes van die verskillende denominasies konsekwent as regspersone. As regspersoon is die plaaslike gemeente die wettige eienaar van sy goedere, eiendomme en fondse. Die Algemene Sinode beskik dus nie outomaties oor die voorgesette regspersoon en bates van gemeentes nie. Die Algemene Sinode kan slegs tot kerkvereniging en die stigting van ’n nuwe kerk oorgaan indien goedkeuring daarvan volgens die voorgeskrewe kerkordelike reëlings verkry is.

5. Kerkverband tussen kerke wat nie dieselfde belydenis het nie, of wat dieselfde belydenisskrifte verskillend vertolk en kerkregtelik verskillend georganiseerd is, is nie moontlik nie aangesien eenheid in belydenis die samebindende faktor by die kerkverband is. Die belydenisgrondslag van die kerk kan alleen gewysig word mits daar aan die formele kerkordelike vereistes voldoen word.

Erkenning

Mededingende belange
Die outeurs verklaar hiermee dat hulle geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hulle nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Outeursbydrae
J.v.d.M. (Universiteit van Pretoria) was die promotor en M.A.P.v.H. (Universiteit van Pretoria) was verantwoordelik vir die navorsing en het die manuskrip geskryf.

Literatuurverwysings

Botman, R., 1992, ‘Reëls geld nie vir moderatuur’, Ligdraer, 07 April 1992, 12–15.

Die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika en MD Kambule en 160 ander vs Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika (Oranje-Vrystaat), Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika (Phororo) (1996) 766/96.

Du Preez en andere v Nederduitse Gereformeerde gemeente, De Deur, 1994 (2) SA 191.

Fourie, P., 1991a, ‘Eenheid en Struweling’, Ligdraer, 04 Februarie 1991, 6–11.

Fourie, P., 1991b, ‘Dit was ’n pynlike vreugde’, Ligdraer, 05 Augustus 1991, 1–2.

Le Grange, A., 1991, ‘Phororo nie na Pretoria; waarom?’, Ligdraer, 03 Junie 1991, 2–13.

Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika, 1975, Acta van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika, Kaapstad, N.G. Kerk-Uitgewers.

Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika, 1976, Acta van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika Streeksinode Phororo, Kaapstad, N.G. Kerk-Uitgewers.

Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika, 1987, Acta van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika, Kaapstad, N.G.Kerk-Uitgewers.

Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika, 1990, Acta Buitengewone Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika, Kaapstad, N.G. Kerk-Uitgewers.

Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika, 1991, Skema Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika, Kaapstad, N.G. Kerk-Uitgewers.

Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika, 1994, Acta Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika, Kaapstad, N.G.Kerk-Uitgewers.

Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika Noord-Transvaal, 1991, Acta van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika Noord-Transvaal Spesiale Sinode, Kaapstad, N.G. Kerk-Uitgewers.

Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika, 1987, Skema van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika, Kaapstad, N.G. Kerk-Uitgewers.

Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika, 1990, Skema Buitengewone Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika, Kaapstad, N.G. Kerk-Uitgewers.

Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika, 1991, Skema van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika Noord-Transvaal Spesiale Sinode, Kaapstad, N.G. Kerk-Uitgewers.

Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika, 1994, Skema Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika, Kaapstad, N.G. Kerk-Uitgewers.

Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika, 1994, Skema van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, Kaapstad, N.G. Kerk-Uitgewers.

Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk, 1966, Acta van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk, Paarl, Paarldrukpers.

Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk, 1970, Acta van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk, Paarl, Paarldrukpers.

Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk, 1974, Acta van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk, Paarl, Paarldrukpers

Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk, 1978, Acta van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk, Paarl, Paarldrukpers.

Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk, 1966, Skema van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk, Paarl, Paarldrukpers.

Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk, 1970, Skema van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk, Paarl, Paarldrukpers.

Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk, 1986, Acta van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk, Paarl, Paarldrukpers.

Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk, 1978, Skema van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk, Paarl, Paarldrukpers.

Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk, 1990, Acta van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk, Paarl, Paarldrukpers.

Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk, 1994, Skema van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk, Paarl, Paarldrukpers.

Nederduitse Gereformeerde Kerk (OVS), Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika (Phororo) en die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, saaknommer 536/96 [1998] ZASCA 111; [1999] (2) SA 156 (SCA); [1999] 1 All SA 480 (A) (27 November 1998).

Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, 1994, Acta van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, Bybel-Media, Wellington.

Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, 1997, Acta van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, Bybel-Media, Wellington.

Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, 2001, Acta van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, Bybel-Media, Wellington.

Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, 1994, Skema van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, Bybel-Media, Wellington.

Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, 1997, Skema van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, Bybel-Media, Wellington.



Crossref Citations

No related citations found.