Article Information

Author:
Wentzel Coetzer1

Affiliation:
1Skool vir Kerkwetenskappe, Potchefstroomkampus, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika

Correspondence to:
Wentzel Coetzer

email:
wentzelcoetzer@telkomsa.net

Postal address:
Posbus 19320, Noordbrug 2522, Suid-Afrika

Keywords
godsdienstige misbruik geestelike verwonding; emosionele verwonding; geestelik afknouerige stelsel

Dates:
Received: 05 Nov. 2009
Accepted: 07 June 2010
Published: 31 Aug. 2010

How to cite this article:
Coetzer, W., 2010, ‘Pastoral begeleiding van die geestelik verwonde persoon’, Verbum et Ecclesia 31(1), Art. #341, 7 pages. DOI: 10.4102/ve.v31i1.341

Copyright Notice:
© 2010. The Authors. Licensee: OpenJournals Publishing. This work is licensed under the Creative Commons Attribution License.

ISSN: 1609-9982 (print)
ISSN: 2074-7705 (online)

Postorale begeleiding van die geestelik verwonde persoon
In This Original Research...
Abstract
Inleiding
Die fokus sowel as die metodologiese uitgangspunt
Omskrywing
Faktore wat die grondslag vir ‘n geestelik afknouerige stelsel uitmaak
Tipiese kenmerke, strategieë en tegnieke van ‘n geestelik aftakelende stelsel
Die gevolge van geestelike verwonding
Riglyne onderweg na genesing
Samevatting en gevolgtrekking
Literatuurverwysings
Abstract

Pastoral counselling for spiritually wounded people
On the one hand, religion could fulfil an edifying and enriching role; on the other, it could be destructive and devastating if it uses unethical, manipulating and controlling techniques and coercive measures to promote the goals of a leader or a system. Insecurity and doubt regarding a person’s own competence and worth flowing from painful events in the past tend to make people vulnerable. Often, spiritual wounds lead to a warped image of God; a warped self-identity as a Christian; intense pain in family relationships; overwhelming feelings of disillusionment; problems with personal borders; a lack of basic life skills; a lack of trust and purpose in life, as well as fluctuating phases of opposite emotions, like depression, anger and joy. Once denial has been overcome, counselling towards healing can start. Such counselling should primarily focus on joining a support group, spiritual healing, healing with regard to habits of thought, social recovery as well as physical healing.

Inleiding

Sedert so vroeg as die sewentigerjare is ‘n beduidende aantal boeke en artikels oor geestelike verwonding gepubliseer (kyk Blue 1993; Booth 1991; Cumella 2005a, 2005c; Enroth 1993; Johnson & VanVonderen 1991; Langone 1995; Martin 1995; Oates 1970; Peck 1978; Pretorius 2007; Sloat 1990; VanVonderen 1989; Wright 2001). Terme soos ‘geestelike misbruik’, ‘geestelike aanranding’, ‘geestelike verkragting’, ‘geestelike molestering’ en ‘geestelike afknouing’ kom ook dikwels in die literatuur voor om verskillende aspekte van geestelike verwonding te beklemtoon (De Villiers 2008).

Reeds in 1970 publiseer Wayne Oates byvoorbeeld ‘n boek getiteld When religion gets sick. Hy verwys onder andere na die dubbele betekenis van die term ‘godsdiens’: Enersyds kan dit op ‘n baie positiewe en gesonde stelsel dui wat vir die mens voordelig is en hom/haar help oorleef; andersyds kan godsdiens egter ook verwys na ‘n ‘pantheon of false gods by which men shrivel in the bondage of fear and death’ (Oates 1970:16). Oates beskryf laasgenoemde toedrag van sake as ‘n steurnis wat die algehele funksionering van ‘n persoon raak. In so ‘n geval het die persoon se godsdiens ‘slegte nuus’ in plaas van ‘goeie nuus’ geword.

Die psigiater Scott Peck vertel in sy boek The road less travelled (1978) die verhaal van Kathy wat in haar kinderjare erg misbruik is weens bepaalde godsdienstige beskouinge. Teen die agtergrond van Kathy se verhaal maak Peck (1978) die volgende stelling:

There are millions of Kathys. I used to tell people only somewhat facetiously that the Catholic Church provided me with my living as a psychiatrist. I could equally well have said the Baptist Church, Lutheran Church, Presbyterian Church, or any other.

(Peck 1978:12)

Die boek When God becomes a drug deur vader Leo Booth (1991) dien as nóg ‘n voorbeeld van een van die vroeëre bydraes oor geestelike misbruik. Hy beskryf hoe hy self in ‘n wanfunksionele huis grootgeword het en dikwels aan geweld blootgestel was:

I remember seeing my father covered in blood because of his self-mutilation. All this was done by Christians, to Christians, in the name of God. I remember telling my sister that God was destroying our home.

(Booth 1991:5)

Uit die res van sy verhaal blyk dat die drama van kerklike ritueel later in sy lewe, nadat hy tot priester gewy is, vir hom ‘n ontvlugting van die pyn van sy kinderjare geword het. Die staatsiekleed het hom selfs meerderwaardig laat voel. Hy raak uiteindelik verslaaf aan alkohol, en moes by tye gehospitaliseer word. Hy som sy situasie soos volg op: ‘I used religion to escape loneliness, low self-esteem, and fear of reality. Anglo-Catholicism was my first drug’ (Booth 1991:9). Uit sy persoonlike ervaring skryf hy uiteindelik met groot insig oor geestelike misbruik en verwonding.

Die fokus sowel as die metodologiese uitgangspunt

Teen voormelde agtergrond sal hierdie artikel die volgende probleemstelling ondersoek: In watter mate kan pastorale begeleiding ‘n terapeutiese rol in die helingsproses van die geestelik verwonde persoon vervul? Wat metodologie betref, is die uitgangspunt ‘n psigologies gerigte pastorale benadering. Die navorsing konsentreer eers op die omskrywing van geestelike misbruik. Daarna kom algemene faktore wat die grondslag vir ‘n geestelik afknouerige stelsel uitmaak aan die orde. Dít word gevolg deur ‘n bespreking van die tipiese kenmerke, strategieë en tegnieke van so ‘n stelsel sowel as die gevolge van geestelike verwonding. Ten slotte word ‘n aantal riglyne bespreek wat die roete vir die pastorale begeleiding van die geestelik verwonde persoon kan aandui.

Omskrywing

Dupont (2004:40) beskryf geestelike strukture wat geneig is om mense te misbruik, as ‘n groep of beweging wat uiters toegewyd is aan ‘n persoon, saak of ding. Dié strukture maak gebruik van onetiese, manipulerende tegnieke en dwangmaatreëls om die oogmerke van die groepleiers te bevorder. Deurgaans word groeplede, hul gesinne of die gemeenskap potensieel of werklik benadeel.

Gibson (2009) voer aan dat, soos emosionele misbruik negatiewe emosionele gevolge het, en fisiese misbruik dikwels pyn en fisiese gevolge vir die slagoffer inhou, geestelike misbruik ook ‘n negatiewe uitwerking op die persoon se gees het. Dít is oor die algemeen die gevolg van ‘n geestelike leier of stelsel wat die persoon probeer oorheers, beheer en manipuleer. Hierdie beheer word gewoonlik deur middel van vrees uitgeoefen.

Volgens Johnson en VanVonderen (1991:20) impliseer geestelike misbruik die nadelige hantering van ‘n persoon wat hulp, ondersteuning of groter geestelike bekragtiging nodig het, wat die persoon se geestelike status uiteindelik verswak, ondermyn of aftakel. Geestelike misbruik kan ook voorkom wanneer spiritualiteit gebruik word om ander te beïnvloed ten einde aan ‘n sekere ‘geestelike standaard’ te voldoen: ‘This promotes external “spiritual performance”, also without regard to an individual’s actual wellbeing, or is used as a means of “proving” a person’s spirituality’ (Johnson & VanVonderen 1991:21).

Volgens Blue (1993:12) vind geestelike misbruik plaas wanneer leiers hul geestelike gesag gebruik om ‘n volgeling te dwing, te beheer of uit te buit, wat dan tot geestelike wonde lei. Geestelike misbruik verskil van ander vorme van misbruik deurdat dit selde deur ‘n deurdagte bedoeling om opsetlik skade te berokken aangevuur word. Diegene wat geestelike misbruik toepas, is daarom ook dikwels naïef oor die skadelike gevolge van hul uitbuiting.

Pretorius (2007:264) beskryf geestelike misbruik as die proses wat plaasvind wanneer leiers hul amp of gesag gebruik om ander te beheer of oorheers. Die ‘ander’ is gewoonlik persone wat onbewus is van die verskuilde agenda van die leier, en wat bereid is om hulle te verbind tot wat hulle as die wil van God beskou. Die meeste geestelike misbruikers gebruik emosies soos skaamte, skuld en vrees om hul volgelinge se swak geestelike toestand te beklemtoon en om hulle te probeer oorhaal na dít wat die leier van hulle verwag. Boweal word die gevoelens en menings van die persoon in nood dikwels geïgnoreer ten einde die selfsugtige oogmerke van die leier te verwesenlik. Gevolglik laat geestelike misbruik die slagoffer geestelik verwond.

Uit die voorafgaande omskrywings van geestelike misbruik kan die volgende belangrike aspekte ter samevatting uitgelig word:

  • Daar bestaan oordrewe toewyding aan ‘n persoon, saak of ding.
  • Onetiese, manipulerende beheertegnieke en dwangmaatreëls word gebruik om die oogmerke van die leier(s) te bevorder.
  • Emosies soos skaamte, skuld en vrees speel ‘n belangrike rol.
  • Spiritualiteit word gebruik om volgelinge tot die strewe na ‘n sekere geestelike standaard oor te haal.
  • Volgelinge se werklike behoeftes word nie noodwendig altyd in ag geneem nie.
  • Geestelike misbruikers is oor die algemeen naïef oor die impak van hul optrede.
  • Geestelike misbruik lei gewoonlik tot geestelike en emosionele verwonding.

Faktore wat die grondslag vir ‘n geestelik afknouerige stelsel uitmaak

Aspekte wat ‘n deurslaggewende rol blyk te speel, is die absolute en onvoorwaardelike aanvaarding van ‘n aantal leerstellings. Op grond hiervan kan misbruik in die naam van God plaasvind. Dit gaan ook hand aan hand met die letterlike, absolute en dogmatiese vertolking van die Skrif, wat op sy beurt tot wanfunksionele godsdienstige boodskappe en gedrag lei (Booth 1991:16). Hiermee saam het mense dikwels weinig of geen vermoë om waarhede vanuit die Woord te onderskei en te beoordeel nie. Dan is hulle geneig om die reëls, soos die geestelike leiers dit neerlê, stiptelik en noukeurig na te volg, en beskou hulle hierdie leiers as die hoogste gesag oor die Woord (Pretorius 2007:264).

Indien daar in die gesin van oorsprong ook ‘n onseker verhouding met ouers was, blyk dít ook ‘n belangrike bydraende faktor te wees (Socha 1995:195). Ervarings in die vroeë kinderjare laat diep indrukke, en ‘kleur’ mense se siening van die wêreld en hulself. Tensy dit deur terapie aangepas word, kan so ‘n versteurde lewensuitkyk hierdie persone die res van hul lewe bybly (Sloat 1990:87).

Volgens Oates (1970:32) dra die volgende faktore by tot mense se kwesbaarheid vir ‘n ‘siek’ godsdiens en uiteindelike verwonding:

  • Onverwerkte rouprosesse kan tot die simptomatologie van ‘n siek godsdiens lei.
  • Mense is kwesbaar wanneer hulle nie meer vergifnis wil gee of aanvaar nie.
  • Hoop en hopeloosheid aan die een kant, en die afwesigheid of aanwesigheid van liefde aan die ander kant, kan ook ‘n rol speel.

Kwesbare persone is oorwegend diegene wat nooit geleer het hoe om hul gevoelens te verwoord of op ‘n gepaste wyse te beheer nie. Sulke emosies word dan in ‘n groot mate ontken of vermy. Om erkenning te verkry of misbruik te voorkom raak hierdie persoon uiteindelik iemand wat almal altyd probeer gelukkig hou; ‘n oorpresteerder en ‘n perfeksionis – onbuigsaam en onverdraagsaam ten opsigte van eie en ander se foute (Booth 1991:41).

Pretorius (2007:265) voer die volgende agt redes aan waarom mense moontlik in die slagyster van geestelike misbruik trap:

  • ‘n Gebrek aan aanvaarding tuis en in die kerk. Dit lei tot gedrag waardeur hulle erkenning soek.
  • Skaamtegegronde motivering. Dit kan met ‘n bepaalde sonde of swakheid verband hou waarvoor die persoon ten alle koste probeer vergoed om God tevrede te stel.
  • Die behoefte aan ‘n dieper spiritualiteit. Sommige persone is gefrustreerd in ‘n sekere kerklike opset. In hul desperaatheid om iets beters te kry is hulle bereid om enigiets op te offer – dít maak hulle kwesbaar.
  • Ontnugtering met die bestaande wêreldorde. Mense voel ontmoedig deur die verval van die wêreld, korrupsie, die minagting van menselewens, en die geestelike agteruitgang.
  • ‘n Behoefte aan sekuriteit.
  • Innerlike twyfel oor hul vermoëns en eiewaarde.
  • Die oortuiging dat geestelike sukses geheel en al van hul eie pogings afhang.
  • Die behoefte om die werklikheid van innerlike pyn te beheer. ‘n Onbuigsame godsdienstige geloofstelsel kan aan so ‘n persoon die indruk gee dat alles onder beheer is.

Tipiese kenmerke, strategieë en tegnieke van ‘n geestelik aftakelende stelsel

Emosionele en geestelike bloedskande

VanVonderen (1989:65) vestig die aandag op ‘n verskynsel in die gesinstelsel wat meestal parallel loop met ‘n verskynsel in geestelike familiestelsels, naamlik die kwessie van bloedskande. Die ooreenkomste tussen geestelike misbruik en bloedskande is besonder opvallend. In ‘n gesonde, funksionele gesinstelsel dien die ouers as toerustingsbron vir die kinders. Ouers se taak is om hul mags- en gesagsposisie te gebruik om hul kinders vir die volwasse lewe voor te berei. Hulle doen dit deur hul kinders fisies, emosioneel en geestelik te dien, te bou en in hul behoeftes te voorsien. In talle gesinne het kinders se denke, behoeftes en gevoelens egter geen plek nie. Inteendeel, die rolle word omgeruil: In sulke wanfunksionele gesinstelsels moet kinders dikwels in volwassenes se behoeftes voorsien. Op seksuele gebied hou dit met bloedskande verband, en op emosionele gebied met emosionele bloedskande. In ‘n gesonde en funksionele kerklike stelsel is God die bron van aanvaarding, liefde en waardes, terwyl die leraars en ander leiers die lede moet help en toerus. Net soos ouers in ‘n gesinsopset, moet leraars en ander kerkleiers hul mag en gesag gebruik om lede vir dienswerk toe te rus, in lede se behoeftes te voorsien, en verhoudings te bou. Ongelukkig is daar godsdienstige stelsels waar die gedagtes, behoeftes en gevoelens van lede nie ter sake is nie; waar lede misbruik word om in die selfsugtige behoeftes van die leierskap te voorsien. In sulke gevalle gaan dit inderdaad om emosionele en geestelike bloedskande (VanVonderen 1989:65; sien ook Hemfelt, Minirth & Meier 2003:26).

Die misbruik van eksklusiwiteit

Hier gaan dit oor die oortuiging dat jóú geloofstelsel die enigste korrekte en geldige een is; dat die leerstellings van diegene wat met jou verskil, nie net verkeerd nie, maar ook gevaarlik is, en dat dit vernietig moet word. Hierdie vorm van misbruik is besonder gevaarlik omdat dit nie net die potensiaal het om individue te vernietig nie, maar ook mense van mekaar kan vervreem en erge konflik in gesinne en families tot gevolg kan hê (Wright 2001:95).

Beheer en oorheersing eerder as genade

‘n Sterk beheer- en oorheersingsgerigte leierskap is een van die hoofkenmerke van ‘n geestelik afknouerige stelsel. Vrees, skuldgevoelens en intimidasie word ingespan om lidmate in pas te hou. Lede se individuele lewens word onder ‘n vergrootglas geplaas; uitbanning kom algemeen voor; oortreders word hardhandig hanteer, en vir diegene wat vertrek, is die pad terug na normaliteit baie moeilik (Enroth 1993:32). Alhoewel sommige lede soms diep ongelukkig is met hul situasie, is hulle so bang vir verwerping dat hulle eerder aanbly (Carder 1995:140). In talle gevalle gaan dit om die misbruik van geestelike gesag.

Enroth (1993) beskryf byvoorbeeld die ervaring van iemand wat ná 14 jaar se geestelike verwonding by ‘n nuwe kerk aangesluit het. Dit het maande geduur voordat sy in haar nuwe omgewing normaal en op haar gemak kon wees gedurende eredienste of in die teenwoordigheid van die leraar:

It took some time for me to adjust...When I first began attending church again and meeting with Pastor Tom, I found it very difficult to relax around him. Sometimes I would cringe and freeze up when seeing him walk down the hall, and Pastor Tom is one of the kindest, most disarming people I know.

(Enroth 1993:77)

‘n Onbuigsame swart/wit-benadering

Christene, net soos ander lede van die gemeenskap, leef in ‘n dinamiese kultuur wat vinnig verander en daarom ook dikwels verwarring by mense laat ontstaan. Persone met ‘n innerlike gebrek aan sekuriteit word gevolglik maklik deur godsdienstige stelsels beïnvloed wat ‘n stelselmatige benadering van ongekompliseerde, simplistiese swart/wit-antwoorde bied. Vir diegene wat ook nog uit wanfunksionele agtergronde of ‘n milieu met gebrekkige struktuur kom, bied ‘n outoritêre geloofsgemeenskap ‘n veilige hawe; ‘n skuilplek vol ‘sekuriteit’. In so ‘n opset kan dit baie gerusstellend wees indien ander vír jou besluit; vir jou voorsê hoe om te leef en wat om te glo (Enroth 1993:223).

Laste word op mense gelaai

In ‘n geestelik afknouerige stelsel is leiers geneig om, hetsy as gevolg van skuldgevoelens of hul eie onverwerkte emosionele pyn, hul laste op lidmate te laai. Hul ‘gebruik’ as’t ware hul lidmate om in hul persoonlike en professionele behoeftes te voorsien: ‘Abusive shepherds tie up various heavy loads and lay them on people’s shoulders. Good shepherds take off those loads’ (Blue 1993:65). Moeë mense ontvang sodoende bepaalde ‘formules’ oor God, en nie noodwendig sy onvoorwaardelike liefde en aanvaarding nie (VanVonderen 1989:64).

Mense word eerder gebruik as gedien

Na aanleiding van Jesus se kritiese ingesteldheid teenoor die Fariseërs van sy tyd, en die beskrywing van sommige herders se optrede in Esegiël 34, kom Blue (1993:41) tot die gevolgtrekking dat dít ook tipies is van hedendaagse godsdienstige stelsels wat mense geestelik verwond laat. Sowel Jesus as Esegiël het een grondliggende tekortkoming by die herders veroordeel, naamlik dat hulle die skape gebrúik eerder as gedién het. Hulle het die woorde van die Wet geken, maar nie die boodskap daarvan gesnap nie. Hulle het diegene wat na hul opgesien het, van die ware lewe ontneem. Hulle het nie die swakkelinge versterk en die siekes genees nie. In sommige hedendaagse aftakelende geestelike stelsels plaas soortgelyke herders ‘n oordrewe klem op godsdienstige reëls wat wél goddelik klink en lyk, maar in werklikheid geestelike gif is (Blue 1993:48).

Ontkenning

Niemand hou van pyn nie, en soms word allerlei meganismes ingestel om pyn te probeer vermy. Dit het egter ‘n negatiewe uitwerking wanneer gesinne nie genoeg sekuriteit bied vir elke gesinslid om emosionele pyn en woede te verwoord nie. Woede, synde een van die eerste fases ná trauma, volg gewoonlik op emosionele verwonding. In ‘n tipiese geestelik aftakelende stelsel word mense geleer om die realiteit van hul emosionele pyn en woede te ontken, en om eerder liefde en vriendelikheid te ervaar en te toon (Booth 1991:39; Sloat 1990:127).

Deur middel van reëls word die werklike pyn gesystap

By diegene uit ‘n wanfunksionele agtergrond is daar reeds ‘n innerlike emosionele vakuum, wat dikwels met ‘n lae selfbeeld en swak eiewaarde gepaardgaan. Sulke persone is geneig om ‘n vasbeslote keuse uit te oefen om deur die slaafse navolging van ‘n streng stel reëls deurgaans ‘n perfekte Christelike lewe te probeer lei. Deur die reëls stiptelik en getrou na te kom, hoop hulle om die erkenning en waardering te kry waarna hulle so smag. Hierdie oënskynlike oplossing hanteer egter nie die werklike pyn van innerlike skaamte en lae eiewaarde nie, maar vermy eerder steeds die innerlike verwonding en eensaamheid (Sloat 1990:86). Hul innerlike gevoelens van waardeloosheid beïnvloed gevolglik hul verhoudings met ander en met God, en hul godsdiens word uiteindelik kunsmatig en meganies bedryf. Van der Westhuizen (2000:8) toon hoe ‘n oormaat geestelike reëls en eise uiteindelik tot die vernietiging van sulke soekende mense bydra.

Die rol van afsondering

Diegene wat in ‘n aftakelende geestelike stelsel vasgevang is, verkeer gewoonlik ook in afsondering. Hulle is bang om hardop te dink of vrae met betrekking tot enige bekommernisse te vra, uit vrees dat hulle as krities of afwykend beskou sal word. Net soos met die seksuele misbruik van kinders, beroof hierdie afsondering mense van die geleentheid om hul situasie in ‘n wyer perspektief te stel (Dupont 2004:28).

Uit voeling met mense se innerlike emosies

Henslin (1995) gebruik die term ‘godsdienstige beskaming’ (‘religious shaming’) met verwysing na die proses van geestelike aftakeling wat mense soms in sekere godsdienstige stelsels ervaar. Die proses van godsdienstige beskaming word gewoonlik nie met opsetlike kwade bedoelings uitgevoer nie. Inteendeel, dit weerspieël eerder ‘n teologie waarin daar êrens langs die pad voeling verloor is met mense se gevoelens en innerlike emosionele lewens: ‘Emotions are seen as evil enemies needing to be fought off, subdued, and controlled; legalism and condemnation are seen as virtues’ (Henslin 1995:96).

In sy vergelyking van prestasiegerigte en verhoudingsgerigte kerke merk Dupont (2004:76) op dat by eersgenoemde groep kerke, lidmate se waarde en betekenis van hul prestasie afhang. Gelykvormigheid met die leier se styl is ook van die allergrootste belang, en die Godgegewe uniekheid van die individu het geen plek nie.

Aan niemand rekenskap verskuldig nie

Enroth (1993:203) beklemtoon dat geestelike misbruik in enige kerk of groep met gesonde leerstellings en Woordgetroue prediking kan plaasvind: Al wat nodig is, is ‘n leraar wat aan niemand rekenskap verskuldig is nie.

Die gevolge van geestelike verwonding

VanVonderen (1989:64) beskryf geestelike verwonding as ‘n uiters vernietigende vorm van misbruik waardeur moeë mense ‘formules’ oor God in plaas van sy onvoorwaardelike liefde en aanvaarding ontvang. Daarom is dit nie vreemd dat daar in die begeleiding van sodanige verwondes geweldig baie uiteenlopende emosies na vore kom nie. Tipiese gevolge van geestelike verwonding sluit die volgende in:

  • verwronge opvatting van God
  • verwronge opvattings van Christenskap
  • emosionele en psigiese gestremdheid
  • persoonlike onbevoegdheid
  • nagmerries
  • verskeurde families.

Verwronge opvattings van God
  • Die ontwikkeling van ‘n verdraaide beeld of karikatuur van God. God word as ‘n despotiese en onbestendige perfeksionis beleef (Johnson & VanVonderen 1991:41).
  • Talle persone vind dit uiters moeilik om hoegenaamd weer enige ander mense of organisasies te vertrou. Die pad na geestelike herstel berus juis op ‘n algehele vertrouensverhouding met God – vir hierdie persoon is dit egter baie moeilik om God voortaan as anker en steunpilaar te beleef: ‘The dynamics of spiritual abuse parallel those of physical and sexual abuse – God is often seen as one of the perpetrators’ (Enroth 1993:187). Omdat geestelike leiers sowel as die kerk as verteenwoordigers van God beskou word, word God ook indirek vir die onreg verkwalik.
  • Ware skuld kan vergewe word – talle voel egter dat húlle nooit vergewe sal kan word nie. Dít hou soms verband met valse skuldgevoelens as gevolg daarvan dat God dikwels in leerstellings en argumente betrek word júis om mense skuldig te laat voel (Henslin 1995:97).

Verwronge opvattings van Christenskap
  • Mense kan ‘n verdraaide selfidentiteit met betrekking tot Christenskap ontwikkel wat hetsy met ‘n baie negatiewe siening van hulself of ‘n skaamtegegronde identiteit verband hou (Johnson & VanVonderen 1991:41).
  • Daar kan ‘n beheptheid met geestelike prestasies ontstaan. Hierdie neiging loop hand aan hand met uiterste vorme van hetsy eiegeregtigheid of skaamte. In laasgenoemde geval is die gevolg maar net ‘n selfs ernstiger strewe na prestasie om die teendeel te probeer bewys (Blue 1993:106).
  • By sommige kan daar ‘n oorweldigende vrees intree dat hulle hul saligheid sal verloor omdat hulle die groep verlaat het – daarom keer party weer terug (Pretorius 2007:276).
  • Daar is dalk weinig begrip van die konsep van genade. Die persoon kan óf nie genade aanvaar nie óf ervaar oordrewe skuldgevoelens (Pretorius 2007:276).
  • Die persoon kan ‘n probleem hê met ander in geestelike gesagsposisies. Dit kan ‘n oorreaksie wees om te verhoed dat die pyn van die verlede hom herhaal. Sommige kan maande en selfs jare daarna weier om deel te wees van enige godsdienstige opset (Pretorius 2007:276). In dié verband vertel Dupont (2004:182) van ‘n goeie vriendin wat etlike jare ná ‘n tyd van intense geestelike verwonding telkens sou begin bewe en ruk van vrees wanneer sy ‘n kerkgebou binnestap, selfs al weet sy dat dit ‘n geestelik en emosioneel gesonde kerk is.
Emosionele en psigiese gestremdheid
  • Verwondes kan oordrewe perfeksionisme ontwikkel, sowel as die geneigdheid om beheer te wil uitoefen (Blue 1993:106).
  • Wat die individu se persoonlikheid betref, kan daar selfs ‘n mate van dissosiasie plaasvind as gevolg van die voortdurende implisiete boodskap: Ontken jou ware self, maar glo en sê wat ander van jou verwag (Pretorius 2007:277).
  • Totale ontnugtering kan ‘n oorweldigende emosie wees. Dit kan die gevolg wees van beloftes wat op niks uitgeloop het nie en die gevolglike verwyte dat die persoon se sonde of ongeloof die oorsaak daarvan was (Van der Westhuizen 2000:57).
  • Die gevolge van geestelike verwonding is soms moeilik herkenbaar, aangesien pynlike herinneringe sowel as gevoelens van skaamte lank onderdruk kon gewees het. Erkenning en identifisering sou uiteraard met hernude pyn en selfverwyte gepaardgaan, sowel as die verleentheid dat dinge so erg handuit geruk het (Johnson & VanVonderen 1991:41).
  • Talle ervaar soms ernstige swaarmoedigheid en uitsigloosheid (en selfs selfmoordgedagtes) weens die ineenstorting van die hele geloofstelsel waartoe hulle hulself ten volle verbind het (Pretorius 2007:276).
  • Woede kom gewoonlik algemeen voor – veral ook teenoor die verantwoordelike leiers (VanVonderen 1989:156).
  • Persone kan vir ‘n lang tyd afwisselende fases van teenstellende emosies, soos woede, vreugde en depressie, beleef. Dit kan opklaar namate die genesingsproses vorder (Pretorius 2007:276; VanVonderen 1989:155).
  • Daar kan ook oorweldigende gevoelens van doelloosheid en sinneloosheid sowel as eensaamheid en afsondering wees. Dit kan ook verband hou met die gevoel dat niemand hul bepaalde situasie verstaan nie; die persoon kan selfs bang wees dat hy/sy besig is om mal te raak (Pretorius 2007:276).

Persoonlike onbevoegdheid
  • Die persoon kan ‘n probleem hê met persoonlike grense. Dít kan verband hou met ‘n gebrek aan begrip van leerstellings soos die ‘eie ek’ wat moet sterf, sowel as die herhaalde skending van persoonlike ruimte en regte. Hierdie persone se menswees is ontken, en daarom kan hulle maklik daaruit aflei dat hulle nie op ‘n eie mening geregtig is nie (Johnson & VanVonderen 1991:41; Sloat 1990:110).
  • Die kwessie van persoonlike verantwoordelikheid kan ‘n krisis laat ontstaan. Niks was ooit goed genoeg nie, en daarom gooi hierdie persoon hetsy maklik die handdoek in of aanvaar te veel verantwoordelikheid (Johnson & VanVonderen 1991:41).
  • Daar kan ook ‘n gebrek aan basiese lewensvaardighede wees. Dit kan aan ‘n soort ‘bunkermentaliteit’ toegeskryf word, aangesien daar voortdurend vrees gesaai is oor die kwaad in die wêreld daarbuite (Johnson & VanVonderen 1991:41).

Nagmerries
  • Persone kan herhaalde nagmerries hê weens emosionele en geestelike verwonding (Pretorius 2007:276).
Verskeurde families
  • Slagoffers se gesinne en families kan uitmekaar geskeur word en daar kan ‘n magdom onverwerkte pyn wees (Pretorius 2007:276).

Riglyne onderweg na genesing

‘n Nuttige meetinstrument

Remuda Ranch is ‘n Christelike eetsteurniskliniek in Phoenix, Arizona, wat die tydskrif The Remuda Review uitgee. ‘n Artikel wat in 2005 gepubliseer is (Darden 2005:14), verwys na ‘n meetinstrument wat die kliniek ontwikkel het om persone te evalueer wat aan godsdienstige misbruik blootgestel was. Hulle stel die vraelys gratis beskikbaar aan professionele persone (http://www.remudaranch.com). Omdat die gebied van geestelike verwonding nog grootliks braak lê wat navorsing betref, is dit belangrik om van sulke bydraes kennis te neem (Cumella 2005a, 2005b:19; Darden 2005:14).

Die volgende riglyne sou as parameters vir die pastorale begeleiding van die geestelik verwonde persoon kon dien. Dit dui die rigting vir die begeleier aan, maar kan ook die begeleide op belangrike gebiede wys wat aandag verg.

Die aanvang van die proses

Die waarde van berading

Dit kan uiters waardevol wees indien die persoon berading ontvang van iemand wat ervaring het van geestelike misbruik en verwonding.

Ontkenning

Die afstanddoening van ontkenning word oor die algemeen as die eerste groot stap na vryheid en genesing beskou. Wanneer eie gevoelens en verantwoordelikhede steeds ontken word, verhinder dit gewoonlik die helingsproses. In soverre ontkenning egter deurbreek word, kan genesing begin, wat onder andere ‘n bereidwilligheid impliseer om kwesbaar te wees namate verdere skanse en verwere afgebreek word (Arterburn & Felton 2001:226; Sloat 1990:36, 200).

Genesing is ‘n proses

Hieroor moet niemand enige illusies koester nie: Genesing gebeur nie oornag nie. Die persoon moenie weer in die ou patrone van ‘n onbuigsame godsdienstige denkwyse verval wat impliseer dat God ontevrede is as jy nié deurgaans besig is om die kerk en geestelike strukture dien nie. Herstel impliseer gewoonlik ‘n lang proses mét professionele hulp (Dupont 2004:185; Pretorius 2007:277).

Fokus op ondersteuningsgroepe

Die terapeutiese waarde van ‘n ondersteuningsgroep

Genesing kan nie in afsondering plaasvind nie, en daarom is die rol van ‘n versorgende ondersteuningsgroep uiters belangrik as deel van die terapeutiese proses. Die groep moet ‘n ondersteunings- sowel as ‘n verantwoordingsgeleentheid (‘accountability’) bied. Dit moet ook die herstelprogram in sy geheel ondersteun, en nie die alleenfokus van herstel word nie. Die groep bied ‘n ruimte waar persone hul gevoelens van godsdienstige beskaming met ander kan deel. Dit beklemtoon ook die grondbeginsel dat sulke persone ander in hul lewe nodig het om te kan genees (Arterburn & Felton 2001:239; Booth 1991:258; Dupont 2004:186; Henslin 1995:108).

Soek iemand wat as klankbord kan dien

Namate die persoon dit al hoe beter regkry om God en ander Christene te vertrou, kan dit die proses bespoedig indien daar, afgesien van ‘n ondersteuningsgroep, iemand is wat gereeld as klankbord kan dien sonder om ooit te veroordeel (Booth 1991:199).

Geestelike herstel

Verwronge opvattings van Christenskap en God

Wanopvattings van God en die Christelike lewe oor die algemeen moet uitgewys (sien hofies ‘Emosionele en geestelike bloedskande’ en ‘Die misbruik van eksklusiwiteit’) en met gebalanseerde beskouinge vervang word (Booth 1991:195, 239).

Algemene houdings en oortuigings vanweë geestelike verwonding

Negatiewe en belemmerende houdings en oortuigings (sien hofies ‘Beheer en kontrole eerder as genade’ en ‘‘n Rigiede swart/wit benadering’) moet uitgewys en telkens met Skriftuurlike uitsprake vergelyk en vervang word.

Leer om voortaan nie op geestelike verwonding te oorreageer nie

Die persoon se ervaring moenie in die toekoms ‘n verskoning word om geheel en al aan die kerk en aan God te onttrek nie. Daar moet in gedagte gehou word dat geestelike verwonding in die meeste gevalle toegedien word deur persone en instansies wat nooit geleer het hoe om anders op te tree nie (Henslin 1995:108).

Skakel aanvanklik anoniem by ‘n kerk in

Om vertroue te herwin gaan lank duur. Die persoon kan by ‘n kerk in die omgewing eredienste bywoon sonder om aanvanklik persoonlik by enige bedrywighede betrokke te raak (Dupont 2004:185).

Die belang van vergifnis

Om die geestelike leiers wat vir die misbruik verantwoordelik was, te vergewe, is nie ‘n kitsstap nie, maar ‘n proses. Soos die pyn oor ‘n lang tyd plaasgevind het, sal die genesingsproses ook tyd verg – die eerste tree moet egter êrens gegee word. God moet om genade gevra word om te kan vergewe (Dupont 2004:182). Die vergifnisproses kan gewoonlik eers begin as die rouproses afgehandel is. Die verwondes sal onder andere moet rou oor geleenthede vir gebalanseerde en gesonde groei wat hulle ontneem is (sien ook Kotze 2008; Stoop & Masteller 1996:77; Worthington 2003). Daar kan ook onafgehandelde rouprosesse wees as gevolg van oordrewe geestelikheid by die ouers in die gesin van oorsprong wat normale rouprosesse as ‘n teken van swak geloof beskou het (Booth 1991:241). Diegene wat in ‘n gesonde en stabiele milieu grootgeword het, sal oor die algemeen vinniger kan vergewe as diegene uit ‘n wanfunksionele agtergrond.

Leer om Christene weer te vertrou

Die begeleide kan vorige Christenvriende opsoek en saam met hulle tyd deurbring. Hulle hoef nie met dié samekomste noodwendig godsdienstige aktiwiteite te beoefen nie. Daar kan bloot op God se gawe van vriendskap gefokus word, sonder enige ‘bedieningsagenda’ (Sloat 1990:204).

Gesonde geloofsgroei

Hoe dieper liggend die verwonding en hoe groter die emosionele en geestelike skade, hoe moeiliker gaan dit vir die persoon wees om weer in ‘n intieme geloofsverhouding met God te staan. Die verwoording van onverwerkte emosionele pyn, en die uiting van onderdrukte woede, kan egter uiteindelik die weg vir gesonde geloofsgroei baan (Arterburn & Felton 2001:228; Dupont 2004:58).

Herstel in denkpatrone

Waak teen ‘n slagoffermentaliteit

Verwondes moet daarteen waak om hulself die res van hul lewe as slagoffers te beskou. Heling is uiteindelik moontlik, alhoewel dit etlike seisoene van rou, gebed, vergifnis en belydenis kan duur voordat daar volle vryheid is (Dupont 2004:187).

Waak teen oorweldigende donker herinneringe

Voorts moet sodanige persone daarteen waak dat slegte herinneringe nie dít wat wél goed was in die verlede heeltemal tot niet maak nie. Weinig aftakelende en nadelige kerklike strukture en stelsels is nét goed of nét sleg. Die meeste mense sou nie in so ‘n stelsel betrek word indien daar nie ook positiewe aspekte daaraan verbonde was nie (Arterburn & Felton 2001:233; Henslin 1995:108). Daar moet ook in gedagte gehou word dat sommige van die leiers wat diegene onder hulle misbruik, waarskynlik self êrens slagoffers was, en dat dit alles tot die proses meegewerk het (Dupont 2004:188; sien ook Hemfelt et al. 2003). Ziegler (2000) verwoord hierdie problematiek soos volg:

The future success of our social institutions may well rest in our ability to counter the rampant anti-social consequences of needy children, teens, and adults who have grown up in trauma, having never developed a conscience, and who now have a score to settle with society.

(Ziegler 2000:104)

Herprogrammeer toksiese denke</p>

Die gevolge van geestelike verwonding (sien hofies ‘Emosionele en geestelike bloedskande’, ‘Die misbruik van eksklusiwiteit’, ‘Beheer en kontrole eerder as genade’ en ‘’n Rigiede swart/wit benadering’), skep gewoonlik die teelaarde vir toksiese denkpatrone. As deel van die terapeutiese proses moet die berader deurgaans op sulke negatiewe denkpatrone ingestel wees en telkens die teendeel uitwys. Toksiese denkpatrone impliseer onder andere dat mense en sake as óf swart óf wit, óf goed óf sleg, óf heeltemal reg óf heeltemal verkeerd beskou kan word (Arterburn & Felton 2001:229; Booth 1991:236).

Stel ongeldige gevolgtrekkings reg

Geestelik verwonde persone het die vermoë om enigiets in iets negatief te verander. Vanweë hul gevoel van onvermoë kan hulle enige situasie in ‘n baie donker prentjie omskep. Genesing impliseer onder andere dat ál hierdie intellektuele leuens uitgewys en met die waarheid vervang word – dit gaan dus om ‘n proses van kognitiewe herstrukturering (sien ook Backus & Chapian 2000; Schiraldi 2009; Thurman 1999).

Kry ‘n realistiese beskouing van die werklikheid

Wanneer daar op die irrelevante en negatiewe gekonsentreer word, gaan dit om slegs een deel van die werklikheid, terwyl die geheelbeeld verdraai word. In hierdie opsig moet verwondes gehelp word om na die werklikheid terug te keer. Die vervanging van die leuen sowel as verdraaide opvattings wat uit emosionele en geestelike verwonding spruit, sal baie daartoe bydra om weer ‘n realistiese beskouing van die werklikheid te kry (Booth 1991:211).

Bemagtig die positiewe

Die positiewe word nie soseer ontmagtig wanneer inligting verontagsaam word nie, maar wanneer die feite effens verdraai word, gewoonlik in die rigting van die negatiewe. As deel van die begeleidingsproses sal sulke verdraaide feite ook hanteer moet word (Arterburn & Felton 2001:228).

Bepaal redes vir die verontagsaming van die negatiewe

Die teenpool van die ontmagtiging van die positiewe is om negatiewe gedrag te verontagsaam ten einde ‘n toksiese gevoel van eiewaarde te probeer handhaaf. Die berader sal die betrokke persoon moet help om die redes vir hierdie gedrag te bepaal (Arterburn & Felton 2001:234; Booth 1991:204).

Waak teen oorwegend emosionele denke

Gevoelens, en nie feite nie, is meestal die grondslag van hierdie persoon se werklikheid. Genesing sal onder andere impliseer dat die persoon gehelp word om enersyds ‘n duidelike onderskeid tussen emosies en feite te tref, en andersyds die vermoë te ontwikkel om ‘n gesonde balans tussen hierdie twee te handhaaf (Arterburn & Felton 2001:235).

Waak teen ‘n beheptheid met ‘ek moes’-gedagtes

Hierdie persone pas voortdurend druk op hulself toe met gedagtes soos ‘Ek moes beter gedoen het’ of ‘Ek moes meer gedoen het’. Balans sal impliseer dat hulle die punt bereik waar hulle besef dat hulle te hoë standaarde aan hulself gestel het (Arterburn & Felton 2001:235).

Waak teen die handhawing van ‘n hiperverantwoordelikheidsgevoel

Die geestelik verwonde persoon sal geneig wees om vir alles verantwoordelikheid te aanvaar, aangesien dit tydelik in bepaalde onderliggende emosionele behoeftes voorsien. Ook hiérdie toksiese denkproses sal uitgewys moet word, en die persoon sal gehelp moet word om die werklikheid te onderskei en op ‘n ander manier as in die verlede daarop te reageer. In hierdie opsig sal die begeleier die begeleide kan help om gesonde en gebalanseerde persoonlike grense neer te lê (Cloud & Townsend 2002).

Konsentreer op nuwe inligting

Verwondes was soms vir baie lank aan bedrieglike inligting onderwerp, en moet gevolglik in basiese geestelike en Bybelse waarhede onderrig word. ‘n Ondersteuningsgroep kan so iemand byvoorbeeld help om inligting te beoordeel (Arterburn & Felton 2001:237; Booth 1991:204).

Sosiale herstel

Konsentreer op die gesin

In soverre die geestelik verwonde persoon emosioneel en geestelik begin stabiliseer, moet genesing ook met betrekking tot die betrokke gesin gefasiliteer word wat dikwels ook verwond is. Sulke gesinslede ervaar soms erge woede oor alles wat gebeur het, welke woede bepaald hanteer moet word. Gesinsterapie sal hier aan die orde moet kom, wat onder andere voldoende geleentheid vir die verwoording en uiting van sodanige woede, sowel as ‘n fasiliteringsproses tot versoening sal behels (Arterburn & Felton 2001:243; Langone 1995:229).

Konsentreer op nuwe vriende

Namate die geestelik verwonde persoon van wanfunksionele verhoudings in die siek geestelike stelsel begin afstand doen, ontstaan daar ‘n groot innerlike vakuum. Indien hierdie vakuum nie gevul word nie, verhinder dit genesing. Gepaste begeleiding sal dus sulke persone probeer bemagtig om nuwe bronne van sosiale ondersteuning te ontwikkel (Arterburn & Felton 2001:244; Booth 1991:257).

Leer om weer uit gewone dinge vreugde te put

As gevolg van geestelike misbruik raak die lewe uiteindelik baie donker en swaar vir die slagoffer. As deel van die terapeutiese proses moet sulke persone dus begelei word om opnuut dankbaarheid en vreugde te ervaar in daaglikse situasies wat andersins as vanselfsprekend aanvaar word (Dupont 2004:185).

Fisiese herstel

Konsentreer op die liggaam

Swak eetgewoontes, wat soms hand aan hand gaan met gewigsprobleme, ‘n gebrek aan oefening en te min slaap, is dikwels ‘n kenmerk van die emosioneel en geestelik verwonde persoon. Indien die herstelprogram hierdie fisiese aspekte verwaarloos, kan dit juis deels daartoe bydra dat so iemand later weer in ou, ongesonde, kompulsiewe gedrag verval (sien ook Arterburn 2005; Hemfelt et al. 2003; Minirth 2005).

Samevatting en gevolgtrekking

Uit voorafgaande bespreking van die tema van geestelike misbruik en verwonding blyk dat dié verskynsel individue emosioneel en geestelik kan vernietig. Vir die kerk in die algemeen bied hierdie tema ‘n geweldige uitdaging, aangesien daar geen geestelike groep of struktuur is wat outomaties bestand is teen geestelike verwonding nie. Indien voormelde riglyne vir die pastorale begeleiding van die geestelik verwonde persoon egter konsekwent in die kerk toegepas word, kan dit ‘n dramatiese verskil maak.

Literatuurverwysings

Arterburn, S., 2005, Healing is a choice, Thomas Nelson, Nashville, Tennessee.

Arterburn, A. & Felton, J., 2001, Toxic faith. Experiencing healing from painful spiritual abuse, Shaw Books, Colorado Springs, Colorado.

Backus, W. & Chapian, M., 2000, Telling yourself the truth, Bethany House Publishers, Minneapolis, Minnesota.

Blue, K., 1993, Healing spiritual abuse. How to break free from bad church experiences, InterVarsity Press, Downers Grove, Illinois.

Booth, L., 1991, When God becomes a drug. Breaking the chains of religious addiction and abuse, Jeremy P. Tarcher/Perigee, New York.

Carder, D., 1995, ‘Local church family patterns’, in M.A. Carder, E. Henslin, J. Townsend, H. Cloud &
A. Brawand (reds), Secrets of your family tree. Healing for adult children of dysfunctional families, pp. 131-146, Moody Press, Chicago.

Cloud, H. & Townsend, J., 2002, Boundaries, Zondervan, Grand Rapids, Michigan.

Cumella, E.J., 2005a, ‘Religious abuse: Why, what, and how to help’, lesing gelewer by die tweejaarlikse internasionale konferensie van die American Association of Christian Counselors, Nashville, Tennessee, 28 September- 01 Oktober 2005.

Cumella, E.J., 2005b, ‘Religious abuse’, The Remuda Review 4(2), 17-20.

Darden, R.A., 2005, ‘Spiritual assessment and treatment strategies’, The Remuda Review 4(2), 14-17.

De Villiers, D., 2008, ‘Spirituele molestering’, TEO Webdiens, bekom op 02 Oktober 2009, van http://teo.co.za/artikel/articles/41/1/Spirituele-molestering02/Bladsy1.html.

Dupont, M.A., 2004, Toxic churches. Restoration from spiritual abuse, Chosen Books, Grand Rapids, Michigan.

Enroth, R.M., 1993, Churches that abuse, Zondervan Publishing House, Grand Rapids, Michigan.

Gibson, L., 2009, ‘What is spiritual abuse?’, bekom op 03 Oktober 2009, van http://www.spiritualabuse.org/introduction.html.

Hemfelt, R., Minirth, F. & Meier, P., 2003, Love is a choice, Thomas Nelson Publishers, Nashville, Tennessee.

Henslin, E., 1995, ‘Guilt-ridden baggage: The role of religious shame’, in M.A. Carder, E. Henslin, J. Townsend, H. Cloud & A. Brawand (reds), Secrets of your family tree. Healing for adult children of dysfunctional families, pp. 93-112, Moody Press, Chicago.

Johnson, D. & VanVonderen, J., 1991, The subtle power of spiritual abuse, Struik Christelike Uitgewers, Kaapstad.

Kotze, H.P., 2008, ‘Die belangrikheid van die stappe van rou en vergifnis in die herstelproses van die emosioneel verwonde persoon – ‘n Pastorale studie’, PhD-proefskrif, Departement Praktiese Teologie, Noordwes-Universiteit.

Langone, M.D., 1995, Recovery from cults. Help for victims of psychological and spiritual abuse, W.W. Norton & Company, New York.

Martin, P.R., 1995, ‘Post-cult recovery: assessment and rehabilitation’, in M.D. Langone (red), Recovery from cults. Help for victims of psychological and spiritual abuse, pp. 203-231, W.W. Norton & Company, New York.

Minirth, F., 2005, Happiness is a lifestyle, Revell, Grand Rapids, Michigan.

Oates, W.E., 1970, When religion gets sick, The Westminster Press, Philadelphia.

Peck, S., 1978, The road less travelled, Arrow Books Limited, Londen.

Pretorius, S.P., 2007, ‘Seemingly harmless new Christian religious movements in South Africa pose serious threats of spiritual abuse’, Hervormde Teologiese Studies 63(1), 261-281.

Schiraldi, G.R., 2009, The post-traumatic stress disorder sourcebook: A guide to healing, recovery and growth, McGraw-Hill, New York.

Sloat, D.E., 1990, Growing up holy and wholly. Understanding and hope for adult children of evangelicals, Wolgemuth & Hyatt Publishers Inc., Brentwood, Tennessee.

Socha, P., 1995, ‘Religion and emotional dependence’, The International Journal for the Psychology of Religion 5(3), 187-198.

Stoop, D. & Masteller, J., 1996, Forgiving our parents, forgiving ourselves, Servant Publications, Ann Arbor, Michigan.

Thurman, C., 1999, The lies we believe, Thomas Nelson Inc., Nashville, Tennessee.

Van der Westhuizen, T., 2000, ‘Geestelike beskadiging. Indringende vrae oor onbuigsame kriteria vir spiritualiteit’, Finesse, Maart, pp. 8-9.

VanVonderen, J., 1989, Tired of trying to measure up, Bethany House Publishers, Minneapolis, Minnesota.

Worthington, E.L., 2003, Forgiving and reconciling, InterVarsity Press, Downers Grove, Illinois.

Wright, K., 2001, Religious abuse. A pastor explores the many ways religion can hurt as well as heal, Northstone Publishing, Kelowna, Kanada.

Ziegler, D., 2000, Raising children who refuse to be raised, SCAR/Jasper Mountain, Jasper, Oregon.



Crossref Citations

No related citations found.